Читать книгу Die man met die geel oë - Ena Murray - Страница 4
2
Оглавление“Dis ongelooflik! Dis net ongelooflik!”
Die kolonel se verstand weier om te aanvaar wat hy hoor. Maar al die bewyse is daar, word in ’n ellelange lys uiteengesit – van die grofste oortredings denkbaar. En almal is deur één man op één aand gepleeg, en van alle manne is Brand Böhm die skuldige! Brand Böhm, sy beste man! Dis ongelooflik!
Sy gesig verraai nog steeds sy ongeloof toe hy ’n ruk later staan en toekyk hoe sy beste man sy verskyning voor hom maak.
Die amptenaar lyk erg nuuskierig. Die kolonel het self hierdie man wat hulle in die vroeë oggendure opgesluit het, kom haal. Hy moet iemand belangrik wees, hoewel hy nie op hierdie oomblik belangrik lyk nie. Allesbehalwe. Sy uniform is, waar dit nie geskeur is nie, vuil en verkreukel. Sy hare hang in sy bloedbelope oë. Daar is plekke op sy gesig wat ’n geswolle pers kleur begin aanneem. Hy is selfs nou nog effens onvas op sy voete. Hy moet ’n bul van ’n hoofpyn hê, dis vir seker.
“Majoor Böhm!”
Dis meer ’n uitroep van verstomming as ’n bevel vir die slingerende man om op aandag te kom.
Dan is hy regtig ’n majoor? dink die ander man verbaas. Gedink hy lieg sommer net.
“Majoor Böhm!”
Die kolonel is besig om van sy skok te herstel, en die toeskouer is bly hý is nie majoor Böhm nie. Tot sy verdere verrassing en die kolonel se hernieude ongeloof, kom daar eindelik reaksie van die man wat lyk asof hy nog in ’n waas verkeer.
“Hou op sanik, man! My kop wil bars!”
Nóg ’n growwe oortreding agter majoor Böhm se naam. ’n Mens praat net nie so met jou meerdere nie! Maar majoor Böhm doen dit, soos die baie ander dinge wat net nie gedoen word nie, maar wat hy reeds gedoen het!
Terug by die basis kry kaptein Len de Groote die opdrag om majoor Böhm respektabel te kry en, sodra sy verstand nugter is, na die kolonel se kantoor te bring.
Ook Len de Groote kan sy oë en ore nie glo nie. Hy het sy hande vol om die man met die barstende kop in ’n bad te kry en dan in die bed met minstens ses koppies swart, bitter koffie agter sy blad. Dít nadat hy die kolonel en die hele weermag in tale wat hy nie eens geweet het majoor Böhm ken nie, vertel het wat hulle kan gaan doen en waarheen hulle kan vlieg. Genugtig!
Terwyl majoor Böhm buite aksie sy roes lê en afslaap, word die kaptein vir ’n telefoonoproep ontbied. Dis Weza . . . en die prentjie begin vir hom effens helderder word terwyl hy na haar ontstelde relaas luister. Brand Böhm het sy suster gisteraand met ’n blink, slap motor kom oplaai en die stad op horings geneem. In die vroeë oggendure is hy weer by haar woonstel uit, ten spyte daarvan dat sy haar bes probeer het om hom daar te hou.
“Maar hoekom het jy hom dan laat gaan, in hemelsnaam! Jy kon mos nie toelaat dat so ’n smoordronk man . . .”
“Hy was nie naastenby smoordronk nie, Len! Hy het vroeër die aand gedrink, maar hy was beslis nie dronk nie. Hy was ten volle in staat om die motor woonstel toe te bestuur ná die amok by die restaurant. En daarna . . .”
Sy sluk. Die res hoef sy haar broer nie te vertel nie.
“En toe hy hier uitloop, was hy vas op sy bene en doodkalm. Hy het nog gesê . . .”
“Ja, wat? Wat het hy gesê?”
“Dat ek van hierdie nag moet vergeet . . . heeltemal moet vergeet . . . Hy het op normale stemtoon vir my tot siens gesê en reguit na die motor gestap en doodnormaal weggetrek.”
Len de Groote sug diep.
“Wel, my sus, dan het hy eers regtig gaan feesvier nadat hy van jou af weg is, want ek sê vir jou hy móét smoordronk gewees het om vanoggend so ’n babelaas te hê. En sy klere was in ’n toestand! Of het dit so in die restaurant geskeur?”
“Nee! Hy het een man bo-oor ’n tafel geslaan, maar niemand het aan hom geraak nie. Len . . . Len, wat gaan aan? Ek ken Brand nie só nie. Dis asof hy . . . berserk is . . . ’n persoonlikheidsverandering ondergaan het, of . . . of is hierdie die regte Brand Böhm?”
Len de Groote byt op sy onderlip. Hy kan hom voorstel hoe sy sus moet voel. Sy was nog altyd ’n koelkop met mansmense, maar hy weet dat sy besonder baie van Brand Böhm begin hou het. Maar dit help nie om feite te probeer verdoesel nie. Brand het verlede nag onaanvaarbaar opgetree, en niemand ken hom goed genoeg om te weet of dit nie dalk sy ware aard is nie.
“Ek bel jou later wanneer ek meer duidelikheid gekry het. Ek moet nou gaan, sus. Mooi bly.”
Sy ontsteltenis is groot toe hy ’n leë bed en ook ’n leë badkamer aantref. Majoor Brand Böhm is skoonveld. Hy kon sweer die man sou vir minstens vier uur nie geweet het hy is op hierdie aarde nie.
Dis nie vir kaptein De Groote nodig om sy vriend se verdwyning te rapporteer nie. Hy is voorgekeer toe hy probeer het om in gewone klere by die hoofhek uit te glip. En hy is reeds in die kolonel se kantoor. Die kolonel is sy selfbeheersing heeltemal kwyt ná hierdie laaste skok: dat Brand Böhm soos ’n droster en lafaard wou wegsluip!
“Is jy van jou sinne beroof!”
Natuurlik verwag hy nie ’n antwoord nie, en hy kry ook nie een nie. Majoor Brand Böhm lýk soos ’n man wat verlede nag baie groot makietie gehou het, maar swaksinnig is hy beslis nie. Hy kyk die kolonel nou vas in die oë, en dit lyk of die ouer man kan ontplof.
“Weet jy wat jy aangevang het? Besef jy dat jy summier ontslag kan kry ná al jou . . . hierdie . . .” Sy woordeskat skiet te kort.
“Ja.”
“Ja, wie?”
“Ja, kolonel.”
“Verdomp, man, jy weet nie van die helfte . . .”
“Ek weet van alles.”
’n Mens val nie jou kolonel in die rede nie. En jy rits nie jou oortredinge af asof jy trots is daarop nie.
“Ek het eers die brigadier se motor onder ’n vals voorwendsel geneem . . .”
“Gesteel, bedoel jy?”
“Toe is ek na daardie snob-eetplek . . .”
“Nadat jy eers ’n paar duisend rand wat in die brigadier se motor was, in jou sak gesteek het . . .”
“Het ek?” Brand Böhm lyk ’n oomblik eerlik verward, só opreg onskuldig dat dit die kolonel gerus tot raserny kan dryf.
“Dan het ek seker. Ek hét ’n klomp geld by my gehad, en ek weet dis beslis nie uit my bankrekening getrek nie . . .”
“Majoor Böhm . . .” en die are bult teen die kolonel se nek, “. . . jy het die geld gesteel soos jy die motor gesteel het.”
’n Skouerophaal vertel dat dit nie juis veel saak maak wie se geld hy so entoesiasties geblaas het nie.
“Toe slaan ek ’n ou oor ’n tafel wat aangehou het met my foeter . . .”
“Volgens getuies het jý eerste begin slaan, en vir jou inligting, die man wat jy geslaan het, is ’n Duitse diplomaat!”
“Regtig? Hoekom het hy nie so gesê nie? Ek het gedink hy is een van die kelners en wou my nie bedien nie. Ek het nie ge-”
“In godesnaam!” Die kolonel slaan met sy vuis op die tafel. “Wie was die dame by jou?”
“Dame?”
Die kolonel grynslag. “Ja, ek wonder ook of sy ’n dame kan wees. As sy kans gesien het om saam met jóú . . . Wie is sy?”
“Nie ’n benul nie. Ek het nie in haar naam belanggestel nie.”
Die kolonel soek na ’n sigaar. “Toe is jy na al wat hool is en op elke plek het jy baklei gesoek en . . .”
“Nee. Nee. Ons is eers na die meisie se plek toe.” Die geel oë kyk onbeskaamd na die bevelvoerder. “U sou ook, kolonel. Sy was baie mooi en . . .”
“Dankie, Böhm, maar ek dink nie ons smaak stem ooreen nie.” Die kolonel se nek word rooi.
“Soos u sê, kolonel,” sê Böhm droog, gedagtig aan die kolonel se lywige gade.
“En nadat jy jou simpel gefuif en in hoeveel gevegte was, jaag jy deur ’n padblokkade en gooi die brigadier se motor om, en jy doen dit só deeglik dat dit ’n algehele wrak is.”
“Ja, kolonel.”
“En toe jy netnou nugter word, wil jy dros.”
Die laaste vlammetjie van hoop sterf in die kolonel toe die antwoord dadelik kom: “Ja, kolonel.”
“En dit alles doen jy in uniform!”
“Nee, kolonel. Nie alles nie. In die woonstel . . .”
“Stil!” Die kolonel vind niks amusant of gevat nie. “Ek sal die saak aan die brigadier rapporteer. Nie dat dit nodig is nie. Dit is sý motor wat in die gedrang is. Tot tyd en wyl word jy . . .”
Die telefoon skril op sy lessenaar. Hy luister, sê fronsend. “Ekskuus, generaal?” ’n Oomblik stilte. “Goed, generaal. U sê . . . hy word summier ontslaan? Dadelik? Nóú? Ja, generaal.”
Die telefoon klap hard terug op die mik.
“Jy hoef nie te dros nie, Böhm. Jy mag gaan. Ontvang jou summiere ontslag.” Hy sluk. Sy beste man! “Toe, wat staan jy nog? Gaan pak jou goed en gee pad voor my oë!”
Toe kaptein Len de Groote navraag doen oor Brand Böhm, oortuig daarvan dat hy hom in arres sal vind, is hy ’n ewe verslae man toe hy hoor dat Böhm summiere ontslag gekry het en reeds weg is.
Waarheen? Niemand weet nie, die kolonel ook nie en hy wil ook nie weet nie.
“Kolonel, is u seker . . .?” waag die kaptein dit. “Êrens is hier iets vreemds aan die gang. Dis nie Brand . . . majoor Böhm se styl om so onverantwoordelik op te tree nie.”
“Kaptein, hy het nie onverantwoordelik opgetree nie. Hy het krimineel opgetree. Die opdrag het van die generaal self gekom. Böhm is summier ontslaan.”
“Maar hy moes tog ’n adres laat, nie waar nie? Sy salaris . . .”
“Dit was gister betaaldag, kaptein. Hy het sy salaris ontvang. Die res kan deur sy bankrekening gedoen word. Sy woonadres is nie van belang nie. Is daar nog iets, kaptein?”
“Nee, dankie, kolonel.”
So word die ontstellende nuus ook aan Weza de Groote oorgedra.
“Miskien slaan hy nog daar by jou uit. Laat my dadelik weet as hy by jou aankom of as hy jou dalk bel.”
Kaptein De Groote en sy suster het geen hoop om Brand Böhm gou, indien ooit weer, te sien nie. Op daardie oomblik skuif daar ’n motor stadig langs hom in waar hy op ’n sypaadjie aanstap. ’n Ruit skuif effens af.
“Op pad êrens heen, majoor?”
“Ek is nie ’n majoor nie.”
“Wel, Brand Böhm dan, as dit jou beter pas.”
Die geel oë betrag die man op die agterste sitplek. “Ek hou nie daarvan om beskuldig te word van dinge wat ek nie gedoen het nie.”
“Soos?”
“Soos ’n paar duisend rand steel nie.”
“Daardie aanklag teen jou is teruggetrek, maar die kolonel kon jou nie daarvan verwittig nie, want jy was reeds weg en het geen adres gelaat nie.” Die gryskopman glimlag. “Die brigadier het vergeet dat hy dit in sy binnesak gehad het!” Hy kyk goedig terug in die geel oë. “Op pad êrens heen?”
“Ek het ’n afspraak.”
“Jy loop in ’n snaakse rigting. As jy hierlangs hou, gaan jy by die tronk uitkom.” Hy maak die deur oop en sê: “Ek gaan toevallig in daardie rigting. Kom, klim in.”
Eers toe hy al sit en die deur agter hom toeslaan, sien hy die ander man voor in die motor. Hy besef hy kyk deur getinte glas.
“Ontmoet meneer Xavier, die man wat jou maskers gaan maak,” word daar op Engels gesê.
Die geel oë keer terug na die man langs hom. Hy sê of vra niks nie.
“Jy gaan dit nodig kry. ’n Hele stel van twaalf. Hy is die man wat in Hollywood maskers maak, die beste in die wêreld. Hy is spesiaal ingevoer vir die taak.”
Dan weer in Afrikaans en onderlangs: “Soos jy sien, word geen moeite en koste ontsien nie. Jy is nog baie seker jy wil voortgaan? Wanneer die deur netnou agter jou toegaan, Böhm, moet jy weet daar is geen omdraaikans meer nie.”
“Ek weet, en my besluit staan.”
“Gaaf. Hier is ons. Ek gaan nie verder saam nie. Meneer Xavier sal jou vergesel. Tot siens, Böhm. Na alle waarskynlikheid sal ons mekaar nooit weer sien nie. Sterkte.”
Hy kry ’n handdruk van die hooggeplaaste heer, klim uit en volg die Amerikaner na die deur wat deur so baie mense gevrees word. Hy kyk nie eens terug nie, en die man in die motor sien dat meneer Xavier ’n papier wys en dat die deur sonder probleme voor die mans oop- en toegaan. Brand Böhm is binne.
“Ons kan maar ry, Charles. Kantoor toe,” beveel hy sy chauffeur en sit verlig agteroor.
Dat die brigadier vanoggend self hier is om die twee manne te ontvang, dui vir die adjudant-offisier wat hulle na die kantoor lei daarop dat hulle belangrike mense moet wees. Die deur gaan agter hulle toe en die brigadier sowel as majoor Geyer staan op.
Bekendstellings word gedoen, en dan sê die brigadier: “Ek laat u in die hande van majoor Geyer. U sal glad nie met die res van die personeel in aanraking kom nie. Alles wat u wil weet of hê, moet regstreeks aan majoor Geyer oorgedra word. Hierdie,” en hy wys na ’n blou telefoon, “is in regstreekse verbinding met u kwartiere. U kan maar net anderkant optel, en dit sal hier lui.”
Hy wend hom tot die Amerikaner. “Majoor Geyer sal u nou neem sodat u kan vasstel of u alles het wat u sal benodig, meneer Xavier. Ons het ons bes gedoen om alles op u lys van benodigdhede te kry. Meneer Böhm, bly asseblief ’n paar minute agter.”
Toe die deur agter die twee manne toegaan, pen twee paar oë mekaar vas. Dis weer die brigadier wat aan die woord is: “Behalwe die Amerikaner, is dit net ek en majoor Geyer wat weet dat jy Brand Böhm heet. Sodra meneer Xavier sy taak afgehandel het, sal jou naam heeltemal verdwyn. Jy staan van dan af as El Nino bekend.”
’n Ligte frons verskyn tussen die geel oë. “El Nino . . . die kind.”
Die brigadier glimlag effens. “Ja. Dit klink onvanpas en ek het self gewonder hoekom. Maar dit het blykbaar betrekking op die verwoestende weerstoestande wat so dood en verwoesting saai oor die hele aardbol. In elk geval, jy is nou El Nino. Meneer Xavier ken nie die naam nie en mag dit nooit hoor nie. Nog iets. Jy sal in jou kwartiere ’n telefoon in die kassie langs jou bed vind. Majoor Geyer sal jou wys hoe om die kassie oop te maak. Daardie telefoon is ’n direkte lyn na ’n sekere kantoor en die enigste persoon aan die ander kant mag nooit regstreeks aangespreek word nie. Verstaan? Meneer Xavier mag ook geen kennis daarvan dra nie.” Hy staan op. “Jou program begin môre. Dan sal die eerste masker gereed wees. Jy sal jou opleiding in karate en judo begin ontvang.”
“Wat het die maskers met die judo en karate te doen?”
“Ja. Ek moet verduidelik. Jy sal sowat twaalf maskers hê teen die tyd dat meneer Xavier klaar is. Jy sal dus twaalf persoonlikhede wees. Vir elke instrukteur wat jou besoek, dra jy ’n bepaalde masker. Nie een van die instrukteurs sal jou hierna herken as hulle jou op straat raakloop nie. Dis vir jou eie veiligheid.”
“Een masker kan dieselfde doel dien.”
“Nee. Tog nie. Niks word aan die toeval oorgelaat nie.”
Brand Böhm knik. Hy begryp. Daar word net geen kanse gewaag nie.
“Ek sal jou na jou kwartiere vergesel. Jy gaan vir ’n lang ruk, tot jou opleiding klaar is, daar bly. Enigiets wat jy kortkom, moet jy dadelik onder majoor Geyer se aandag bring, asseblief.”
Hulle stap oor die blink vloergange van die Sentrale Gevangenis. Brand begryp hoekom hy juis sy opleiding hier moet ontvang. Dis die laaste plek op aarde waar na hom gesoek sal word – indien daar na hom gesoek word. Die enigste plek waar daar geen kans bestaan dat dit sal aandag trek of waar enigiemand sommer net kan instap en dinge sien wat hulle nie moet sien nie. Agter hierdie mure en veiligheidstelsel sal niemand inkom wat nie mag binne wees nie.
Dit lyk egter allesbehalwe na die binnekant van ’n tronk toe ’n deur later op die druk van ’n knoppie vir hulle oopswaai en agter hulle toegaan. Selfs die geel oë lyk verstom.
Dis ’n luukse suite waarin hulle hul bevind, lyk na akkommodasie vir hoogwaardigheidsbekleërs in ’n vyfsterhotel.
“Ek hoop jy hou hiervan,” glimlag die brigadier.
Brand Böhm kyk fronsend om hom rond. “Hoe het hulle dit só gou reggekry? Ek is gister maar genader.”
Daar kom niks kort nie, behalwe vensters. ’n Lugreëlaar sorg vir vars lug. Verder is daar matte, diep gemakstoele, ’n televisie, CD-speler, ’n slaapkamer met ’n aangrensende badkamer. Hy volg die brigadier swyend na ’n kolossale saal en weer kan die geel oë hul verrassing nie verberg nie. Ook hier kom niks kort nie. Dis ’n ten volle toegeruste gimnasium, met elke denkbare apparaat daarin. In die een hoek is meneer Xavier besig om voorrade by ’n werkbank na te gaan.
“Kom. Daar is nog iets wat ek jou moet wys.”
Die brigadier lei hom na ’n trap wat tot teenaan die dak strek. Op die druk van ’n knoppie skuif ’n paneel oop en hulle stap uit op die dak van die saal, wat gedeeltelik toegebou is. Brand Böhm kry ’n swembad en ’n paar dekstoele in sig.
“Die swembad is verlede nag met ’n hyskraan hier neergesit. Jy sien dus dat jy darem nie heeltemal sonder son sal hoef klaar te kom nie. Net een ding moet jy onthou. Sodra jy vliegtuie of helikopters hier naby gewaar, moet jy onderdak gaan. Daarom is die swembad ook met ’n dak bedek. Vanuit die lug kan hulle jou dus nie sommer gewaar nie.”
“Hulle?”
“Enigiemand wat dit vreemd sou vind dat iemand op die dak van die Sentrale Gevangenis langs ’n swembad lê en ontspan. Die oop deel is ’n landingsplek vir ’n helikopter. Ek verstaan jy het reeds ’n lisensie vir ’n ligte vliegtuig.”
“Ja.”
“Môremiddag kry jy jou eerste les hoe om ’n helikopter te vlieg. Ons kan nou maar teruggaan ondertoe. Onthou net dat hierdie paneel in die dak nooit oopgelaat mag word nie.”
Toe hulle weer onder kom, draai die brigadier na hom en hou sy hand uit. “Tot siens. Alle sukses.”
Majoor Geyer sluit by hom aan toe die brigadier weg is, en hy sê: “Ek wil jou iets in jou slaapkamer gaan wys. Kom.”
Die deur word eers agter hulle toegemaak.
“Hier,” en die majoor druk op ’n plek aan die kant van die bedkassie, “is waar jy druk om die paneel voor die bedkassie te laat oopswaai.”
’n Rooi telefoon kom in sig.
“Ek veronderstel die brigadier het jou reeds vertel watter telefoon dit is?”
“Ja.”
“Goed. Om die deurtjie weer toe te kry, druk jy net weer op dieselfde plek.”
Hy stap na ’n kas in die hoek, wys weer ’n geheime drukplek en dit swaai oop.
“Hier sal jy van ’n rewolwer tot die mees gesofistikeerde vuurwapen kry. Jou oefenkamer is agter hierdie kasdeur,” en hy wys na die kas langsaan. “Al jou instrukteurs, ook meneer Xavier, het geen vrae te stel nie. Jy het geen geselskap met hulle aan te knoop nie. Terloops, dolke en messe word ook by die vuurwapens gehou. Jy sal dit aan die linkerkant kry.”
In die sitkamer vervolg hy: “Jou kos sal op vasgestelde tye in ’n trollie voor jou deur besorg word. Die klok sal lui en tien minute later moet jy die deur oopmaak en die trollie binnebring. Wanneer jy klaar is, stoot jy die trollie weer uit. Dis die enigste kere wat jy die deur mag oopmaak. Ek sal jou altyd eers skakel en verwittig dat ek kom. Enige ander tyd dat die deurklok lui, mag jy nie oopmaak nie.”
“Is al hierdie veiligheidsmaatreëls werklik nodig? Gaan dit nie juis aandag trek nie?”
“Miskien. Aan die ander kant weer . . . Daar is reeds en sal nog ’n fortuin op jou gespandeer word. Jy word so streng bewaak soos die goudkamers van die Reserwebank. Jy sal ’n fortuin vir ons land werd wees wanneer jou opleiding voltooi is . . . en ’n fortuin bewaak jou. Ek laat jou en meneer Xavier nou alleen. Môreoggend moet hy klaar wees met die maskers. Middagete sal om eenuur bedien word.”
Majoor Geyer stap uit, en twee keer sluit staaldeure meganies agter hom voordat hy indraai in die gang wat na die gevangenis lei.
In sy kwartiere staan Brand Böhm soos ’n standbeeld terwyl meneer Xavier se kennersoog oor die kontoere van sy gesig gaan.
Stiptelik om eenuur lui die deurklokkie, en toe die elektriese horlosie teen die sitkamermuur tien minute later aandui, sluit Brand die deur oop en trek die kostrollie na binne. Die ete pas by die vyfstergehalte van sy suite, en selfs meneer Xavier lyk verras en meer as tevrede toe hy klaar is.
Toe die Amerikaner die eerste masker pas, moet Brand hom gelukwens. Die man ís ’n meester.
Hy luister na die televisienuus en blaai deur die boeke op die boekrakke. Daar is hoofsaaklik handleidings: skaak, kaartspel, judo en karate, vuurwapens, handboeke oor verskillende tale, terrorisme, die vliegkuns en vele meer. Hy neem een en gaan sit.
Dis teen vieruur die oggend dat ’n moeë maar baie tevrede Amerikaner van Brand Böhm afskeid neem. Majoor Geyer is daar om hom na buite te vergesel. Dan keer hy terug na die geheime deel van die gevangenis.
“Gaan rus nou. Jy het môre ’n vol program. Het jy die koffiemaker in jou kamer gekry?”
“Ja, dankie. Nag, majoor.”
“Nag . . . El Nino.”
Hy staan en kyk hoe die deur agter majoor Geyer toegaan. Brand Böhm bestaan nie meer nie. Net vlugtig, baie vlugtig verskyn daar ’n gesig voor hom. Sy is mooi, en haar vel sag en glad onder sy hande . . .
Dan stap hy na die slaapkamer. Die stilte van sy luukse tronk hang swaar om hom. Hy gaan stort, stap in sy manlike naaktheid terug na sy kamer, gooi hom op die bed neer en skakel die lig af. Dis baie donker om hom. ’n Wyle lê en kyk hy na die stippels wat voor sy oë ronddans. Dan val sy oë toe. El Nino slaap.