Читать книгу Ena Murray Keur 19 - Ena Murray - Страница 5

2

Оглавление

Miempie se volgende besoek is op Baardskeerderspoort, die plaas van Manie Bredenkamp, ’n vrygesel. Ook hom het sy nog nie persoonlik ontmoet nie. Sy het al ’n paar keer oor die telefoon met hom gepraat in verband met ’n veranderde program of ’n geval van siekte, en hom in die dorp net op ’n afstand gesien. Maar anders as in die geval van die kroonprins van La Rhône, het sy nog nooit stories oor hom gehoor nie.

Nadat sy die gewone takies afgehandel het, verneem sy hoe dit met ou Piet de Wee gaan. Die nuus is nie goed nie.

“Meneer het hom verlede week dokter toe gevat, maar dit wil maar nie beter nie, suster. Dokter sê dis die hart. Die hart is pap en die ouderdom te hoog.”

Miempie frons. “En ouma Sanna?”

“Sy’s ook maar gedaan, suster. Die ou bene wil nie meer nie.”

Miempie stap op die huisie af en toe die ou vrou haar in die deur sien staan, glimlag die amper tandlose mond breed.

“Ai, sustertjie, dis goed om jou weer te sien!”

“Middag, ouma Sanna. Ek verneem dit gaan nie so goed hier nie.”

“Nee, sustertjie, dit wil nie meer nie.” Sy luister na die lang relaas, wetende dat die ou vrou nie aandik nie. Hierdie twee ou mense is gedaan. “Ons sal seker maar nog moet trek ook. Hier is nie meer plek op die plaas vir ons nie.”

“Wat bedoel jy?” vra Miempie skerp.

Die ou vrou se skouers hang. “As jy die dag oud is en nie meer kan werk nie, is daar nie meer plek vir jou nie. Dan moet jy vort.”

Miempie frons diep. “Het meneer Manie gesê julle moet trek?”

“Nee. Nog nie. Maar dit sal seker nog kom. Wat anders? Ou Ragel en Jafta moes padgee toe húlle die dag nie meer kon nie. Hulle moes dorp toe, na ’n huurhuis, en soos ek verstaan, het hulle baie dae nie kos om te eet nie. Die lewe op die dorp is duur – te duur vir ou plaasmense wat nie meer kan werk nie en van die staat se pensioen moet lewe.”

Miempie weet die ou vrou praat die waarheid. Dis nou maar sowat vier maande dat Manie die boerdery by sy pa oorgeneem het nadat sy ouers in hul strandhuis by Mosselbaai gaan aftree het. Maar voordat Hermanus Bredenkamp die leisels aan sy seun oorgegee het, het hy plaas skoongemaak. Nie net is jare se opgegaarde rommel op ’n vendusie verkoop nie, maar daar is ook gesnoei onder veral die ou plaaswerkers wat nie meer so produktief was nie. Toe Miempie op ’n dag weer op Baardskeerderspoort aankom, was die jong Manie in beheer, sy ouers gevestig in hul dubbelverdiepinghuis by die see en ou Ragel en Jafta in ’n huurhuisie op die dorp. Ou Piet en Sanna sou seker ook die trekpas gekry het, was dit nie dat Sanna ’n uithalerkok is nie. Iemand moes sorg dat die nuwe baas van die plaas ordentlik eet. Maar nou kan Sanna se rumatiekbene nie meer nie … en Piet se hart is pap …

Miempie aarsel. Sy weet sy oorskry nou haar pligte. Sy moet na hierdie mense se liggaamlike heil omsien. Dis nie haar werk om haar oor hul persoonlike omstandighede en die rampe wat hulle tref, te bekommer nie. As daar iets is wat haper, kan sy dit altyd na die maatskaplike werker verwys. Maar Miempie Rust is nie só aanmekaargesit nie.

“Is meneer Manie nou op die plaas?”

“Ja, hy is hier. Hy was netnoumaar hier om te kom hoor wie ek gekry het om in my plek te kook.”

Sy kyk simpatiek na die verrimpelde gesiggie. “Ek sal kyk wat ek kan doen, oumatjie. Lê oupa Piet ’n bietjie?”

“Ja, sustertjie. Hy slaap nou. Slaap maar sleg snags. Word so benoud van die hart, jy weet?” Die oë kyk pleitend op. “Dit sal sy dood beteken om weg te gaan van die plaas af. Hy is hier gebore. Dis al plek wat hy ken!”

“Ek weet. Moenie so bekommerd wees nie. Ek sal met meneer Manie praat. Onthou om gereeld die dokter se pille te drink, hoor?”

“Ek doen dit, sustertjie, maar dit wil ook nie meer help nie.”

Op pad na die plaashuis dink Miempie met deernis aan die twee ou mense. Net die gedagte dat hulle verdryf gaan word van die grond waar hulle hul hele lewe geslyt en gewerk het, laat haar weer die grense oorsteek.

Manie Bredenkamp stap haar tegemoet toe sy voor die huis stilhou. Hy hou sy hand uit en glimlag vriendelik. “Manie Bredenkamp. Aangename kennis, suster.”

Sy hou onmiddellik van wat sy sien. ’n Oop, eerlike gesig, ’n reguit kyk in die vriendelike oë. “Miempie Rust. Aangename kennis.”

“Ek het jou sien afdraai huis toe. Is daar ’n probleem?”

“Nie juis nie, meneer Bredenkamp. Maar daar is tog iets waaroor ek graag sou wou gesels.”

“Kom dan binne. Ons kan koffie drink terwyl ons gesels.”

“Dankie, maar nie vir my nie. Ek het op La Rhône tee gedrink. Ons kan sommer hier op die stoep sit. Ek sal jou nie lank ophou nie.”

Hy kyk haar vraend aan nadat hulle op die gemaklike stoepstoele gaan sit het. Hy hou ook van wat hy sien. “Wel?”

“Dis in verband met oupa Piet en ouma Sanna.” Sy sien sy verwarde frons en korrigeer vinnig, half verleë: “Ek praat van Piet en Sanna de Wee.”

“Natuurlik. Ek is bekommerd oor hulle. Die twee oues is gedaan.”

“Ja. En ék is baie bekommerd dat daar nie meer vir hulle plek op Baardskeerderspoort sal wees noudat hulle nie meer kan werk nie.”

“Ek begryp nie. Hoekom dink hulle so?”

Sy kyk hom vas in die oë. “Omdat oupa Jafta en ouma Ragel moes padgee.” Sy sien hom weer frons, vertolk dit weer verkeerd. “Ek werk heeldag met hierdie mense en ek kry dit nie reg om van ou Piet of ou Sanna te praat nie. Hulle verdien respek en daarom spreek ek hulle as oupa en ouma aan,” laat sy verdedigend hoor.

Hy knik, sy oë goedkeurend. Sy respek vir die distriksverpleegsuster styg met rasse skrede. “Heeltemal reg ook, suster Rust. Ek noem hulle ook ouma en oupa.”

“O.”

Hy glimlag. “Jy weet, baie dae verlang ek na die ou dae toe ek ’n kind was. Dinge was toe soveel minder gekompliseerd. Ek het voor hulle grootgeword. Nooit sal ek droom om hulle sommer as Sanna en Piet aan te spreek nie. Piet en Sanna de Wee is vir my nou ouma Sanna en oupa Piet.”

Sy glimlag dankbaar teenoor hom, voel amper bewoë.

Dan keer sy frons terug. “Wat ouma Ragel en oupa Jafta betref … Dis nou vier maande sedert ek die leisels oorgeneem het en my pa-hulle weg is. Ek was ontsteld toe ek op die plaas kom en hoor dat hulle dorp toe getrek het. Maar ek het verstaan hulle is versorg. Hulle bly in ’n ordentlike huisie en albei kry ouderdomspensioen. Ek wil hulle nog op ’n dag gaan opsoek en groet.”

“Hulle sal dit baie waardeer, meneer Bredenkamp.”

“Asseblief, kan ons nie maar minder formeel wees nie? My naam is Manie.”

Sy glimlag, en dit is skielik soveel makliker om hom in te lig: “Volgens ouma Sanna gaan dit nie so goed daar nie.”

“Hoekom nie? Is hulle siek?”

“Die gewone ouderdomskwale, maar dis nie die grootste nood nie. Dit gaan blykbaar om kos daar.” Hy lyk opreg ontsteld en sy verduidelik: “Jy kan self die sommetjie maak, Manie. Hulle het al die jare op die plaas gebly. Hulle het verniet gebly, hout en water was verniet, hulle het hul kosrantsoene gekry, nie waar nie? Soos meel en vleis en groente?”

“Natuurlik. Hulle het nooit honger gely nie.”

“Maar nou sit hulle op die dorp in ’n huis waarvoor hulle elke maand huur moet betaal. Die water en elektrisiteit kos ekstra. Daar is geen rantsoene meer nie. Intussen styg die lewenskoste elke dag en hulle moet dieselfde pryse in die winkel betaal as ek en jy. Jy weet hoe lyk die inflasiekoers. Mediese dienste kos wel die minimum, maar intussen moet hulle nog by die hospitaal, die kliniek of die dokter kom om dit te kry. Dit bring weer vervoerkoste mee. Ek sê jou eerlik, ek weet nie hoe party mense kop bo water hou nie.”

Hy knik peinsend. “Ek staan skuldig, suster … of kan ek jou maar Miempie noem?”

“Natuurlik kan jy.” Sy glimlag, hou al meer van dié man. “Ek bedoel dit nie as ’n beskuldiging nie, Manie. Ek noem maar net feite, en vra begrip.”

Ook sý oë vertel wat hy van die meisie dink. “Ek is baie dankbaar dat jy dit onder my aandag gebring het, Miempie. Ek glo nie my pa het doelbewus onsensitief of onsimpatiek opgetree nie. Ek glo hy het gedink hy bewys hulle ’n guns toe hy vir hulle plek op die dorp gekry het. Maar dit was nietemin onnadenkend.” Hy sug. “Jy weet, so word die kwade gevoelens in hierdie land dikwels gevoed. Daar word meestal nie doelbewus kwaad bedoel nie. Maar ons tree so dikwels onnadenkend teenoor mekaar op. Ek belowe jou ek sal onmiddellik hierop ingaan en wat oupa Piet en ouma Sanna betref, ek sal hulle vandag nog gerusstel. Hulle kan op Baardskeerderspoort bly tot die dag van hul dood. En hulle sal in hiérdie aarde ’n laaste rusplek kry.”

Sy staan op, voel die trane in haar oë. O, as almal maar hierdie gesindheid wil openbaar! “Dankie, Manie. Nou kan ek met ’n geruste hart gaan.”

Die warm gevoel om Miempie se hart vervaag toe sy met die volgende plaas se imposante rylaan opry. Grootfontein. Wilhelm en Ruda Visser se plaas. Maar sy gaan nie by die plaashuis aan nie. Met haar terugkeer sal sy by die agterdeur stilhou en uitklim om met die huishulp te gaan gesels en te hoor of sy enige kwale het. Nou gaan sy eers na die strooise. En strooise is dit. Sy dink weer aan Manie Bredenkamp se woorde en vra haar af: Is dit ook onnadenkendheid, of is dit siende blind wees? Wilhelm Visser is ’n ryk man. Hy kan sekerlik beter huise vir sy werkers bekostig. Of is dit maar net ’n geval van nie omgee nie?

Sy sug, klim uit en spreek haarself streng aan: Dis nie jou werk om jou oor Wilhelm Visser se werkers se omstandighede te bekommer nie. Dis sý gewetensaak, nie joune nie. Maar dit help nie. Toe sy ’n ruk later weer in die kombi klim, weet sy sy kan die saak nie daar laat nie. Hierdie mense se fisieke welsyn rus op háár gewete en sy durf die feit nie ignoreer nie.

Sy doen haar werk by die agterdeur waar Sarie en Siena hulle aanmeld, maar anders as gewoonlik vertrek sy nie dadelik nie. Ook die Vissers ken sy nie. Ruda Visser het sy al op die dorp en in die kerk gesien, maar hierdie dame het haar nog nooit verwerdig om eens haar kop in haar rigting te knik nie, wat nog te sê haar te vra of sy ’n koppie tee sal geniet. Maar vandag moet sy die eienaars van aangesig tot aangesig spreek.

“Is meneer Visser hier?”

“Nee, suster. Hy’s dorp toe.”

“En mevrou Visser?”

“Sy drink tee op die voorstoep.”

“Dankie.” Miempie stap deur die huis voorstoep toe, en die weelde ontgaan haar nie. Sy sien die vrou verbaas opkyk toe sy in die voordeur verskyn. “Goeiemôre, mevrou Visser. Ek is jammer om jou te steur, maar daar is ’n kwessie wat ek dringend met jou moet bespreek, asseblief.’

Die groet word nie erken nie en nog minder word sy genooi om te kom sit. Die vraag klink redelik kortaf: “Wat is die probleem?”

Miempie het so ’n soort ontvangs verwag en sy bly styf voor die vrou staan, maar met ’n reguit blik en ’n uitdagende ken. “Ek vermoed tuberkulose by sommige van julle werkers. Ek sal reël dat hulle getoets word. So gou moontlik, natuurlik.”

Ruda Visser frons. Sy is ’n mooi vrou, maar sy het ’n onvergenoegde uitdrukking op haar gesig. “Ons kan nie sommer ’n klomp werkers gelyktydig dorp toe laat gaan nie. Hoeveel het dit, en hoekom vermoed jy dit?”

“Die tekens is duidelik sigbaar by die vroue en kinders wat ek vanoggend gesien het. Siena, julle kok, het ook ’n kenmerkende teringhoes. Die mans het ek nie nou te siene gekry nie. Dáár sal waarskynlik ook ’n paar gevalle wees.”

Mevrou Visser is duidelik geïrriteerd: “Van die werkers rook enige gemors, suster. Van dagga tot gras. Wat verwag jy? Natuurlik sal hulle hoes. Dis …”

Miempie val haar in die rede: “En hulle bly in strooise wat kwalik bydra tot ’n gesonde leefruimte.”

Die ongeërgdheid verdwyn uit die vrou se oë. “Ekskuus?” vra sy kil.

Maar Miempie staan haar man. “Behuising – waar die mense bly en hoeveel hulle saam in een huis is – dra baie by tot tuberkulose, mevrou. Die vroue sê vir my dat die strooise veral in die winter erg klam is. Die vlei stoot so hoog op dat die mure klam deurslaan. Daar is een stroois waarin tot twaalf mense snags slaap … ’n eenvertrekhuis. En in die winter word die gate wat as vensters moet dien, toegestop. ’n Ideale broeiplek vir allerhande siektes, veral vir tuberkulose.” Ruda Visser se mond gaan oop, maar Miempie spring haar voor: “Ek is jammer, mevrou, maar ek moet hierdie dinge onder jou aandag bring. Dit sal weinig help om die mense vir tuberkulose te behandel terwyl hul lewensomstandighede bly soos dit is.”

Die stem is ysig. “Verstaan ek jou reg, suster? My man moet ander huise vir die werkers bou omdat jý so sê?”

“Jy verstaan my heeltemal reg, mevrou. Tensy jy nie omgee om jouself en jou gesin in gevaar te stel nie. Hulle sal jou van die kliniek af laat weet wanneer die mense moet inkom vir die toetse en ek sal aanbeveel dat die mans ook getoets word. Goeiemiddag, mevrou Visser.”

Hoewel sy so koel soos ’n komkommer voorkom terwyl sy wegstap en oomblikke later die werf uitry, is Miempie glad nie so seker van haarself nie. Inteendeel. Sy raas al weer met haarself, hoewel sy weet die koeël is reeds deur die kerk: Jy met jou groot mond! En die woordjie takt het jy seker nog nooit van gehoor nie!

Maar van die oomblik dat sy in Ruda Visser se koel oë gekyk het, was alle mooipraat en diplomasie na die maan. Dank die Vader sy is nie een van hierdie vrou se werknemers nie! Maar daar is ’n ongemaklike gevoel in haar dat sy vorentoe wel die vrugte van haar optrede gaan pluk … en dit gaan nie soet smaak nie.

Vir die tweede keer daardie dag moet Miempie haar gedagtes vinnig terugruk na die hede en nog vinniger die rem vasskop. ’n Motorfiets het skielik om ’n draai voor haar in die plaaspad verskyn. Die persoon op die motorfiets skrik ewe groot en koers wild die bosse in. Ontsteld sien Miempie hoe die motorfiets omval.

Haar bene dra haar vinnig na die ongelukstoneel en sy slaak ’n sug van verligting toe sy sien hoe die persoon stadig orent kom. Die volgende oomblik is sy by haar.

“Ek is jammer. Ek kon jou nie sien aankom nie. Het jy seergekry?”

“Nee.” Die valhelm word afgehaal en Miempie kyk teen ’n jong meisie van sowat vyftien se gesig vas. Natuurlik Yolande Visser. Haar maag maak ’n draai. As sy darem vandag die enigste kind van die Vissers doodgery het …

“Is jy seker? Kom ons kyk of alles nog werk …”

“Ek makeer niks nie.” Die stem is opstandig.

Miempie vererg haar effens. So ’n klein snip … “Jy weet, jy het ’n bietjie vinnig om daardie draai gekom. Jy kon lelik seergekry het.” Geen reaksie nie. Die meisie begin die motorfiets optel en ná ’n oomblik van aarseling sê Miempie: “Nou ja, as jy dan niks oorgekom het nie … Tot siens.”

“Wag eers.” Toe Miempie terugkyk, kom die vraag: “Wie is jy?”

“Die suster wat die mobiele kliniek na die plaaswerkers van die distrik bring.”

“Ja, ek weet. Ek bedoel wat is jou naam?”

“Ek is suster Rust.” Miempie voel glad nie lus om ’n gesprek met die voorbarige meisie aan te knoop nie.

“Kan ek jou iets vra?”

Sy het nie juis ’n keuse nie. “Ja?”

“Ek … het gewonder of jy my dalk kan help. Dis … eintlik nie vir … my nie. Dis vir ’n vriendin.” Miempie staan haar net en aankyk en daar word hakkelend vervolg: “As ’n mens nog heel aan die begin van …” Daar word eers gesluk. “Ek bedoel, as ’n mens vermoed dat jy maar nog kort verwag … is daar mos iets wat ’n mens daaraan kan doen om … om dit te stop?” Toe sy Miempie se instinktiewe frons sien, vervolg sy vinnig: “’n … ’n Vriendin van my dink … dink sy mag dalk … só wees en … Is daar nie iets wat sy kan drink of doen om …?”

“Om dit af te bring nie?” Die kop knik en Miempie vervolg ernstig: “Dis ’n baie gevaarlike ding waarvan jy praat, Yolande. Dit kan selfs lewensgevaarlik wees. Al word ’n aborsie deur ’n dokter of ’n vroedvrou gedoen, kan dit baie ernstige gevolge inhou.”

“Maar is daar nie iets wat sy sélf kan doen nie? Ek bedoel, dis mos nie of dit al … al klaar ’n baba is nie … Dis tog nie …”

“Moord nie? Nee, daar is baie mense wat glo dis nie moord nie. Maar weet jy dat daardie hartjie reeds op drie weke begin klop … en dan weet die vrou of die meisie nog nie eens sy verwag nie; kan sy dit nog nie eens vermoed nie.” Die blonde meisie lyk bleker en die naar kol op Miempie se maag word groter. “Ek sal jou vriendin aanraai om eers honderd persent seker te maak dat sy swanger is en dan … dan professionele hulp inroep.”

“Is daar dan dokters wat dit sal doen?”

“Jy bedoel ’n aborsie op haar uitvoer? Wel, as sy minderjarig is, moet sy dit liewer eers met haar ouers bespreek. En wat sy ook al wil doen, sy moet haar ouers se toestemming kry.”

“Maar wat anders kan sy dan dóén?” Daar is paniek in die jong meisie se stem.

Miempie doen haar bes om die regte raad te gee: “Daar is geen ander verstandige uitweg nie. Sy moet vasstel of sy swanger is en dan die saak openlik met haar ouers bespreek.”

“Sy sal dit nooit doen nie! Ek bedoel, haar ouers daarvan vertel nie.”

“Sy het geen ander keuse nie, Yolande. Ek neem aan sy is nog maar … e … vyftien?”

“Amper sestien.”

“Sy is nog minderjarig. Sy sal haar ouers daarvan móét vertel.”

“Maar kan jý nie iets … iets vir my gee … wat ek vir haar kan gee wat dit miskien … miskien kan laat …”

“Nee, ek kan nie. Ek sal nooit so iets waag nie. Ek beskou dit as moord. Dit is heeltemal teen my beginsels en etiese waardes – al beskou baie mense dit as ’n vrou se reg. En dit kan ernstige sielkundige skade inhou. Verder is jou vriendin in elk geval minderjarig. Yolande, jy moet met haar praat. Hoe gouer sy haar ouers in haar vertroue neem, hoe beter. Asseblief. Moenie dat sy self iets probeer om die swangerskap te beëindig nie. Sy kan nie net haar gesondheid vir ewig knou nie, maar selfs sterf. ’n Aborsie wat nie in kliniese omstandighede deur ’n dokter of ’n vroedvrou uitgevoer word nie, is lewensgevaarlik en nie iets om mee te speel nie. Agterstraat-aborsies het al ontelbare lewens geëis.”

Die kop val vooroor en die blonde hare tuimel oor die verwese gesiggie. “Ek sal haar sê.”

“Yolande …”

Maar sy is reeds besig om haar motorfiets pad toe te stoot. “Ek sal nou moet ry. Tot siens, suster.”

Miempie staan die stofwolk en agternakyk en begin dan stadig terugstap kombi toe. Sy weet dat die bewing in haar ingewande nie meer van die skok van die amper-ongeluk is nie. Dis diepe ontsteltenis oor ’n pragtige jong meisie wat op amper sestien swanger is. En ten spyte van die gevoelens wat Ruda Visser in haar wakker gemaak het, is daar ook ’n innige jammerte vir die snobistiese rykmansvrou op wie daar in die nabye toekoms miskien ’n geweldige skok wag. Nie eens vir Ruda Visser wens sy so iets toe nie. Vir geen ma en pa nie …

Miempie slaap sleg dié Donderdagnag en toe sy Vrydagoggend wakker word, is haar binneste steeds ’n maalkolk toe sy gereedmaak vir werk. Eers moet sy haar weeklikse verslag by die distriksmunisipaliteit se kantoor indien en vir die res van die dag behartig sy die plaaslike kliniek. En sy sal met die dokter moet praat oor die potensiële tuberkulosegevalle op Grootfontein. Sy durf nie daarmee wag nie. En intussen hoop en bid sy maar dat Yolande Visser wel van ’n vriendin gepraat het …

Sy kan haarself nie keer nie. Vandag moet sy meer te wete kom oor die Vissers van Grootfontein, watter soort mense hulle is.

Dit kos haar net een of twee vrae in die regte rigting om Rina aan die praat te kry.

“O, die Vissers? Praat van snobs!”

“Ruda Visser is seker een van die mooiste vroue in die distrik en nog jonk. Sy kan nog nie veertig wees nie.”

“Sy is seker daar rond, maar ek sal haar nie mooi noem nie. Sy lyk altyd suur. Trek pragtig aan, ja. Maar hulle het die geld. En sy het die smaak. Sy het vroeër ’n boetiek hier gehad, die mees eksotiese klerewinkel wat hierdie dorp nog geken het.”

“Hulle het net een kind, of hoe?” vra Miempie.

“Ja. ’n Dogter, Yolande. Sy is saam met my Harry in die klas. Dáár is nou ’n wilde enetjie vir jou, hoor!” sê Rina veelseggend.

“Wat bedoel jy?”

“Wel, Harry sê sy leer nooit nie. Sy druip elke kwartaal en sy steur haar min daaraan. Verder is sy so oorryp as kan kom. Ek sal liewer nie vertel wat my Harry vertel wat alles aangaan nie, maar die klein Yolande is die voorbok.”

“Dinge soos wat?”

“Dwelms, drank en seks. Jy hoef nie so geskok te lyk nie, Miempie. Dink jy dis net in die stede waar hierdie dinge aangaan? Daar is nie meer ’n dorp in hierdie land waar hierdie dinge nie kop uitsteek nie, laat ek jou vertel.”

Miempie voel mislik. Sy wens Rina wil ophou, maar sy gaan voort: “My Harry doen natuurlik nie mee nie. Hy weet wat sy pa met hom sal doen as hy aan sulke onheilsdinge deelneem, maar hy sê dagga is nie meer snaaks nie. Daar is kinders wat al heelwat sterker goed gebruik. En vrye seks is aan die orde van die dag. En daardie klein Yolande … die kind is nog nie eens sestien nie … is die gewildste onder die seuns, want sy is pragtig. Maar soos my Harry vertel, sal daardie meisiekind nie kan sê wie die pa van haar kind is as sy die dag moet ontdek sy is swanger nie. En ek sal nie verbaas wees as daar nog volwasse mans ook onder hulle is nie.”

Miempie stuit die stortvloed vinnig: “Rina, jy sal my nou moet verskoon, maar ek moet nou hierdie verslag afhandel, anders kom ek nie betyds klaar nie.”

“Ja. Ek sal ook moet roer.” Rina kom by Miempie se lessenaar verbygestap en laat vir oulaas hoor: “Maar daardie soort meisies kom nie in die moeilikheid nie. Hulle is te slim. Behalwe dat hul eie ma’s hulle die voorbehoedpil voer, kan hulle dit mos maklik in die hande kry. Enersyds is dit ’n goeie ding. Dit verhoed baie ongewenste swangerskappe. Andersyds … dit maak ons kinders sleg. Nou kan hulle te kere gaan soos hulle wil, sonder vrese. Maar pasop as hulle die dag vergeet om die pil te neem … Dit gebeur ook.”

Gelukkig lui die telefoon op daardie oomblik en Miempie tel dit vinnig op, dankbaar vir die onderbreking. Dis meneer Hough, die sekretaris. Sal suster Rust asseblief onmiddellik na sy kantoor kom?

Toe Miempie hom oomblikke later in die oë kyk, weet sy dat haar duistere voorgevoelens oor gister se voorval bewaarheid is.

“Meneer Visser van Grootfontein was so pas hier by my in die kantoor, suster. Hy het ’n sterk klag teen jou kom indien.”

Miempie staal haar. “Wat is die klag, meneer Hough?”

“Dat jy beledigend en aanmatigend teenoor sy vrou was en wilde beskuldigings gemaak het.” Hy wys na ’n stoel. Suster Rust is een van sy knapste en fluksste werknemers. Hy sal haar nie graag wil verloor nie. Maar hy durf ook nie ’n klag van die Vissers van Grootfontein ignoreer nie. “Sit, suster, en vertel my wat gebeur het.” Hy kyk haar goedig aan. “Ek het na sy relaas geluister, en nou wil ek jou kant van die storie hoor. Wat presies het gebeur?”

“Ek het nie bedoel om beledigend of aanmatigend te wees nie, meneer Hough. En daar is geen wilde beskuldigings gemaak nie, net blote feite gestel.” Sy vertel byna woord vir woord wat gesê is en wat aanleiding daartoe gegee het. Sy sluit af: “Meneer Hough, glo my, jy weet nie onder watter omstandighede daardie werkers bly nie. Meneer Visser se varkhokke lyk soos hotelle teen sy werkershuise. Ek oordryf nie.”

Hy knik. “Ek weet, suster. Ek was ook al op Grootfontein.”

“Dit verbaas my dat daardie man nog werkers het.”

“Hy sal altyd hê, suster. Werk is skaars en mense wat werk soek, kan nie bekostig om uitsoekerig te wees nie. Hy het vanoggend gesê dit sal nie help om vir hulle beter huise te bou nie, want hulle wil so lewe. Volgens hom is hulle almal onbetroubare suiplappe en daggarokers. Hy glo net nie dat hy beter gehalte werk sal kry as hy sy werkers se lewensomstandighede verbeter nie.”

Miempie skud haar kop. “Hoe kan hy hulle so beskuldig van alles wat sleg is? En hoekom nie hulle omstandighede verbeter nie? Dit is tog sy plig as mens – het hy dan geen gewete nie? Sy werkers kry makliker allerhande siektes net omdat hulle leefplek so haglik is. Ek is doodseker van hulle het tuberkulose. Maar om hulle te dokter en dan eenvoudig terug te stuur na dieselfde omstandighede …”

“Ek weet, suster. Maar dit is wel jou plig om hulle te dokter. Die res val nie in jou posbeskrywing nie.”

“In wie s’n val dit, meneer?”

“In baie streke stig die mense plaaswerkerverenigings of ander hulpdiensorganisasies wat wonderlike werk onder die plaaswerkers doen, juis op die gebied van opheffing en om lewensomstandighede te verbeter. Laat dit aan hulle oor.”

Sy laat sak haar kop moedeloos. “Daar is só baie opheffingswerk wat gedoen moet word.”

“Dit is waar, suster Rust, maar jy kan nie álles wil doen nie. Jy is een mens en …”

Sy kyk op toe hy aarsel en vul self aan: “En net die suster van die kliniek-op-wiele, soos ek hier bekend staan, wou u sê?”

“Ja. Dis wat ek wou sê. Ek het meneer Visser verseker ek sal die saak met jou bespreek en dat daar nie ’n herhaling sal wees nie. Kan ek op jou staatmaak dat dit so sal wees?”

Sy staan op, weet daar is geen ander antwoord nie. “Ek sal probeer, meneer Hough.”

“Dankie, suster. Dit sal dan al wees.”

Miempie is innig dankbaar toe sy Vrydagnamiddag haar woonstel oopsluit en haar skoene kan uitskop. Met ’n koppie tee in die hand sak sy op die rusbank neer. Dankie tog hierdie week is verby. Dit was in meer as een opsig ontstellend. Sy leun agteroor, sluit haar oë en neem haar dinge voor wat sy vooraf weet sy nie gaan regkry nie: Hierdie naweek gaan sy aan niemand anders as haarself dink nie. Sy gaan vannag soos ’n klip slaap. Môreoggend gaan sy inkopies doen, en Saterdagmiddag gaan sy die woonstel van hoek tot kant skoonmaak en Saterdagaand met ’n interessante boek in die bed klim. En basta met Maria Benjamin, met Emile de Jongh, met die Vissers van Grootfontein en hul dogter Yolande. Meneer Hough het reg. Sy is een mens, een stem roepende in die woestyn, een swaeltjie in die middel van die winter, een … Teësinnig tel sy die gehoorbuis op toe die telefoon lui.

Dis Manie Bredenkamp … en haar ergernis verdwyn. Hy was toe vandag by oupa Jafta en ouma Ragel aan en hy sal graag verder met haar oor hulle wil gesels. Hoekom gaan hulle twee nie môreaand in die restaurant op die dorp eet nie, dan kan hy haar alles vertel.

Hy lyk verras met wat hy sien toe haar woonsteldeur die Saterdagaand op sy klop oopswaai. “Jy lyk pragtig, Miempie. Ek herken jou amper nie!”

Sy lag effens selfbewus. Sy is nie juis gewoond aan komplimente nie. Het dit ook van iemand anders gekom, sou sy dit ongeërg afgemaak het. Maar Manie is ’n opregte mens, het sy hom klaar opgesom. “En die boer van Baardskeerderspoort lyk ook vanaand heel anders as wat ek hom laas gesien het!”

Dit is nog ’n tydjie voordat hulle restaurant toe moet gaan en hy vertel haar van Jafta en Ragel. “Dit gaan nie so sleg met hulle soos wat ek aanvanklik verwag het nie. Gelukkig kry albei pensioen en hou hulle ’n redelike som oor nadat die huur en water en ligte betaal is. Hulle kan lewe, hoewel dit meet en pas kos. Daar kan een keer per week vleis gekoop word, asook vars groente en melk. Hulle het beslis ’n baie beter lewe op die plaas gehad. Ons plaaswerkers is meestal beter daaraan toe as die werkers op die dorp. Ek het besluit dat ek elke week wanneer ek dorp toe kom, vir hulle ’n stukkie vleis en groente en melk sal bring. Dit behoort baie te help. Maar ek het skrikwekkende ellende in daardie woonbuurt gesien. Kinders …” Hy skud sy kop. “’n Mens voel so magteloos, dit is soos ’n onstuitbare stroom waarteen jy probeer swem …”

Sy neem sy hand en gee dit ’n spontane drukkie. O, sy begryp so goed hoe hy voel! “Nietemin, Manie. Elke druppel help. Dankie dat jy na die twee ou mense omsien.”

Hy hou haar hand in syne. “Dis ek wat vir jou moet dankie sê, Miempie. Ons het meer Miempies op hierdie aarde nodig, want ons is so dikwels siende blind.”

In die restaurant sit Emile de Jongh met ’n onbekende skoonheid aan sy sy skuins oorkant hulle, en afgesien van ’n stywe knikgroet, ignoreer sy hulle, maar Manie gaan groet Emile en tot haar ontsteltenis nooi hy Emile en sy gesellin om by hulle tafel te kom sit. Sy sou veel eerder alleen saam met Manie wou geëet het. Dis egter toe die Vissers by hulle tafel verbykom en Manie hulle ook ewe gul by sy uitnodiging insluit, dat Miempie regtig ontsteld begin voel. Maar die Vissers is duidelik net so min lus vir haar geselskap as sy vir hulle s’n.

Met haar blik op Miempie sê Ruda uit die hoogte: “Dankie, Manie, maar ons sal liewer by ons eie tafel sit.”

Toe hulle aanstap, wonder Emile hardop: “Nou wat sou hulle byt?”

Voordat Miempie haar vinnige tong kan keer, laat sy hoor: “O, dis ék wat hulle gebyt het.”

Manie kyk verbaas na haar. “Wat op aarde, Miempie …”

Spyt dat sy dit opgehaal het, moet sy verder verduidelik.

“Jy is ongelooflik! Het jy dit régtig vir Ruda Visser gesê?” vra Emile.

Sy kyk hom koel aan. “Ek vertel nie leuens nie.”

Hy frons. “Die werkers op daardie plaas se woonplek is regtig haglik. Ek is glad nie verbaas dat daar soveel gesondheidsprobleme is nie.”

Manie stem saam. “Maar hoe jy vrou-alleen daardie mense uit hulle weeldeslaap gaan laat wakker skrik om iets aan die saligheid van hulle werkers te doen, wil ek nog sien. Selfs nie eens Florence Nightingale sou dit kon regkry nie – of Moeder Teresa.”

Sy kyk hulle beurtelings krities aan. “Wat is ’n mens werd as jy nie meer ideale en ’n gewete het nie?”

Emile meet haar met die oë terwyl sy gesellin verveeld om haar rondkyk. “Wat probeer jy sê?”

“Ek sal myself ook nie juis wil verbeter as ek in sulke krotte moet bly nie. En dit lyk vir my of julle nie meer iets soos ’n hart en ’n gewete het nie.”

“Jy is nou onregverdig. Hulle is gewoond daaraan om so te lewe – en hulle het ten minste werk en ’n dak oor hulle kop. Elke boer besluit self hoe hy sy werkers wil behandel en wat die gehalte van hulle blyplekke moet wees.”

Haar oë blits in syne. “Ja, Emile de Jongh, glo jouself maar. ’n Kreef is ook gewoond daaraan om lewend in kookwater gegooi te word.” Sy is sommer driftig.

Emile kyk Miempie vies aan. “Wat het krewe nou met plaaswerkers te doen?”

Sy gesellin stel geensins in die onderwerp belang nie. Sy sug oordrewe verveeld en kyk of Emile die boodskap kry.

Maar toe Emile geen reaksie van Miempie kry nie, frons hy vererg en sê: “Jy ruk die saak nou heeltemal uit verband.”

“Nee, glad nie. Wat wel waar is, is dat jy net so onmenslik soos die Vissers is.”

Ena Murray Keur 19

Подняться наверх