Читать книгу Baas van Babilon - Ena Murray - Страница 4
2
ОглавлениеDeon kom onmiddellik agter dat iets skort toe hy nader stap en in sy vrou se koel, veroordelende oë afkyk. Hy frons liggies. Die bande van die huwelik het reeds ná ’n paar maande skaafplekkies begin toon. Hy hoop tog nie Salome gaan in een van daardie kyfagtige, neulerige vroumense ontaard nie. Toe sy haar mond wegdraai toe hy haar wil groet, frons hy liggies, maar vra ongeërg, asof haar antwoord hom nie werklik kan skeel nie: “Is jy kwaad omdat ek ’n bietjie laat is, my skat?”
Sy antwoord hom nie eens daarop nie, maar sê stil: “Jou broer was vanmiddag hier.”
Deon de Ridder se kop ruk omhoog en sy oë vernou.
“My … broer?”
“Ja. Ken jy hom? Hy sê sy naam is Calvyn en hy kom van Babilon.” Toe Deon haar net staan en aanstaar, die eerste keer sedert sy hom leer ken het ’n oomblik lank verslae gelaat sonder ’n enkele woord, vra sy driftig: “Hoekom het jy my nie vertel nie, Deon? Hoekom moes ek van ’n vreemdeling hoor dat jy ouers het en ’n broer en ’n suster, waar jy vandaan kom?”
“Wat wou jy daarmee maak as jy geweet het? Wat maak dit saak?”
Sy kyk hom met ongeloof aan.
“Maar … gee jy dan nie vir hulle om nie? Daar is tog jou ma en pa …”
“Nee, ek gee geen duit vir hulle om nie, as jy dan moet weet. Pa en Calvyn is net eenders, altyd die goeie mense, die flukse mense, die enigste mense, volgens hulself, met ruggraat in die familie. Hul meerderwaardigheid en volmaaktheid maak my siek. Ria, my suster, is ’n marionet wat dans soos wat Pa en Calvyn die toutjies trek. En Ma … haar klewerige, sieklike moederliefde versmoor my. Ek kon dit net nie meer uithou nie! In haar oë is ek presies nog twee jaar oud, en dit is ook die geval met Pa en Calvyn. Ek is ’n blote kleuter in hul oë. Daarom het ek weggegaan van Babilon af, want alles draai net om Babilon en die De Ridder-eer. Ek kon die gesanik nie meer uithou nie: Deon, deur dit te doen, doen jy die De Ridder-eer skade aan. Deon, ’n De Ridder maak nie so nie. Babilon is die De Ridder-erfenis, jy moet dit waardig wees. Dit was om van mal te word!”
Hy swyg ’n oomblik ná die uitbarsting en vra dan kortaf, bot – en nou lyk hy presies soos ’n twee jaar oue peuter: “Wat het hy hier kom soek?”
“Hy het jou kom sê dat jou pa ’n week gelede oorlede is en …”
“Pa oorlede!” ’n Oomblik kyk hy haar verslae aan, en dan, tot haar grootste skok, sien sy ’n glimlag op sy lippe breek. “Nou is ek eindelik ontslae van Calvyn se baasskap. Nou sal ek my deel kry en hulle kan almal in hul peetjie vlieg. Nie weer sal iemand my kom rondbeveel en slegsê nie. Eindelik sal ek kan maak soos ek wil, en die eerste wat ek gaan doen, is om my deel van Babilon in die mark te stoot. Pa het jare gelede gesê ek en Calvyn erf om die helfte.” Hy lag kortaf, smaakloos. “My dierbare halfbroer sal natuurlik beroerte kry daaroor, maar van nou af sal ek doen wat ek wil. Ek sal my nie meer deur hom laat voorsê nie. Ek behoort ’n uitstekende prys vir my deel te kry. Babilon is ’n pragplaas.”
Skielik lag hy hardop, gryp haar om die middel en swaai haar uitgelate deur die lug. “Ons is ryk, my vrou! Skatryk! Ons gaan oorsee sodra ek die geld gekry het.”
Salome voel tot in haar wese geskok oor sy misplaaste vreugde. Op stuk van sake is dit sy pa wat dood is. Maar al waaraan Deon kan dink, is dat hy binnekort ’n groot klomp geld sal hê, geld om uit te mors en ’n luilekker lewe te voer. Maar daar wag ’n ontnugtering op hom.
“Los my, Deon. Ek is nog nie klaar nie. Daar is nog dinge wat jy moet weet.” Hy sit haar neer, maar die breë glimlag bly om sy lippe.
“Nog skatte, my skat? Vertel gou!”
“Calvyn het gesê ek moet jou sê dat julle wel Babilon om die helfte geërf het, maar dat een van die bepalings is dat julle op die plaas moet woon. Dan is daar ’n tweede.” Sy kyk na hom op, en kry hom amper jammer. “Nie een van julle mag sonder die ander se toestemming jul deel verkoop nie. Calvyn het gesê hy sal nooit toestemming gee dat jy jou deel mag verkoop nie. Hy sien jou liewer krepeer van ellende.”
’n Rooi woedeblos styg oor die aantreklike gesig, maar voordat hy kan uitbars, vervolg sy: “Dan moet ons ook oor ’n week op Babilon wees. Jou ma sal nie meer in die toekoms vir jou kan geld stuur nie. Die boedel is bevries en Calvyn is in volle beheer. Hy het gesê hy sal sorg dat niks haar ontbreek nie, maar jy moenie verwag om verder deur jou ma onderhou te word nie.”
Sy sien hoe die blou oë voor haar reguit blik sak, en binne-in haar pyn dit. Dan is dit waar. Deon het elke maand groot bedrae van sy ma ontvang, en hy het haar nooit iets daarvan vertel óf gegee nie.
“Hy het ook gesê dat jy … ons een ding baie goed moet begryp wanneer ons na Babilon terugkeer: hy is die baas van Babilon.”
’n Rukkie luister sy swyend terwyl haar man tier en woed in geen onseker taal nie, maar albei weet dat dit van pure magteloosheid is. Toe hy eindelik moet asemskep, laat sy stil hoor: “Dis vir jou om te besluit, Deon. Maar as jy besluit om na Babilon terug te gaan, gaan jy alleen. Ek gaan nie saam nie. Ek wil liewer hê jy moet besluit om nié te gaan nie. Ons sal regkom. Jy is sterk en gesond, en ek ook. Ons kan vir onsself sorg.”
“Jy is van jou sinne beroof! Dink jy ek sal so ’n erfenis present weggee? Natuurlik gaan ons terug na Babilon. Ek het geen keuse nie. Maar hierdie keer gaan ek as baas van my deel. Calvyn moenie dink hy sal my weer soos ’n kneg behandel nie.”
Hy kyk haar skerp aan. “Jy moet begin reël vir alles. Vrydagoggend vroeg vertrek ons na Babilon.” Sy oë vernou. “En jy gaan saam. Verstaan my goed. Jy is my vrou en jy gaan waar ek gaan. Of is jy bang vir die danige baas van Babilon? Wie is hy altemit? Jy is eenmaal my vrou, en Calvyn sal jou as sodanig moet eerbiedig, of jy nou die De Ridders se klas is of nie. In daardie opsig het hy geen mag nie – ek het hom ’n punt gewys!”
Met ’n yskoue hart staan Salome net na haar man en kyk. Die laaste illusie oor Deon de Ridder verdwyn uit haar hart. Dan draai sy stil om kombuis toe. Maar sy ís gewaarsku, is sy nie? Die baas van Babilon het haar vanmiddag al gewaarsku. Ook in ’n ander opsig het hy gelyk gehad. Hulle sal Vrydag op Babilon aankom.
Stil en woordeloos sit Salome langs Deon in die motor toe hulle deur die grenshek ry, waarop Babilon in groot, versierde letters geskryf staan. Sy hoor vaag hoe Deon verduidelik dat die plaashuis net anderkant die eerste bult lê, dat die veld mooi is, en hy wonder of die nuwe dam al klaar is.
Maar sy hoor hom skaars. Sy is teruggetrek in haar eie klein kokon van stormagtige gedagtes waarin soveel emosies gelyktydig die botoon probeer voer. Totdat hulle die grenshek van Babilon bereik het, was die emosie van ontnugtering heel op die voorgrond – ontnugtering in hierdie aantreklike, jong man van haar – want die laaste paar skille wat nog voor haar oë was, het die afgelope dae, terwyl hulle voorbereidings getref het om na Babilon te vertrek, eindelik alles afgeval. Sy is gedwing om Deon te sien soos hy is, en hoewel sy haarself oor en oor vertel het dat sy hom tog liefgehad het toe hulle vier maande gelede getroud is, het dit inspanning geverg om met hierdie feit saam te leef.
Tevergeefs het sy gepleit en gesoebat dat hulle in die stad moet bly en self hul paadjie oopveg. Eindelik, ná baie rusies, moes sy aanvaar dat Deon beslis weier om “een van die werkende klas” te word, soos hy minagtend daarna verwys het. Sy moes aanvaar dat haar man ’n snob van die eerste water is, ’n luiaard en leuenaar en ’n egoïs tot op die been.
Dit was nie vir haar maklik om hierdie dinge te erken nie, en nog minder om te besef dat sy die res van haar lewe aan so ’n man gebonde is. Want hoewel sy gesê het dat sy nie saamgaan as Deon besluit om na Babilon terug te keer nie, het sy geweet dis ’n leë dreigement. Want Salome is in ’n streng Christelike huis grootgemaak, en daar is sy geleer dat die huwelik ’n heilige instelling is en die huweliksband nie sommer net ontknoop kan word wanneer dit jou pas nie. Salome het ook besef dat sy die enigste moontlike redding vir Deon is. Deon sal altyd ’n sterk vrou nodig hê om op te leun. As sy hom nou in die steek laat, sal hy dalk heeltemal ten gronde gaan.
Miskien, wanneer hulle eers op Babilon is, sal sy Deon taktvol kan lei om sy verantwoordelikhede te aanvaar, sy erfenis te bewaar en te bewerk, en ’n man te word. So dikwels die afgelope week het sy haar afgevra hoekom dit so gebeur het dat Deon de Ridder oor haar lewenspad moes kom, dat hulle so halsoorkop getrou het? So dikwels het sy gewonder hoekom die liewe Vader nie iets laat gebeur het wat so ’n dwase stap kon verhoed het nie. Maar dan besef sy weer opnuut dat alles met ’n doel gebeur. Miskien het Hy juis vir háár uitgekies om Deon de Ridder se vrou te word omdat hy so ’n vrou nodig het. Ja, miskien is sy werklik Deon se redding, en daarom durf sy nie nou ná vier maande sommer net kop uittrek nie. As sy Deon nou moet verlaat, sal sy die res van haar lewe rondloop met ’n gevoel van mislukking, en haar gewete sal haar gedurig aankla dat sy nie alles ingewerp het om van haar huwelik ’n sukses te maak nie.
As hulle net nie nodig gehad het om na Babilon te kom nie. Vandat die grenshek van Babilon agter hulle toegegaan het, voer onrus die botoon in haar. Sy het genoeg van Deon gehoor in verband met sy ma en suster, en daardie middag genoeg van sy halfbroer gesien, om te weet dat sy nie welkom op Babilon is nie, dat sy nie maklik met sy mense oor die weg gaan kom nie. As hulle net nie saam met die res van die gesin in een huis moes woon nie … Maar ook dít sal sy moet verduur, want Deon het onomwonde verklaar dat dit ondenkbaar is om in enige ander huis as die herehuis van Babilon te woon. Dis ’n groot gebou, daar is genoeg plek vir almal, en wat meer sê, die enigste ander huis op die plaas is die voorman s’n wat reeds deur ene Hendrik Jansen bewoon word. Salome het maar stilgebly, maar in haar enigheid gewonder of ’n huis ooit groot genoeg kan wees om haar en Deon se halfbroer te huisves én die vrede te bewaar.
Diep in haar hart erken sy dat dit grotendeels die gedagte aan Calvyn is wat haar so uiters teësinnig maak om Babilon toe te kom. Sy hou nie van die man nie en hy stem haar vreemd onrustig. Van die eerste oomblik dat sy hom gesien het, was sy op die verdediging uit. Daar is ’n vreemde stryd tussen hulle aan die gang, waarom weet sy self nie.
Maar soos Deon telkens uitgewys het, het hy niks oor hulle te sê nie. Hy mag homself as die baas van Babilon beskou, maar in werklikheid het hy geen mag of gesag oor hulle nie. Solank Deon sy deel van die plaas behou en nie wil verkoop nie, is Deon net soveel baas op Babilon as sy halfbroer.
En tog weet Salome intuïtief dat Calvyn de Ridder wel die werklike baas van Babilon is, sonder dat ’n geskrewe kontrak dit stipuleer. Hy is net daardie soort man: ’n gebore leier, ’n man met ’n oorheersende en dominerende persoonlikheid, en ’n man wat sy jonger broer heeltemal oorskadu. Baie beslis is daar geen swakheid in Calvyn de Ridder te bespeur nie. Wel deeglik sal hy in staat wees om sy baasskap op Babilon te handhaaf. Binne enkele oomblikke sal sy deel van Babilon wees en dus vanselfsprekend onder sy selftoegeëiende baasskap val.
Hy het haar tog vooraf gewaarsku: “Een ding moet julle goed verstaan: ek is die baas van Babilon!” Dat hy beslis nie net na die plaas verwys het nie, was baie duidelik tussen die reëls te lees.
Salome sug saggies en staar somber voor haar uit terwyl die motor die laaste rantjie nader. Die toekoms lyk maar donker. Sy is van kleins af ’n onafhanklike wese, gewoond daaraan om te baklei vir wat sy wil hê en bereik, vir haar oortuigings. Maar van vandag af gee sy haar onafhanklikheid, waarop sy nog altyd heimlik trots was, prys en steek haar voete onder die De Ridders van Babilon se tafel in. En dit gaan nie maklik wees nie, juis ook omdat sy ooglopend nie in die De Ridders se “klas” is nie – soos Deon dit so ontaktvol gestel het. En die De Ridders van Babilon is tog so gesteld op hul “klas”!
Die sierlike ou Kaaps-Hollandse herehuis verrys voor hulle toe hulle oor die rantjie ry, en ’n oomblik vergeet Salome al haar kommer. Dis ’n skilderagtige tafereel wat voor haar oopvou, en atmosfeer is soos fyn tapisserie daaroor gehang. Die De Ridders kan beslis trots wees op Babilon. Nou eers kan Salome deels verstaan hoekom Calvyn de Ridder so behep met die plaas is.
Wat sy voor haar sien, besef sy, is nie iets wat in ’n jaar of twee of selfs tien tot stand gekom het nie. ’n Leeftyd se troue arbeid en sorg en toewyding lê hier voor haar. Vir hulle wat dit tot stand gebring het, soos Calvyn, is dit beslis nie net ’n huis en tuin en bome nie, maar iets lewends, iets met ’n siel, iets wat ’n stuk van jouself word.
Vol verwondering en respek laat sy haar blik oor alles gly. Tot nou het sy sulke plekke nog net as buitestander bewonder met die besef dat sulke aardse weelde nie vir haar en haar sogenaamde stand beskore is nie. Maar skielik, vandag, word sy ook deel daarvan en … daar is geen vreugde in haar hart daaroor nie. Sy pas nie hier in nie. Dit kan nie bedoel wees dat sy deel van Babilon moet word nie. Sy sal ’n vreemdeling hier bly. Babilon en sy mense sal haar nooit aanvaar nie.
“Wat dink jy van Babilon?” hoor sy Deon langs haar vra, en sy antwoord met eerlike bewondering:
“Dis pragtig. Ek het nie woorde nie.”
Deon lag grimmig.
“Ja, dis mooi … en Calvyn se afgod. Sy hele lewe draai om Babilon.” Hulle kom voor die huis tot stilstand. “Wel, hier is ons.”
Salome bly roerloos sit. Alles binne-in haar skree dat hulle moet omdraai. Iets waarsku haar dringend dat hierdie plek, so mooi as wat dit is, vir haar net hartseer en verdere ontnugtering inhou. Instinktief weet sy dat daar tussen die spierwit mure van hierdie ou herehuis baie trane op haar wag. Sy draai vinnig met vrees in haar oë na Deon om vir oulaas te soebat, maar Deon het al uitgeklim, is besig om sy halfbroer te groet. Hy stap doelgerig aan voordeur toe, waar twee vroue hul verskyning gemaak het. Nog steeds bly sy sit, nie in staat om die motordeur oop te maak en uit te klim nie. Want dan maak sy ook die deur tot ’n vreemde – en vir haar donker – toekoms oop.
Dan swaai die deur voor haar oop en sy hoor Calvyn de Ridder sê:
“Welkom op Babilon, Salome. Kom, klim af.”
Sy is skaars bewus daarvan dat ’n sterk hand haar ondersteun toe sy eindelik gehoorsaam; dat ’n paar grys oë skerp en ondersoekend op haar bleek gesiggie rus.
“Kom ons stap nader.” Hierdie keer word sy bewus van die hand onder haar elmboog. Salome aanvaar die gebaar dankbaar, al is dit ook die ondersteuning van die man teenoor wie sy van die eerste oomblik af ’n teësin koester. Want hier voor haar, soos twee engele van veroordeling, staan Deon se ma en suster haar en inwag. Was dit nie vir die trek van die hand onder haar elmboog nie, sou sy geen enkele tree kon versit nie.
Dis nie Deon nie, maar sy halfbroer wat die bekendstelling doen, en dit word deur die ouer vrou met ’n stywe knikkie van die kop erken. Salome het nie verwag dat haar skoonma haar om die hals sal val nie, maar sy het darem gedink die vrou sal seker ’n skyn van verwelkoming voorhou. Maar Deon se ma wend nie die geringste poging aan om haar ware gevoelens te verberg nie. Sy is ’n mooi vrou in haar vroeë veertigerjare, maar met ’n stywe, strak gesig sonder ’n sweem van ’n glimlag. Toe Salome in die kil blou oë kyk, weet sy dat sy hier ’n vyand het wat nie ’n snars omgee dat almal dit sien nie.
Dan draai haar oë na die meisie langs haar. Hoewel ook dié nie ’n soen van verwelkoming het of selfs net ’n hand van vriendskap na haar uitreik nie, is daar iets in die donker oë van Ria de Ridder wat haar laat vermoed dat die vyandigheid hier nie so sterk is nie. Haar skoonsuster is eerder waaksaam as vyandig, asof sy eers die nuwe bruid van Babilon goed wil deurkyk voordat sy besluit of hulle vriende of vyande sal wees.
Dis weer Calvyn se hand wat vas om haar elmboog vou en wie se stem die ongemaklike, gespanne stilte ná die bekendstelling verbreek: “Laat ons binnegaan. Julle is seker dors.”
Salome voel soos ’n skaap wat weerloos na die slagpale gelei word toe hulle die voordeur nader.
Ook die binnekant van die huis getuig van geld, weelde en atmosfeer, en beklemtoon weer eens dat die herehuis deur geslagte oor baie jare opgebou is. Nêrens is daar ’n teken van moderne meubels te sien nie. Dis egte, swaar antieke meubels wat die binnekant verfraai, en hoewel sy nie juis kennis hiervan het nie, weet sy darem dat dit ’n fortuin is waarop haar oë rus.
Salome is dankbaar om te kan sit, want dit voel vir haar asof almal kan hoor hoe haar hart bons. Sy sit stil eenkant terwyl sy, soos die res, luister na die gesprek tussen Deon en sy ma. Die vrou straal, en dis vir Salome duidelik dat hierdie seun Joey de Ridder se son en maan en sterre is. Sy hang behoorlik aan sy lippe en lag soms heeltemal uitbundig vir sy sêgoed – dieselfde sêgoed wat sy, Salome, aan die begin so amusant gevind het, maar vandag irriteer dit haar skielik. Was Deon maar altyd so kinderagtig? wonder Salome stil. Of het sy die afgelope maande verander? Sy kyk tersluiks na die ander twee. Ria sit ook stil eenkant en luister beleef, maar lyk nie juis geïnteresseerd nie. Calvyn lyk ooglopend verveeld, asof Deon se praatjies hom ook irriteer.
Hy betrap haar oë op hom en ’n frons keep tussen sy wenkbroue. Dan buk hy oor na haar.
“Ek hoop julle het alles afgehandel gekry voordat julle weg is?” sê-vra hy op sy beleefde toon.
“Ja, dankie.”
“Het jy nie moeilikheid by jou werk gekry nie?”
“Nee, ek het gelukkig heelwat verlof gehad.” Dit raak weer stil tussen hulle en Salome soek naarstig na iets om te sê. Gewoonlik kan sy darem ’n redelik intelligente en onderhoudende gesprek voer, maar dis of haar verstand vandag verwater het. “Julle het pragtige antieke meubels,” laat sy dan eindelik hoor.
“Dra jy kennis van antieke meubels?”
“Nee.” Sy bloos. Dit was so ’n onnodige vraag. Hy behoort tog te weet dat antieke meubels nie in haar sfeer val nie. “Maar selfs ’n leek soos ek kan darem iets egs eien wanneer ek dit sien. Is dit alles erfstukke?”
“Net party. Dit was eintlik my ma wat so ’n liefde vir die ou goed gehad en toe met die versameling begin het. Ná haar dood het ek daarmee voortgegaan, want sy het die liefde vir die egte en die tradisieryke in my gekweek. Elke stukkie wat jy in hierdie huis sien, het ’n klein geskiedenis.”
Salome let op dat sy stem heelwat sagter klink en dat ook sy oë die veraf koelte verloor het terwyl hy van sy ma praat. Dan kyk hy na sy stiefma wat nog steeds net oë vir haar eie seun het. “Ma hou nie veel van die ou goed nie, maar gelukkig het Pa gekeer dat dit alles uitgegooi word en deur moderne dinge vervang is. Babilon se herehuis en wat daarin is, is deel van my erfenis, en nie ’n enkele ding sal hieruit verwyder word nie.”
Dis weer die baas van Babilon wat praat, en Salome besef dat hy sy baasskap ook teenoor sy stiefma handhaaf. Joey de Ridder het die reg om solank sy lewe op Babilon aan te bly, maar dit is al. Ook binne die huis is Calvyn se woord wet, en Salome voel opnuut die beklemming op haar toesak.
Dis ’n verligting om eindelik hul kamer aangewys te word en onder haar skoonfamilie se oë weg te kom. Hoewel haar skoonma haar openlik ignoreer asof daar nie so ’n mens bestaan nie, betrap Salome tog soms haar blik onverwags op haar. Elke keer kan sy die uitdrukking daarin so duidelik lees. Hoewel Deon in sy ma se oë net niks verkeerds kan doen nie, is sy beslis hierdie keer nie tevrede met haar seun nie. Maar sy sal dit nie op haar witbroodjie uithaal nie. Salome sal die een wees wat dit sal ontgeld, dit voel sy instinktief aan.
Kort nadat hulle tee gedrink het, vra Calvyn verskoning en verdwyn na buite. Skielik is dit vir Salome asof sy heeltemal alleen agtergelaat is in ’n leeuhok, hoewel dit seker verspot is om te voel dat Calvyn haar in die steek laat. Op stuk van sake het hy nie gehuiwer om sy gevoelens oor sy halfbroer se troue te lug nie. Dit is geen geheim nie dat hy net so gekant teen haar teenwoordigheid hier op Babilon is as die ander twee.
Die res van die teetyd sit sy soos ’n soutpilaar op haar stoel totdat haar skoonsuster eindelik aanbied om haar na haar kamer te vergesel.
“Ek hoop jy is tevrede,” sê Ria toe hulle binnestap, en Salome se mond trek wrang. Wie is sy om kritiek uit te spreek oor die kamer wat haar aangewys is in die deftige herehuis van Babilon? Calvyn sou hulle tog ingelig het oor wie en wat sy is en dat sy – in haar eie woorde – ’n kerkmuis was toe sy met Deon getroud is.
“Dis baie mooi. Baie dankie.” Haar stem is kalm, emosieloos, en die eerste keer beskou Ria haar broer se bruid met meer aandag. Deon se vrou mag alles wees wat Calvyn haar genoem het nadat hy van sy besoek aan die stad teruggekeer het, maar dat sy ’n mooi mensie is en beslis nie voorbarig en opdringerig of kruiperig nie, sal selfs hy nie kan ontken nie.
Ria ervaar skielik die ongewenste drang om haar arms om die skraal skouertjies te slaan en die fyn gestaltetjie ’n oomblik teen haar vas te druk. Sy is self ’n fris meisie, en Salome vertoon nog fyner langs haar. In haar hart kry Ria de Ridder hierdie vroutjie jammer, want sy weet, beter as wat Salome self ooit kan vermoed, wat werklik op haar wag.
Tussen haar skoonma, Calvyn en Deon gaan hierdie mensie fyngemaal word – en dít wens Ria selfs haar grootste vyand nie toe nie. Sy ken hulle so goed, omdat sy self deur die jare heen in hierdie meul was, rond en bont geslinger deur haar stiefma se uiterste snobisme en ongesonde liefde vir haar eie seun. Deon se selfsug en Calvyn se wil van staal … Toe sy jonger was, het sy in opstand gekom, maar mettertyd het sy geleer om nie teen die prikkels te skop nie. Jy maak jouself net seer. Nou aanvaar sy gelate dat haar lewe deur hierdie drie mense se wense en grille beheer word omdat sy op dertigjarige ouderdom reeds geklassifiseer word as ’n oujongnooi vir wie die lewe geen beloftes van vervulling meer inhou nie. As daar nog geheime drome in haar hart oorgebly het, weet net sy daarvan.
Haar oë rus nou op die nuwe familielid, en meteens is sy bly dat Salome na Babilon gekom het. Vir haar beteken aansien en status nie soveel as vir die res van die De Ridders nie, omdat sy ook al daarvoor moes ly en haar offers moes bring. Vir haar is Salome ’n mens – iemand met wie sy vriendskap kan sluit omdat sy vriendskap so nodig het. In hierdie pragtige ou herehuis is daardie soort gevoelens maar skaars. Maar sy sal dit versigtig moet doen, sodat niemand agterkom dat sy nie omgee om met die ongewenste bruid van Deon bevriend te raak nie.
Sy glimlag skielik, en Salome kan die verbasing nie uit haar oë hou nie.
“Welkom op Babilon, Salome. Ek hoop …” Sy swyg vinnig. Sy wou sê: “Ek hoop jy sal baie gelukkig hier wees.” Aangesien sy weet dat dit tog nie moontlik sal wees nie, verander sy haar sin: “Ek hoop jy sal vir my sê as jy enigiets nodig het.”
In die dae wat volg, leer Salome haar skoonfamilie ken. Aan die einde van die eerste week kan sy al ’n baie raak opsomming van elkeen gee en weet presies wat om van elkeen te verwag. Sy weet, onder meer, dat sy absoluut niks van haar skoonma moet verwag nie; dat sy geen hoop in haar hart moet koester dat hierdie hooghartige vrou haar ooit as haar enigste seun se vrou sal erken en aanvaar nie. Waar sy enigsins kan, maak Joey de Ridder asof sy eenvoudig nie van ’n mens soos Salome se bestaan bewus is nie. Wanneer sy soms verplig is om na Salome te kyk of met haar te praat, is haar oë en stem ewe ysig en minagtend. Salome verkies om liewer heeltemal geïgnoreer te word.
Ria de Ridder kon sy nog nie heeltemal plaas nie. Soms is haar skoonsuster heeltemal vriendelik teenoor haar, maar Salome kom agter dat dit net gebeur wanneer hulle alleen is. Sodra van die ander bykom, kruip sy in haar dop en hoewel haar oë geen vyandigheid inhou nie, raak sy weer ’n totale vreemdeling.
Calvyn sien sy min. Hy is blykbaar ’n baie besige man en is bedags net aan eettafel te sien. Ook saans sien sy hom maar min, want hy trek hom meestal terug in sy studeerkamer, waar hy blykbaar besig is met die geldsake van die boerdery. Die kere dat hy wel in die geselskap is, is hy beleef vriendelik teenoor haar, maar nog altyd op daardie veraf, koel manier wat geen vriendskap of vrymoedigheid van watter aard ook al moontlik maak nie. Beleefde vreemdelinge, dis wat sy en haar swaer is, en so sal dit blykbaar bly, besef sy teen die einde van die eerste week.