Читать книгу Wewenaar van Groene Weide - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

Manda kan hom net sit en aanstaar en die ongeloof lê helder in haar oë. Dan maak dit plek vir skok toe die volle besef van wat die man haar pas vertel het, ten volle tot haar begin deurdring. Meteens is hy nie meer ’n blote vreemdeling wat net uiters lastig is nie. Hy begin vaag bekend lyk en die naam klink nog bekender. Rocco de la Rey is bekend in die stad, sinoniem met rykdom, sukses en invloed. ’n Ou gevestigde in die wêreld van groot geldsake en bedrywe.

En dis dié Rocco de la Rey wat hier voor haar staan, en dis aan Jeanette de la Rey dat sy die raad gegee het om weg te breek, te verdwyn voordat sy haar in ’n gedwonge, liefdelose huwelik met haar ou voog bevind, die slinkse ou man wat net agter haar geld en jeug aan is …

Die giggellaggie wat meteens die swanger stilte verbreek, klink so onvanpas dat sy self daarvoor skrik en vir ’n oomblik yskoud word. En dan borrel dit verder na buite, totdat sy later net met tranerige oë hulpeloos na die man kan opkyk wat voor haar staan en wat lyk asof hy uit graniet gekap is. Sowat van skok en verbystering, van kale ongeloof, het sy nog nooit tevore op ’n gesig gesien nie. En hoe meer granietagtig die man vertoon, hoe snaakser lyk hy vir haar.

’n Vuis slaan op die blink lessenaarblad en laat haar penorent wip. Dit bring haar histerie oombliklik tot ’n einde. “Is jy van die duiwel besete? Daar is niks om oor te lag nie, verduiwels! Jy het van my die grootste gek voor al my vriende gemaak! Die hele stad is aan die skinder en lag ten koste van my!”

“Wat … wat bedoel jy?” vra sy verward, en sit ’n streng hand op haar keel. Dis beslis nie nou die tyd vir lag nie. Hierdie man lyk asof hy hom elke oomblik te buite kan gaan.

“Omdat almal weet wie die Jeanette is aan wie jy sulke puik raad gegee het, veral noudat sy spoorloos verdwyn het. Dis nie moeilik om twee en twee bymekaar te sit nie, veral nie vir die mense wat ons persoonlik ken en ook hierdie snert lees wat jy skryf nie. En natuurlik vind hulle dit kostelik en geniet hulle hul terdeë! En dis alles jou skuld! Jy moet liewer vir jou ’n man soek en jou met iets meer konstruktiefs besig hou as om soos ’n alwyse oujongnooi in ’n kantoor te sit en twak aan jong kinders te verkoop …”

Haar lus vir lag is nou totaal weg. Hierdie man kan honderd keer ’n miljoenêr wees, maar sy gaan haar nie deur hom laat beledig nie. “Ek hou nie van die toon waarop u met my praat nie, meneer De la …”

“En ek hou nie van die wyse waarop jy in jou rubriek na my verwys het nie, juffrou Maree. Ek hou niks daarvan om deur ’n oujongnooi vir die gek en bespotting gehou te word nie. En jou raad aan Jeanette staan my glad nie aan nie. En …”

“En ’n oujongkêrel van ses en dertig het natuurlik baie meer wysheid in pag as ’n oujongnooi van sewe en twintig!” kap sy sarkasties terug en voel hoe die bloed in haar slape klop. As hy nog een keer die woord oujongnooi gebruik, sal sy … sal sy hom met iets gooi. Miljoenêr ofte nie!

Blitsig is sy antwoord: “Moenie vir my op die rak soek as jy self daar sit nie, juffrou. Ek is nie ’n oujongkêrel nie. Ek het jou gesê ek is ’n wewenaar.”

“O!” Die wind is vir die soveelste keer uit haar seile. Sy laat haar blik sak en haar stem klink meteens baie meer bedees. “Wel, wat gaan u doen? Ek veronderstel u gaan die tydskrif dagvaar, my uit my werk laat gooi en …”

Hy trek sy asem diep in en vir die eerste keer sedert hy die kantoor ongenooid binnegestap het, heers daar ’n hele rukkie stilte. Lank kyk sy kwaai bruin oë priemend na die waarnemende hoofredakteur. Dan laat hy hoor, sy stem ook nou kalmer, maar nietemin nog beslis: “Nee, juffrou. Ek is nie ’n onredelike mens nie. Ek is self ’n werkgewer en ek weet ’n mens moet soms maar noodgedwonge gebruik maak van die dienste van iemand wat geensins bekwaam genoeg is vir ’n spesifieke taak nie.”

Manda verstyf merkbaar by die aanhoor van hierdie woorde en die oë wat na hom opkyk, vermoor hom stilswyend.

Maar hy gaan kalm voort: “Nee, ek sal nie die tydskrif en jou hoofde verantwoordelik hou vir jóú voortvarendheid en onkunde nie. Maar jy gaan nie skotvry hiervan afkom nie. Jeanette moet gekry word – dadelik!”

“Maar … hoe? Waar moet ek …?” begin sy hulpeloos.

“Ek het natuurlik reeds privaat speurders op soek na haar. Ek wil nie ’n polisiesoektog op tou sit nie. Dit sal te veel publisiteit meebring. Maar jy het haar mos in jou antwoord genooi om jou weer te kontak. Jy sal met graagte help – al is dit natuurlik van die wal af in die sloot. Het sy jou nog nie weer gekontak nie?”

“Nee.”

“Ek wil onmiddellik weet die oomblik as jy van haar hoor. Hier is my adres en telefoonnommers. Dit maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit is nie, verstaan? Onmiddellik!”

Manda knik gedienstig. “Ek gaan Maandag met ’n maand verlof, maar ek sal reël dat my pos elke oggend dadelik deurgegaan word en dat u dadelik gekontak word as daar so ’n brief …”

“O nee, juffrou Maree, jy gaan nêrens heen nie. Jy bly net hier en jy kom elke dag self jou pos deurgaan. Meer as genoeg mense weet reeds van hierdie gekkespul.”

Sy kyk hom fronsend aan. Die man is belaglik as hy dink sy gaan ’n maand se vakansie langs die see opoffer om hier pos te sit en oopmaak. “Maar …”

“Geen maar nie, juffrou. Verstaan my goed. Ek hou jou volkome verantwoordelik vir wat gebeur het, en as Jeanette iets oorkom …” Sy stem is nou gevaarlik sag, onmiskenbaar dreigend. En Manda sê totsiens aan al haar vakansieplanne. “Ek wil jou adres ook hê, asseblief. En jou telefoonnommer.”

Stilswyend skryf sy dit neer op ’n stukkie papier en oorhandig dit aan hom. Hy lees dit en steek dit dan in sy binnesak.

“Indien u iets van haar verneem of haar opspoor, sal u my dan ook net asseblief in kennis stel?” vra sy styf, en hy knik ewe styf.

“Ek sal. Totsiens, juffrou Maree. Ons sien mekaar weer.”

Sy laaste woorde is nie ’n afskeidsgroet nie. Dis ’n dreigement en Manda voel soos ’n geprikte ballon toe die deur agter hom toegaan en sy in haar stoel terugsak. Met bewende vingers tel sy die kaartjie voor haar op. Sy huisadres is Groene Weide. Dit klink mooi, koel, rustig … vreedsaam. Haar mond trek suur. Allesbehalwe wat die baas is …

Dis ’n bittere dag om deur te worstel en vir die eerste keer in haar lewe geniet Manda nie haar werk nie. Telkens is die haatlike stem in haar ore. Gebruik maak van mense wat nie bekwaam is nie … Alwyse oujongnooi …

Een ding is seker: hy is beslis die mees ongepoetste miljoenêr in die land! En dan het hy nog die vermetelheid om homself as ’n redelike mens te bestempel. Is dit redelik om haar verantwoordelik te hou vir die spul leuens wat ’n verbeeldingsieke kind vir die waarheid verkoop?

Maar teen vyfuur die middag het haar woede teenoor Rocco de la Rey taamlik afgekoel, en nou neem onrus en ongemak die plek daarvan in. Sy sal verplig wees om juffrou Hettie alles te gaan vertel. Sy het nou weer haar eie rubriek oorgeneem, dus kom al die pos in verband daarmee na haar.

Juffrou Hettie kyk verras op toe Manda die woonstel binnestap.

“A, Manda! Jy kom of jy gestuur is. Ek wil sterf vir ’n koppie tee, maar dit smaak nooit so lekker as wanneer jy dit saam met iemand drink nie. Gaan skakel vir ons die ketel aan, asseblief.”

Manda laat haar blik vlugtig oor die ouer vrou dwaal. Die wêreld lê besaai met briewe. “Ek sien u het al aan die werk gespring.”

“Ja, Mattie het die eerste klomp rubriekbriewe vanmiddag gebring en ek het toe maar besluit om hulle dadelik te takel. Hier is ’n hele paar interessantes by.”

Manda voel hoe haar keel toetrek. Sal daar tog nie een van Jeanette de la Rey onder hulle wees nie? Maar sy wil nie nou al vra nie. Eers die tee gaan maak, en dan sal sy juffrou Hettie alles moet vertel.

’n Rukkie later sit die ouer vrou verdwaas en luister, en toe Manda eindelik stil is, slaan sy haar pofferhandjies saam.

“Liewe land, kind, maar dis … Dit klink soos ’n storie!”

Manda se lippe bewe. Sy het meer skokke vandag verduur as wat sy kan hanteer. “Dis geen storie nie, juffrou Hettie. Daardie man kon my vermoor, en ek wil liewer nie dink wat hy gaan doen as daardie Jeanette-kind iets onverantwoordeliks aanvang of iets oorkom nie.” Sy vroetel in haar handsak. “Hier is haar oorspronklike brief aan my. Gelukkig het ek al die rubriekbriewe wat ek gehanteer het, bewaar. En hier is my antwoord aan haar,” en sy oorhandig die bladsy van die betrokke uitgawe wat Rocco de la Rey vandag voor haar op die lessenaar neergegooi het as die grootste snert wat nog ooit geskryf is. “Lees dit asseblief, juffrou Hettie, en gee my dan u eerlike opinie. Wat sou u antwoord aan hierdie meisie gewees het?”

Manda sluk aan haar tee maar proe dit nie werklik nie, terwyl juffrou Hettie met aandag lees. Daar is ’n frons op die goedige gesig toe sy die brief en die rubriek eenkant toe skuif. Manda kyk vraend op.

“Dis baie duidelik dat die brief deur ’n jong, onervare persoon geskryf is,” sê die ouer vrou aarselend.

Manda knik. “Ja. Dit het ek ook dadelik besef,” gee sy toe.

“Dit is ook baie dramaties geskryf. Ek sal dit selfs melodramaties noem. Hierdie naskrif van haar, help my asseblief, klink baie soos ’n stem roepende uit ’n tronksel. Het die hele trant van die brief jou nie gewaarsku dat jy dalk hier te doen het met iemand wat na oordramatisering neig nie en dat die feite miskien nie heeltemal so betroubaar is nie?”

Manda kan net swyg.

Juffrou Hettie vervolg vinnig: “Ek probeer jou nie kritiseer nie, Manda. Verstaan my asseblief mooi. Hierdie soort van ding leer jy net met ervaring uitken. Dis onregverdig om te verwag dat iemand wat vir die eerste keer hiermee te doen kry, dit dadelik korrek sal takseer.”

“Ek begryp, juffrou Hettie. Maar sê my nou hoe u hierdie brief sou hanteer het, asseblief.”

“Wel, ek sou vir eers ietwat skepties teenoor haar droewige verhaal gestaan het. Ons leef darem nie meer in die Middeleeue nie. Haar brief klink soos die tema van ’n outydse roman. Iets sê my dat die kind se feite nie heeltemal juis is nie.”

“Ja, maar iets sê my ook dat daar êrens, hoe gering ook al, ’n bietjie waarheid in moet steek. Juffrou Hettie, ek kan net nie aanvaar dat ’n meisie van agtien sommer so ’n fantastiese storie uit haar duim sal suig en dan sal skryf en raad vra nie. Nie as sy normaal is nie, en sy is dit blykbaar, hoewel sy skynbaar aan ’n oormaat van verbeelding ly.”

“Dit gee ek toe. Daar moet êrens iets wees waarop sy hierdie verhaal gebaseer het. Maar ek voel eerlik dat die situasie wat sy hier skets, op ’n misverstand berus. Per slot van sake kan hierdie voog van haar haar nie met ’n geweer tot voor die kansel dwing nie. Sulke dinge gebeur net nie meer vandag nie, Manda.”

Manda sug, laat haar blik sak. Nee. Natuurlik nie. “Wat sou u antwoord dus aan haar gewees het?”

“Ek sou haar aangeraai het om ’n ope gesprek met hierdie voog van haar te hê. Hom vertel het dat sy geheg is aan hom en dat sy innig dankbaar is vir alles wat hy vir haar gedoen en beteken het in die jare wat verby is, maar dat sy nie kans sien om sy vrou te word nie. Terloops, ek sien in jou antwoord dat jy ’n paar keer melding maak van ’n ou man en op een plek van ’n ou man wat haar oupa kon gewees het. Ek sien nêrens in haar brief iets wat so ’n afleiding regverdig nie. ’n Taamlike ouderdomsverskil tussen hulle kan wees van vyf tot vyftig jaar. Maar ek sal nie sê dat ’n man van ses en dertig as ’n ou man bestempel kan word en nog minder dat hy maklik die oupa van ’n agtienjarige meisie kan wees nie.”

Vir die soveelste keer vandag voel Manda haar ore brand. Dan lag sy skuldig. “Ek is bevrees ek ly ook aan ’n oormaat verbeelding nes ons kleine Jeanette. Ek pleit skuldig. Dit was my eie afleidings en ek weet werklik nie waar ek aan hulle gekom het nie.” Sy kyk vinnig weg en haar stem is gedemp. “Ek het ’n lieflike gemors van u rubriek gemaak, juffrou Hettie. Ek … is jammer. Geen wonder Rocco de la Rey bestempel dit as die grootste snert wat hy nog ooit onder oë gekry het nie!”

Juffrou Hettie se oë blink ’n oomblik geamuseerd. Sy sou graag hierdie miljoenêr met die vrye sê persoonlik wil ontmoet. Om darem so iets vir haar regterhand te sê!

“Asseblief, dis glad nie nodig om ’n kompleks daaroor te ontwikkel nie. Ek het jou reeds gesê – insig kom met ervaring. Dis deels my skuld. Ek het al die jare die rubriek my eksklusiewe eiendom gehou. Ek moes daaraan gedink het dat daar op ’n dag iets sou gebeur en dan is daar niemand wat opgelei is en kennis daarvan dra nie. Ek dink ek en jy moet dit in die toekoms om die beurt doen …”

“O nee, asseblief nie, juffrou Hettie! Ek dien my bedanking vandag in as u dit werklik van my gaan verwag. Ek is bereid om enige ding onder die son te skryf, maar nooit ooit weer ’n probleembrief vir my nie, dankie!”

“Maar, Manda, jy het jou uitstekend van jou taak gekwyt. Ek het al ’n hele paar briewe van dankbare persone gekry wat net lof het vir jou hantering en insig in hul probleme en die raad wat jy gegee het. Hierdie Da la Rey-geval is maar die enkele uitsondering.”

“Maar een is genoeg vir my. Nee dankie, juffrou Hettie. U weet dat ek in al die jare nog nooit werk wat u aan my gegee het, geweier het nie. Maar hier steek ek vierspoor vas. Geen probleemrubriek ooit weer vir my nie. Asseblief!”

Juffrou Hettie frons liggies. Die vervlakste miljoenêr het haar beste joernalis en toekomstige opvolger totaal afgeskrik. Die man het Manda beslis die harnas ingejaag. Te oordeel na haar ontsteltenis, begin sy byna glo dat party van die vergesogte feite in sy pleegkind se brief ’n goeie hap van die waarheid kan weghê! Hy klink na ’n skrikwekkende persoonlikheid.

Dat Manda self haar bedenkings het, is duidelik toe sy weer laat hoor: “En ek sê vir juffrou, hierdie Rocco-mansmens is heeltemal kapabel en dwing ’n vrou met ’n geweer tot voor die kansel. Dit lyk my as hy sy kop op ’n ding gesit het, sal niks en niemand hom keer nie.” Daar is ’n bietjie leedvermaak in haar stem toe sy vra: “Kom ons veronderstel nou net Jeanette het u raad ontvang en sy het dit deurgevoer. Sê nou maar u het op ’n dag weer ’n brief van haar gekry waarin sy vertel dat sy toe die ope gesprek met hierdie man gehad en dat dit haar alles niks gehelp het nie. Wat sou u dan gedoen het?”

“Ek sou haar om sy adres gevra en ’n persoonlike brief aan hom geskryf het en haar intussen aangeraai het om ’n prokureur te gaan sien, en indien dit nie anders kan nie, haar op die polisie te beroep. Hy kán haar nie dwing om met hom te trou as sy nie wil nie.”

Manda se lippe pers opmekaar. Haar hele houding sê duidelik: Jy het nog nie vir Rocco de la Rey persoonlik ontmoet nie. Dan trek sy haar skouers op. “Goed. Ons laat dit daar. Maar dis nie die end van die storie nie. Ek sit hier vasgepen tot tyd en wyl daardie meisiekind iets van haar laat hoor of totdat sy opgespoor word. En dan is dit nog nie die end van die storie nie. Dan hang alles nog daarvan af of sy nie iets kranksinnigs gaan aanvang het of iets oorgekom het nie.”

Juffrou Hettie skud haar kop ietwat ongeduldig. “Dis gek om van jou te verwag om ’n maand lank hier te sit en pos oppas. Ek is nou self weer in beheer van die briewe en per slot van sake is ek jou hoof. Ek sal die man kontak en hom sê dat ek volle verantwoordelikheid aanvaar en jy gaan weg see toe soos jy beplan het.”

“Nee, juffrou Hettie. Baie dankie, maar ek gaan nie toelaat dat u my kastaiings uit die vuur krap nie. Dis my eie onkunde en onbekwaamheid wat my hierin laat beland het. Ek moet dit self regmaak.”

Juffrou Hettie se lang geduld word ietwat korter. “Jy is nie onkundig en onbekwaam nie. Moenie twak praat nie, kind!”

“Rocco de la Rey dink so – en miskien is hy reg.” Die blou oë lyk bekommerd. “Ek sal tog tot ’n mate verantwoordelik wees as daardie kind iets moet oorkom, juffrou Hettie. Ek sal net rus vir my siel kry as ek weet sy is veilig en ongedeerd terug by haar voog. Dus maak dit nie eintlik saak dat Rocco de la Rey my verbied het om die stad te verlaat nie. Ek sou in elk geval niks van my vakansie geniet het nie. As die kind net van haar wil laat hoor!”

Maar in die week wat volg, is dit so goed of die erfgename van ’n fortuin het in die blou lug verdamp. Twee keer op ’n dag lui Manda se telefoon en elke keer klink die nou bekende stem kortaf in haar oor op: “Rocco de la Rey wat praat. Nog niks gehoor nie?”

“Nee. Niks.” Dan sal sy aarselend vra: “Het hulle nog nie … ek bedoel die speurders …?”

“Nee. Nêrens kan ’n spoor van haar gevind word nie. Goed, juffrou Maree. Ek bel weer later.”

Telkens sak sy op die naaste stoel neer en voel hoe die knaging aan haar senuwees vervat, net ’n bietjie erger as tevore. Sy kan ook elke keer die spanning in sy stem hoor en sy besef dat hy seker op die oomblik die bekommerdste miljoenêr in die land is.

Dan, op ’n dag, is die langverwagte brief daar en juffrou Hettie ontbied Manda onmiddellik na haar woonstel. Sy storm binne, glad nie so statig en waardig soos altyd nie.

“Waar is sy? Hoe gaan dit met haar?”

“Hier. Lees self.”

Manda se blik gaan vinnig oor die geskrewe reëls en sy slaak ’n sug van verligting. Dis duidelik dat Jeanette blakend gesond is. Maar dan wyk die verligting en bekommernis, groter as ooit tevore, neem die plek daarvan in.

O, juffrou Hettie, u het ’n nuwe lewe vir my laat oopgaan! Hoe sal ek u ooit kan bedank vir die wonderlike raad wat u my gegee het? Vir die eerste keer in my lewe leef ek werklik, weet ek wat dit is om met elke vesel in my liggaam te voel. O, dis wonderlik, heerlik om so te voel. Te weet jy lewe, jy is jonk, jy het lief!

Manda se maag gee so ’n nare, hol draai en haar bewende vingers vat die brief stewiger vas.

Ek het die wonderlikste, wónderlikste man in die hele, wye wêreld ontmoet. Hy is net fantasties, onbeskryflik! Hy is dierbaar, so dierbaar dat ek hom kan opeet! O, ek wens ek kon hom aan u voorstel. U sal van hom hou. Ek weet. Daar is nie ’n mens wat nie van my Steve sal hou nie. Hy is perfek. Volmaak. O, juffrou Hettie, ek het hom só lief. Ek kan sterf vir hom!

’n Kreun ontsnap Manda se lippe en sy kyk met groot oë op. “O nee, juffrou Hettie!”

Die ouer dame knik meewarig. “Ek is bevrees dis o ja, juffrou Hettie. Manda, ek ruik groot moeilikheid.”

“Moeilikheid? Dis sag gestel,” sê sy onomwonde en haar blik gaan onwillig terug na die papier voor haar, byna te bang om verder te lees. Die woorde, in groot, ronde letters, dans voor haar oë.

En hy het my net so lief. Dis die wonderlikste van alles! Hy sê al was ek so arm soos ’n ou kerkmuisie, sou hy my nog steeds aanbid het, want ek is sy engel, sy godin van liefde. Is dit nie pragtig nie, juffrou Hettie?

“O, hemele bedek my!” Manda sluit haar oë en vee met ’n bewende hand oor haar voorkop. “Ek het behoorlik koue rillings. Sy het hom vertel sy gaan ’n fortuin erf. Is sy dan besimpeld?”

“Ja. Dis baie duidelik dat die volmaakte Steve bewus is van die feit dat sy godin van liefde met goud beplak is. G’n wonder hy aanbid haar nie.”

“Juffrou Hettie, ek … dit voel vir my ek wil kouekoors kry, maar ek weet nie waarvan nie … of dit van woede of van vrees is nie. As ek daardie Jeanette in die hande kry, draai ek haar nek om, goud ofte nie. Maar as ek aan Rocco de la Rey dink, wat hy sal sê, wat hy sal dóén as hy hierdie brief in die hande moet kry …”

“Ek begin ook die bewerasie kry. Ek maak gou vir ons tee. Of nee, wag, ek dink ons het albei iets sterkers nodig.”

’n Glas word in haar hand gestop. “Ons moet kalm word en dink. Ek sien sy het geen adres gegee nie, maar sy gee darem ’n telefoonnommer waarheen jy haar kan skakel as jy haar sou wou gelukwens met haar nuwe lewe.”

“Ja.” Manda sug en staan op. “Wel, ek moet Rocco de la Rey bel en sê …”

“Nee, wag eers. Ons moenie oorhaastig wees nie.”

“Maar hy het my laat belowe ek sal hom dadelik sê as ek iets hoor.”

“Ja, ek weet, maar ek weet nie of dit so verstandig sal wees om hom van die brief te vertel nie. Hy sal dadelik daardie nommer skakel, die meisiekind verskriklik uitkryt en haar net op haar hoede stel. Teen die tyd dat hy daar kom, sal sy al weer spore gemaak het en ons sal net weer sit waar ons nou sit. Nee. Ek dink ons moet Rocco de la Rey maar eers uit die prentjie hou. Ons moet meer subtiel te werk gaan.”

“Maar hoe?” Manda beroep haar nou totaal op die ouer vrou se groter ervaring. Haar eie verstand staan botstil. Hoe hanteer jy die verdwene erfgenaam van ’n fortuin wat duidelik heeltemal die kluts kwyt is oor ’n man wat sy ’n paar dae gelede maar vir die eerste keer ontmoet het – ’n man wat in haar ’n maklike prooi gevind het? Per slot van sake, ’n mens loop nie aldag ’n skatryk, onervare meisietjie raak wat so in jou skoot val nie. As alles pluis is met daardie wonderlike Steve, eet sy Rocco de la Rey se miljoene rande vir soetkoek op.

Juffrou Hettie dink diep voordat sy antwoord: “Jy moet haar bel en voorgee dat jy in haar vreugde deel. Vertel haar dat jy nou met vakansie is – dis ten minste die waarheid – en dat jy kan sterf om haar te ontmoet, en natuurlik ook die wonderlike Steve. Sê so terloops jy sal oormôre in daardie geweste wees. Ek is seker sy sal jou haar adres gee en jou nooi om haar en haar Don Juan te kom ontmoet.”

Manda knik. Dit klink nie na ’n slegte plan nie. “En dan?”

“Dan moet jy verstand in haar kop kry en haar probeer terugbring saam met jou. Indien dit lyk of jy geen hond haaraf maak nie, moet jy dadelik vir my of De la Rey bel. Probeer dan keer dat sy nie weer verdwyn voordat hy daar aankom nie. Maar ek sou liewer wou sien dat jy haar hierheen terugbring sonder dat haar voog kennis dra van hierdie Steve-mens. Ek kry hom jammerder as vir Jeanette as hy hulle saam in ’n hotel moet aantref. Uit wat jy my van hom vertel het, meen ek sal hy hom te buite gaan. Daar is reeds genoeg moeilikheid. Ons moet verdere probleme probeer voorkom.”

Manda knik weer. Daarmee stem sy volkome saam. Hoe gouer sy Jeanette de la Rey ongedeerd terugkry in haar voog se Groene Weide, hoe beter ook vir haarself. Dan kan sy finis agter hierdie ongelukkige episode skryf en weer rus vir haar siel kry.

Twee dae later bring Manda haar motor voor die vyfsterhotel in Durban tot stilstand. Haar mond trek suur. Natuurlik sou Rocco de la Rey se pleegkind nie in ’n plek tuisgaan wat ’n armsalige joernalis ook kan bekostig nie. Sy moes maar van haar spaargeld gaan trek om by dié spoghotel oor te bly.

As sy tog maar net spoedig nugterheid in daardie begogelde koppie van Jeanette de la Rey sal kan kry. Langer as ’n week sal sy dit nie hier kan bekostig nie, maar sy kan dit nog minder bekostig om, as sy eenmaal oë op die klein droster gelê het, haar weer uit die oog te verloor. Jeanette de la Rey het reeds bewys dat, hoewel jonk en onervare en meer as simpelverlief op die oomblik, sy genoeg verstand het om talle privaat speurders te ontduik.

Sy klim nou uit en begin aanstap na die hoofingang, maar voordat sy nog die trappe kan bereik, kom ’n jong meisie van die sykant af reguit op haar afgepyl en sy gaan staan. Sy weet onmiddellik dat dit net Jeanette kan wees. Sy het die jong meisie oor die telefoon gesê wanneer sy min of meer verwag om in die stad aan te kom en wat sy sal aanhê, sodat hulle mekaar kan eien.

“Juffrou Hettie …?”

Sy glimlag stram. “Eintlik is my regte naam Manda Maree. En jy is natuurlik Jeanette.”

“Ja. Hallo.” Sy glimlag breed en Manda sluk. Sy het lanklaas, indien ooit, ’n meisie van agtien so jonk en onskuldig sien lyk as hierdie pleegkind van die miljoenêr. Geen wonder Rocco de la Rey wou die stuipe kry nie, besef sy met nuwe insig. ’n Meisietjie wat lyk soos Jeanette behoort ’n mens eintlik in vandag se bose tye agter slot en grendel te hou. Om haar die wye wêreld in te stuur sal so goed wees as om ’n pasgebore lammetjie in ’n hok vol honger wolwe te los.

“Jy sien daar baie goed uit, Jeanette … en baie gelukkig,” voeg sy ietwat droog by en die onskuld en geluk straal uit die groot bruin oë wat na haar opkyk.

“O, ek is, juffrou … Ag, mag ek jou nie maar Manda noem nie? Ek het eintlik ’n ouer dame verwag.”

“Nee. Ek is nie die regte juffrou Hettie, ons hoofredakteur, nie. Ek het maar net die rubriek tydelik behartig terwyl sy ongesteld was. Noem my gerus Manda.”

“Dankie. En weer eens baie, baie duisend maal dankie vir wat jy vir my gedoen het.”

Manda sny die dankbetuigings vinnig kort. “Is jy hier tuis?”

“Ja. Sal jy ook hier tuisgaan?”

“So is die plan.”

“O, gaaf! Dan het ek tog geselskap. Steve moes vanoggend vir dringende sake weg en hy weet nie vir hoe lank hy sal besig wees nie. Ek is so bly jy het gekom, Manda. Ons gaan lekker saamkuier. Kom ons gaan hoor of daar ’n suite beskikbaar is.”

“Nee! Nee, wag. ’n Kamer met ’n privaat badkamer sal heeltemal voldoende wees, dankie,” keer Manda vinnig en sien in haar verbeelding hoe haar paar swaarverdiende rande vlerke kry. Mag, dis bitter om in miljoenêrsgeselskap te wees …

Maar Jeanette de la Rey wil niks weet nie. “Natuurlik moet jy ’n suite kry. Ek sal betaal. Jy is my gas vir solank jy wil bly.”

“Jeanette …” Manda se oë is vol kommer. Hierdie kind het geen begrip van geld nie. Miljoenêr ofte nie, maar geld kan opraak – al is daar kamers vol van die goed. Maar dit besef Jeanette de la Rey blykbaar nie.

Sy lag Manda se verdere besware weg. “Jy is nes Steve, die liewe ding! Wou ook niks weet daarvan dat ek vir hom ’n suite hier kry nie. Dis glo nie reg nie, nie van pas nie en ek weet nie wat nog alles nie. Maar toe gaan ek net en huur die suite en sê hom of hy daarvan gaan gebruik maak of nie, ek moet in elk geval daarvoor betaal. Dit het regtig soebat gekos om hom te beweeg om dit te neem en weg te kom uit daardie ou hotelletjie waar hy eers tuis was.”

Sy stap vinnig vooruit na die ontvangstoonbank en Manda kan haar net magteloos agternakyk. Sy wil nie ’n scene voor al die mense maak nie. Haar kommer neem met rasse skrede toe. Nie alleen het Jeanette de la Rey geen benul van die waarde van geld nie, maar sy is koppig ook. Manda het die nare voorgevoel dit gaan glad nie so maklik wees om haar te beweeg om saam terug te gaan nie.

En saam teruggaan moet sy, besluit Manda vasberade. Haar en juffrou Hettie se vermoedens was juis. Steve is ’n fortuinsoeker. Reeds betaal Jeanette sy suite vir hom en nugter weet hoeveel het hy reeds uit haar getrek.

Manda werk gou uit hoeveel spaargeld sy nog oorhet en met beklemming besef sy dat daar weinig van sal oorbly ná ’n paar dae in die luukse suite wat Jeanette nou besig is om vir haar te bespreek. Want een ding is seker. Sy sal daardie geld vir Jeanette teruggee. Ten eerste sal sy nooit toelaat dat Jeanette vir haar betaal nie. En ten tweede is die blote gedagte aan Rocco de la Rey en wat hý alles te sê sal hê as hy hiervan moet uitvind, genoeg om haar te laat besluit dat sy liewer die laaste van haar spaargeld sal afstaan as om sy opinie te hoor.

Jeanette se “Dit lyk nie te sleg nie, nè?” laat haar meewarig glimlag toe hulle ’n rukkie later die suite binnestap.

Haar glimlaggie versuur toe sy haar handsak op die egte leerbank neergooi en ewe ongeërg laat hoor: “Nee – nie te sleg nie. Ek is jammer om te hoor Steve is weg. Ek sou hom graag wou ontmoet.” En dan, terwyl sy na die venster loop: “Wat het jy gesê doen hy?”

“O, hy is op die aandelemark en dan het hy ook te doen met groot grondtransaksies. Hy is juis nou weer weg in verband daarmee – ’n nuwe strandoord wat uitgelê word,” antwoord Jeanette. “Wat van ’n drankie?”

“Drankie?” Manda blik na haar polshorlosie. “’n Bietjie vroeg daarvoor, is dit nie?”

“Ag, nee wat, seker darem nie.” Jeanette lag weer haar borrelende laggie en vertel met oë wat skitter: “Ek het baie dinge geleer sedert ek van die huis af weg is. Daar mag ek nooit my mond aan iets sterker as ’n ligte tafelwyn gesit het nie. Rocco het my altyd soos ’n kind van twaalf behandel. Nou is dit anders. Steve behandel my soos ’n dame, ’n volwasse vrou.”

“Hm.” Manda gaan sit en kyk die meisie reguit aan. “Maar jy besef natuurlik, Jeanette, dat jy nie vir ewig so sal kan voortgaan nie. Jy sal nie altyd vir jou voog en die speurders kan wegkruip nie. Jy is nog onmondig.”

“Dan het Rocco speurders op my gesit? Nes Steve gesê het! Hy is ’n versiende persoon, my Steve. Ek is bly ek het sy raad gevolg en hier onder ’n skuilnaam kom bly.” Sy glimlag grimmig. “Anders sou hulle my seker lankal uitgesnuffel het.”

Manda frons. Dinge begin vir haar al meer ’n slegte kleur aanneem. Sy frons nou skerp. “Ek hoop jou Steve besef ook dat dit teen die wet is om onder ’n skuilnaam by ’n hotel te bly. Jy kan tog uitgevind word, Jeanette. Die dag wanneer jy die hotelrekening moet betaal, sal hulle op die tjek sien wie jy werklik is …”

“O, maar Steve het dááraan ook gedink,” lag Jeanette trots. “Ek sê mos vir jou hy dink aan alles. Natuurlik betaal ek nie per tjek nie. Ek het ’n groot bedrag kontant getrek.”

Manda is nou behoorlik ontsteld. “Jy bedoel jy loop met ’n klomp kontant in jou handsak rond? Maar, Jeanette, die goed kan gesteel word, of jy kan dit verloor, of …”

“Nee, natuurlik nie. Ek het dit vir Steve gegee vir veilige bewaring.”

“Vir Steve!” Manda se hart gaan staan byna. Waarin het haar raad hierdie onervare kind laat beland? “Hoeveel … hoeveel was dit … as ek mag vra?”

“Ag, dis maar ’n klein bedraggie – so tweehonderdduisend rand.”

Manda sluk. Natuurlik, ja. Vir die erfgename van baie miljoene is dit natuurlik kleingeld. En Steve Watsenaam het dit alles in sy besit! Manda voel ’n koue rilling langs haar ruggraat afgaan. Rocco de la Rey gaan haar, Manda, vermoor as hy ooit sy hande op haar gelê kry … en sy weet nie of sy hom daarvoor sal kan verkwalik nie. Sy tas desperaat in haar gedagtes rond na die regte woorde en wens met haar hele hart dat dit liewer juffrou Hettie was wat nou hier gesit het. Sy besef op hierdie oomblik, hoewel teësinnig, hoe gelyk De la Rey wel gehad het toe hy gesê het dat sy net die paadjie om haar lessenaar ken en dan die vermetelheid het om ander mense te vertel hoe om hul probleme op te los.

Sy kyk op en haar verstand staan stil. Sy sal iets moet doen en gou, of hierdie kind is verlore … en dit sal haar skuld wees!

Wewenaar van Groene Weide

Подняться наверх