Читать книгу Paspoort na gevaar - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

In die maande wat volg en namate die jaar 1705 ouer word, gewaar Nicolette de Lille ’n onrustigheid en rusteloosheid in haar wat sy nie ken nie. Meteens is dit asof sy met niks meer tevrede is nie, asof die lewe tot dusver, die enigste soort lewenswyse wat sy sedert haar geboortedag ken, haar nie meer bevredig nie.

Hoewel sy daarteen stry en dit nie eens aan haarself wil erken nie, begin sy haar lewe en die mense om haar deur die oë van René la Porte sien, en wat sy gewaar, ontstel haar en wek selfs ’n tikkie veragting in haar. Sy is onbewus daarvan dat sy soms self ook ’n siniese blik in haar oë het wanneer sy onder haar aristokratiese vriende beweeg.

Sy kom selfs mettertyd tot die gevolgtrekking dat die gepoeierde en geparfumeerde jong mans aan die Franse hof haar afstoot, dat sy gril wanneer die sagte, wit hande aan haar raak. Hul aanstellerige en pynlik presiese maniertjies begin haar skielik irriteer.

René la Porte het gepraat van ’n vergulde kou – en hy was in die kol, dit besef sy ses maande later. Die aristokrasie van Frankryk is opgesluit in ’n vergulde kou waar net ’n beperkte ruimtetjie toegelaat word om jou vlerkies te toets voordat jy teen die sporte van die baie moenies vasvlieg. Die partytjies aan die Franse hof begin haar tot sterwens toe verveel – almal so presies dieselfde, dieselfde mense, met dieselfde buiginkies en wit pruike en fyn, geslypte glasies waaruit proe-proe gedrink word! O, sy kan later gerus skreeu wanneer daar weer ’n uitnodiging kom!

En dan die baie huweliksaanbiedinge wat sy sommer summier verwerp! Sy tel nie eens meer hoeveel sy elke maand kry nie. Die afgelope weke gee sy nie eens meer die deftige here kans om klaar te praat nie. Sy val hulle sommer kortaf en beslis in die rede sonder om ’n ligstraaltjie van hoop by die teleurgestelde jong mans te laat. Daar het byna nie meer een hubare jong man van haar stand oorgebly wat nog nie die trekpas gekry het nie.

“Met wie wil Nicolette de Lille dan eendag trou?” is die vraag op al die belangstellendes se lippe. “Sy wag seker vir ’n koning of ten minste ’n prins,” smaal haar vriendinne aan die Franse hof.

Dis nie net haar vriende en die intieme kring waarin sy beweeg wat haar rusteloosheid agterkom nie. Ook haar voog, die koning, merk dit op. Toe sy gade hom vertel hoe Nicolette elke huweliksaanbod summier verwerp, besluit hy dit het tyd geword dat hy sy gesag as voog moet laat geld. Sedert Nicolette se ouers dood is, het hy hierdie jong protégée van hom toegelaat om haar gang te gaan, maar Nicolette het nou reeds die ryp ouderdom van twintig bereik. Dis tyd dat sy gevestig raak en trou.

Op ’n dag kom daar dus ’n brief, met die koninklike seël daarop, by Nicolette aan waarin sy versoek word om haar by Sy Koninklike Majesteit aan te meld.

Soos altyd is die ontvangs vriendelik en gul, maar nadat die geslypte wynglasies leeg is, laat haar voog haar nie verder in die duister oor die werklike doel van hierdie uitnodiging nie.

“Nicolette, jy was reeds twintig. Dit het tyd geword dat jy trou. Ek sal dit waardeer as jy ’n keuse onder die jong mans doen en my die naam laat kry van die gelukkige m’sieur met wie ek kan onderhandel.” Hy glimlag vriendelik. “Dit sal moontlik ’n moeilike besluit wees, want, soos ek verstaan, was daar nie ’n tekort aan aanbiedinge nie. Ek gee jou dus tot môre tyd om ’n keuse te doen, en die huwelik sal vandag oor ’n maand plaasvind. Aangesien jy my protégée is, sal jy uit die paleis trou.” Hy glimlag weer. “Dit sal die huwelik van die jaar in Frankryk wees – my trougeskenk aan jou.” Sy wenkbroue lig vraend toe daar nie dadelik reaksie op sy gulle aanbod kom nie. “Wel?”

Nicolette sluk en maak ’n grasieuse, diep buiging voor haar voog, maar haar stem is sonder geesdrif.

“Ek sal u môre hierdie tyd laat weet wie my keuse is. Baie dankie.”

Die koning is in ’n peinsende stemming toe hy weer alleen is. Dan haal hy na ’n rukkie sy skouers op. Hy weet, en Nicolette ook, dat dit nie eintlik ’n vriendelike samespreking oor haar toekomsplanne was nie, maar ’n bevel van die hoogste gesag van die land wat uitgereik is. Dis tyd dat Nicolette de Lille trou. Die koning sê so, en as sy nie daarmee genoeë neem nie, sal hy self iemand kies en die huweliksplegtigheid sal oor ’n maand in die paleis plaasvind. Kort en klaar.

Marguerita, Nicolette se niggie wat saam met haar woon sedert sy haar ouers gelyktydig in ’n koetsongeluk verloor het, sien sommer dadelik dat daar ’n groot skroef los is toe Nicolette tuis kom. Sy en Nicolette het ’n vermoede gehad waaroor die koning met haar wou praat, en net een blik na die sedige, stil gesiggie oortuig haar dat hul vermoedens reg was. Die koning dink dis tyd dat Nicolette trou!

“Ek moet hom môre sê met wie ek wil trou,” laat Nicolette kortaf hoor en val neer op die chaise longue voor die venster, haar oë somber op die Seine gerig.

Marguerita kyk haar bekommerd aan. Sy kry haar niggie diep uit haar hart jammer, want sy weet dat Nicolette nog geen keuse kon doen onder die talle jong m’sieurs wat om haar hand meeding nie, maar sy is al twintig! Eintlik moes sy al lankal getroud gewees het!

Sy gryp die veerpen op die swaar rooshoutlessenaar en laat gemaak vrolik hoor: “Nou, kom ons stel ’n lys van al die moontlikes op. Dit sal die beste wees, dan kan jy hulle een vir een oorweeg.” Dit lyk nie of Nicolette haar gehoor het nie, maar sy doop die pen en frons liggies. “Daar is Pierre de …”

“Moenie laf wees nie! Ek sterf liewer!”

“O!” Marguerita sug en krap die P dood. “Dan is daar Francois le …”

“Daardie vaatjie! Is jy mal, Marguerita?”

“Wat van Guillaume du …”

“O, nee, asseblief! Daardie witgepleisterde graf!”

“As jy dan jou neus vir húlle optrek, sal ook nie een van die ander deug nie.” Marguerita kyk haar fronsend aan. “Daar bly net Jean Prieur en Gabriel van Blois oor …”

“Ek sterf liewer!”

“Nicolette, maar met wie gaan jy dan trou? Jy móét uit hierdie klomp ’n keuse doen! Wat is verkeerd met Jean Prieur?” Marguerita begin nou regtig bekommerd raak.

“Daardie laventelhaan met sy verwyfde maniere? En jy vra my wat is verkéérd met hom?”

Marguerita sug. Sy sien maar swarigheid voorlê, maar hou moedig vol: “Gabriel van Blois is darem oulik, Nicolette. Hy is …”

“Ja, ek weet. Hy kan op ’n manier gaan, maar o, sy verwaandheid! Hy is die grootste windlawaai aan die Franse hof!”

“Parbleu, Nicolette! Met een van hulle sal jy móét trou! Daar is niemand anders nie.”

Nicolette kyk vinnig terug na die Seine, met ’n uitdrukking in haar oë soos dié van ’n vasgekeerde dier. Ja, met een van hulle sal sy móét trou! Hoe sal sy dit oorleef?

“Skryf die klomp goed se name agtermekaar. Dan sal ek my oë toemaak en met my vinger op een druk.” Haar stem is gedemp en gespanne toe sy eindelik die swaar stilte verbreek.

Marguerita se oë rek geskok. Sy het nooit kon dink ’n mens kan op dié manier vir jou ’n man uitsoek nie! Sy sug en begin dan maar gehoorsaam skryf. Toe sy eindelik klaar is, is dit ’n lang lys name waaruit Nicolette de Lille kan kies.

Dis ’n bewende vingerpunt wat eindelik op ’n naam druk.

“Jy kan maar jou oë oopmaak. Die gelukkige man is Francois le Fleur!” roep Marguerita opgewonde en verlig uit, maar haar glimlag verdwyn byna onmiddellik weer toe sy in die ontstelde en geskokte oë van haar niggie afkyk.

“O, nee! Nee, ek kan nie! Ek kán nie! Hy is sweterig, Marguerita! Ek sal my doodgril!”

“Maar jy het klaar gekies …”

“Nee! Kom ons probeer weer. Ek sal weer my oë toemaak. Hou reg die papier,” laat sy oorhaastig hoor, en voel ’n rilling van afsku deur haar gaan.

“Guillaume du Toit!” kondig Marguerita aan en Nicolette se oë vlieg oop.

“Maar hy is net ’n sak vol bene!” protesteer sy flou.

Marguerita besluit dis tyd om streng op te tree, anders sal hulle môremiddag nog hier sit sonder dat ’n keuse gedoen is.

“Hy mag na aan sy dood wees en lyk soos wat, maar jou vinger het op hom gedruk en jy gaan met hom trou, Nicolette! Dis nou klaar. Ek gaan nie weer die papier vir jou hou nie. Guillaume du Toit is die man met wie jy gaan trou!”

Nicolette val met geslote oë en wange, wat meteens deurskynend bleek lyk, terug teen die chaise longue. Weer eens gaan haar niggie se hart in jammerte na haar uit.

“Hy sal darem nie sweterig wees nie, Nicolette,” probeer Marguerite troos.

“O, bly stil! Hy het nie eens ’n druppel bloed in sy uitgedroogde ou liggaam nie, waar sal hy nog sweet vandaan kry? Uh! Daardie maer, benerige arms!”

Marguerita se oë lyk soos pierings en Nicolette sak laggend terug. Maar meteens verander haar laggie en druk sy haar gesig in haar hande terwyl sy die snikke nie langer kan keer nie. Die giggeltjie wat skielik uit Marguerita se keel ontsnap nadat sy oor haar ergste skok gekom het, breek kort af. Sy hardloop na haar niggie toe en plaas ’n vertroostende arm om die rukkende skouers.

“Ag, Nicolette, dis darem seker nie regtig so erg nie. Die ander vroumense kom klaar met hul mans, en hulle lyk ook maar nie beter nie. ’n Mens sal dit darem seker oorleef.”

Sy probeer gerusstellend glimlag. Om Nicolette de Lille in trane te sien, is baie ongewoon.

“Ja, ek sal seker. Ek sal moet, nie waar nie? Ek het geen keuse nie.”

Maar die res van daardie dag, ook die nag en die daaropvolgende oggend, ken Nicolette geen rus of duurte vir haar siel nie. Sy is soos ’n dwalende gees, maar hoe sy ook al probeer, sien sy geen uitweg nie. Oor ’n maand sal sy gaan trou met ’n man van haar keuse of, as sy nie kan kies nie, sal Sy Majesteit self ’n keuse vir haar doen.

Dis ’n strak en gespanne Nicolette de Lille wat haar daardie middag weer by Sy Hoogheid aanmeld.

“Ek is bly dat jy tot ’n besluit gekom het, ma chérie,” laat hy verlig hoor, want eintlik het hy opstand verwag, en hoewel hy goed bewus is van die feit dat dit haar niks sal baat nie, het hy tog probleme voorsien. Maar Nicolette het blykbaar besluit om verstandig te wees, en dan kan hierdie belangrike sakie nou afgehandel word. Hy voel heel tevrede met homself. “Mag ek weet wie die gelukkige man is?”

“Met u goedkeuring het my keuse geval op … op Guillaume du Toit.”

Haar stemtoon laat dit na ’n lewenslange vonnis klink, maar die koning gee voor dat hy dit nie agterkom nie. ’n Koning, ’n verstandige en wyse een, leer vroeg in sy heerskappy waaraan hy aandag moet gee en wat om te ignoreer. Vandag, weet hy, moet hy ignoreer, en hy gaan soen haar op die wang.

“Jou keuse is verstandig, soos ek ook verwag het. Guillaume du Toit is reeds verby die dwase jare van die jeug, maar hy is nog nie só oud dat hy nie ’n goeie en betroubare eggenoot vir sy vrou sal wees nie. Hy is ’n man met ’n aansienlike inkomste en sal goed vir jou en jul kinders sorg.”

’n Rilling trek deur die jong liggaam, maar die koning besluit om dit maar te ignoreer. “Ek sal hom sommer nog vanmiddag van jou keuse in kennis stel en julle kan mekaar vanaand hier in die paleis ontmoet om sake verder te bespreek. So gou moontlik sal ’n verlowingspartytjie gehou word. So sal die maand gou verbygaan.”

Hy kyk teer op haar af, want eintlik is hy baie geheg aan hierdie rooikop-rissiepit, soos sy onder party mense bekend staan, en hy wens in alle opregtheid dat sy geluk sal vind. Maar, soos dit maar deur al die eeue gegaan het en seker nog sal gebeur, dink die ouer geslag – soms ook met goeie rede – dat hulle die jonger garde ’n bietjie leiding moet gee en help om gewigtige besluite te neem. Een van sy baie verpligtinge sal hy dus oor ’n maand aan die reeds verstandige Guillaume du Toit kan oordra, en hy moet eerlik erken, hy voel in ’n mate bly daaroor en nou baie meer gerus.

Hoewel Nicolette de Lille so te sê aan die Franse hof grootgeword het, was hy nog altyd bewus van die feit dat sy baie verskil van die ander jong meisies wat ook so tuis aan die hof is. Daar skuil ’n ontembaarheid in die skraal lyfie en agter die groen oë wat nie eens die streng etiek van ’n koninklike opvoeding en die hoogs beskaafde invloede van dié elitekring van Parys heeltemal kon doodsmoor nie. Alte dikwels, en veral die afgelope maande, het hy met kommer gesien hoe daar soms ’n lig in die groen oë blink, dieselfde lig wat hy in René la Porte se oë gesien het – iets van die avontuursoeker, van die ontembare, van ’n gees wat nie vasgehok en ingebreek kan word nie. Dit was een van die beweegredes agter sy skielike begeerte dat Nicolette moet trou, want waar so iets by ’n man ’n bate is, is dit volgens hedendaagse standaarde net die teenoorgestelde by ’n vrou.

’n Vrou is bedoel om te trou, ’n goeie vrou vir haar man te wees, na sy huishouding om te sien, te weet hoe om sy vriende te onthaal, om sy kinders in die lewe te bring en te versorg, en in haar eggenoot se skadu te lewe. Sy is ’n besitting waarmee haar man voor sy vriende kan pronk as hy daarna voel, maar wat hy ook op die agtergrond kan skuif; ’n ornament wat hy kan uithaal en vertoon wanneer ’n bal aan die paleis bygewoon word, maar een wat hy weer daarna gerieflik in sy kasteelagtige woning bêre en van wie hy geen vrae verwag wanneer hy soms, net vir die opwinding, stil in Parys se agterstrate verdwyn nie.

In die weke wat volg, heers daar groot bedrywigheid by almal wat vernaam is in Parys. Die koningsgade gaan haar te buite aan die voorbereidings vir die komende huwelik. Aan prag en praal, soos net die Franse hof dit ken, sal dit nie ontbreek nie. Origens is almal doenig om hul tabberds gereed te kry vir die groot geleentheid.

Veral onder die jong hubare mam’selles heers daar groot geesdrif, nie net omdat hulle nou weer ’n verskoning het om ’n nuwe tabberd te kry nie, maar ook omdat hulle heimlik intens verlig voel dat Nicolette de Lille nou eindelik gaan trou. Hopelik sal hulle, veral die minder aantreklikes, nou meer aandag van die ander hubare m’sieurs ontvang wanneer die rooikop-rissiepit van die huweliksmark af is. So tussen die vlytige geflits van die naalde deur word menige skaars bedekte, katterige opmerkings gemaak, maar in een opsig is almal dit eens: Nicolette de Lille sal seker die mooiste bruid wees wat Parys hierdie eeu gaan oplewer!

Die ander jong m’sieurs wat, ten spyte van herhaalde kyke teen hul eie neuse nog die hoop gekoester het dat hul huweliksaanbod die een of ander tyd met meer guns ontvang sou word, verdrink hul teleurstelling in die voggies van die Rynvallei. Ook hulle is dit eens: Guillaume du Toit is ’n gelukkige man!

Net in die huis van die bruid self heers geen feesstemming nie. Dit is eerder asof iemand wat ter dood veroordeel is daarin woon. Marguerita se senuwees is aan flarde wanneer daar met die finale stadium van die voorbereidings begin word.

“Nicolette, Siegfriedt is hier om jou kapsel vir die troudag te bespreek.”

Nicolette kyk op van waar sy nou daagliks by die venster langs die Seine sit en uitstaar sonder ’n tikkie belangstelling in al die doenigheid om haar. Sy verroer nie eens ’n vinger om te help nie.

“Sê hy kan môre kom. Ek is nie nou lus vir ’n gelol aan my kop nie.”

“Nicolette, asseblief! Die man is nou hier. Hoekom uitstel tot môre?” Marguerita kyk haar pleitend aan.

“O, liewe deug, Guillaume stel nie in my háre belang nie! Wat maak dit saak hoe dit daardie dag lyk?” Nicolette kriewel onrustig.

Marguerita slaan haar ooglede neer. Sy onthou goed hoe hewig ontsteld Nicolette die aand ná die verlowingspartytjie was en wat daartoe aanleiding gegee het. Sy draai om en sê ’n rukkie later vir die man wat beleef staan en wag: “Mam’selle Nicolette het vanmiddag hoofpyn. Sal u asseblief so vriendelik wees om maar liewer weer môreoggend te kom?”

Weer met die uitdrukking van ’n vasgehokte dier in haar oë staar Nicolette na buite sonder om iets van die groen weelde van die Seine-oewers raak te sien. Dis haar aanstaande man se gesig wat sy voor haar sien – die maer gelaatstrekke, die bloedlose, dun lippe, die koudheid van die oë, die lang, benerige vingers wat oor hare vou … Sy sluit haar oë en trek haar asem rukkerig in. Maar daardie aand van die verlowingspartytjie was sy oë nie koud nie. Dit het gegloei met ’n vuur wat haar wou verteer. Toe hulle ’n oomblik alleen was, het sy gedemp maar woedend laat hoor: “Ons is nog nie getroud nie, m’sieur. Gedra jou asseblief!”

Hy het gemaak verbaas laat hoor: “Maar, ma chérie, my gedrag is nog die hele tyd onberispelik!”

Die skroeiende blik het weer oor haar gegaan, en hy het weer geglimlag. Sy dun lippe het van sy tande af weggetrek sodat dit soos ’n grynslag gelyk het.

Sy het met ’n gevoel van naarheid van hom af weggedraai, en sedertdien het sy enige moontlike en onmoontlike verskoning geopper om hom nie weer te sien nie. Tot haar verbasing het haar aanstaande hom hierdie onvriendelike gedrag van sy bruid laat welgeval. Soos sy ook geweet het, sou dit nie meer lank wees nie, dan sal sy geen verskoning meer hê nie. Dan sal sy sy vrou wees!

’n Oorweldigende angs, soos Nicolette nog nooit in haar lewe ervaar het nie, oormeester haar. Hoe kan sy, hoe kán sy met daardie man gaan trou? Daar bestaan by haar geen illusies meer oor wat sy moet verwag wanneer die slaapkamerdeur eers agter hulle toegegaan het nie. Sy weet nou dat die stories wat van Parys se agterstrate na die hoogste kringe deurgesypel het, waar is.

Toe die skemer oor die lanternliggies van Parys toesak, staan sy meteens op. Marguerita kyk op toe sy so skielik in die deur verskyn. Dan vernou haar oë toe sy sien hoe paniekerig Nicolette lyk.

“Marguerita, ek kan nie met hom trou nie!”

“Nicolette!” Marguerita is nou werklik bekommerd. Nicolette klink histeries, heeltemal paniekerig.

“Marguerita, ek gaan nie met hom trou nie!”

“Maar wat kan jy doen? Dis te laat! Die troue is oor ’n week! Jy het jou woord gegee en jy weet self dat die koning jou sal dwing om dit na te kom. Daar is geen uitweg nie!”

“Ja, daar is!” Nicolette trek haar asem in en dis asof sy nou kalmer is. “O ja, daar is. Ek gaan wegloop.”

“Weg- … Nicolette!” Marguerita sug moedeloos. “Waarheen nogal?” Sy kry haar niggie aan die skouers beet. “Wees realisties, Nicolette. Al gaan jy waarheen in Europa, sal die koning sorg dat jy terugkom en jou troubelofte aan Guillaume nakom. Hy sal jou soek totdat hy jou kry! Daar is geen plek …”

“Daar is. Daar moet ’n plek wees wat ver genoeg is …”

“Waar is so ’n plek?”

“Ek weet nie. Ek …” Sy kyk meteens op. “Die Kaap die Goeie Hoop! Ja! Dis aan die uithoek van die aarde! En al sit hulle my agterna, al word ek gedwing om terug te kom, gee dit my nogtans ’n paar maande grasie. Dit duur ’n paar maande om daar te kom en weer ’n paar om terug te kom, en intussen kan enigiets gebeur! Marguerita, ek gaan wegloop na die Kaap die Goeie Hoop toe!”

“Nicolette, jy kan nie!” Die jonger meisie is byna in trane. “As jy ooit terugkeer, sal jy onthoof word! Die koning sal jou dit nooit vergewe nie. Jy sal nie net ’n gek van Guillaume maak nie, maar ook van hom! Dis ’n klap in die koning se gesig!”

“Dan is dit ’n klap wat hy verdien!” Nicolette de Lille lig haar ken omhoog, en meteens het die doodsheid waarin sy die afgelope weke deur vrees vasgevang is, haar verlaat. Marguerita herken die lig in die groen oë. Niks op hierdie aarde buiten die dood sal Nicolette van haar plan laat afsien nie. Dis nou sý wat paniekerig is van vrees, en sy pleit, hoewel sy weet dat dit vergeefs is.

“Asseblief, besin tog net! ’n Seereis na die Kaap beteken maande van ontbering en enigiets kan gebeur! Die skip kan in ’n storm vergaan, of julle kan deur seerowers aangeval word en …”

“Ek verkies ’n haai se maag bo Guillaume du Toit, en wat seerowers betref … ek is oortuig daarvan dat ek geen swakker behandeling van ’n seerower sal kry as wat ek van die heer Du Toit sal ontvang nie. Dus …”

“Maar jy is vrou-alleen! Jy kan nie sonder beskerming op ’n skip gaan klim nie. Die matrose …”

“Marguerita, dit help nie. Ek gaan weg op die eerste skip wat weer uit Marseilles vertrek.”

“Maar wat gaan met jou gebeur wanneer jy die Kaap bereik? Wat gaan jy doen? Wat gaan van jou word? Hoe sal jy alleen regkom in daardie woeste land?”

“Dit is in die skoot van die toekoms. Ek gaan my nie nou daaroor bekommer nie. Ek sal wel my pad vind …” Diep in haar hart weet sy dat sy geensins so braaf voel as wat sy voorgee nie. Sy het tot hiertoe ’n baie beskutte lewe gelei, veilig in die skadu van die koninklike paleis. Sy weet op die aarde niks van die gewone lewe nie. Sy het nog net altyd ’n glimp daarvan gekry deur haar koetsvenster, soos daardie Oujaarsaand … Haar oë verhelder. “René … René la Porte is aan die Kaap! Ek onthou mos nou hy is daarheen! Ek ken darem iémand aan die Kaap.” Marguerita kyk haar skepties aan, maar ook sy voel meteens meer gerus. Dis waar. René is aan die Kaap …

“Nicolette, is jy werklik ernstig?”

Nicolette lag skielik uitbundig van skone verligting. O, daar is ’n ontsnapkans, dankie tog!

“Ek was nog nooit so ernstig nie! Ek gaan nou dadelik inpak. Gaan sê vir Jacques ek wil die koets oor ’n uur gereed hê. Ons vertrek vanaand nog na Marseilles. Bid net saam met my dat daar ’n skip is wat vandag of môre nog na die Kaap vertrek.” Marguerita swyg maar liewer. Dis nodeloos om te praat. Jacques ontvang die boodskap en ’n uur later rol die wiele van ’n koets suidwaarts … na Marseilles.

“Moenie so bekommerd lyk nie, Marguerita.” Nicolette kyk haar niggie teer aan. “Julle keer dadelik terug, en jy en Jacques weet niks van my verdwyning af nie. Julle sê net toe julle julle kom kry, was ek weg. Laat hulle my maar soek. Ek dink nie hulle sal sommer aan die Kaap die Goeie Hoop dink nie. Ek het Jacques goed betaal. Hy moet by jou bly en jy kan in my huis aanbly solank jy wil. Dis in elk geval joune. My juwele en ander besittings is genoeg vir my vir die res van my lewe. Dit wat nou hier agterbly, is joune.”

“O, Nicolette, hou op! Dit klink asof jy ’n testament opstel!” huil Marguerita ontsteld en Nicolette versober. Miskien is sy besig om presies dit te doen. Maar sy wil liewer dood wees as daardie man se vrou!

Dis ’n lang en vermoeiende rit na Marseilles aan die suidpunt van Frankryk. Langs die pad moet hulle ’n paar keer van perde verwissel, maar eindelik is die hawestad in sig en bring Jacques die blye tyding dat ’n vaarder byna gereed is om te vertrek op die lang reis na die Ooste wat om die Kaap die Goeie Hoop gaan.

Nicolette kry egter teëstand by die kaptein. Hy snap onmiddellik dat dit ’n weglopery is. Eers weier hy om na haar pleidooi te luister. Hy wil nie sy kop onnodig afgekap hê nie, maar Nicolette de Lille weet hoe om ’n man om haar pinkie te draai. Eindelik moet hy voor haar sjarme en oorredingsvermoë swig. Tog probeer hy nog wal gooi.

“Dit is te gevaarlik om u so sonder chaperone op die skip te neem, mam’selle! Die matrose … Hulle is ’n ongure spul, en ons is maande op see.”

“U besorgdheid oor my welsyn waardeer ek ten seerste, kaptein, maar ek kan myself beskerm.” Nicolette glimlag hom op haar mooiste toe. “Ek het reeds aan ’n plan gedink, ’n waterdigte plan wat my veiligheid sal verseker totdat ons aan die Kaap kom.” Sy staan op van die lendelam stoel waar hulle in ’n kamertjie van een van die minder gegoede herberge van die hawestad onderhandel. “Verskoon my net vyf minute, asseblief.”

Marguerita en die kaptein kyk haar vraend aan, maar met ’n geheimsinnige glimlaggie verdwyn sy agter die gordyn in met ’n swart handsak in haar hande. Binne vyf minute skuif die gordyne weer oop … en die twee wagtendes knip hul oë.

“Nicolette! Jy het mansklere aan!” kry Marguerita dit eindelik geskok uit.

“Hoekom nie? Hoe lyk ek vir julle? Sal ek deurgaan vir die kaptein se stuurjonge?”

“Mam’selle … e … asseblief …” Die kaptein is in ’n groot verleentheid. Weliswaar sal hierdie patroon wat nou hier voor hom staan, kan deurgaan vir ’n bloedjong mannetjie, blekerig en pieperig. Jy sal nooit vermoed dat daar vroulike kurwes onder daardie swart mansklere versteek is nie. Maar as hy betrap word …

Nicolette sien die tweestryd waarin hy verkeer, en sy kom met haar laaste troefkaart vorendag. Jacques het reeds vir haar vasgestel dat die kapteinsoldy van ’n vaarder nie juis baie rojaal is nie. ’n Ekstratjie sal nie maklik versmaai word nie, veral as die ekstratjie ’n klein fortuin is. Sonder ’n woord, maar met die smeekgebed in haar hart dat hierdie laaste troefkaart die deurslag finaal in haar guns sal gee, maak sy haar sak weer oop en gooi ’n stel juwele tussen hulle op die tafeltjie neer.

Die kaptein se oë flikker en weer roep Marguerita geskok uit: “Nee, Nicolette! Dit was jou moeder se trougeskenk van die koning! Jy kan mos nie …”

“Sal dit genoeg betaling wees vir die geringe gunsie, kaptein?” Hul oë ontmoet en sy vervolg sag: “Ek kan u die versekering gee dat elke edelgesteente in daardie armband en halssnoer eg en baie waardevol is. Soos u gehoor het, was dit ’n geskenk van die koning aan my moeder op haar troudag.”

“Nou ja, mam’selle … e … as u dan werklik so graag wil gaan …”

Nicolette glimlag en stoot die juwele oor na sy kant toe.

“Ek wil werklik baie graag gaan, m’sieur. Baie dankie.”

Die afskeid is swaar. Die twee niggies het soos susters saam grootgeword. Ook Jacques, die ou koetsier, se oë blink. Maar met besliste tred keer Nicolette hulle die rug toe en stap met die loopplank op. Maar sy kan nie die gevoel afskud dat sy vir altyd van haar geliefde vaderland afskeid neem nie.

Toe die seile wit en bollend bokant haar oopsprei en die groot vaarder enkele ure later die laaste bande met die vasteland verbreek op sy lang tog na die Ooste, staan die kaptein se nuwe kajuitjonge eenkant alleen by die reling. Hy lyk maar baie tengerig vir die geharde matrose wat hom terloops raaksien en dan nie verder aandag aan hom skenk nie.

Met ’n onbeskryflike gevoel van bevryding, asof sy op die nippertjie ’n lewenslange vonnis vrygespring het, sien Nicolette hoe die golwe al breër tussen die boeg en die vasteland inskuif. Sy is op pad na die Kaap die Goeie Hoop … na die plek waar René la Porte ook is … die man wie se liefde sy versmaai het en wie se huweliksaanbod sy maande gelede in sy gesig teruggewerp het.

Paspoort na gevaar

Подняться наверх