Читать книгу Biegbrief en ander verhale - Esta Steyn - Страница 4
Ant Liefie se spook
ОглавлениеDie sonlig skyn helder by die groot kamervenster in, maar vir ant Liefie voel dit asof daar ’n swart gordyn voor haar hang. Dis soos donker newels. Sy werk noukeurig die laaste paar stukkies wol aan die lappop se kop vas. Gewoonlik is die werk aan die poppe net ’n plesier. Maar nou is sy nie eens lus om te werk nie. Sy is altyd die een wat almal opbeur, nooit kla nie, altyd net blymoedig vorentoe kyk. Wat gaan nou van haar word? Die onsekerheid knaag aan haar. Die ding van die kamer spook in haar kop.
Die naarste van alles is dat sy van g’n sout of water sou wis as dit nie vir Susannatjie was wat haar laas week kom waarsku het nie. Susannatjie is een van die skoonmakers hier in Huis Viljoenshof. Susannatjie het haar kop by die kamer ingesteek. “Ouma Liefie?” Toe maak sy die deur plegtig agter haar toe. Ant Liefie kon sommer die moeilikheid in Susannatjie se twee oë, wat hemelwaarts gestaar het, sien.
“Ek is nou so afgesit, ouma Liefie. Ek dog ek moet vir Ouma kom sê dat Ouma eerder self weet hoe die saak staan.”
Toe vertel Susannatjie haar dat Mildred van der Merwe agter haar kamer aan is.
“Hierdie kamer? Hoekom?” wou sy verbaas wees. “Mildred het mos haar eie kamer op die boonste vloer.”
“Ja, ouma Liefie, maar die saak staan so: Mildred se vriendin, Dolores Fourie, het ook aansoek gedoen om ’n plek en hulle twee wil nou kwansuis saam in een kamer wees. Nie enige kamer nie, Ouma. Hierdie kamer. Dis nou die ding. Hulle soek ’n dubbele kamer met die groot vensters wat noord kyk. Hulle is klaar besig om met Matrone te praat.”
’n Lig het vir ant Liefie opgegaan. “Dis hoekom ou Mildred deesdae so oorloop van vriendelikheid?”
“Dis nooit anders nie, Ouma. En dis hoekom sy en Dolores laas Dinsdag wat Ouma skuinsgelê het, hier in die gange gedwaal het. En wat ek weer sien, toe maak hulle Ouma se deur oop en hulle loer in die kamer rond soos twee spioene wat die plek bespied.”
“Was hulle hier in my kamer, Susannatjie?”
“Ek sweer met my hand op my hart, ouma Liefie. En die een sê toe nog watse gordyne hulle gaan ophang en waar hulle die ekstra bed gaan inskuif. Dis toe wat ek inkom en vir hulle sê dis nie nou kuiertyd nie, ouma Liefie slaap. Toe loop hulle maar, hand om die nek, soos twee verliefdes. En dit giggel en dit gesels. Rosie in die kombuis kan dit beaam, Ouma. Rosie sê sy het gehoor die twee ken mekaar al van kindertuin af op Baanbrekersfontein.”
“Ek weet nie wat om te dink nie, Susannatjie. Toe ek aansoek gedoen het, het ek uitdruklik vir Matrone gesê ek moet ’n dubbelkamer hê vir my werkstafel en my naaimasjien.”
“Ek weet ook nie wat om te dink nie, Ouma.”
“Ek het twee jaar gewag om die kamer te kry.”
“Ja, ek weet. Ouma het nog daai tyd gewag vir miss Petronella van Niekerk om afgesterwe te kom.”
“Ek onthou, ja,” het ant Liefie diep gesug. “Dankie dat jy kom sê het, Susannatjie.”
Dat dié twee oujongnooiens darem sulke rugstekers is. Hulle sal seker nie skroom om nog geld ook onder die tafel deur te stoot om die kamer te kry nie. Albei skatryk. Vir wat kry hulle nie vir hulle ’n ander plek nie? Daar is juis so ’n groot nuwe oord wat onder by die dam gebou word. Luuks, sê die mense. Net vir die elite wat geld het. Dis nou net van suinigheid dat hulle hier in Viljoenshof wil wees. Dié plek is vir pensioentrekkers, nie vir grand ou ladies soos hulle wat elke dag net wil aantrek nie.
Ant Liefie is nie een wat maklik huil nie. Nou voel sy hoe trane oor haar wange loop. Hierdie kamer is haar hawe. Dis die enigste hoekkamer op die grondvlak wat twee groot vensters het. Sy kyk na die lang tafel met al haar poppe. Baie poppe, wat deur haar eie twee hande gemaak is. Elkeen verskillend. Elkeen met sy eie ou storietjie. Dis hier by dié tafel waar sy haar dae deurbring. Die groot vensters gee genoeg lig sodat sy al die fynste afronding aan die poppe kan doen. Partykeer word haar rug moeg van so sit, maar dan weet sy weer dat sy moet aanhou, want iewers in ’n kinderhuis is ’n ou kleintjie wat haar lappop sal vashou en troos sal kry uit die sagte lyfie. Ja, die poppe is deel van haar lewe. Dis haar manier om ietsie van haarself te gee. Partykeer kom help Susannatjie haar om die lyfies te stop. Dis ’n groot werk. En so met die werkery het sy en Susannatjie al bondgenote geword. Dis net ’n genade dat Susannatjie haar kom waarsku het. Nou weet sy ten minste wat om te wagte te wees. Sy sal hier moet uittrek na een van die klein kamertjies. Net die gedagte daaraan maak die swart gordyn voor haar al hoe digter. Dis nou al dae lank dat sy nie eers behoorlik kan eet nie. Sy wurg maar net iets in om die bloeddrukpil gedrink te kry. Hoe gaan sy haar poppe opgeruim kry? Al die klomp oorskietlappies, die boksies met die glasogies, die flessies vol knope, die sakke vol wol. Dis ’n hele kas vol goed.
Sy vryf haar gladde grys hare agtertoe en dan sit sy weer roerloos, die helder blou oë wat so ondeund kan lag, starend. Daar is nog vyf poppe wat moet klaarkom, voordat sy die besending vir Klein Faan moet gee om afgelewer te word, maar sy is te beswaard om verder te werk. Sy staan op en haal oorle’ Abraham se portret van die rak af. Sy kyk diep in sy bruin oë. Hy het altyd die snaaksste sêgoed gehad: As jy die vyand wil wen, moet jy hom leer ken.
Sy haal die wit teekoppie met die pienk rosies uit die kassie en skakel die ketel aan. Die ketel het deesdae die manier om halfpad op te hou kook en dan ná ’n rukkie weer aan te gaan. Sy sal vir Klein Faan moet vra om daarna te kom kyk. Want dis nie net die ketel nie, dis ook die bedlampie wat tydig en ontydig flikker.
Sy staan meteens doodstil. Sy is nie een vir die bonatuurlike dinge nie, want dis uit die bose. Maar sê nou dis Abraham wat iets vir haar wil sê? Geeste het mos die manier om deur krag en ligte te werk.
“Wat is dit, Abraham?” fluister sy dringend.
Daar’s net ’n doodse stilte uit die portret. Maar ant Liefie bly so staan. Sy roer nie. Sy dink. En sy voel hoedat die swart gordyn effentjies oplig.
As jy die vyand wil wen, moet jy hom leer ken.
Baanbrekersfontein? Dis wat Susannatjie gesê het. En dis mos waar haar ou neef, Michiel du Preez, destyds die posmeester was. Daar moet darem seker een of ander geraamte wees wat uit ou Mildred of ou Dolores se kaste kan tuimel.
Dis ’n gesukkel om by Michiel uit te kom. Hy’s lank nie meer op Baanbrekersfontein nie. Hy sit op Hermanus in ’n aftreeoord en hy is so bly om van haar te hoor dat hy glad nie wil ophou praat nie. Dit raak later ’n kwartier en Michiel praat net oor al sy ellendes. Hy begin met sy knievervanging en hy gaan breedvoerig met haar deur al die dokters en die ondersoeke, tot by die uitgroeisels op die dikderm. Toe hy klaar is met die derm, vat hy haar verder tot by die prostaat.
Uiteindelik vra sy: “Michiel, onthou jy nog vir Mildred van der Merwe?” Toe Michiel met allerhande stories van Baanbrekersfontein vorendag kom, weet sy skielik voor haar siel wat om te doen. Teen die tyd dat sy die foon neersit, is haar kop vol vreeslike planne. En sy sal moet gou speel, want sy weet nie hoeveel tyd sy het voordat Mildred en Dolores toeslaan nie. Dis haar kamer hierdie en dis nou ’n kwessie van oorlewing. Susannatjie sal haar moet help. Dis nou of nooit.
Susannatjie slaan haar oë hemelwaarts. “Heiden help, ouma Liefie, ek weet darem nie. Maar as Ouma dink dit sal werk, dan is ek in.”
“Dankie, Susannatjie. Ons sal maar net moet oefen en beplan.”
“Soos ’n full dress rehearsal, Ouma?”
“Net so. Jy moet binne twee minute deur die badkamervenster kan klim.”
“Die venstertjie is klein, ouma Liefie.”
“Jy’s mos ook klein. As jou kop kan deur, dan kan jou lyf ook deur.”
“Ek sal try, ouma Liefie.”
“En niemand moet jou sien nie. En jy sê vir niemand nie. Ook nie vir Rosie nie. Verstaan jy?”
Susannatjie druk haar wit kopdoek reg. “My lippe is gelym, ant Liefie.”
En dit beter so bly, dink ant Liefie. Want die plan in haar kop is ’n onheilige affêre. Maar onheilig of nie, sy sal moet deurdruk. Dis al manier.
Sy kyk bekommerd na Susannatjie. “En onthou, as jy by die badkamervenster uitklim, dan hardloop jy agter om die gebou. Agter om, Susannatjie. Jy sorg dat niemand jou sien nie en jy kom terug deur die sydeur. Twee minute, Susannatjie. En dan stoot jy die kamerdeur van buite af oop en jy trek hom kliphard toe. Hy moet klap. Dit moet ’n slag wees.
Verstaan jy?”
“Heiden help, ouma Liefie.”
Hulle oefen. Later glip Susannatjie soos ’n vetgesmeerde paling deur die klein venstertjie van ant Liefie se badkamer, terwyl sy die tyd hou.
“En onthou die botteltjie.”
“Ja, Ouma. Die botteltjie.”
Drie dae later is hulle gereed. Reeds die vorige dag het ant Liefie vir Mildred in die eetsaal voorgekeer. “Jy en Dolores kan gerus ’n bietjie tee by my in die kamer kom drink. Dan wys ek vir Dolores die poppe. Julle is hartlik welkom.”
“Ag, maar dis te dierbaar, ant Liefie! Dolores kom juis môremidddag oor na my toe.”
Ant Liefie is die ene onskuld: “Ek hoor sy het ook hier aansoek gedoen om ’n plek?”
Mildred knip haar oë ’n paar maal. “Ag, jy weet, ons wil graag saam in ’n kamer wees. Ons twee kom mos ’n lang pad saam.”
“Môremiddag drie-uur?”
“Wonderlik! Ek sal vir Dolores sê.”
Ant Liefie sit drie teekoppies uit. Die wittes met die pienk rosies. Sy pak Romany Creams in die koek-bordjie en haal pienk servetjies uit. Sy maak die ketel tot oorlopens toe vol. Hoe voller die ketel, hoe meer slaan hy af. Dis goed so. Sy gaan badkamer toe en maak vir die hoeveelste keer seker dat die venster se knip af is. Sy trek die badkamerdeur toe en kom terug in die kamer. Sy skakel die bedlampie aan. Dit flikker. Sy skakel dit weer af. Dan soek sy deur die klomp poppe op die werkstafel na ’n geskikte een. Ja, dié een met die oranje rokkie lyk reg. “Nou toe, Petronella,” fluister sy, “dis tyd vir die poppe om te dans!”
’n Minuut oor drie is daar ’n kloppie aan die kamerdeur. En daar staan hulle albei met gedoende hare. Mildred in ’n pienk rok met krale daarby en Dolores in babablou met ’n borsspeld op die kraag.
Ant Liefie ontvang hulle baie gasvry. “Kom in! Kom in!” nooi sy gesellig.
Mildred en Dolores kom in en kyk nuuskierig rond.
Ja, kyk maar, dink ant Liefie. Kyk maar. Julle wil mos nou kyk.
“Kom sit julle tweetjies sommer hier,” beduie sy na die riempiesbankie. “Dis wat my oorle’ Abraham nog self gemaak het. Hy’t mos sulke wonderlike dinge met sy hande gedoen.”
Mildred en Dolores gaan sit styf teen mekaar. Die vingers is vol ringe. En die naels is rooi.
“Dis darem ’n heerlik ruim kamer, ant Liefie,” laat Dolores hoor en druk haar geel gebleikte krulle reg.
“Ja,” beaam ant Liefie, “ek spandeer al my tyd hier. Die poppe, jy weet. Mens sit baie ure in, want daar is so baie detail. Vat nou dié een byvoorbeeld. Dis Petronella. Presies soos wat sy gelyk het. Met die blou ogies, die kort swart haartjies, en die oranje rokkie. Sy was mos altyd een vir helder kleure …” Sy hoop tog nie een van hulle het die vrou ooit geken nie, want sy self het ook nie die vaagste benul hoe miss Petronella van Niekerk gelyk het nie.
“Petronella?” wil Mildred weet.
“Ja, dis sy wat voorheen in die kamer was, die dierbare mens. Altyd so baie oorgehad vir ander. Ek moes twee jaar vir die kamer wag, voordat sy toe so tragies heen is. Maar nou ja … dis nie asof Petronella weg is nie. Sy’s maar nog altyd hier.” Ant Liefie sit die pop neer. Die blou glasogies staar na haar. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Mildred en Dolores vir mekaar kyk.
“Was … sy in h-hierdie kamer?” vra Mildred.
“Ja, baie lank. En toe het sy mos in die stort geval daardie aand … Om hulp geroep, maar niemand het haar gehoor nie. Verskriklik tragies. Haar lê en doodbloei. Met die stort se kraan wat die hele tyd loop en loop … en al die bloed wegspoel …”
Kom nou, Susannatjie, waar is jy?
Mildred en Dolores skuif ongemaklik rond. Ant Liefie maak asof sy dit nie sien nie. “Nou wat drink julle? Rooibos of gewone Engelse tee?”
“Rooibos,” sê Dolores met ’n hees stem.
Susannatjie! Toe, toe, toe …
En toe begin die stortkraan in die badkamer hoorbaar loop. Dit hou nie op loop nie.
“D-daar loop water …” Mildred kyk agterdogtig na die toe badkamerdeur.
“Ag, nee wat, dis niks,” sê ant Liefie, “dis sommer maar net Petronella. Sy’t seker gehoor ons praat van haar. Dis maar net haar manier om vir ons te laat weet sy is hier.”
“Hier?” Mildred haal ’n wit sakdoek uit haar sakkie en vee oor haar voorkop.
“Ja,” sê ant Liefie, “op die plek waar sy heen is, daarheen keer sy altyd terug.”
Die stortkraan hou op loop.
Dankie, Susannatjie!
“D-die kraan het ophou loop …” sê Mildred met groot oë.
“Ja, sy stort nooit te lank nie. Dis nou darem nie asof sy Viljoenshof se water mors nie. Die probleem is net dat sy partymaal ’n paar druppeltjies bloed agterlos.”
Mildred vee weer oor haar voorkop. “B-bloed?”
Ant Liefie klink rustig: “Net ’n paar druppeltjies partykeer. Darem nou nie te erg nie. En wat vreemd is, as sy gewoonlik klaar gestort het, dan kom sy in vir tee.”
Dolores se wange is wit. “Hoe bedoel jy … sy kom in?”
“Sy kom by die kamer in … seker maar net om te wys sy’s nie weg nie. En dan kan jy maar enige lig aansit, dit flikker. Dis die seker teken dat sy hier is.”
“Wat doen sy? W-wat maak sy?”
Ant Liefie klink onheilspellend: “Sy praat deur haar pop … en dan lê sy baie dinge uit. Baie dinge …”
“Soos wat?” vra Dolores en klou aan Mildred se arm vas.
“Dinge uit die verlede. Toe sy hoor julle kom vir tee, het sy baie van julle tyd saam op Baanbrekersfontein gepraat. Baie dinge …”
Mildred se nek is snaarstyf: “Watse dinge?”
Ant Liefie skakel die ketel aan. “Ag wat, ons hoef nie daaroor uit te wei nie. Ons het mos maar almal ons geraamtes in die kas.”
Waar’s jy, Susannatjie?
Die ketel hou op kook. “Ag, nee! En as Petronella eers die dag in die krag is, werk absoluut niks.” Die ketel begin weer kook. En slaan weer af.
Mildred sit styf teenaan Dolores. “Is sy nou in die ketel?”
“Nee, nog nie,” sê ant Liefie bedaard. “Sy gee maar net ’n teken dat sy op pad is. Wag, laat ek net seker maak.” Sy skakel die bedlampie aan. Dit flikker. “ Ja-nee, sy sal seker enige oomblik hier wees.” Sy skakel die bedlampie af.
Waar’s jy, Susannatjie?
Die kamerdeur gaan oop. En dan klap dit weer toe met ’n harde slag. Mildred kry ’n onaaardse geluid uit. Sy spring op saam met Dolores. Hulle klou beangs aan mekaar vas.
Ant Liefie maak asof sy glad nie hulle ontsteltenis raaksien nie. “Sy’s hier. Kom in, Petronella. Jy ken mos vir Mildred en vir Dolores.” Sy kyk na die twee wat doodsbleek staar. “Julle kan haar maar groet.”
“M-middag,” prewel Mildred en weet nie vir wie om te kyk nie.
Dolores kry nie ’n woord uit nie. Dit lyk asof haar vals tande skeef in haar mond hang.
“So lekker dat jy gekom het, Petronella! Wag, ek haal jou blou koppietjie uit.” Sy kyk na Mildred en Dolores. “Petronella verkies altyd die blou koppie, snaaks genoeg, anders kook die ketel glad nie.”
“Ek voel nie so lekker … nie,” sê Mildred ná ’n stilte.
Ant Liefie gee haar koppie tee vir haar aan, maar sy bewe so dat die tee in die piering stort.
“Kry vir jou ’n koekie. Ek wou nog iets by die tuisnywerheid bestel het, maar ek was so besig met die poppe. Nou is dit sommer winkelkoekies.” Gmf, dink sy, asof ek nou koek vir julle sou bestel het.
“Nee … dankie,” sê Mildred en vat ’n slukkie tee. “Ek voel nie so … lekker nie.”
“Kry vir jou, Petronella,” sê ant Liefie en hou die bordjie in die lug. “En ek gooi sommer vir jou suiker in.” Sy gooi twee lepeltjies suiker in die blou koppie. Mildred en Dolores staar ontsenu na haar.
Ant Liefie drink rustig haar tee.
Kom nou, Susannatjie!
Sy draai na Dolores toe. “Ek hoor jy het aansoek gedoen om ’n kamer? Ek hoor ’n hele paar mense het aansoek gedoen om die nuwe plek onder by die dam. Dis glo fantasties. Volle sekuriteit, siekeboeg, alles splinternuut. En die kos is vyfster. Hulle sê mens moet maar spring om plek te kry. Dis te sê as mens geld het. Dis nou nie beskore vir ’n ou kerkmuis soos ek nie.”
Die deur kraak oop en klap dan kliphard toe.
Mooi so, Susannatjie!
Dolores se hele koppie tee stort uit in haar piering en dit drup op haar babablou rok. Mildred staar na die deur met ’n stywe nek en glaserige oë. Sy’s lakenbleek.
“Tot siens, Petronella,” praat ant Liefie, “sien weer!”
“Is … sy … nou weg?” fluister Dolores.
“Ja, sy is weg,” sê ant Liefie en vat nog ’n koekie. “Het sowaar nie eers haar tee klaar gedrink nie.”
“W-wat is dit wat sy alles gesê het van Breekwatersfontein?”
“Ag,” sug ant Liefie, “sommer net dat daar sulke ou storietjies was, mense het glo gepraat, jy weet. Die bankbestuurder daar het glo met diamante gespeel … en die prokureur was glo hand om die blaas met hom. Hulle is glo met blink karre uit die dorp uit weg. Miskien het julle die mense geken?”
Dolores se neusvleuels bewe. “Ek … weet nie veel nie,” sê sy hees.
“Ek ook nie,” sê Mildred.
Skynheilig! dink ant Liefie. Julle weet goed dat dit julle pa’s was wat so gekonkel het.
Dolores lyk baie ongemaklik. “Ek wil net gou ’n draaitjie loop.” Sy staan op en stryk haar rok met haar bewende hande reg. Sy kyk vir ant Liefie onseker aan: “Sê nou daar’s bloed?”
“In die stort? Wag, ek kry net ’n lappie. Dit sal net ’n paar ou druppeltjies wees. Kom maar.”
Mildred en Dolores volg haar. Sy maak die badkamerdeur oop.
Dankie, Susannatjie!
Daar in die stort op die teëls lê ’n paar rooi druppels. Maar in haar haas moes Susannatjie seker die botteltjie rooi voedselkleursel se doppie nie behoorlik opgedraai het nie. Dit het oor die vensterbank, waar sy so haastig moes uitklim, geloop en dit drup nou in ’n rooi straaltjie teen die muur af.
Dolores gee ’n onaardse gil. Mildred is so ontsenu dat sy uitstorm. “Kom, Dolores! Jy kan in my kamer kom pie. Kom! Kom nou net!”
Hulle is uit. Hulle is weg. En ant Liefie weet dat hulle nie gou weer sal terugkom nie. Sy blaas ’n diep sug van verligting uit. Haar blou oë glimlag ondeund.
Sy gaan badkamer toe, neem ’n lap en begin die rooi strepe afvee. Sy kom terug kamer toe en kyk lank na Abraham se portret.
“Dankie, Abraham,” sê sy sag. Het sy haar verbeel of het hy vir haar geknipoog?
Ant Liefie draai om na haar werkstafel toe. Nou kan sy tog in vrede die laaste vyf poppe klaarmaak. Want die swart gordyn het gelig en sy voel weer haarself.
Daar is ’n kloppie aan die deur. “Ouma Liefie?” Dis Susannatjie wat behoedsaam inkom. “Hoe het dit hier gegaan, Ouma?”
“Dit het seepglad afgeloop. Ons tydsberekening was perfek.” Ant Liefie haal die R100-noot, wat sy vir Susannatjie belowe het, uit haar handsak.
Susannatjie bly doodstil staan met die geld in haar hand. Ant Liefie kyk haar fronsend aan. “En nou, Susannatjie?”
“Ek sal vir Rosie ’n vyftig randjie moet gee, Ouma. Want dinge het skeefgeloop.”
“Watse dinge? Wat weet Rosie?”
“My skoen het in die badkamervenster vasgehaak, toe val ek. Toe sien Rosie vir my en sy slaan my oor die kop, want sy dog ek breek in. Ek moes haar vertel, Ouma. Sy’t met die polieste gedreig.”
“Nee, hou jou geld,” keer ant Liefie en haal nog ’n noot uit. “Jy gee dit vir Rosie. En jy sorg dat sy haar mond hou.”
“Ja, Ouma. Maar nou is daar nog ’n ding. Rosie sê toe mos vir my dat Mildred en Dolores nie in hierdie kamer belangstel nie. Dis die een reg bo, ook in die hoek, wat net soos hierdie een lyk, op die tweede vloer. Die een met die view.”
“Nou vir wat het hulle dan my kamer kom bespied?”
“Die painters werk op die tweede vloer, Ouma. Hulle kon nie daar inkom nie. Hulle wou net hier kom kyk om die size te check. Hulle trek volgende week bo in nes die painters die plafon klaar het.”
Ant Liefie staar skuldig voor haar uit. Dit vat ’n paar oomblikke voordat sy die volle implikasie van Susannatjie se openbaring begryp. “Mildred kon vandag ’n hartaanval gekry het,” prewel sy ná ’n rukkie.
“En daar’s nog iets, Ouma. Rosie sê vir my dat …”
“Wat sê sy?”
Susannatjie slaan haar oë hemelwaarts en skuif haar wit kopdoek reg. “Sy sê dat die einste miss Petronella van Niekerk baie aande hier in die gang afdwaal.”
Ant Liefie vererg haar. “Dis sommer bog! Sê vir Rosie ons spook was nie ’n regte spook nie.”
Susannatjie kyk haar onseker aan. “Ja, Ouma. Sy was nie ’n regte spook nie.”
Susannatjie gaan uit. Ant Liefie kyk haar ontnugter agterna. Om te dink dat die arme Mildred en ou Dolores … Sy’t nou ’n sterk koppie tee nodig.
Sy skakel die ketel aan en begin die leë teekoppies bymekaarsit in die wasbakkie. Sy staar na die blou teekoppie. Dis leeg. Sy kan nie onthou dat sy Petronella se vol koppie tee uitgegooi het nie. Sy het tog nie? Of miskien het sy?
Sy gooi melk by haar koppie tee en gaan sit voor die werkstafel. Iets pla haar. Waar is die Petronella-pop? Dit moet tog net hier wees. Hier waar sy dit nog vir Mildred en Dolores gewys het. Net hier. Maar sy sien dit nie.
Sy draai om op haar stoel. Dit voel asof iemand vir haar kyk. Haar oë dwaal deur die kamer en raak vasgenael op die flikkerende bedlampie. Dit voel vir haar asof ’n koel luggie deur die kamer trek. Bo-op die lampie, met sagte beentjies wat afhang, sit die Petronella-pop vir haar en loer met glasogies.