Читать книгу Een vir Azazel - Etienne Leroux - Страница 7
Cur?
ОглавлениеHy kom oor die uitgestrekte grasperk aangestap met die druppende voorwerp in sy arms. Dit lyk asof sy gang doelloos is; sy krag is bomenslik; hy loop net aan en aan: by die geboue verby waar hulle deur die ruite na hom kyk, waar hy homself in die ruitspieëls sien. Alle indrukke kom gelyktydig en onsamehangend. Hy strompel voort en sien meteens die beelde van almal verbrokkel in die verskillende spieëls. Hulle kyk uit die spieëls na hom … Hulle kyk met verkykers … Die spieëls versplinter in duisende skerwe en die beelde splinter saam. Die ruite is die soekers van hulle kameras waardeur hulle loer. Hulle spieël na mekaar toe en dan word die lense op hom gerig. Hulle het mekaar versny en nou versny hulle hom waar hy rigtingloos met sy las oor die grasperk stap.
Dan is hy weer alleen, ’n reusagtige figuur op die onmeetlike landskap.
Op ’n sekere tydstip is dit asof hy rigting vind. Hy kom by die fabriek en die kelderkamers. Hy gaan by die groot poort in en daal na benede, verdieping tot verdieping onder die grond, tot die binneste heiligdom waar die fino’s verouder het. Versigtig, op ’n tafel, lê hy die lyk neer. Hier is en was al die dinge wat sy groot liefde omvat, waar alles tot ’n einde gekom het en weer gebore is. Hier is die hele betekenisvolle, onverstaanbare sirkelgang. Hier is alles aanwesig, leweloos en tog lewendig. Hy kan nie meer begin en einde onderskei nie. Hy voel oud, en soos ’n ou man kan hy nie meer tot ’n slotsom kom nie.
Hier is my hele lewe, al my prestasies en al my teleurstellings. Ek kan nie verder dink nie en ek sal vir die res van my tyd op aarde versteen by hierdie punt. Wat is waar? Wat is nie waar nie? Wat het gebeur? Hoekom het dit alles gebeur? Hoekom eindig of begin dit hier?
In ’n sekere stadium loop hy heen en weer in die kelderkamer rond. Die elektriese lig brand uit ’n enkele, kale gloeilamp. Buitekant het dit miskien al begin skemer word. Hy loop heen en weer en dan gaan hy by die voorwerp op die tafel staan. Hy kyk noukeurig na die gesig asof hy dit die eerste keer sien. Soms betas hy die hare en probeer dit regstoot, maar dit is nat en klam en onbeheerbaar van die water. Geringe dingetjies trek sy aandag: die vorm van die neus, die lippe, die wenkbroue, twee merkies op die keel, die punte van die vingers. Daar is ’n druppel bloed wat op die vel gestol het. Hy kyk na die kleur daarvan. Soms trek sekere van die kledingstukke sy aandag en hy wonder waar en wanneer hy dit gekoop het. Hy herinner homself aan die tyd toe hy hierdie en daardie geskenkie gegee het en hoe die paar oomblikke van egte blydskap ’n warm gevoel in sy binneste gelaat het.
Daar is bloed op die lippe en tussen die tande. ’n Aandrif van ontsteltenis oormeester hom en hy loop vinnig deur die gange weg tot buite, tot by die stoomkamer waar die koperpype soos slange in mekaar krul teen die mure. Hy draai die kraan oop en hy wag totdat die stoomgeluid alle klank uitwis en dan begin hy skreeu. Dit hou langer as gewoonlik aan: hy skreeu die vrae teen die rumoerige stilte, maar hy kry geen antwoord en geen verlossing nie. Ook dít moes gebeur: dat die kamer van bieg sy helende krag verloor. Toe hy buitekant kom, het die son al gesak en glinster daar ’n rooi skynsel kwaadaardig op die spuende maskers teen die berg.
Hy loop stadig en vasberade terug na die kelders, tot by die binneste kamer waar die voorwerp op die tafel lê. Eenkant in die hoek is ’n swaar kierie en hy tel dit op.
Presies teen sononder begin die geluide, die lawaai van koper en erdewerk wat gebreek word, die bevrydende verwoesting, die beskerming teen die bose in al sy vorme, die vergete ritueel van ’n Jood van Tripoli, die lawaai sub magiae fugiendae praetextu, die aanslag teen die dood in jouself.
En buitekant die deur, gelok deur die geraas, luister speurdersersant Demosthenes H. de Goede. Hy lyk effens na Jacques Tati in sy rol van ’n briewebesteller. Hy is nie gebore in staat om ’n sin te formuleer nie.
“Pitttt-Pitttttt …,” hakkel hy. “Brrrrr … Psssst. Mmmmmm … ffffffft!”