Читать книгу Sluiers van die nag - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

Onthou sy hom nog?

Haar hande span wit om die bedlaken en in die sirkellig van die bedlamp lyk haar wange byna deurskynend bleek. Vir die blou oë wat van die oorkant van die bed op haar vasgepen is, vertoon sy soos ’n standbeeld, maar tog kleef daar op hierdie oomblik so ’n duidelike weerloosheid aan haar dat dit hom meteens laat optree. Kortaf, bevelend praat hy asof hy nie bewus is daarvan dat die blonde man iets gesê het nie.

“Ek wil ’n spesiale verpleegster by hierdie pasiënt hê, matrone. Pols en asemhaling elke tien minute gekaart en ek moet onmiddellik verwittig word van enige verandering wat intree … onmiddellik!”

Soos ’n drenkeling in ’n storm rig sy haar tot die man in die grys pak oorkant haar, bly na hom kyk hoewel sy weet dat hy vir die tweede keer tot in haar siel staar. Benewens al die verbysterende emosies wat in hierdie laatnaguur in die grys oë saamgehok is, lees hy ook dankbaarheid. Dankbaarheid vir die paar oomblikke van grasie wat sy tussentrede haar geskenk het.

“Ek sal reël vir ’n spesiale verpleegster, professor.” Vreemd dat ’n mens se brein nog funksioneer terwyl die res van jou liggaam lamgelê is. Vreemd dat ’n mens se stem normaal kan klink terwyl die wildste storm in jou woed. Vreemd, ook, dat hierdie vreemdeling se blou oë onpersoonlik is en terselfdertyd tog ook begrip toon wat sy nie kan miskyk nie, begrip waarna sy op hierdie oomblik van nood gryp.

Ralph Weideman laat sy uitgestrekte hand sak en sy oë word peinsend. Dan krul sy een mondhoek. Natuurlik. Dis nie nou die regte oomblik nie. Sy blik rus opsommend op die afgewende gelaat.

“Goed. Ons kan maar gaan, dokter,” sê sy kollega saaklik.

Maar die nuwe superintendent aarsel en wag eers tot die grys oë onwillig lig. “Ons praat later weer, Maryke. Oor die lekker ou dae, onthou jy?”

Die bekende, hartverowerende glimlag is om sy mond en sy staar daarna. Die lekker ou dae, Maryke, onthou jy …?

Weer staan sy woordeloos voor die aanslag uit die verlede, kry sy dit nie eens reg om net te knik nie. Dan glimlag Ralph Weideman in die rigting van die donker man by die deur, laat gemoedelik hoor, te gemoedelik vir hierdie late uur van die nag: “Ek en matrone Linde is ou vriende. Ons het mekaar jare gelede baie goed geken.” ’n Skamper laggie flits terug na die bleek gestalte. “Eintlik besonder goed, nie waar nie, Maryke?”

Nie waar nie, Maryke? Vreemd dat die grys oë weer wegvlug van die laggende gelaat na die vreemdeling se blou oë. Vreemd dat sy onbewustelik vaskleef aan daardie blou oë asof sy krag uit hulle put om staande te bly terwyl die aanslae uit ’n ver verlede op haar neerreën.

Stil staan sy voor hulle, nie in staat om haar te verweer teen die bedreiging wat so skielik op haar afgestorm het nie. Want te lank het sy haar begrawe in die duisternis van die nag om te onthou en te weet hoe om haar teen die lewe en sy genadeloosheid te verdedig. Daarom kan sy net weerloos opkyk na die vreemdeling asof sy op hierdie oomblik by hóm hulp soek.

Meteens staan hy weer in die ligkring, is daar ’n harde glimlaggie op sy gesig wat iets spottends laat deurskemer.

“O, dan is ú die man van wie Maryke my vertel het? Hoe klein is die wêreld tog, nè?”

Maryke kan hom net aanstaar, dankbaar dat hý nou Ralph se volle aandag het. Ralph kyk die donker man fronsend aan. “U bedoel … Maryke het u vertel …?”

Die antwoord is kalm. “Van die goeie ou dae? Natuurlik. Hoekom nie? Daar is geen geheim tussen my en … Maryke nie.” ’n Sagte snak na asem laat albei mans se koppe vinnig draai. Ongestoord gaan die donker man voort: “Het ek nou verkeerd gedoen om te laat deurskemer dat ons twee goeie vriende is, Maryke?” Weer is daar iets spottends in die fyn glimlaggie, maar die blou oë wat in hare kyk, stel ’n definitiewe vraag. “Ek het gedink … aangesien dokter Weideman ’n ou bekende is, dit nie sal saak maak as hy weet dat ons … wel, goed bevriend is nie.”

Vir die eerste keer in jare is dit of daar histerie in die altyd kalm nagmatrone wil opborrel. Dan knik sy en weer is sy verbaas oor die gelykmatige toon van haar eie stem. “Natuurlik nie … professor.” Dan draai haar blik terug na die blonde man en meteens lyk hulle nie meer so weerloos en verskrik nie. “Ek het die volste reg om bevriend te wees met wie ek wil.”

Die blonde man se wenkbroue lig, maar meteens word die deur beslis oopgehou en Ralph Weideman het geen ander keuse as om die onuitgesproke bevel te gehoorsaam nie. Hy werp amper ’n waarskuwende blik na agter toe hy uitstap, maar die hoofchirurg kyk glad nie terug toe hy hom volg nie. Die deur word net sag maar beslis agter hom toegetrek.

Maryke se blik sak af na die bed. Soos ’n robot soek haar vingerpunte werktuiglik na die pasiënt se pols terwyl haar oë die tikkende sekondewyser van haar polshorlosie volg. Toe die spesiale verpleegster langs haar inskuif, is die eerste respirasie- en polstelling reeds netjies en sekuur op die kaart aangedui.

Dis eers toe sy terug is agter haar lessenaar dat die verpleegster in haar op die agtergrond skuif. Sy staar op haar saamgeknelde hande neer … en nog nooit was Maryke Linde so verbaas, so verdwaas, so verward en bang as op hierdie oomblik nie.

Sy is dankbaar toe sy eindelik in die vaal sluiers van ’n reënerige oggend kan uitstap. Toe sy by die ontvangstoonbank verbykom, is oom Daan ook gereed om van diens te gaan.

“Moeg, matronetjie? Dit was ’n deurmekaar nag gewees, nè?”

Sy glimlag en die effense hang van die skraal skouers beantwoord sy vraag. Tog is daar iets om haar mond en oë wat verraai dat Maryke Linde meer as net liggaamlik moeg is. Maar daarvan weet die ou man nie. Vanoggend bekyk hy haar egter met meer belangstelling as gewoonlik. Gisteraand het die nuwe hoofchirurg baie uitgevra oor hierdie meisie.

Hy het dit so ongeërg moontlik gedoen, maar oom Daan is nie gister gebore nie. As jy by die veertig jaar lank in ’n hospitaal werk, leer jy mense ken. Heel vroeg in die aand het hy ’n paar vrae gestel, maar toe het oom Daan nog nie lont geruik nie. Maar toe die man hom darem omstreeks vieruur die oggend weer by sy toonbank kom tuismaak, en dít nadat hy heelnag geopereer het, en weer die gesprek in die rigting van die nagmatrone stuur, toe’t oom Daan geweet dis nie net sommer nie. Om die een of ander rede stel hierdie man in matrone Linde belang.

Oom Daan het bekommerd begin wonder of die man dalk nie tevrede is met die nagmatrone nie. Hy verstaan hoeka hy laat die teaterpersoneel maar goed rondspring. Oom Daan was gou om al haar goeie en bekwame hoedanighede te besing en hy het die doktertjie presies vertel dat daar nie met ’n speld se punt op haar te prikke is nie. Tien jaar lank, ja, wragtie, tien jaar lank – die doktertjie het gelyk asof hy hom nie glo nie – het hy vertel, werk hy en hierdie nagmatronetjie saam en as daar iemand is wat weet watter bekwame en ordentlike kind hierdie mens is, dan is dit seker hy wat oom Daan is. Die doktertjie kan maar sy woord vat. Oom Daan is gek na al sy dogters soos hy hulle noem, maar sy topdogter in hierdie hospitaal is en sal altyd Maryke Linde bly. Sy is uit een stuk. Oom Daan het skoon opgewonde geraak.

Maar vanoggend lyk sy topdogter moeg en half anderste en die oom wil sommer weer opgewonde raak. Hierdie nuwe doktertjie moenie met sy mense kom bodder en lyf wil rondgooi nie. Die nuwe superintendentjie het hoeka al van die eerste dag af ook almelee iets oor hierdie meisiekind te vrae en te visse by hom. Hulle moet die nagmatronetjie uitlos. As hulle aan haar raak, krap hulle aan oom Daan, dié moet hulle nou weet.

Van al oom Daan se vurige gedagtes weet Maryke niks nie. Sy is net haastig om weg te kom van die hospitaal af en haar lippe trek wrang. Dit is die eerste keer in tien jaar dat sy gretiglik van die hospitaal afskeid neem. Maar vandag wil sy so gou as moontlik terug wees in die veiligheid van haar woonstel.

Haar oë flits vinnig om haar en sy voel gerusgestel. Dis darem nog te vroeg vir die superintendent om aan diens te kom. “Lekker slaap, oom Daan. Oom is seker ook maar moeg vanmôre?”

“Ag, kind, jy weet hoe gaan dit met ’n oumens. Slaap is nie meer so belangrik nie. Die stukkie lewe wat voorlê, het te kort geword. Maar jy moet nou lekker gaan rus. Jou voete moet af wees. Jy het seker vannag nooit gesit nie.”

Op die stoeptrap skei hul paaie. Oom Daan swenk in die rigting van sy trapfiets. Winter en somer, sonskyn of reën, oom Daan ry fiets. Mense probeer hom ook verniet oorreed om saam te ry met ’n motor. Hy wys so ’n aanbod altyd beleef maar beslis van die hand.

Maryke swaai regs weg in die rigting waar haar motortjie half verdwerg tussen die paar groter motors en die hospitaalbus staan. Sy versnel haar pas, sy wens dat sy al in haar woonstel is en vergetelheid in die genadige slaap gevind het.

’n Hand val meteens op haar skouer en sy kom verward tot stilstand.

“Dis net ek. Jammer om u op te hou, maar … as dit moontlik is, sal ek graag ’n paar woorde met u wil praat, asseblief.”

Sy staan weer woordeloos voor hom. Net so min as wat sy ’n enkele oomblik alleen met Ralph Weideman wil wees, net so min wil sy alleen met hierdie man wees, hierdie vreemdeling wat binne die bestek van net twee ontmoetings haar nood so goed begryp het dat hy haar tot hulp gekom het. Hoekom hy dit gedoen het bly nog steeds vir haar ’n raaisel.

Maar dat hy wel met haar sal wil praat, kan sy verstaan. Sy deins innerlik terug, maar toe sy hand om haar elmboog vou en sy ferm in ’n rigting gedu word, stribbel sy nie teë nie.

Dis ’n oomblik lank stil in die motor nadat die deure agter hulle toegeklap het. Hulle word intiem afgesluit van die buitewêreld waar die reënsluiers met al sterker intensiteit neersif. Maryke staar strak voor haar teen die voorruit vas en bemerk hoe die wasem stadig teen die binnekant begin aanslaan. Elke vesel in haar vermoeide liggaam span styf. Wanneer laas was sy só alleen saam met ’n man? Sy kan nie eens meer onthou nie. Sy wil haar kop draai en na hom kyk, maar tog is sy bang, bang dat daardie oë weer te diep sal kyk.

Langs haar staar die dokter ook strak voor hom uit. Dan klink sy stem op, bot en kortaf. Asof hy veel liewer sou wou swyg, maar genoodsaak is om voort te gaan met ’n selfopgelegde, onaangename taak: “Ek veronderstel ek is u ’n verskoning skuldig, matrone. Ek het my neus in u persoonlike sake gesteek. As u wil, sal ek die saak regstel …”

“Nee!” Die grys oë vlieg verskrik na die bloues op, dan sak haar ooglede vinnig en ’n pynlike blos vlam oor die bleek wange. “Ek bedoel …” Sy soek desperaat na die regte woorde. Wat moet die man van haar dink? Dan eindig sy lamlendig: “Ek bedoel dis nie nodig om … Dit maak nie saak nie.”

Die man se blik rus ondersoekend op die afgewende gelaat. Hy frons. “Ek begryp nie heeltemal nie. Dat dit nie saak maak nie. Ek …” Dis of hy ook na woorde soek. “Ek tree nie gewoonlik impulsief op nie. Dis net dat ek … Wel, ek is jammer as ek deur my optrede vir u … komplikasies geskep het.”

“Nee, u het nie vir my komplikasies geskep nie,” antwoord sy gedemp. Sy vervolg pynlik selfbewus: “U het my geensins in die verleentheid gestel nie. Ek is u … dankbaar.” Sy sluk swaar. “Ek besef egter dat dit vir ú ’n verleentheid geskep het …”

“Geensins.” Hy aarsel, kyk haar weer sydelings aan en sê dan kalm: “As dit u pas, kan dit maar so bly. Dit sal aan my geen verskil maak nie.”

Sy skud haar kop. “Ek begryp nie …”

Die blou oë vang hare vas. “Ek bedoel dat as dit vir u tot hulp kan wees, ons die wanindruk wat geskep is maar kan laat deurgaan. Dit kan my nie skeel onder watter indruk Ralph Weideman verkeer nie.”

“Maar dit sal nie net by … by Ralph bly nie. Daar is die hospitaal, die res van die personeel. Sulke dinge word rugbaar. U weet tog seker self hoe dit gaan.”

Hy maak haar met ’n ongeduldige handgebaar stil, so asof die gesprek hom verveel en selfs tot ergernis stem. “Ek ken die bostelegraaf van ’n groot hospitaal. Teen hierdie tyd weet al wat ’n suster is al seker dat ons twee bevriend is. Die saalsuster kon sekerlik nie wag om die sappige stukkie nuus aan haar medesusters te gaan vertel nie. Sy sal ook nie nalaat om te noem dat die nuwe superintendent en die nagmatrone óók goeie vriende was, of is nie.”

Sy frons verdiep toe hy weer die duidelike wegdreinering van bloed uit haar wange sien. “Matrone, ek is ’n oujongkêrel van agt en dertig met geen bande of verpligting teenoor enigiemand nie. As dit dus bekend word dat ons bevriend is, sal dit aan my kant niemand skade aandoen nie. En as dit u sal pas dat Weideman onder daardie indruk bly, dan laat ons dit daar. Dis vir my om ’t ewe.”

Sy is eers stil terwyl hy wag dat sy iets hierop moet sê. Dan sê sy aarselend, nog steeds pynlik selfbewus. “Dankie, professor. Dit … dis baie vriendelik van u, maar … ek wil nie van u misbruik maak nie.”

“Dis ék wat in die eerste instansie my neus ongevraag in u persoonlike sake gesteek het. En hierdie voorstel kom van mý. U het nie daarom gevra nie.”

Sy redeneer nie met hom nie, hoewel sy weet dat die saak nie so eenvoudig is as wat hy dit nou nonchalant wil afmaak nie. Weliswaar het sy geen mondelinge beroep op hom gedoen nie, maar sy weet, en hy weet ook, dat sy hom woordeloos om hulp gevra het toe Ralph Weideman skielik uit die verlede voor haar verskyn het. Sy het haar spontaan na hierdie vreemdeling gekeer en soos ’n drenkeling aan daardie blou oë vasgeklou asof sy in hulle ’n ontsnaproete gesien het. En hy het impulsief daarop gereageer.

Sy kyk moedig op. “As u seker is, professor … baie dankie. Dit sal help …” Sy laat haar blik weer sak. “Ek is u seker ’n verduideliking verskuldig …”

“Geensins. Ek het geen belang by u persoonlike sake nie. Dit het niks met my te doen nie. Net een ding, matrone …” Hy wag tot sy verplig is om hom weer in die oë te kyk. “Die oomblik dat u besluit u is weer daarvoor te vinde om ou vriendskappe te hernieu, laat my asseblief dadelik weet. Ek hou nie daarvan om vir ’n gek aangesien te word nie. Ek is nie van plan om in u privaat lewe in te meng nie. U kan kom en gaan en afsprake maak soos gewoonlik, maar solank Weideman onder die indruk gehou word dat ons twee bevriend is, is hy taboe.”

“Natuurlik. Ek … ek het nie mansvriende nie en gaan met niemand uit nie. Daar bestaan ook nie die geringste moontlikheid dat ek ooit … ou vriendskappe sal wil hernieu nie.”

Daar is niks meer om oor te praat nie en hy stap saam met haar terug na haar motor, wag dat sy terugstoot en sê dan met ’n kopknik totsiens.

Toe sy motor hare ’n oomblik later die hekke uit volg, is hy nie bewus daarvan dat hul vertrek vanaf die stoeptrap dopgehou word nie.

Ook Maryke is totaal onbewus van die loervink of dat ’n motor haar op ’n veilige afstand volg. Sy weet ook nie dat professor De Vries ’n nota in sy brein maak van haar adres toe sy voor haar woonstelblok parkeer nie.

Dis eers toe Maryke haar voordeur veilig op knip getrek het, dat sy wonder wat die professor so vroeg by die hospitaal kom soek het.

Sy voel glad nie soos iemand wat pas ’n vakansie agter die rug het toe sy daardie aand gereed maak om aan diens te gaan nie. Sy het nie veel geslaap nie. Sy het bly rondrol op haar bed terwyl die verlede weer wreed in haar gespook het. Hoekom? Hoekom, hoekom moes Ralph Weideman haar lewe ná tien jaar weer binnestap?

Wat moet sy doen? Bedank en vlug? Maar haar lewe is georden, dis die enigste wat sy ken en wat vir haar oorgebly het. Sy kan weliswaar dieselfde werk gaan doen in ’n ander hospitaal, maar sy deins terug van dié gedagte.

Hierdie hospitaal en sy personeel het haar nou al aanvaar soos wat sy is. Daar is niemand wat meer nuuskierige vrae stel of oor haar wonder nie. Sy het ná tien jaar deel van die hospitaal geword soos wat oom Daan deel daarvan is. Niemand is meer nuuskierig oor haar nie.

Maar om in ’n ander hospitaal te gaan begin … Die welwillendheid van haar kollegas sal een te veel wees vir haar. Sy weet hulle sal dit goed bedoel, probeer om haar een van hulle te maak. Hoe sal sy, sonder om asosiaal en onbeleef voor te kom, dit kan tuisbring dat sy liewer haar pad alleen stap, verkies om afgesonderd van die res van die mensdom te lewe? Nee, sy sien nie kans om van voor af op ’n ander plek te begin nie.

Maar as Ralph haar nie in vrede gaan laat nie, sal sy geen ander keuse hê nie. Die toekoms sal maar moet leer. Alles gaan afhang van Ralph se optrede en of hy gaan aanvaar dat sy klaar is met hom. Tien jaar gelede al finaal klaar was met hom.

Maar dit was eintlik hý wat tien jaar gelede met háár klaar was, onthou sy in pynlike herinnering. En skielik ervaar Maryke weer die gevoel van bitterheid van daardie eerste dae. Tien jaar is ’n lang tyd, en deur die loop van daardie jare het die bitterheid in haar getemper geraak, die laaste paar jaar totaal verdwyn. Maar op hierdie oomblik is dit meteens weer fel by haar, besef sy dat dit tesame met so baie ander emosies maar net goed gevange gehou is in daardie hoekie van haar wese waar sy al die dinge wat eens vir haar van waarde was, weggesluit het.

Maar met een enkele vraag het Ralph Weideman daardie geroeste slot oopgebreek. Onthou jy nog, Maryke? Hoe maklik is dit vir hom om te vra of sy onthou, want dit wat hý onthou, is so min, so oneindig min in vergelyking met wat sý onthou …

Dis toe die dagmatrone gereed is om te groet, dat die deur van die kantoor skielik oopgaan en hy weer voor Maryke staan. Soos ’n paar uur gelede kan sy net roerloos na die gemaklike glimlag om sy lippe staan en staar.

Matrone Lüdick lyk verbaas. “Goeienaand, dokter. Is daar iets verkeerd?”

Sy antwoord is ewe gemaklik. “Nee, matrone. Ek het net iets in my kantoor kom haal wat ek vergeet het.”

Maryke staan net stil na hom en kyk. Dis nog dieselfde man van tien jaar gelede, dieselfde man wat altyd ’n antwoord gereed het, nooit onverhoeds betrap word nie. Die man wat nog net so glad kan lieg.

“O. Ag, ekskuus tog. Ek veronderstel u en matrone Linde het nog nie ontmoet nie. Sy was mos met verlof en het maar gisteraand eers weer begin werk. Dit is dokter Weideman, ons nuwe superintendent, matrone.”

Sy mond gaan oop maar Maryke spring hom voor. “Aangename kennis, dokter.”

Sy mond klap toe en die bekende glimlaggie krul om sy mondhoeke terwyl sy wenkbroue lig. “Baie aangenaam, matrone Linde.”

“Nou ja, dan sê ek maar geruste nag aan u albei,” laat matrone Lüdick hoor en Maryke sien haar uitstap. Sy soek na ’n rede om haar terug te roep, maar die superintendent het reeds die deur agter haar toegedruk.

Hy draai om en Maryke sak met bewende knieë agter die lessenaar neer. “Is daar iets waarmee ek kan help, dokter? Ek moet met my saalrondes begin.”

Haar stem is koud en ver en die selfversekerdheid verdwyn van Ralph Weideman se gesig. Hy frons en kom nader. “Niks waarmee jy kan help nie, matrone. Maar daar is beslis iets wat jy kan doen.” Toe sy nie antwoord nie, druk hy met sy hande aan weerskante van die lessenaar en leun nader. “Jy kan gerus ophou om tot ’n standbeeld op te vries die oomblik as jy my sien. En jy kan gerus ophou om voor te gee dat jy my van geen kant ken nie, Maryke. Dis ’n kinderagtige speletjie wat …”

“Die dae toe ek deelgeneem het aan kinderagtige speletjies is presies tien jaar gelede verby, dokter Weideman.”

“Maryke, asseblief, dis waaroor ek met jou wil praat, maar jy wil my geen kans gee nie.”

“Daar is niks waaroor ek met u wil praat nie, dokter Weideman.”

“Bang, Maryke?”

Sy staan vinnig op, ’n pragtige wasbleek standbeeld. “U is die superintendent van hierdie hospitaal en my werkgewer, dokter. As sodanig is ek bereid om u te respekteer, maar ek verwag dieselfde. Wanneer u my aanspreek, is ek matrone Linde, asseblief.”

Hy sug, kyk haar met nougetrekte oë aan. “Jy gaan niks deur hierdie houding bereik nie … matrone. Jy kan aan die verlede niks verander nie.”

“Nee, niemand kan nie. Maar ’n mens kan daaruit leer.” Sy stap beslis om die lessenaar in die rigting van die deur. “Verskoon my. Ek moet aangaan met my werk.”

“Jy hardloop weg, matrone Linde – nes tien jaar gelede.”

Sy kyk hom vas aan, die grys oë ’n vaal wasigheid soos van ’n triestige, koue wintersdag. “As dit by weghardloop kom, was u wegspring honderd keer vinniger as myne.”

“Maryke, asseblief, dis nie waar nie. Goed, ek erken dit mag so gelyk het, maar ek het weer teruggekom, jou kom soek en toe was jy weg. Meisie …”

Sy deins van sy hande af weg, haar stem laag en skor. “As u ooit, ooit waag om u hande op my te lê …! Ek sal bedank, dokter. Ek sal weggaan. Die verlede is dood. Daar is niks daarvan oor nie.”

Sy gesig is ook nou strak, lyk eintlik half vreemd vir haar. “Dis daardie De Vries … Wat het jy hom van ons vertel? Wat beteken die man vir jou?”

Meteens herwin Maryke haar kalmte. Dit is amper vir haar asof sy ’n paar blou oë stip in hare sien kyk. “Dis my persoonlike saak en u het daarmee niks te doen nie. Nag, dokter.”

Sy stap uit, maar meteens is hy reg voor haar in die gang. “Dit sal nie help om weg te hardloop nie, Maryke. Die verlede haal jou altyd in. Ons praat later weer.”

Dan is sy by hom verby en verdwyn om die hoek. Ralph Weideman swets saggies. Hy draai in die teenoorgestelde rigting en stap sonder ’n kopknik by oom Daan verby na buite.

In die weke wat volg, lyk dit tog asof die nagmatrone se kil, vyandige houding die nuwe superintendent ’n bietjie afgeskrik het. Sy gewaar hom nie met ’n oog nie, en daaroor is sy innig dankbaar. Dit is nie vir die nagmatrone en die superintendent ooit nodig om mekaar te sien nie, en solank dit so kan bly, sien Maryke kans om met haar werk voort te gaan, kan sy selfs daarin slaag om die vrees in haar tot bedaring te bring en aan te gaan asof Ralph Weideman nooit weer in haar lewe verskyn het nie.

Tog is sy op haar hoede, betrap sy haarself dat sy altyd versigtig om haar rondkyk, haar hart ’n slag mis as haar kantoordeur skielik in die nag oopgedruk word.

Sy maak haarself oor en oor wys dat sy nie werklik iets te vrese het nie. Ralph Weideman het geen houvas op haar nie. Maar diep in haar hart weet sy dat dit nie die volle waarheid is nie. Hy het – hoewel hy nie daarvan weet nie. Sy moet net keer dat hy nooit daarvan uitvind nie, want soos sy hom ken, en ook nou weer leer ken het, sal hy nie huiwer om daarvan gebruik te maak nie. Wat haar die meeste verwar en ontstel, is hoekom hy nou skielik weer so ’n belangstelling in haar koester. Tien jaar gelede kon hy nie gou genoeg van haar ontslae raak nie. Vanwaar die skielike belangstelling nou?

Wanneer sy by hierdie vraag kom, voel sy altyd bang, voel sy hoe ’n staalband van vrees om haar keel vou. Sou hy tog weet, vra sy haarself beangs af. Hou hy hom maar so onskuldig? Wat het hom na hierdie hospitaal gebring? Hoekom haar skielik weer uitsonder? Hoekom so bly hamer op die verlede – die verlede wat jou altyd inhaal? Is Ralph Weideman besig om tot sy eie heimlike vermaak ’n speletjie met haar te speel?

Omdat dit nog nooit haar gewoonte was om van die personeel met ander personeel te bespreek nie, kan sy ook nie by iemand meer probeer uitvind van dokter Weideman nie. Sy weet nie eens of hy getroud is nie. Sy veronderstel hy is. Hy is al in die dertig. Dit sal baie vreemd wees as hy nie gedurende die afgelope tien jaar getrou het nie. Des te meer rede hoekom sy nie sy belangstelling in haar kan begryp nie.

Hy het seker ’n vrou en kinders. Hoekom dan die verlede so wil terughaal? Daar is tog geen sin in nie, behalwe … Weer trek haar keel toe. Behalwe as hy méér weet van die verlede as wat hy veronderstel is om te weet …

Onverklaarbaar smag sy skielik daarna om met iemand te praat, iemand teenoor wie sy haar vrese hardop kan lug, by wie sy kan raad soek, want dis of haar verstand in doodloopstrate sirkel, wanneer sy oor al hierdie dinge begin tob. Soms is sy op die punt om na die hoofmatrone te gaan. Maar dan besluit sy weer daarteen.

Soms wens sy selfs dat professor De Vries hom weer in haar persoonlike sake wil inmeng, haar selfs net wil vra hoe dit gaan sodat sy die opening kan kry om met hom te gesels. Maar dan weet sy net so goed dat, as so ’n oomblik sou opduik, sy weer sal terugtrek en net stom voor hom sal staan. Want te lank het sy gewoond geraak daaraan om dinge in haar hart te hou en dit met niemand te deel nie. Sy weet nie meer hoe om haar hart teenoor ’n medemens oop te maak nie.

Van professor De Vries sien sy egter ewe min. Net een keer het hy ’n noodoperasie kom uitvoer. Hulle het ’n paar professionele woorde gewissel, en hy het ingedagte gelyk, asof hy haar skaars raakgesien het.

Maryke is heeltemal onbewus daarvan dat die veraf blik haar daardie nag fyn bestudeer het. Dat die blou oë gesien het dat daar weer ’n bietjie kleur in haar wange was. Dat die grys oë maar soos altyd gesluierd was met daardie veraf weemoed daarin, maar dat hulle nie meer so paniekerig gelyk het nie.

Hy het tevrede geknik by die wete dat hy sy pasiënt in bekwame hande laat en toe weggestap. Maryke het haarself betrap dat sy hom ietwat teleurgesteld agterna gekyk het, maar hoekom sy so gevoel het, het sy nie geweet nie. Hoekom sou sy teleurgesteld wees dat die vreemdeling haar op so ’n streng professionele wyse aanspreek en nie eens die moeite doen om te vra hoe dit gaan nie? Dis verspot.

Teen hierdie tyd weet sy dat die hele hospitaal gons oor die feit dat die altyd stil en afsydige nagmatrone goed bevriend is met die twee nuwe dokters. Juis omdat hulle so min weet van Uiltjie, kou en herkou die klomp hierdie stukkie nuus en wonder presies hoe die vurk in die hef steek.

Miskien het die professor ook al gehoor van die gissings wat die rondte doen en besef hy nou eers waarvoor hy hom ingelaat het … Maryke glo dat hy klaar spyt is dat hy so impulsief opgetree het. Dat die twee nuwe dokters beslis gewild is onder die personeel, is seker. Albei is aantreklik op hul eie manier. Die superintendent se vrolike geaardheid en daardie geïnteresseerde, belangstellende glimlag en vonkelende oë maak hom baie besonders.

Professor De Vries se gewildheid berus meer by sy briljante optrede as chirurg as by sy omgang met sy kollegas. Eintlik is hy taamlik afsydig, soms selfs kil. Maar dit verhoog net sy charisma en Maryke het al opgemerk hoe die verpleegsters oor mekaar val om sy geringste bevel uit te voer en hoe van die juniors se oë ’n skaapagtige uitdrukking aanneem wanneer die professor skielik verskyn. Die feit dat hy nooit toon dat hy daarvan bewus is dat hy enige uitwerking op enigeen het nie, maak hom natuurlik net interessanter.

Dis met die wete dat sy ná byna veertien dae nog geen helderheid gekry het oor wat die regte optrede vir haar sal wees nie, dat Maryke se vry naweek aanbreek. As sy nie geweet het dat die hoofmatrone kapsie sou maak nie, sou sy nooit ’n hele naweek vry geneem het nie, want hierdie naweke is vir haar eindeloos lank. Waar die res van die nagpersoneel verlangend na so ’n naweek uitsien, is dit vir die nagmatrone ’n straf, en sou sy met graagte haar naweke onder hulle wou uitdeel. Maar daar is reëls wat sy moet gehoorsaam en dis met ’n gevoel van mismoedigheid dat sy die middag wakker word en onthou dat sy nie oor ’n paar uur aan diens moet gaan nie.

Sy sal maar soos gebruiklik haar woonstel van hoek tot kant skoonmaak, die nodige inkopies doen en haar besig hou met herstelwerk aan haar klere. En al die tyd sal haar donker gedagtes met haar wees sodat sy, wanneer sy weer aan diens moet gaan, moeër sal voel as vóór die naweek.

Dis met min belangstelling dat sy ’n halfgebreide trui optel toe sy daardie aand met ’n koppie tee in ’n gemakstoel sit. Dis ’n lang nag wat voorlê. Sy kan wel bed toe gaan, maar of sy op die bed wakker lê en of sy regop in ’n stoel wakker sit, is dieselfde. Slaap sal vannag nie maklik kom nie, dit weet sy.

Toe daar meteens aan haar deur geklop word, verstyf sy onwillekeurig. Dan dwing sy haarself om te ontspan en op te staan. Dis seker maar weer ’n verkoopsman. Sy verwag beslis geen kuiergaste nie. Heel aan die begin het van haar kollegas soms kom aanklop en ’n koppie tee kom drink. Maar gou het hulle agtergekom dat Maryke Linde verkies om alleen gelaat te word en het die seldsame besoeke opgehou. Hoe kon hulle weet dat sy ook soms na geselskap verlang het, maar dat haar vrees vir vrae haar so afsydig gemaak het?

Sy verstyf merkbaar toe die deur oopswaai en sy in sy gesig opkyk.

Hy glimlag breed asof hy niks agtergekom het nie, en stap sommer binne. “Ek is gelukkig. Ek het gedink jy en jou professor sou dalk iewers heen wees vanaand. Dis immers Saterdagaand.” Sy blik dwaal vlugtig deur die vertrek en keer dan weer glimlaggend na haar terug. “Maar dit lyk my nie julle gaan dikwels uit nie. Om die waarheid te sê, dit lyk nie asof julle veel van mekaar sien nie, of hoe?”

Sluiers van die nag

Подняться наверх