Читать книгу Vyf vir vreugde - Ena Murray - Страница 3
1
ОглавлениеDie meisie met die goudblonde hare kyk hoopvol op toe die deur van die spreekkamer oopgaan.
“Was dit die laaste vir die dag, Stella?”
Die meisie skud haar kop, glimlag verskonend: “Jammer, doktor, daar is nog een. U is seker doodmoeg teen dié tyd.”
“Ja, dit was ’n besige dag. Goed, wie is dit?”
“Hein Brynard – die matriekseun van …”
“O ja. Hy was verlede week ook hier. Toe kon ek nie juis hond haaraf maak met hom nie, maar laat ons weer probeer.”
Sy glimlag, neem die lêer by die ontvangsdame en blaai vlugtig daardeur. Sy lees die besonderhede vinnig deur om haar geheue te verfris: Hein Brynard, sewentien, matriekleerling. Pa: Ruben Brynard, prokureur. Ma: vier jaar gelede oorlede. Intelligent, goed in sport, introvert. Geen probleme tot onlangs toe hy betrap is dat hy dagga op die skoolterrein gerook het. Agteruitgang op skool- én sportgebied merkbaar die afgelope twee tot drie maande. Onderaan in haar eie handskrif is ’n datum van ’n week gelede met net een inskrywing: Geen samewerking.
Doktor Louwda Louw weer die frons tussen haar oë en loop Hein tegemoet toe hy in die deur verskyn.
“Kom binne, Hein. Goeiemiddag.”
Hy stap nader, kyk strak terug, dan dwaal sy blik weg. Haar hart pyn. Hy is so ’n pragtige seun … nog net sewentien, maar reeds met daardie harde, ontnugterde kyk in die oë wat sy al so goed by baie van die probleemgevalle leer ken het. Maar hierdie seun voor haar is nog te jonk vir daardie blik. Dit hoort nie daar nie – veral nie by ’n seun wat menslik gesproke alles in die lewe het nie … skynbaar alles. Maar teen dié tyd weet sy ook al dat juis aan hulle wat skynbaar alles in die lewe het ’n dieper behoefte knaag. Hierdie seun kom volgens die algemene lewenstandaard uit ’n goeie huis. Aan geld is daar geen tekort nie. Swaarkry is iets wat met ander mense gebeur. En tog is daar ’n gemis … êrens ’n honger in hom, ’n tekort wat hy met daggadampe wil aanvul.
“Hein …” Sy swyg, magteloos voor die gevoel van moedeloosheid wat haar wil oorweldig. Iets vertel haar dat sy ook nie vandag daarin gaan slaag om deur die muur te dring wat hy om hom gebou het nie. Dit is so belangrik dat sy hom bereik. Maar sy kan hom net help as hy gehelp wil word – en hy wil nie.
’n Halfuur later moet sy maar die aftog blaas. Niks wat sy sê, kan hom beweeg om haar te vertrou met dít wat hier binne-in hom woel en kook nie.
Voordat hy loop, roep haar stem hom weer tot stilstand. “Hein, één ding moet jy altyd onthou. Daar is net één Hein Brynard op hierdie aarde … net één soos jy. Jy is uniek. Daar is niemand anders soos jy nie. En dit hang net van jouself af of jy daardie unieke persoon ’n kans gaan gun om iets moois en wonderliks van hierdie lewe te maak. Dit is jou keuse, weet jy. Elke mens het die reg om te kies: of hy iets van hierdie één aardse bestaan wil maak en of hy dit self gaan verwoes. Dit is selde, baie selde, dat ’n lewe sonder eie medewete of selfs toedoen verwoes word. Daar is weliswaar ’n groot Plan agter elke lewe, maar, weet jy, ons het ’n wonderlike Skepper. Hy gee ons genoeg speling, binne perke, om reguit te stap óf ons spore krom en skeef agter ons te laat. Die keuse is joune, net joune.”
Maar steeds is daar geen spoor van versagting, geen tegemoetkoming op die star gesig nie. Hy luister omdat hy moet, maar sy twyfel of enigiets wat sy vanmiddag gesê het tot hom deurgedring het, werklik binnegedring het tot daar waar die wortel van die kwaad lê.
Toe die deur agter dié moeilike geval van haar toegaan, stap Louwda na die venster, tuur af na die straat – daar ver onder waar mense soos sy, mense soos Hein Brynard, soos klein miertjies rondskarrel.
Hoe vreeslik klein moet ons nie in die oë van die Opperheer lyk nie. Daar bo van waar Hy so ver op ons neerkyk. Tog … elkeen is so belangrik vir homself. Elkeen glo daar loop nie ’n belangriker mens op hierdie aarde rond as juis hyself nie … en binne-in daardie klein miertjie word ’n perkelose gees geberg. ’n Gees wat nooit versadig kan word nie. Wat blý absorbeer: al die vreugde wat op sy pad kom, al die smart en ontnugtering. En waar is die versadigingspunt?
Sy sug en draai terug na die lessenaar. Weet sy dit dan nie self nie? En behalwe in haar persoonlike lewe, ervaar sy dit ook elke dag in haar werk. Sy werk met kinders. Hulle word probleemkinders genoem, maar eintlik is daar nie so iets nie. Dikwels is dit eerder die probleemouer wat die oorsaak is van so baie hartseer en afwykings onder die jeug. Kinders wat die pad byster geraak het omdat hulle nie die spoor van Ma of Pa gevolg het nie … omdat Ma of Pa, of so dikwels nie een van die twee, die woord ouer werklik waardig was nie. En dan noem jy die kind die probleem …
Is dit ook op Hein Brynard se geval van toepassing? Moet sy nie baie verder terug as Hein gaan soek nie?
Stella kom binne en sy kyk op: “Stella, skakel asseblief Hein Brynard se pa. Ek wil met hom praat.”
“Nóú, doktor?”
“Ja, asseblief. Ek weet dit was al tyd om huis toe te gaan, maar …”
“Natuurlik sal ek dit doen, doktor. Ek sal u deurskakel.”
Sy sit met gevoude hande voor haar en staar terwyl sy wag. Dan tel sy die gehoorbuis op toe die telefoon langs haar ’n kort luitjie gee en sy hoor Stella se stem aan die ander kant.
“Meneer Brynard, doktor.”
“Dankie.”
“Meneer Brynard …?”
“Ja?”
Die stem klink baie soos dié van Hein – amper ewe ontegemoetkomend.
“Doktor Louw van die Kinderleidingkliniek.”
“Ja?”
’n Baie kort aarseling aan haar kant. Hy klink beslis nie baie belangstellend nie. “Ek sou u graag ’n paar oomblikke wou spreek, meneer Brynard. Kan ons ’n afspraak reël?”
Hierdie keer is die aarseling aan sý kant. Dan: “As jy dink dis noodsaaklik, ja.”
“Ek dink beslis so.”
“In daardie geval … ek is baie besig.”
Haar oë vernou. Dink hy dalk hy is die enigste mens in hierdie stad wat besig is? Sy wag en sy stem klink duidelik onwillig.
“Ek het geen ander tyd as my etensuur nie, doktor.”
“Dan sal ons maar in etenstyd moet praat.”
“Môremiddag?”
“Goed. Waar presies is u kantoor?”
“Dit is nie nodig dat u na die kantoor kom nie. Ons afspraak is in die etensuur, dus kan ons mekaar in ’n restaurant ontmoet.”
Sy wil eers weier, sommer reguit sê sy bedel nie vir ’n gratis ete nie. Dan bedink sy haar, want sy is skielik daarvan oortuig dat sy eintlik lankal ’n afspraak met Hein se pa moes gereël het. “Dankie.”
Hy stel kortaf ’n bekende restaurant in die stad voor en sy willig in. Haar eie stem klink baie formeel toe sy sê: “Dankie, meneer Brynard. Môremiddag om eenuur dan.”
Doktor Louwda Louw lyk glad nie soos ’n geleerde sielkundige toe sy met haar hoëhakskoene en netjiese uitrusting die restaurant binnestap nie. Haar goudblonde hare hang glansend tot op haar skouers, haar gesig is foutloos gegrimeer. Sy sou eerder kon deurgaan vir ’n model.
Die man wat eenkant rondstaan, duidelik wagtend op iemand, kyk net vlugtig na haar kant en dan gaan sy blik weer na die deur terwyl hy fronsend na sy polshorlosie loer. Effens sinies merk hy op hoe die koppe draai terwyl die blonde godin, soos hy haar reeds spottend in sy gedagtes gedoop het, tussen die tafels deur stap, haar oë soekend om haar. Maar daar is geen belangstelling in sý blik nie, en weer kyk hy weg, die ongeduld dié keer openlik in die grys oë te sien.
“Meneer Brynard …?”
Hy draai sy kop stadig na regs, kyk af na haar, en nou is die familietrek tussen hom en Hein nog duideliker sigbaar. Daarom kon sy hom so maklik tussen al hierdie mense vind. Sy het instinktief geweet dit moet Hein se pa wees terwyl sy tussen die tafeltjies deur in sy rigting gevleg het.
“Ja …?”
Haar wenkbroue lig omhoog. “Wel, ons het ’n afspraak … of is ek laat?”
Dit is of hy onwillig erken: “Nee, jy is stiptelik … ás jy doktor Louw is.”
“Ek is.”
Hy knik, laat sy blik vinnig, vlugtig en met ietwat meer belangstelling oor haar gaan, wink dan met sy kop na die hoofkelner en lei haar swyend na hul tafeltjie. “Is daar iets spesifieks wat u verkies?” Sy stem is koud, veraf, die atmosfeer tussen hulle geensins bevorderlik vir die delikate saak waarvoor sy gekom het nie … en sy wou Hein so graag help. Maar sonder hierdie man se begrip en samewerking sal dit ’n bykans onmoontlike taak wees.
“Ek verkies iets baie ligs, dankie.”
Hy knik. “Gaaf, dan sal ons met ’n vrugtekelkie begin.” Nadat hy die bestelling geplaas het, vra hy koel: “Iets om te drink?”
“Nee dankie.”
Hul oë ontmoet en dit is dieselfde strak blik met die waarskuwing in die grys dieptes, wat sy ook in die pa se oë lees. Maar sy kyk hom waterpas in die oë, kalm en bedaard, en ’n vlugtige skemering van verbasing is op sy gesig te lees. As hy gedink het dat sy reguit blik met daardie koue hovaardigheid haar sou ontsenu soos in die meeste ander gevalle, het hy hom hierdie keer misgis. Hierdie doktor Louw laat haar blykbaar nie maklik van stryk bring nie. Haar blou oë weifel nie, en dit is hý wat verplig is om die spanningsvolle swye tussen hulle te verbreek.
“Ons het nie veel tyd nie, doktor Louw. U wou my spreek.”
“Ja, maar ek dink ek het my tyd kom mors.”
Sy wenkbroue lig vererg. “Kom u altyd so vinnig tot ’n slotsom?”
“Nee, ek probeer altyd regverdig wees. Maar in my werk kweek jy later ’n soort aanvoeling aan, en weet instinktief of jy jou tyd reg benut … en of jy maar jou asem kan spaar.” Dan skram haar oë weg. Dit is beslis nie die regte manier om hierdie man te benader nie, dít laat haar grondige kennis van die sielkunde haar deeglik besef. Dit is beslis teen al die geskrewe reëls, en sy weet nie wat haar makeer nie. Om hierdie man van die staanspoor af die harnas in te jaag, sal haar nêrens bring nie. Inteendeel. Dit sal eerder Hein se probleme vergroot.
Daar is ’n kil spotlag in die oë asof hy presies kan lees wat in haar gedagtes omgaan en volkome met haar saamstem. Dit is nie die manier om probleme op te los nie …
Sy stem het ’n fyn ondertoon van snydende sarkasme. “Dit skyn asof ek nie ’n baie goeie eerste indruk op u gemaak het nie, doktor Louw. Dit is jammer. Eerste indrukke is egter dikwels misleidend en jy hét gesê jy is ’n regverdige mens.”
Sy kyk weer op. “Ons het nie op goeie voet begin nie. Ek is jammer. Ek het nie hierheen gekom … Ek het ’n afspraak met u gereël om Hein, u seun …”
Hy knik. “Dit weet ek. Wat van Hein?”
“Ek wil hom help. Hy is ’n baie oulike seun. Dit sal jammer wees as hy …”
“Ja.” Hy ontduik die onuitgesproke vrae in haar oë, bestudeer die vrugtekelkie voor hom. “Dit sál jammer wees. Hein het soveel potensiaal. Maar wat wil u van my weet? Dit is hý wat die dagga gerook het, nie ek nie.”
Die blou oë flits. Die man se houding staan haar glad nie aan nie. Sy hele benadering tot sy seun se probleme steek haar dwars in die krop. Dit is asof hy amper geen belangstelling in Hein se doen en late het nie.
“Sonder u hulp kan Hein nie gehelp word nie, meneer Brynard. U is sy pa en die kern van sy probleem lê êrens in die verlede – êrens in sy huis.”
Die oë flits. “Ek begryp. Ja, dit is ’n tipies sielkundige toesprakie en ek het verwag om dit te hoor. Maar kon dit nog nooit tot julle slim sielkundiges se verstand deurdring dat daar mense is wat ondanks alles wat hulle het daarop uit is om hulself te vernietig nie? Ken julle nie sulke mense nie? Het julle nog nooit met sulke mense te doen gehad nie?”
Sy kan dit nie help nie; haar eie gesig is strak, haar stem yskoud. “Natuurlik het ons, maar Hein is nie een van daardie nie.”
“So? En hoe weet jy, doktor? Weet jy meer van hom as ek wat al sewentien jaar lank sy pa is? Het jy ná net twee kort besoeke – waarin jy nie veel vordering kon gemaak het as jy my hulp ook moes inroep nie – so ’n volkome korrekte evaluasie van my seun gemaak dat jy vanmiddag koel en kalm die skuld op my skouers wil kom laai?”
Haar oë lyk ontsteld, verward. “Jy begryp nie, meneer Brynard. Dit is glad nie wat ek bedoel het nie. Inteendeel …”
“Is dit nie, doktor? Wat is jou bedoeling dan? Wat is die rede vir die beskuldiging in daardie blou oë van die eerste oomblik dat ons twee mekaar ontmoet het?” ’n Diep frons keep tussen sy wenkbroue. “Doktor, ek is wel net ’n prokureur en die bietjie sielkunde in my regskursus sal ek nou glad nie probeer vergelyk met jou kennis daarvan nie. Maar daar is een belangrike faktor wat jy moet onthou … ek ken Hein sewentien jaar lank. Ek is al sewentien jaar sy pa.”
Die blou oë huiwer nie voor syne nie. “Ja, ek besef dit, meneer Brynard, en ek vra my af … is dít die resultaat ná sewentien jaar? ’n Pragtige, belowende seun wat dagga rook?” Sy kan die woede in sy oë sien flikker, maar sy is te boos om om te gee.
“Hoeveel kinders het jy, doktor Louw?”
Sy kyk hom verward aan. “Ek het nie kinders nie.”
Sy mond grynslag smalend: “So het ek vermoed. Dit wat jy kwytraak, is baie duidelik die voorgeskrewe reëls van ’n handboek oor sielkunde.”
“Ek werk daagliks met kinders, meneer Brynard!”
“Ja, van nege tot een en van twee tot vyf, en in daardie tyd pas jy alles toe wat jy uit boeke geleer het. En nou wil jý ’n oordeel kom vel en ’n man kom voorskryf wat sewentien jaar lank al vier en twintig uur van die dag saam met Hein Brynard lewe. Dit is die probleem met julle soort mense, doktor Louw. Julle dink julle ken die antwoord op alles. ’n Geval duik op en julle beoordeel dit. Julle diagnoseer die oorsaak, selfs binne enkele minute, en dan skryf julle baie selfvoldaan die voorskrif uit. Asof die gees van ’n mens bloot net ’n tweede liggaam is wat jy met ’n pil of medisyne kan dokter. Julle is so slim. Julle het ’n antwoord op alles, en julle kan ander voorskryf wát hulle moet doen … hóé hulle dit moet doen. Hierdie en daardie is die kwaal en dit en dat is wat jy moet doen, en alles sal reg wees. Maar dit werk nie so in die praktyk nie, doktor. Jy mag ’n kindersielkundige wees, maar laat ek jou vandag vertel: Jy weet niks van kinders nie. Jy dink jy het die wêreld se wysheid in pag, maar jy het nog baie om te leer, doktor Louw, en dit staan nie in ’n handboek nie.”
“Meneer Brynard, ons gaan niks verder kom as u daardie houding inneem nie. Ons het ontmoet sodat ons Hein kan help.”
“Ons, doktor?”
Sy kyk hom verbaas aan. “Maar jy wil tog jou seun help, nie waar nie? Hy is jóú seun!”
“Ja, hy is en natuurlik wil ek hom help. Maar ek gaan hom nie pamperlang asof hy ’n klein seuntjie is nie, en dit is wat jy wil doen. Jy wil al sy foute en gebreke op iemand anders se skouers plaas, iemand anders tot skuldige maak. En my seun moet leer dat ’n mens jou foute vierkant in die oë moet kyk, jou tekortkominge sonder skroom erken en dan daarvandaan vorentoe werk. Maar jou metode wil van hom ’n papperd maak en ek het nie tyd vir swakkelinge nie, doktor Louw. Hein moet leer hy is wat hy is en hy moet iets daaromtrent doen. Hy moet erken dat hy geweet het dis verkeerd die oomblik toe hy daardie daggasigaret opgesteek het. Dit was ’n fout. Dit moet nie op iemand anders se skouers geplaas word nie. Hy moet leer om die skuld vir sy foute self te dra.”
“Maar, meneer Brynard, daar moet ’n rede wees waarom Hein daardie daggasigaret in die eerste plek opgesteek het. ’n Gebalanseerde, tevrede, gelukkige jong mens het nie ’n behoefte aan so iets nie. Hoekom sou ’n seun enige behoefte daaraan voel om dagga te rook? Het u u al daardie vraag afgevra?”
Sy stem is so ysig dat sy onwillekeurig die hoendervel op haar voel uitslaan. “Doktor Louw, daar is geen rede waarom my seun ’n behoefte aan dagga moet voel nie, behalwe dat hy dan ’n inherente swakheid in hom dra.”
Sy weet nie waar sy die krag vandaan kry om hierdie skaakspel met dié man voort te sit nie. Sy weet ook nie waar sy die moed vandaan haal om hom terug te antwoord nie. “En u het geen geduld of genade met swakheid … met menslike onvolmaaktheid nie? Dis benede u?”
“Sarkasme sal jou nêrens bring nie, doktor Louw. Dit maak my net meer oortuig daarvan hoe min bevoeg jy is om Hein se probleem op te los. Maar, as jy wil weet … nee, ek het nie veel genade nie. Jy weet wat reg en verkeerd is in die lewe en as jy die verkeerde doen, is dit jou keuse. Maar een ding sê ek jou vandag: As jy Hein wil pamperlang, hom laat dink die hele wêreld is teen hom, dat sy daggarokery die skuld van ander mense is … of, laat ons maar op die man af praat, die skuld van sy pa is, wil ek net sê: Jy gaan jou vasloop! Die lewe bestaan uit veel meer as net mooipraatjies en soet woordjies, doktor Louw. Daarmee gaan jy nie die lewe se probleme oplos nie – ook nie Hein s’n nie.”
Sy sluk. Hierdie man is absoluut ondeurdringbaar en ongenaakbaar. “Hoe het u gedink, meneer Brynard, as ek mag vra, om u seun se probleem te hanteer?”
“Ek is nie van plan om dit te hanteer nie, doktor Louw. Hy is ’n groot seun van sewentien, heeltemal intelligent, ’n jong man al. Hy gaan dit self hanteer.”
“Maar hy kan nie!”
“Nie? Hoekom nie? Hy kon dagga begin rook het. Hy kan weer ophou.”
Sy kyk hom verslae aan. Maar dié man is nie reg wys nie! Weet hy dan nie …? Hy is tog self ’n geleerde, intelligente mens.
Hy glimlag skeef vir die uitdrukking op haar gesig. “Moet jou nie so ontstel nie, doktor Louw. Daardie seun van my het sy swakhede soos enige ander mens. Dit is die afgelope tyd bewys. Maar Hein het ook sy sterk punte. Hy sal deur dit alles kom, maar natuurlik op die harde manier. Hy sal nog baie foute in die lewe begaan en hy gaan sy kop nog baie keer stamp. Maar ek is nie van plan om elke keer salfies aan te smeer nie. Party mense leer net deur seer te kry en party leer nooit nie, en niks wat ek of jy of enige sielkunde-handboek sê of doen, sal die mens se inherente aard ooit kan verander nie.”
Sy kyk verslae op haar hande. Sy weet nie of sy al ooit in haar lewe so magteloos gevoel het nie. “Wat stel u dan voor, meneer Brynard?”
“Ek stel voor, doktor, dat jy nie my seun met soet glimlaggies en woordjies probeer oorhaal om nie dagga te rook nie. Ek stel voor dat jy hom liewer konfronteer …”
“Maar dit kan nie gebeur nie, meneer Brynard! Daardie kind het liefde en aandag en begrip nodig, anders gaan ons hom verder in die afgrond stoot.”
“Jy, doktor Louw, gaan hom beslis deur soet woordjies en ’n gepamperlang die bodem van daardie afgrond laat sien. Want as Hein nie nóú leer om op sy voete te staan en te weet wanneer hy nee vir iets moet sê nie, wanneer gaan hy leer? Hy is ’n seun van sewentien. Dan gaan hy in die toekoms net weer iets anders aanvang. Miskien volgende keer iets ergers.”
“Het u regtig so min geloof in u kind, meneer Brynard?”
“Ek het geen geloof in enigiemand nie, doktor Louw. Hoekom sal ek dit in my eie vlees en bloed hê? Deur die jare is daar nie aan my getoon dat hulle anders is as enige ander mens wat hierdie tranedal bewandel nie. Hulle is miskien nog slegter as die gewone mens – of swakker.”
Sy kyk hom met vernoude oë aan. Daar is ’n bitter kern binne-in hierdie man en op hierdie oomblik is dit asof sy met die blote oog daarteen vaskyk. Hy het in geen mens enige geloof nie, ook nie in sy eie nie. Êrens in die verlede moes iemand hierdie man so onbeskryflik teleurgestel het dat hy sy geloof verloor het, dat alle sagtheid, alle deernis uit hom gedreineer het.
Arme Hein. Sy begin stadigaan verstaan hoekom hy na ’n daggasigaret gegryp het.
Dit is ’n oomblik stil tussen hulle. Dan kom sy stem beleef, uitdrukkingloos: “Kan ek jou nog iets aanbied?”
“Nee dankie. Ek sal nou moet gaan.”
Hy knik, maar toe sy wil opstaan, hou sy blik haar op die stoel vasgepen. “Moet jou nie so ontstel nie, doktor Louw. Jy is nog baie jonk. Jy sal nog leer ’n mens moet die lewe nooit te ernstig opneem nie.”
“Nie eens as jou seun begin dagga rook nie, meneer Brynard?”
“Nie eens dán nie, doktor Louw. Want niks op aarde is werklik van soveel belang nie. Die lewe het ’n manier om in ’n patroon te val. Ook in Hein se geval sal dit gebeur, met of sonder jou hulp. Dit is nie goed of wys om te intens oor die lewe te raak nie.”
Sy besluit om dit te waag. Sy het reeds hierdie man teen haar. Sy het van die begin af nie sy samewerking gehad nie – wat maak dit dan tog saak?
“Praat u uit persoonlike ervaring?”
Hy grynslag. “Hoe dink jy?” Dan staan hy op, wag beleef dat sy voor hom verbystap.
Op die sypaadjie voor die restaurant kyk sy op na hom. “Dankie vir die ete, meneer Brynard.” Maar sy het nie die vaagste benul wat sy vandag geëet het nie.
Hy kyk af na haar, amper peinsend, skielik nie meer so erg antagonisties nie. Dit lyk amper asof hy ’n vaderlike houding teenoor haar wil inslaan. “Ons kan weer oor Hein gesels as jy wil. Hy gaan jou weer kom spreek, nie waar nie?”
“Ja.”
“Wel, laat my weet hoe jy vorder.” Haar strak gesig vertel hom sy is glad nie van plan om dit te doen nie, en sy stem kry skielik ’n vreemde klank wat sy nie juis kan peil nie. “Het jou handboeke jou nie geleer ’n mens moenie veroordeel voordat jy nie alles weet nie?” Sy kyk verras op na hom. “Jy ken nie die agtergrond nie. Moet dus nie te hard oordeel nie, doktor Louw. Miskien veroordeel jy my glad nie as jy eers die hele storie ken nie.”
Sy weet hy praat nie nou oor Hein nie. Dit is haar veroordeling van hóm waarna hy verwys. En skielik ontstaan ’n drang in haar om die hele storie te ken. Haar oë pleit nou onbeskaamd met hom. “Maar dis wat ek graag sal wil weet, meneer Brynard. Die hele storie. Ek is nie hier om te veroordeel nie. Ek wil begryp …”
“Ja. Miskien was ek ook te gou in my oordeel.” Hy glimlag amper onwillig. “Ons twee moet maar weer gesels. Tot siens, doktor Louw.” Die oë terg skielik. “Ek weet jy gaan nie doen wat ek jou gevra het nie. Jy gaan jou patroon volg soos jy jou voorgeneem het. Wel, alle sukses en ek bedoel dit. As jy kan bewys dat ek verkeerd is, sal ek dit erken. Ek is mans genoeg daarvoor. Maar as jy nie veel sukses behaal nie, moenie dink dit is die einde van jou loopbaan nie. ’n Mens leer algaande.”
Hy draai om, stap weg en sy sien hom tussen die mense verdwyn. Haar verstand staan stil. Sy weet nie wat om te dink nie. Waar Hein Brynard se geval maar een van talle is wat sy moet hanteer, deel van ’n lys name op haar werkprogram, het dit nou skielik, ná hierdie onderhoud, verander. Hein Brynard het ’n unieke geval geword … ’n uitstaande geval, amper iets persoonliks.
Daar is ’n vasbeslote trek in haar oë toe sy haar spreekkamer binnestap. Sy sal daardie Ruben Brynard wys hy is verkeerd. Háár metode is die regte een … want as hulle wat langs die pad val nie begrip en liefde kry, ’n helpende hand om hulle op te trek nie, wat gaan dan van die wêreld word? Wie van ons val nie minstens een keer nie?
Sou hý al hard geval het?
Sy roep die man se beeld in haar gedagtes op. Sy kan haar nie voorstel dat hy ’n man is wat kan val nie. Hy is so seker van homself, so beslis omtrent alles wat hy sê, wat hy voel, wat hy doen. En tog het sy die eienaardigste gevoel dat Ruben Brynard meer begrip en liefde nodig het as sy seun Hein …