Читать книгу Een vir Azazel - Etienne Leroux - Страница 6

Quid?

Оглавление

“Daar is iets by die fontein,” sê Jock Silberstein toe die hond die tweede keer bewegingloos word.

Die “slank” Mrs Silberstein bring haar hand na haar mond. “Die fon­tein …” sê sy en draai haar gesig na die warnet van geboue daar vér onder, asof sy in die doolhowe van Welgevonden gerusstelling sal vind.

“Dis seker ’n plastiekswaan,” sê Jock Silberstein, onrustig met die wete dat patrone herhaal word, dat elke gebeurtenis neig om ’n eggo te vorm na sy eie beeld.

’n Enkele oomblik bly hulle só, word hulle stil van buite: die tablo van ’n hond in sierlik duidende lyn gerig op die onsigbare iets in die fontein, en van ’n tussenganger in die vorm van ’n verdeelde man met sy arms na weerskante gestrek om die gespanne hond te verbind met ’n ontwykende vrou. Die spanning bereik ’n hoogtepunt, krummel ineen en ontbind in die langsame beweging van die vrou wat wég en áf beweeg, na die ronde gewels, die vlammende mure, die eindelose vensters en die komplekse binneplase wat beskerming bied teen ’n gevaarlike eenvoud. Die wind speel liggies met haar modieuse rok, dit breek die strengheid van haute couture tot die ylheid van ’n Botticelli-kleed, dit kreukel en fladder om haar in grasieuse vlug. Die middeljarige Mrs Silberstein word jeugdiger met toenemende afstand; sy verslank in die verte tot die slank Mrs Silberstein van agtien jaar gelede.

“Dis ’n plastiékswaan,” herhaal Jock Silberstein en dan keer hy hom na die hond wat nog steeds in ’n wagtende posisie roerloos bly. Voor hom roer die fontein in ’n gedurige draaikolk namate die water onder die lelieblare aanhoudend deur betonpype op die bodem weggraviteer. Die swaan se dubbelgangers – wit, vaalgrys en opgeblase – dobber rigtingloos rond. Op ’n afstand spuit die waters, steek die maskers hulle rooi tonge uit, blink die son teen die groteske gesigte. Jock druk sy hoed agteroor en vee die sweet van sy voorkop af. Hy kyk oor die landgoed heen: die fabriek in die verte, die huis daar onder, die bewegende stippeltjie wat sy vrou moet wees. Dan streel hy die hond wat selfgedwonge nog trou onbeweeglik is.

“Wat is dit, Fido? Wat makeer, ou man?”

Sy aandag word getrek deur iets wat op die stroom na die fontein toe aangedryf kom: iets wat vormloos deur die water beweeg, wat eers wegduik, verdwyn, en dan tussen die swane te voorskyn kom, wat hulle rigtingloosheid naboots en dan meteens teen ’n opdrifsel vashaak en stadig, teen die draai van die horlosie, ál in die rondte begin beweeg. Rondom en rondom wentel dit, soms sigbaar en soms onsigbaar, óm en óm soos ’n minuutwyser in omgekeerde gang. ’n Wit, grys voorwerp, maar wat is dit? En noudat sy baas ook daarvan bewus ge­word het, ontspan die hond, asof sy aandeel in die spel voltooi is.

Jock Silberstein het intussen sy hoed afgehaal en voor sy oë gehou om die son te keer; hy loer onder die skaduwee van die hoedrand deur en namate sy oë gewoond raak aan die beweging, hulle instel op die beweging, word die voorwerp kenbaar. Jock Silberstein se kop draai al in die rondte soos hy die wenteling volg, met elke voltooide sirkelgang neem sy afgryse toe, wiel sy emosies sigbaar van afgryse, skok, ongeloof, besef, verdriet, terug tot afgryse. Hy is magteloos as sy kop deur al die bewegings gaan en geleidelik word sy bewegings outonoom. Hy staan daar soos ’n groot pop met ’n ingeboude meganisme. En dan begin die trane stadig uit sy oë rol. Sy mond gaan oop en toe en hy huil geluidloos terwyl hy vasgevange is in die nimmereindigende sirkel. Ná ’n rukkie begin hy onwillekeurige geluidjies maak soos iemand wat stom is en probeer praat; later word die geluide harder maar hulle is nog steeds woordeloos en mensloos; uiteindelik gee hy hom ten volle oor aan sy smart en strompel die water in met ’n kreet wat deur die middaglug sny en sonder eggo verdwyn.

Een vir Azazel

Подняться наверх