Читать книгу Reënboog van koraal - Ena Murray - Страница 3
1
Оглавление“Crystelle, wat gaan die afgelope tyd met jou aan? Ek sou dink dat jy in die sewende hemel van geluk moet rondsweef, maar die afgelope paar dae lyk dit eerder asof jy enige oomblik in trane kan uitbars. Wat makeer, sus? Het jy en Dawid dan so gou ná jul verlowing rusie gemaak?”
“Nee, natuurlik nie, Estelle. Jy … jy verbeel jou sommer hierdie dinge,” antwoord die ander ontwykend, hoewel sy baie goed weet dit sal nie help om haar tweelingsuster ’n rat voor die oë te probeer draai nie. Daarvoor ken en verstaan hulle mekaar te goed.
Estelle kyk haar suster met verskerpte aandag aan. Daar is beslis ’n groot skroef los. Sy ignoreer Crystelle se ontwykende antwoord en sê sag: “Kan ek nie miskien help nie, sus? Ek wil my nie in jou private sake inmeng nie, veral nie as dit iets met jou verloofde te doen het nie, maar ons het nog al die jare geen geheime vir mekaar gehad nie. Ons het mekaar nog altyd gehelp en raad gegee.”
Crystelle roer haar skouers onrustig. “O, asseblief, Estelle, ek sê mos …”
Dan laat haar stem haar in die steek, al asof sy besluit dit sal tog nie help om verder toneel te speel nie. Tot Estelle se grootste ontsteltenis sien sy hoe haar suster se gesig vertrek en dan bars sy in trane uit.
“O, Estelle, ek is in ’n vreeslike gemors.”
Daar is skielik ’n koue beklemming in Estelle se hart. Net die feit dat Crystelle, van alle mense, haar selfbeheersing so verloor, is al onrusbarend genoeg. Maar sy ruk haar gou reg en sê sussend: “Vertel my daarvan. Ek is seker dis nie werklik so erg as wat jy op die oomblik dink nie.”
“Erger kan dit nie wees nie. Ek … ek is al byna van my kop af. Ek kan net aan geen uitweg dink nie.”
Weer volg ’n stortvloed trane en Estelle probeer haarself gerusstel. Crystelle is soms lief om situasies te dramatiseer.
“As jy my net vertel, kan ek miskien aan ’n uitweg dink. Wat is die vreeslike gemors waarna jy verwys?”
“Ek is tegelyk aan twee mans verloof.”
Daar heers ’n oomblik stilte nadat die bom gebars het. Estelle kyk haar ongelowig aan.
“Crystelle! Jy … jy speel seker!”
“Dit is so. Aan Dawid en aan ’n ander man.”
Toe sy steeds die ongeloof op haar suster se gesig sien, spring sy op en hardloop na die spieëltafel. ’n Oomblik later hou sy ’n ringdosie oop na Estelle uit, haar linkerhand waaraan die ring van Dawid van Huyssteen skitter, ook uitgesteek.
“Hier is Dawid se ring en … daardie is die ander man s’n.” Estelle se oë rek groot toe sy die dosie by haar suster neem en met ontsag na die enkele groot steen kyk.
“Hierdie ring moet ’n fortuintjie gekos het. Jou … e … ander verloofde moet goed daarin sit.”
“Ek weet nie. Seker. Ek weet niks van hom af nie. Dit maak ook nie saak nie. Sê my liewer wat ek moet doen.”
Estelle klap die dekseltjie toe en gee die ring terug.
“Ek kan nie verstaan hoekom jy so ’n bohaai oor die saak maak nie. Die oplossing lê tog voor die hand. Jy moet net besluit wie van jou twee verloofdes jy werklik liefhet en die ander een se ring teruggee. Dis al.”
“Dis nie so eenvoudig nie. Daar is … komplikasies.”
“O!” Die kommer laai weer opnuut in Estelle se hart op. “Ek dink jy moet liewer alles van voor af begin vertel, sus. Ek kan net nie begryp hoe dit dan gebeur het dat jy aan die ander man verloof geraak het nie. En wanneer?”
“Dit het alles begin met daardie onlangse rusie tussen my en Dawid. Jy onthou seker nog?” begin Crystelle sugtend en haar suster knik. Ja, sy onthou dit nog baie goed.
Hoewel Dawid duidelik baie verlief op haar suster is, is hy nogtans nie ’n man wat hom sal laat domineer deur die vrou wat hy liefhet nie. Hy het ook baie vaste idees omtrent ’n huwelik en die plek van die vrou in die huwelik. Crystelle is een van die besturende direktrises van ’n groot en bekende sjarmeskool in die stad, ’n beroepsvrou in murg en been. Sy het beslis nie met Dawid saamgestem dat sy ná hul huwelik van haar beroep moet afstand doen om tuis te gaan sit en kos kook en kinders grootmaak nie. ’n Geweldige rusie het gevolg, waarna Crystelle haar tasse gepak en met ’n maand verlof na Maputo vertrek het, smoorkwaad en vasberade om nie aan hierdie Victoriaanse gril van hom toe te gee nie. Die verhouding tussen hulle was blykbaar finaal van die baan.
“Jy weet ek is hier weg met die gedagte dat alles tussen my en Dawid finaal verbreek is. Ek was verbitter en kwaad en seergemaak. En toe ontmoet ek iemand wat in dieselfde hotel as ek tuis was.”
Crystelle lyk skuldig en ontwyk haar suster se beskuldigende oë.
“Al verskoning wat ek kan aanvoer, is dat ek destyds nie myself was nie. Ek wou my sommer wreek op al wat mansmens was. En toe hierdie man duidelik toon dat hy in my belangstel, het ek … Ek het regtig nie bedoel dat dit moes hand uitruk nie, sus.”
“Maar dit het, nè?”
“Ja,” erken sy skuldig. “Om die waarheid te sê, weet ek self nie hoe dit gebeur het dat ’n verlowing ter sprake gekom het nie, maar … toe ek my kom kry, was ek klaar verloof aan die man. Ek weet nie wat my besiel het nie. Ek ken hom nie eens nie!”
“Ek weet wat jou besiel het,” antwoord haar suster ontevrede. “Jy het goed geweet hoe ’n diep steek dit vir Dawid sal wees as hy moet hoor dat jy met ’n verloofring aan jou vinger van die vakansie af teruggekeer het.”
Crystelle se trane vloei weer.
“Ja, dis seker so,” erken sy. “Dit klink nou so gemeen.”
“Dit was gemeen – nie net teenoor Dawid nie, maar ook teenoor daardie ander man,” laat haar suster reguit hoor. Maar dan versag haar stem weer. “Wat het verder gebeur?”
“Die dag toe ek terugkeer van my vakansie, het Dawid my op die stasie ingewag. Ek was so oorstelp van vreugde om hom te sien dat ek totaal van die ander man se verloofring aan my vinger vergeet het. Ek was al in Dawid se arms toe dit my van die ring byval en ek het dit gou agter sy rug in my handsak laat glip. Ek wou hom eerlikwaar van die verlowing vertel het, maar nadat hy my vertel het dat hy die oorsese beurs gewen het en dat ons oor ’n maand moet trou as ek saam met hom wil gaan, het ek … net nie meer die moed gehad nie. Ek was te bang dat daar weer iets tussen ons twee skeef sou loop. Ek en Dawid is dadelik weer verloof, soos jy weet, en ons trou oor twee weke. Maar intussen sit ek nog met Hein Albrecht se ring!”
“Maar hoekom het jy nie sommer dadelik sy ring teruggestuur nie, Crystelle?” vra Estelle ietwat ongeduldig.
“Ek wou, maar het toe besluit om eers aan hom te skryf. Soos jy self opgemerk het, moet dit ’n baie duur ring wees. Ek is bang dit raak dalk verlore oor die pos. Ek het toe eers vir hom geskryf en gesê ek wil ons verlowing beëindig, en hom toe gevra hy moet my laat weet langs watter weg dit die veiligste sal wees om sy ring aan hom terug te besorg. Ek het aan die begin van die week sy antwoord ontvang. Hy … weier om ons verlowing te verbreek en sy ring terug te neem.”
“Wat?”
“Ja. Hy skryf hy weier om so ’n persoonlike saak per brief af te handel. Hy dring daarop aan dat ons mekaar moet ontmoet en die saak persoonlik uitpraat.”
“Hm. Wel, ou suster, hoe gouer jy hom ontmoet en sy ring teruggee, hoe beter. Die tydjie word kort.”
“Maar ek kan dit nie doen nie, ek bedoel, hom êrens gaan ontmoet nie! Daar is geen tyd nie. Die res van hierdie week het ek en Dawid elke dag afsprake. Ons paspoorte moet in orde kom, dis afskeidspartytjies en dies meer. Eerskomende naweek gaan ons sy ouers haal en volgende week weet jy hoe dol dit sal gaan met al die voorbereidings vir ons huwelik en die reis. Daar is net nie ’n enkele oop oomblik nie. O, Estelle, wat moet ek doen?” roep haar suster ontsteld uit.
Estelle frons.
“Wel, al raad wat daar dan is, is om sy ring mooi te verpak en dit terug te stuur in die hoop dat dit hom wel veilig sal bereik. Skryf vir hom dat jy nie die nodigheid insien om die saak verder te bespreek nie. Jy verbreek jul verlowing en dis uit en gedaan.”
Crystelle skud haar kop.
“Sodat hy net die volgende dag in lewende lywe sy verskyning hier maak en daarop aandring om met sy ‘verloofde’ te praat, en dit terwyl Dawid en sy ouers miskien ook teenwoordig is? O, nee, ou sussie, dit sal ek nie waag nie.”
“Jy moes Dawid sommer dadelik van hierdie verspotte verlowing vertel het, Crystelle,” laat Estelle ongeduldig hoor.
“Ja, ek moes. Ek weet,” laat haar suster wanhopig hoor. “Nou is dit egter te laat. As ek hom nou moet vertel, sal hy nooit glo dat die danige verlowing eintlik ’n klug was nie. Hy sal dink ek steek iets vir hom weg, daarom het ek hom nie eerder daarvan vertel nie. Nee, Dawid mag hoegenaamd nie nou hiervan te wete kom nie.”
Estelle knik. Crystelle is reg. Dawid mag nie nou van hierdie verlowing weet nie.
“Ek het al gewonder of ek hom nie miskien aan ’n lyntjie kan hou tot ná die huwelik en nadat ons reeds veilig oorsee vertrek het nie. Dan kan ek vir hom ’n brief laat pos waarin ek alles mooi verduidelik en hy sal verplig wees om die werklikheid te aanvaar. Maar ek weet nie of hy so lank op ’n antwoord van my sal wag nie. Dit sal my glad nie verbaas as hy al op hierdie oomblik op pad hierheen is nie,” en Crystelle sidder net by die blote gedagte aan so ’n moontlikheid.
Estelle skud haar kop.
“Dit klink ook nie vir my reg nie, Crystelle. Dit kom gemeen en lafhartig voor. Jy moet darem in gedagte hou dat hy heel onskuldig in hierdie intrige ingesleep is. Hy sou ook nie aan jou verloof geraak het as hy jou nie liefgekry het nie. Daardie ring getuig daarvan. Nee, in alle regverdigheid moet ek sê ek dink nie hy verdien sulke behandeling van jou nie. En dan is daar nog iets waaraan ek gedink het. Ek ken nie juis die regspunte nie, maar ek weet dat daar so iets is dat ’n meisie ’n man vir troubreuk kan dagvaar indien hy hul verlowing sonder rede verbreek. As Hein Albrecht gemeen wil wees, kan hy die lewe vir jou baie moeilik maak. Nee, ons moet eenvoudig aan ’n ander oplossing dink.”
“Wel, dink jy dan aan een. Ek is suf gedink. Maar dít sê ek vir jou, ek is na aan breekpunt. Dit verbaas my net dat Dawid nie al iets agtergekom het nie.”
“Ons sal ’n oplossing vind, Crystelle. Probeer net kalm bly.”
Maar ’n rukkie later, toe die lig afgeskakel is, lê Estelle met wyd oop oë, self baie onrustig, die donkerte en instaar. Hulle sal ’n oplossing moet vind en sommer gou ook, maar wat? Sy frons skerp.
Wat maak ’n meisie as ’n man weier om hul verlowing te verbreek? Watter soort man is dit wat weier om sy ring terug te neem as die meisie hom duidelik toon dat sy niks verder met hom te doen wil hê nie? Hein Albrecht kan nie te veel trots in hom hê nie. Sy sal sowaar nie ’n man dwing om aan haar verloof te bly as hy duidelik wys hy is moeg vir haar nie, al het sy hom nou ook hoe lief. Dáárvoor is sy te trots.
Sy kan ook nie help om ’n bietjie ergerlik teenoor haar suster te voel nie. Dit was nou werklik ’n simpel ding om te doen, veral vir ’n meisie wat haar as so wêreldwys beskou. Maar dan versag haar hart weer. Sy weet hoe lief haar suster Dawid werklik het. Sy weet ook hoe afhanklik Crystelle, ten spyte van die front van wêreldwysheid en oormaat selfversekerdheid, van Dawid se liefde is.
Juis omdat sy en Crystelle ’n tweeling is, en daarby ’n identiese tweeling, is hulle baie na aan mekaar. Tog verskil die twee susters baie. Uiterlik is die een ’n duplikaat van die ander. Ook in hul verfynde maniere en ingebore smaak vir goeie klere is hulle identies. Maar daar eindig die ooreenkoms. Crystelle was nog altyd die vlinder van die twee. Nie dat sy ligsinnig was nie, maar alles in die lewe het altyd sommer net maklik vir haar reggekom.
Daarenteen moes Estelle nog altyd werk vir wat sy wou bereik. Crystelle het die gawe besit om mense, veral die teenoorgestelde geslag, om haar pinkie te draai. Estelle was die skugter een, die een wat altyd bang was om ander se gevoelens seer te maak. Crystelle het gehou van plesier, en haar foto het dan ook dikwels in die sosiale rubrieke verskyn nadat sy die een of ander sosiale geleentheid bygewoon het. Estelle is ook lief vir ’n goeie toneelopvoering of ’n goeie rolprent, maar sy kon net so goed ’n aand alleen in hul woonstel deurbring met ’n interessante boek op haar skoot.
Al die jare dat sy en haar suster ’n woonstel gedeel het, was Estelle die tuisteskepper daarin. En wanneer Crystelle blindelings op ’n ding wou afpyl, was dit Estelle wat rem getrap het en eers die saak wou beredeneer. Die een se probleem was albei se probleem, en daarom kan Estelle nie nou haar rug draai nie met die gedagte: Dis Crystelle se probleem; sy moet maar sien kom klaar. Dit is ook háár probleem, veral omdat sy deeglik bewus daarvan is dat haar suster se toekomstige geluk op die spel is.
Dis redelik vroeg die volgende oggend toe Dawid sy opwagting by die woonstel maak.
Soos gewoonlik is Crystelle nog nie gereed nie, en Estelle skink solank vir hom ’n koppie koffie. Sy merk dat haar suster nog effens bleek vertoon ten spyte van haar kunstige grimering toe sy eindelik haar verskyning maak. Dit verbaas haar ook nie wanneer Dawid bekommerd ’n opmerking daaroor maak nie. Crystelle se laggie klink senuweeagtig toe sy sy navraag ongeërg probeer afmaak.
“Ag, dis maar trousenuwees. Ek slaap snags nie so watwonders nie. Ek bekommer my dood dat daar op die nippertjie ’n ding sal opduik waarvan ons totaal vergeet het.”
Sy soen hom vlugtig op die wang en laat tergend hoor: “Moenie so bekommerd lyk nie, my skat. As ek dalk op ons troudag siek is, stuur ek sommer vir Estelle in my plek. Niemand sal dit tog agterkom nie – nie eens jy nie!”
“Dis wat jy dink, liefling. Ek sal dadelik weet.”
“Hoe sal jy weet? Ek voel amper lus en gaan met jou ’n weddenskap aan. As Estelle my trourok aantrek en die kerkpaadjie afgeloop kom, sal jy sowaar nie weet dis nie ek wat daar aankom nie, Dawid.”
Maar Dawid skud sy kop beslis.
“Miskien sal my blote oog my nie die verskil vertel nie, altans nie onmiddellik nie, maar my hart hier binne sal my dadelik waarsku dat hier nou êrens groot fout is.”
Die susters lag hartlik en dan sê Crystelle koppig, maar met haar oë liefdevol op haar aanstaande man gerig: “Ag, jy sê sommer maar so. Eendag is eendag, dan gaan ek en Estelle jou nog ’n lekker streep trek.”
Dan versober haar gesig skielik en sy kyk vinnig na haar suster. ’n Oomblik ontmoet hul oë mekaar stip. Dan glimlag Crystelle weer en haak by Dawid in.
“Soet bly, sus. En sorg dat jy vanaand tuis is wanneer ek terugkom. Daar is ’n … e … sakie wat ek met jou wil bespreek.”
“Dit klink vreeslik geheimsinnig,” spot Dawid, skynbaar heeltemal onbewus van die onderstroming van erns wat in die kombuisie ingesypel het. “Mag ek teenwoordig wees by die bespreking?”
“Beslis nie. Dis ’n sakie net vir vroumense bedoel. Jou ore sal behoorlik tuit!” Sy druk hom by die deur uit. Agter sy rug knipoog sy vir Estelle voordat sy die deur agter haar toetrek.
Daar is ’n skaars bedwingbare opgewondenheid in Crystelle merkbaar toe sy en Dawid laat die middag weer by die woonstel aankom. Sy maak ook sommer korte mette met hom om hom uit die woonstel te kry.
“Asseblief, my skat, ek het net ’n uur tyd om te bad en my te verklee vir die dinee van vanaand. Jy moet nou dadelik gaan.”
Dawid kla nog dat hy gehoop het om darem eers ’n koppie koffie te kry, maar Crystelle help hom met ’n arm teen die rug by die woonstel uit. Die deur is skaars agter hom toe, of sy draai na haar suster en sê haastig: “Ek sal moet gou maak. Kom saam. Solank ek klaarmaak, kan ons die saak bespreek.”
Estelle volg gedwee. Sy weet wat gaan kom, en sy sien glad nie uit na die bespreking wat voorlê nie. Crystelle moet van haar wysie af wees om ernstig aan so iets te dink.
“Sus, vanoggend met ons geskerts, het ek mos op ’n gedagte gekom. Het jy nie aan dieselfde plan gedink nie?”
Estelle sug.
“Ja, ek weet aan watter plan jy gedink het. Maar, Crystelle, dis malligheid. Ons sal nooit daarmee wegkom nie.”
“Hoekom nie? Estelle, ek sê vir jou hy sal nooit agterkom dis nie ek nie. Hoe sal hy dit agterkom? Baie van ons vriende ken ons vandag nog nie uitmekaar nie.”
Estelle se oë word waaksaam. As Crystelle eers begin pleit, is dit moeilikheid soek om nee te sê. Maar hierdie keer gaan dit beslis nee wees.
“Crystelle, jy het gehoor wat Dawid gesê het. As sy oë hom dan nie die verskil vertel nie, sal sy hart hom dadelik waarsku.”
“Ag, twak! Miskien sal Dawid nog die verskil agterkom, want hy ken ons al jare en hy sien ons elke dag bymekaar. Maar iemand soos Hein wat nie eens weet dat daar ’n duplikaat van my op die aarde bestaan nie en wat my net ’n maand geken het … Nee, sus, ek sal jou ’n weddenskap aangaan hy sal nie die verskil agterkom nie.”
“Is jy seker jy het hom nie vertel dat jy ’n identiese tweelingsuster het nie?”
“Nee, ek het nie. Hy weet ek het ’n suster, maar ek het nagelaat om te sê ons is identies. Ek wou dit vir hom as ’n verrassing hou. Ons het nie eintlik veel familiebesonderhede uitgeruil nie. Die tydjie was net te kort daarvoor.”
Daar is nog die grootste vertwyfeling op Estelle se gesig leesbaar en Crystelle kyk haar pleitend aan. Estelle móét net eenvoudig oorreed word om in te stem tot hierdie plan. Daar is geen ander uitweg nie.
“Asseblief, Estelle, ek smeek jou! Al sou ek ook die geleentheid hê om hom te ontmoet, dink ek nogtans dit is ’n baie beter plan om jou in my plek te stuur. Jy sal die situasie baie beter as ek kan hanteer. Jy ken my. Ek word gou opgewonde en kan dalk dinge kwytraak wat my saak nog verder sal bemoeilik. Jy is baie taktvoller as ek in sulke delikate situasies. Daar bestaan by my geen twyfel dat jy die probleem suksesvol sal oplos nie. Doen dit vir my, Estelle. Asseblief!”
“Kan jy hom nie bel nie, sus?” probeer Estelle nog wegskram.
“Nee, ek dink nie eens daaraan nie. Ek het ook geen benul waar om hom per telefoon te bereik nie. Hy bly nie in Maputo nie. Hy woon glo op ’n eiland naby die stad.”
“Op ’n eiland?” Estelle kyk haar suster fronsend aan. “Werklik, Crystelle, jy weet darem bra min van die man af!”
’n Ligte blos spoel oor Crystelle se wange. Sy verdedig haar heftig.
“Ek het jou reeds gesê daar was nie genoeg tyd om te veel besonderhede uit te ruil nie. En die plan was dat hy my oor ’n paar weke sou kom haal en dan na die eiland neem om my te wys waar hy bly en waar … waar ons ons sou vestig as ons eers getroud is. Ag, sus, asseblief, sien jy regtig nie kans nie?”
“Crystelle, ek wil jou graag help, maar ek hou nie van bedrog nie. Is dit regtig nodig dat ons plekke moet ruil? Hoekom kan ek hom nie ontmoet en reguit erken ek is jou tweelingsuster nie? Ek kan hom mos nog steeds die regte stand van sake skets en verduidelik hoekom jy nie kans sien om met die verlowing voort te gaan nie. Ek kan aan hom verduidelik dat jy baie besig is met voorbereidings vir jou huwelik en die oorsese reis en …”
“Nooit! Dit sal nooit werk nie, Estelle, glo my, asseblief. Hy sal net weier om die saak met jou te bespreek, en as ek weer my oë uitvee, stap hy hier in. Ons kan dit nie waag nie.”
Nog voordat Crystelle haar pleidooi afgesluit het, weet Estelle dat sy verlore is. Sy kan nie weier nie, nie as haar suster se toekomstige geluk op die spel is nie.
Toe sy daardie aand, nes die vorige, met oop oë in die donkerte lê en staar, probeer sy haarself moed inpraat. Dis tog nie so ’n vreeslike ding wat Crystelle van haar vra nie. Sy moet die mansmens net oortuig dat sy werklik ernstig is om hul “verlowing” te verbreek, sy ring teruggee en met haar beste wense vir sy toekomstige geluk van hom afskeid neem.
Tog is daar ’n vae onrus in haar wat sy nie kan ignoreer nie. Sy het die nare voorgevoel dat sake nie so glad gaan verloop as wat sy en Crystelle hulle dit voorstel nie. Die feit dat die man botweg weier om sommer die verlowing te verbreek, vertel haar dat sy met teenkanting te doen gaan kry. Hy is baie duidelik nie van plan om hom sommer net so ongeërg opsy te laat skuif nie, nie sonder ’n baie goeie rede nie.
Wat haar nog onsekerder laat voel, is die feit dat haar suster haar so min van die man kan vertel. Sy weet net dat hy Heinrich Albrecht gedoop is, van Duitse afkoms is, maar al baie jare lank gevestig is op hierdie eiland naby Maputo. Hy is ’n soort “seewetenskaplike”, soos Crystelle dit vaag beskryf het, en te oordeel na die verloofring wat hy haar gegee het, moet hy redelik welgesteld wees. En dis al.
Estelle sug hardop. Dat ’n mens werklik aan iemand kan gaan verloof raak terwyl jy so min van hom af weet! Die hoeveelste keer wonder sy wat haar suster besiel het.
Die volgende oggend nadat hulle eers hul oggendkoffie gedrink het, raak Crystelle weer die onderwerp aan.
“Het jy … het jy toe besluit, Estelle?” vra sy onseker, terwyl haar groot bruin oë, so dieselfde as dié van haar suster, by Estelle pleit. Laasgenoemde gee ’n meewarige glimlaggie en knik dan.
“Nou goed, Crystelle. Ek het eintlik nie ’n keuse nie, het ek? Maar ek sê jou reguit ek dank die gode dat Dawid oor ’n paar dae die verantwoordelikheid vir jou op hom gaan neem.”
Crystelle gooi haar arms dankbaar om haar suster se nek en Estelle slaag eers ná ’n rukkie daarin om die dankbetuigings stop te sit.
“Toe nou, dis genoeg. Vertel my liewer hoe lyk die mansmens,” laat sy hoor. “Ek herken dalk nie my ‘verloofde’ wanneer ons mekaar moet ontmoet nie!”
“Hy is nog baie jonk, maar om die waarheid te sê, weet ek nie presies hoe oud hy is nie. Hy is lig van kleur, met blonde hare, blou oë en ’n baie ligte vel. Hy is ’n baie aangename jong man met baie innemende maniere.”
Sy frons en byt haar onderlip vas. “Daarom kan ek nie verstaan dat hy nou skielik hierdie houding inneem nie. Hy het my nie voorgekom as iemand wat hardkoppig is nie. Eintlik het hy soms amper onvolwasse voorgekom, jy weet, nog half seunsagtig.”
“Liewe aarde, Crystelle! Ek sou nie dink dat so ’n soort man jou sou aantrek nie,” laat Estelle ook fronsend hoor.
Crystelle kry weer ’n kleurtjie.
“Wel, nie gewoonlik nie, maar dit was nou toevallig hy wat op daardie besondere tydstip op die toneel verskyn het. Hy is ’n baie gawe en aantreklike seun, Estelle, en ek het werklik ons vakansietjie saam geniet.”
“Maar jy het geweet toe julle verloof geraak het dat hy nie jou soort man is nie,” beskuldig Estelle reguit. Haar kommer verdiep. Die jong man het natuurlik tot oor sy ore verlief geraak op die wêreldwyse Crystelle en was totaal onbewus daarvan dat hierdie ervare meisie hom eintlik as ’n soort ontvlugting gebruik het.
Haar ontevredenheid met haar suster neem toe. Sy haat dit om mense onnodig seer te maak, en dis asof haar simpatie begin oorswaai na die kant van die onbekende jong man. Crystelle se optrede was niks anders as gemeen nie en dis of sy Hein Albrecht nie meer so kwalik kan neem dat hy moeilikheid wil maak nie. Crystelle verdien dit eintlik. Estelle sug.
“Wat van sy familie? Weet jy iets van hulle af?”
“Nie veel nie. Sy ouers is al dood en hy het ’n paar keer gepraat van ’n broer, ek dink ’n ouer broer.”
“Weet jy regtig niks meer van hom af nie?”
“Nee, regtig nie.” Crystelle ontwyk haar suster se oë. Sy besef maar te goed dat die hele saak, veral noudat Estelle dit so sit en uitpluis, haar in ’n baie slegte lig stel.
Soos dit haar gewoonte is, skuif sy die effense skuldgevoel in haar opsy. Hein is nog jonk. Hy sal die teleurstelling wel oorleef. Estelle is verniet so bekommerd. As daar egter een ding in Crystelle is wat eg is, dan is dit haar gevoel vir Dawid, en Estelle besef dit blykbaar ook, daarom dat sy ingestem het om haar te help.
Sy moet erken dat sy verbaas is dat haar suster wel ingestem het tot so iets. Estelle is in daardie opsig so heeltemal anders as sy. Sy ken net die reguit paadjie en sy haat alle vorme van oneerlikheid. Haar oë versag toe sy na haar suster kyk. Dis nie die eerste keer dat Estelle haar te hulp moet kom nie, maar sy moet erken, hierdie keer is dit darem ’n bietjie erg.
“Ek sal jou ewig dankbaar bly, Estelle,” sê sy nou sag en met soveel gevoel dat Estelle nie anders kan as om aan die egtheid van haar woorde te glo nie.
Sy glimlag en laat dan saaklik hoor: “Laat ons nou tot ’n punt kom. Waar en wanneer sal ek hom ontmoet? Hoe maak ons ’n afspraak?”
Crystelle staan op en haal ’n briefie uit die spieëltafellaai.
“Hier is die brief wat hy aan my geskryf het.”
Estelle lees dit aandagtig. Die handskrif is duidelik leesbaar, hoewel die brief vinnig geskryf en baie kort, saaklik en ontmoedigend is. Hy sê net kortliks dat hy haar brief gekry het, maar weier om die saak per brief te bespreek. Daar is geen teken van ’n pleitende minnaar in die kort briefie nie, en die afsluiting is so onromanties as wat kan kom: Groete, Hein Albrecht. Boaan is die adres. Estelle frons.
“Nou wonder ek … Hierdie naam Inhaca … Sou dit nou die huis se naam wees of die eiland s’n?”
“Nee, ek weet nie. Maar as jy ’n brief na daardie adres stuur, behoort dit hom te bereik.”
“Dis al wat ek in elk geval kan doen. Wanneer sal ek hom ontmoet? Hoe gouer, hoe beter, dink ek.”
“Ek wonder tog of dit nie beter sal wees as jy dit uitstel totdat ek eers weg is nie, sus,” laat Crystelle huiwerig hoor. As daar iets moet skeefloop met die afspraak en daardie man moet op haar troudag die kerk binnestap … Nee. Estelle moet hom eers ontmoet wanneer sy en Dawid al op die vliegtuig op pad Engeland toe is. Sy bemerk haar suster se vraende blik en vervolg vinnig: “Veronderstel daar loop iets skeef en hy stel die waarheid vas.”
Estelle sug weer saggies. Wat jy eintlik bedoel, my sussie, dink sy, is dat ek jou kastaiings uit die vuur moet begin krap wanneer jy reeds veilig weg is. Solank Crystelle se sake net vlot verloop … Maar dan, miskien is dit ook beter om te wag totdat Crystelle uit die land is. Soos sy gesê het, as daar iets moet skeefloop, kan hierdie tweede verloofde van haar die wêreld vir haar baie warm maak.
“Ons kan hom per telegram laat weet dat jy hom oor tien dae in Durban sal ontmoet. Dan het ons reeds in Engeland aangekom en jou jaarlikse verlof het al begin,” vervolg Crystelle.
Estelle frons ontevrede.
“Maar ek was van plan om na die Drakensberge te gaan vir my vakansie, Crystelle, nie Durban toe nie. My plek is al bespreek en ek het al my treinkaartjie –”
Crystelle val haar half ongeduldig in die rede: “Ek sê mos ook nie jy moet jou hele vakansie in Durban deurbring nie. Jy kan mos net ná die afspraak Drakensberge toe vertrek. Jy sal uiters ’n halfuur in Durban nodig hê.”
Estelle bly maar stil. Soos gewoonlik dink Crystelle nie daaraan dat die reis Durban toe ekstra koste sal meebring wat ’n groot hap uit haar vakansiegeldjies sal beteken nie. Estelle is maar ’n doodgewone private sekretaresse by ’n bekende maatskappy in die stad, maar haar salaris kan nie vergelyk word met haar suster se inkomste uit die vooruitstrewende, gesogte sjarmeskool nie. En omdat Crystelle nog nooit nodig gehad het om ’n sent om te draai nie, dink sy nie daaraan nie dat haar suster dit tog wel soms nodig vind.
“Nou maar goed dan. Laat ons sommer dadelik die brief stuur, anders kom hy nog een van die mooi dae hier aan.”
In die geharwar van die finale voorbereidings vir die troue vergeet die twee susters amper van Heinrich Albrecht. Eers toe hulle mekaar op die lughawe groet waar die groot Boeing van die Suid-Afrikaanse Lugdiens reeds gereed staan om sy vrag na Londen te vervoer, kom hy weer in ’n paar gefluisterde woorde ter sprake.
Die susters omhels mekaar innig, onbewus van die belangstellende blikke in hul rigting. Só ’n besonderse identiese tweeling is skaars, en hulle is al gewoond daaraan om aangestaar te word wanneer hulle bymekaar is.
“Tot siens, sus. En … alle sukses met jou afspraak oormôre. Ek hou duim vas dat dit goed sal afloop,” laat Crystelle saggies hoor en Estelle knik.
“Ek ook, van harte,” skerts sy lighartig terwyl haar hart skielik vinniger klop. Sy het amper van die mansmens vergeet! “Geniet jou oorsese verblyf. Ek gaan vreeslik verlang,” erken sy met ’n knop in haar keel.
Hulle was nog al die jare bymekaar, en veral sedert hulle hul ouers gelyk in ’n motorongeluk verloor het, het hulle vreeslik geheg aan mekaar gegroei. Nou gaan hul paadjies uiteen, en albei weet dat daar tog ’n mate van verwydering tussen hulle sal kom.
’n Rukkie later draai Estelle saam met Dawid se ouers en die paar vriende wat die wittebroodspaartjie op die lughawe kom wegsien het, weg toe die silwer voël tussen die wolke in verdwyn. Sy probeer saam met die ander gesels en lag, maar ’n swaarmoedigheid het haar oorval. As die ander dit opmerk, skryf hulle dit maar aan Crystelle se vertrek toe, en lewer geen kommentaar nie.
Maar dis nie die gedagte aan haar suster se vertrek of die feit dat sy haar eers weer oor ’n paar jaar sal sien wat die glimlag op Estelle se gesig styf en onnatuurlik maak nie. Heinrich Albrecht, haar suster se tweede verloofde, is soos ’n wagtende monster op die voorgrond van haar gedagtes, en sy wens met haar hele hart dat dit al die dag ná oormôre kan wees. Sy het so moedig geklink toe sy en Crystelle die saak bespreek het, maar hoe nader dit aan die uur van die afspraak kom, hoe meer verwater haar bravade. Sê nou maar die mansmens is moeilik, wil geen rede verstaan nie, ontmasker haar en hul bedrogspul sommer binne die eerste oomblik? Haar wange brand nou al by die gedagte aan hoe ’n groot gek sy sal voel.
Dis geen selfversekerde jong meisie wat twee dae later self ook ’n vliegtuig bestyg op pad na Durban nie. In haar handsak lê Heinrich Albrecht se telegram waarin hy hul afspraak vir dieselfde middag by ’n sekere hotel in Durban bevestig.
Op pad wens sy met ’n opregte gebed dat daar iets mag voorval wat hom sal verhoed om die afspraak na te kom, hoewel sy terselfdertyd besef dat dit maar net haar beproewing sal uitstel en nie afstel nie. Dan weer wens sy net so opreg dat hy die afspraak sal kan nakom, want hoe gouer hierdie ding van haar skouers af is, hoe beter vir haar gemoedsrus.
’n Honderd keer gedurende die lugreis maak sy haar handsak oop om te kyk of die dosie met die verloofring nog daarin is. Later is dit nie meer genoeg om net die dosie te sien nie. Nee. Toe begin die duiwel haar wysmaak die ring is nie meer in die dosie nie. Dit het daaruit weggeraak. Wanneer sy op die lughawe uitstap, voel haar knieë soos saggebreide klei wat al dwing om onder haar te knak, en die afspraak met haar suster se verloofde doem soos ’n berg voor haar op.
Nog nooit in haar lewe het sy doelbewus bedrog gepleeg nie. Selfs met haar mansvriende was sy nog altyd van die begin af openhartig. Sy het gehou van mansgeselskap, maar was nog nie bereid om ’n ernstige verhouding met net een man aan te knoop nie. Sy is nog maar drie en twintig, jonk en wil sommer nog berge versit en baie gaan reis voordat sy haar aan ’n man gaan verbind. Daarom het sy nog altyd van ’n ernstige verhouding weggeskram. Haar mansvriende het geweet as hulle haar vriendskap wil verloor, moet hulle net ernstig begin raak.
En op hierdie oomblik is sy ’n “verloofde” meisie, op pad om haar onbekende “verloofde” te ontmoet, en sy sien geensins na hierdie afspraak uit nie. Hoewel sy baie lief is vir haar suster, is daar ’n stille verwensing in haar hart teenoor Crystelle toe sy die stoeptreetjies van die hotel opstap. Sowaar, eendag sal Crystelle moet vergoed vir hierdie benoude ure wat sy haar laat deurgaan. Dié dametjie is natuurlik op hierdie oomblik in die sewende hemel saam met haar bruidegom, salig onbewus van die koue sweet wat nou in haar suster se handpalms uitslaan.
By ’n tafeltjie, eenkant op die ruim stoep, het ’n man haar aankoms met belangstelling dopgehou, en nou staan hy op en kom met afgemete pas nader gestap.