Читать книгу Baas van Babilon - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

Met ’n sug van verligting bereik Salome die laaste treetjie en stap in die rigting van hul woonsteldeur. Haar bewegings is traag soos een wat lewensmoeg is; die skouers hang asof ’n onsigbare las daarop druk. Daar is ’n moeë trekkie om haar mond, diep kommer in die ligblou oë. Sy verskuif die swaar pak papiere van die een arm na die ander om die woonsteldeur oop te sluit, en frons dan. Die deur staan op ’n skrefie oop. Sou Deon al terug wees? Dan sal dit vandag heeltemal ongewoon wees, want gewoonlik gaan hy eers smiddae na die klub voordat hy huis toe kom. Sy stoot die deur met haar skouer oop en stap binne.

’n Oomblik staan sy roerloos en kyk na die man wat met sy rug na die vertrek voor die venster staan en uitkyk op die verkeer twee verdiepings ondertoe. Hy draai stadig om, sy gesig onleesbaar toe hy die skraal gestaltetjie ’n rukkie staan en beskou. Dan sê hy beleef maar op ’n veraf, effense kil toon: “Goeiemiddag.”

Salome sit eers die swaar pak papiere – ekstra tikwerk wat sy saans tuis doen – op die tafel neer en sê dan: “Goeiemiddag. Hoe … Ek bedoel, hoe het jy ingekom, meneer?”

“Ek het die opsigter gevra om vir my oop te sluit nadat ek hom eindelik kon oortuig dat ek wel Deon se broer is. Ek was nie van plan om heeltyd op die sypaadjie te staan en wag nie.” Toe sy hom net staan en aankyk, vervolg hy effens geïrriteer: “Wel, wie is jy, juffrou?”

“Ek is Deon se vrou.”

Die onleesbaarheid verdwyn van sy gesig. Dis duidelik dat hierdie aankondiging hom skok. Die veraf koelte in sy stem verander in ’n ysigheid soos uit die hart van die Noordpool.

“Werklik?”

“Ja, werklik … en wettig. Wil jy ons huweliksertifikaat …?”

“Ja. Ek sal dit nogal graag wil sien, maar daar is geen haas nie. Sê my …”

“Dankie.” Ook haar stem hou openlike vyandigheid in, maar hoekom, weet sy self nie. Dis net dat die man hier voor haar – Deon se broer, soos hy hom voorgestel het – haar met sy selfversekerdheid en meerderwaardigheid irriteer en – dit verstaan sy nog minder – onrustig maak. Sy is moeg, tot sterwens toe moeg na siel en liggaam. En omdat Salome instinktief aanvoel sy sal verloor as sy kragte met hierdie man meet, maak dit haar opstandig en vyandig. Sy het genoeg bekommernisse sonder dat ’n onbekende broer van Deon uit die niet voor haar moet opduik en nog meer moeilikheid en probleme vir haar kom skep. Sy is seker dat dit wel so gaan wees. Die man se skielike verskyning kan niks goeds inhou nie, te oordeel na sy gesigsuitdrukking en die kil, veroordelende oë.

Waar sou hy so skielik vandaan kom en hoekom hoor sy vandag eers dat Deon ’n broer het? wonder sy suf en wink met die hand, duidelik teësinnig maar met ingebore beleefdheid: “Wil jy nie sit nie, meneer De Ridder?”

“Dankie.”

“’n Koppie koffie of tee vir jou?”

“Ja, dankie, koffie sal lekker wees – as dit nie te veel moeite is nie. Of ons kan maar wag totdat Deon kom. Ek neem aan hy sal seker ook binne enkele oomblikke hier wees, nie waar nie?”

As sy stemtoon fyn sarkasties is, merk sy dit nie op nie. Haar antwoord is gelykmatig.

“Nee. Ek verwag hom nie gou nie. Hy kom gewoonlik eers laat van die klub af.”

Die wenkbroue skiet omhoog.

“Die klub?”

“Ja. Hy gaan gewoonlik ná werk eers ’n rukkie daar aan.”

“So? En watter soort … e … werk doen hy, mevrou?” vra hy net so formeel soos sy, en hierdie keer kan sy die sarkasme in sy stem nie ignoreer nie.

“Hy is ’n verkoopsagent.”

“Ek verstaan.”

Hierdie keer is sy stemtoon so droog dat dit boekdele spreek, en sy verdwyn vinnig die kombuisie in. Toe sy die koppies regsit, sien sy dat haar hande bewe. Sou hierdie verlore broer van Deon onmiddellik weet wat sy die afgelope ruk sterk vermoed – dat Deon net so min verkoopsagent is as die man in die maan?

Hy neem beleef die skinkbord by haar. Nadat sy gaan sit het, steek hy ’n sigaret aan en vra dan reguit: “Hoe lank is julle al getroud?”

“Vier maande.”

“Hoe lank het julle mekaar geken voordat julle getroud is?”

’n Klein bietjie van haar selfbeheersing gee mee. As die man net nie vandag opgedaag het nie, nie vandag terwyl sy in gees en liggaam ’n laagwatermerk bereik het nie. Op ’n ander dag sou sy geweet het hoe om hom te hanteer, hoe om vrolik en ongeërg en selfversekerd voor te kom, hoe om sterk te staan teen sy snydende sarkasme en kil, veroordelende oë. Maar vanmiddag verg dit haar laaste bietjie krag. Sy moet haar inspan om aan die laaste bietjie trots in haar vas te kleef sodat hierdie man, hierdie onbekende broer van Deon, niks agterkom nie. Tog, toe sy in sy oë opkyk, weet sy dat hy reeds genoeg tussen die reëls gelees het; reeds baie dinge vermoed, selfs daarvan seker is.

“Is ek in kruisverhoor, meneer De Ridder?”

“Dis doodnatuurlike vrae wat ek as belangstellende broer vra,” is sy egalige antwoord, en sy weet dat hy gelyk het. Natuurlik is dit doodnatuurlike vrae van ’n verbaasde swaer aan ’n nuutgevonde skoonsuster. Toe sy niks sê nie, vervolg hy, en dis skielik asof sy stem die ergste skerpheid verloor het, hoewel dit nog steeds onpersoonlik klink: “En aangesien ons nou familie is, en nogal naby familie, is dit seker nie nodig om my so formeel aan te spreek nie. My naam is Calvyn.”

Sy laat haar ooglede sak, en toe die ligte blos van haar wange verdwyn, merk hy dat sy nog ’n bietjie bleker lyk as netnou. “Hulle noem my Salome.”

Hy kyk haar ’n rukkie stil aan. Salome …

“Jy sê Deon is by die klub? Ek neem aan dit sal een van die rykmansklubs wees. My broer het nog altyd baie fyn en duur smaak geopenbaar, veral wanneer hy nie self daarvoor moet betaal nie.”

Sy knik net en laat toe dat sy sarkasme soos ’n vloedgolf oor haar spoel. Dis of sy net nie meer die krag het om teenstand daarteen te bied nie.

“Jy lyk nie na Deon nie, of liewer, hy lyk nie na jou nie.”

Sy sê dit sommer, net om iets te sê, en sy antwoord kom dadelik: “Ons is net halfbroers. Ek is uit my pa se eerste huwelik gebore. Deon kom uit die laaste. Daar is nog ’n suster ook. Ria is ook uit die tweede huwelik.”

“O.”

’n Oomblik van gespanne stilte volg terwyl Salome haar oë stip op haar gevoude hande hou.

“Het hy jou werklik niks van ons vertel nie?” Voordat sy nog opkyk en dit in sy oë lees, hoor sy die skeptiese toon in sy stem en weet dat hy haar nie glo nie. Hy dink sy gee maar net voor dat sy niks van Deon se familie af weet nie. Calvyn sê dan ook reguit: “Ek kan kwalik glo dat hy sou swyg oor die feit dat hy ’n De Ridder van Babilon is. Daarop was hy nog altyd trots omdat dit hom goed gepas het om een van die De Ridders van Babilon te wees. Dis al wat Babilon nog vir hom beteken het – om status aan hom te gee. En natuurlik die geld te verskaf wat hy so graag uitmors en nooit self verdien nie. Is hy nog steeds so?”

“Wat … wat bedoel jy?”

“Om geld uit te mors waarvoor hy nie werk nie?”

“Deon werk. Ek het jou reeds gesê hy is ’n …”

“Verkoopsagent. Ja, ek het gehoor. So was hy ook, voordat hy weggeloop het, ’n boer op Babilon, maar dit was ’n blote benaming en niks meer nie. Wat hy van boerdery af weet, is gevaarlik. Net so – glo ek – van die verkoopkuns.”

Sy sug saggies. Hoekom loop die man nie liewer nie? Wat het hy in elk geval vandag hier kom maak?

“Jy hou nie van jou broer nie, nè, meneer … e … Calvyn?”

“Nee. Ek hou nie van hom nie. Hy is bedorwe tot in sy siel toe. ’n Groot deel van die skuld, moet ek egter in alle regverdigheid erken, lê voor Ma se deur, maar nietemin is swakheid en lamlendigheid by hom ingebore. Hy sal sy lewe lank ’n kind bly. Hy sal nooit werklik grootword nie. Dit moes jy, as jy enigsins ’n mate van intelligensie besit, ná vier maande van getroude lewe met hom al besef het. Of het jy dit reeds van die begin af geweet, maar ondanks alles tog met hom getrou omdat jy gedink het dit wat agter hom lê, sal die moeite werd wees?”

Sy kyk hom verward aan.

“Wat bedoel jy met: wat agter lê?”

“Babilon. Wat anders?” vra hy droog. “Babilon en die De Ridder-naam en die De Ridder-geld natuurlik. En dan vanselfsprekend die status wat daarmee gepaardgaan. Wat was jy voordat jy met Deon getroud is?”

Die vraag word reguit, koelbloedig gestel en ruk deur haar. Dit grens aan brutaliteit, en sy is meteens lus om hierdie man, hierdie De Ridder van Babilon, die deur te wys. Sy het hóm tot hiertoe nog niks gevra nie – nie eens van sy óf Babilon se bestaan kennis gedra nie. Op stuk van sake is dit sý wat snags tot watter tyd private tikwerk sit en doen om hierdie woonstel se huur te kan betaal. Hy vra nie wié sy was nie, maar wát, en die insinuasie agter die vraag is, om die minste te sê, beledigend.

Maar sy ruk haar kop omhoog en die blou oë kyk vas in syne totdat sy ewe reguit antwoord: “Ek was ’n tikster, ’n doodgewone tikster met ’n middelmatige salaris. Ek het nie meer ouers nie, maar toe hulle nog geleef het, was ons arm, brandarm soos die spreekwoordelike kerkmuis.”

“En toe loop jy vir Deon raak, en jy word ’n De Ridder, of liewer, besluit toe dadelik dat jy nie hierdie kans deur jou vingers kan laat glip nie, want Deon het natuurlik soos altyd uitgebasuin wie en wat hy is. Hy het ses maande gelede van die plaas af weggeloop, gedros, en julle is reeds vier maande getroud. Jy het nie gras onder jou voete laat groei nie.”

“Nee, ek het nie. Ons het mekaar presies ’n week geken toe ons getroud is.” Sy weet nie hoekom sy dit sê nie, want dis net water op sy meul, maar dis of sy nie meer omgee wat hierdie man van haar dink nie. Hy dink in elk geval wat hy wil, het sy klaar agtergekom. Dit is ook waar dat sy en Deon mekaar presies ’n week geken het toe hulle getroud is. Sy kan hom vertel van daardie week, hoe sy Deon toevallig ontmoet het, hoe hy haar dadelik die hof begin maak het, uitgeneem het – ’n sjarmante Don Juan met die mooiste maniere, die gladste tong, die oulikste sêgoed, die hartstogtelike minnaar wat die onervare jong meisie binne ’n paar dae geheel en al van haar voete gehad het.

Ja, sy kan hom vertel van daardie week, hoe sy probeer keer het, sonder oortuiging maar darem, dat hulle mekaar eers beter moes leer ken, eers meer van mekaar moes weet voordat hulle trou, maar hoe Deon al hierdie verskonings weggelag het met sy oorwinnaarsglimlag en dit opsy geskuif het met die woorde: “Daar is ’n leeftyd voor om mekaar te leer ken, liefste. En wat het familie met die saak uit te waai? Ons trou met mekaar, nie met die familie nie.”

Voordat sy heeltemal besef het wat aangaan, was die goue trouring om die vinger en die leeftyd waarvan Deon gepraat het, het begin. Ná vier maande … ná vier maande voel dit vir haar asof die leeftyd amper verby moet wees, want sy het hom wel deeglik leer ken, veral vanmiddag.

Sy roer onrustig. Dis dislojaal van ’n vrou om sulke gedagtes oor haar man te hê, maar die waarheid kan sy ook nie ontwyk nie. Hierdie Calvyn het dinge gesê wat sy begin vermoed het. Hy het gesê Deon is ’n kind en sal altyd een bly, en diep in haar hart weet sy dat dit waar is. Deon, haar man, is ’n kind wat nie die vaagste begrip het van die verantwoordelikhede wat die huwelik op ’n man lê nie. Hy is nog steeds die jong man wat haar vurig die hof gemaak het; die laggende, sjarmante jong man wat vier maande gelede alles, ook elke protes, van hom afgeskud het met ’n ongeërgde beweging van die skouers.

Deon is nog nie ’n getroude man nie, sal dit nooit wees nie. Maar sý het hierdie afgelope vier maande van ’n jong meisie in ’n vrou ontwikkel – ’n vrou wat te veel en te groot verantwoordelikhede moet dra; ’n getroude vrou met kommer in haar hart en onrus in haar oë.

Maar hierdie dinge kan sy Calvyn nie vertel nie. Hy sal nie verstaan nie … en nog minder glo. Daarom vertel sy hom net die kale feit. Hulle het mekaar ’n enkele week geken voordat hulle getroud is. Sy sien hoe sy lippe ferm saamtrek, sien die blits in sy oë. Presies wat hy vermoed het … ’n Geldjagter wat haar kloue diep en deeglik binne die kortste tyd moontlik in Deon de Ridder ingeslaan het om by Babilon en sy status en sy geld uit te kom; ’n kerkmuis uit haar eie mond – wat dadelik besef het hier is ’n slag te slaan; iemand wat tot dusver ’n ronde nul was, ’n krummeltjie wat deur die De Ridder-naam skielik brood kon word, skielik ook haarself iets kon noem net omdat ’n De Ridder se goue trouring aan haar vinger blink. Sy lees al hierdie dinge in die ysige grys oë asof dit in hulle geskryf staan. Sy weet vir seker presies wat Calvyn de Ridder dink.

Maar selfs ’n kerkmuis het haar trots, haar selfrespek. Laat hom dink wat hy wil! besluit sy roekeloos. Sy het hom nog nooit iets gevra nie en sal hom of elke ander De Ridder van Babilon nóóit iets vra nie. Tot dusver het sy darem daarin geslaag om alleen kop bo water te hou. Op die een of ander manier sal sy dit ook in die toekoms doen sonder die hulp van die De Ridders. Dus, wat maak dit saak wat hy dink?

“Dus erken jy dat jy doelbewus …”

Sy val hom kil in die rede, haar blik uit die hoogte: “Ek erken of ontken niks nie. Hoekom sal ek? En teenoor jóú? Ek het nie nodig om aan jou die hoekoms en waaroms te verduidelik en te verdedig nie. So ook nie Deon nie. Hy is twee en twintig en getroud, en ons vra jou of die res niks nie.”

“Werklik? En waarvan dink jy het julle die afgelope vier maande gelewe?”

“Van my salaris en wat ek ekstra kon verdien. Ek het jóú nog nooit iets gevra nie. Ek het jou vandag die heel eerste keer gesien.”

“Maar nie die eerste keer van my gehóór nie. Daarvan is ek seker. En glo jy werklik dat julle die afgelope maande van ’n tikstersalaris geleef het, en dit nogal met ’n man soos Deon? Moenie my en jou om die bos probeer lei nie, Salome. Was dit nie vir die groot bedrag wat elke maand van Babilon af in Deon se skoot geval het nie, dan …”

“Dis ’n leuen!” Sy is nou wit van woede. “Dis ’n infame leuen! Ek en Deon werk albei. Hoekom sal ons van julle geld aanvaar? Ons het vir onsself gesorg en …”

“Twak! Jy mag dalk uit jou salaris en uit wat jy ekstra verdien die noodsaaklike dinge betaal het, maar elke sent wat Deon in sy sak gehad en soos water deur sy vingers laat stroom het, het van Babilon af gekom. Sy ma het dit self aan my erken, dus help dit nie om jou so goed voor te doen nie. Ek weet alles.”

’n Ontsettende vermoede vat skielik in Salome pos dat hierdie man nie leuens vertel nie.

“Wat … wat het sy ma erken?”

“Dat sy nog elke maand, sedert Deon ses maande gelede van Babilon af weg is, ’n aardige bedraggie vir hom gestuur het. Hy, my liewe skoonsuster, het nog nooit gewerk nie. Verkoopsagent! Ek eet elke klip op Babilon op as hy een enkele ding, van watter aard ook al, die afgelope maande verkoop het.”

“Jy … julle maak ’n fout. Dis nie so nie. Dit … kan nie so wees nie. Ek sukkel dan …” Sy sluk die res van die sin vinnig in. Sy gaan nie aan hierdie man vertel hoe sy sukkel om liggaam en siel aan mekaar te hou nie, hoe dankbaar sy is wanneer Deon ’n slag iets verkoop het en hy die maand se woonstelhuur en kruideniersrekening kan betaal.

Maar as Deon dan werklik elke maand ’n groot bedrag van sy ma af gekry het, wat het hy daarmee gemaak? Sou hy werklik met ’n klomp geld in sy sak sit en toesien hoe sy sukkel om alles wat nodig is te koop en te betaal? Diep binne-in haar ken sy die antwoord: ja, Deon sál, want Deon is nog daar waar alles syne alléén is. Dis sý karretjie en geen ander seuntjie mag daarmee speel nie. Dis sý geld wat sy ma vir hóm gestuur het, en hy alléén sal die genot daarvan hê. Dis mos vir hóm gestuur, nie vir Salome ook nie, want sy ma weet nie eens van die bestaan van ’n Salome nie.

Sy kan haar man se halfbroer net magteloos en woordeloos sit en aankyk, en hy vervolg: “Maar die stroompie het nou opgedroog, want Pa is ’n week gelede oorlede en die bron waaruit hy so mildelik geskep het, is bevries. Dis daarom dat ek weet van hierdie geldstuurdery, anders sou ek dit nooit vermoed het nie, hoewel ek geraai het daar is so iets aan die gang omdat Deon so lank stil is. Ek het vermoed Ma moet hom seker stilletjies voorsien, anders sou hy al lankal teruggekruip het na Babilon, waar hy soos ’n klein koning leef en net sy vingers hoef te klap om te kry wat hy wil hê. Ma het nie meer sulke bedrae waarop sy haar hande kan lê nie. Haar vrees dat haar dierbare, bedorwe brokkie van honger sal omkom, het haar gedwing om na my te kom en te vra of ek nie sal voorskiet solank die boedel nog nie afgehandel is nie.”

“Jy sê sy pa … is ’n week gelede al dood? Hy weet daar niks van af nie.”

“Nee, hoe sal hy ook? Waar moes ons hom in die hande kry? Ma het altyd sy geld na die posagentskap gestuur. Nou en dan, veral wanneer die geldjies min was, het sy ’n kort notatjie sonder adres ontvang. Dit het my ’n hele week gekos om hom uit te snuffel. Ons het flitsberigte oor die radio laat uitsaai, maar julle het dit blykbaar nie gehoor nie.”

“Nee, ons het nie. Deon weet eerlik nie dat sy pa dood is nie. En ek het nie eens geweet hy het nog ’n pa en ’n ma en ’n halfbroer en -suster nie. Ek, arme swaap, vind vanmiddag eers uit dat ek in werklikheid niks weet van die man met wie ek al vier maande getroud is nie.”

“Wel, feit bly dat Deon se fonteintjie opgedroog het. Ek is nie bereid om hom ’n enkele sent verder voor te skiet nie. Ek laat hom ’n keuse. Hy sien self en kom die mas verder op, of hy keer binne ’n week terug na Babilon en kom sy verantwoordelikhede daar na. En hierdie keer gaan hy werk vir wat hy wil hê, dit beloof ek hom.”

“Hoekom wil jy hê hy moet terugkom Babilon toe as jy hom so verag?” vra sy reguit.

“Beslis nie omdat ek hom graag daar wil hê nie! Maar feit bly dat ek en hy Babilon om die helfte erf, op voorwaarde dat ons op Babilon woon. Dan ook bly hy my halfbroer, laat hom wees wat hy wil. Ons het een pa gehad, en dis net ter wille van my oorlede pa dat ek Deon nog hierdie een kans gun. Hy keer terug en ek sal hom help, want ons moet Babilon vir die nageslag bewaar. My pa het dit uit die grond uit opgewerk tot die spogplaas wat dit vandag is, en ook van my lê daar baie sweet. Ek gaan nie ’n enkele sentimeter van die grond van die De Ridders laat vervreem nie.

“Deon kom terug na Babilon, of hy kry niks verder nie. Daar is een ding wat jy en Deon goed moet verstaan voordat julle terugkeer: ek is die baas van Babilon. Deon mag sy deel nie verkoop sonder dat ek daarvoor teken nie, en omgekeerd. Ék sal nooit teken nie. Dit verseker ek jou. Ek sien hom liewer krepeer van ellende voordat dit waarvoor ek en my pa hard gewerk het deur ’n nikswerd uitgemors word. As Deon dus wil voortgaan met sy glanslewe, moet hy binne ’n week terug wees op Babilon, of hy verloor alles. Van sy ma sal hy beslis nie weer geld ontvang nie. Ek beheer alles en ek sal sorg dat sy vir haar persoonlike behoeftes genoeg het, maar beslis nie soveel dat Deon ook ’n luilekkerbestaan daarop kan voer nie. Sê ook dít vir hom.”

“Hoekom moet ek dit vir hom sê? Jy kan mos self …”

“Nee,” sê hy en staan skielik op. “Ná verdere oorweging het ek besluit om hom liewer nie vandag te sien nie. Dit sal beter wees vir ons albei. Ek kan my dalk te buite gaan. Gee jy hom maar die boodskap. Dankie vir die koffie. Ons sien mekaar weer Vrydag op Babilon.”

Sy staan ook op. Klein en fyn is sy voor hom, en sy moet na hom opkyk.

“Ek twyfel.” Sy is baie bleek maar lyk beslis. “Ek dink nie jy moet ons verwag nie.”

Sy wenkbroue trek verbaas op en ’n spottende krul verskyn in sy een mondhoek.

“Ek dink tog ek moet. Ek ken Deon de Ridder langer as jy.”

“Maar jy ken mý glad nie, en ek sterf liewer of, soos jy gesê het, krepeer liewer van ellende voordat ek ’n voet op die wonderlike Babilon sit. Tot hiertoe het ek sonder julle klaargekom. Deon kan ook.”

“Jy praat teen jou beterwete, en jy weet dit. Niks op aarde tel by Deon meer as sy eie gemak en selfsug nie. As jy dit nog nie agtergekom het nie, sal jy dit vanaand besef wanneer jy hom alles vertel. Moet dan nie te geskok wees nie. Ek het jou vooraf gewaarsku.” Hy haal ’n beursie uit sy binnesak en voor haar verstarde oë sien sy hoe hy ’n rol note voor haar op die tafeltjie tussen hulle neersit. “Dis om alles reg te maak voordat julle kom.”

’n Oomblik kan sy hom net verbysterd aanstaar. Nog nooit in haar lewe was sy so beledig nie. Sy bewe so groot soos sy is, toe sy eindelik weer kan praat.

“Hoe durf jy! Ek het jou nie om geld gevra nie! Vat jou geld en loop hier uit!”

Maar hy wend geen poging aan om die pak note te neem nie. Dis eerder asof hy haar ’n oomblik diepdenkend aankyk, asof hy wonder wat eg en wat toneelspel is.

“As jy dit nie wil neem nie, Deon sal beslis. Ek laat dit maar hier. Ons sien mekaar …”

“Ons sien mekaar nooit weer nie!” val sy hom skor in die rede. “Nooit weer nie! Ons sal beslis nie Vrydag op Babilon aankom nie.”

Hy stap aan deur toe. Daar draai hy om, kyk haar vas aan, sy mond weer haatlik smalend: “Julle sal. Tot siens tot dan.”

“Nie ék nie!” Sy gee ’n tree nader, en nou blink die trane en woede en vernedering en ’n diep seer helder in die blou oë. “Ek sal beslis nie kom nie.”

“Dit sal baie dwaas wees. ’n Mens moet darem ’n bietjie baklei vir wat jy wil hê. Of het jy werklik verwag dat, deur net met Deon te trou, die De Ridder-rykdom en wat daarmee saamgaan alles sommer soos ’n oorryp appelkoos in jou skoot sou val? Wat jy beoog het, word nou werklikheid. Dink daaraan, maar jy sal darem ’n klein bietjie moet opoffer van jou kant af.”

“Ek het niks beoog nie!”

“Nie? Wel, kom bewys dit dan … op Babilon.” Hy maak die deur oop. “Tot siens, Salome … tot Vrydag.”

Lank, baie lank staar Salome na die deur voordat sy skielik op die bank neersak en, asof sy geen wilskrag oorgehou het nie, toegee aan die brandende trane. Maar nie lank nie, want Salome is iemand wat deur die harde skool van die lewe geleer het dat selfbejammering jou nêrens bring nie … dat trane miskien verligting bring, maar nog nooit enige probleme opgelos het nie, nog minder ’n rekening betaal het of, soos so pas, ’n dreigende onheil afgeweer het nie. Want dit is wat Calvyn de Ridder en Babilon en alles wat hy gesê het vir haar is – ’n dreigende onheil.

Sy het in ’n arm huis grootgeword. Dit was nie ’n leuen wat sy vertel het nie. Maar sy was nog nooit skaam daaroor nie, het nog nooit selfbewus daaroor gevoel nie. Maar ná die sogenaamde baas van Babilon se besoek, is dit asof sy skuldig daaroor voel, asof dit ’n misdaad is om arm groot te word en dan die vermetelheid te hê om met ’n ryk man te trou. Deon is ’n ryk man, altans, hy kom uit ’n skatryk, vooraanstaande familie. Dis vir haar nuus en iets waaroor sy nooit gedroom het nie.

Weliswaar het sy agtergekom, veral in die maande dat hulle getroud is, dat Deon ’n verfynde en duur smaak het, soos wat sy halfbroer ook fyn sarkasties uitgewys het. Maar ’n mens kry mos maar mense wat so is sonder dat hulle juis werklik van kindsbeen af daaraan gewoond was. Eenkeer het hulle oor familie gesels en toe het Deon gesê dat die paar familielede wat hy het nie van belang is nie en dat hy van hulle vervreem is. Sy het toe maar aangeneem dat hy ’n weeskind nes sy is – en vandag moet sy hoor dat hy ’n ma het, ’n pa tot ’n week gelede gehad het, en ’n broer en ’n suster … en ’n erfenis wat op hom wag – binne ’n week!

Toe sy Deon se bekende voetstappe later by die voordeur hoor, stap Salome vinnig nader, en teen wil en dank is die gevoel van ligte veragting onmiskenbaar in haar; ’n gevoel van ontnugtering, maar meer nog … van vrees – vrees vir die nabye toekoms waarin Babilon en sy onbekende mense so eensklaps hul verskyning gemaak het.

Baas van Babilon

Подняться наверх