Читать книгу Ena Murray Keur 19 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеLaura de Jongh kyk op toe sy haar seun sien. Dan word haar blik ondersoekend toe sy die stormagtige uitdrukking op sy gesig sien. “Jy is gou terug. Het jy dan nie op die dorp gaan kuier nie?”
Hy gee ’n grimmige laggie. “Ja, as ’n mens dit kuier kan noem. Waar is Pa?”
“Hy het al gaan lê.” Sy skakel die televisie af. “Ek gaan maak eers vir ons ’n bietjie tee voordat ek ook maar gaan inkruip.” Toe sy by hom verbykom, vra sy nonchalant: “Uitval met jou jongste meisie gehad?”
Hy stap saam kombuis toe, antwoord: “Daar was ’n uitval, ja, maar nie met my jongste meisie nie.”
“O?” Sy skakel die ketel aan. “Met wie dan? Na jou gesig te oordeel, het jy die onderspit gedelf.”
“Dit sal die dag wees! Maar ’n mens kan nie met ’n vroumens redeneer wat ’n eenrigtingverstand het nie.”
“Dan was dit tog ’n vroumens?” Sy kyk hom geamuseerd aan. Hy het beslis nie die beste daarvan afgekom nie!
Hy moet teen sy sin glimlag. “Toe, Ma! Vra wie dit is. Ek weet jy bars van nuuskierigheid.”
Sy ma lag, begin die tee maak. “Goed. Vir wie het jy vanaand gaan kuier?”
“Vir Ma se Miempie.” Hy hou ’n hand omhoog toe sy ma hom vinnig aankyk. “Hokaai. Moenie onnodig bly word nie. Dit was nie ’n gewone kuier nie. Ek … wou iets met haar bespreek, dis al.”
Sy ma stoot sy koppie tee nader, gaan sit by die kombuistafel. “En toe loop dit op ’n rusie uit.”
“Ja. Sy kan haar verskriklik gou wip, daardie vroumens.”
Laura se gesig is ernstig, so ook haar vraag: “Waaroor het julle dan gestry?”
“Ma sal my nie glo nie. Oor Maria.”
“Maria?”
“Maria Benjamin.”
Laura kan die plooi van haar mondhoeke nie meer beheer nie. “Werklik, my seun, is daar nie meer romantiese onderwerpe as jy vir ’n meisie gaan kuier nie?”
Hy roer sy tee boosaardig. “Sy het die onderwerp gekies, nie ek nie.”
“Jy begin oud raak, Emile. Jou sjarme begin jou in die steek laat.”
“Moenie Ma ook nog begin nie! Daardie …”
Sy gee hom ’n kloppie op die hand. “Ek terg maar net ’n bietjie. In alle erns nou … Waaroor het die rusie gegaan?”
Hy vertel haar kortliks en sien dat sy hom met ernstige oë aankyk. “Ja, Ma. Maria Benjamin wil ’n dokter word. En Miempie moedig haar blykbaar aan. Sý sê Maria kan ’n dokter word; sy het die intelligensie. Die enigste probleempie is fondse. Maar selfs daarmee het sy ook raad. Sy glo aan wonderwerke: dáárdie soort wat geld uit die hemel op Maria sal laat neerreën. En as dít nie gebeur nie, dan is daar nog ’n deur oop: Maria se wit pa sal dalk die nodige kan voorskiet.”
“Wat?” Daar is nie ’n greintjie geamuseerdheid in Laura de Jongh oor nie.
Hy knik. “Ja. Ek was net so geskok toe sy met hierdie wilde bewering vorendag kom. Daardie meisiekind gaan nog oor laster in die hof beland.”
“Waar kom sy aan dié storie?”
“Afleidings. Soos Maria se steil hare en Martha se houding. En dan natuurlik haar onfeilbare instink. Veral instink vertel haar Maria het ’n wit pa gehad. Sy weet nie wie hy is nie, maar sy glo hy is wit.” Toe hy opkyk, kyk hy teen sy ma se neergeslane ooglede vas. “Weet Ma iets van Martha se geskiedenis voordat sy met Klaas getroud is en La Rhône toe gekom het? Waar het sy vandaan gekom?”
“Sover ek kan onthou van Baardskeerderspoort af. Haar mense het daar gebly, by die Bredenkamps.”
“En sy het Maria reeds gehad voordat sy met Klaas getroud is. Hy is dus nie haar pa nie.”
“Ja.” Daar is kommer in haar oë toe sy eindelik opkyk. “Ek het nooit probeer vasstel wie Maria se pa was nie. Ag, jy weet mos. Sy was ’n voorkind, soos hulle dit in daardie dae genoem het, en dit is niks snaaks nie. Niemand lig eintlik ’n wenkbrou daaroor nie. Dit is ’n algemene verskynsel. Wil … wil Miempie nou probeer vasstel wie Maria se pa was?”
“Sy het dit nie so direk gesê nie, maar ek is seker sy gaan probeer. Martha is natuurlik die enigste een wat werklik weet, maar Martha wil nie praat nie, anders sou Miempie al geweet het wat sy naam is en hom al sweerlik bygedam het.”
“Miempie moet hierdie ding liewer met rus laat.”
“Ek het ook vir haar so gesê, maar sy sal nie. Nie sý nie. Ma het Ma darem lelik met haar misgis.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek aanvaar sy is ’n goeie mens, maar … wat die res betref, is sy ’n koppige vuurvreter … en Ma wil tog nie só ’n rebelse skoondogter hê nie, wil Ma?”
Sy ma glimlag. “Miskien het jy juis ’n parmantige vrou nodig.”
Hy staan op. “Dan bly ek maar liewer ’n oujongkêrel. Nag, Ma.”
“Nag, my seun.” Maar toe hy uit is, sit Laura nog lank en peins en daar is kommer in haar oë … en dis nie kommer oor die moontlikheid dat haar jongste seun nooit sal trou nie.
Maandagoggend, terwyl sy met die dokter reël vir die tuberkulosetoetse wat op Grootfontein se werkers uitgevoer moet word, neem Miempie haar kans waar om oor ander belangrike dinge uit te vra.
“Dokter, kan jy my sê wat dit vandag kos om medies te loop?”
“’n Absolute fortuin. Hoekom wil jy weet?”
“Ek vind sommer vir iemand anders uit. Kan jy my ’n benaderde bedrag gee?” wil sy met ’n sinkende hart weet.
“Ag, as die student by ’n koshuis inwoon, seker maklik meer as honderdduisend rand.”
Haar asem is byna weg. “Per jaar?”
“Ja. Daar is ook beurse en studielenings teen ’n lae rentekoers beskikbaar. Natuurlik eindig die student vol skuld wanneer hy uiteindelik klaar is. Dis ’n lang kursus – ses akademiese jare, gevolg deur ’n internskap van twee jaar en een jaar gemeenskapsdiens … in hierdie stadium. Want deesdae verander alles maar voortdurend. En dan kerm die mense nog oor die hoë dokterstariewe,” brom hy agterna. “O ja, die student moet eers aansoek doen vir die kursus. Die keuring is baie streng en dis dikwels net die toppresteerders wat die paal haal.”
“Dankie, dokter. Ek sal die universiteit skakel en meer besonderhede oor toelatingsvereistes kry.”
Haar navrae bevestig dokter Geertsema se inligting en al haar vrese. Sy moet tot die gevolgtrekking kom dat Maria se droom net ’n droom sal bly. Maria sal dit moet aanvaar … en sy ook. Sy het hierdie droom reeds te ver laat gaan, ook in haar eie hart. Geen wonder Emile de Jongh dink sy is besete nie. Die verpletterende syfers voor haar skok haar tot die nugtere besef: Emile de Jongh het reg. Daar staan ander deure vir Maria oop. Sy kan ’n verpleegster word …
Tog, toe sy die stuk papier opvou waarop al die vereistes en die skrikwekkende bedrae geld aangeteken is, skiet dit onwillekeurig weer deur haar: As ek net kan vasstel wie Maria se pa is … Miskien kan hy help … Wie weet …
Maandag is ook ’n deurmekaar dag vir Emile, hoewel dit glad nie blou begin nie. Invaltyd is almal daar, gereed vir die dag se werk. Nee, alles verloop glad, en tog loop die jong baas van La Rhône met ’n frons rond, en as iemand hom sou vra of iets skort, sou hy dit heftig ontken. Maar iets krap beslis aan hom.
Hy hou vandag sy werkers met meer aandag dop. Hy betrap homself dat hy na ’n gesig kyk en homself afvra wat agter daardie stoïsynse uitdrukking skuil. Nie dat sy mense nie gemoedelik gesels terwyl hulle werk nie. Maar in die stil oomblikke sien hy dat die gesigte niks verraai van wat binnekant aangaan nie. Soos Klaas Benjamin op die oomblik …
Hy stap nader na waar die man aan ’n draadheining tussen die boorde en die gesaaides werk. Hy soek ’n aanknopingspunt – iets vreemds vir hom. Ander dae sal hy kyk wat al gedoen is, miskien raad gee of vra wanneer die werk klaar sal wees, en dan wegstap. Maar vandag weet hy skielik nie wat om te sê toe hy by Klaas kom nie. Hy kan sien die man weet wat hy doen, dat hy dit goed doen en dat hy werk om klaar te kry. Tog stap hy nie weer weg soos ander dae nie.
Hy hurk langs hom, vra onnodig: “Het jy alles hier wat jy nodig het?”
“Ja, meneer.”
Weer onnodig: “Wanneer sal jy klaar wees?”
“Ek is amper klaar, meneer,” kom dit beleef.
Klaas, die werker, ken hy. Hy is ’n goeie werker. Klaas, die drinker, ken hy ook. As hy dronk is, slaan hy soms vir Martha en dan gee dit maar ’n taamlike herrie af. Maar dis nie al Klaas wat daar is nie. Daar is nie net ’n plaaswerker en soms ’n drinker in hom nie. Daar moet iets meer wees. Waaroor dink hy as hy so staan en werk? Wat gaan deur sy gedagtes wanneer hy ure lank op die trekker sit? Wat dink hy wanneer hy vanaand by die huis kom? Koester hy dalk ook drome? Wens hy dalk ook dat ’n wonderwerk sal gebeur?
Emile kom weer orent. “As jy hier klaar is, wil ek hê jy moet vir my die skaap uit die kampie haal en in die oorkantste land jaag, asseblief.”
“Dis goed, meneer.”
Hy praat byna hardop met homself toe hy wegstap. Deksels, dis waar! Hy ken nie sy mense nie! Klaas moet nou al goed twintig jaar hier werk. Hy het as ’n jong man na La Rhône gekom, later met Martha getrou. Ja. Hy ken Klaas al twintig jaar lank. Ken? Hy grynslag. Ja, natuurlik ken hy vir Klaas Benjamin. Hy werk al twintig jaar lank op hierdie plaas. Hoe sal hy hom nie ken nie?
Emile klim in sy bakkie en ry na die koppie oorkant waar hy na ’n veesuiping gaan kyk. Maar hy sien die krip skaars raak. Hy staar voor hom uit. Kan dit wees dat ’n mens twintig jaar lank met ’n mens saamlewe en hom nie ken nie? Die antwoord is ja. Die besonderhede wat hy oor Klaas Benjamin kan opnoem, kan sy buurman ook opnoem. Almal weet hy is ’n goeie werker, dat hy soms ’n bietjie oorboord gaan met die bottel, dat hy dan en wan sy vrou slaan, dat hy sewe kinders het. Hy weet niks meer as die res van die buurt van Klaas Benjamin nie. Daardie snipperige Miempie het reg.
Manie kyk verbaas op toe hy Emile se bakkie aangery sien kom, en hy stap nader.
“Jy het ’n mooi bulletjie daar,” sê Emile waarderend toe hulle groet.
“Ja. Ek dink nie Zeus gaan my teleurstel nie. Hy gaan sy kant bring wanneer hy uitgegroei is.”
Emile glimlag. “Is dit sy naam … Zeus?”
Manie lag hartlik. “Ja. Ken jy die Griekse mitologie?”
“Ek weet darem wie Zeus was.”
“Maar weet jy hóé hy was?”
“Nee, hoe?”
“My vriend, hy het net nooit nee vir ’n antwoord aanvaar nie. Ek hoop maar net Zeus sal sy naamgenoot nie in die skande steek nie.”
Hulle lag hartlik en dan vra Manie: “Wat bring jou op ’n Maandagoggend hier? Kan ek help met iets?”
“Ja … e … Ek wil ’n bietjie met jou gesels as jy tyd het.”
“Natuurlik. Kom ons gaan huis toe. My keel voel al droog. Ons kan daar gesels.”
Toe hulle elkeen met ’n koppie koffie voor hulle sit, kyk Manie sy buurman vraend aan.
Emile se gesig is ernstig en dit is baie duidelik dat hy iets op die hart het.
“Wel?” moedig Manie hom aan.
Emile soek na woorde. Hy voel half selfbewus, selfs verleë. Tog, die ding hinder hom. Hy moet dit met iemand bespreek. “Man, ja, miskien is ek nou onnodig op loop, maar vanoggend toe ek my werkers so dophou, het ek my afgevra: Ken ek dié mense regtig?” Hy kyk op in Manie se peinsende blik. Dit gee hom moed om voort te gaan: “Ek het skielik vanoggend besef dat ek net ’n werkgewer vir hulle is. Soggens deel ek die bevele uit en vanaand is dit uitgevoer. Dan gaan hulle huis toe en môreoggend begin ons maar weer op die ou trant. Verder … Daar is ’n goeie verstandhouding tussen ons, maar tog is hul rol so passief – in dié opsig dat ék dink en húlle doen. Hulle hande hou my boerdery in stand, maar is hulle harte ook daar? Verstaan jy wat ek bedoel?”
Manie het ’n ligte frons tussen sy wenkbroue. “Ja, maar gaan voort. Dis baie interessant.”
“Neem Klaas Benjamin as voorbeeld. Hy is een van my staatmakers. As ek vir hom sê om ’n ding te doen, weet ek dit word gedoen en hy skeep nie af nie. Maar ek wonder nou … Stem hy altyd saam met wat ek gedoen wil hê? Het hy nie ’n mening van sy eie nie? Sou hy nie miskien die ding anders gedoen het nie? Miskien selfs op ’n doeltreffender manier as wat ek voorgestel het. Maar omdat die baas van die plaas só sê, word dit só gedoen. Moet ons nie ons werkers meer aktief betrek nie? Hulle laat voel húlle mening word ook in ag geneem nie? Trouens, die sukses van ons boerderye hang net soveel van hulle af as van ons, die base van die plase.”
“Emile, jy praat nou so na my hart. Ek dink al lank oor hierdie ding, maar het nog niks daadwerkliks daaromtrent gedoen nie. Hoekom weet ek nie. Ek voel ook lankal die boerdery is net soveel hulle s’n as myne. Hulle moet ook voel hulle lewer ’n belangrike bydrae en dat hulle nie net werk omdat werk werk is nie.”
Emile kyk hom verlig aan, glimlag. “Daar is ook ander dinge wat my pla. Ek weet nie wat die mense dink en voel nie. Klaas Benjamin is vir my ’n geslote boek. Miskien … miskien koester hy ook drome … het hy ook ’n ambisie wat in hom brand … sulke dinge.”
“Jy is reg, Emile. Ons ken nie ons mense nie. Vriend, ek is baie bly jy het vandag met my kom gesels. Ek is oortuig daarvan dat jy jou gewig by die plaaswerkersvereniging moet ingooi. Hulle doen reeds baie in die rigting waarheen jy mik, hoewel jy die saak blykbaar in ’n nog breër konteks sien.”
“Ja, ek weet jy het voorheen met my daaroor gepraat, maar ek het toe gedink ek doen genoeg vir my mense, of liewer, gee hulle genoeg. Ek het dit nie op my plaas nodig nie. Maar miskien moet jy my meer inligting gee oor die plaaswerkersvereniging en wat hulle beoog.”
“Dis die werk van ’n paar boere wat self met die ontwikkeling van hulle werkers begin het, en wat nou baie wyd uitgekring het. Hulle doel is om die plaasgemeenskappe op te hef.”
“Maar wat presies dóén hulle?”
“Hulle hoofdoel is die ontwikkeling van ons plaaswerkers. As ons genoeg boere met ’n positiewe gesindheid bymekaar kan kry, kan ons ons eie GOV stig.”
“Wat is dit?”
“Dit staan vir gemeenskapsontwikkelingsvereniging.”
“Goed. Maar in watter opsig is hulle betrokke by die plaaswerkers?”
“Daar is baie kursusse wat aangebied word, vir die boer self en ook vir sy werkers.”
“Soos?”
“Vir die boer is daar kursusse in praktiese arbeidsverhoudinge, algemene bestuur, produktiwiteit, kommunikasie, mannekragbeplanning, te veel om nou op te noem. Selfs die boervrou word nie oor die hoof gesien nie. Hulle kan ’n vroueklub stig en verskillende kursusse aanbied: netheid, higiëne, lees- en skryfkursusse, kooklesse waarin hulle kan wys hoe om van min kos baie te maak, of selfs hoe om ’n bewaarskool te begin en te organiseer – iets wat baie belangrik is in ons soort boerdery wat so sterk op vrouekrag steun.”
“Ja. Ek weet Klaas se vrou hou maar ’n ogie oor die kleintjies wanneer die ander vroue landerye of boorde toe gaan.”
“Maar sy kan leer hoe om dit rég te doen. Klaas kan ’n trekkerkursus bywoon en ’n sertifikaat kry as bewys dat hy die kursus geslaag het. Dit gee ’n mens selfvertroue; laat hom voel hy beteken iets. Dit doen wondere vir iemand se selfbeeld.”
Emile knik. “Ek begin al hoe meer besef daar is wel ruimte vir verbetering op La Rhône. Ons moet weer oor hierdie saak gesels, Manie.”
“Beslis. Laat gaan jou gedagtes so ’n bietjie en dan kom ons vanaand bymekaar en bespreek die belangrikste kwessies.”
“Goed. Kom jy oor na ons toe. Ek sal vir my ma sê jy eet ook sommer daar. Pa sal ook by ons bespreking moet wees. Hy is nog die baas van die plaas.”
“Natuurlik.”
Emile staan op. “Ek het jou nou lank genoeg opgehou. Ons praat vanaand verder.” Hy glimlag skamper. “Daar is een ding wat ons twee beslis hoog op ons agenda sal moet plaas.”
“Wat is dit?”
“Ek en jy sal moet vrou kry. Ek sien regtig nie kans vir bewaarskole en resepte nie!”
Manie lag hartlik. “Ja-nee, ou maat. Ons sal moet hulp kry!”
Emile loer onderlangs na hom. “Maar het jy nie dalk al een in die oog nie? Dit lyk my jy en ons plaaslike Florence Nightingale kom goed klaar.”
Manie glimlag. “Ja, maar ek is nie haastig nie. Ek het maar pas die boerdery oorgeneem en het nog te veel wat ek moet doen voordat ek aan trou kan dink. Daar is geen haas nie. Ek kuier maar net ’n bietjie. Miempie is ’n interessante meisie.”
“Interessant, sê jy?” Emile se mondhoek trek. “Dalk het jy reg. Haar man sal seker nooit van verveling doodgaan nie. Sy kom met die … e … interessantste dinge op die interessantste tye vorendag.”
Manie glimlag. “Ag, Emile, jy weet sy het nie regtig bedoel wat sy Saterdagaand gesê het nie. Sy was maar net ontsteld.”
“Ja, ek weet. Toe maar. Ons het die sakie al uitgeklaar. Maar sy is nie ’n dametjie wat sonder handskoene gepak moet word nie.”
Manie grinnik geamuseerd. “Jy kan dit weer sê!”
Toe Emile op La Rhône kom, gaan soek hy dadelik sy ma op om haar te sê dat Manie vanaand oorkom en ook daar sal eet.
“Alles reg, seun. O, terloops, Susan het na jou gesoek. Jy moet haar terugbel.”
“Waaroor?” wil hy fronsend weet.
“Nee, hoe sal ek nou weet, Emile? Ek vra nie jou meisies uit nie.”
Hy dink nie dis snaaks nie. “Ma praat altyd asof ek ’n dosyn of twee gelyk op sleeptou het.”
“Het jy nie?”
“Ma!”
“Liewe land, Emile, ek terg jou net ’n bietjie! Jy het darem baie knorrig geword.”
Hy kyk weg. “Ja, maar ek is besig. Ek het nie nou tyd vir Susan se praatjies nie.”
Sy ma kyk hom verlig agterna, dankbaar om te hoor Susan Kruger kwalifiseer blykbaar nie. Al is sy die bankbestuurder se dogter, sy bly ’n dramastudent met ambisie en drome om haar stempel glansryk in toneelkringe af te druk … die mees onvanpaste potensiële aspirant vir die pos van boervrou op La Rhône. Sy stap sing-sing kombuis toe. Die pad is nog oop vir Miempie, die liewe kind.
Dié “liewe kind” is al weer besig met iets waarteen haar gesonde verstand haar dringend waarsku, maar soos sy nou maar aanmekaargeslaan is, reageer sy liewer op haar instink as op haar beterwete. Daardie middag ná werk klim sy in haar motortjie en in haar gedagtes hoor sy baie duidelik hoe sy weer daarvan beskuldig word dat sy haar bemoeisieke neus in ander mense se sake steek. Maar sy hou nietemin koers, hou later voor een van die identiese huisies in die woonbuurt stil. Vra is vry. Sy doen mos niks verkeerds deur net met die ou mense te gesels nie.
Die twee oues is verbaas én bly om haar weer te sien. Miempie het hulle nog op die plaas besoek voordat hulle dorp toe verhuis het, maar hulle onthou haar vriendelikheid en besorgdheid en sy word gul binnegenooi. Haar vlugtige blik vertel haar dat daar by húlle geen verval was weens moeiliker finansiële omstandighede nie. Alles om haar is kraaknet. Ook op hul persoon kan haar kritiese oog geen fout vind nie. Hoewel baie afgetrap, blink die ou man se skoene en is die broek netjies gepars en die hemp wat by die nek begin skif, is kraakwit. Ook sy vrou kan deur ’n ring getrek word, al is haar voorskoot heeltemal uitgebleik.
Vinnig word ’n hand oor ’n houtstoel gevee. “Wil suster nie sit nie?”
“Dankie, ouma Ragel.” Sy gaan sit, kyk in die waterige ou oë. “Dis goed om julle weer te sien. Hoe gaan dit?”
Daar word land en sand gesels, en Miempie hoor dat Manie elke week rantsoene bring – groente en melk en ’n stukkie vleis en soms selfs eiers ook. Daardie Manie Bredenkamp laat haar hart warm klop. As daar maar meer Manies op die ou aarde was …
Versigtig begin sy die gesprek in die rigting stuur waarin sy dit wil hê. “Julle word baie op Baardskeerderspoort gemis, hoor?”
Die ou vrou sug. “Ja. Maar Piet en Sanna is mos daar om dinge reg te hou. Maar hulle is ook al gedaan, nè?”
“Ja. Oupa Piet se hart maak nou dat hy meestal maar lê en ouma Sanna se bene gee ook maar in.”
“Ag, ja, die ouderdom,” sug oupa Jafta.
“Meneer Manie vertel ons so,” knik ouma Ragel. “Maar hy sê hulle gaan op die plaas bly, kan selfs daar begrawe word. Hy wou hoor of ons nie wil terugtrek plaas toe nie. Maar, ai, ons is nou hier, dis tog ’n te groot werklikheid, die trekkery. Ons sien nie weer daarvoor kans nie. Ons sal maar hier bly. Noudat meneer Manie ons so te hulp kom met die ekstratjies, kom ons darem makliker deur. Dis net die medisyne wat so baie geld opvreet elke maand.”
“Maar dis nie nodig dat julle so baie aan medisyne bestee nie, ouma Ragel. Daarvoor het ons die kliniek. En die dokter.”
“Ja, ek weet, suster, maar dis maar moeilik om by dié plekke uit te kom. Ons moet met ’n taxi gaan en dit vreet geld. En dan is die ou liggaamskragte ook nie altyd só dat jy kans sien om tot daar te kom nie. Dié dat ek maar sorg dat daar altyd ’n bietjie winkelmedisyne in my trommeltjie is. Trek maar boegoe en smeer balsemkopiva en gebruik maar witdulsies en borsdruppels en so aan.”
Miempie verstaan. Al die jare dokter hulle maar eers met die Hollandse botteltjies voordat daar dokter toe gegaan word. Sy wonder soms of die geloof in daardie botteltjies nie die eintlike kuur is nie, eerder as die inhoud.
“Wanneer laas het suster vir Martha-hulle gesien?” vra oupa Jafta die vraag waarop Miempie gehoop het.
“Onlangs. Dit gaan goed met hulle. Maar ek sukkel ’n bietjie met Martha.” Sy sien die vinnige opslaan van die oë, die kommer van ’n ouerhart daarin. Haar gemoed vul met deernis. Jou kind bly maar kind vir jou, al is sy al self ’n ma met groot kinders. In die verre verlede het hierdie kind hulle seker ook maar baie kommer gebaar.
“Wat is dit dan met haar, suster?” wil ouma Ragel dadelik weet.
“Die probleem lê blykbaar nie by haar nie, maar by Klaas. Hy wil nie hê sy moet weer die inspuiting neem nie. Hy wil hê sy moet weer verwagtend raak.”
Oupa Jafta skud sy kop. “Ek weet nie wat makeer die man nie. In ons dae was daar nie al hierdie goed wat kon maak dat ons nie so baie kinders het nie. Maar ja, met vandag se duur lewe …”
“Sal oupa nie probeer om met Klaas praat nie?”
“Ek sal hom sê, suster, nes ek hom weer sien. Martha het genoeg kinders in die lewe gebring. Een te veel.”
Sy weet onmiddellik na watter een verwys word, maar Miempie hou haar ongeërg. Hulle is nou by die onderwerp waaroor sy wil praat.
“Ja, ek voel ook sy het haar deel gedoen. Sy was ook maar jonk toe sy vir Maria gekry het, nie waar nie?”
“Maar sewentien, suster. Al ons gepreek het niks gehelp nie. Toe sy in die moeilikheid beland, toe hol sy terug huis toe … soos dit maar altyd gaan,” sug ouma Ragel.
“Hoe bedoel ouma dan nou? Het sy nie op Baardskeederspoort in die moeilikheid beland nie?”
“Nee. Dit was op Grootfontein.”
“By die Vissers? Wat het sy daar gedoen? Daar gewerk?”
“Ja. In die kantoor.”
Miempie is verward. “Watse kantoor?”
“Meneer Visser se kantoor. Hy het so ’n plek gehad daar langs die skuur waar ’n telefoon en al sy papiere en ander plaasbesigheid was.”
Miempie se wenkbroue lig. “En wat het Martha daar gedoen?”
“Sy was ’n soort sekretaresse vir hom, het ek afgelei.”
“O?”
“Ja, sien, sy was ’n slim kind. Sy het graad nege gemaak. Kon lees en skryf en die foon beantwoord. Martha het gesê meneer Visser het nie tyd om die foon te sit en oppas nie. Martha moes al die navrae hanteer, boodskappe neem en sulke goed. As die mense van die stasie laat weet daar het goed vir die plaas aangekom, moes sy ’n lorrie reël om dit te gaan haal. Martha het graag vertel meneer Visser sê altyd hy kan nie sonder haar boer nie. Sy was goed in die kantoor en hy kon al sy aandag aan die boerdery gee.”
“Ek sien. Het sy lank daar gewerk?”
“Nie só lank nie. So ’n jaar, of dalkies bietjie langer.”
“En toe beland sy in die moeilikheid …”
“Ja. Op ’n dag het sy sak en pak met al haar grênd klere by die huis aangekom en ons moes hoor sy werk nie meer by meneer Visser nie.”
“Het hy haar weggejaag?”
“Martha wou niks sê nie. Ons weet nie of sy weggejaag is en of sy self geloop het nie. Ek was jammer daaroor. Martha het goed geld verdien. Maar toe kom sit sy by ons en verseg om iets te doen terwyl sy vir die kind gewag het. Nie eers met al haar pa se belowe kon ons haar dwing nie. Sy het net gesê sy werk nie weer vir ’n wit man nie. En so het sy bly sit tot sy later met Klaas vort is La Rhône toe.”
Miempie besef dat Martha haar woord gestand gedoen het. Vandag nog werk sy nie vir ’n wit man nie. Sy sal na die ander vrouens se kinders kyk sodat húlle kan gaan werk, maar sy self gaan nie verder as haar huis nie. Sy kies haar woorde versigtig: “Maar die kind se pa het darem seker vir haar geld gegee?”
“Nee, glad nie. Tot vandag toe weet ons nie wie Maria se pa is nie. Sy het ’n staatstoelaag gekry totdat Klaas haar gevat het. Toe het dit opgehou.”
Toe sy afskeid neem van die twee ou mense, gee sy vir ouma Ragel ’n nuwe paar skoene en ’n paar sokkies, en ’n nuwe hemp en broek vir oupa Jafta. Dis items waarvoor daar seker nie meer geld in hierdie huisie is nie. Dit word met groot dankbaarheid ontvang.
Haar motor verdwyn om die hoek en ouma Ragel sê heel ernstig: “Ou man, sal dit darem nie gaaf wees as ons meneer Manie met hierdie sustertjie trou nie?”
Oupa Jafta gee ’n amper tandlose glimlag. “Ja, Ragel. Sal dit nie gaaf wees nie!”
Maar meneer Manie is besig om planne te maak wat niks met ’n trouery te doen het nie. Toe die drie mans hulle ná aandete terugtrek in die sitkamer op La Rhône, lê hy voorlopige planne en voorstelle op die tafel.
Oom Giel de Jongh kyk stil na sy seun en sê: “Praat julle twee maar. Ek sal luister.”
Manie val sommer geesdriftig weg. “Die eerste ding wat ek op my agenda geplaas het, is pensioenskemas vir al my werkers. Daar is ’n dringende behoefte daaraan. Dit het maar onlangs onder my aandag gekom.”
“Hoe so?” wil Emile weet.
“Miempie Rust het dit onder my aandag gebring.”
Al weer Miempie … Is daar êrens ’n plek waar sy nie snuffel nie? Tog is daar opregte belangstelling in sy stem toe Emile vra: “Laat ons hoor.”
Manie vertel wat met Ragel en Jafta gebeur het en in watter situasie hulle hulle nou bevind. “Ek voel dis nie reg nie. Daardie mense het hul lewe lank hard gewerk. Om aangewese te wees op staatshulp wanneer jy die dag oud is, is nie regverdig nie. Nie teenoor die staat nie en ook nie teenoor húlle nie. Daardie mense het vir óns gewerk, nie vir die staat nie. En skielik breek die dag aan dat hulle nie meer kan werk nie. Oornag het hulle geen salaris meer nie en ook niks om op terug te val nie. Alle ander sektore sorg vir pensioenfondse vir hul werkers. Trouens, dis so te sê verpligtend dat jy aan ’n pensioenskema moet behoort wanneer jy by watter onderneming ook al inval. Hoekom nie ons plaaswerkers ook nie?”
“Maar gaan hulle te vinde wees dat daar maandeliks of weekliks van hul geld teruggehou word? Hulle ken dit nie.”
“Hulle sal dit aanvaar as dit aan hulle verduidelik word. En soos met elke ander pensioenskema sal die werkgewer ook ’n gedeelte, in ons geval moontlik die grootste gedeelte, moet bydra. Maar ek dink dis ’n moet. Dit sal ook menseverhoudinge bevorder. Wanneer hulle hoor hul werkgewers gee om vir hulle, en as hulle besef wat eendag van hulle gaan word as hulle sonder pensioen sit, dink ek nie ons gaan teenkanting kry nie. Hoe voel oom Giel hieroor?”
“Dit klink vir my na ’n goeie ding, Manie. Maar dis julle jong manne wat hieroor moet besluit.”
Manie gaan voort. “Ek het ’n lys name opgestel van boere wat ek so gou moontlik gaan nader in verband met die stigting van ’n gemeenskapsontwikkelingsvereniging.”
Emile neem die lys en laat sy blik daaroor dwaal, trek sy wenkbroue op. “Wilhelm Visser?”
“Ek het sy naam maar by die lys ingesluit en sal hom nie oorslaan nie, maar ek weet hy sal nie te vinde wees nie. Daar is nog ’n paar name waaraan ek sterk twyfel, en ’n paar grensgevalle. Maar ek gaan almal nader. Het jy aan iets gedink waarmee ons ’n begin kan maak?”
“Ja. Ons dink-doen-verhouding moet verander. Op die oomblik gee die een bevele en die ander moet dit uitvoer. Ek wil dit liewer omskep tot ’n span wat saamdink en saamdoen. Die werkers moet meer insae en seggenskap in die boerdery kry. Meer ruimte sodat elke man tot sy volle potensiaal ontwikkel en benut word.
“Pa, ek wil hê dat ons Vrydagmiddae ’n algemene vergadering hou waar die afgelope week se probleme bespreek kan word en elkeen die reg het om op te staan en voorstelle te doen hoe dit opgelos kan word. Dan moet die volgende week se program bespreek word en weer moet almal die reg hê om daarteen beswaar te maak en sy redes te verskaf, of met produktiewe voorstelle vorendag te kom. Dan kan ons besluite neem. Hierdie Maandagoggende se gesê van jy doen dit, jy doen dat en niemand het ’n tydrooster vir die week sodat hy weet wat om te verwag en waarop hy hom moet voorberei nie, is verkeerd. As hulle Maandagoggend begin werk, moet elke man reeds weet wat van hom verwag word en met sy werk begin.”
Manie knik goedkeurend. “Dit klink sommer bak, Emile. Dit gaan jou verantwoordelikheid en jou toesighouding ook baie verminder. Jy hoef nie heeldag rond te hardloop om te kyk of dit of dat gedoen is nie.”
“Presies. Ek gaan dit nóg makliker maak. Ek het gedink om voormanne aan te stel oor elke afdeling van die boerdery. ’n Voorman wat aan my verantwoordelik is en wat moet toesien dat alles vlot verloop in sy afdeling. Ek maak Stoffel byvoorbeeld voorman by die vee. As ’n bees siek is, moet dit eerste vir hom gesê word. Hy moet sy diagnose aan my kom gee en sê of ons die dier hier kan behandel en of die veearts moet kom. Klaas kan ek voorman maak oor die masjinerie en werktuie, want hy is meganies aangelê. As ’n trekker breek, moet hulle dit vir hom gaan sê, hy moet ondersoek instel en wanneer hy by my kom, moet hy my kan sê hoekom die trekker gebreek het, wat stukkend is en of ons dit hier kan herstel of eerder garage toe moet vat. As ons die mense meer verantwoordelikheid gee, meer onafhanklikheid in hul werk, sal hulle ’n werktrots ontwikkel wat net vir almal tot voordeel kan wees. Ook vir die boerdery self. Kom ons gee ons mense meer ruimte.” Hy betrap sy pa se peinsende blik op hom. “Wat dink Pa?”
Die ouer man antwoord versigtig. “Dit klink baie … interessant. Of dit in die praktyk gaan werk, sal net die tyd leer.”
“Maar het ek Pa se toestemming om dit uit te toets?”
Giel de Jongh staan op. “Jy het geen toestemming van my nodig nie, my seun. Dis jou boerdery.”
“Maar, Pa …”
“Nee, ek het van vanaand af geen seggenskap meer nie. Ons twee sal later verder oor die saak gesels en tot ’n vergelyk kom. Maar wat die boerdery betref, moet jy maak soos jy goeddink.”
Emile staan stadig op, kyk sy pa vierkant in die oë. “Bedoel Pa dit?”
Sy pa glimlag. “Natuurlik bedoel ek dit. Ek sal van die kantlyn af dophou om te sien of alles uitwerk en of jy droogmaak. Jou ma wil al lankal by die see gaan aftree. Ek dink dis nou tyd. Nag, Manie.”
“Maar Pa kan nie nou al gaan slaap nie! Daar is nog baie ander goed wat bespreek moet word. Ek het byvoorbeeld daaraan gedink dat ons moet wegdoen met die bonus aan die einde van die jaar en hulle liewer ’n persentasie van die wins moet gee. Hoe groter die wins, hoe groter is hul aandeel. Dit sal entoesiasme en verantwoordelikheidsin kweek en ook doelgerigtheid in hul werk bring. Want dan werk hulle nie net vir die baas nie. Hulle werk vir hul eie sak ook.”
“Maggies, Emile, maar ek hou hiervan. Ek dink dis ’n puik idee! En die een gaan die ander dophou en as een laat slaplê, gaan hy daarvan hoor.”
“Presies.”
“Kom ons bespreek hierdie ding in meer detail,” laat Manie opgewonde hoor.
Oom Giel kyk hulle glimlaggend vanuit die deur aan, stap dan kombuis toe.
“Waar draai jy so lank?” wil hy gemoedelik by sy vrou weet.
“Ek sit net die teegoedjies reg vir later vanaand. Waaroor gesels julle so opgewonde daar binne?”
“Ag, oor dit en dat, die boerdery. Los maar die teegoed. Daardie twee sal nie vanaand aan tee dink nie en ek en jy kan maar gaan slaap.”
“Dis mos nog vroeg, ou man.”
Hy glimlag, sit sy arm om haar skouers. “Maar ek weet ek sal dadelik aan die slaap raak en soos ’n klip slaap.”
Sy vrou kyk hom vraend aan.
“Vir die eerste keer is ek daarvan oortuig ek kan La Rhône maar met ’n geruste hart aan Emile oordra. ’n Man wat soos daardie seun van ons kan dink, sal ook dink as hy die dag vrou vat.” Hy kyk teen haar stralende gesig vas. “En jy, my lief, kan maar môre begin om jou seeklere reg te kry.”
“My seeklere? Gaan ons met vakansie?”
“Ons gaan vir ons ’n aftreehuis by die see soek. Dis tyd dat ek en jy uitspan en die nuwe geslag kans gee om hulle slag te wys. Hulle dink anders as ons; doen anders as ons. Ek wou amper vanaand jaloers raak toe ek so na die twee jonges sit en luister. Ai, om weer jonk te wees en die lewe met al sy uitdagings lê voor jou, nie agter jou nie. Maar ek het vertroue in hulle, Laura. Hulle sal die wa deur die drif kry, want hulle het die moed om die uitdagings tegemoet te loop, en die begrip om die probleme te verstaan, en die visie om te weet wat reg en geregtigheid is. Kom ons gaan slaap, my vrou.”
Maar terwyl oom Giel soos ’n pasgebore baba lê en slaap, rol Miempie Rust tot laatnag rond. Sy het haar arme verstand al amper aan die brand gedink, maar kry die geheim nie ontrafel nie. Al wat sy kan dink, is dat dit ’n lorriebestuurder kon gewees het wat die jonge Martha verlei het. Sy weet daar is boere wat hul eie goed vervoer, maar veral in spitstye word daar dikwels gebruik gemaak van vervoerkontrakteurs om produkte na en van die plase te vervoer. As Martha dan wel die sogenaamde sekretaresse was, en ook die vervoer na en van die dorp en voorraadmagasyne moes reël, sou sy beslis met die bestuurders van die lorries in aanraking gewees het. Het die glips dáár gekom … of slaan sy die bal heeltemal mis? Nie eens Martha se ouers weet wie Maria se pa is nie. Dis net Martha wat kan sê … en Martha swyg tot vandag toe nog. Lorriebestuurder of nie, maar sy is ná vandag nog meer daarvan oortuig dat die man wat Martha byna twintig jaar gelede swanger gemaak het, wit was. Al sou sy wonder bo wonder tog vasstel wie hierdie man is, begin sy al hoe meer twyfel of die arme Maria daarby sal kan baat.