Читать книгу 'n Bruid vir Graaf Debussy - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

“Dis finaal! Jy bring vir my binne ’n maand van vandag af ’n vrou wat vir mý aanvaarbaar is as skoondogter, anders onterf ek jou!”

Dis stil in die groot studeerkamer van Château D’Ussé, die Renaissance-kasteel wat al sedert die vyftiende eeu in die besit van die adellike Debussys is. Wonder bo wonder het hierdie kasteel die vandalistiese woede en haat van die gepeupel ontkom toe Frankryk amper doodgestik het in ’n bloedbad van rewolusie.

Net die getik van die groot antieke klok is hoorbaar terwyl vader en seun mekaar staan en aangluur. Die groot kroonkandelaar bokant hul koppe gooi lig op die twee gespanne gesigte terwyl twee pare oë in mekaar blits.

“Dis ék wat die res van my lewe met die vroumens moet saamleef, Pa! Ek weier dat Pa vir my ’n vrou kies!”

“En ek weier dat jy ’n vrou soos Frances Malraux in hierdie kasteel inbring en haar bloed met dié van die Debussys meng! Sy kom uit die agterstrate van Parys! Sy het nie die vaagste benul watter bloed alles in haar are vloei nie!”

“Dis hierdie soort houding wat veroorsaak het dat Frankryk in ’n rewolusionêre bloedbad lê en smoor het – die bloed van die adellikes! Dis toe dat die mense van die agterstrate aan ons adellikes getoon het dat ons nekke net so min werd is as hulle s’n wanneer Madame Guillotine die oordeel vel. Les hommes sont égaux – almal is gelyk!”

“Parbleu, Jean-Paul! Jy weet so goed soos ek wat ek bedoel! Jy weet dit gaan nie vir my om adellikheid of wat jy besit en nie besit nie! Dit gaan vir my om inbors! En al bors wat daardie minnares van jou het, is dié wat sy tydig en ontydig voor al wat man is se oë rondswaai! Frances Malraux is ’n goedkoop slet en ek weier dat my enigste seun en erfgenaam haar ’n Debussy maak! Dis my finale woord! Jy moet kies – dis óf graaf Debussy en alles wat daarmee saamgaan, óf Frances Malraux.”

Die jong man se lippe smaal effens. “Werklik? Net interessantheidshalwe, wat gaan van die kosbare Debussy-naam en -erfenis word as ek Frances Malraux kies? Van die aardbol verdwyn?”

Dit lyk of graaf Gustave Debussy ’n aanval van beroerte gaan kry. Hy is wit om sy mond en sy gesig met die aristokratiese lyne vertoon bleek. Sy hande is in magtelose vuiste gebal. Jean-Paul het sy troefkaart gespeel. Wat word van die Debussy-geslag as die enigste persoon wat dit kan laat voortleef by hierdie kasteel uitgejaag word? Sy oë vernou toe hy die uitdagende blik ontmoet.

“Dis nie net jý wat troefkaarte het nie, my seun.”

Die jong man se wenkbroue lig en hy glimlag selfversekerd. “Goed, laat ons hoor.”

“Ek is ’n ou man in jou oë. Vyf en sestig klink stokoud, maar ek verseker jou dat dit nie te oud is om nog ’n kind te verwek nie.”

Weer word dit grafstil in die Château D’Ussé.

“Pa is van Pa se verstand af!”

“Nee, Jean-Paul. Inteendeel. Dis die verstandigste besluit waartoe ’n vader kan kom as hy sien sy enigste kind is sy naam en sy erfenis nie werd nie – om te sorg dat daar ’n ander een kom wat dit miskien eendag werd sal wees.”

Dis nou die jong man se beurt om te verbleek. “Pa is besig om kinds te word! Watter vrou, jonk genoeg om ’n kind te verwek, sal met ’n ou man soos Pa trou net om vir hom ’n nuwe erfgenaam te gee? Wie onder die paar adellikes wat oorgebly het en wat ons ken, sal haarself so … so …”

Sy stem sterf weg. Want dit dring tot hom deur dat sy vader die hoogste troefkaart het. Daar sal iemand wees. Daar sal ’n vrou, selfs ’n jong meisie, onder die verarmde adellikes van Frankryk wees wat ter wille van die sekuriteit en die materiële voordele vir so ’n sotlike plan te vinde sal wees. Sy vader sal nie eens nodig hê om te gaan soek nie. Hy kan dit maar net rugbaar laat word dat hy weer ’n vrou wil vat wat vir hom ’n kind kan gee. Hulle sal in strome na die kasteel aangeloop kom!

Dis nou die ou man se mond wat effens smaal. “Ek sien jy begryp. Bowendien, my liewe Jean-Paul, ek sal dit nie eens as ’n vereiste stel dat die dame van adellike afkoms moet wees nie. My enigste vereiste is inbors, iemand wat ’n waardige moeder sal wees vir die seun wat sy vir my sal baar.”

Jean-Paul lag kortaf. “En watter vrou van inbors sal vir so iets te vinde wees? Pa sal die hele Frankryk moet deursoek.”

“Tog nie. Soos jy weet, het ek nog altyd goeie vriende onder die gewone mense van Frankryk gehad. Ek kan onmiddellik aan ’n paar dink wat ideaal sal wees indien jy my teleurstel. Ek weet byvoorbeeld van twee dames, oujongnooiens, wat ’n onberispelike lewe lei en wat ’n goeie, deugsame vrou én toegewyde moeder sal wees.”

“Ja, ek kan my voorstel hoe hulle lyk. Vaal en kleurloos en so lelik soos die nag …”

“Wat nie ter sake sal wees nie. Hoe die persoon lyk, skeel my min. Dis ’n erfgenaam, ’n waardige erfgenaam vir die Debussys, waarin ek belangstel, nie in ’n vrou nie.”

Die ou man draai weg, gaan sit in een van die diep stoele en sug. Dit sal die tweede keer in sy lewe wees dat hy trou net om ’n erfgenaam te verwek. Sy eerste vrou is kinderloos oorlede, en ná haar dood het hy doelbewus ’n vrou uitgesoek met die oog op ’n erfgenaam. Hy is toe met Jean-Paul se moeder getroud, en terwyl hy op ’n jagtog was, is sy seun te vroeg gebore. Sy tweede vrou het ook gesterf, maar die baba het bly lewe. En dis daardie baba wat vandag vir hom so ’n groot bron van onrus en teleurstelling is, wat hom verplig om op hierdie hoë ouderdom te speel met die vergesogte gedagte om weer te trou.

Die ergste van alles is dat hy seker ook skuld het daaraan. Van die dag af toe hy van sy jagtog teruggekeer en sy seun by sy sterwende moeder aangetref het, was Jean-Paul sy hele lewe. Natuurlik is die knaap van kleins af tot in die afgrond bederf. Daarbenewens was dit hy self wat sy kind geleer het om met die gewone mense te meng, want hy het ander waardes in die lewe gehad as die res van die adellikes van Frankryk. Daarom dat hy ook nie te gewild onder sy bloubloedbroers was nie. Hy het selde meegedoen aan die baldadigheid van die Franse hof en die buitensporige partytjies wat Marie-Antoinette gereeld gehou het. Sy grootste vriende het onder die gewone mense van Frankryk getel, die hoipolloi. Hy het sy seun probeer leer dat ’n mens nie jou vriende kies volgens die rykdom wat jy kan sien nie, maar volgens die rykdom van die gees.

Dis dus te verstane dat die Debussys die ergste vrygespring het toe die gepeupel van Frankryk twee jaar gelede oorgeneem het. ’n Menigte van die gehate aristokrate is na die valbyl gesleep en onthoof en hul kastele en landgoedere is geplunder en beroof. Maar daar is onthou, selfs toe gemoedere histeries opgesweep was, dat graaf Debussy ’n vriend van die gewone mense was en dat hy hulle altyd met respek behandel het. Sy arbeiders op sy landgoed het getuig dat hulle nog altyd goed behandel is. ’n Menigte van die jong manne onder die gepeupel het onthou dat toe hulle nog die slawe van die aristokrate was, Jean-Paul Debussy hulle soos mense behandel het, dat hy tussen hulle beweeg het en liewer saam met hulle kaalvoet in die kaf gedans het as om sy kuitbroek en wit pruik aan te trek en aan die Franse hof die gavotte en menuet saam met die opgetooide dametjies te gaan trap.

Maar die vader het eers besef hoe sy seun hart en siel een van die gewone mense geword het toe hy uitvind dat hy ’n vurige verhouding met ’n sekere Frances Malraux aan die gang het. Aan die begin het dit hom nie te veel gekwel nie. Dit was alles deel van die grootwordproses van ’n jong Fransman. Die wete dat Frances Malraux nie ’n goeie naam het nie, van onsekere afkoms is en op die koop toe ’n jaar of vyf ouer as Jean-Paul is, en in lewenservaring nóg ouer, het hom aan die begin ietwat ongelukkig gestem, maar nie onrustig nie. Jean-Paul sou wel later die regte vrou ontmoet en met haar trou.

Maar die tyd het begin aanstap en Jean-Paul was al ’n hele entjie verby die ouderdom waarop die gewone Fransman vrou vat en besadig raak. Die verhouding met Frances Malraux het voortgeduur, hoewel hy ander meisies ook tussenin die hof gemaak het. Jean-Paul het instinktief aangevoel dat sy pa die verhouding met die meisie van Parys se agterstrate, soos hy dit blatant gestel het, afkeur, en het dus nie eens probeer om in die rigting van trou te praat nie. Hy was in elk geval geensins haastig om getroud en gebonde te raak nie.

Sy pa het hierdie teësinnigheid om vrou te vat anders vertolk. Hy het ’n sterk vermoede begin kry dat daar net gewag word dat hy sterf voordat Frances Malraux as die gravin Debussy by die Château D’Ussé instap. En vanaand het hy besluit dat hierdie delikate saak tussen hulle uitgestryk moet word. Dit kan nie langer so voortgaan nie. Jean-Paul is dertig. Voordat hy sy kop vir goed neerlê, wil hy weet sy seun is met ’n goeie vrou getroud, en indien moontlik, wil hy nog die draer van die volgende geslag Debussys in sy arms vashou.

Maar Gustave Debussy moes lank op sy seun wag. Die ou klok het hom vertel dat dit reeds lank ná middernag was toe hy die voordeur hoor oopgaan en sy seun in die deur sien verskyn het. Jean-Paul het eerlik verbaas gelyk om sy pa so laat nog op te sien.

“Waar was jy?”

“Is dit van belang? Van wanneer af moet ek rapporteer oor my kom en gaan? Ek is dertig, nie dertien nie.”

“Presies. Jy was al dertig. Elke man van dertig is getroud en het kinders en is hierdie tyd van die nag by sy huis. Maar jy flenter rond.”

“Waaroor gaan dit, Pa? Ek wil gaan slaap.”

“Dit gaan oor die feit dat jy nie getroud is nie en blykbaar nie van plan is om te trou nie. Behalwe as jy dit dalk in jou kop kry om Frances Malraux te vra, en dit, kan ek jou sê …”

“Is ondenkbaar. Dit weet ek. Dan vrees ek Pa sal maar geduld moet gebruik. Ek is nie van plan om my in hierdie saak te laat voorskryf nie. Ek sal trou wanneer ék wil.”

Die vader het net ’n oomblik geaarsel, en toe vasbeslote sy ultimatum gestel. Nou is dit stil tussen hulle. Wat gesê moes word, is gesê. Hulle verstaan mekaar duidelik. Met ’n kortaf naggroet verdwyn die seun in die gang af en die ou man laat sy kop op sy hande sak.

“Monsieur …”

Gustave Debussy lig sy kop. “A, Marguerite! Wat maak jy hierdie tyd van die nag nog hier?”

“Ek het gewag dat u moet gaan rus, monsieur. Ek het vir u melk warm gemaak sodat u kan slaap.”

Hy neem haar hand en gee dit ’n drukkie. Sy gesig is moeg, en so ook sy stem. “Jy is jou gewig in goud werd, my liewe Marguerite. Wat sou ek sonder jou en Antoine gedoen het? Sê my, Marguerite, het jy vreugde van jou kinders, of maak jy joune ook net groot vir moeite en verdriet?”

Die ou Franse vrou glimlag, maar daar is erns in haar oë. “Verdriet het baie vorme, my heer. Dié wat die gewete bring, is die ondraaglikste, maar dit het u nie. U het u plig as vader gedoen.”

Die ou graaf skud sy kop, sug weer diep. “Daarvan is ek nie altyd so seker nie. Ek het Jean-Paul sonder ’n moeder laat grootword. Dit was ’n fout. Ek moes maar weer getrou het. Ag, wel, dis te laat om nou sulke foute te wil regmaak. Die dae van trou is verby. Vir my, altans. Tog … As Jean-Paul nie gehoor gaan gee nie, sal ek dalk weer daaraan moet dink. Dankie vir die melk, Marguerite. Gaan rus jy nou ook.”

“Ja, monsieur. Slaap gerus.”

Terwyl graaf Debussy beslis nie rustig slaap nie, en ook nie die jong Jean-Paul nie, is daar nog iemand op die landgoed wat rusteloos rondrol.

“Wat is dit met jou, vrou? Hoekom slaap jy nie?” Marguerite Vilar gee die stryd gewonne, steek die kers op en sit regop in die bed.

“Ek kan nie. Daar het vanaand dinge in die kasteel gebeur, dinge is gesê wat my bang maak.”

Antoine sit nou ook regop. Hy lyk ietwat potsierlik met sy slaapmus skeef oor sy kop. “Watse dinge?”

Sy vertel haar man van die heftige woordewisseling tussen vader en seun en die troefkaarte wat gespeel is. Die twee ou mense kyk mekaar bekommerd aan.

“Jean-Paul is koppig. Hy kan nie gedwing word nie. Hy sal eerder onterf word as om gedwing te word om met ’n vrou te trou wat hy nie gekies het nie. Die alternatief is ewe ondenkbaar. Graaf Gustave weer getroud op sy ouderdom …”

“Dis nie so erg nie. Maar om weer pa te word op sý ouderdom!”

Ou Antoine se oë rol. “Parbleu! Dit klink onbehoorlik!” Die ou vrou sug so diep soos haar heer en meester ’n rukkie gelede. “As Jean-Paul tog net verlief kan raak!”

“Wat van die Frances-vroumens?”

Marguerite snork. “Sy? Ek dink graaf Gustave is onnodig bekommerd oor haar. Jean-Paul het te veel verstand om hom deur háár te laat vang. Nee, hy is nog nie getroud nie, omdat hy nog nie die regte meisie ontmoet het nie. Maar om die regte meisie …” Sy swyg vinnig, kyk haar man veelseggend aan.

Antoine frons verward, en dan gaan daar ’n lig vir hom op. “Vrou, dink jy …?”

“Ons dink eenders, my man. Ek dink ons moet Jean-Paul help om die regte vrou te ontmoet. En ek dink ons albei dink aan dieselfde meisie.”

“Dit sal die wonderlikste ding wees wat kan gebeur, maar dink jy dis verstandig om haar hierheen te laat kom? Sê nou maar …”

“Sê nou maar niks! Dis dinge van dertig jaar gelede, en dis net ek en jy wat daarvan weet.”

“Ja, maar …” Ou Antoine frons diep. “Hoe gaan jy haar in elk geval hier kry? Onder watter voorwendsel?”

“O, daar is altyd ’n plan te maak.”

“Ja, ’n plan te maak. Soos dertig jaar gelede. En nou wil dinge skeefloop. Ek was nog nooit gerus oor daardie ding nie, Marguerite. As dit ooit moet uitkom …”

“Ag, Antoine, hou op met sanik! Dinge gaan nog reg uitwerk. Wag en kyk.”

Antoine Vilar en sy vrou weet nie dat die noodlot op hierdie oomblik besig is om die pad vir hul nagtelike ingewing oop te maak nie.

In ’n kamer op ’n kleinhoewe buite Marseille brand daar ook ’n kers hierdie late uur van die nag. ’n Vrou is besig om te sterf.

“Ma …?”

Dit lyk nie of die vrou op die bed haar hoor nie. Maar dan gaan die oë tog oop en die meisie moet vooroor buig om te hoor wat die bleek lippe fluister.

“Simone – jy moet na graaf Debussy se landgoed gaan … ná my dood. Na Marguerite Vilar en haar man. Jy moet vir hulle sê … sê ek …”

“Rus eers ’n bietjie, Mamma. Moenie Ma vermoei nie.”

“Nee, ek moet jou sê. Belowe jy sal gaan … na die Château D’Ussé. Daar sal jy … jy …”

“Ma!”

“Dis te laat. Sê … sê hulle moet jou …”

Dit ís te laat. Die vrou sluit haar oë vir ewig, en die jong meisie besef dit oombliklik. Nou is sy heeltemal alleen.

Sy vou die twee werkmoeë hande oormekaar, staan op en stap na buite. Haar oë is droog. Te lank het sy haar ma sien ly om haar nou nie die rus te gun nie. Maar sý lewe nog. Wat gaan van haar word? Aanbly op hierdie kleinhoewe waar sy sedert haar kinderdae soos ’n man werk? Altyd maar die wolf voor die deur hoor en nie seker wees waar môre se kos vandaan gaan kom nie?

Haar ma het gesê sy moet na die Vilars gaan. Sy het dikwels van hulle gepraat. Maar om by ander mense te gaan bly en genadebrood te eet … Dis nie sy, Simone Claudel, nie. Trou? Dis blykbaar die enigste ander uitweg vir haar. Maar met wie? Tog nie met een van die mans wat sy ken nie! Weggaan van die kleinhoewe af? Waarheen? Sy ken skaars Marseille, wat nog te sê die res van die groot wêreld buite die eng grense waarin sy haar lewe lank vasgevang was.

Dis eers nadat die begrafnis verby is dat sy, terwyl sy besig is om haar ma se goedjies uit te sorteer, op die brief afkom. Die handskrif is haar ma s’n en dis geadresseer aan Antoine en Marguerite Vilar. Dis verseël. Sy sit dit eenkant. As sy eendag by die Vilars uitkom, sal sy dit vir hulle gee.

In die daaglikse stryd om voortbestaan word hierdie brief vergeet. Sy onthou dit eers weer toe sy op ’n dag ’n ander brief ontvang. Dis geadresseer aan haar ma, en sy skeur dit oop. Dis ’n uitnodiging aan haar en haar ma om by die Vilars op die landgoed van graaf Debussy te gaan kuier.

Hier het belangrike wendinge gekom waaroor ons met jou moet gesels. Dis belangrik dat Simone saamkom. Beskou die saak as dringend en van groot belang. Ons verwag julle so gou doenlik.

Jou getroue vriende, Antoine en Marguerite Vilar.

Sy kyk fronsend na die brief. Sy het nie die vaagste benul waaroor dit gaan nie. Al wat sy van die Vilars weet, is dat hulle en haar ma groot vriende was, hoewel die kontak die laaste jare hoofsaaklik per brief geskied het. Sy kan onthou dat die Vilars by hulle gekuier het toe sy ’n meisie van twintig, een en twintig was. Maar dis al. Wat op die landgoed van graaf Debussy kon plaasgevind het wat haar ma en veral háár raak, kan sy nie dink nie. Sy skud dit van haar af. Die ou mense oordryf seker maar. Sy voel skuldig dat sy hulle nie van haar ma se dood laat weet het nie. Sy kyk peinsend voor haar op die grond. Daar was soveel dinge wat haar besig gehou het, soos watter pad haar lewe vorentoe moet neem. Want dit het baie duidelik geword dat sy nie hier op die kleinhoewe sal kan aanbly nie. Sy sal moet verkoop en êrens ’n ander heenkome vind. Hoe en waar weet sy nog nie.

Maar môre is die vendusie, word alles waarvoor sy al die jare so hard gewerk het, in ’n paar frank omgeskep, en dan moet sy padgee.

Hoekom nie op die brief van die Vilars reageer nie? Sy kan net sowel in daardie rigting beweeg as in enige ander. Miskien kan sy nog werk kry in die kasteel. Dan sal sy darem by bekendes wees en nie so heeltemal verlore in die wêreld voel nie.

Die koets wat haar twee dae later wegvoer van Marseille en die klein wêreldjie wat sy tot dusver geken het, moet op pad oornag. Dit gaan eers die volgende dag by die Château D’Ussé van die Debussys verby. Sy voel geestelik en liggaamlik uitgeput toe hulle by die herberg langs die pad stilhou.

Sy en die twee ander passasiers, ’n getroude paar, wend hulle dadelik na waar ’n oop kaggelvuur in die groot herd hulle verwelkom. Daar word slaapplek vir die gaste gereedgemaak, en terwyl hulle daarvoor wag en vir kos wat voorberei word, gaan sit Simone by die kaggel met die hoofbedekking van haar mantel nog oor haar kop. Sy hou haar gesig afgewend na die vuur, want sy voel nie lus vir gesels nie. Noudat die spanning verby is, haar ma begrawe ná ’n lang siekbed, en die vendusie agter die rug, begin die besef van hoe hopeloos haar situasie werklik is, ten volle tot haar deurdring.

Die herbergier skink solank soetwyn vir die verkluimde gaste. Ná ’n oomblik van aarseling neem sy ’n glas. Sy is nie gewoond aan drank nie, maar vanaand gaan sy ’n uitsondering maak. Miskien sal die wyn ook die koue van die eensaamheid hier diep binne verdryf …

Dan, skielik, saam met ’n windvlaag, staan ’n vreemdeling in die deur. Hy stroop sy mantel van hom af. Dit is nat, want buite het triestige reënvlae teen die ruite begin val. Sy klere wys dat hy nie van die gewone hoipolloi is nie. Sy donker hare hang krullerig langs sy gesig af en in die lig van die lampe blink dit swart-blou. Sy oë flits vererg na die herbergier wat nie gou genoeg die nat mantel by hom neem nie.

“ ’n Bottel wyn – van jou beste! Wat ’n vieslike aand!”

Hy stap reguit na die kaggel en hou sy hande na die vlamme uit, en Simone kry kans om sy gesig duidelik te sien. Dis ’n ontevrede, onvergenoegde gesig, hoewel baie aantreklik. Sy kyk na die hande. Mooi en sag en goed versorg. Die hande van ’n edelman. Haar blik sak af na haar eie hande. Gebreekte naels, vel gebars, grof …

Sy sug sag, dan ruk haar asem in haar keel vas.

’n Hand het hare skielik vasgevat en trek dit nou na die lig van die vlamme. Sy kyk verskrik op en haar mantel val terug oor haar skouers, laat haar gesig weerloos oop. Stom kyk sy in die fronsende oë.

“Hoekom lyk jou hande só? ’n Jong dame se hande durf nie so lyk nie!”

“Ek …” Sy probeer haar hand loskry, maar al wat gebeur, is dat hy op een knie voor haar neersak en ook haar ander hand beetkry.

“Morbleu, maar jy is pragtig!”

Sy kyk hom ongelowig aan. Dan trek sy haar hande beslis uit syne. Sy kan nie onthou dat iemand al vir haar gesê het sy is pragtig nie. Daar was nog nooit tyd of geld om haarself pragtig te maak nie. Die vreemdeling spot met haar. Sy weet nie dat sy werklik ’n mooi prentjie in die lig van die vlamme vorm nie, dat sy heel besonders vertoon in haar somber roudrag en met haar grimeringlose gesig nie. Dat daar ’n eteriese skoonheid aan die maer, bleek gelaat kleef nie.

’n Glasie wyn skuif voor haar neergeslane oë in. “Kom drink ’n glasie wyn saam met my.”

“Dankie. Ek drink nie.”

“Jy was besig om te drink toe ek ingekom het. Kom. Nog ’n glasie sal jou warm maak. Jou hande is nog yskoud.”

Sy neem die aangebode drankie aan net om nie verder met hom te redeneer nie.

“Jy het met die koets gekom?” Sy knik net, neem ’n slukkie wyn en hou haar blik stip op die vlamme. “Waar is jou man?”

“Ek het nie een nie.”

“Is hy dood?”

Sy sluk weer, moet dan die vreeslike erkentenis doen: “Ek was nog nooit getroud nie.”

“Nog nooit?” Hy klink eerlik verbaas. “Hoe oud is jy?”

Sy pers haar lippe op mekaar, kyk dan uitdagend op. “Dertig.”

“Ongelooflik! Net ongelooflik!” Sy oë lag in hare af, die slegte bui van vroeër vergete. “Dan moet jy baie minnaars hê.”

Sy voel hoe haar wange verkleur. “Natuurlik!”

Sy hartlike lag weerklink deur die herberg. “Bravo, mademoiselle! Die lewe is daar om te geniet!” Hy hou sy glasie na haar toe uit. “Ons drink daarop – en op ons ontmoeting!”

’n Skielike roekeloosheid neem van haar besit. Hoekom nie? Die lewe is daar om te geniet, en wat het sy tot dusver daarvan gehad? Net harde werk en armoede. Sy kyk op, klink haar glasie teen syne en glimlag in sy oë: “Op ons ontmoeting!”

Later, toe die kos voorgesit word, kyk haar twee reisgenote goedkeurend na die vrolike geselskap aan die onderpunt van die tafel. Dis goed dat die stil meisie wat so treurig gelyk het op die lang reis, lag en vrolik is. ’n Mens is net een maal jonk. En haar metgesel is so ’n galante heer!

Sy hou haar hand oor haar glasie toe hy weer die bottel nader bring.

“O nee, regtig! Ek dink ek het genoeg gehad!”

Maar hy neem haar hand, druk ’n innige soen daarop en gooi weer haar glasie vol. “Jy is te pragtig om te dink! Laat mý toe om vanaand vir jou te dink. Kom ons speel ’n speletjie – ek en jy.”

Haar oë lag in syne. Ook vir speletjies was daar nog nooit tyd nie.

Hy leun nader, sy stem intiem sodat net sy dit kan hoor: “Kom ons speel dis net ek en jy hier. Daar buite guur die wind en swiep die reënvlae neer. Maar ons twee is veilig en warm hier binne voor die vuur, en gister het nooit bestaan nie. Al die dinge wat ons hinder, wat ons kwel, het saam met die wind verdwyn. Dis net ek en jy …”

Net sy en hy, en gister is verby, en daar is geen bekommernisse nie … Geen môre nie, net vandag en hy en die wyn wat warm deur haar bloedstroom gaan …

Die moeë egpaar wend hulle ná die aandete dadelik bedwaarts. Die herbergier, met ’n beterweterige glimlag, sit nog ’n bottel binne bereik van die man wat weer in die diep stoel voor die kaggel neergesak het met die mooi vrou onder sy blad ingekruip. Hy buig, sê goeienag en verdwyn diskreet.

Buite loei die wind om die herberg se hoeke, slaan die reën woedend teen die ruite aan. Maar binne gloei die kaggelhout warm, en word nog ’n leë wynbottel eindelik eenkant toe gesit. Toe haar ken opgelig word, kyk sy met dromerige oë op na die gesig wat oor hare buig, laat hulle dan toeval toe sy lippe hare stadig, meesterlik in besit neem.

Toe sy ’n rukkie later bewus word daarvan dat sy op ’n bed neergelê word, is dit of daar iets vaag in haar benewelde verstand roer. Maar sy hand druk haar saggies terug teen die kussings en sy stem is warm in haar oor.

“Jy is moeg. Jy het ’n ver pad gery vandag. Maak toe jou oë en slaap. Jy is veilig. Ek sal na jou kyk.”

Sy gehoorsaam instinktief. Hy sal na haar kyk. Iemand sal na haar kyk. Sy is nie alleen nie. Daar is eindelik iemand wat na haar sal kyk.

Sy voel koel, skoon lakens teen haar vel. Dan hande, warm en strelend. Sy skuif vaster teen hierdie veilige warmte aan, druk haar wang teen sy bors. Sy het nog nooit so veilig, so gelukkig gevoel nie. Haar hande gaan omhoog, kruip deur sy swart krulle. Sy kreun saggies toe sy mond die holte in haar nek vind.

'n Bruid vir Graaf Debussy

Подняться наверх