Читать книгу Regters oor gister - Ena Murray - Страница 3
1
Оглавление“Mamsie, mag Eugenie maar weer hierdie naweek na ons toe kom?”
Anita Preller kyk op na haar dogter, ’n klein fronsie skielik tussen haar oë. “Ja, skat, natuurlik is sy altyd hier welkom, maar … is haar ouers gediend daarmee dat sy elke naweek saam met jou kom? As ek reg onthou, is dit nou die vierde agtereenvolgende naweek. Moet sy nie ’n slag na haar eie huis toe gaan nie?”
“Sy … e … wil nie graag nie, Mamsie. Kan sy maar kom?”
Die ouer vrou sit die tydskrif wat sy besig was om te lees neer en kyk haar dogter in die oë. Dis al ’n hele ruk dat sy voel daar skort iets met hierdie vriendin van haar dogter. Eugenie Bothma is ’n oulike kind en die vriendskap tussen die meisies dra albei ouerpare se goedkeuring weg. Hulle is al van skooldae af groot vriendinne. Dis maar onlangs eers dat Mignon se ma begin besef het Eugenie is stiller en meer ingetoë en dat dit ook ’n dempende uitwerking op haar dogter het.
Sy vra nou reguit: “Wat skort deesdae met Eugenie, Mignon? Is daar probleme in haar ouerhuis? Hoekom wil sy nie meer daarheen gaan nie?”
Mignon draai half onwillig na haar ma. Sy het geweet die een of ander tyd sal daar ’n verduideliking gegee moet word. Nou is so goed soos later.
“Eugenie gaan deur ’n baie moeilike tyd, Mamsie.”
“So kom ek agter.”
Mignon neem langs haar ma plaas. “Eugenie het vasgestel dat sy … sy is nie haar ouers se eie kind nie.”
Anita se gesig verstil. Sy aarsel. “Trek sy haar dit só aan?”
Mignon kyk geskok op. “Maar natuurlik! Liewe hemel, dis … iets verskrikliks!”
Anita laat haar oë sak voor die intense blik van haar dogter. “Hoekom, Mignon? Hoekom is dit iets verskrikliks? Daar is honderde aangenome kinders wat …”
“Wat wat? Nie weet waar hulle vandaan kom nie? Is dit nie iets verskrikliks nie? Om nie te weet waar jy vandaan kom nie? Om nie te weet watter bloed deur jou are vloei nie? Watter slegte bloed …”
Dis die ouer vrou se oë wat nou ontsteltenis uitstraal. “Hoekom moet dit juis slegte bloed wees, my kind? Daar is …”
“Dit kan nie anders as slegte bloed wees nie, want as dit nie was nie, sou ander mense jou nie grootgemaak het nie. Dan sou jy jou pa en ma geken het, sou hulle jou grootgemaak het. Dan sou die mense wat jou aangeneem het, dit nie vir jou weggesteek het soos Eugenie se ouers gedoen het nie. As daar nie iets was waaroor jy jou moes skaam nie, waarvoor jy selfs bang behoort te wees nie, iets in die bloedlyn wat besmet is nie …”
“Mignon, my kind, jy praat so maklik oor hierdie dinge, so veroordelend, maar …”
“Mamsie het nie Eugenie se snikke gehoor en die onsekerheid in haar oë gesien nie. Dit moet ’n verskriklike gevoel wees om skielik op ’n dag uit te vind jy weet nie wie jy werklik is nie. Jy kan dalk by jou eie ma in die straat verbystap en dit nie weet nie. En wie kan dalk jou ma wees? Daardie vrou wat vandag in die groot, blink motor rondry … of daardie straatslet?”
“Mignon!”
“Maar dit is so. Ek praat net die waarheid. O, ek weet hulle soek vandag uit – die regte kinders vir die regte ouers. Soos in ’n skoenwinkel waar jy aanpas totdat jy die regte skoen vir die regte voet kry. Maar ’n skoen is ’n dooie ding … en ’n kind is iets van vlees en bloed. En daardie kind word groot, en hy weet nie uit watter fabriek hy kom nie – van die agterstrate, of van ’n dwelmhool, of van ’n dranksessie of ’n wilde orgie of …”
“Mignon, hou op!” Anita vou haar bewende hande styf inmekaar, probeer om haar stem ook onder beheer te kry. “Daar is ook kinders wat uit die wonderlikste mense gebore word, maar wat weens omstandighede afgestaan en aangeneem moet word. En kinders en pleegouers word vandag baie fyn gekeur.”
Mignon byt op haar lip. Haar ma het nie Eugenie se oë gesien daardie dag toe sy uitgevind het sy is nie haar ouers se eie kind nie. Haar ma weet nie van die nagte wat sy in die universiteitskoshuis saam met Eugenie deurgeworstel het nie; die verskriklike wroeging en hartseer wat Eugenie moes deurmaak nie … en die vrese waarmee sy van daardie dag af moes worstel nie. Eugenie is ’n mediese student, en sy het presies gaan naslaan watter ellendes en besmetting die bloedlyn kan dra. Wat ’n mens onwetend op jou nageslag kan oordra; die onherroeplike leed wat jy jou dierbares op dié wyse kan aandoen.
“Mamsie, ek weet hulle keur vandag baie goed, maar ’n klompie jare gelede het hulle dit nie gedoen nie. En feit bly, waar gaan hulle heen met die kinders wat uit ongewenste ouers gebore word? Sover ek weet, is daar nie spesiale inrigtings waarin sulke kinders opgeneem word nie. Wat word van die kind wat die slet baar? Of die naoes van ’n orgie?”
“O, Mignon, asseblief, hou op om daardie woord so te gebruik!”
“Watter een, Ma?” Sy swyg toe sy haar ma se oë sien, en weet sy moet liewer hierdie gesprek beëindig.
Op haar beurt is Anita jammer dat die gesprek ooit begin het. Sy voel haar ingewande bewe, probeer desperaat om haar kalmte te herwin en nugter te dink. “Jy voel baie sterk saam met Eugenie,” sê sy met bewende lippe en sien haar dogter knik.
“Natuurlik. Haar ouers het haar al die jare bedrieg.”
“En haar al die jare al hul liefde en sorg ook gegee.”
“Hul bedrog kanselleer dit heeltemal uit.”
“Hoe kan jy dit sê, Mignon? Beteken twintig jaar se liefde, sorg en opoffering dan niks nie?”
Mignon sug, draai haar kop weg. Haar ma verstaan nie. En langs haar sug die ouer vrou ook. Mignon verstaan nie. Vandag se jongmense … Hulle noem ’n ding op sy naam en hul veroordelings is so kru en kras soos wat hul woordeskat soms is – ongenadig.
Mignon steek skielik haar hand uit, neem haar ma s’n in hare terwyl haar oë versag. Sy het nou net vir ou Mamsie ontstel. Sy is van die ouer garde, en nie daaraan gewoond om so openlik oor dié dinge te praat nie.
“Jammer, Mamsie.” Sy glimlag vir haar ma. “Ek weet net een ding … Van nou af sal ek nie een aand nalaat om die liewe Heer te dank vir my ouers nie. ’n Mens aanvaar jou ouers maar altyd as vanselfsprekend. Dis nie so nie. Dis ’n groot genade om jou eie pa en jou eie ma te ken en lief te hê. Ek is innig dankbaar dat daardie voorreg myne is. Maar juis daarom voel ek so innig jammer vir Eugenie. Kan sy maar die naweek saamkom?”
Anita Preller knik, sien haar dogter opstaan en uitstap … en sy druk haar bewende vingers teen haar lippe vas.
Sy sit nog so toe haar man binnestap. Toe hy oorbuk om haar te groet, vra hy: “Was dit Mignon se karretjie wat ek so pas by my sien verbyry het?”
“Ja. Dit was sy. Sy was net vir ’n heen-en-weertjie hier. Sy en Eugenie kom die naweek huis toe.”
Haar man frons liggies. “Al weer?”
“Ja. Sit, my man. Ek sal nou vir jou gaan koffie haal, maar eers moet ons praat.”
Hy kyk haar ondersoekend aan, merk nou eers op dat sy vrou baie bleek lyk. “Skort daar iets?”
Sy sug, kyk eers op haar hande af en dan op. “Ja. Dit gaan oor Eugenie, Mignon se vriendin.”
Op pad terug na die kampus is Mignon se gedagtes ook vol van Eugenie. Sy voel weer hoe haar hart in simpatie saamkrimp. Sy sal daardie spesifieke dag nooit vergeet nie. Eugenie het by hul kamer ingestap gekom, voor die venster gaan staan en na buite gestaar. Sy het verbaas opgekyk van die stuk werk waarmee sy besig was.
“Wat doen jy hier? Het jy dan nie nou ’n lesing nie?” Eugenie het nie geantwoord nie, en Mignon het die verfkwas neergesit.
“Eugenie … wat makeer? Jy’s doodsbleek! Voel jy sleg?”
“Ek makeer niks nie.”
Mignon het haar fronsend beskou. “Vir my lyk jy soos die dood. Moenie koppig wees nie. Kom lê liewer …”
“Ek sê mos ek is nie siek nie.” Haar vriendin was vir die eerste keer sedert hulle van hoërskooldae af maats is, openlik ongeduldig met haar.
“Nou wat makeer jou dan?”
Sy het nog nie geantwoord nie, net bly staar … en toe eindelik haar kop gedraai, Mignon vas in die oë gekyk.
“Ek het vandag uitgevind ek is ’n aangenome kind.”
Mignon het haar aangegaap. “Jy … speel.”
“Ek sal nie met so iets speel nie.”
“Maar … hoe … jou inligting moet verkeerd wees. Eugenie … dis tog nie moontlik nie! Jy …”
Eugenie het stil geluister totdat haar vriendin se stem onbeholpe weggesterf het. Toe het sy op daardie vreemde stemtoon verduidelik: “Mense behoort tot verskillende bloedgroepe. Nou, twee ouers wat tot die A-groep behoort, kan nie ’n kind hê wat tot die B-groep behoort nie. My ma en pa, weet ek toevallig, is albei van die A-groep. Ek val onder die B-groep.”
“Maar … maar, Eugenie … êrens is daar ’n fout …”
“Daar is nie ’n fout nie, Mignon. Ek stel bloot ’n mediese feit. Ek kan nie my ouers se eie kind wees nie. Dis al.”
Maar dis nie al nie. Sedert daardie oomblik het dit veel verder uitgekring as ’n mediese feit wat in ’n laboratorium vasgestel is. Dit het veel dieper gegaan as die bloedstroom. Dit het die harte van mense ook aangetas, diep afgesak in die donker gange van hul emosies. Vergeefs het Mignon na strooihalmpies gegryp, wat net verwerp is deur haar koelkopmaat, die mediese student.
“Ek wéét my ouers behoort albei tot die A-groep, Mignon. En ek behoort tot die B-groep. Geen nuwe toetse sal iets daaraan verander nie.”
’n Dag later het sy haar vriendin sien wegry van die dameskoshuis af. Intuïtief het Mignon geweet dat sy nie dié naweek na haar eie ouerhuis moet gaan nie. Sy moet in die koshuis bly, Eugenie sou nie die hele naweek weg wees nie, en wanneer sy terugkom, moes daar iemand wees om haar die skok te help verwerk. Mignon het self goeie maniere oorboord gegooi en gesê sy wil saam met Eugenie huis toe gaan. Maar Eugenie het geweier.
“Nie hierdie naweek nie, Mignon. Jammer …”
“Wat gaan jy doen? Eugenie, moenie oorhaastig …” Maar haar vriendin het haar nie eens gehoor nie, en met diepe kommer het Mignon Eugenie se motortjie agterna gestaar. Sy het vir die soveelste keer haar kop in ongeloof geskud. Dit kan nie waar wees nie! Sy ken Eugenie se ouers van skooldae af, weet hoe lief oom Adolf en tannie Marie vir hierdie enigste kind van hulle is … en sy weet hoe innig lief haar vriendin hulle het. En nou …
Sy was nog wakker toe die kamerdeur daardie selfde aand oopgaan en ’n sfinksagtige Eugenie met haar oornagtassie in haar hand binnestap. Sy het uit die bed opgespring en wou haar arms om haar maat slaan, maar Eugenie was koud en afsydig.
“Eugenie, wat … wat het gebeur?”
“Ek het hulle gekonfronteer met die mediese feite en hulle moes die waarheid erken.”
“Die waarheid?”
“Ja. Dat ek ’n aangenome kind is.”
Die vreemde, doodse kalmte wat die skok aanvanklik veroorsaak het, het nie lank geduur nie. Die opstand en verbittering het ná ’n dag soos ’n seer oopgebreek en na buite gebars. Mignon het alles aangehoor, alles aanskou. Al haar simpatie het by haar vriendin gelê. Sy kon haar so goed in Eugenie se gemoed indink. As sý vandag moes uitvind dat sy nie haar ouers se eie kind is nie … Dis ’n ondenkbare gedagte, iets wat sy nooit sal kan verwerk nie. Magteloos moes sy aanskou hoe Eugenie al meer verstrik raak in die onsekerheid – ’n skaduwee van haar ou self.
Sy het haar vriendin aangehaal toe sy daardie wrede woorde teenoor haar moeder gebruik het. Waar kom sy vandaan? Wie en wat was die man wat haar verwek het … wie en wat die vrou wat haar gebaar het? En in watter omstandighede is die groot onreg gepleeg?
Eugenie se verslae ouers kon die vreemde, skielik vyandige meisie nie gemoedsvrede gee nie, al sou hulle hul bloed tap om dit te kon doen. Sy moes hoor dat geen besonderhede twintig jaar gelede verstrek is nie. Hulle kon ’n storie versin, ja, maar hulle het Eugenie al twintig jaar geken. Hulle het geweet wat dit is wat van haar so ’n goeie student maak – dat sy iemand is wat dinge naspeur en op bewyse aandring.
Hulle kon maar net hartseer bid dat hul dogter sou aanvaar wat hulle haar vertel – dat ’n mens twintig jaar gelede jou naam op ’n waglys geplaas het en dat jy jou nuwe baba gaan haal het wanneer jou beurt gekom het; dat geen vrae gestel is nie. Van jou kant moes jy wel bewys dat jy vir ’n kind kan sorg, maar die welsynsorganisasie het geen inligting verstrek nie. Hulle kon voorwaar net bid dat hul dogter nie sou probeer delf in twintig jaar gelede se aannemings nie, want hulle het geweet dat daar dan ’n baie erger skok op haar sou wag.
Maar meer as net die vrae oor wie en wat, was die ontstellende feite wat die jong mediese student nou met byna fanatiese ywer in die mediese boeke begin naslaan het. Die erfenis wat die bloedstroom in hom kan dra, was ’n lang lys van grusaamhede wat sy voor haar kamermaat oopgespalk het. En wat Mignon, die kunsstudent, nie ten volle begryp het nie, het Eugenie in die fynste besonderhede aan haar oorgedra, totdat sy later bewend en in trane uitgeroep het: “Hou op! Hou op! Ek wil niks meer hoor nie!”
Haar vriendin het die lysie opgestel, opgevou, toe weggedraai, en Mignon het gesluk aan haar trane. “O, Eugenie, jy is pragtig en gesond. Hoe kan jy vir een oomblik dink dat hierdie verskriklike goed … of van hulle … selfs net één van hulle in jou is?”
Die koel stem het geantwoord, onweerlegbaar. “Dis nie goed wat met die blote oog gesien kan word nie. Dis in die bloed. Ek kan dit op my nageslag oordra.” Dit was ’n oomblik stil. Toe: “Ek kan nooit trou nie.”
“O, Eugenie!”
Die oë wat in Mignon se betraande oë teruggekyk het, was byna emosieloos. “Daar is genoeg gesondig. Ek gaan nie ook nog teen ’n onskuldige kind sondig nie.” Mignon se hart kon breek. “Is dit hoekom … hoekom jy skielik niks meer met Jan van Zyl te doen wil hê nie?”
“Ja. Enige vriendskappe met die teenoorgestelde geslag is taboe.”
Mignon wou dit nie aanvaar nie. “Maar vriendskappe … Jy hoef mos nie te trou nie …”
“In hemelsnaam, Mignon, gebruik jou verstand!” Die stem was driftig. “Vriendskappe kan lei tot diepere gevoelens, en vir my is dit fataal om ’n dieper gevoel vir enige man te ontwikkel. Dus, geen vriendskappe nie.”
Dit was kommer en hartseer wat Mignon amper kwaad laat sê het: “’n Huwelik is nie uit nie. As jy dan só sterk daaroor voel, kan jy sorg dat jy nie kinders het nie, dis al.”
Maar Eugenie se antwoord was weer nugter en beredeneerd: “Elke man wil graag ’n kind hê … een van sy eie.”
“As hy jou lief genoeg het …”
“Aan die begin sal hy sê dit maak nie saak nie. Later … later sal die verwyte kom … en al verwyt hy ook nie openlik nie, sal jy weet …”
Mignon het gevoel soos iemand wat teen ’n klipmuur vasgeloop het. Sy het maar liewer die gesprek in ’n ander rigting probeer stuur. “Gaan jy hierdie naweek huis toe?”
“Nee.”
“Dan kom jy saam met my. Ag toe, Eugenie. Jy was lank laas saam met my vir ’n naweek.”
Die daaropvolgende twee naweke is Eugenie ook saam met Mignon huis toe, en nou sal dit al die vierde naweek wees dat Eugenie nie na haar eie huis toe gaan nie, maar saam met haar vriendin. Mignon was te bang om daaroor met haar te praat. Liewer haar saamnooi as dat Eugenie naweke alleen in die dameskoshuis agterbly. Haar vriendin se ouers het al ’n paar keer gebel, en elke keer het Eugenie geweier om met hulle te praat. Een keer het hulle koshuis toe gekom, maar dit was ’n baie kort besoek. Eugenie kon nie baie tyd aan hulle afstaan nie. Wat daar gepraat is, weet Mignon nie en sy wou nie vra nie. Sy het net deur hul kamervenster gesien hoe tannie Marie snikkend deur oom Adolf na hul motor gelei is. Sy het gesien dat hy ook eers vinnig ’n traan afvee voordat hy agter die stuurwiel inskuif. Eugenie se gesig was heeltemal onleesbaar toe sy die kamer ’n paar oomblikke later binnekom.
Mignon kon dit tot dusver nie oor haar hart kry om met haar ouers oor Eugenie te praat nie. Sy het geweet haar ouers sou noodgedwonge uitvind dat daar iets met die andersins vrolike dogter van ou vriende skort. Sy het egter ook geweet dat die feite haar ouers sou ontstel, want Eugenie was amper soos ’n tweede dogter in hul huis. Hul vriendskap met die Bothmas kom al uit die tyd toe die twee meisies op hoërskool maats geword het. Hulle het nooit intieme huisvriende geword nie, maar dit was hoofsaaklik omdat die twee pare in teenoorgestelde rigtings buite die stad gebly het, sodat persoonlike kontak min was.
Mignon sou op hierdie oomblik toe sy terugry universiteit toe nooit kon raai hoe groot haar ouers se ontsteltenis wel is nie.
Steve tref sy ouers stilswyend in die sitkamer aan toe hy tuis kom. Met die eerste oogopslag is dit vir hom duidelik dat iets gebeur het. Sy ma se oë is rooi gehuil en sy pa se gesig het ’n bekommerde uitdrukking.
Hy luister in stilte en hy kan begryp hoekom sy ouers bekommerd voel. “Ek sal met Mignon praat.”
Fred lyk openlik verlig. “Ek sal dankbaar wees, seun. Ek dink nie enigiets wat ek nou sê, sal indruk maak nie. Sy sal net dink ek probeer Eugenie se ouers beskerm en hul optrede goedpraat.”
“Ja. Soos dit vir my klink, is dié twee meisies albei ’n bietjie van balans geruk, en het hulle perspektief verloor. Ek sal liewer nie met Eugenie praat nie. Miskien sal sy nie van die idee hou dat Mignon haar groot geheim aan ander uitgeblaker het nie, hoewel sy tog seker sal besef dat ons die een of ander tyd daarvan sou hoor. Maar ek sal Mignon onder hande neem.”
Anita vee weer die trane af. “Haar houding ontstel my natuurlik die meeste, Steve. Eugenie beïnvloed haar baie en sy ondersteun haar kamermaat se houding en alles wat sy sê in hierdie saak.”
Steve verteder. “Kom nou, Mams. Moet asseblief nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie.”
“Daar ís ’n bobbejaan agter die bult.” Die ouer vrou se oë is baie stil.
“Wat daar sal bly. Daar is hoegenaamd geen rede om nou sommer aan te neem dáárdie bobbejaan gaan ook oor die bult kom nie. Bly net asseblief kalm.”
Anita knik en probeer merkbaar om haar reg te ruk. “Maar jy sal met haar praat? Jy is al een na wie sy sal luister.”
“Ek belowe ek sal. Hierdie naweek nog.”
Die ouers is albei baie verlig, maar toe Steve voor sy kamervenster gaan staan, is sy gesig bekommerd.
Hoewel alles oënskynlik baie normaal is toe die twee meisies daardie Vrydagaand die huis binnestap, is almal intens bewus van die onderliggende spanning wat heers. Nietemin speel elkeen sy rol, word daar selfs gesels en geskerts, asof niemand se gedagtes met iets anders besig is nie. Soos altyd is Mignon bly om haar ouboet te sien toe hy later die huis binnestap. Met susterlike spontaneïteit gooi sy haar arms om hom en druk hom teen haar vas. Wyslik laat Steve nie blyk dat hy dié ongewoon warm verwelkoming vreemd vind nie.
Sedert hierdie ding met haar vriendin gebeur het, het haar ouers en ouboet vir haar nog dierbaarder as ooit tevore geword. Hoe wonderlik is dit om tuis te kom en te weet dat hulle wat jy teen jou hart druk, werklik joune is. Dit kon so anders gewees het … soos in Eugenie se geval. ’n Oomblik probeer sy haar indink in haar vriendin se situasie, en haar arms om Steve se nek klem ’n bietjie stywer vas. Veronderstel sy moes vanaand by die huis gekom en geweet het sy is nie regtig een van hulle nie, nie regtig eie nie, maar iemand wat uit ’n onbekende oord gekom het en deur die ontferming van vreemdes vanaand ’n dak oor haar kop het.
“Toe nou, jy is besig om die asem uit my te wurg. Is jou geldelike nood só hoog dat jy my omtrent wil vermoor?”
“Nou darem nie só erg nie, maar jy sal mos jou ou kleinsus ’n bietjie help, sal jy nie, boetie?” terg sy saam.
Fred sê betigtigend: “Hy doen dit nie. Jy kry genoeg sakgeld. Regtig, Mignon, jy moet begin leer om met geld te werk.”
Sy lag en hierdie keer is dit haar pa wat ’n wurggreep om sy nek kry. “O, Papsie, jou ou groot ekonoom en bankbestuurder! Papsie begroot net vir die noodsaaklike, en ’n universiteitsdametjie het so baie ou ekstratjies ook nodig. My ouboetie help my maar altyd daarmee.”
“Hy bederf jou tot in die afgrond en sterk jou in jou kwaad.”
“Maar dis mos waarvoor ouboeties daar is, dan nie? Anders kan ek nie juis hul doel insien nie.”
“O so, nè? Nou goed dan. Hierdie keer kan jy maar in jou eie sop braai, dametjie,” laat Steve streng hoor.
Maar sy is gou om wal te gooi: “Ag, ek speel maar, ou Steve. Regtig! Ek kan my nie my lewe sonder jou voorstel nie – en ek bedoel dit.”
Hy frommel haar hare deurmekaar. “Ditto, kleinsussie.”
Sy pruil haar mond. “Wanneer sal jy ophou om my as jou kleinsussie te sien? Ek is ’n jong dame van twintig.”
“Ek weet dit. Ek weet jy is twintig, maar … jy sal maar altyd my kleinsussie bly.” Hy gee haar ’n vinnige drukkie, fluister hier by haar oor: “Ek wil met jou praat … vanaand in my kamer.”
Sy dink sy weet waaroor hierdie skielike geselsie sal gaan toe sy later die aand, terwyl Eugenie in die badkamer besig is, by sy kamer inglip. Haar ouers sou Steve vanselfsprekend ingelig het omtrent Eugenie se skokkende ontdekking. Een van die mooiste kenmerke van die Preller-gesin is dat alles openlik tussen ouers en kinders bespreek word. Openhartigheid was nog altyd een van die wagwoorde van hierdie gelukkige gesin.
Sy maak haar op die voetenent van sy bed tuis en val sommer met die deur in die huis. Hy luister stilswyend en met aandag na wat sy te sê het, en sy stort alles wat in haar hart lê, voor hom uit. Sy kon nog altyd haar diepste ervarings en emosies met Steve deel met die seker wete dat hy haar verstaan. Sy het nog altyd gevoel hy het die verkeerde rigting gekies.
Hy is wel goed in sy vak – doseer ekonomie aan die universiteit – maar sy het nog altyd gedink hy sou ’n briljante psigiater kon wees, want haar ouboet, agt jaar haar senior, het die gawe ontvang om te kan luister en daarby nog ’n gesonde oordeel oor sake te hê. Daarom skok sy eerste woorde haar des te meer toe sy eindelik stilbly.
“Julle albei oordramatiseer die hele aangeleentheid. Wat is so vreeslik daaraan om ’n aangenome kind te wees?”
Haar oë rek in ongeloof. “’n Aangeleentheid? Om uit te vind jy is … is ’n mens sonder herkoms? Steve!” Haar oë is skielik vyandig … en sy hart krimp. “Ek het gedink jý sal verstaan. As jy jou in Eugenie se plek kan stel, môre moet uitvind jý is ’n aangenome kind en dat niemand jou kan sê wie jy regtig is nie … watter peste jy miskien alles in jou omdra en eendag op jou kinders kan oorplant … Wel, ek sê jou as so iets met my moet gebeur … Ek dink ek sal van my verstand af raak.”
“Twak!” Sy stem is juis strenger weens die ontsteltenis wat hier diep in hom verskuil lê. “Niemand weet werklik wat in sy voorgeslag lê nie. Daar bestaan nie ’n stamboom wat aandui watter swakhede elke lid van ’n geslag in hom omdra nie. Wie gaan ooit werklik sy voorgeslag na om te verseker dat daar nie die een of ander pes, om jou woord te gebruik, is wat jy aan jou kinders kan oordra nie?”
“Dis nie dieselfde nie, Steve, en jy weet dit!” verweer sy haar heftig. “Ons weet waarvandaan ons kom. Ons wéét daar is nie, om maar een voorbeeld te noem, oorerflike kranksinnigheid in ons families aan albei kante nie. Ons ken ons oumas en oupas en tantes en ooms en ons weet daar is nie sulke dinge nie. Maar hoe moet jy weet as niemand jou kan vertel wie jou voorgeslag was nie? Juis die feit dat jy naamloos gekry is, laat al ’n rooi waarskuwingslig flits. Daar moet ’n rede voor wees hoekom jy sommer net weggegooi is …”
“Die voor die hand liggende rede, ja. Twee mense wat, weens bepaalde omstandighede, nie kon trou en self hul kind ’n naam gee nie. Die algemene rede …”
“Ek is bereid om dit toe te gee, maar hoe moet Eugenie weet of haar geval ook die ‘algemene rede’ gehad het? Want daar kan baie ander redes ook wees, oorsake soos …”
“Spaar my dit, asseblief. Mams het my klaar van jul wilde verbeeldingsvlugte vertel.”
“Dis nie wilde verbeeldingsvlugte nie! Dis dinge wat moontlik is – en mediese feite kan jy nie ignoreer nie, Steve. Dis alles moontlikhede waarmee Eugenie nou rekening moet hou en wat haar hele lewe geruïneer het.”
“Mignon! Julle sien nie die ding in perspektief nie! Goed. Kom ons aanvaar dan om liefdeswil dat daar die een of ander sinistêre onheil in haar bloedstroom skuil … hoekom moet dit dan haar lewe ruïneer, soos jy dit stel? Sy is jonk, gesond, talentvol, baie intelligent, het geen geestelike afwykings nie. Inteendeel. Sy is ’n besonder aangename, mooi, skrander, innemende mens.”
Mignon se gesig neem ’n bot uitdrukking aan, en daar is teleurstelling in haar oë. Sy was so seker Steve sou verstaan. “Jy is ’n man, Steve. Jy sal seker nie verstaan wat dit vir ’n vrou beteken om nie te kan trou en kinders van haar eie te kan hê nie. Eugenie het ’n eed daaromtrent gesweer …”
“Belaglik!”
“Vir jou, ja, want dis nie jý wat eendag vir jou vrou sal moet sê sy sal nooit ’n kind van jul eie aan haar hart mag druk nie.”
“Is dit die ergste wat kan gebeur? Daar is talle egpare met geen onheilighede in hul bloedstrome nie, wat ook nie kinders van hul eie het nie. Dis nie die einde van die wêreld …”
“O, laat ons liewer ophou redeneer hieroor. Jy verstaan nie! Maar dít sê ek vir jou, Steve, die liewe Heer weet vir wie Hy wat moet uitdeel. Eugenie is ’n sterk mens. Mettertyd sal sy hierdie verskriklike ding verwerk kry, ek weet. Maar as dit mý moes oorkom … Ek sal dit nie kan verwerk nie … nooit nie.”
Sy staan op, maar hy keer haar vinnig: “Maar hoekom dan nou teenoor die twee mense wat haar aangeneem en twintig jaar lank soos ’n eie kind liefgehad en versorg het, vyandig word? Dis sekerlik nie die Bothmas se skuld dat hulle nie haar eie ouers is nie. Sy, en ook jou houding, verraai amper dat julle húlle nou daarvoor verkwalik – wat tog grensloos onregverdig is teenoor twee mense wat nog net goed vir Eugenie was.”
Haar stemtoon klink so onversetlik dat dit Steve aan die hart gryp. “Nee. Ons verkwalik hulle nie vir dáárdie feit nie. Dit sou belaglik wees. Maar wel dat hulle haar bedrieg het. Dit moet bitter wees om op ’n dag uit te vind dat die mense wat jy liefgehad en vertrou het, wat die naaste aan jou van alle ander mense is, jou al die jare in ’n gekkeparadys laat leef het. Ek sou hulle daarvoor ook nie kan vergewe nie. Twintig jaar het hulle …”
“Mignon, waar is jou nugter verstand? Of sy dit kleintyd geweet het, en of sy dit maar vandag eers uitgevind het, watter verskil maak dit aan die feite?”
“’n Wêreld se verskil, my boetie, want die enigste fondament wat sy onder haar voete gehad het, het skielik onder haar verkrummel. Dis een ding om van kleins af gewoond te raak aan sekere feite, want ’n kind verwerk sulke dinge met verloop van tyd. Maar om op twintigjarige leeftyd skielik te moet uitvind dat die mense wat jy as jou eie bloed beskou het, wat jy die liefste op aarde het, jou bedrieg het … Ek sal hulle ook nooit weer wou sien nie.”
Dis eers die volgende middag toe Mignon en Eugenie ’n entjie gaan ry dat Steve die geleentheid kry om alleen met sy ouers te praat. Hy weet hy durf nie die waarheid vir hulle wegsteek nie. Dis noodsaaklik dat hulle moet weet hoe Mignon oor hierdie saak voel. Ná die gesprek sê hy stil: “Ek het destyds al gedink dis ’n fout – maar dis ’n fout wat vandag nie meer herstel kan word nie. Ons kan net hoop en bid dat Mignon nooit die waarheid sal uitvind nie.”