Читать книгу Biegbrief en ander verhale - Esta Steyn - Страница 5
Biegbrief
ОглавлениеAnnalise sit lank en staar na die blou skryfblok. Sy het die brief haarfyn in haar kop beplan, maar nou weet sy nie waar om te begin nie. Sy staan op en kyk rond in die vertrek. Ná vyf maande in die klein woonstelletjie voel sy nog steeds vreemd. Dis nie haar plek nie. Dis nie haar goed nie. En selfs al het Gloria gesê sy kan bly so lank as wat sy wil, voel sy tog skuldig om verniet te bly. Skuldig, skuldig. Dis haar eie skuld dat sy hier beland het. Sy wil huis toe gaan. Sy wil weer op die ou uitgeholde bank met die blou kussings sit. Sy wil daar wees by haar eie goed, by die bont gordyne met die voerings wat plek-plek geskeur het. By Petrus. Maar om daar uit te kom, moet sy eers die berg van die brief opklim. Dis ’n verskriklike berg. Sy weet nie waar om te begin nie.
Liefste Petrus …
Nee, dink sy, dit klink nie reg nie.
Liewe Petrus …
Nee, ook nie reg nie.
Beste Petrus,
Daar is ’n paar dinge wat ek in my hart voel wat ek vir jou moet sê. Dis nie maklik nie, maar ek besef al hoe meer dat dit dinge is wat my van binne af opvreet en daarom wil ek dit uit my gestel kry. In die afgelope maande het ek al hoe meer besef dat baie dinge my skuld was. Die hele ding oor Josephine pla my al hoe meer.
Daar is sekere dinge wat soos bakens op mens se pad uitstaan. Om een of ander rede onthou jy die detail asof met die voorwete dat dit ’n lewensbepalende moment sou word. So was dit toe sy Josephine vir die eerste maal ontmoet het. Mens kon die vrou wat op spykerhakke by die biblioteek ingestap het, glad nie miskyk nie. Sy was besig om nuwe boeke te bêre en het na die vreemde vrou gestaar. Daar was ’n oordadigheid aan haar: te veel maskara, te veel lyf, te veel juwele, te veel van alles. Die blonde hare was ’n asemrowende gepluisde pluim van krulle wat tot op die skouers hang. Die goed bedeelde lyf was in ’n kort rokkie gegiet.
“Wie’s dit, ant Millie?” het sy gevra toe die vrou uit is. Millie Basson sou weet. Ná soveel jare by die biblioteek het sy al die dorp se stories geken en ook geweet wat almal lees.
“Ek dog jy weet.” Ant Millie het haar stip aangekyk en haar beplooide wange ingesuig, soos wat haar gewoonte was voordat ’n groot storie uitbreek, en toe agter haar hand gefluister: “Van Kuilsrivier af, weduwee met twee opgeskote seuntjies. Josephine Tredoux. Sy’s familie van Dirk Mouton en hy’t haar aangestel vir die boeke by die garage. Katie van die Hardware Store sê sy’t ingetrek by daai woonstel bo-op die bank se gebou. En Katie sê die een kind is by juffrou Mynie in die klas en die ander een by Smittie, glo vreeslik stil en op hulle plek.”
“Die boeke by die garage?” was al wat Annalise kon uitkry.
Ant Millie sê onheilspellend: “Dis wat ek nie kan verstaan dat Petrus jou nie gesê het nie.”
Petrus is werktuigkundige by die garage. Hy moet tog van die nuwe vrou geweet het. Almal wat haar gesien het, sou geweet het van haar. Hoekom het Petrus haar niks gesê nie?
Ant Millie het al harder agter haar hand gepraat. “Doep van Vuuren by die bank sê sy lyk vir hom op ’n druppel na Dolly Parton. Hy sê daar’s elke keer ’n beroering onder die manne wanneer sy daar instap.”
“Wat het sy toe uitgeneem? Het sy iets gekry?”
“Ja, nogal die Complete Illustrated Encyclopedia of Classic Cars.”
“O?”
Sy kon amper nie wag tot Petrus die aand by die huis kom nie. “Ek hoor Dirk het toe iemand vir die boeke gekry?”
“O … ja, Josey. Ja, sy’t laas week daar begin.”
So, Josephine was sommer nou Josey.
“En hoe is sy? Is Dirk tevrede?”
“Ja, hene, Josey run die hele show daar. Die girl ken haar spare parts. Dirk is maar te bly om haar te hê.”
“Is sy jonk? Hoe oud is sy?”
“Nee, ek weet nie. Sy’t nie eintlik ’n ouderdom nie. Sy’s net all over the show. Sy check wragtag self die karre se enjins voor hulle uitgaan. Soos in alles. En sy check die pompe ook self. Dirk dink hy’t ’n goudmyn gestrike.”
Annalise het haar dom gehou: “Is sy getroud?”
“Haar man is laas jaar dood. Philip Tredoux, die renjaer. Dit was daai storie in die koerant van die wedrenne in die Baai toe die ou in ’n fratsongeluk op die baan doodgery is. Kan jy onthou? Hy was nogal baie bekend. Het sy eie karre opgebou en Josey het hom gehelp. Shame, ek is so jammer vir die twee laaities. Josey sê hulle was mal oor hulle pa.”
Annalise het hom aangestaar. Hoekom weet Petrus so baie en hoekom het hy niks gesê nie? “Hoe oud is hulle?”
“Klein Flip is in standerd vyf en Barnie standerd drie. Albei sulke blondekoppies.”
Dan het hy die kinders ook al ontmoet. Daar was ’n beklemming in haar keel.
“Waar bly hulle?”
“Dirk het vir haar daai woonstel bo-op die bank gekry. Dis nogal groot, baie netjies.”
“Was jy daar?”
Hy het net té onskuldig geklink, net té heftig gereageer: “Nee, nee. Ek en Pietie het net gaan help toe die yskas afgelaai is.”
Annalise se onsekerheid het minuut vir minuut groter geword. Hoekom het Petrus alles vir haar weggesteek? Sou hy ooit iets gesê het as sy nie gevra het nie? En nou dat hy wel aan die praat is, kan hy glad nie ophou nie. Hy borrel van alle kante af oor. “Maar sy wag vir oom Tokkie Cilliers se huis daar naby die skool om oop te gaan. Sodra oom Tokkie plek in die ouetehuis kry. Daar’s nogal ’n groot agterplaas en ’n grasperk met ’n braaiplek. ’n Granny flat ook.”
Sy moes nog een vraag inkry: “Hoe lyk sy?”
Petrus het ’n gebaar met sy hande gemaak. Dit het gelyk asof hy ’n groot bal vashou. “Baie … lewendig. Ek weet self nie hoe nie.”
Nee, Petrus het duidelik nie geweet hoe hy dit het nie. En vir die eerste maal in vier-en-twintig jaar se getroude lewe het Annalise bewus geword van onbekende bose ding wat soos ’n wurm in haar kop kriewel. Sy was jaloers. En dit was aaklig. Al hoop wat sy gehad het, was dat Josephine dit nie lank sou uithou in die beknopte kantoortjie van die garage, tussen die vuil rakke vol onderdele, ghrieskanne en motors wat ref nie. Sy was verkeerd. Josey Tredoux het gekom om te bly. En Petrus het die garage-stories ewe onskuldig huis toe gebring. En sy het die stories biblioteek toe gevat waar ant Millie se mond al hoe meer oopgehang het. Die stories oor Josey se kinders wat so goed presteer. Die stories oor die trekkery na oom Tokkie Cilliers se huis. Dit was natuurlik Petrus wat heen en weer gery het met sy bakkie en die sleepwa om te help. En dan ook die stories oor die groot opknapping van Mareedal Motors. Hulle was besig om ’n nuwe vertoonlokaal aan te bou.
“Ja, ant Millie, as mens na Petrus luister, sou jy sweer dis Josey wat self elke sak sement op haar spykerhakke aandra.”
Ant Millie het haar wange ingesuig. “Jy moet maar dinge deurkyk, Annalise. Ek hoop net nie Josey misbruik hom nie.”
Dit het gelyk asof Petrus hom gewilliglik laat misbruik. Die onkruid in oom Tokkie se agterplaas moes uitgespit word. Die verstopte dreine moes oopgemaak word. Vier krane se wasters moes vervang word en die veiligheidshek se slot was stukkend. Die goeie Petrus was bekend as ’n mens wat hom sou kaal uittrek vir sy buurman. Maar nou was dit nie sy buurman nie. Dit was Josey.
En toe begin Petrus vir Klein Flip en Barnie ’n go-kart bou.
Die ding in Annalise se kop het al meer soos knaende wurms begin voel. Dit het gekrioel. Dit wou haar verteer. Sy het snags wakker gelê en gedink aan al die ure en ure wat Petrus spandeer om die kar te bou, terwyl sy hom al tien jaar smeek om vir haar tog net ’n kassie in die badkamer onder die wasbak in te bou. Daarvoor het hy nog nooit tyd gehad nie. Maar toe dit by Josey se kinders kom, was daar skielik niks wat hom kon keer nie. Hy het Saterdagmiddae gewerk, die Curriebeker-eindstryd gemis. Terwyl Klein Flip en Barnie gedurig gekom het om sy handewerk te bewonder en Josey met haar dubbele D’s bo-oor hom hang.
Petrus het hulle al hoe meer genooi om saans saam te braai. Sulke aande was hy vreeslik vrolik. Dié soort van vrolikheid waarvan Annalise net mooi niks gehou het nie. Dit was asof ’n deel van sy persoonlikheid na vore gekom het wat sy glad nie geken het nie. Hy was spraaksaam en vermaaklik en het saam met die seuns buite sokker gespeel. Van die kombuis af kon Annalise die gelag en gegil buite hoor. Terwyl sy die slaai en braaibroodjies moes maak, was dit Josey wat saam met hom staan en bier drink het en wonderlike stories van haar man se wedrenne vertel het. En verder het hulle oor karre gepraat. Die hele tyd net oor karre en enjins.
Een aand toe hulle weer sou braai, daag Josey daar op met ’n splinternuwe koperbruin kapsel. Die krulle was wild, die spierwit spanbroek ekstra styf en die halslyn uitdagend onder die valle van die bloedrooi bloes en die kettings om die nek. Sy paradeer voor Annalise. “Hoe lyk ek, lovey? Ek het vir Stevie by die salon gevra om iets nuuts te probeer. Lyk dit nie stunning nie? Ek voel soos ’n million dollar babe!” Haar oë het geblink.
“Pragtig, Josey,” het Annalise dit hees uitgekry. Josey het regtig goed gelyk.
In die lig van die vuur kon Annalise sien hoe Petrus na die million dollar babe staar. Toe hy merk dat sy na hom kyk, het hy sy arm onbeholpe om haar lyf geslaan en gestotter: “W-weet jy, ou Lieslap, jy kan mos ook iets nuuts met jou hare probeer.”
Dat hy haar voor die vrou Lieslap noem!
Sy’t badkamer toe gegaan en haarself in die spieël bekyk. Net om te besef dat sy nooit soos Josey kan lyk nie. Sy is te maer. Sy sal nooit Josey se kurwes hê nie. Sy is terug na die vuur toe en het die hele tyd gevoel hoe die trane agter haar oë brand.
Die Maandag by die biblioteek het ant Millie haar wange diep ingesuig toe sy van Josey se nuwe kapsel hoor. Sy het krities na Annalise gekyk: “Ek het ook al gedink jy kan miskien die hare so bietjie losser maak. Die pony-tail is partykeer bietjie baie styf, jy weet.”
Nee, ant Millie, het Annalise gedink, ek gaan nie net my hare verander nie. Ek sal sommer vir ’n totale makeover gaan. Ek is nou moeg en siek en sat daarvoor om ’n ou lieslap te wees. Ek wil ook ’n slag soos ’n million dollar babe voel! En Petrus sal betaal. Hy sal elke sent betaal.
“Ja,” het ant Millie diep gesug, “soos wat ek die ding bekyk, is dit net ’n kwessie van tyd …”
“Voor wat?”
“Voor jy moeilikheid het!”
“Maar, ant Millie, ek het klaar moeilikheid.”
“Juistement! Ons moet ’n plan maak.”
“Watse plan?”
“Ons moet vir Josey ’n man kry.”
“Soos wie?”
Ant Millie het haar wange al hoe dieper ingesuig. “Nee, ek weet nie. Doep van die bank sê sy wil met niemand uitgaan nie. Smittie van die skool het al probeer. Die nuwe prokureurtjie, Donald van Zyl, ook.”
Toe die go-kart klaar was, het Klein Flip en Barnie daardie Saterdagmiddag gekom vir die toetsrit. Daar was ’n groot opgewondenheid en Josey was natuurlik ook daar met haar kamera. “Kom staan nader, Annie, dat ek jou kan inkry!” het Josey geskree. Maar Annalise wou nie in die prentjie wees nie. Sy was nie deel van die kar nie. Sy was glad nie meer deel van enige iets nie. Dit was Klein Flip wat vir Petrus en Josey saam afgeneem het by die kar. Petrus het sy arm om Josey se lyf geglip en sy het daar met haar helder pienk lippe staan en glimlag op haar hoë hakke. Hy brand seker om die pienk lippe te soen, het Annalise wrewelrig gedink en gevoel hoe die wurms by haar kop wou uitpeul. Petrus was hoegenaamd nie bewus van die wurms nie. Hy het doodonskuldig vir Josey begin vertel van die Joodjie van die hotel se outydse karre.
“Jy moet daai man se versameling sien. Hy’t ’n hele showroom in die Kaap en al die vintage karre staan daar uitgestal op ’n duur Van Dijk-mat. Die goed lyk splinternuut, als spick-’n’-span gepolish. Daar’s ’n ou grys 1939 convertible Cadillac. Jy moet daai ding sien, Josey. Hy het ’n hele paar Cadillacs. So ’n silwer 1953 Fleetwood een ook. Daai’s vir jou ’n beauty. Joël het my eendag saamgevat en gaan wys. Daar’s ’n 1940 Buick limousine, so ’n lang witte, wat hy partykeer vir troues uithuur. Hy’s nou nie eintlik ’n man wat ooit oor sy geld praat nie, maar ek kan jou net sê dat daai karre baie werd is.”
“Joël?” het Josey belangstellend gevra.
Vir Annalise het ’n lig opgegaan. Joël is die man! Die perfekte kandidaat. Hoe is dit moontlik dat sy en ant Millie nooit aan Joël gedink het nie?
“Joël Freedman van die hotel,” het Petrus verduidelik, “hy’s mos die Boerejood met die hart van goud. Baie eiendomme in Seepunt, as jy my vra. Sy twee meisiekinders is in ’n duur privaat skool in die Kaap.”
En so was dit Petrus self wat vir Joël bemark het. “Ek het baie respek vir daai klein Joodjie. Netjies, altyd op sy plek. En hy weet wat hy doen. Vat sy meisiekinders gereeld oorsee.”
“En sy vrou?” het Josey gevra en Annalise het haar verbeel daar is afwagting in Josey se stem.
“Fiona. Sy’t nooit baie op die dorp gekom nie. Was meestal maar in die Kaap by die kinders.” Petrus het na Annalise toe gekyk: “Onthou jy vir Fiona?”
“Ja, foeitog.” Sy het na Josey se kant toe gekyk. “Sy’s ’n paar jaar gelede oorlede. En ek dink regtig Joël sal weer trou, as hy iemand ontmoet wat sy passie met hom deel.”
Oomblikke lank het Josey voor haar uitgestaar soos een wat horisonne sien.
Daardie aand, nadat hulle gebraai het, het Petrus die wit Elvis Presley-baadjie loop aantrek om vir Josey en die kinders te perform. Dit was die finale strooi. Dié wit Elvisbaadjie met die blink sequins daarop geborduur, was nie sommer enige baadjie nie. Dit was die baadjie waarin Petrus vir haar gesing het toe sy daardie jaar voor hulle troue op Kleinfontein skoolgehou het. Hy’t met sy motorfiets die hele pad van Kenhardt af gery waar hy toe gewerk het. Dit was elfuur in die aand toe hy by die koshuis aangejaag kom met ’n gebrul van die enjin. Voor haar kamervenster het die klanke in die nag opgeklink: “Are you lonesome tonight, do you miss me tonight …” Die koshuiskinders het wakker geword. Die koshuisvader ook. Petrus het daar tussen die donker peperbome gestaan met die nuwe wit Elvisbaadjie aan en ’n bos rooi blomme. Die kinders het by hulle vensters uitgehang en hande geklap en sy wou haar doodskaam.
Later, in die eerste paar jaar van hulle huwelik, het hy soms weer die wit baadjie aangetrek op ’n huweliksherdenking of op Valentynsdag. Dan het hy sy ou langspeelplate gespeel en hulle het alleen in die sitkamer gedans. Dit was toe hulle nog gehoop het dat sy swanger sou word.
Dat hy dié baadjie durf aantrek het vir Josey!
“My hands are shaky and my knees are weak, I can’t seem to stand on my own two feet …” het hy gesing en vir Josey gekyk. “Who do you thank when you have such luck, I’m in love … I’m all shook up … Mm … mm … mm …”
Die kinders het dit vreeslik geniet en Josey se wulpse lyf het saam met die woorde gewieg.
Annalise het stokstyf na Petrus sit en staar. Sy’t soos ’n vuurspuwende berg gevoel wat gaan uitbars. En sy het planne gemaak om die baadjie te verbrand.
Sy sou sorg dat Petrus nooit weer vir Josey in dié baadjie sing nie. Nooit weer nie.
Die Maandag in haar etensuur het sy met die baadjie in haar hande gestaan. Ek kan dit darem nie verbrand nie, het sy besluit. Moet ek vir hom sê dis gesteel? het sy gewonder. Of moet ek dit net wegsteek? Daar was nie tyd om te dink nie, want sy moes nog vir die maand se vleis slaghuis toe gaan. Dis eers in die slaghuis dat sy ’n plan met die baadjie bedink het. Maar dit was nie die enigste plan wat daardie dag uitgebroei het nie. Later sou sy haarself amper nie kon vergewe oor wat sy daardie dag in die slaghuis aangevang het nie. Dit sou vir die volgende maande by haar bly spook. En daar was geen manier om dit ongedaan te maak nie.
Kareltjie Visagie, die blokman, was besig met die groot bestelling van die hotel. Dottie Marais het langs hom gestaan. “Sorry, Annalise, ons is nou by jou. Ek skryf net gou Joël se goed op.”
Dis toe dat haar gedagtes oortyd begin werk het.Waar daar ’n rokie draai, is daar ’n vuurtjie. Miskien kan sy die rokie net so ’n klein bietjie aanhelp en kyk wat gebeur …
“Nee, ek is nie haastig nie, Dottie.” En ná ’n rukkie: “Ek hoor by Katie van die Hardware Store dat oom Sysie van die off-sales glo vir haar vertel het van … Joël.”
Dottie Marais was altyd een vir nuus. “Wat van hom?” Annalise se mond was skielik droog en sy het vir haarself al hoe meer na ant Millie begin klink: “Nee, hulle sê hy’t glo gesê hy gaan nie meer so lank alleen wees nie. Daar is glo iets aan die broei.”
“Wat?”
“Nee, hulle sê hy’t glo planne.”
“Planne? Haai, met wie?”
“Dis glo Josephine …”
“Kan jy nou meer! Hoor jy, Kareltjie? Daai Josey val behoorlik met haar boude in die botter!”
Toe sy met die vleis by die huis kom, het sy baie skuldig gevoel. Toemaar, het sy haar getroos, as hierdie storie by Josey en Joël uitkom, kan hulle maar self besluit wat hulle gaan doen. Of hulle die vure gaan blus, of nie.
Die rokie het oor Mareedal begin dwarrel. Dat dit so vinnig ’n veldbrand sou word, het Annalise nie geweet nie.
Toe sy die Dinsdag by die biblioteek kom, het die storie alreeds vleuels gekry. Ant Millie het haar opgewonde ingewag. “Jy sal nie glo nie! Oom Sysie van die off-sales het vir Dottie Marais van die slaghuis gesê dat daar iets tussen Joël en Josey aan die gang is. Hoekom het ons nooit aan Joël gedink nie? Hy is perfek! Hy het die beursie en sy die boobs. Dis ’n match!”
Haar hart het al vinniger begin klop en sy het skuldig na ant Millie gekyk: “Wat sê Katie alles? Wat is aan die gang?”
“Dat hulle planne het! Groot planne. Sy vrou is mos nou al lank genoeg dood. Dis nou tyd.”
“Haai, ant Millie?”
Sy kon daardie nag amper nie geslaap kry nie. Sy het gedroom van vrieskaste vol geraamtes en wurms.
Die Donderdagoggend het Katie van die Hardware Store die biblioteek ingekom met die nuus dat Joël Freedman en Josey Tredoux verloof is. Glo ’n knewel van ’n diamant en hulle gaan ’n groot onthaal in die hotel hou. Joël se twee meisiekinders wat in die Kaap skoolgaan, is vreeslik in hulle skik met die twee boeties. Hulle kort lankal weer ’n ma en dis nou die een ding wat mens van Josey kan sê: dat sy ’n goeie ma is. Kyk nou maar net na Klein Flip en Barnie. Altyd op hulle plek.
Annalise het haar sprakeloos aangestaar. Tog effens verlig dat niemand haar naam aan die gewraakte storie verbind nie.
Die bom het die Vrydag gebars. Dit was Annalise se af dag en dit was ant Millie wat gebel het met die nuus. Ant Millie was uitasem en sy kon nie vinnig genoeg gepraat kry nie: “Ek is so bly ek kry jou, want hier het ’n verskriklike ding gebeur. Petrus lê in die hospitaal met twee gebreekte ribbes. Hy en Doep van die bank het baklei. Doep was glo by die garage vir sy kar se diens en toe wens hy vir Josey geluk met die verlowing en hy wil toe die ring sien. Toe hoor Petrus dit en toe is die gort gaar. Toe gryp Petrus hom aan die keel en sê vir hom hy’s mal, want Josey is nie verloof nie.”
“Maar, ant Millie, Petrus het nog nooit sy hand vir ’n mens opgelig nie!”
“Ek weet. Maar jy weet hoe is Doep. Hy hou aan met ’n ding. Op die ou end het een van die petroljoggies vir Joël by die hotel gaan roep. En toe was dit hy wat Petrus hospitaal toe gevat het.”
“Twee gebreekte ribbes?”
“En sy oogbank is oopgeslaan. Dit was net bloed. Ja, jy weet mos Doep is ’n groot man. Hy’t vir Petrus met sy vuiste getakel.”
“En Doep? Het hy seergekry?”
“Hy moes vier steke in sy kop kry. Petrus het hom met ’n spanner bygekom. En nou gaan hy ’n saak van aanranding maak, sê Katie.”
“Vier steke in die kop?”
“Vier.”
“En wat sê Josey? En wat sê Joël?”
“Nee, Katie sê hullle het nie geweet hulle is verloof nie.”
Natuurlik het hulle nie geweet hulle is verloof nie.
Toe sy by Petrus in die hospitaal aankom, het sy desperaat daar in die saal se deur bly staan met baie gedagtes. Dat Petrus darem so vir Josey opgekom het en baklei het oor haar. Sou hy dit ooit in sy lewe vir sy eie vrou gedoen het?
Josey het aan die een kant van die bed oor Petrus gebuk en hom water laat drink. Haar wilde rooibruin krulle het oor Petrus se gesig geval. Aan die ander kant van die bed het Joël Freedman bedeesd met glaserige oë gesit en na Josey gestaar asof hy haar die eerste keer raaksien.
Hulle het nie vir Annalise opgemerk nie. Sy’t in haar spore omgedraai en huis toe gegaan. Sy was dwalend, onseker oor wat haar te doen staan. Ten einde laas het sy die drankkas oopgepluk en vir die eerste keer in haar lewe self ’n bottel wyn oopgemaak. By die tweede glas het sy besef dat alles eintlik haar skuld is. Hoekom het sy dinge so ver laat vorder? Hoekom het sy nie vir Petrus in sy spore gestuit daardie Saterdag toe hy Josey se agterplaas gaan omspit het nie? Sy moes toe vir hom gesê het: Toe, loop spit! Loop spit Josey se agterplaas om. Maar ek belowe jou, jy spit ’n gat vir jou eie graf, want as jy vanaand jou voete in hierdie huis sit, sal die hel in al sy woede los wees. Hoor jy my? Hoekom het sy alles so gelate toegelaat? Hoekom het haar ma altyd vir haar gesê dat stilbly ook ’n antwoord is? En dat mens altyd die pad van vrede moet volg? Wat het dit vir haar in die sak gebring? Opgekropte woede waarop bose wurms teer. Dis wat. En niks in hierdie huis sal ooit regkom as sy nie ’n slag leer om haar mond op die regte tyd oop te maak nie.
Met die derde glas het sy haar suster in Bloemfontein gebel: “Gloria, ek wil ’n rukkie na julle toe kom. Ek hoop dis reg met julle. Hier het baie dinge gebeur. Ek sal jou vertel wanneer ek daar is.” Eintlik kom ek vir ’n makeover, Sus. Laser, botox, wax, die works. En klere! Spanbroeke. ’n Paar sexy nommertjies. En hare! Geknip, gestreak, getint. Ek was nou lank genoeg ’n verdomde ou vaal lieslap wat met my neus tussen die boeke in die biblioteek sit. En as ek ooit besluit om terug te kom na Mareedal toe, sal Petrus nie weet wat hom getref het nie. Tot dan … sal hy sweet en hy sal suffer met sy gebreekte ribbes en al.
Die lang pad Bloemfontein toe was baie eensaam. Sy het ellendig gevoel en wou halfpad omdraai. Miskien het Petrus haar tog nodig. Hy was nog nooit voorheen in ’n hospitaal nie. Maar die gedagte aan haar nuwe ontwaking het haar voortgedryf. Sy moes vir eens en vir altyd duidelikheid kry. Sy moes self uitvind waar sy met Petrus en met haar huwelik staan. Dit was iets wat sy vir haarself moes doen.
En nou is dit vyf maande later en sy is nog steeds in Bloemfontein.
Gloria en Theuns was goed vir haar en het haar dadelik die klein tuinwoonstel aangebied. Dit was karig gemeubileerd, maar dit was ’n plekkie van haar eie. In ruil vir die verblyf sou sy met die vier kinders help. ’n Vreemde lewe het vir haar begin. ’n Lewe sonder Petrus. Sy moes die kinders by die skool besorg, by tennis, by swemlesse, by ballet. Dit het gevoel asof sy voltyds op pad was iewers heen.
Petrus het ’n paar maal probeer bel, maar sy was nie lus om met hom te praat nie. Al wat sy elke keer gesê het, was dat sy nie reg is om terug te kom nie. Nee, sy was nie reg nie. Sy was in alle erns besig met die groot makeover.
Op ’n dag het ant Millie met die nuus gebel: “Dottie Marais van die slaghuis het vir Katie gesê dat Josey weg is by Mareedal Motors. Sy is glad nie meer in die dorp nie. Sy sit in een van Joël se flats in Seepunt en sy help hom met sy vintage karre! En Klein Flip en Barnie is in ’n duur privaat skool in die Kaap, saam met Joël se twee meisiekinders. Kan jy dit glo?”
Sy kon hoor hoe ant Millie haar wange insuig.
In die vierde maand het sy vir Petrus begin mis. Verskriklik begin mis. Sy stem, sy stories by die vleisbraaivuur. Die manier waarop hy haar op die boud tik. Om saam met hom in die bed te klim. Meer as dit: sy kinderlike onskuld. Miskien het hy regtig nie geweet hoe jaloers sy op Josey was nie. Miskien wou hy haar regtig maar net help om haar voete te vind ná die dood van haar man. Vir haar en haar kinders. Dis wat hy eintlik altyd vir almal in die dorp doen.
Om terug te gaan, sou beteken dat sy vir hom die waarheid moet vertel. En moet bieg oor die verskiklike goed wat sy aangevang het.
Sy kyk lank na die blou skryfblok. Toe skryf sy vinnig verder:
Ek wens ek het maar net van die begin af vir jou gesê hoe jaloers ek op haar was, en op al die tyd wat jy aan haar en die kinders spandeer het. Maar ek het niks gesê nie en jy het aanvaar dat ek doodtevrede met die situasie was. Wel, ek was nie. Dit was vir my baie erg, want dit het die hele tyd vir my gevoel asof ek jou met haar moet deel. Veral daardie aand toe jy die Elvisbaadjie aangetrek en vir haar gesing het. Ek was woedend, al het ek probeer om dit nie te wys nie. Daardie baadjie was iets spesiaals tussen my en jou, my man. Kon jy dit dan nie in jou kop kry nie? Ná daardie aand wou ek die baadjie verbrand, maar ek kon dit nie oor my hart kry nie. Ek het dit in die vrieskas gesit, onder die wildsvleis wat Pietie van die plaas gebring het. So, die baadjie is nou gevries.
Dan is daar nog iets. As jy ooit gewonder het waar daardie storie vandaan gekom het van Josey en Joël wat verloof is, wil ek net sê dis ek wat die onware gerug geplant het. Ek was daardie dag in die slaghuis en ek kon myself nie help nie. Ek was daarop uit om kwaad te stook.
Ek het nie besef dat dit so ’n nare nadraai sou hê en dat jy in die hospitaal sou beland nie. Maar wat op aarde het jou besiel om Doep met die spanner by te kom? Ek weet nie wat presies daardie dag by Mareedal Motors gebeur het nie, want daar was later vele weergawes. Al wat ek weet, is dat ek die een was wat die gewraakte skinderstorie van Josey en Joël aan die gang gesit het. Jy sal nooit verstaan waartoe ’n vrou alles in staat is in die geval van oorlog en liefde nie.
Ek is jammer dat ek weggegaan het sonder om jou te groet. Ek was so rasend ongelukkig. Ek was wel by jou daardie dag in die hospitaal, maar toe Josey so oor jou buk met haar boesems, het ek huis toe gegaan. Ek het jou laaste Cederberg Chiraz oopgemaak en opgedrink. Ek was vir die eerste keer heeltemal drónk. En in daardie toestand het ek die sleutel van die brandkas gesoek en dit gekry. Toe vat ek twee van jou goue munte. Ag, Petrus, ek weet hoe jy altyd so getrou gespaar het om nog munte by te koop. Ek is verskriklik jammer, maar ek was heeltemal roekeloos. Ek moes geld hê vir myself. Nou het ek alles geblaas.
Ek wil nie eintlik oor die kar praat wat jy vir Josey se kinders gebou het nie. Ek weet dis die kar wat jy vir ons kinders sou bou. Dié kar waaroor jy só baie gepraat en gedroom het, in die tyd toe ons nog gehoop het … Jy sou so ’n ongelooflike, wonderlike pa kon wees, Petrus. Ek is so jammer dat ek nooit vir jou kinders kon gee nie. Ek besef watse groot gemis dit in jou lewe is.
Ek mis jou. Ek dink elke dag aan jou. Ek wil nie meer hier wees nie, maar ek weet ook dat ek nie kan terugkom voordat jy nie al hierdie dinge weet nie. En as jy dit weet, wonder ek of jy my ooit weer in die oë sal wil kyk. Miskien besluit jy dat ons paadjies liewer uitmekaar uit moet gaan. Ek sal jou nie verkwalik nie, Petrus. Ek sal verstaan.
Met liefde,
Jou lieslap
Toe sy die brief pos, voel sy hoe ’n vreemde verligting oor haar spoel. Ek is vry, dink sy. Ek is vry van die vretende wurms in my kop. Ek het nuut geword. Sy sien haar eie beeld in ’n winkelvenster. Sy kyk na haar kort kapsel met die sonstrepies wat blink, en haar gesig wat seker tien jaar jonger lyk. Sy kyk na haar kleurryke uitrusting en die oorbelle. As ant Millie my nou moet sien! Of Petrus …
Ná tien dae weet sy dat Petrus die brief moes gekry het. Maar hy bel nie. Sy hoor niks van hom nie. Sy bekla haar lot by Gloria. “Ek dink nie hy wil my weer sien nie, Sus. Miskien is hy kwaad oor al die goed in die brief. Hy is so ’n eerlike mens, hy sal miskien nooit verstaan hoekom ek sulke goed aangevang het nie.”
“Miskien verstaan hy tog. Mens weet nooit. Jy moet net geduldig wees. O ja, Theuns het vir ons kaartjies gekry vir die simfonie-orkes môreaand.”
“Dis alles reg. Ek sal by die kinders bly.”
“Nee, jy gaan saam, Sus! Ek het klaar iemand vir die kinders gekry. Jy wou nog altyd na ’n simfonie-orkes toe gaan. Dis nou jou kans.”
“Wat trek mens aan?”
“Jy trek jou nuwe rooi rok aan. Dit sal pragtig lyk.”
“Is jy seker?”
Sy staan die volgende aand voor die spieël met die nuwe rooi rok en die swart hoë hakke. Ek wil nie gaan nie, dink sy. Ek wil by Petrus wees. As ek môreoggend in die pad val, kan ek môreaand by hom wees. Daar is ’n geklop aan die deur. Is Gloria-hulle dan al reg om te ry? Sy gryp die rooi aandsakkie wat by die rok pas.
Toe hoor sy dit. Die bekende stem wat buite sing, soos lank gelede by die koshuis op Kleinfontein.
“Are you lonesome tonight? Do you miss me tonight? Are you sorry we drifted apart? Does your memory stray to a brighter sunny day, when I kissed you and called you sweetheart?”
Sy maak die deur oop met ’n hart wat al hoe vinniger klop. Hy staan daar in die wit Elvisbaadjie. Met sy kitaar.
Sy loop in sy arms in. Hy hou haar vas. Eers toe sy opkyk, sien sy vir Gloria en Theuns en die kinders wat onder die bome in die tuin staan en laggend vir hulle waai.
“Ek gaan nie saam na die konsert toe nie!” roep sy vir Gloria.
“Daar is nie een nie, Sus!” roep Gloria terug.
Toe lei sy vir Petrus aan sy arm by die deur van die klein woonstelletjie in. Hy trek die deur agter hom dig en kyk lank na haar. “Jy lyk verskriklik mooi, Lieslap.”
“Dankie,” sê sy dankbaar.
“Ek het jou kom haal.”
“Dis hoog tyd.”