Читать книгу 'n Bruid vir Graaf Debussy - Ena Murray - Страница 4
2
ОглавлениеDie volgende oggend wag Simone tot die laaste minuut voordat sy dit waag om die kamer te verlaat. Sy weet dat hulle haar al seker aan die ontbyttafel vermis het, maar gelukkig het niemand kom soek nie. Sy kan egter nie langer wegkruip nie. Die koets gaan nou elke oomblik vertrek.
Sy druk die deur oop, stap in die gang uit en sien die herbergier nader kom. Sy probeer hom nonchalant in die oë kyk, maar terselfdertyd lees sy in sy oë wat sy gevrees het. Hy weet! Hy, en seker ook die res, weet wat verlede nag gebeur het! Daar is ’n mislike draai in haar ingewande.
“Die koets wag, mademoiselle! Is u gereed?”
“Ja, dankie.”
Hy neem haar klein tassie, die enigste bagasie wat sy het, by haar en wys dat sy voor hom moet stap, en weer is die veelbetekenende glimlag om sy mondhoeke. Sy stap met oë strak voor haar gerig die gang af, kyk nie links of regs nie.
Die koetsier kom nader toe hy in die koel oggendlug uitstap. Daar is ’n frons tussen sy oë.
“U het nie kom ontbyt eet nie? Voel u gesond?”
Haar oë fladder sywaarts. “Ja, dankie. Ek eet nooit ontbyt nie.”
“U lyk bleek.”
“Dis maar my kleur.” Sy neem sy arm toe hy haar die treetjies ophelp. Die egpaar sit reeds en kyk haar vanoggend anders aan as gister. Hulle is ordentlike mense. Arm, maar ordentlik.
Hulle het gedink sy is ook soos hulle. Gisteraand was hulle bly dat sy ’n bietjie vrolik was. Sy het hulle gister op pad vertel dat sy onlangs haar ma verloor het en dat sy heeltemal alleen op die aarde is, nou op pad na vriende van haar oorlede moeder. Hulle was bly dat daar so ’n galante heer verskyn het wat haar ’n bietjie kon laat lag. Maar lag en vrolik wees is een ding. Wat hulle vanoggend moes aanhoor, is iets anders. En sy het so ordentlik gelyk. Wys jou maar net, vandag se dae kan ’n mens nie meer peil trek op wat die oog sien nie.
Sy trek die hoofbedekking van haar mantel weer oor haar en verskuil so haar bleek gesig teen die amper vyandige blikke van haar medereisigers toe die koetswiele begin draai.
Strak staar sy na die landskap, maar sien niks raak nie.
Toe sy vanoggend wakker word, was sy alleen in die kamer. Sy het vervaard orent gesit en kon nie haar omgewing dadelik plaas nie. Toe het herinnering teruggespoel, het sy onthou dat sy gister in ’n koets was op pad na die landgoed waar die Vilars arbeiders in diens van ene graaf Debussy is. Haar blik het deur die kamer gedwaal waar sy in die middel van die groot bed regop gesit het. Sy kon dit glad nie onthou nie. Maar sy het dadelik iets anders onthou. En eers het ’n warm gloed en toe ’n koudheid oor haar liggaam gesprei, en sy het die lakens hoog teen haar ken opgetrek, bewus daarvan dat haar naakte liggaam daaronder aan die bewe gegaan het.
Haar oë het beangs deur die kamer gesoek, maar daar was geen teken van ’n man of ander bagasie behalwe haar eie powere tassie langs die bed nie. En daar langsaan het haar klere in ’n bondel op die vloer gelê …
Dit was of haar verstand geweier het om te aanvaar wat met verblindende skok tot haar deurgedring het. Sy het teruggeval teen die kussings, haar oë gesluit, die bewerasie en verskriklike naarheid in haar ingewande probeer ignoreer. In haar slape het ’n hoofpyn begin klop.
In die eerste oomblikke van besef was sy verlig en dankbaar dat hy weg was, vir goed weg was, soos die afwesigheid van bagasie getuig het. Daarna, toe nugter verstand die newels van skok begin deurdring het, het verligting en dankbaarheid plek gemaak vir ontsteltenis en skaamte, ’n gevoel van verguising wat sy nog nie by die naam kon noem nie, omdat dit iets is wat tot op hierdie oomblik aan haar onbekend was. Maar nou, terwyl die koetswiele haar al nader na die landgoed van die Debussys bring, kan sy die naakte feite nie omseil nie. ’n Vreemdeling – een wie se naam sy nie eens ken nie – het haar verlede nag gebruik, en vanoggend toe sy wakker word, was hy reeds weg!
Nou, terwyl nugterheid en realiteit weer terugkeer, kan sy nie glo dat dit werklik sy was wat te veel wyn gedrink en toegelaat het dat ’n naamlose vreemdeling haar optel en kamer toe dra nie. Alles wat gisteraand en gedurende die nag gebeur het, druis in teen haar opvoeding en haar beginsels, teen alles wat haar ma haar geleer het, al die jare by haar ingeskerp het. Haar ma …
Die trane rol stil, geluidloos oor die bleek wange, en sy laat hulle ongehinderd rol, sodat die oë in die oorkantste hoek niks sien nie. Op hierdie oomblik moet haar ma in haar graf omdraai. Sy probeer verskoning soek. Sy het so bitter alleen en verlate en verlore gevoel. So verdwaal buite die grense van die klein wêreldjie wat sy geken het. Sy het so verskriklik behoefte gehad aan simpatie en begrip, aan teerheid en beskerming.
Maar die verskonings is nie bestand teen die groot aanklag van haar gewete nie. Wat haar amper die slegste laat voel, is dat sy nie eens die man se naam ken wat haar onteer het nie! En weer sidder sy voor die enigste verskoning wat sy kan aanbied – dat haar verstand benewel was van al die wyn wat vir haar geskink is! Sy kan nie eens aanvoer dat sy jonk en onskuldig is nie! Sy is al dertig en sy ken die feite van die lewe. Daar was al ’n paar mans wat met haar wou trou, maar sy was nie gretig om een van hulle as haar man te aanvaar nie. En Moeder, liewe Moeder, het ook altyd gekeer, altyd gesê dat daar iets beters vir haar in die lewe wag as ’n kleinhoeweboer van Marseille. As sy maar geweet het … Goddank, sy is dood. Sy sal nooit weet hoe hierdie dogter vir wie sy sulke hoë idea-le gekoester het, geval het nie. Sý is nou nie meer goed genoeg vir die kleinhoeweboere wat haar ma destyds nie goed genoeg vir háár geag het nie. Sy is nie eens goed genoeg om in ordentlike geselskap, soos dié van die egpaar saam met haar in die koets, te verkeer nie! Dit vertel die oë haar wat op haar rus en dan vinnig wegkyk. Vandag probeer hulle geensins ’n geselsie aanknoop nie. Hulle doen hulle bes om haar teenwoordigheid te ignoreer.
Soos die koetswiele voortrol, droog die trane op haar wange, kry sy dit reg om die verskriklike skaamte en skuldgevoel terug te druk in die seer, geskokte hart. En dáár begin iets ontkiem, iets wat eendag net ’n bitter vrug kan dra, so bitter soos die smaak wat op hierdie oomblik in haar mond is – want wrok en weerwraak het nog nooit ’n soet vrug gedra nie. Eendag, eendag sal sy die vreemdeling van gisteraand weer raakloop. Hy sal haar waarskynlik nie onthou nie, want sulke mense het gewoonlik ’n kort geheue. Vir hom was dit net ’n tussenspel, ’n grappige insident. Nee, hy sal haar nie eens herken as hy haar na ’n ruk weer sien nie. Maar sy sal hóm herken. O, sy sal hom onmiddellik herken. ’n Mens vergeet nooit die persoon wat jou selfrespek skielik aan skerwe om jou laat lê nie.
Toe die koetsier die perde inhou en die koets tot stilstand bring, kyk sy met ’n onverskillige blik op toe hy die deur oopmaak.
“U wou by die Château D’Ussé afklim. Ons is nou hier. Moet ek inry?”
Sy skud haar kop, tas na haar sak. “Dis nie nodig nie, dankie. Ek stap sommer hierdie entjie.”
Sy klim uit, draai halfpad om om haar medereisigers te groet, en het dan nie genoeg moed daarvoor nie. Met ’n kopknik en ’n gedempte dankie aan die koetsier begin sy stadig aanstap na waar die kasteel tussen talle bome voor haar lê. Dis ’n pragtige toneel, maar die mooi het vir haar uit die lewe verdwyn en sy loop en kyk net reg voor haar voete. Dis moeite om net voort te beweeg. Sy het sedert gisteraand nog niks oor haar lippe gehad nie. En dit kos haar die bietjie moed wat sy nog het om aan te hou loop in die rigting van die kasteel. Sy het eerder lus om om te draai en onder die eerste die beste bos in te kruip en daar te bly lê en te bid dat sy liewer moet doodgaan.
“As jy só bly voortstap, gaan jy die kasteel mis – as dit jou bestemming is,” sê ’n stem skielik skuins voor haar. Sy ruk tot stilstand en kyk op.
Gustave Debussy stap nader en glimlag gerusstellend in die groot oë af terwyl hy haar sak by haar neem. “Ek neem aan jy is op pad na die kasteel?”
“Ja.”
“Ek sal saam met jou terugstap. Jy het afgedwaal van die pad.” Graaf Debussy kyk skuins na haar af, gee voor dat hy nie die geweldige spanning op die bleek gesig sien nie. “Ken jy mense daar?”
“Ja. Die Vilars.”
“Marguerite en Antoine? Maar dis baie gaaf. Twee liewe mense. Hulle is al jare in my diens.”
Haar oë rek. “U is …?”
Hy buig galant, en daar is ’n vreemde bekendheid aan die beweging wat ’n steekpyn deur haar laat gaan. “Ja. Ek is graaf Gustave Debussy. Baie welkom by die Château D’Ussé. Ek hoop jy kuier baie lekker hier by ons.”
Marguerite Vilar frons diep toe sy die twee stadig aangestap sien kom na die huisie wat eenkant tussen die bome staan. Sedert daardie aand toe vader en seun mekaar openlik gekonfronteer het, het die onrus in die Vilars by die dag gegroei, soos die spanning in die kasteel ook opgebou het. Bedags dwaal graaf Gustave rusteloos oor die landgoed en snags van saalagtige vertrek na saalagtige vertrek in die groot kasteel. Graaf Jean-Paul skitter meestal in sy afwesigheid. Of sy afwesigheid iets te doen het met ’n soektog na die skoondogter waarom sy vader gevra het, betwyfel almal sterk. En wanneer hy hier is, is die gespanne stilswye tussen die twee minder uithoudbaar as die gewonder oor waar hy is en wat hy doen wanneer hy weg is. Ou Marguerite se senuwees is klaar. Die maand van grasie spoed ten einde en tot dusver is daar nog geen reaksie op die brief wat sy aan haar vriendin naby Marseille gestuur het nie.
Dan gaan haar hart amper staan. Die vreemde meisie by graaf Gustave is nou naby genoeg om herken te word. Simone! Dis Simone wat hier aangestap kom in die geselskap van die graaf!
Sy gooi die vadoek neer en drafstap na buite so vinnig as wat haar plomp, kort gestalte dit toelaat. Simone! Sy kom rooi in die gesig en uitasem voor hulle tot stilstand. Haar oë rek ontsteld toe sy in die bleek gesig met die strak oë kyk.
“Simone! Liewe kind. Waar … waar is jou ma? Waar kom jy nou vandaan, en te voet?”
Die volgende oomblik moet sy en die graaf albei vinnig gryp toe die gas skielik met ’n draaibeweging grond toe sak.
“Mon Dieu! Wat sou gebeur het?” roep die ouer vrou byna huilend uit. Graaf Gustave buk af en skuif sy arms onder Simone in.
“Ek sal haar maklik kan dra. Sy is so lig soos ’n veer.” Daar is ’n bekommerde frons op sy gesig. “Sy het netnou van die koets afgeklim wat hier verby is. Sy was alleen. Daar moes iets ernstigs gebeur het. Sy het nie vir my gesond gelyk nie, amper asof sy in ’n soort beswyming is. Ons moet haar so gou moontlik in die bed kry en ’n dokter ontbied.”
Maar die dokter kan, toe hy eindelik daar aankom, niks verkeerd vind nie behalwe dat die meisie aan skok en uitputting ly. Simone het, nog voordat hy by die Vilars se huisie aangekom het, haar bewussyn herwin, maar Marguerite kon geen woord uit haar kry nie. Sy het net strak voor haar lê en uitstaar, en toe Marguerite moederlik haar bleek gesig met ’n nat lap afvee, het sy skielik in wilde, hartverskeurende snikke uitgebars wat haar uitgeput gelaat het toe sy eindelik weer tot bedaring kom.
Dis vir die Vilars nie vreemd dat graaf Gustave daardie aand weer sy opwagting by hul huisie maak nie. Vir die werknemers van ander adellikes is dit beslis ongehoord dat meester en dienskneg mekaar op so ’n vriendskaplike voet ontmoet. Maar vir Antoine en sy gade is dit niks buitengewoons om die groot, nog fors gestalte van graaf Gustave in hul kombuisdeur te sien verskyn om ’n koppie koffie van Marguerite te bedel nie. Baie aande al het hierdie drie mense saam om die witgeskropte kombuistafel gesit. Vanaand is weer een van daardie aande, en as Antoine en Marguerite ietwat ongemaklik oor sy besoek voel, kom hy niks agter nie.
Hy neem plaas, ontvang sy gebruiklike koppie koffie en laat hoor: “Die dokter sê sy moet baie rus en goeie kos en liefde kry. Hoe gaan dit nou met haar?”
“Sy slaap eindelik. Sy het darem ’n koppie sop geëet. Al wat sy nog gesê het, was dat haar ma sowat ’n maand gelede oorlede is.”
“Dit kan die oorsaak wees van haar toestand, en ook nie.”
Sy twee werknemers kyk hom vraend aan.
“As dit gaan om haar ma se dood, kom die reaksie ’n bietjie lank ná die tyd. Maar nou ja, ons weet nie wat het alles die afgelope maand met haar gebeur nie. Marguerite, ek wil hê jy moet bedags hier by haar bly. Ons sal klaarkom in die kasteel. Ek wil nie hê sy moet alleen gelaat word nie. Sy moet die beste versorging kry.”
Marguerite en Antoine kyk mekaar vinnig aan, en dan vra eersgenoemde ontsteld: “Maar wie sal dan na ú omsien?”
“Marguerite, ek weet ek is vyf en sestig, maar ek kan myself nog help, weet jy? Simone – dis haar naam, nè? – het jou nou nodiger. Sy lyk na ’n goeie kind en sy is heeltemal alleen op die aarde. Ek wil nie hê sy moet verstote voel nie. Laat haar voel sy het ’n nuwe tuiste gevind. Sy gaan tog seker nou by julle bly, nie waar nie?”
“Maar natuurlik! Ek sal nie toelaat dat sy weer teruggaan na daardie ou plasie buite Marseille nie.”
“Dis gaaf.” Die graaf glimlag en staan op. “Mag ek ’n oomblik by haar inloer? Ek weet sy slaap nou, maar …” Hy lyk ietwat verleë. “Ek voel half verantwoordelik vir haar. Hoekom, weet ek nie. Seker maar omdat ek haar langs die pad gekry het.”
Hy staan lank by die voetenent van die bed in die klein kamertjie. Sy oë mis niks, ook nie die hande wat getuig van harde arbeid nie. Dan draai hy om, groet en verdwyn die nag in, terug na die eensaamheid van die groot kasteel. Man en vrou kyk mekaar opsommend aan.
“Vrou, ek sê jou hier gaan moeilikheid kom. Nou wil jy haar nog permanent hier hou.”
“Antoine, jy behoort jou te skaam! Waarheen moet sy gaan? Sy is stokalleen op die aarde.”
“Ja. En wie se skuld is dit? Wel, ek sê vir jou, ek voel aan my gebeente dat daar moeilikheid op ons wag met hierdie meisie op die landgoed.”
“Ag, Antoine, hou tog op met sanik. Jou ou gebeente is al so gedaan dat dit nie meer voorgevoelens kan kry nie. Ek het weer die gevoel sy is op die regte tyd hierheen gestuur.”
“Hm. Ja. Maar jý het darem gesorg dat ’n brief op die regte tyd gestuur is. Wel, vrou, ek sê vir jou, ek hou niks daarvan dat graaf Gustave so gaande oor haar is nie. Daar is ’n ou spreekwoord wat sê …”
“Basta met jou spreekwoorde, Antoine! Jy gebruik hulle die meeste van die tyd tog verkeerd.”
“Nie hierdie keer nie, vrou. Ek sê jou, waar bloed nie kan loop nie …”
“Sal jy stilbly, Antoine! As daar ooit moeilikheid kom, sal dit daardie groot mond van jou wees wat dit veroorsaak en niks anders nie. Simone bly hier. Dis klaar. Natuurlik tot tyd en wyl sy oortrek na die kasteel.”
“Om wat daar te maak?”
“As die gravin Debussy, natuurlik. Jean-Paul gaan smoorverlief raak op haar. Ek weet dit. Ek voel dit aan my gebeente.”
Antoine snork. “Hmpf! Los dit maar, vrou. Jóú gebeente kan ook niks voel nie. Daar is te veel vet om.”
Jean-Paul voel in hierdie dae verder van verlief raak as ooit tevore. Sy lewe is taamlik deurmekaar. Niks wil meer glad verloop nie. Hy en Frances stry skielik openlik en vurig. Hy moes, soos baie mans voor hom, uitvind dat hy dinge begin het wat liewer moes gebly het. Soos om met Frances Malraux ’n verhouding aan te knoop. Hy kom nou agter dat dit baie makliker is om ’n verhouding te begin as te beëindig. Daar is vrouens – soos Frances Malraux – wat hulle nie so maklik eenkant toe laat skuif nie.
Hy het lankal begin besef dat die verhouding te vurig is, maar ook besef dat die afkoeling stelselmatig sou moes plaasvind. Frances is ’n wêreldwyse, gevaarlike vrou. Jy maak haar nie een oomblik vurig die hof en keer die volgende oomblik jou rug op haar nie. Dis iets wat sy net nie sal duld nie. Dit kan dan selfs gebeur dat Jean-Paul nie lank genoeg leef om iemand in haar plek te kry nie. Frances Malraux het vriende in alle klasse van die samelewing, en sommige van hulle, weet hy kan ’n dolk dodelik akkuraat gooi.
Sy pa se openlike en alombekende ontevredenheid met die verhouding was tot dusver baie nuttig vir hom, anders het Frances hom miskien al lankal gedwing om haar die gravin Debussy te maak. Frances Malraux het, behalwe ’n liefde vir mans, ook ’n geweldige liefde vir geld en status – seker omdat sy, soos sy pa dit kaalkop stel, ’n kind van die agterstrate van Parys is. Daarom dat sy seker gemaak het dat sy haar kloue goed en deeglik in die jong Jean-Paul slaan, want hy kan haar gee wat sy begeer – ’n titel en besittings. Maar sy weet ook dat dit slegs haar deel sal kan word nadat die graaf oorlede is. Frances wag dus maar gefrustreerd en woedend vir die dag dat graaf Gustave se doodstyding deur Frankryk trek.
Intussen buit Jean-Paul die situasie ten volle uit. Hy is hoegenaamd nie van plan om ooit met Frances Malraux te trou nie, en sy pa se heftige beswaar teen haar beskerm hom. Maar nou het sy pa met ’n ander slenter gekom – een wat hom die afgelope drie weke baie hoofbrekens besorg het. Sy ongeërgdheid oor sy pa se dreigement van onterwing was pure bluf. Dis geen grap om vandag ’n titel en geld te besit en môre net ’n lid van die hoipolloi met geen besittings hoegenaamd te wees nie. Hy sien daagliks hoe dit gesteld is met die verarmde adellikes. Die feit dat hy dan van Frances Malraux se klewerigheid ontslae sal wees, is geen troos nie.
Jean-Paul is beslis ’n bekommerde man.
En asof hy nie reeds genoeg bekommernisse het nie, moet hy nog daaraan toevoeg. Hy kan die nag in die herberg nie uit sy gedagtes kry nie. Tydig en ontydig duik die insident by hom op en voel hy die prik van ’n skuldgevoel. Nie dat hy nie meer as genoeg verskonings kan aanvoer nie. Hy en Frances het daardie aand ’n hewige uitval gehad. Sy het hom daarvan beskuldig dat hy ’n slapperd is wat hom deur sy pa laat voorskryf. Frances sal, as sy moet verneem dat hy onverwags getroud is, niks daarvan dink om die grootste skandaal in die Franse geskiedenis te ontketen nie. Dan sal hy nie net getroud wees met ’n vrou wat hy nie wil hê nie, maar sy pa sal hom daar en dan summier uit die kasteel jaag. Gustave Debussy se lewe was tot dusver onbesproke. Hy is ’n man van hoë integriteit, geëer en gerespekteer deur adellikes én gepeupel. Hy sal ’n skandaal nie duld nie.
Hy moes Frances dus vertel dat sy pa hom wil dwing om met ’n vrou van sý keuse te trou, en daardie aand het hy haar agterstraatwoordeskat deeglik leer ken. Hy kon hom regtig afvra wat hy ooit in hierdie vrou gesien het. Vir die eerste keer het hy met haar ware mentaliteit te doen gekry, en hy het met afsku van haar af weggedraai. Sy het, om Gustave Debussy se woorde te gebruik, soos ’n straatslet getier en gevloek, en hy het siedend van woede, veral vir homself, padgegee in sy koets voordat hy dalk kon vergeet dat hy ’n heer is.
Eers wou hy afdraai na die taverne waar hy en sy maats uit die burgerstand gewoonlik vergader. Toe het hy daarteen besluit. Hy sou by die herberg op pad na die kasteel aandoen, vir hom ’n bottel wyn of twee koop en daar sy woede en kommer probeer afsluk. In die bui waarin hy was, wou hy liewer nie daardie aand terugkeer na die kasteel nie.
Wat daarna gebeur het, kan hy self kwalik glo. Hy was beslis nie in ’n amoreuse bui toe hy nat en koud die herberg ingebars het nie. ’n Roekelose bui, ja. Hy was daarop uit om hom dronk te drink en al wat vroumens en graafskap en erfenis is, te vergeet. En toe sit die bleek meisie daar in die vuurlig, en sy lyk nes ’n bang hasie wat deur die honde in ’n hoek gekeer is. Aan die begin het hy eerlik geen idees in sy kop gehad nie. Snaaks, dit was haar hande met die gebreekte naels, gebars en vereelt, wat sy aandag vasgevang het. Hy wou haar net ’n bietjie wyn gee. Dis al. Die arme ding het gelyk of sy elke oomblik kon omkap. Nie dat hy ’n duiwel omgegee het nie. Nie regtig nie. Op daardie oomblik was hy siek en sat vir vroue. Hulle is net daar om jou uit te suig en jou lewe te kompliseer.
Na die duiwel met al wat vroumens is, goed of sleg, het hy vir homself gesê. Toe het die kappie van haar mantel teruggeval. Sy was nie mooi nie. Hy weet hy het gesê sy is pragtig, maar dit was nie die regte woord nie. Iets anders, besonders, sou ’n beter beskrywing gewees het. En hy kon aanvoel, eerder as sien, dat sy ook met probleme geworstel het. En hy het besluit sy kan saam met hom ’n wyntjie drink. Hulle kon saam hulle probleme afsluk, al was dit net ’n tydelike oplossing.
Wanneer presies dinge in ’n ander rigting begin ontwikkel het, kan hy glad nie onthou nie. Sy was so vreeslik eerlik omtrent haar ouderdom. Dit het haar al klaar van die meeste vroue onderskei, want hy het nog nooit een ontmoet wat dit nie probeer verbloem nie. As hulle nie ’n paar jaar bylieg nie, dan trek hulle ’n goeie klompie af, soos Frances gedoen het toe hy haar die eerste keer ontmoet het. Dit was eers heelwat later dat hy ontdek het sy is ’n hele paar jaar sy senior. Maar hierdie een het sommer pront erken sy is dertig, en, byna ongelooflik, ook erken dat sy nog nooit ’n man gehad het nie.
En omdat sy met alles so doodeerlik uitgekom het, het hy haar woord nie betwyfel toe sy erken dat sy baie minnaars het nie.
Daarom het die verdere verwikkelinge sy benewelde verstand nie te veel gepla nie. Sy is nie regtig anders as ander vroumense nie, het hy homself wysgemaak toe hy haar in sy arms optel. Daar is nie ’n goeie vrou vir hom in die hele Frankryk te vinde nie. Sy pa praat van inbors! Ba! Van die armste met die vereelte hande tot dié met pophandjies is ewe verrot!
Dit was eers die volgende oggend toe hy wakker word en sy soos ’n soet kind rustig in sy arms lê en slaap, dat die waarheid hom met ’n verblindende slag getref het: Daar ís nog goeie vroumense te vinde. Hier is een van hulle, of miskien die enigste in Frankryk. Hy weet van baie adellike dames wat ná die rewolusie hul liggame op straat gaan verkoop het vir kos. Toe die honger begin knaag, het die adellikheid vinnig vlerkies gekry. Maar hierdie meisie … Haar hande vertel dat sy haar brood op eerbare wyse verdien. Hierdie meisie is op dertig nog ’n maagd. Was …
Skuldgevoel en skaamte soos hy nog nooit tevore ervaar het nie, het in hom opgestu. Hy het die gevoel gekry dat hy iets baie moois en reins – begrippe wat vandag skaars is in Frankryk – brutaal vernietig het. Toe het die woede gekom, want die woede het die skuldgevoel draaglik gemaak. Hy kon haar gerus iets aandoen op daardie oomblik.
Hoekom het sy vir hom gelieg? Hoekom voorgegee sy het al talle minnaars gehad terwyl sy nog nooit eens één gehad het nie? Sy het daarvoor gevra! Sy het gesoek daarna!
Hy het versigtig langs haar uitgeskuif, sy klere aangepluk, sy bagasie gegryp en gemaak dat hy wegkom. Die kamer se mure het hom vasgedruk. Met ’n kloppende hoofpyn, óf van die baie wyn, óf van skok, het hy sy koets bestyg.
Hy het sy verstand doelbewus gesluit vir die vorige nag se episode en probeer konsentreer op sy groot probleem. Oor ’n raps meer as ’n week moet hy ’n vrou trou, of … Waar de duiwel moet hy een kry, én een van inbors? Ba!
Maar as Jean-Paul oortuig is dat hy in die hele Frankryk nie ’n vrou gaan kry waarmee sy pa tevrede gaan wees nie, is graaf Gustave oortuig dat hý wel een gevind het. Of liewer, sy het vanself, asof gestuur, op sy landgoed aangestap gekom.
Simone kyk selfbewus op toe graaf Gustave se gestalte weer die deur van die klein slaapkamertjie in die Vilars se huis vul. Sedert sy twee dae gelede hier aangekom het, verskyn hy gereeld soggens om te verneem of sy die nag goed gerus het. Dan trek hy ’n stoel nader en neem langs haar bed plaas, en begin kalm gesels oor ditjies en datjies, tot sy haar ergste selfbewustheid verloor het. Namiddae kom hy weer, kom sit langs haar bed en knoop op sy rustige, vaderlike manier ’n gesprek aan. Eers het net hy gepraat en het sy stil lê en luister. Maar mettertyd het hy reaksie by haar ontlok en het sy begin saamgesels. Baie diplomaties het hy begin om haar lewensverhaal uit haar te trek. Nie dat daar veel te vertelle was nie. Toe sy haar verstand gekry het, was dit maar sy en haar oorlede moeder op die plasie net buite Marseille.
Sy glimlag nou effens. “Mamma wou nooit hê ek moes haar op die plasie help nie, maar ek het, toe ek groot genoeg was, stilletjies gegaan en dingetjies gedoen, sodat dit klaar was as sy daarby uitkom. Ek het haar so jammer gekry. Sy het so hard gewerk.”
Haar oë verteder in herinnering. Later het haar ma sieklik geword, en outomaties het die pligte op die jonger skouers geval. Dikwels, onthou sy, het sy die huis ingekom en haar ma in trane aangetref. “Dis so ’n onreg, my kind. So ’n onreg dat jy so hard moet werk, soos ’n gewone arbeider.” En altyd het sy dit weggelag en vrolik geantwoord: “Maar ek is net ’n gewone mens, Mamma. En ek gee nie om nie. Ek geniet die plaaswerk.”
Maar dit was nie regtig so maklik nie. Sy moes altyd haar hande wegsteek vir mense en daar was nooit geld vir die gewone goedjies waarna ’n jong meisie se hart hunker nie. Daar was in elk geval ook nooit ’n geleentheid waarvoor sy mooi kon aantrek nie. Soms het sy tog ’n bietjie gesellig met die ander jong mense van die kleinhoewes verkeer, maar nooit werklik eie met hulle gevoel nie. En die huweliksaanbiedinge wat sy gekry het, kon sy na waarde skat: Elkeen het in haar ’n flukse vrou gesien wat, as dit nodig sou word, ook met die plaaswerk sou kon help. Nee dankie. En so het die jare verbygerol …
Daar is ’n diepe deernis in die ou graaf se oë. “Het jy enige planne vir die toekoms?”
Sy lag haar verleë laggie. “Nee. Mamma het, voordat sy siek geword het, gepraat dat ons twee moet emigreer. Maar toe word sy siek. Nee, ek het geen planne vir die toekoms nie. Ek weet eintlik nie wat ek moet doen nie. Die paar frank wat ek vir die kleinhoewe gekry het, gaan my nie ver bring nie. Ek sal moet werk soek.”
Die graaf aarsel en kyk fronsend voor hom uit. Dan lig hy sy kop vinnig op, asof hy tot ’n besluit gekom het. “Jy hoef nie werk te gaan soek nie, liewe Simone. Jou dae van werk is verby, ma petite. Ek wil jou vra om hier te bly, hier in die Château D’Ussé … as die gravin Debussy.”