Читать книгу Reënboog van koraal - Ena Murray - Страница 4
2
ОглавлениеEstelle is onbewus van die man wat haar na die ingangsportaal van die hotel volg en kort agter haar stelling inneem toe sy die registerboek teken. Eers toe sy omdraai, gewaar sy hom. ’n Oomblik trek alles styf binne-in haar. Dan ontspan sy weer. Dit kan nie Hein Albrecht wees wat hier voor haar staan nie. Hy is volgens Crystelle se beskrywing te oud daarvoor en ook donker. Sy wil net wegdraai toe die man egter ’n tree nader gee.
“Juffrou Reynders?”
“Ja?”
“Jy het natuurlik verwag om my broer hier te ontmoet, maar daar het iets voorgeval wat hom verhinder om jul afspraak na te kom. Daarom het ek maar gekom. Ek is Chris Albrecht, Hein se broer.”
Estelle hoop van harte dat die man nie die groot verligting op haar gesig kan sien nie. Sy kan haarself nou uitlag oor die nare voorgevoelens wat sy oor hierdie afspraak gekoester het. Beter kon dit nie vir haar verloop het nie. Daar bestaan nou geen gevaar dat sy en die hele bedrogspul ontmasker sal word nie, want hierdie man het Crystelle nog nooit in sy lewe gesien nie. Dan sal dit ook nou baie makliker wees om haar saak te stel en die ring aan die broer te gee om aan Hein te oorhandig.
“As jy my ’n oomblik van jou tyd sal vergun …”
“Sekerlik.”
Hy lei haar na ’n hoekie van die sitkamer en neem regoor haar plaas. ’n Oomblik volg daar ’n stilte waarin hulle mekaar opsommend aankyk. Estelle bestudeer hom met onpersoonlike belangstelling. Sy moet erken dat haar “verloofde” se broer op ’n vreemde manier ’n baie aantreklike man is. Niemand sal hom ’n mooi man noem nie. Daarvoor is sy gesig in te streng lyne saamgevat. Dis sy oë wat ’n mens dadelik tref. Hulle is ’n besonderse blou, amper ’n donkerblou, en uit hulle straal ’n sterk persoonlikheid.
Die verligting in Estelle begin so stadigaan wegsypel en sy twyfel of dit so ’n groot genade is dat Hein nie self opgedaag het nie. Die blou oë wat so sonder huiwering na haar kyk, vertel haar dat sy nie hier met ’n jong, onervare mannetjie te doen het, soos Hein blykbaar nog is nie. Sy reguit blik vertel haar dat dit ’n volwasse man van by die dertig is aan wie geen spek en bone opgedis sal kan word nie. Die reguit, effens geboë neus met die streng mond daaronder verraai dat hy ’n wil en ’n siening van sy eie het. Sy weet sommer intuïtief dat hierdie man nie met hom laat speel nie. Die effense rooi skynsel in die donker hare vertel haar ook dat hy ’n humeur het waarmee sy rekening sal moet hou.
Dis die man wat eerste die stilte verbreek.
“Stel jy belang om te weet wat Hein verhinder het om jul afspraak na te kom?”
Dis asof ’n toon van sarkasme net so wil-wil deurslaan in sy stem, en Estelle voel ’n ligte blos langs haar nek opstoot.
“Natuurlik wil ek graag weet,” sê sy vinnig, amper oorhaastig, en sy sien die donker wenkbroue lig.
“Jy het nie baie gretig gelyk nie.”
Estelle soek na woorde. As sy net kon weet of Hein sy broer in sy vertroue geneem het en of hierdie man weet dat sy die verlowing wil verbreek, dan sal sy weet wat om te antwoord. Sy voel egter glad nie lus om hom daarvan te vertel as hy dit nie weet nie. Skielik voel sy ’n ergernis teenoor haar onbekende “verloofde” in haar opstoot. Vir wat kon hy nie self hierdie afspraak nagekom het nie? Of is hy ook maar van Crystelle se soort wat altyd ander stuur om hul kastaiings uit die vuur te krap? Dan ruk sy haar reg. Sy is nou onredelik. Die bruin oë wat in syne opkyk, is koel en uitdagend.
“Ek is nie ’n mens wat met my gevoelens te koop loop nie, meneer Albrecht. Sou jy meer van my gedink het as ek in trane uitgebars het?”
Die blou oë vernou en dan glimlag hy effens.
“Nee, beslis nie, juffrou. Ek kan emosionele vroumense nie verdra nie.”
En ek, meneer Chris Albrecht, kan weer nie hooghartige, meerderwaardige mansmense verdra nie, dink Estelle swyend. Een ding is baie seker. Sy hou nie van hierdie broer van haar verloofde nie. Sy hoop van harte dat Hein nie baie na hom aard nie.
“Kan ek nou hoor wat Hein makeer?”
“Sekerlik. Hein is tydens ’n duikery deur ’n haai aangeval. Hy was baie ernstig beseer, maar is darem nou weer uit die hospitaal en terug op Inhaca. Die wond aan sy been sal egter nog ’n lang tyd neem om ten volle te genees. Daarom kon hy nie jul afspraak nakom nie.”
“’n … Haai?” Haar ontsteltenis is heeltemal opreg. “Maar wat gaan soek hy dan ook tussen die haaie?” Die woorde kom spontaan oor haar lippe en die man se wenkbroue lig afkeurend.
“Juffrou, dit raak al meer by my ’n sekerheid dat jy en Hein op aarde niks van mekaar af weet nie. Aan jou opmerking van so ewe kan ek aflei dat dit dieselfde met jou gesteld is. Tog het julle kans gesien om verloof te raak.”
Estelle vererg haar op die daad, juis omdat sy so volkome met hom hieroor saamstem. Sy het Crystelle telkemale verwyt dat sy so blindelings aan ’n man gaan verloof raak het van wie sy absoluut niks weet nie, maar dit staan haar nou glad nie aan dat hierdie man daardie feit ook nou teenoor haar noem nie. Hy het niks te doen met sy broer se liefdeslewe nie. Sy steek haar kennetjie uitdagend na vore.
“Dít, dink ek, is my en Hein se saak, meneer Albrecht. En ek het ’n naam. Dis Crystelle.”
Sy stem raak ysig.
“Sou jy dit dink, juffrou? Dit wys maar net weer dat jy niks van jou verloofde af weet nie. Of jy is ’n dame wat baie goed toneel kan speel.”
Estelle knip haar oë vinnig. Sy kyk verward terug in die oë wat nou forsend op haar gerig is.
“Ek begryp nie wat jy bedoel nie. Hoekom sal ek toneelspeel?” Haar stem vertel hom duidelik dat sy haar begin vererg. Die man moet darem nie dink dat hy enigiets vir haar kan sê nie.
“Die tydjie dat ek en Hein mekaar geken het, was te kort om veel besonderhede oor mekaar uit te ruil. Ek sal jou eerlik vertel wat ek van hom weet, en dis baie gering, ek erken dit. Ek weet dat hy op Ilha de Inhaca, ’n eiland naby Maputo, woon. Hulle noem dit sommer net Inhaca. Ek weet ook dat hy ’n ouer broer het, ’n soort … e … seewetenskaplike van beroep. Maar wat dit presies behels, wel, daarvan het ek nie die vaagste benul nie. Dis al.”
“Hoekom het jy aan hom verloof geraak, juffrou?”
“Wel,” en haar blik sak vinnig voor syne, “wel, hoekom raak ’n mens verloof?”
“Dit beantwoord nie my vraag nie, Crystelle.”
Hy noem haar die eerste keer op die voornaam, maar Estelle is skaars bewus daarvan. Al waarvan sy bewus is, is dat hierdie man ’n net om haar trek en vroeër of later gaan hy haar ontmasker. Vroeër of later gaan sy ’n glips maak wat haar bedrog aan die lig gaan bring. Haar senuwees is aan rafels en die hoeveelste keer verwens sy haar suster uit haar hart. Die verdekselse Crystelle!
“Jul optrede is dié van romantiese tieners en tog is nie een van julle twee meer tienderjarig nie. Hein miskien nog in sekere mate, maar nie jy nie. Julle twee is ook net so min dolverlief op mekaar as wat ek op hierdie oomblik dolverlief is. Ek het reeds ’n sterk vermoede hoekom Hein aan jou verloof geraak het.”
Estelle se bruin oë blits nou. Hierdie man se aantygings staan haar glad nie aan nie. Sy het geen benul waarop hy sinspeel nie, maar dat dit beslis nie vleiend vir haar, of liewer vir Crystelle, is nie, is duidelik.
“Terwyl jy nou so alles uitgewerk het, kan jy my vertel hoekom ek aan Hein verloof geraak het?”
“Net soos jy verkies,” is die kalm antwoord. “Al het Hein dit miskien nie self aan jou vertel nie, is jy bewus van die feit dat hy uit ’n baie welgestelde familie kom. Ook, juffie, sal ek my kop op ’n blok lê dat jy bewus is van die feit dat Hein, wanneer hy oor drie jaar vyf en twintig is, ’n aardige sommetjie geld gaan erf. Vir baie meisies van ’n sekere soort sal daardie feit meer as genoeg rede wees om verloof te raak, al weet hulle absoluut niks meer van die man af nie.”
Estelle is ’n oomblik te verslae om te antwoord. Hierdie keer begryp sy die aantyging in sy woorde baie duidelik. Dis net met die grootste wilsinspanning dat sy haar kalmte in so ’n mate behou dat sy kil opmerk: “Met ander woorde, meneer Albrecht, ek is in jou oë ’n fortuinsoeker.” Hy leun effens vooroor.
“Crystelle, beantwoord net hierdie een vraag. Is jy werklik verlief op Hein?”
Estelle besef onmiddellik dat hy haar eindelik in ’n hoek het. Antwoord sy nee op daardie vraag, sal dit ’n erkenning van haar kant wees dat hy gelyk het in sy bewering dat sy aan Hein verloof is om sy erfenis. Dis vir haar heeltemal onmoontlik om ja daarop te antwoord, want sy het gekom om die verlowing te verbreek en Hein se ring terug te gee. Hoe kan sy dan nou teenoor hierdie man beweer dat sy werklik verlief op sy broer is?
Hy sit terug in sy stoel en hierdie keer huiwer hy nie om reguit te praat nie.
“Jy is dus ’n fortuinsoeker, juffrou Reynders.”
Estelle trek haar asem skerp in. Nog nooit in haar lewe is sy so beledig nie en was sy so magteloos om haar teen ’n aantyging te verdedig nie. Dan, skielik, spoel daar ’n groot verligting deur haar. Sy besef dat hierdie man onbewustelik meehelp om haar probleem op te los. Hy is baie duidelik sterk teen die verlowing gekant. Dit pas haar uitstekend. Beter kon dit nie gewees het nie, besef sy. As sy nou haar rol oortuigend speel, kan sy binne die volgende minuut van die gehate verloofring ontslae wees. Dit kan haar regtig nie skeel wat hierdie man van haar dink of wat Hein gaan dink nie. Ná vandag sal sy tog nooit weer kontak met die Albrechts van Inhaca hê nie.
Sy tel haar handsak op, knip dit oop en lê dan die dosie waarin die verloofring is voor hom op die tafel neer.
“Daar is jou broer se ring, meneer Albrecht. Gee dit asseblief aan hom met my komplimente. Ek laat my nie eens vir die Albrecht-miljoene so beledig nie. Goeiedag.”
Toe sy om die tafel stap, is hy ook op sy voete.
“Gaan sit, Crystelle. Ek het nog nie klaar gepraat nie.”
“Maar ek het, meneer Albrecht. Ek het niks meer om met jou te bespreek nie.”
“Maar ek het wel, of verwag jy dat ek moet stilbly wanneer jy ’n leë ringdosie aan my gee?”
Sy staar geskok na die leë ringdosie op sy handpalm. Dis leeg! Dis werklik, wettig leeg! ’n Koue rilling gaan langs haar ruggraat af. Sy het geweet die verdekselse ding sal nog wegraak, en nou het presies gebeur wat sy gevrees het. Sy skud haar kop verdwaas.
“Dit kan nie wees nie! Dit was nog op die lughawe daarin. Ek het gekyk. Ek sweer dit!”
Al haar bravade van ’n oomblik gelede is weg.
“Gaan sit, Crystelle. Ons het nog blykbaar heelwat om te bespreek.”
Sy sak soos in ’n droom weer terug op die stoel en hierdie keer is die bruin oë pleitend.
“Regtig, meneer Albrecht, ek … ek weet nie wat daarvan kon geword het nie.” Hy antwoord nie, sit en kyk haar net strak aan, en sy vervolg bleek: “Nou is ek natuurlik nog ’n dief ook in jou oë!”
Sy stem klink meteens minder kil.
“Ek weet eerlik nie wat om te dink nie. Die feit bly staan dat die ring weg is. Ek kan nie toelaat dat ’n ring van derduisende rande sommer net soek raak nie. Selfs nie eens die Albrecht-miljoene, soos jy dit verkeerdelik genoem het, kan so ’n skade sonder ’n oogknip dra nie.”
“Derduisende rande!” roep sy met groot oë uit en hy frons.
“Dit was die pryskategorie, nie waar nie? Die bedrag wat ek daarvoor moes betaal, was in elk geval ’n syfer met ’n hele paar nulle!” Die donker wenkbroue skiet weer op. “Of waar het jy gedink sal ’n student soveel geld kry om vir ’n ring te betaal? Hein kry eers oor drie jaar volmag oor sy geld, soos ek reeds gesê het. Intussen is hy van my afhanklik. Ek is sy voog. Terloops, hy moet ook eers my toestemming kry voordat hy kan trou, dit wil sê, as hy wil trou voordat hy vyf en twintig is.”
Estelle se kop begin draai. Die skokke volg nou te vinnig op mekaar. Haar senuwees was reeds aan flarde toe sy hier aangekom het. Toe moes sy nog hoor dat sy ’n fortuinsoeker is. Daarna moes sy tot die ontdekking kom dat die waardevolle ring weg is. Dan moes sy hoor hierdie haatlike mansmens het daarvoor betaal, en nou, les bes, hoor sy dat haar “verloofde” ’n jong student is wat geheel en al afhanklik is van sy broer.
Maar Hein Albrecht is op die oomblik van minder belang. Al wat nou by haar spook, is dat sy ’n peperduur ring laat wegraak het en dat hierdie man dit nie daarby gaan laat nie. Waar gaan sy soveel geld kry om hom terug te betaal? Haar stem is hees en haar hande bewe merkbaar.
“Ek weet nie waar die ring is nie. Ek weet regtig nie.”
“Hoekom het jy dit in die dosie gehou? Jy is tog veronderstel om dit aan jou vinger te dra.”
Sy aarsel ’n oomblik. Dan besluit sy dat dit tyd geword het vir die waarheid – of ten minste die halwe waarheid.
“Ek het nie die ring aan my vinger gehad nie, juis omdat ek eintlik hierdie afspraak met Hein gemaak het om ons verlowing te verbreek.”
“Werklik?” Die sarkasme drup uit sy stem. “Regtig, Crystelle Reynders, hoe oud skat jy my?”
“Maar dit is so!” roep sy uit, nou werklik benoud. Dit lyk asof hierdie man die waarheid nog minder sal glo indien sy hom nou alles moet vertel. Hy sal dink dis maar nog een van haar planne om haar uit hierdie penarie los te wikkel. Liewe aarde, maar Crystelle het haar darem in ’n gemors laat beland.
“Goed. Kom ons veronderstel jy praat hierdie keer die waarheid en dat jy werklik gekom het om die verlowing te verbreek. Wat is jou rede? Hoekom wil jy die verlowing verbreek?”
“Omdat … omdat ek … daar is ’n ander man, ek bedoel …”
Weer skiet die donker wenkbroue op en sy stem klink sag, bedrieglik begrypend.
“Ek verstaan. ’n Ryker man as Hein?”
Sy laaste woorde tref die kol.
“Jy het regtig nie ’n hoë dunk van my nie, nè, Chris Albrecht?”
“Kan jy my dit verkwalik, Crystelle Reynders?”
Dan breek die styfgespanne veer binne-in haar. Sy probeer nie meer om haar selfbeheersing te behou nie. Nou het sy darem net mooi genoeg van hierdie man gehad.
“Ek dink jy is die agterdogtigste, bemoeisiekste, meerderwaardigste, haatlikste mansmens wat ek nog ooit die twyfelagtige eer gehad het om mee kennis te maak. Goed dan. Dink wat jy wil. Dit kan my nie skeel nie. Gaan gee my by die eerste die naaste polisiekantoor aan vir diefstal. Dit kan my nog minder skeel.”
Haar uitbarsting het geen uitwerking op hom nie. Hy bly kil en kalm, so senutergend kalm.
“En jy, Crystelle Reynders, is nie net die valsste vroumens met wie ek nog te doen gekry het nie, maar ook die swakste leuenaar. Daar is net so min ’n ander man in jou lewe as wat daar ’n ander vrou in myne is. Jy is net so min op hierdie oomblik ’n verliefde meisie as die man in die maan.”
“O, in hemelsnaam, jy maak my siek met jou alwetendheid! Ek weet nie waaroor jy nou so kerm nie. Jy het vandag hierheen gekom om jou bes te doen om die verlowing te verongeluk. Wel, jy het dit reggekry. Wat meer wil jy hê? Dis wat jy wou gehad het. Waar dit die ring aangaan …”
“Laat ons ’n oomblik van die ring vergeet. Jy verkeer onder ’n wanindruk, Crystelle. Ek het nie hierheen gekom om jou en Hein se verlowing te vernietig nie. Inteendeel. Ek het hierdie afspraak namens Hein nagekom om jou te oorreed om saam met my na Inhaca terug te keer.”
“Wat?”
Hy knik.
“Jy het reg gehoor. Ek wou jou vra om saam met my te kom en ’n rukkie, sê ’n maand, op Inhaca te kom vakansie hou … by my en by Hein. Dit was nie, en is steeds nie my bedoeling om jul verlowing te vernietig nie.”
Estelle sak terug in haar stoel, haar stem gedemp.
“Ek verstaan jou nie, meneer Albrecht. Ek verstaan jou glad nie.”
Die eerste keer is daar ’n beduidenis van ’n glimlag om sy lippe.
“Ek is ’n moeilike mens om te verstaan. Moet dus nie probeer om resultate met die eerste kennismaking te kry nie. Maar miskien sal jy my ná ’n maand onder een dak beter verstaan … en ek vir jou.”
“Jy kan nie regtig ernstig wees nie. Eers beledig jy my soos ek nog nooit beledig is nie. Dan trek jy my uitmekaar. En nou nooi jy my ewe kalm vir ’n vakansie! Is jy heeltemal seker jy is Hein se broer en dat jy van Inhaca af kom?”
Hierdie keer lag hy saggies, blykbaar geamuseer deur haar poging tot sarkasme.
“Ek is werklik Hein se broer en ek kom werklik van Inhaca af en het nie uit ’n gestig ontsnap nie. My uitnodiging is ook heeltemal eg en baie ernstig. Ek nooi jou om ’n maand lank op Inhaca by ons te kom kuier. Ek wil sommer nog vandag vertrek.”
“Hoekom wil jy hê dat ek daar moet kom kuier?” vra sy, openlik agterdogtig. “Dis vir my so duidelik soos daglig dat jy nie ons verlowing goedkeur nie. Tog … is jy bekommerd oor die ring, dat jy daardie geld gaan verloor? Dan kan ons sommer nou na ’n prokureur gaan en ’n kontrak opstel vir ’n sekere bedrag wat ek jou elke maand moet terugbetaal totdat die bedrag gedek is. Ek rol nie in die geld nie en ek het nie so ’n groot bedrag om jou meteens terug te betaal nie. Maar met ’n kontrak van ’n prokureur behoort jy redelik veilig te wees.”
“Ek het gesê ons vergeet eers van die ring. Ek is nie bang dat ek daardie geld sal verloor nie. Dit is nie dáárvoor dat ek jou op Inhaca wil hê nie.”
“O! Waarvoor dan?”
Hy antwoord nie dadelik nie, en sy kyk hom fronsend aan. “Is dit miskien om Hein van sy verliefdheid te genees? Dink jy dat hy oor sy gevoel sal kom as ons mekaar elke dag sien en mekaar beter leer ken?”
“Miskien.”
“Of is daar ’n ander rede? Wat voer jy in die mou, meneer Albrecht?” vra sy reguit, haar stem vol agterdog.
Hy aarsel nog en dan gee hy toe.
“Jy is tog slimmer as wat ek vermoed het.”
“Dankie.”
“Plesier. Jy het gelyk. Daar is ’n spesifieke rede hoekom ek jou ’n maand lank op Inhaca wil hê … as Hein se verloofde. Daar is niks waaroor jy bekommerd hoef te wees nie. Al wat ek van jou verlang, is om bloot net vir daardie tyd op Inhaca te kom bly as Hein se verloofde. Jy sal nie veel las van hom ondervind nie. Hy voel nog te siek en swak ná die ongeluk. Wanneer die maand verby is, kan jy terugkeer Johannesburg toe soos jy verkies, of, as jy en Hein dan werklik nog kans sien om met hierdie klug voort te gaan, beloof ek om my nie meer in te meng nie.”
Hy leun weer vorentoe en kyk haar stip aan. “Ter vergoeding daarvoor, kan ons vergeet dat daar ooit ’n verloofring van derduisende rande in jou besit was.”
“Jy bedoel … jy is bereid om my te betaal om ’n maand lank te gaan vakansie hou?” stamel sy verbyster.
“As jy dit so wil stel, ja, dis waarop dit neerkom.”
“Maar hoekom? Dit moet ’n belangrike rede wees om soveel werd te wees.”
Hy huiwer weer effens voordat hy haar vas in die oë kyk.
“Goed. Ek sal heeltemal oop kaarte met jou speel. Sowat twee jaar gelede het Hein ’n vreeslike kalwerliefde vir ’n sekere vroumens ontwikkel. Die feit dat dié vrou heelwat ouer as hy was en boonop getroud, het haar net interessanter vir hom gemaak. Hierdie vrou en haar man kom nou weer ’n maand lank op Inhaca by my kuier. Hulle was die vorige eienaars van die hotel op die eiland. Ek is bang dat daar ’n herhaling gaan wees van die vorige keer. Die feit dat Hein so skielik aan jou verloof geraak het, laat my sterk twyfel aan sy danige liefde. Ek is byna honderd persent seker dat hy nie dolverlief op jou is nie. Die blitsverlowing laat my vermoed dat hy ook vir dieselfde ding bang is en dat hy hierdie vrou nog nie uit sy sisteem het nie.”
Sy oë kyk haar weer stip aan en sy stem klink afgemete: “Dis absoluut noodsaaklik dat jy ook op Inhaca moet wees wanneer Hilda en James Turner daar kuier.”
Estelle kyk hom fronsend aan.
“Ek moet eintlik daar wees om Hein teen ’n ander vrou te beskerm.”
“Eintlik meer teen homself. Ek weet dat jy nie juis veel sal kan doen as Hein weer ’n gek van hom wil maak nie. Maar tog sal net die blote feit dat sy verloofde onder dieselfde dak is, hom miskien daarvan weerhou om te belaglik op te tree. Daar sal jy natuurlik baie kan help. As jy sorg dat hy nie die geleentheid kry om alleen met Hilda te wees nie, kan dit baie help.”
“Hoe ’n soort mens is dié Hilda?”
“’n Uiters aantreklike vrou, dié soort vrou op wie mans maklik verlief raak en kop verloor. Hein is nog baie jonk en ’n mens kan hom seker nie te veel verkwalik dat hy deur haar beïndruk is nie. Die feit bly egter dat sy getroud is met my beste vriend. Daar mag nie weer ’n tweede keer wees nie, Crystelle.”
Sy stem klink baie beslis. “James is ná daardie tyd weens ’n ongeluk verlam. Daarom het hulle die hotel op Inhaca verkoop. Hy was die afgelope twee jaar by elke moontlike spesialis, maar blykbaar kan daar niks vir hom gedoen word nie. Hulle kom nou eers ’n maand lank by my kuier en sal dan maar gedurende hierdie tyd besluit wat hulle gaan doen. James het genoeg moeilikheid gehad en ek gaan nie toelaat dat my broer verder daartoe bydra nie, en dáárin moet jy my help.”
Estelle luister belangstellend. Maar die rol wat Chris verwag sy moet vertolk, staan haar glad nie aan nie. Sy wil geensins deel uitmaak van hierdie intrige nie en nog minder is sy bereid om haar vir so iets te laat gebruik. Sy gaan nie toelaat dat sy by sulke dinge ingesleep word nie. Vir geen fortuin nie.
“Hoekom stuur jy nie liewer vir Hein weg nie? Dit gaan jou minder kos om hom ’n maand lank te laat vakansie hou op ’n ander plek en dan sien hy die vrou glad nie,” stel sy voor, maar hy skud dadelik sy kop.
“Nee. Ek kan hom nie die res van sy lewe elke keer wanneer Hilda naby is met vakansie stuur nie. Dis nie die regte oplossing vir sy probleem nie. Hy moet Hilda uit sy gestel kry. Daarom dat ek aangedring het dat hulle nie in die hotel nie, maar by my in die huis moet kom bly vir die maand. Maar dit sal jóú werk wees om te sorg dat Hein nie die geleentheid kry om sy verliefdheid te voed nie. Wat natuurlik die beste sal wees, is dat Hein gedurende hierdie maand werklik op jou verlief raak, en ek wil jou vra om jou bes te doen om dit te bewerkstellig.”
Estelle se oë rek.
“Nee, werklik! Jy is die onverstaanbaarste man wat ek nog ooit ontmoet het! Jy het so ’n lae dunk van my en tog vra jy my om jou broer op my verlief te maak!”
’n Fyn glimlaggie raak aan sy mondhoeke en sy gesig ontspan ’n oomblik.
“Ek sien kans om van jou ontslae te raak as dit moet. Ek het jou ook reeds my woord gegee dat ek my nie sal inmeng as jy en Hein werklik ná die maand voel om met jul planne voort te gaan nie. Sal ons maar sê: jy is die minste van twee euwels!”
“Baie dankie, meneer Albrecht. Jy sê die vriendelikste dinge!”
Hy lag saggies.
“Ek is maar net heeltemal eerlik met jou sodat ons twee presies weet waar ons met mekaar staan.”
“Ek weet nie of ek jou eerlikheid so vreeslik waardeer nie. Ek is egter bevrees ek sal jou moet teleurstel. Ek sien nie kans vir wat jy van my verwag nie.”
Sy gesig versober onmiddellik, raak weer streng en ongenaakbaar.
“Ek dink nie jy durf weier nie. Ek dink nie jy kan dit bekostig nie.”
“Wat bedoel jy?” vra sy vinnig, onrustig.
“Ek weet natuurlik nie hoe suksesvol jou sjarmeskool in die stad is nie, maar ’n fortuintjie is baie geld vir elke werkende meisie.”
Estelle verbleek effens. Hy het natuurlik heeltemal gelyk. As sy maar die inkomste gehad het wat Crystelle uit die sjarmeskool maak, kon sy miskien nog ’n plan gemaak het. Maar die feit bly dat sy ’n blote salaristrekker is. Sy sal nêrens soveel geld te leen kry nie. Sy wend ’n desperate poging aan.
“Maar ek het jou mos gesê ek is bereid om jou maandeliks terug te betaal.”
Hy skud sy kop.
“Nee, Crystelle. Ek is jammer, maar ek is nie bereid om daardie aanbod te aanvaar nie. Óf jy is bereid om saam na Inhaca te gaan, en ek skeld jou dan die koste van die ring vry, óf jy bring onmiddellik die ring of die geld te voorskyn.”
“Jy is ’n afperser,” bars sy los, nou byna in trane. Sy besef dat hy haar geheel en al in ’n hoek het. Indien sy weier om sy voorstel van ’n vakansie op Inhaca te aanvaar, en hy moet ’n saak maak in verband met die ring wat weg is, sal alles op die lappe kom. Haar en Crystelle se bedrogspeletjie sal dadelik aan die lig kom, daar sal ’n vreeslike bohaai van gemaak word, veral as die pers van so ’n sappige nuusbrokkie moet hoor, en les bes, Dawid sal beslis hiervan te hore kom. Crystelle se huwelik sal moontlik daarmee heen wees. Die beste ding om te doen, is om met Crystelle kontak te maak, haar van die nuwe verwikkelinge te vertel en by haar die geld te kry. Maar veronderstel Dawid besef wat aangaan … Tog sal sy dit moet waag.
“Gee my asseblief ’n paar dae tyd om die geld in die hande te probeer kry.”
Maar weer skud hy sy kop.
“Jammer, Crystelle. As jy die geld van die ring wil terugbetaal, gaan ons nou dadelik na ’n prokureur en jy teken ’n bewys daarvoor. Ek eis onmiddellike terugbetaling.”
“Maar liewe hemel! Ek loop nie met duisende rande in my handsak rond nie! Geen mens doen dit nie.”
“Dit is jou probleem. As jy soveel het, kos dit net ’n oproep na jou bank om te reël vir die oorplasing van die geld.”
“Maar ek het nie soveel nie.” Sy kan die bewing nie langer uit haar stem hou nie. “Ek sal dit êrens moet probeer leen.”
Hy leun weer vorentoe.
“Moenie dom wees nie, Crystelle. Die alternatief wat ek jou gestel het, is soveel makliker. Hoekom sal jy jou in die skuld gaan dompel terwyl jy onmiddellik daarvan kan vergeet en nog boonop ’n maand lank heerlik kan gaan vakansie hou op ’n tropiese eiland sonder dat dit jou ’n sent kos? Gebruik tog jou verstand. Dit is mos nie iets vreesliks wat ek van jou vra nie. Daar is tog geen gevaar aan verbonde nie, en ek beloof jou dat jy onder geen verpligting sal wees nadat die maand verby is nie. Jy kan Hein ná die maand bloot sê dat jy nie langer met die verlowing wil voortgaan nie en terugkeer na Johannesburg. Of as jy dalk regtig hierdie keer op hom verlief raak en hy op jou, kan julle dadelik trou. Waarvoor is jy bang? Jy waag niks nie. Inteendeel. Ek betaal jou ’n klomp geld om vakansie te hou en jy het nog ’n goeie kans om vir jou ’n skatryk man los te slaan, soos jy mos eintlik wou, nie waar nie?”
Estelle swyg maar liewer. Sy besef dat hy heeltemal gelyk het. Hoekom is sy bang om sy aanbod te aanvaar? Sy sal daardeur ’n medemens ’n guns bewys. Dit was nog altyd vir haar ’n sonde wanneer ’n jong man in die kloue van ’n ouer en meer ervare vrou geval het. Die eerste keer laat sy haar toe om die saak uit Chris Albrecht se hoek te beskou en dis asof sy meer simpatiek teenoor hom begin voel. Hy moet in ’n ongemaklike posisie wees. Dit kan nie aangenaam wees om te sien dat sy jonger broer met sy beste vriend se vrou lol nie. Sy wend nog ’n laaste poging aan.
“Ek weet nie of die ding gaan uitwerk nie. Hein weet reeds dat ek die verlowing wil verbreek. Dit sal snaaks lyk as ek nou op Inhaca moet aankom en skielik weer vreeslik verlief op hom is. Hy sal sommer dadelik snuf in die neus kry.”
“Hein weet niks daarvan dat jy die verlowing wil verbreek nie. Hy het nooit jou brief ontvang nie.”
Sy kyk hom met groot oë aan.
“Maar dit kan nie wees nie! Ek het dan ’n brief teruggekry van hom waarin …”
“Ek het daardie brief geskryf.” Hy kyk kalm terug in haar geskokte oë. “Jou brief het op Inhaca aangekom toe Hein dodelik siek in die hospitaal gelê het. Ek wou jou laat weet het van die ongeluk, en moes die brief oopskeur om jou adres in die hande te kry. Ek het hom liewer niks van die brief vertel nie, want ten eerste was hy nog te swak, en ten tweede was ek nie geneë dat jy juis op hierdie kritieke tydstip die verlowing moet verbreek nie.”
“Maar dan … dan het jy mos van die begin af geweet dat ek die verlowing wil verbreek. Hoe kan jy my dan ’n fortuinsoeker noem?” vra sy verontwaardig.
“Ek het al tevore gehoor van ’n meisie wat so maklik verloof geraak het en dan raak die verloofring gerieflik weg elke keer dat sy besluit dit is nog nie die regte man nie. So het sy ’n hele fortuintjie ingesamel in die vorm van diamantringe totdat die polisie haar vasgetrap het.”
“En jy dink dit was my plan ook?”
“Nee, ek sê dit nie, maar jy moet toegee dat alles baie verdag lyk. As ek nie die dosie oopgemaak het nie, sou ek teruggekeer het na Inhaca met ’n leë ringdosie en eers dáár tot die ontdekking gekom het die ring is weg. Dit kon ook ek gewees het wat dit verloor het en dan het ek geen saak teen jou gehad nie. Maar nou is dit darem ’n heeltemal ander storie, nie waar nie?”
Estelle besef dat sy maar net sowel die stryd gewonne kan gee. Waar en wanneer daardie ring uit die dosie kon verdwyn het, kan sy nie dink nie. Op die vliegtuig was dit nog in haar besit. Die enigste moontlike tyd wat dit gesteel kon gewees het, was toe sy haar bagasie by die toonbank in die lughawegebou ontvang het. Sy onthou sy het haar handsak op die toonbank neergesit en daar was ’n samedromming van passasiers. Dis al tydjie dat haar handsak uit haar hande was. Sy sug. Wat maak dit ook saak wanneer en waar dit gesteel is? Die feit bly dat die duur ring weg is en dat nóg hierdie man nóg die hof sal glo dat sy dit nie doelbewus vir haar toegeëien het nie.
Haar oë ontmoet die potblou oë oor die tafeltjie tussen hulle. Dan, baie teësinnig maar magteloos, sê sy eindelik: “Goed. Ek kan niks anders doen nie, kan ek? Ek sal saam met jou na Inhaca gaan.”
’n Duidelike trek van verligting flits oor sy gesig. Dan staan hy op en buig formeel.
“Dankie, Crystelle. Ek is jammer dat ek jou so te sê moes dwing, maar die doel heilig die middele in hierdie geval. Ons het teen wil en dank bondgenote geword in hierdie saak. Ek hoop net nie ons antagonisme teenoor mekaar gaan dit verongeluk nie.”
Hy glimlag liggies in haar oë af. “Nie dat dit soveel saak sal maak dat jy my haatlik vind nie. Dis op Hein wat jy moet konsentreer, nie op my nie.”
“Dank die gode dáárvoor,” antwoord sy spontaan en gevoelvol. “Ek sal liewer probeer om ’n slang op my verlief te laat raak.”
Skielik klink sy helder lag op.
“Jy weet, ek dink daar lê nogal ’n interessante maand vir ons voor!”