Читать книгу Paspoort na gevaar - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

Dis teen die einde van die jaar 1704.

Daar heers groot vrolikheid in die wêreldstad Parys, want dis Oujaarsaand en die voggies verwissel vinnig van vat na beker, van beker na mond in die berugte wynkroeë van hierdie moderne klein Gomorra van die agttiende eeu.

Die gepeupel van Frankryk, alias die gewone mense van die burgerstand, skuif vanaand al hul griewe teenoor die aristokrasie opsy, vergeet die harde eelte op die hande, rûe wat pyn van kromstaan, die liggame wat kla van ooreising. Vanaand hou hulle jolyt, want die jaar 1705 staan voor die deur en wie weet of hulle nog daar sal wees wanneer hierdie nuwe jaar ook by die plek sal kom waar die ou jaar vanaand staan? Dus – gooi die rooiblink sap van die sonryke Rynvallei tot by die rand, gryp die naaste mam’selle wat lokkend lag met kurwes wat tartend amper ontbloot is en skreeu: “Lank lewe die vaderland!”

Maar ook die adel van Frankryk vier fees.

Reeds van skemeraand af het blinkvet perde snorkend en kopspelend voor die koetse deur die strate getrippel en in die pad na die kasteel afgedraai. Die besige strate met halfdronk, plesierige menigtes stel vanaand die behendigheid van die koetsiers met die teuels op die proef en telkens moet hulle lelik op die beste Frans swets wanneer ’n besopene reg voor die perde instap. Gelukkig vir hulle is die geraas so oorverdowend in die strate dat die vername en fyn opgevoede m’sieurs en mam’selles binne-in die koetse nie kan hoor watter ryk woordeskat hul koetsiers wel het nie!

Op ’n sypaadjie, met ’n glimlag om sy lippe, staan René la Porte. Hy is nie soos die adel geklee nie, maar wel heelwat beter as die meeste jolytmakers om hom. Hy geniet die aand. Sy blik flits heen en weer oor die mense om hom en telkens verdiep die glimlag tot ’n geamuseerde lag wanneer iets snaaks sy aandag trek.

Dit is ’n ou gewoonte van hom om op Oujaarsaand ’n rukkie in Parys se strate rond te stap en hom te verlustig in die gewone mense se vreugde. Hoewel hy nooit direk deelneem aan die dansery en soenery nie, verskaf net die aanskoue van dié ongebonde vreugde hom intense genot en bevrediging, voordat hy later teësinnig terugkeer na sy koets wat veilig uit die gedrang in ’n donker straatjie getrek is.

Ook op hierdie Oujaarsaand van 1704 hou hy by sy gewoonte en terwyl hy ontspanne teen die uithangbord van ’n berugte taverne geleun staan, mis sy blou oë vol pretliggies niks van wat om hom aangaan nie.

’n Koets is besig om al worstelende deur die dansende skare in die straat ’n pad te probeer baan, en die man op die sypaadjie luister heel verras na die vloeiende Franse vloekwoorde wat in rympies uit die koetsier se mond rol. Hy wonder diep geamuseer of die aristokrasie van Parys ooit sal kan raai dat die ongure matrose ’n paar lesse by hul koetsiers kan leer!

Toe die koets regoor die taverne kom, word die swaaideure skielik oopgestamp en ’n gedaante, duidelik met ’n skoen teen sy agterstewe aangehelp, vlieg soos ’n koeël na buite reg voor die protesterende en reeds senuweeagtige perde in.

Soos blits kom René la Porte in beweging en gryp die ou man voor die moorddadige hoewe weg. Die koetsier swets terwyl hy sy uiterste bes doen om die perde in toom te hou en te kalmeer.

René staan van die grond af op, maar hy gee nie aandag aan sy klere wat vol stof is nie. Hy stap reg op die swetsende koetsier af en nou blink sy vreemde, ligblou oë om ’n ander rede.

“Jou imbesiel! Jy kan nie vanaand só vinnig ry nie! Hierdie ou man was amper dood!”

’n Koetsvenster word hard oopgemaak en ’n pikante gesiggie kyk na buite. In die flou lig wat by die taverne se deur uitstraal, kan hy sien dat haar oë ook blink.

“Wat soek hy op straat in so ’n toestand? Hy verdien om doodgery te word!”

Stadig, tydsaam, stap René nader totdat hy regoor die venster is en kyk stip en met ’n strak gesig in die verontwaardigde oë af.

“Ek kon dit gedink het! Mam’selle Nicolette de Lille!” Hy buig spottend formeel, en haar oë blits weer vererg.

“Ek het nie tyd om met jou te korswil nie. Ek is klaar laat. Ry, Jacques!” beveel sy die koetsier, maar die hand wat opgehou word, bring mee dat die koetsier weer die leisels laat sak.

“Mam’selle, het u geweet dat u wonderlike Jacques ’n woordeskat het wat die gehardste matroos van jaloesie sal laat krul? Maar ek sal u nie langer ophou nie. Au revoir, mam’selle!”

Hy staan terug en hierdie keer laat die koetsier nie op hom wag nie. Toe die koets uit sig verdwyn, draai René om, sit sy arm om die geboë skouers en lei hom weer die taverne in. In die lig van die lanterns lyk hy nou onvanpas, maar sonder om ag te slaan op die verbaasde en nuuskierige blikke, lei hy sy beskermling tot by die toonbank.

“Dit is vir hom,” en hy wys met sy duim na die ou man langs hom. “Gee vir hom totdat hy genoeg het en dan sorg jy dat hy ’n bed kry waarop hy kan slaap tot môreoggend.” Hy draai om en staar strak na die aanwesiges. “En met die man wat weer aan hom raak, reken ek persoonlik mee af!” Dan gooi hy weer ’n paar note neer. “Die volgende ronde is myne. Voorspoedige Nuwejaar aan julle almal.”

Onder gejuig storm almal na die toonbank toe. René klop die ou man goedig op die skouer.

“Drink jou dronk, oubaas, en geniet die paar oomblikke wat jy kan. Goeienag.”

Die ou oë, reeds dof van ouderdom, swaarkry en alkohol, sien hoe die fors gestalte by die swaaideure uitstap. Dan draai hy terug na die toonbank en trek met bewende hande die groot beker nader – en tussen die bierspatsels op sy gesig blink daar meteens ’n traan. “Geniet die paar oomblikke …” refrein die onverwagte wens van welwillendheid deur sy gedagtes.

Die hofmeester het lankal reeds sy pos verlaat waar hy die aankomelinge luid aangekondig het aan die bopunt van die marmertrap wat na die balsaal van die koninklike paleis lei, toe ’n man tydsaam, amper met lui bewegings, in die middel van die boonste trap verskyn en tot stilstand kom.

Nicolette de Lille gewaar hom eerste waar hy met ’n siniese glimlag op die dansende vernames staan en afkyk. Sy swaai haar kop vinnig weg, vas van plan om hom te ignoreer, maar sy voel weer die ergernis in haar opstoot. Sy voel sommer vererg teenoor haarself ook. Hoekom sal sy toelaat dat die onbenullige gebeurtenissie van vroeër die aand haar ontstel?

Maar dit is net weer die soort uitwerking wat René la Porte nog altyd op haar gehad het. Sy kan nie onthou van een keer dat hulle mekaar raakgeloop het dat sy haar nie bloedig vererg het vir die man nie. Wat Sy Koninklike Hoogheid met gade en al aan hom het, gaan haar verstand te bowe. In alle regverdigheid moet sy egter ook erken dat dit nie net die koningshuis is wat hierdie jong man se geselskap blykbaar geniet nie. Nee, René la Porte is ’n gewilde man onder al die lede van die aristokrasie, en veral die meisies dra hom op die hande. Gmf! Kyk nou byvoorbeeld vanaand weer vir Marguerita …

Toe die koets eindelik weggerol het van die taverne af, was Nicolette billik ontstoke, maar Marguerita, haar vriendin wat by haar in die koets was, was byna flou van bewondering.

“Het jy gesien hoe blitsig hy die ou man weggeraap het?” wou sy weet. Sy het nie ’n antwoord verwag nie en dadelik voortgegaan: “Hy is darem ’n deksels aantreklike man met daardie vreemde ligblou oë en die askleurige hare. Die ander mans aan die hof lyk altyd soos witgeverfde poppe teen hom.”

“Ag, liewe deug, Marguerita! Daar is geen vergelyking tussen die fyn opgevoede mans aan die Franse hof en hierdie … hierdie bullebak nie! Ek kan nie verstaan wat jy en die ander aan hierdie onopgevoede, onverfynde buffel sien nie! En die manier wat die man het om altyd so meerderwaardig op ons aristokrasie neer te kyk, so asof hy gedurig smaal oor ons!”

“Jy verbeel jou dit, Nicolette. Hy is dan self een van ons!”

“Maar jy sal dit nooit sê nie!” ’n Verfynde snuifie klink op. “Kyk nou weer vanaand. Wat soek hy tussen die gepeupel? Dis nie sy plek nie. Geen welopgevoede mens sal dit vanaand in Parys se strate waag nie, want die skuim het die stad oorgeneem. Maar hy … hy loop hier tussen hulle rond! Dit sal my glad nie verbaas as hy nog saam met hulle in die tavernes drink nie! En sy kleredrag! Hy het nie die geringste gevoel vir wat reg is nie, en dis duidelik dat hy van modes niks af weet nie. ’n Man van sy stand met sulke klere op ’n aand soos vanaand! Hy is nog vermetel genoeg om met daardie klere vanaand paleis toe te kom!”

“Ja, dit sal my glad nie verbaas nie!” Marguerita het hartlik hier langs haar gelag. “René la Porte skep sy eie modes. Hy steur hom nie aan wat die res van die wêreld doen nie. Jy kan sê wat jy wil, Nicolette, maar hy is ’n man. Daardie klomp aan die hof lyk almal eenders, presies eenders met hul pruike en kantmansjette, sykouse en lang baadjies. René troon altyd uit in elke geselskap waar hy kom.”

“Dit kan jy weer sê! Hy troon uit omdat hy so afsteek, ja!”

Terwyl sy die pas van die menuet hou, kyk sy weer vinnig terug oor haar skouer. Hy hét sowaar in daardie selfde klere die koning se Oujaarsdagbal kom bywoon! Hy het hom nie eens verwerdig om ander klere te gaan aantrek nie. Waarskynlik is hy nog vol stof ook en het hy hom nie eens die moeite getroos om dit af te slaan nie! En kyk hoe staan hy daar – met net so ’n effense smaling asof hy die hele klomp, koningspaar inkluis, diep in sy hart verag!

Skielik ontmoet die ligblou oë hare en die glimlag verdiep. Tot haar verdere ergernis maak hy weer sy spottende buiginkie. Sy ruk haar kop vinnig weg, maar uit die hoek van haar oog sien sy hoe die koningsgade vinnig nader stap en hoe hy galant oor haar hand buig. Sy sien hoe sy sy aangebode arm neem. Hulle sluit hulle by die koning aan en Sy Hoogheid klop die jong man joviaal op die skouer, duidelik verheug om hom te sien. Nicolette sweer hy het nie eens die goeie maniere om verskoning te vra omdat hy so laat is nie, en blykbaar hinder dit niemand dat sy kleredrag beslis nie so weelderig soos die res van die mans s’n is nie. Baie beslis doen sy beskeie kleredrag geen afbreuk aan sy gewildheid onder die mooi, jong Franse mam’selles nie.

Nicolette bepaal haar aandag doelbewus by die gepoeierde en geparfumeerde jong man aan haar sy, maar tog is sy die hele aand bewus van daardie enkele askleurige kop wat bo die bepruikte hoofde in die groot balsaal uitstaan.

Dis nadat 1705 met klokkespel ingelui is en almal mekaar reeds ’n voorspoedige en gelukkige nuwe jaar toegewens het, dat hy meteens voor haar staan en sy hand uithou.

“Mag ek?”

Sy lê haar hand teësinnig in syne. Sy sou verkies het om glad nie met hom te dans nie, want haar fyn neusie het haar reeds ingelig. Hy het nie net nog dieselfde klere aan nie, maar ruik ook soos ’n taverne! Sy sweer hy het eers saam met die hoipolloi gedrink in een van hul wynkroeë voordat hy hierheen gekom het!

Sy wil egter nie aandag trek nie, want sy sien Marguerita hou haar met ondeunde oë dop en die ander meisies met jaloerse blikke, dus beweeg sy maar ritmies saam op die gavottepas en sorg net dat sy oral kyk behalwe na haar dansmaat. Tog is sy bewus daarvan dat sy ligblou blik onafgebroke op haar rus en dit ontstig haar so dat sy meteens uit pas is. Skielik is sy hand om haar pols en hoor sy hom sê: “Jy moet seker moeg wees. Ek het opgemerk dat jy tot dusver nog elke dans op die baan was. Kom ons stap ’n bietjie na buite.”

Sy wil eers terugrem, maar bewus van die baie blikke wat op hulle rus, stap sy so stadig en ongeërg as wat haar ontevredenheid dit toelaat saam met hom uit by die groot deure wat lei na die roostuin van die paleis.

Hulle is egter skaars buite of sy trek haar hand terug van sy arm en gee so ver moontlik van hom af pad.

Hy kyk haar ’n rukkie stilswyend aan en sê dan: “Jy lyk nie juis vriendelik nie, mam’selle.”

Sy kyk koel terug. “En jy ruik ook nie juis aangenaam nie, m’sieur!”

“Wil jy glo!” Hy snuif-snuif aan sy baadjiemou en lag dan saggies, geamuseer. “Ek het nooit daaraan gedink nie, maar natuurlik klou ’n taverne se reuk soos ’n neet aan jou. Pardon, mam’selle, maar ek kon nie agterkom dat die ander dames juis die reuk onaangenaam gevind het nie, inteendeel!”

“Maar ek is nie een van die ander dames nie, m’sieur. Ek is Nicolette de Lille.” Sy kyk hom uit die hoogte aan.

“Juis, ma chérie! Die allerenigste Nicolette de Lille!”

Die wantroue lê vlak in haar oë. As sy net altyd weet wanneer die man spot en wanneer hy ernstig is!

“En omdat jy Nicolette de Lille is, vra ek jou om met my te trou.”

Haar kop ruk omhoog en ’n oomblik is sy te verstom om iets daarop te sê. Hy staan nog op dieselfde plek, dieselfde geamuseerde glimlaggie om sy lippe. “Jou grappie getuig van swak smaak en swak opvoeding, m’sieur. Sal ons ingaan?” Haar oë begin weer flikker. Sy wil dadelik terugdraai, maar ’n hand op haar arm hou haar terug.

“En nou is jy weer kwaad, ma chérie? Maar jy het jouself beledig, nie ek nie. Jy is die een wat gesê het dis swak smaak van my om jou te vra om met my te trou.”

“Jy weet goed dit is nie wat ek bedoel het nie.” Sy ruk haar arm onder sy aanraking weg. “Die regte prosedure is …”

Hy gooi sy arms in die lug en vir die eerste keer het die glimlag van sy lippe verdwyn. “Ja, ek weet! Die regte prosedure, volgens julle klomp siek snobs, is dat ek na jou voog, die koning, moet gaan en eers toestemming moet kry om jou die hof te maak, en nadat ’n respektabele tyd verbygegaan het, kan ek hom weer nader om jou hand. Intussen mag ek jou net met my oë verslind! O ja, ek weet goed genoeg wat die regte prosedure is! Maar vir my was dit nog altyd die simpelste van al jul belaglike maniertjies. Wat de duiwel het die koning of enige ander mens op aarde te doen met hoe ék voel en met wie ék wil trou?”

Haar geskokte gehyg na asem is duidelik hoorbaar en dit spoor hom nog verder aan. “Ek wil vir jóú snags in my arms hou, nie daardie vaatjie van ’n koning nie! En behoede my dat ek net na jou sal kyk terwyl ek uitbrand van verlange om jou in my arms te neem en myne te maak. Ek weier! Wat meer is, ek wil jou red uit hierdie vergulde kou van prosedures en moenies waarin julle adel vasgevang is sodat julle nie eens die vaagste benul het van wat dit werklik beteken om te lewe, voluit te lewe met alles in jou nie. Nicolette, trou met my, môre, en gaan saam met my hier weg. Ek belowe jou jy sal nooit spyt wees nie. Jy sal die eerste keer in jou lewe werklik weet wat dit is om te lewe!” Sy hande rus dringend op haar kaal skouers en vergeefs probeer sy hierdie keer die warmte van sy vingerpunte ontwyk.

“Jy is van jou sinne beroof! Jy is dronk!”

“Ja, ek is dronk!” sê hy skor en ruk haar meteens teen hom vas. “Ek is dronk van verlange na jou … ja, na jou, Nicolette de Lille, met jou optrekneusie en jou verspotte preutse maniertjies en jou hooghartige ogies en jou klein, fyn lyfie met die sagte rondings wat my al tot raserny wil dryf! As ’n mens dan werklik kan dronk word van verlange en liefde, dan is ek vanaand die mees besope man in Parys! En ek gee nie om dat jy en hierdie spul opgetooide poppe wat vanaand hier is dit weet nie! Ek begeer jou as vrou, mý vrou! Kom saam met my, Nicolette, nou, hierdie oomblik!”

Vergeefs ruk sy om van die staalgreep af weg te kom, kyk sy met woede en tog ook met vrees op in die gesig wat sy nog net altyd met ’n siniese glimlag gesien het, nog nooit so strak en ernstig soos nou nie.

“Jy moet mal wees om te dink dat ek dit ’n enkele oomblik sal oorweeg! Ek met jóú trou, met jou wat nie eens die grondbeginsels van goeie maniere ken nie! Gaan soek vir jou ’n vrou in die strate van Parys, daar tussen die hoipolloi waar jy so tuis is! Dáár sal jy kry wat jy soek!”

“Jy verstaan my verkeerd, mam’selle. Ek soek nie die genot van een nag nie. Ek vra jou om met my te trou, om my vrou te word. Nie al die nagte wat nog voorlê in my lewe sal genoeg wees vir al die liefde wat ek op jou wil uitstort nie!”

“Liefde! Jy weet nie wat die woord beteken nie! Ek stel nie belang in die liefde wat jy my bied nie!”

Meteens val sy hande weg van haar af, trek hy sy asem stadig, moeisaam in asof dit vir hom byna onmoontlik is om sy emosies te beteuel.

“So? In watter soort liefde stel jy dan belang? In die louwarm liefkosings van die wit uitgebleikte hande van die verwyfde spul wat vanaand hier is en jou altyd omring? Daardie armsalige goed wat hulself mans noem en stink na poeier en parfuum, wie se bloedstroom verwater is deur gemaksug en rykdom wat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie! Is dit werklik wat jy van die lewe vra, Nicolette? Vra jy dit van ’n huwelik – om jou huwelikspligte stiptelik na te kom sonder om self die geringste greintjie emosie of hartstog te ondervind, ’n blote plig wat jy nakom en dis al? Is dit die soort huwelik wat jy sal oorweeg?”

Sy kyk hom verslae aan. Geen man met ’n tikkie ordentlikheid in hom sal ooit droom om so te praat met ’n fyn opgevoede mademoiselle nie, en nog minder so reguit en op die man af soos wat René la Porte dit so pas gedoen het.

So styf en waardig as wat haar ontsteltenis haar toelaat, laat sy hoor: “Wat ek van my huwelik verlang, is mý saak. Maar een ding is baie beslis, m’sieur. Jý sal my dit nooit kan gee nie. Verskoon my, asseblief!”

Hy roep haar ’n tweede keer tot stilstand, en bereik haar voordat sy in die ligkring van die groot deure verskyn.

“Jy, Nicolette de Lille, weet self nie wat jy verlang nie. Maar voordat ek my veragtelike self vir altyd uit jou teenwoordigheid verwyder, laat my toe om jou ’n laaste guns te bewys – laat my toe om jou ’n maatstaf te gee waaraan jy jou toekomstige man kan meet.”

Voordat sy nog kan dink wat hy daarmee bedoel, het hy haar teruggeswaai na hom en word sy weer eens teen hom vasgetrek. René la Porte betoon geen genade nie. Roekeloos, meedoënloos dwing hy haar lippe van mekaar en soen haar met al die woede en geskende trots in hom, met ’n intensiteit wat sy nog nooit geken het nie, wat sy nie eens geweet het moontlik is nie! Toe hy haar eindelik laat gaan, is haar lippe gekneus.

“Ek sal jou … ek sal jou in ysters laat slaan, jou barbaar!” snik sy die woorde byna uit.

Die sinies smalende glimlag is weer terug om sy mond, en dis die bekende, spottende buiginkie wat hy maak.

“Tot u diens, mam’selle. Watter gevolge dit ook al mag hê, dit was dit werd, elke sekonde daarvan! Ek sal dit nooit vergeet nie – en jy ook nie!”

Hy stap by die groot deure in en sy sien deur die verligte opening hoe hy oor die koningin se hand buig, en die koning hom ’n stewige handdruk gee. Toe sy in die deur verskyn, is hy reeds halfpad met die marmertrap op en sonder ’n enkele terugblik, regop en fier soos sy hom die afgelope maande ken, verdwyn hy by die hoofingang uit.

Sy stap direk op die koningspaar af. Hulle moet hom laat vang! Hy het haar verneder tot in die stof! Hy durf nie daarmee wegkom nie! Maar toe sy by die koningin tot stilstand kom, vee dié ’n traan uit die hoek van haar oog met ’n fyn kantsakdoekie weg.

“Ek is darem so jammer dat ons hom gaan verloor. Hy was so ’n gawe man om hier te hê, en natuurlik die grootste aantrekkingskrag vir die teenoorgestelde geslag op my partytjies! O, daardie René is beslis ’n hartebreker! Ek wonder hoeveel jong meisies hul kussings vannag oor hom gaan deurnat huil!”

“Tog het ons almal verwag dat hierdie uur die een of ander dag sou aanbreek, skat.” Die koning lag en sit sy arm om sy gade. “René is ’n waaghals. Frankryk het te mak vir hom geword. Ek het lankal gesien dat hy rusteloos begin word. Dit kon nie meer lank duur voordat hy sou kom groet nie. Nou ja, hy is ’n jong man, ongebonde en vry. Die wêreld lê vir hom oop. Ek sou moontlik dieselfde gedoen het as ek vanaand in sy skoene gestaan het. Om die waarheid te sê, ek beny hom sy vryheid. Dit moet wonderlik wees …”

Daar is ’n weemoed, ’n verlange in die koning van Frankryk se stem wat Nicolette nie ontgaan nie, en sy kyk hom peinsend aan. Ja, dis seker nie werklik so wonderlik om ’n koning te wees nie, besef sy meteens.

“Ek sal hom ook mis,” gaan die koning voort. “Hy was altyd soos ’n vars briesie aan die hof, die enigste man wat ek werklik ten volle met my lewe sou vertrou en wat ek ten volle as man gerespekteer het. Frankryk ly ’n groot skade vanaand, en gelukkig is die land wat hom aan sy boesem as seun gaan verwelkom. Kom nou, my vrou. Vee die trane af en laat ons vrolik wees met ons gaste. René weet ons beste wense vaar saam met hom.”

Die voorste egpaar van die land plak hul glimlaggies terug op hul gesigte en begin weer tussen hul gaste rondbeweeg. Nicolette draai stil om. Sy het tog geweet, nog voordat die koning gepraat het, dat sy nie sou vertel wat daar buite gebeur het nie. Nog ’n oorwinning vir René la Porte, dink sy wrang. Hy het dit ook geweet!

Al die smaak is meteens uit die partytjie weg en sy gaan soek haar vriendin op.

“Ek gaan nou huis toe, Marguerita. As jy nog wil bly …”

“Nee, ek gaan saam met jou terug. Ek voel ook sommer nou teë vir hierdie spul.”

In die koets is dit eers stil tussen hulle. Baie verstandig soek die koetsier hierdie keer ’n stiller pad uit om die twee jong mademoiselles terug te neem, en albei jong meisies is so verdiep in hul eie gedagtes in hierdie vroeë uur van die eerste dag van die nuwe jaar dat hulle nie die eensame gestalte op die oewer van die Seine raaksien toe hulle verbykom nie.

Hy herken die koets wat verbyrammel, en net ’n oomblik speel hy met die gedagte om dit voor te keer en eenvoudig te neem wat hy wil hê. Dan draai hy om en stap na waar sy eie koets onder die donker bome verskuil staan. Die siniese glimlag is nou skerper in sy mondhoeke afgeteken. Nicolette de Lille sal verbaas wees oor wat ’n galante heer hy werklik is … anders sou sy nie vanoggend haar tuiste veilig bereik het nie! Met ’n kortaf bevel aan sy koetsier spring hy in die koets. Daar lê ’n lang pad voor. Hy durf nie langer versuim nie. Hy moet die skip haal wat oor ’n dag uit Marseilles sal vertrek.

“Ek was so verslae vanaand toe ek hoor dat René weggaan dat ek daar en dan alle lus vir partytjies verloor het. Ek kon sien daar was van die ander mam’selles wat ook maar bra bekaf oor die nuus gelyk het!”

Nicolette word uit haar gedagtes geruk en sy laat ontevrede hoor: “Werklik, Marguerita, jy is al byna net so erg soos René la Porte! Jou taal, asseblief! Soos wat jy darem onder daardie man se invloed is, sal dit beter vir jou gewees het om vanaand saam met hom te vertrek.”

“O, ek kan nie aan iets dink wat ek meer begeer nie,” lag haar vriendin. “As hy my net gevra het, het ek onmiddellik saamgegaan. Ek sou my nie eens die tyd gegun het om te gaan inpak nie, glo my!”

“Marguerita!” Nicolette kyk haar net geskok aan.

“Laat ek jou vertel, my liewe vriendin, dis nie net ek wat daardie geleentheid sou aangegryp het nie.” Marguerita kyk haar vriendin reguit aan. “Driekwart van die jong meisies vanaand op die partytjie sou hulle nie twee keer laat nooi het nie, daarvan kan ek jou verseker!”

“Nou werklik!” Nicolette se stem is so afkeurend dat dit haar vriendin weer laat skaterlag. “Ek moes hom gesê het, dan het hy my nie lastig geval nie.”

“O!” Marguerita is die ene belangstelling en Nicolette kan gerus haar tong afbyt. “O, hoe wonderlik om deur daardie man lastig geval te word! O, jou gelukkige skepsel! Wat het alles gebeur?”

“Marguerita! Daar het niks gebéúr nie, soos jy so vreeslik geheimsinnig daarna verwys. Hy … wel, hy het my gevra om saam met hom te gaan … dis al.”

“Nicolette! En natuurlik sê jy toe dadelik ja! Hy wag nou seker vir jou by die huis? O, Nicolette, jou gelukkige vroumens!”

“Marguerita! Bedaar, asseblief! Natuurlik sê ek mos nee, beslis nee! Dink jy ek is mal?”

“Ja. Ek dink jy is mal, stapelgek om ’n man soos René la Porte deur jou vingers te laat glip! Nee, jy is beslis mal!” verklaar haar vriendin onomwonde en Nicolette kyk verslae voor haar uit. Sy luister stilswyend terwyl haar vriendin voorttier: “Genugtig, hier sal elke meisie in Parys haar oogtand gee om net ’n glimlag van hom te ontlok, en jy weier om saam met hom weg te gaan! Is jy reg in jou kop, Nicolette?”

“Waarheen gaan hy?” vra sy om die woordevloed te stuit.

“Hy is op pad na die nedersetting aan die Kaap die Goeie Hoop. O, ek sal wat wil gee om daarheen te gaan,” sê Marguerita vol verlange. “Daar word sulke interessante stories oor daardie plek vertel.”

Nicolette kyk haar skuins aan, laat dan baie driftig en ontsteld hoor: “Dis ’n wilde, woeste wêreld wat nie die grondbeginsels van beskawing ken nie, ’n land vol woeste barbare.” Sy snuif weer fyn. ’n Plek waar René la Porte beslis sal tuis hoort! En hy het die vermetelheid gehad om te dink dat sy hom dáárheen sal vergesel!

“Dit is nie so nie!” verweer Marguerita heftig. “Hulle sê die HOIK het ’n oulike nedersetting daar en dat die mense ’n baie hoë peil van beskawing handhaaf. Dis ’n florerende, vooruitstrewende gemeenskap. Onthou, baie van die Hugenote het destyds daarheen gevlug en, hoewel hulle aan die begin swaar gekry het, wil nie een van hulle weer terugkom Frankryk toe nie. Dis ’n jong land vol wonderlike beloftes en uitdagings, en dit verbaas my geensins dat ’n man soos René begeer om sy gewig daar te gaan ingooi nie.”

“Ek dink dis alles net stories om mense daarheen te lok,” laat Nicolette afsydig hoor. “As dit dan so wonderlik daar aan die suidpunt is, hoekom gaan méér mense nie daarheen nie – mense soos Jean Prieur en Gabriel van Blois?”

“Wat? Daardie uitgedroogde goed? Parbleu, Nicolette! Daardie nuwe land is nie ’n plek vir sagte, wit handjies en gepoeierde pruike nie!”

Nicolette is dankbaar dat die huis in sig kom en dat die gesprek noodwendig beëindig moet word, want Marguerita klink presies soos René la Porte met haar vergelykings! Die ergste van alles is dat sy in haar hart saamstem! Dié twee here, hoewel van die rykste en gewildste vrygeselle in Frankryk, is baie sag, hul hande baie fyn en wit. Of, soos René la Porte gesê het, hulle is verwyf. Sy sterf liewer voordat sy met een van hulle trou!

Daar is ’n ligte paniek in haar toe sy eindelik uitgetrek is en voor haar venster staan en uitkyk oor die bosryke oewer van die Seine. Maar met wie gaan sy dan eendag trou? wonder sy. Al die ander mans aan die Franse hof wat sy ken, lyk min of meer so! As hulle nie soos uitgedroogde goed lyk nie, soos Marguerita sê, dril hulle van die vet, van die gemaksugtige lewe en rykdom, soos wat René dit beskryf het! Met ’n skok besef Nicolette de Lille in hierdie vroeë ure van die eerste dag van die jaar 1705 dat sy nie een man ken met wie sy wil trou nie.

’n Paar uur later, op die dek van ’n vaarder wat gereed is om te vertrek, staar René la Porte met somber oë na die doenigheid op die kaai van Marseilles.

Maar sy oë neem nie regtig die kleurryke prentjie voor hom in nie. Sy innerlike oog is gerig op ’n fyn gesiggie vol verontwaardiging. Sy mond trek wrang, en dis of die lyne wat inkeep, ’n permanente plek in sy mondhoek inkerf.

Sy was geskok en beledig omdat hy haar durf vra het om met hom te trou! Die eerste keer in die agt en twintig jaar van sy bestaan – ’n ryp ouderdom vir ’n jong man om in hierdie vroeë jare van die agttiende eeu nog ongetroud te wees – het hy ’n vrou openlik vertel dat hy haar liefhet en haar gevra om met hom te trou, en sy het sy aanbod smalend van die hand gewys!

Hy lag bitter. Hy is nie verwaand nie, maar hy wéét dat hy daardie aand enige keuse onder die ander jong mam’selles sou kon doen en met oop arms ontvang sou word. Maar hy moes juis Nicolette de Lille uitkies!

Ongemerk begin die seile bokant hom in die wind bol en die kaai vervaag. Die vaderland het voor sy oog verdwyn … maar ’n fyn gesiggie met groen oë neem hy saam met hom na die Kaap die Goeie Hoop … die beeld van ’n Franse mam’selle met veragting in haar oë.

Eendag sal ons mekaar weer ontmoet, lê hy ’n stille eed voor die golwe van die Middellandse See af. Eendag sal ons mekaar weer ontmoet, Nicolette de Lille!

Paspoort na gevaar

Подняться наверх