Читать книгу Regters oor gister - Ena Murray - Страница 4
2
ОглавлениеLorna Verbeuk beweeg tussen haar kunsstudente deur, bekyk die skeppende werk krities, gee hier raad, stel daar iets voor, gaan dan eindelik staan. Haar blik rus op die meisie wat met sulke somber oë voor haar staar.
Sy frons liggies.
“Mignon …” Maar daar is geen reaksie nie, en haar frons keep dieper. Dis al ’n hele ruk dat sy sien Mignon se aandag is nie meer ten volle by haar werk nie. Iets hinder die kind … Ai, die jare van storm en drang wanneer die geringste bietjie teenspoed of teleurstelling so maklik die jong gemoedere kan ontstig. Dis eers wanneer die jare silwer begin streep in die hare dat jy weet wat belangrik genoeg is om toe te laat dat dit jou ontstig – en meestal vind jy dat daar selde iets erg genoeg is. Maar op Mignon se ouderdom … Net ’n kleinigheidjie kan die hart laat omslaan en die gedagtegang oorstelp.
Mignon kyk aandagtig voor haar uit. Dis nie ’n kleinigheidjie wat hierdie meisie se gedagtes na sulke vertes, weg van die onmiddellike omgewing, dwing nie. Sy sien nou eers dat haar kunsstudent selfs ’n bietjie gewig verloor het en dat die tyd van somberheid en introversie ’n bietjie te lank aanhou vir ’n kleinigheidjie. Sy aarsel. Dis teen haar beginsels om in te dring daar waar sy nie genooi is nie. Die private lewens van haar studente respekteer sy. As daar hulp of raad gevra word, sal sy probeer om te help. Maar in hierdie geval is sy nie genader nie, wat haar nou ook hinder. Sy behandel al haar studente presies dieselfde, maar daar is altyd die enkeling wat onder jou vel inkruip, wat nader as die ander aan jou kom. Mignon was van die begin af so ’n uitsondering …
Sover sy weet, kom Mignon uit ’n baie gelukkige ouerhuis, het ’n ouer broer wat sy verafgod, het talle vriende, is baie gewild, vaar goed in haar studie. Waar kan die fout dan lê?
Mignon het haar al ’n paar keer huis toe genooi. Tot dusver het sy nog altyd die uitnodiging omseil. Maar miskien moet sy dit tog een keer aanvaar.
“Mignon, die tyd is amper verstreke.”
Die meisie kyk af op die halfklaar taak voor haar, blik dan verskonend op. “Ek is jammer, mevrou.”
Lorna se stem is heeltemal egalig. “Ja. Gelukkig is dit nie vandag eksamen nie, nè?” Sy glimlag effens. “As ek miskien kan help … Dinge is nooit regtig só erg as wat dit lyk nie.”
Mignon glimlag ook. “Dis hoekom ek weet julle twee sal so goed klaarkom.”
Lorna lig haar wenkbroue vraend. “Wie is die julle?”
“U en my broer. Hy sou presies dieselfde gesê het as hy nou hier was.”
“O?”
Mignon lyk verskonend. “Jammer, mevrou. Ek klink seker baie voorbarig, maar ek wil so graag hê julle twee moet mekaar ontmoet. Ek bedoel nie iets daarmee nie. Dis net … julle twee kyk na die lewe deur dieselfde bril.”
Lorna onderdruk ’n geamuseerde glimlaggie. O, die jeug wat so seker is van hul menslike oordeel en mensekennis!
“Hy is ook aan die universiteit verbonde, nie waar nie?”
“Ja. Hy is by die departement ekonomie, en daarom loop julle mekaar nooit raak nie.”
Lorna moet nou glimlag. “En is dit die oorsaak dat jy jou tyd hier staan en omdroom – omdat ek en jou broer mekaar nie raakloop nie?”
Natuurlik weet sy dis nie die rede nie, maar Mignon trap in die strik, soos sy verwag het. “Nee, maar … ek sou so graag die een of ander tyd met u wou kom gesels as ek mag. Dis nie in verband met kuns nie.”
“Jy is welkom. Jy weet waar my woonstel is. Ek sou nie graag vanjaar ’n druipeling in my klas wou hê nie.” Sy sê dit egter met ’n glimlag en vervolg tergend: “Terloops, ek weet darem hoe lyk jou broer. Het hom al op ’n afstand op die kampus gesien. Ek wed jou hy kan niks ouer as dertig wees nie – en dit maak hom ’n hele ses jaar jónger as ek!”
Maar Mignon is onmiddellik reg met ’n antwoord: “Erger. Hy is agt-en-twintig. Maar wat het ouderdom met vriendskap te doen?”
Lorna lag met dartelende oë. “Reg, juffrou Preller! Wat, inderdaad?”
Mignon aarsel ’n oomblik. Sedert hierdie ding met Eugenie gebeur het, is die atmosfeer ook nie meer dieselfde in haar eie ouerhuis nie. Dis of daar iets haper aan die ou spontaneïteit wat altyd daar geheers het. Almal is half versigtig vir mekaar, dink eers voordat hulle praat. Die ou openhartigheid is beslis nie meer aanwesig nie. Dis of elkeen deesdae hul gedagtes vir hulself hou. Miskien is dit nie nou die regte tyd om Lorna Verbeuk vir ete huis toe te vra nie. Sy is ’n mens met ’n fyn aanvoeling. Sy sal onmiddellik bewus word van die spanningsvolle onderstrominge wat so onverklaarbaar in die Preller-huis ingesluip het.
Aan die ander kant weer … Hoe gouer sy haar mense, veral Steve, ontmoet, hoe gouer sal sy die Prellers miskien tot ander insigte omtrent Eugenie kan dwing. Want dinge is besig om handuit te ruk. Dis byna ongelooflik dat goed wat met ’n buitestander gebeur, so ’n geweldig afbrekende uitwerking op ’n gesin kan hê wat andersins so geheg aan mekaar is. Mignon se lojaliteit en simpatie met Eugenie is besig om ’n wig tussen haar en die res van die gesin in te dryf. Mignon besef dat dit die rede vir die ontwrigting in die gesinsband is, maar hoewel dit haar diep seermaak en ontstel, kan sy nie haar rug op haar vriendin draai nie. Die feit dat haar intense meegevoel met Eugenie die ander drie gesinslede duidelik begin irriteer, versterk net haar lojaliteit teenoor haar vriendin.
Mignon kyk die ouer vrou onseker aan. Sy het ’n geweldige agting vir Lorna Verbeuk. Sy is deur en deur ’n dame. Sy is ook ’n gevoelsmens. Sy sal verstaan, daarvan is Mignon oortuig.
“Mevrou, het u nie miskien die naweek tyd om by ons te kom eet nie, asseblief?”
Ook Lorna aarsel ’n oomblik. Intuïtief weet sy dat dit nie sommer net ’n gewone uitnodiging vir ete is dié nie. Daar skuil iets agter … Maar dan glimlag sy.
“Dankie, Mignon. Hoor by jou ma wanneer dit haar sal pas en bel my. Ek is die hele naweek beskikbaar.”
Mignon stap ’n rukkie later onseker na die telefoon om haar ma te bel. In die verlede sou sy dit net gedoen het ter wille van goeie maniere, wetende dat enige gas wat sy vir ete huis toe wil bring, altyd welkom sal wees. Maar sy sou amper nie hierdie naweek huis toe gegaan het nie.
Haar pa het haar teen die einde van verlede naweek na sy studeerkamer ontbied. Sy gesig was ernstig, vreemd geslote.
“Mignon, ek weet jy voel baie jammer vir Eugenie. Ons is almal jammer vir haar. Maar dis nou die vierde agtereenvolgende naweek dat sy hierheen kom en nie na haar eie huis toe gaan nie. Sy kom nie aanstaande naweek weer saam met jou nie.”
Sy kon haar ore nie glo nie. “Is sy dan onwelkom hier, Pa?”
Fred se hartspiere het saamgetrek. Hy was nog nooit iets anders as ou Papsie vir haar nie. Vandag is dit kortaf “Pa”. Maar hy het geweet dat hy nou streng sal moet optree, hoe seer dit sy dogter en homself ook al maak. Dinge het reeds te ver gegaan.
“Jy weet sy is welkom, maar Eugenie het ouers en ’n ouerhuis van haar eie.” Hy het haar kans gegee om hom hierop terug te antwoord, maar Mignon het hom net aangekyk en toe gesê: “Goed, Pa. Sy sal nie kom nie.”
Vrydagoggend het sy huis toe gebel, natuurlik net haar ma tuis gekry en gesê sy kom nie die naweek huis toe nie. Anita se hart het in haar omgeslaan. Sy en haar man het so iets verwag. Sy het die gehoorbuis vasgeklem, oënskynlik kalm gevra: “Wat het jy hierdie naweek aan die gang, my meisie?”
Mignon het haar oë ’n oomblik gesluit. Sy kon ’n lang kluitjie vertel, maar sy is nie gewoond om vir haar ouers te jok nie. Haar antwoord was reguit: “Pa wil nie hê Eugenie moet weer hierdie naweek saam met my huis toe kom nie. Sy bly hier en ek … ek wil haar nie hier alleen laat nie. Nou bly ek maar by haar.”
“My kind …”
“Jammer, Mamsie, maar ek is nie ’n mooiweersvriendin nie. Eugenie gaan deur ’n moeilike tyd. Sy het my nou nodig.”
Anita kon net die telefoon neersit. Ja, dit is so. Mignon is seker die lojaalste mens wat sy ken. Sy is beslis nie ’n mooiweersvriendin nie. Maar hierdie mooi eienskap maak dinge juis moeilik … baie moeilik …
Fred Preller wou nie aan homself erken, toe hy ’n rukkie later die dameskoshuis se nommer skakel, dat dit vrees en nie gramskap was wat hom Mignon laat bel het nie. In sy beste bankbestuurderstem, soos sy dogter daarna verwys, het hy net kortaf gesê: “Jou ma sê my jy het gebel om te sê jy kom nie hierdie naweek huis toe nie. Jy sorg dat jy vanaand, soos elke ander Vrydagaand, by die huis is, Mignon – alleen.”
In haar hart weet Mignon dat dit nog ’n rede is hoekom sy haar dosent vanaand vir ete huis toe wil neem. Haar pa se stemtoon het haar vertel dat daar vanaand in die Preller-huis gepraat gaan word en dit wil sy tot elke prys vermy. Sy ken nie rusies in haar ouerhuis nie. Nie dat hulle nooit verskil nie. Daarvoor het elkeen sy eie siening van sake. Maar hulle kon nog altyd in kalmte en liefde met mekaar verskil sonder dat daar ooit kwetsende dinge gesê word. Maar sy is nie so seker van vanaand nie. As sy en haar ouers mekaar vanaand moet konfronteer, weet sy gaan daar dinge gesê word wat liewer moes gebly het. Sy besef dis maar net uitstel en nie afstel nie, maar terwyl sy met haar ma oor die telefoon praat, kry sy ’n plan wat miskien die eerste rusie in die Preller-huis vir die hele naweek kan afweer.
Anita is maar te verlig om te hoor haar dogter kom wel huis toe. Sy stem onmiddellik in toe sy hoor dat Mignon graag haar dosent vir ete wil nooi.
“Mevrou Verbeuk het gesê enige tyd oor die naweek wat Mamsie pas, sal haar ook pas.”
“Enige tyd pas my, skat. Besluit julle twee maar en laat my net weet dat ek iets spesiaals kan maak.”
“Ek het gedink vanaand, maar … dit sal miskien laat word en dan moet sy alleen terugry woonstel toe. Sy hét gesê die hele naweek pas haar … Mag ek haar nie maar vra om die naweek by ons oor te bly nie?”
Anita aarsel effens. Sy weet wat haar dogter beoog. ’n Vreemdeling in die huis sal die byna onafwendbare woordewisseling tussen pa en dogter uitstel. Sy weet haar man sou liewer dit wou afhandel, maar sy besluit om haar aan haar dogter se kant te skaar.
“Natuurlik, my skat. Gee haar telefoonnommer vir my, dan bel ek haar self en nooi haar sommer vir die hele naweek.”
Toe Lorna Verbeuk haar naweektassie pak, is sy vol bedenkinge oor die komende naweek. Maar Mignon se ma het haar onverhoeds betrap en sy kon aan geen oortuigende rede dink om nie die gulle uitnodiging te aanvaar nie.
Toe sy haar tassie toeknip, draai sy terug en kyk lank na die foto wat op haar spieëltafel staan. Dan tel sy dit op, trek die boonste laai oop en sit dit daarin. Miskien is dit beter as dit ’n tyd lank nie op die spieëltafel staan vir enigeen om te sien wat miskien by haar kamer kan instap nie. Sy gaan eers hierdie naweek die Prellers deurkyk. Ná hierdie naweek sal sy weet … Maar of dit goed is om sekerheid te vind, weet sy nie so mooi nie.
Fred Preller se gesig wys nie dat hy sou verkies het dat daar nie hierdie naweek ’n gas aan huis is toe Mignon met haar dosent die sitkamer binnestap. Haar ouers se verwelkoming is gul en Mignon sug verlig. Haar hart word ’n bietjie ligter. Dit was swaar om Eugenie alleen in die koshuis agter te laat. Wat sy egter nie geweet het nie, was dat haar pa ook intussen die Bothmas gebel het.
“Eugenie is nog onmondig, Adolf. Ek glo jy moet jou gesag laat geld en haar eenvoudig dwing om huis toe te kom. Ja, ek weet dit sal nie lekker wees nie, maar sy is jul dogter. Sy was dit twintig jaar lank en is dit nog, of sy dit wil weet of nie. Dit kan nie so voortgaan nie. Gaan haal haar en bring haar die naweek huis toe en praat kaalkop. Ek het Mignon verbied om haar weer na ons te bring alvorens sy nie eers weer by haar ouerhuis was nie. Jammer, vriend, dat ek en Anita nog nie by julle was nie. Ons sal so gou moontlik probeer om daar uit te kom, maar julle weet julle is ook altyd welkom by ons. Ons wil nie indring nie, want ons weet dis ’n baie teer saak by julle, maar as ons kan help, weet jy ons sal dit met graagte doen. Eugenie is ’n te oulike dogter om op so ’n manier te verloor. Sterkte, Adolf, en groete vir Marie.”
Dis ’n vreemde, onbekende Adolf Bothma wat Eugenie op hierdie oomblik voor haar in die koshuis se sitkamer sien staan. Nie alleen is sy hele houding en optrede anders as normaalweg nie, maar hy lyk ook anders – ouer en gryser met nuwe, diep kepe op die voorkop en om die oë en mond.
“Ek het jou kom haal.”
“Waarheen?”
“Waarheen anders as huis toe? Gaan pak in. Ek wag.”
“Ek gaan nie …”
“Ja, jy gaan. Ek sê so. Jy kom hierdie naweek huis toe – na die plek waar jy twintig jaar lank onderdak en versorging en liefde gekry het. Dit was twintig jaar goed genoeg, dis hierdie naweek ook goed genoeg vir jou.”
“Dis nie wat ek …”
“Dis die indruk wat jy by ons laat, Eugenie. Dat ons nou nie meer goed genoeg vir jou is nie.”
Haar oë rek in ontsetting. “Pa … e … julle weet dis nie hoekom ek nie wil … huis toe kom nie.”
“Ons kan al jou redes oor die naweek by die huis bespreek. Gaan pak in.” Toe draai Adolf met ’n bloeiende hart om en stap uit na sy motor waar Eugenie haar kort daarna stilswyend by hom aansluit.
En vir ’n oomblik langer as wat nodig is, kyk Fred Preller in die naweekgas se oë voordat hy met ’n ligte, verwarde fronsie wegkyk. Lorna Verbeuk se ooglede fladder vlugtig en dan keer haar blik na die deur waar ’n lang man sy verskyning gemaak het. Mignon glimlag van oor tot oor, trek haar broer dieper die vertrek in. Sy weet sommer dit is die begin van ’n mooi vriendskap.
Wat maak dit saak as Lorna Verbeuk agt jaar ouer as Steve is? Dis beter dat sy keuse op so ’n vrou val as op een van die jonger vroue wat hy van tyd tot tyd uitneem, gelukkig nie met een ernstig sover nie.
Dit word ’n aangename aand en as die gas bewus word van ’n sekere spanning, laat sy niks blyk nie. Die geselskap gaan grotendeels oor die buiteland en die plekke waar Lorna gestudeer het. Fred en Anita Preller is duidelik beïndruk deur hul gas en Fred stel vrae wat sy vrou ietwat verbaas.
“Wanneer het u dan toe tyd gekry om te trou?”
Lorna lag. “Terwyl ek in Frankryk was. My oorlede man was daar aan die ambassade verbonde. Hy is ’n jaar later oorlede.”
“Ag nee! Was julle maar so kort getroud?”
“Ja. Hy was al siek toe ons getroud is. Ek het geweet hy gaan sterf.”
“Jy is ’n baie moedige mens, mevrou.”
“Nee. Ek het hom net lief genoeg gehad. En noem my asseblief Lorna.”
Steve gee ’n skewe laggie. “Dis darem ’n baie subtiele manier om uit te vind hoe oud sy is, Pa! Tien uit tien!”
Fred kry ’n effense kleur, maar Lorna antwoord reguit sonder enige selfbewustheid: “My ouderdom is geen geheim nie. Ek is ses-en-dertig – en in alle beskeidenheid sal dit teen my beginsels wees om u op u voorname te noem.” Fred Preller knik goedkeurend, lyk meteens meer ontspanne en hy tel die wynkraffie op. “Ons is baie bly om jou vanaand hier by ons te hê, Lorna. Ons dogter het ’n groot bewondering vir jou. Ek verstaan nou hoekom. Ons sal bly wees as jy van nou af meer van ons gasvryheid gebruik sal maak.”
“Baie dankie. Ons kyk maar wat die toekoms bring.” Onder die bedekking van die tafeldoek sien niemand dat die gas se hande bewend inmekaar sluit nie; weet niemand dat sy nie heeltemal so selfversekerd is as wat sy voorkom nie. Hulle kan nie op haar gesig sien dat wanneer sy van die toekoms praat, haar gedagtes by die verlede is nie; dat herinneringe soos ’n vloedgolf op hierdie oomblik in haar slaan en breek nie.
As een paar oë tog iets vreemds agterkom, ietwat verbaas die kloppende spiertjie aan die kant van die gesig gewaar en daaroor wonder, laat Steve niks blyk nie en vul hy hul gas se glasie en lig syne omhoog.
“Ons drink op jou eerste kuiertjie by ons. Mag dit die eerste van baie wees.”
Hy het half en half die besoekie verwag toe sy kamerdeur laat die aand nadat almal al bed toe is, skielik oopgaan en ’n gestaltetjie in haar nagdingetjie haar verskyning maak. Sy lig is ook al af, maar hy lê nog wakker teen die kussings gestut en wonder oor ’n paar dinge wat vir hom vanaand vreemd was. Sy pa se nuuskierigheid oor die gas. Dit het amper aan ongemanierdheid gegrens. Dis nie sy gewoonte om iemand so in detail oor sy verlede uit te vra nie. In Lorna Verbeuk se geval immers ooglopend glad nie nodig nie. Hy het selfs nie gerus voordat hy nie haar ouderdom gehoor het nie – en eers toe was sy nuuskierigheid bevredig. Steve glimlag. As hy sy pa nie so goed geken het en geweet het dat daar nooit ’n ander vrou vir hom sal bestaan as sy eie nie, sou ’n mens bekommerd kon raak. Maar dat Lorna Verbeuk beslis ’n besonder goeie indruk gemaak het, is seker.
Dan frons hy weer liggies. Dié betrokke dame is iemand met besondere selfbeheersing. Daar was ’n tydstip toe hy kon sweer dat sy hewig ontsteld was, hoewel hy nie nou kan dink wat dit kon veroorsaak het nie. Die aandjie was ’n sukses. Miskien was dit die verwysing na haar oorlede man wat ou wonde weer oopgekrap het. En tog dink hy nie so nie. Hy glo dat die herinnering aan haar man altyd vir ’n vrou soos Lorna teer sal bly, maar dit sal nie ná soveel jare ’n styfgespanne spiertjie in haar wang so hewig laat spring nie. Iets anders het dit veroorsaak …
In die lig van die maan sien hy Mignon om die voetenent van die bed sluip. Sy is onbewus daarvan dat haar jong, vroulike liggaam duidelik teen die venster afgeëts word. Hy sit regop, sy stem ongewoon streng.
“Wat soek jy hier, Mignon? En hoekom het jy nie jou kamerjas aan nie?”
“Aag, die hele huis is donker en ek moes eers by jou kom hoor wat jy van haar dink. Skuif op, ek wil inklim en gesels.”
Dit het sy dikwels in die verlede gedoen – in haar nagklere by haar ouboet in die bed geklim met lang stories te vertelle. Maar vanaand is ouboet skielik nie meer daarvoor te vinde nie, tot haar verbasing.
“Nee. Jy klim nie in nie – en gaan slaap. Ons kan môre praat.”
Haar stem klink seergemaak in die donker. “Wat het jou gebyt? Ek wil maar net hoor …”
“Ja, Mignon, sy is ’n besonderse dame. Ek is beïndruk. Tevrede? Gaan slaap nou, asseblief.”
“Dis nie wat ek wil weet nie.”
“Wat nog?”
“Ek wil weet of jy genoeg van haar hou om haar soms uit te neem. Jy kan gerus, ouboetie. Weet jy, ek dink sy is eintlik baie eensaam. En dis tragies van haar oorlede man, nè? ’n Mens kan amper sê sy was nooit getroud nie. Wat is ’n jaar nou? Sal jy, boetie – haar uitvra vir ete?”
Daar is ’n kort stilte. “Soek jy vir my ’n vrou, Mignon?”
“Nee, natuurlik nie, maar … maar jy kan baie slegter vaar as om haar te kry, hoor?”
“Sy is agt jaar ouer as ek.”
“Wat maak dit saak? Daar is van jou vriendinne van in die twintig wat óf so kinderagtig soos dertienjarige bakvissies is, óf so oud dat hulle gerus kan aansoek doen vir pensioen. Dis die gees wat tel, en Lorna Verbeuk se gees sal altyd jonk wees, al is sy honderd.”
“Nou hoor nou net die groot mensekenner! Genugtig, snip, dink jy regtig só min van die meisies wat ek uitneem?”
Sy lag. “Nee, nie regtig nie, maar nie een kom naby …”
“Wag, laat ek dit sê: nie een kom naby Lorna Verbeuk nie. Reg?”
“Reg. Jy kan nie stry nie, Steve. Sy is … iets besonders.”
Hy sug saggies. Nee, hy kan nie te hard stry nie. Daar is iets in Lorna Verbeuk wat haar buite die gewone kategorie plaas. Maar hy het ook vanaand ’n vermoede gekry dat daar baie meer in Lorna Verbeuk verskuil is as wat sy bereid is om te wys. En Mignon het ’n geweldige bewondering vir haar …
“Sal dit jou gelukkig maak as ek haar uitneem vir ete?”
“Ja, dit sal. Baie gelukkig.”
Die slaap het gewyk, weet hy. Hy het die laaste tyd opgemerk dat sy sussie nie so gelukkig is nie, maar hy was magteloos om iets daaraan te doen. As dit haar dan ’n bietjie gelukkiger sal laat voel as hy haar dosent uitneem vir ete … hoekom nie?
Die res van die naweek is ’n ewe groot sukses en toe Mignon weer by die koshuis se voordeur instap, besef sy dat haar hart vir die eerste keer in weke ligter is. Sy kan dit nie ontken nie – Eugenie en haar probleme het ’n uitwerking op haar en bederf die lewe in groot mate ook vir haar. Maar natuurlik is sy vir haar vreeslik jammer en sal sy haar nooit in die steek laat nie.
“Haai, meisiekind, kyk waar jy loop.”
Sy gaan staan net betyds, kyk vas in ’n paar laggende blou oë.
“Wat soek jy hier in die gange van ’n dameskoshuis?”
“Ek moes ’n swaar pak goed vir die matrone opdra, daarom. En wat soek jý hier?”
“Ek bly hier, natuurlik.”
“Gaaf. Die adres het ek nou. Naam?”
“Dit gaan jou nie aan nie.”
“Dit gaan my volgende afspraak aan. Môreaand. Agtuur. In die voorportaal. Stiptelik, hoor?”
“Maar jy is …”
“Deon Cilliers. Sien jou môreaand.”
Sy moet glimlag toe hy, natuurlik teen alle reëls in, fluit-fluit aanstap. Deon Cilliers … hm. Weet van hom. Enigste seun van skatryk ouers, ’n losbol volgens die tromnuus van die kampusoerwoud. Maar bygesê, darem ’n deksels oulike losbol.
Sy het Deon Cilliers klaar vergeet toe sy die kamer binnestap en Eugenie daar aantref, besig om klere uit ’n tas in die kas te pak.
“Waar was jy die naweek?”
“Huis toe. Pa het my kom haal.”
Mignon kyk haar onseker aan. Sy wil nie uitvra nie, maar Eugenie draai terug en sê uit haar eie: “Ons het baie openhartig gesels. Ek … verstaan dat ek hulle seergemaak het. Ek is jammer daaroor. Maar ek kan nooit weer teenoor hulle voel soos ek gevoel het nie. Dis iets wat hulle ook moet verstaan. Dit sal nooit weer dieselfde wees nie. Nooit weer nie.”
Mignon knik. Ja, dit kan sy verstaan. Dit sal nooit weer wees soos voorheen nie. “Wat van jou studie?”
“Ek het hulle gesê dat ek net bereid is om hul finansiële hulp te aanvaar as dit ’n terugbetaalbare lening met rente is. Anders gaan ek my studie staak as ek nie êrens anders geholpe kan raak nie.”
Mignon knik weer. Natuurlik moes die Bothmas ook hierby inval. Eugenie het hulle geen keuse gelaat nie. Mignon is egter verlig dat daar hierdie naweek tog vordering met die vredesproses gemaak is. Of miskien is vrede die verkeerde woord. Aanvaarding van ’n onveranderbare situasie is miskien meer toepaslik. Maar dat haar vriendin die littekens van die afgelope weke vir die res van haar lewe met haar sal saamdra, is seker – nes haar aangenome ouers ook met hulle s’n eendag graf toe sal gaan.
Hoe diep Mignon ook al met haar vriendin die afgelope weke saam gely het, is die jong hart gou om nuwe bronne van vreugde te soek en te vind. Sy vertel opgewonde van Lorna Verbeuk se kuiertjie en dat Steve heel beïndruk is en beloof het om haar uit te neem. En dan van Deon Cilliers … en sy vermetelheid netnou in die gang. Eugenie wend ’n daadwerklike poging aan om mee te doen aan die geselskap, wetende, terwyl sy so na haar maat se laggende gesig kyk, dat sy nooit weer so jonk en onbekommerd sal wees soos ’n paar weke gelede nie. ’n Stukkie van haar jeug het gesterf.
Dit was die swaarste naweek van haar lewe. Sy het in haar kamer gekom, dié een wat sy van kleins af as hare beskou het … en dit was nie meer “haar” kamer nie, maar die “onderdak” waarna haar pa vroeër die dag in die voorportaal van die koshuis verwys het. Sy het na haar ma gekyk, en dit was nie meer “Ma” nie, maar die vrou wat haar oor ’n moederlose kind ontferm het.
Natuurlik het sy dankie gesê, en sy was opreg dankbaar teenoor haar “ouers” – maar dit was ’n ander soort dankbaarheid as wat sy al die jare vir hulle gevoel het. Dit was ’n dankbaarheid wat verleentheid, selfs ook skuldgevoel, gebring het. En die pligsbesef wat sy vandag teenoor hulle ervaar, is anders as dié wat sy altyd geken het. In die verlede was dit ’n spontane pligsbesef; nou is dit ’n verpligting. Sy het belowe sy sal weer “huis toe” kom – maar omdat sy moet. Dis immers die minste wat sy kan doen ná alles wat hulle vir haar gedoen het. Maar sy het geweier om die lang lys wat daar reeds was, nog langer te maak. Van nou af sal dit wat die Bothmas vir haar doen en gee, terugbetaal word – met rente.
Niks wat hulle gesê het, kon haar van sienswyse laat verander nie. Baie het hulle dus maar liewer ongesê laat bly, net maar met bloeiende harte na die trotse jong meisie voor hulle gekyk. Sy wat so daarop aandring om van niemand, ook nie van hulle, iets meer verniet te ontvang nie. Sy wat hulle so vasbeslote verseker dat sy hulle sal terugbetaal, met rente. Maar watter som geld is nodig om vir twintig jaar se liefde en toewyding te betaal? Watter geld kan vergoed vir die tere sorg van ouers toe jy klein en swak en hulpeloos was en so totaal afhanklik van hul genade? Watter rentekoerse stel jy vas vir die ure se sorgsame kommer toe jy siek was? Watter munt is groot en eg genoeg wat die waarde kan bepaal van die sekuriteit en vrede wat binne die mure van ’n ouerhuis saamgevat is?
Maar Adolf en Marie het geswyg. By hulle is daar geen rekeninge uitstaande nie. Daar is niks om teenoor hulle vereffen te word nie. En of Eugenie dit weet of nie, maar tot die dag van hul dood sal sy van dié twee mense iets ontvang waarvoor daar met geen geld betaal kan word nie. Dis ook wat Adolf aan sy huilende vrou gesê het toe die pynlike gesprek – as ’n mens dit so kan noem, want dit was grootliks Eugenie wat gepraat het en die ouers wat geluister het – eindelik klaar was: “Sy is bitter jonk, onervare, geskok en trots, Mamma. En sy voel op hierdie oomblik seergemaak, veronreg en alleen in die wêreld. Maar as sy dan niks meer van ons wil ontvang nie, is daar iets wat ons nog kan gee sonder dat sy dit weet.”
“Wat is dit, Pappa?”
“Ons kan aanhou om vir ons dogter te bid. Die Here hoef nie betaal te word om te luister nie.”
Ná hierdie naweek keer dinge min of meer terug na normaal vir diegene wat by Eugenie betrokke was, en Fred Preller wil net vryer begin asemhaal toe Steve een aand uitgedos die sitkamer binnestap.
“En waarheen is jy so deftig op pad in die middel van die week?”
Steve lyk amper selfbewus. “Ek het ’n ete-afspraak.”
Sy ma kyk hom ondersoekend aan. “Dit moet ’n besonderse afspraak wees. Jy lyk baie aantreklik vanaand, my seun.”
Hy moet glimlag. Hy het nie regtig gedink hy sal so ongeërg daarmee wegkom nie. “Ek neem vanaand ’n besonderse dame uit, Ma … Lorna Verbeuk.”
Sy pa se koerant ritsel. “Lorna Ver … Hoekom?”
Steve kyk sy pa met opgetrekte wenkbroue aan. “Hoekom nie?”
Fred frons hewig. “Sy is te oud vir jou.”
Dis beslis ’n onverwagte reaksie uit ’n onverwagte oord. “Ek gaan haar vir ete uitneem, Pa, nie vra om te trou nie.”
“Nietemin. Jy ken genoeg ander meisies van jou eie ouderdom.”
Daar is nou eerlike verwarring in ma en seun se oë terwyl hulle na hom kyk, en Steve se stem neem ’n stil, besadigde toon aan, ’n teken wat waarsku dat hy óf vererg is, óf ontsteld. Op hierdie oomblik is dit iets van albei.
“Dis ’n bietjie laat om my planne te verander, nie waar nie? Dis te sê, as ek so iets sou wou doen.” Hy gee sy ma se hand ’n drukkie, sê dan styf: “Goeienag. Moenie vir my wakker bly nie. Ek het ’n sleutel vir die voordeur en ek wás al agt-en-twintig.”