Читать книгу Klimtol - Etienne van Heerden - Страница 4

Оглавление

TRIEK EEN

Die Spinner

Die Spinner is die eerste triek. Begin jou konsert so: Jou elmboog is gebuig en jou gooihand wag gereed en digby jou skouer. Die rugkant van jou hand is buitentoe gedraai. Gooi vinnig met die hand wat aan die pols skarnier in ’n tuimelaksie. Gewoonlik draai jy daarna jou pols na onder vir wanneer die yo-yo terugkom, maar met die Spinner hou jy jou hand stil en die klimtol spin aan die tou. Die skuurgeluid teen die grond klink nes ’n vinnige kar op die stofpad na Garies. Gee ’n plukkie wanneer jy hom terug in jou palm wil hê.

’n Hotel.

Een met kalkklippe wat die motors se stilhouplekke uitgemerk het, en ’n string geverfde gloeilampe in die peperbome. Ook ’n kragopwekker, wat op diesel geklop het, en saans om elfuur afgeskakel is.

Hy het vroeg gaan slaap, want die volgende oggend moes hy in die hoërskool se saal optree.

Die skoolsaal het gedruis terwyl hy agter die skoolhoof binnestap, soos ’n korf vol bye.

Toe hy op die verhoog verskyn, was die applous oorverdowend.

Hy het sy flannels met die omslaanpype gedra, daar was ’n streep lipstick op sy smoking jacket, sy hare was teruggekam in wat sy pa “die eendstert” genoem het, want dit was die sixties en sy skoene was blink gepoets.

Hy het Around the globe gedoen, sy oë was stip op die yo-yo, en die kinders se gesigte aan ’t roteer. Toe Walking the dog met sy skoenpunt wat ritme op die skoolverhoog se plankvloer uitklop.

Applous het hom oorweldig.

Toe’s dit Rockin’ the cradle se beurt, die ingewikkelde triek van tou en spinbal en swaartekrag, hy balanseer als met ’n paar armbewegings en laat met die draai van sy hand die klimtol op sy tou uitspring en dit spin ver weg van sy lyf, onbeheerbaar en tog onder beheer – en dan bons dit terug en met die volgende triek swaai hy hom om die aardbol, ’n wye sirkel met sy oë op die skoolkinders en hul elektrisiteit wat syne word, en hul staande applous wat hom die saal uitdra tot buite voor die stil skool met die adjunkhoof wat hom uithaas met sy wange hoogrooi en die wit koevertjie in sy hand: “U fooi.”

Hy was op sy allerbeste, en die gehoor was mét hom. Hulle was aan sy toutjie, asof hulle self ’n klimtol was, hier teen sy bors.

Toe hy buite die saal kom, was daar ’n bruin seuntjie, hy mog nie die saal inkom nie, hy was seker van die skool in die lokasie en hy’t na Ludo gekom met ’n yo-yo in sy hand en hy’t gesê: “Baas Ludo.”

Maar Ludo was haastig en het hom ’n sikspens in die hand gedruk want hy was in ’n goeie bui en gesê: “Hierdie baas moet nou in die pad val”, en toe is hy in die Opel en weg na die volgende dorpie nie ver weg nie, hy skat nou as hy terugdink so twintig kilometer, hulle lê naby aan mekaar en daar was ’n fontein in elk en soms word die twee dorpe in een asem genoem: Tweefontein.

Dis in daardie tweede dorp dat sy die aand inkom met die kamera en hom afneem. Sy was net skielik daar, ’n pragtige vrou, onverwags in ’n Karoodorpie. Uit die selfvertroue kon jy met eerste oogopslag aflei: ’n stadsmens. Geen terughoudende skaamte en niks van die gedemptheid van die plattelanders nie. Sy gasvrou, ’n statige tante wat besluit het om hom te nooi omdat die mense hier so min vermaak het, het die kameravrou bekommerd dopgehou terwyl hy sy trieks uitgevoer het.

Nadat sy rondgekruip het tydens die fotonemery en die hele dorp op hul hoede gehad het, het hy die tjekkie (Bybelversie inkluis) in ontvangs geneem, die tante bedank en die hoop uitgespreek om die dorpsmense op ’n keer weer te kom vermaak.

Die tante het gesê sy is jammer oor die vyf volkies – haar term – wat om die deur gestaan en loer het en sy hoop nie dit het die aand bederf nie. Hy het hulle ook gesien skaam omloer die saal in en daardie jare was dit nog Hoog-Apartheid en hulle was buite orde om so om te loer maar die voorsitter het hulle almal by name geken en het hulle seker maar laat begaan.

Terwyl hy speel, kon hy die seuntjie sien, in daardie jare sou hulle klonkie sê, wat die vorige dag op Tweefontein Nommer Een na hom gekom het en vir wie hy die sikspens gegee het en Ludo dag, jinne maar die kind slaan nou weer hier uit, hy moet ernstig wees oor die klimtol, maar toe vat die konsert vlam en hy dink nie weer daaraan nie.

Agterna is die kameravrou vinnig vort en die voorsitter vroetel met haar sakdoekie en verseker Ludo hulle het nie die fotograaf gereël nie, sy is jammer oor die woerwar-vrou, kennelik uit die stad en totaal uit haar plek hier met haar kamera gewees, weer eens apologie.

Iets het hom ontstel, onthou Ludo. Haar teenwoordigheid in die saal en haar vertrek – daardie swart oë van haar ’n oomblik magneetvas op syne – dit het hom ontstel. Hy het gevoel sy’t hom gekoggel.

Hy het kroeg toe gestap en miskien een te veel gedrink. Te vinnig. Hy hét te vinnig gedrink, ja, wees maar eerlik, boonop op ’n leë maag.

Hy sou die nag op die dorp deurbring, maar terug in sy kamer het die bedompigheid hom vasgedruk. Hy was opgejaag en daar was vuur in hom. Die herinnering aan die vrou se lang bene en haar oë wat syne gryp. Die prente teen die mure, die meubels en die doilies, die kleefpapier vir vlieë en die gepiep van die waaier – hy moes ry.

Die kombuis was al toe, die hotel skemer.

Hy moes weg.

Buite was dit ’n pragtige aand. Op Tweefontein – albei dorpies – is die sterre befaamd digby.

Hy het aanvanklik rustig uitgery, vir ’n enkele dwalende gewuif, en toe was dit die oop donker pad voor hom.

Mens gee vet in daardie geweste. Daar is wel koedoes by ente pad waar die some bebos is, maar padtekens waarsku jou gewoonlik, en in ieder geval onthou Ludo hoe hy was toe hy op volspoed was. Op daardie ouderdom glo ’n man mos niks kan hom grond toe bring nie. Dis die illusie wat applous skep. Hy het oor een so ’n bloedkol op die teer gery, byna die hele pad was bedek met die swart plas droë bloed, en agterna het hy gehoor twee mense het daardie seisoen op daardie pad gesterf in twee koedoe-ongelukke, net ’n week uitmekaar. Die koedoes kom oor voordat jy hulle kan sien, want die ligte van die kar trek hulle aan soos motte na ’n kers en hulle’s geboei en verblind en van skrik spring hulle en beland op die kar se enjinkap.

Mense sterf nie weens die impak nie maar omdat die koedoe deur die voorruit bars, en dan is hy binne-in die kar en sy stuiptrekkings en sy horings soos hy sy groot kop swaai en sy hoewe se getrappery is wat die dood van almal in die kar veroorsaak, ’n koedoe is so groot soos ’n bees, net sterker, en hy vrek nie maklik nie, hy gaffel en trap daardie kar maalvleis binne.

Daar was maanlig, so hoe dit so skielik gebeur het, weet Ludo nie, hy het immers geweet van die koedoes en hy moes stadig ry, maar tog.

Miskien was hy moeg ná die vertoning. Miskien het hy agter die stuur aan die slaap geraak. Waarskynlik was dit die vrou wat so vinnig weggery het met die laaste blik op hom wat sy konsentrasie verbreek het. Ja, dit was sy.

Maar dit is geen verskoning nie en dat hy nie sy gedagtes van haar af kon wegkry nie, is ook geen ekskuus nie.

Skielik, helder in die kopligte om ’n donker draai en te laat, hopeloos te laat, die bruin seuntjie op ’n fiets, vir ’n oomblik die gesig na Ludo omgedraai. Hy was kennelik op pad huis toe ná Ludo se konsert, terug Tweefontein Een toe waar Ludo hom die vorige dag gesien het by die skoolsaal, op pad in die stil donker en net die sterre bo hom en toe kom Ludo van agter.

Aan die seuntjie se regterhand was ’n yo-yo, wat hy lomp probeer speel het terwyl hy die fiets trap met sy linkerhand op die stuurstang.

Het hy gewankel toe Ludo so skielik op hom afkom; het hy op die laaste oomblik balans verloor omdat hy die onvermydelike gesien kom het?

Dit was ’n verskriklike slag.

*

’n Jaar voor die kreefinspekteur se dood op Paternoster is dit ’n woelige nag in die stad nadat Snaartjie Windvogel van die suikerhuis weggebreek het. Sy’t van taxibus na taxibus gehol. Onder haar voete het die grond gebewe wanneer ’n trein by die stasie langs die taxi rank inkom. Ver weg kon sy Tafelberg sien met ligte wat teen die berg op skyn. Sy’t gehoor van die kabelkar, maar kon niks sien nie.

Dit het gedreun hier waar stalletjies tussen die spore en die taxi’s se staanplek uitgepak is. Klere en donkerbrille en afgesnyde skaapkoppe en lewende hoenders aan hul bene opgehang en smouse wat vleis op oop vure braai. Hier was min lig, maar die vure en die rooi briekligte van taxi’s, die parkeerligte van minibusse en een groot spreilig het lig gegee.

Die taxi’s het gebrom en getoet. Die gemaal van mense wat die middestad wou uit huis toe na Ravensmead en Guguletu en Elsiesrivier en Bellville-Suid was woes. Daar was mense met net een koopsak styf onder die arm gedruk, maar ook families met groot koffers en rolle komberse en hulle was op pad na veel verder, gejaagd en desperaat.

Twee mans het verbygekom met ’n bok met vasgebinde pote en wit oë. Hulle het die dier aan ’n paal gedra wat op hul skouers gerus het. Terwyl sy gekyk het, het hulle die bok op ’n seil omgekeer en ’n skottel nadergebring en sy keel deurgesaag, en al die swart bloed het in die skottel geloop. Net sy bene het geskop en toe kyk sy weg.

Sy’t die mense jammer gekry wat vir die langpad die taxi’s moes in. Hulle het gestry en die busse was oorvol. Dit was ’n gesukkel om mense in te druk, selfs op die vloer by grootmense se voete moes kinders hurk.

Daar was niks snaaks vir enigiemand aan haar waar sy in haar blink skoene en oorbelle van taxi na taxi gehardloop het nie. Sy was benoud, maar nie meer angstig as baie van die tikbedelaars, die ma’s met kinders aan die hand en die honger smouse nie.

Sy wou uit, uit.

Sy’t geweet hulle sal haar hier kom soek, want hierdie plek is waarnatoe jy kom as jy gou die stad wil uit.

En sy kon dit in baie ander se oë ook sien. Uit.

Mother’s horror was die taxi se naam waarin sy geklim het sonder om te weet waarheen dit gaan. Drive it as if it’s stolen is op die syruit geskryf. Sy’t die helfte van die aand se geld vir jumps in die gaatjie se hand gestop maar geld teruggehou want sy weet nie waarnatoe en hoe ver nie. Heel agter in die hoek van die taxi het sy gaan opkrul, haar oorbelle afgepluk en hulle op die taxi se vloer gegooi. Haar bedink en hulle opgetel en weer aangesit. Terwyl die drywer op sy toeter lê, ry hulle uit die gewoel uit, verby mense wat opgerol in jasse lê en slaap onder tafels of bo-op bokse wat die volgende dag weer smousgoed sal wees.

Ooppad toe. En toe die taxidrywer gevra het: “Waar gaan jy afklim?”, het sy net gesê: “Reguit!” En nog geld vorentoe gestuur.

Sy het aan die begin bly omkyk. Sy’s met ’n Mercedes-stasiewa na die middestad gebring en die kar sou uitkyk vir haar. Of sy haar werk reg gedoen het. Maar geen kar het hulle gevolg nie. Sy’t begin ontspan. Niemand het met haar gepraat nie. Die taxi was vol suwwe mense wat meer bekommerd was oor hul eie lywe as oor die mense langs hulle. Die bestuurder het deurentyd slukke gevat uit ’n bottel wat in ’n bruinpapiersak toegedraai was en het soms kanse gevat wat sommige passasiers laat kla het. Maar dan het hy gesê dat hulle kon afklim en fokof as hulle nie verder wou saamry nie. Op die ou end het almal tjoepstil gesit en gevoel soos vleis in ’n dun blik terwyl hulle deur donker koringlande en wingerde die oopte in gery het.

Dit het ál platter geraak. Hier en daar was daar ’n plaashuis se liggie, maar later was dit heeltemal donker.

By Malmesbury is sy naby groot graansilo’s afgelaai en toe was dit met ’n ander taxi verder.

“Waarheen gaan jy?”

“Reguit!”

“Klim.”

Haar geld was min. Donker. Ver op die horison die spatsel lig van ’n dorpie. Satelliete. Vir hoe lank het sy geen satelliete gesien nie? Op Matjiesfontein was daar elke aand ’n paar wat jy kon sien oorkom. En die tyd in die Kaap – hoe lank? Sy sal nooit weet nie, ’n jaar of twee? drie? nege maande? – kon sy weens die stadsligte wat sterre dof maak nooit so iets behoorlik sien nie.

Maar hier in die dreuning van die bussie wat oor die stil donker pad hardloop met byna geen ander kar op die pad nie, het sy soos baie van die ander passasiers begin inknik.

Snaartjie Windvogel het geslaap terwyl Jimmy Dludlu se kitaar saggies oor die taxi se luidsprekers speel. Hierdie minibus se naam was Jesus’ Boy, en die ryery was kalmer. One eye on the road, the other on the King of Kings is op die kant geverf. Die mense was ook anders, minder opgewerk en gespanne. Hulle het nie so op hul goed gelet nie. Bagasie was in ’n stapel op die dak vasgemaak, en van die spieëltjie het ’n swart-en-wit sokkerballetjie, ’n pienk plastiekkruis en ’n ou, droë hoenderpoot gehang.

Voort jaag hulle die nag in, Hopefield verby, Vredenburg se kant toe, waar iemand haar met die elmboog aanstoot en sy in ’n stil, verlate agterstraat uitklim. Daar staan leë taxi’s rond onder wat soos tydelike afdakke lyk. ’n Paar mense sit met hul rûe teen mure. Die straatligte gooi ’n geel glans oor alles. Haar medepassasiers word afgehaal deur familie wat met fietse opdaag, of in ou flenterkarre wat rook en met ’n gekraai van vrolike stemme vertrek.

Later is almal weg, dis net sy en die paar mense wat teen die mure sit-lê en slaap, die straatkinders wat oorkant die straat dronk van gomsnuif verbykom, verveeld aan die por aan mekaar, aan die koggel na Snaartjie. Hulle tel klippe op en gooi dit op dakke, verloor belangstelling en swenk om ’n hoek, toiingrig en verveeld.

Hul hande is groot soos krappe en hul lywe te klein vir hul koppe. Hul gesigte is klein getrek en net die monde is groot en die neuse rooi en nat.

Sy gaan sit in ’n donker hoek. Dit sal nie meer lank wees nie, weet sy, dan kom die ysvuur oor haar. Sy weet nie wat om te verwag nie, maar dit sal kom. Sy’t dit al gesien. Dit gaan nie maklik wees nie, maar sy moet daardeur, soos toe sy met haar dikwielfiets gery het van Hochschule, die plaas van Miss Edelweiss waar sy vioolles gehad het as dogtertjie, na Platdakkies op Matjiesfontein, na haar ouers se huis. Wanneer ’n haelstorm uitsak en korrels so groot soos klippers val en jy moet daardeur, want die flenterse doringbome bied geen skuiling nie.

Ek moet daardeur, weet Snaartjie Windvogel, ek moet deur die koue vuur van die hael wat my slaan. Ek moet die fiets se stange vasvat en ek moet trap en my nie steur aan my verrinneweerde lyf nie. Ek moet nie links kyk nie, ek moet nie regs kyk nie. Ek moet nie opkyk nie. God is nie bo my nie. God is in die áángaan. God is in die trap en die byt op jou tande. God is die vasbyt en die beslistheid. Die Here jou God is ’n harde God, hy is ’n God van woede en bestraffing, hy sal jou deur die vagevuur van withael stuur en manne sal jou naai dat jou poephol wil oopskeur. Wanneer daar bloed aan hul vole is, sal hulle tevrede wees dat hulle jou goed deurgenaai het en jy sal wegrol van hulle af. Jy sal die slym uit jou stert vee en jou hand uitsteek vir die sewentig rand.

Bewend, arms om die knieë sit Snaartjie in Vredenburg se laatnag-taxi-rank. As sy maar ’n jump kan kry. Wanneer ’n kar stilhou en jy vinnig inspring, uit die koue straat in die grand kar in met sagte radiomusiek en ’n stoel wat om jou rug vou soos ’n sofa. Vir ’n kort rukkie kan jy sien hoe ander mense lewe. ’n Jump sal haar nou red. Geld. Die pienk noot in jou hand. Dalk nog ’n twintig daarby. Sy sal kan koop wat sy wil. ’n Vinnige ene, ’n ou man se halfpap vool in jou mond.

Bewerig, koorsig, sit Snaartjie daar totdat, skielik, ’n taxi om ’n hoek gejaag kom. Son of Reggae. Dawerende luidsprekers. Skielik raak die skaduwees lewendig en meer mense as wat sy sou kon dink, kruip onder stukke karton en sinkplate uit.

Maar sy’s rats en druk vinnig tot voor in die tou. Sy weet nie waarheen die taxi gaan nie, maar uit hierdie geel lig moet sy uit. Dis asof die hele wêreld met ’n aaklige siekte oorval is, ’n geel plaag. Sy kry sitplek en toe die deur toeklap, gee iemand haar ’n zol aan. Sy trek diep in en voel hoe dit draaglik word, hoe dit haar gryp. Sy leun haar kop agteroor.

Hulle ry vinnig. Bob Marley dra hulle oor heuwels en dale en sy begin iets ruik. Dit moet die see wees, dink sy.

“Waarnatoe gaan jy op Paternoster?” vra die man wat die zol aangegee het.

“Reguit,” antwoord Snaartjie Windvogel.

“Dié pad loop nêrens anders nie. Hy loop teen die see vas.”

Sy kyk weg, sy wil nie met hom praat nie. Manne wat jou met praatjies vang. Wat met jou dinge wil doen. Wat jou koop asof jy ’n brood is. Vir hulle is jy spoeg of ’n drol of sommer net ’n hol. Sy draai haar weg, draai haar skouer op hom.

*

So, aan die weghardloop, het sy op hierdie dorpie aangekom. Sy’s afgelaai by ’n rooi petrolpomp en sy’t daar gestaan en die geraas van water gehoor. Sy’t na die see begin stap. Sy’t by ’n donker huis se waterkraan gaan drink, die kraan versigtig weer toegedraai. Een na die ander huis se ligte het afgegaan, die braaivure het gaan lê en later was dit net sy in die strate. Daar was ’n saaltjie teen die bult waar gospelmusiek hard gespeel is, daar was die een of ander konsert wat haar aan die kerkdienste op Matjiesfontein laat dink het.

Maar sulke plekke moet sy vermy. Dis verby, dis agter haar.

Sy was op haar pasoppens. Die Mercedes-stasiewa wat skielik om ’n draai kan kom, op haar af. Die deur wat oopswaai, die pompende oemf-oemf-musiek en die arm wat haar rof intrek en dan die rubbersambok uit ’n kar se buiteband gesny waarmee hulle haar boude en haar rug looi.

Omkyk-omkyk loop Snaartjie deur die stil stranddorpie se strate en toe bereik sy uiteindelik die see, oorval deur die groot geluid en die reuk en die gevoel van oopte. Die dondering van wat golwe moet wees teen klippe. Die reuk het haar aan ’n ingesoute merinovel laat dink, vars geslag, wat oor ’n draad agter die Marie Rawdon-museum op Matjiesfontein hang.

Die slagvel, die slagvel, het sy oor en oor gesê. Die koue het weer oor haar gekom en sy het van een skuitjie na die ander geloop en gebuk en oor die sand gevoel. Dit was vreemder as enige grond of sand wat sy al aangeraak het. Uiteindelik het sy onder ’n skuit met die naam Katvis ingekruip.

Sy was bang vir die groot Mercedes met die lang manne wat haar en die ander altyd in die vroeë oggendure uit die strate kom optel en teruggevat het na die huis in Soutrivier en later in Elsies en toe die woonstelblok in Parow.

Sy was bang vir die securities se karretjie met die manne in wat almal dink huise bewaak maar wat as ’n sideline ook vir die gangsters werk. Hulle patrolleer die strate wat oopgegooi is en hou die meisies dop dat hulle hul werk doen en hul jumps vat.

Sy was nou alleen hier onder die dop van die skuit, maar nie so verlore soos sy was in die karre van jumps nie. Sy was bang onder die boot, maar nie so bevrees soos by die huis in Soutrivier die nag toe haar viool stukkend getrap is en sy geweet het dat daar vir haar nooit weer ’n terugkeer na Matjiesfontein sou wees nie.

*

Hy is ’n ou man, reeds grys. Sy oë raak ál blouer hoe langer hy na die see kyk. Hy verlang na die kameravrou wat hy dekades gelede laas gesien het. Die bloedkol op die pad by Tweefontein kan hy nie vergeet nie. Hy woon alleen en sit op sy stoep oor die baai en uittuur met die yo-yo wat uitkatrol van sy vinger.

Sy huisie is klein en vierkantig. Dit staan noordoos gedraai met die rug na Paternoster se ergste wind. Voor die stoep sak die grond weg, en ’n paadjie loop af deur lae bietoubossies en los klippe na groot ronde rotse wat oor die strand verstrooi lê. Anderkant die rotse lê die skuite wat in allerhande kleure geverf is. Verderaan is die vismark waar hulle die snoeke vlek sodat hy hiervandaan die rooi en wit sien. En nog verder, die sandplaat wat die mense Voorstrand noem.

Hulle kom roep hom eerste. Dis kinders met ’n hond wat om hul voete blaf en hul stemme val om hom nes klippe wat doef.

Van alleen bly raak hy soms so sku vir geluid dat gewone stemme skielik te hard klink, en van uitkyk oor die sagte kleure van die see raak sy oë bederf. Wanneer hy dan moet dorp toe om voorraad te koop en in Vredenburg se winkelsentrum beland, lyk als skel en goedkoop, asof almal te hard probeer. Hy is verlig wanneer hy kan terugry met die dun teerpaadjie na die kus. Hy ruik sy Jeep se diesel en hou ’n rooivalk dop wat stip op een punt bo die vlakte fladder.

“Oom Ludo!”

Soiee-shoep!!

“Kom, oom!”

“Oom Vliepiering, kom help!”

Hy staan stug op en besef dat dit ’n groter noodgeval is as normaalweg wanneer stories soos rukwinde om die hoeke kom en klein warrelwindjies veroorsaak wat deur Kliprug se straatjies kolk. Sulke stories gaan lê weer opeens, maar nie voordat stof en opgekarringde blare en papiere op drumpels lê en selfs tot in voorhuise gestoot is nie.

Iets dringenders in hul stemme vanoggend.

Bekbaai toe, beduie hulle, en hy volg, kierie in die hand, die hond blaffend om sy hakskene, byt-byt aan sy sandale.

Hier voor hom hol die kinders uit, om die draai verby Blikkie Pizzeria met sy groen sinkmure en buitetafeltjies en verby die stukkie kaal veld links met die Eskom-kraghuisie binne die geroeste draadheining. ’n Entjie weg sit Kliprug se eerste huise, en dan sien hy Bekbaai wat voor hom oopmaak tot jy daar ver kan sien, tot by die rotsinham van Abdolsbaai.

Op hierdie hoogtetjie kom hy dikwels saans staan en leun op sy olienhoutkierie om die son dop te hou wat sy laaste hitte in rooie en pienke en oranjes uitstraal oor die see tot dit skielik wegplop, en dan is dit daardie koue uur net voor die maan begin styg en jy die sterre behoorlik kan sien en jy weet dat dit aand is.

Dan moet jy vuur maak as die winter straf is of in die somer kan jy nou op jou stoep sit en families veraf hoor stry en redeneer of lag. Jy hoor potte se deksels en soms die dawerende temamusiek van 7de Laan of ’n nuusberig wat uitgesaai word en jy sien karre drom by Voorstrand en in die donker is daar die dowwe gegiggel en bewegings van jongmense wat kom vry hier tussen die ronde rotse net duskant Gaatjie en stadig maar seker kom jou gemoed tot ruste, want dis geluide wat jy goed ken en jou derde glas is driekwart. Die voëls wat so rondtrap in die boom van jou hart raak stil en jy kan begin inkyk in die swart nag in sonder om te vrees en jy weet die baai lê wel daar in die donkerte. Die son sal wel weer opkom en die meeue sal hier kom hang om hul krappe te breek en die vissers sal hul bote die see in stoot en daar sal afwagting op goeie vangste en mooi stories wees.

Maar soms kom dinge by jou op waarvan jy nie seker is nie en praat jy jou mond verby en dis wat mense laat lag en nuuskierig maak en hulle met kameras laat kom om jou af te neem bedags op jou stoepie want jy is die ou kampioen.

*

Hy volg die jillende kinders wat ongeduldig omkyk omdat hy hom nie laat haas nie. Die oggend is vars en oop en uit die kom soos hulle afsak see toe slaan die reuk op van sand en klip wat reeds warm gebrand is en ver, tussen die klippe waar die diepsee begin, sit bootjies geduldig bo-op skole vis of werk deur die klipbanke waar die water nou kalm is en die kreef skuil.

Sedert die nag byna vyftig jaar gelede dat die dun skyf uit die lug gekom het waar hy teen sy Opel se wiel gestaan en water afslaan het, assosieer hy haas en drama met ’n aankoms uit die vreemde. Uit die nag tol die piering en hy onthou die sit van sy smoking jacket om sy jong skouers en die gevoel van sy swaar penis in sy hand en in die ander hand die bokspringende yo-yo en bo hom die koepel met sterre.

Hy onthou die ent pad en die flou kopligte van die Opel en hoe jy skielik onverwags ’n muskeljaatkat in die kopligte kan kry, of effens dof na die kante is ’n steenbok benoud teen ’n draad in die padserwituut vasgekeer of dalk ’n ystervark wat blind teen die padwalletjie staan. Hy onthou die tye toe hy op sulke paaie die Opel se koplampe afgesit het ná ’n goeie konsert en hoedat hy oor ’n ent pad die donker muur binnegejaag het, sommer as gebaar, sommer omdat die nag daar was en onvoorsiene dinge voorgelê het. Omdat hy homself wou toets. Omdat hy die klimtolkampioen was en vroue van hom gehou het.

Nou sak hy met die troppie kinders die Bekbaaiduin af en dadelik tref die souterige mistigheid hom.

Eers, vertel hulle hom gretig, hoppend van opwinding al om hom soos hy deur die dik sand ploeter tot waar die plaat harde strand begin, eers het hulle gedink dis ’n dooie rob wat rol in die branders met die skulpiesgruis wat die water grys laat skuim. Toe dag hulle dis ’n hond of dalk is dit ...?

Dit wás toe so, kraai een van hulle: “ ’n Mens.”

’n Tweede voeg by: “Die een skoen nog aan.”

Hy hoor die ooglede is al afgevreet. Die gesig is vertrek van groot skrik.

En hy dink: Dit wat ek nou hoor is hanekraai vir ’n lang verhaal.

Oor die sandplaat gaan dit makliker. Mense drom al saam rondom die homp wat wieg in die voorste uitstoot en dan stil lê. Hy hoef nie nader te buk om die man te herken nie: die kreefinspekteur.

Daardie een – so loop die warrelwinde hier deur die strate – wat al middelman was die ruk toe jy drywerslisensies kon koop by Vredenburg se verkeersafdeling. Net ’n tweehonderdrandnoot en jy kry jou lisensie en jy kan spoggerig uitry en niemand vra enige vrae nie, jy is wetlik.

Die een met die skewe skouer wat sy bakkie hier by die hotel kom parkeer en op die duin agter die bome gaan staan terwyl die vissers daar hurk en die see dophou om te sien of ’n skool vis opkom by Voorstrand. Hulle kyk agterdogtig na hom, want hy is op hul terrein, daardie duin is al geslagte lank hul uitkykpunt en daar sit hulle op slegte dae en tiep aan lou biere of soetwyn en wag vir die wind om te draai of die harders om te loop of die polisiebakkies wat die kreefverkopers koggel.

Die kreefinspekteur staan daar sonder om met hulle te praat. Hy weet dis hulle plek en dat hulle daar sit met kommer en dat dit ’n harde seisoen was. Hy weet dat hulle te veel drink en woedend raak en geen vooruitsigte het nie en toeriste se sigaretstompies optel en afrook tot by die filter, en tog staan hy hulle en terg met sy blote skaduwee wat oor die bietou en hul duin val.

Hy staan net daar en rook sy sigaret en trap die stompie dood, loop terug na sy kar terwyl hulle hom stilweg verwytend agterna kyk. Dan klim hy in sy kar en hy’s vort, Abdolsbaai of Tietiesbaai toe. Hy gaan kyk watter bote roei gou om ’n punt wanneer hulle hom sien aankom, wie sit doodluiters daar en uitkyk oor die see, die onskuld vanself. Hy doen sy rondtes, klets ’n wyle met Ankervoet, die hekwag by die reservaat se ingang, of daar by die vuurtoring gaan soek hy iemand op met seeblou in die oë en ’n onverwagse skuheid as ’n motor naderkom, ’n mens wat vir die see se buie alleen leef en net met homself praat.

Die kreefinspekteur soek iemand om mee saam kop te skud oor die smokkelaars en die deurbringers, die tikhuisie in Hopland se gangsters, die karre met berookte ruite en blink rims en die ou BMW’s wat laag op hul asse lê. Daardie karre wat deur geen kreefinspekteur se bakkie gevang kan word wanneer hulle eers vetgee oor die R27-kuspad na Bloubergstrand en Kaapstad toe nie.

Om Ludo is die geselsery skel en opgewonde. Die Klipruggers lig die inwoners van die duur huise en die gastehuise teen die see in oor wie die man met die afgevrete ooglede is. Ja, hy’s die ene met die karolie onder sy vingernaels. Kyk, jy kan dit sien, selfs die see kon hom nie skoonwas nie.

Hy koop mos altyd ’n roomys daar by die kafee, en twee bokkoms by Oep ve Koep. Dan sit hy dit teen die see en eet, eers die koue soet, dan die droë sout.

Dáárdie ene.

En die eintlike aanklag: Hy’s mos die een wat die kreefsmokkelaars so ongeskik jag en naweke onder sy DKW lê by sy huis daar in die straat naby Vredenburg se Pick n Pay, hy wat dinge wat nie reggemaak kan word nie wil opfix.

Dis hy wat rol in die water asof hy van sy eie lyf vergeet het. Bedrywig het die krewe op hom toegesak, en soek, soos mense ook maar maak en hierdie storie self doen, eers die sagste vleisies uit. Heel eerste, het die Klipruggers agterna gesê, vreet die krewe daardie grynslag voor sy tande weg. Nog nooit is in hierdie geweste gesien dat krewe só aan ’n dooie gevreet het nie.

Dat dit die man is wat hulle beskerm het, weet die krewe nie, dink Ludo.

Gou kom nog mense van Kliprug se kant aan, en van die string vakansiehuise in Blikkie se buurt draf mense oor, en van The Lodge kom kelnerinne oorgestap. ’n Klein skare groei aan. Vanuit die groot blokke beton wat as gastehuise hier teen Bekbaai aanlê, verskyn mense op stoepe en selfoonkameras skiet videoskote.

Die vissersfamilies wat afgekom het verby die ou begraafplaas, strand toe, word nou onrustig. Die man wat uitgestoot deur die see daar lê soos die gety terugtrek en hom verwese agterlaat, word noukeurig bekyk en die uitskel wat oor jare teruggehou is, word nou uitgehaal op die lyk. Al die frustrasies van bestaansvissery kom na bowe, en die gesukkel om krewe snags uit te smokkel Kaap toe. Verby hierdie man en ander soos hy. Die woede teen die owerhede en die dag toe hulle die ANC-man hier weggejaag het toe hy met bling-Engels aan hulle die kwessie van vislisensies kom verduidelik het.

“Fokken corrupt ...!”

“Daai corrupt ...!”

Mor hulle en een van die kinders skiet vorentoe, por met sy kaal voet aan die kreefinspekteur se skouer, gril en spring eenkant toe. ’n Vrou tel ’n mosselskulp op en gooi dit na die lyk, maar Ludo tree vorentoe en trek haar terug en swaai met sy kierie na die kinders. Hy trek op die sand met die kierie se punt ’n kring om die lyk en is bly die gety trek nou terug en geen branders stoot meer uit onder die lyk nie.

Die kreef verwyder hy en gooi hom in die vlakwater en hink terug na sy sirkel in die sand en geen mens sal binne die sirkel trap nie. Hulle luister na hom, want hy lewe hier by hulle en sit elke dag op sy stoepie en groet as hy gegroet word en almal ken sy stories van die vlieënde piering en die yo-yo en weet dat sy lewe ’n storie het en hulle het begrip daarvoor – hy is van hierdie dorp en ook sy gesig lyk gevreet en geplooi deur die soutwind en die harde son en die eenselwigheid van die dae.

Hulle het hom al male sonder tal laatnag die bultjie sien uitsteier voor The Lodge verby, op pad van die kroeg terug huis toe. Hulle weet hoe hy sommige aande hardehout slaan asof dit koeldrank is. Hy’t ’n vlieënde piering gesien en dit bring oneindige respekte, die respek wat ’n groot treiler se kaptein hier kry of iemand uit een van die ou vissersfamilies wat al verknot in ’n rystoel sit en ’n afstammeling is van die Portugese uitswemkaptein of latere matrose van ander skeepstragedies wat destyds uitgeswem het nadat hul skepe gesink het en vir hulle jong vroue gevat het hier onder die vissersmense.

Daardie soort respek het Ludo die klimtolspeler en wanneer hulle hom koggel, is dit goedig, want daar was ’n keer dat hy met sy kierie ’n duik geslaan het in ’n politikus se motordeur, die slag met die verandering van kreefkwotas.

En gouer as wat enigeen sou verwag, is Die Weslander se fotograaf daar en Ludo sien al die foto: die ou gryskop met hare wat alkant toe staan (subtiel rafel mens uit hier aan die kus, so subtiel dat jy nie eens weet dat jy stadig laat gaan nie) in ’n vuilerige swart hemp. Sy oumansbene eindig in leersandale en die yo-yo aan die middelvinger is in die een hand en die olienhoutkierie met sy verknotte knoop in die ander. Hy lees al die onderskrif oor die kampioen van weleer wat met sy kierie die woedende skares weghou van die arme kreefinspekteur se lyk.

Hy stap na die fotograaf nadat hy weer op die mense geskel het: “Het julle geen respek vir die dood nie?” en hulle luister, en hy sê vir die fotograaf, want hy sien homself op die koerant se voorblad, buite weste en vervaard. Agter hom op die foto (want kameras lok hierdie soort gedrag uit) sien hy jillende vissers wat spuug op ’n lyk waarvan op die foto net die onderbene met die een wit voet en die ander met skoeisel nog aan te siene is.

Vir die fotograaf sê hy: “Ek wil geen foto van my in jul koerant hê nie.”

Sy’s ’n jongmeisie, met die gretigheid van ’n eerste beroep.

“Niks is gewaarborg nie,” antwoord sy, skud haar krulle, en plaas haar donkerbril voor haar pragtige oë, oë wat kennelik nog min gesien het, so honger en vars is hulle nog, so oop en jy sou ook kon sê so leeg is hulle en ontvanklik, so opgewonde.

Hy draai om en gaan sit ’n entjie verder teen die duin. Die polisie se vangwa daag mettertyd op. Almal gril. Niemand wil die lyk help dra na die polisievoertuig nie. Uiteindelik kom die fris speurder van Vredenburg en hy krap die slakke met ’n mossel af, hy skraap die seegras weg en aan die een arm sleep hy die lyk oor die nat en toe die dik sand. Die speurder se voete plof oor die sand wat nou warm is en Ludo sit en stoom op die duin en voel duiselig. Die yo-yo sweet in sy hand.

Hy is verras oor die speurder se brute, woedende krag. Vir hom moet mens oppas, dink Ludo. Dalk het die speurder die kreefinspekteur geken. Toe hy by Ludo verbykom met sy sterk dye wat hom voortdryf, kyk hy oor sy skouer na die skare wat hom agternastaar: vissermanne met hande in die sakke, vroue wat al weer skulpe opgetel het, en ook stukke seebamboes, gereed om dit na die lyk te gooi, en kinders wat wye draaie oor die sand hol en wawiele maak: “Dalk maak julle of julle dit nie sien nie, maar kyk, kyk die hou wat hierdie dooie man teen sy kop gekry het. Kyk die bloed – dis wat die krewe gelok het.”

Hulle jou hom uit. Aan Ludo snou hy, vies, met sweet wat oor sy gesig loop en met sy broekspype tot op sy kuite opgerol, sy voete vol seesand: “Hierdie man is nie deur die see gevat nie. Hy is vermoor.”

Die speurder sleep die man tot in die skadu van die polisiebakkie.

Van die strand af begin die skare oor die duin terugkom, land toe. Hulle is ’n raserige groep, met honde stertswaaiend al op die rande en kinders wat opgewonde esse gooi oor die sand.

Hierdie lap Bekbaai is ’n serwituut, tussen die eerste straat, Sonkwasweg (vernoem na die Sonquas wat eens, eeue gelede, hier gelewe het), en die see. Oorkant Sonkwasweg lê die ou begraafplaas, eenvoudige vissersgrafte met skulpe of kalkklippe uitgepak. Verrottende stukke treknet span oor die boepe, met skulpiesgruis en plastiekblomme en miertjies en bye by die bietoublomme en ’n skewe hekkie wat jy moet oopstoot om die ou name en die boodskappe, sommige met die mes uitgekerf, op houtkruise te lees.

Daar is ’n skamel veldjie tussen Sonkwasweg en die see, met op die regte tyd veldkool en ’n reier wat snags wei. As Ludo laatnag tjoepstil wag, kom staan ’n steenbok wat groente uit agtertuine vreet naby hom. Bedags bewaak twee rooivalkies hierdie vierkante kilometer; hulle woon in die skoorsteen van die losieshuis, Die Opstal, en bespied die lap aarde en blits uit vir ete. Veldmuise glip oor die warm sand tussen die bietoubosse. Soms ry ’n stedeling hier in die veldjie in met ’n blinknuwe vierwielwa, in die tyd tussen Kersfees en Nuwejaar, en dan kom die Bekbaaiers uit hul huise, verjaag die onkundige mense en vee die voertuig se spore met rooikranstakke dood.

Die speurder besluit: die dokter moet eers laat haal word. Ludo klem sy klimtol vas. Die dokter is ’n stil man en sy praktyk lê agter die hotel, in ’n ou huis wat hy by die Walters-familie huur.

Ludo het juis ’n dag of wat tevore weer onder die indruk gekom van die dokter se ekonomiese gebruik van woorde. Maar dis ’n herinnering wat hy nou van hom wegdruk met krag wat hy nie geweet het hy het nie.

Ludo kom ook dan en wan by die dokter in sy spreekkamer. Jy kan kontant betaal en jou geldjie los in ’n piering en dan gaan jy in by die jongman en die kamertjie is eenvoudig en die ondersoekbed is met ’n skoon laken oorgetrek. Die reuk van Dettol en die versigtige vrae van die dokter is gerusstellend en ná so ’n besoek glo Ludo altyd dat hy nog tyd het om dinge reg te maak. Om die swerms voëls wat in sy kop dawer te laat bedaar en om gedagtes te hê wat sag uitstoot soos die see op ’n somersaand net voor donker. Sag soos die voorste branders met borreltjies wat oor die sandplaat skuim en klein voëltjies wat op komieklike, vinnige beentjies die plankton en seegrassies en klein goedjies vreet wat tussen hul tone in die louwater dryf.

Die dokter laat hom altyd weer glo dat daar tyd vorentoe is, tyd om te heel. Al is hy ’n kêrel wat nie baie praat nie. Hy vermy mense, eintlik, en hy’t in stilte op Paternoster aangekom, rondgevis oor blyplek, daar by Voorstrand oor die see sit en uittuur, die Walterse gaan opsoek en ’n kontrak geteken vir sy praktyk se kamers. Alles in een oggend, vinnig vir so ’n stil man.

Hy’s nogals goed met die tikkinders, is gesê, en met die vroue vol kneusplekke wanneer die skole nie loop nie en wanneer die toeriste skrikkerig is om smokkelkreef te koop. Hy is goed met visserman-knieserighede, met Benguela-borse en vislynsnye oor handpalms en moeë rûe en selfs tande. ’n Familiedokter, iets wat hierdie geweste al lankal nodig het. Uitnodigings (want daar was groot opgewondenheid oor ’n vrygesel hier op hierdie dorp van voortvlugtende geskeides, enkellopers en weduwees) na aandetetafels het hy vriendelik van die hand gewys.

Dit sou die nuuskierigheid net aanvuur.

Hy’t ’n kano gekoop en dikwels gaan roei, daar om die punt by die visfabriek, by die ronde klippe. In ’n helderoranje baadjie sit hy op ’n blink dag ingedagte daar op die water, en soms raak hy ’n stippeltjie soos die deining hom liggies uitneem, en dan kom hy met stadige hale van die spaan weer nader kus toe. Oplaas wieg hy op die vlak branders in en skuur sy kano oor Voorstrand se sagte sand. Met water wat van hom drup, sleep hy die kano uit en kyk op na Ludo waar Ludo op sy stoepie sit en na hom wuif.

Mense hou hom dop, hulle kyk hom deur, nuuskierig maar ook versigtig. Dokters is mense wat gerespekteer word, en hierdie een het ’n storie, dit kan jy sien. Hy kruip weg vir iets. Waarom anders sou ’n jongman soos hy hier kom woon?

Nie elke man roei so ver uit en sit hom so en verbrand op die oop see onder die genadelose son nie.

Dis hierdie dokter wat nou arriveer in sy afslaankap-MG met Dick Malgas die treilerkaptein saam met hom in die tweesitplek. Ankervoet, die hekwagter by Tietiesbaai, ry met een voet op die agterbuffer saam en die ander been wapper in die wind. Langs die fikse dokter met sy byderwetse bril, sy sportiewe haarstyl en sy mooi ken lyk Dick Malgas uitgekuier en sat. Hy sit die kar skuins, hy’s ’n oorgewig, sweterige man, ’n visser wat diep in die bottel kyk. Een van Paternoster se voorste bootkapteins. Daar word geskinder dat hy ook hier en daar ’n handjie in ander dinge het.

Joviale kriminaliteit is die term wat Ludo lankal aan iemand soos Dick Malgas se lewenstyl gegee het.

Ankervoet wat soos ’n spreeu op ’n onsekere tak staan en fladder op die agterbuffer terwyl die MG alle reëls oortree en sommer hier by die serwituut inry, laat die mense lag, party klap hande en fluit. Die kinders hol agter die MG aan, in die waas stof en ou bietoublare.

Die dokter klim uit. Ludo onderdruk die impuls om die yo-yo een maal uit te gooi, voor hom uit, phee-oep!

Dis spanning waarvan hy ontslae moet raak. ’n Dun spoortjie sweet biggel teen sy blaai af.

Die dokter lyk nukkerig. Onwillig druk die situasie die dokter nou die kollig in en hy baan sy weg deur die kring mense. Ludo gaan nie nader nie, hy het die lyk gesien, hy weet by watter gesig die doktertjie nou buk, en watter grynslag hy diagnoseer.

Ludo het die speurder goed gehoor: ’n hou teen die kop is opgemerk. Hy voel duiselig. Hy moet versigtig wees: die vliepiering.

“Ankervoet! Hoe het jy dan so gou hier gekom, hoekom sit jy nie by Tietiesbaai se hek op jou pos nie?”

Alle oë draai na die arme, stadige Ankervoet, wie se verstand vertraag is deur ’n haweongeluk jare gelede.

Ankervoet kyk vervaard om hom, begin draai op sy as. Vir hom is die son ’n diskolig, het ’n familielid van hom eenmaal verduidelik. In dié ouddiamantduiker se kop flits die son partykeer aan en af, dis die suurstoftekort, destyds, in die hawe. Die sluk van te veel seewater gemeng met bootolie, destyds.

“Ankervoet!”

Ludo staan nader, hy weet dis die eerste voeler wat uitgesteek word, die eerste van baie vrae wat later in beskuldigings sal ontaard: nie net teen die diamantduiker nie. Baie vingers sal gewys word in die dae wat kom, en uiteindelik, ook daardie bepalende, finale vinger.

Hy neem Ankervoet eenkant. “Toemaar, boet.”

Hy wys hom die yo-yo. Phiee-tjoep!

“Onthou jy?”

Ankervoet kyk na Ludo: “Oom Ludo, ek het hom mos laas met sy verkyker sien staan, oom Ludo, daar by Abdolsbaai. Langs sy voet het sy draadlosie op die rots gestaan. Hy’t na Radio Weskus geluister. Ek het die liedjie vergeet. Ek is jammer, oom. Ek onthou nie.”

“Ankervoet, jy praat altyd so mooi.”

Ludo kyk verras op: dis die dokter wat verbykom en hierdie opmerking maak – ’n seldsame volsin van die dorpspraktisyn.

Hy het sy ondersoek voltooi, kyk na Ludo en knik. “Hou teen die kop. Nadoodse ondersoek nodig. Hy moet na die lykshuis op Vredenburg.”

Dis toe dat Ludo opkyk en sien hoe Ankervoet stip staan en kyk en hy volg die diamantduiker se blik en sy eie oog val op Snaartjie Windvogel, die skulpievlegter. Sy staan daar op die hoogtetjie bokant die begraafplaas en soos gewoonlik kyk sy oor die baai uit op ’n manier wat jou laat besef dat sy nie hier is nie.

En daar, eenkant, staan adelbors Eenslie Maree, hy het seker verlof van die vlootbasis en het ook oorgestap en het nie vandag sy uniform aan nie en dalk is dit hoekom Ludo hom nog nie opgemerk het nie. Ludo sien dat die jongman van Kliprug met sy offisierskouers ook opkyk na Snaartjie Windvogel.

Soos altyd is Eenslie Maree se oë wyd oop en sy verstand rats. Ludo kyk dadelik weg. Hy wil nie hê dat die raserige Klipruggers Ankervoet en Eenslie Maree se blikke moet volg nie. Hy’t reeds gesien hoe vinnig vingers vandag kan wys.

Hy dink aan wat die vissers altyd sê: “Jy kan die see sit en kyk so lank as wat jy wil, hy bly na jou toe aankom.”

Die dag is gevaarlik, besluit Ludo en hy weet die vliepiering kan enige oomblik inkom en dan is hy pê.

*

Ja, so is die verliefdheid; dis ’n skip wat sink en elke troetelwoord wat jy haar wou toevoeg maar nooit hét nie, is ’n matroos wat aan wal moet swem.

Ludo onthou met verlange die vrou met die kamera wat hom kom afneem het jare gelede, in die sestigerjare.

Hy onthou daardie aand toe hy as amptelike verteenwoordiger van Coca-Cola Yo-yo’s in Namakwaland op daardie dorpie was. Die Opeltjie was nog blinknuut, en hy had twee yo-yo’s. Niemand het van die tweede een geweet nie. Vir die kampioen-mite was dit noodsaaklik dat mense glo dat daar net een kampioen-yo-yo is, nes ’n topviolis een viool het, of ’n jagter die geweer waarmee hy in die aangesig van die aanstormende leeu sy eie lewe al gered het.

Sy klein Stradivarius het hy altyd by hom gehad, dieselfde een wat deesdae langs die rekenaar se toetsbord lê terwyl hy op die Internet is, die toutjie om sy middelvinger selfs wanneer hy tik.

Oor daardie een yo-yo het hy baie gepraat want dit het legende gebou. Die klimtol was vir hom soos ’n ledemaat. Hy het dit beter as sy eie regterhand geken en nog meer, hy was een van die sonderlinge klimtolkampioene wat in sy vroeë jare met albei hande kon speel en ’n ruk lank het hy dit oorweeg om ’n tweede yo-yo vir ’n deel van sy vertoning by te bring, maar ná gesprekke met Coca-Cola het hy daarteen besluit omdat dit afbreuk sou doen aan die mite van die enkele, heilige yo-yo waarsonder die kampioen niks sal wees nie, die yo-yo wat almal begeer want dit is magies.

Vir die wis en die onwis was daar egter ’n tweede in die paneelkissie van die Opel.

Daardie aand in die jare sestig. Die watersak swaai nog heen en weer hier onder die voorbuffer toe hy voor die hotelletjie stilhou. Dit was iewers skuins die nuwe jaar in, en Krismis-mistletoe was nog vasgespyker bokant die hotel se ingang.

Iewers binne was ’n waaier opgestel. Wanneer jy by die voordeur inkom, ruik jy vlieëgif, rooipolitoer en broodpoeding.

Hy had ’n klein reistassie by hom, en daarby ’n klerehanger met sy smoking jacket, en dan, in sy hand, die klimtol. Die aankoms was belangrik. Stories loop gou op hierdie dorpies, en jy moet gewapen kom en jou banier moet wys. Wat daardie eerste persoon wie se oog op jou val en wat met jou te doene het waarneem, gaan vir hom of haar kosbare besit word in die ure daarna en jy moet weet dat hul indruk wyd en vinnig sal loop en jy moet vooraf daarop ingestel wees en jy moet weet wat jy doen.

Hy kom hier met ’n gevoel van oortreding.

Hy weet: hier word nie ligtelik gespeel in Namakwaland nie. Dit is die jare sestig en Verwoerd het weggebreek uit die Statebond en as jy die weer ken en die reuk van die wind en jy verstaan jou diere sal jy sien dat die hele natuur op ’n groot droogte bedag is. Dit gaan vir lank nie reën nie. Triestige tye wag op die Weskus en die hele streek deur die Karoo tot selfs by die grasveld Transkei se kant toe. Meer suid ook, verby die volstruiswêreld tot in George. Mense is versigtig en op hul hoede en daar is Uhuru in die noorde. Nonne word in die Kongo vermoor. En as daar die dag gespeel word, is die perke van die spel versigtig afgemeet.

Jukskei, en met swaar sugte word die stukke in die sandput geslinger.

Albaster. Solank dit kinders is, en solank hulle op die hitte van die dag hul kakiehoedjies op het en in die skaduwee speel, is dit reg. Maar as een ghoen te veel maai onder die bure se kinders, word daar gemaan oor gierigheid en ambisie. Respekte en mededeelsaamheid.

Kaart. Vreetpak en rummie, want dis te warm vir die konsentrasie wat brug verg; kaartspel, ja, by lamplig terwyl die motte spartel in die komme water wat by lampe uitgesit is op die stoepe. Oral staan die groot skottels louwater met ’n vlammetjie daarnaas en verdrink die motte in hul honderde.

Dis by die toonbank van die verteenwoordiger van hierdie stugge wêreld dat hy aanmeld. Sy ruik soet en hy kan haar geur moeilik onderskei van die reuk van vlieëgif by die ingang en die taai geur van broodpoeding uit die eetkamer. Toorballetjie in die hand staan hy daar, en buite gloei die logo op die Opel se deur. Haar oë soek die klimtol. Hy maak of hy die klimtol probeer toevou en wegsteek in sy hand, maar sy ken die yo-yo uit ’n artikel wat sy gelees het en uit gerugte wat sy gehoor het. Ook oor die draadloos is daar iets uitgesaai, so sy het dae gelede al besluit sy sal haar oë daarvoor oophou wanneer hy inboek, dit het hy geweet.

Met die truuk van kamma-skaam was daar egter ’n dubbele bodem, want hy was régtig skaam. Dit was ’n skaamte by hom oor spelerigheid, selfs oor sy aangenome naam wat speel beteken, Ludo. In hierdie wêreld leef mense hard en kry hulle swaar, en hiernatoe bring hy die blink spoggerigheid van ’n nuwe Opel en ’n smoking jacket wat oor die skouer gegooi is – dit terwyl almal met afgeleefde karre ry en kakieklere dra. Boonop het hy by hom ’n speelding, ’n niksnutstol, ’n kierangspinner.

Terwyl hy die register teken, voel hy haar oë op hom. Die ou tannie kyk hom metodies deur, en altyd maar kom haar oë terug na die klimtol, wat hy nou so half skuins agter sy rug hou.

Soos ’n nar wat buite die sirkustent graag wil beklemtoon dat hy ’n gewone man met erns is, glimlag hy nie vinnig wanneer hy nie op die verhoog is nie. Hy hou dit formeel, want dit gee ook status aan die spel en dan is trieks meer as ’n vermakery en dit word behendigheid en professionalisme en so kry hy meer respek.

Hy is ernstig oor wat hy doen en wy ure aan nuwe trieks en soos ’n balletdanser se senings is sy skouerligamente en selfs sy heupe en veral natuurlik sy rug gewoonlik soggens seer en taai. Sy hand hou nog en gelukkig sy elmboog ook. Dis wat by kampioene eerste gaan, die elmboog. Want by sekere van die moeiliker trieks moet jy jou arm kan knak en draai terwyl jou lyf nog agterna kom en dit kan jou beseer of op die duur knaende, stram pyn soos tandpyn veroorsaak en dan moet jy daaraan dink om te probeer aansluit by Coca-Cola se verkoopsafdeling of een van die botteleringsfabrieke.

Maar hy hou nog, hy is in sy praaim en hy sorg dat hy nie te veel drink nie want onthouding hou die oog suiwer. Sy trieks verg tydsberekening en sy gelaat moet helder bly vir die verhooglig.

In hotelkamers lê hy ook op sy bed en doen nougeset saans voordat hy aan die slaap raak sy Tromp van Diggelen-oefeninge. Dis die man wat jou leer spiere bou sonder dat jy ’n tree gee of ’n gewig optel, jy werk net met die span en ontspan van jou eie spiere, op jou bed in die stilte van jou kamer, en so bou jy jou liggaam.

Hy het baie eer vir mense soos Tromp van Diggelen en Harry die hipnotiseur en Charles Jacobie die cowboysanger en die kampioenskaapskeerder wat ’n merino-ooi in ’n minuut en ’n half kan omkeer en al die ander entertainers wat die dorpies deurwerk en op die platteland toer en altyd op die pad is soos trekvoëls wat nêrens sitplek kry nie, applous hul enigste tydelike nes.

Baie van hierdie entertainers beskou hom as ’n uitverkoper, want hy werk vir ’n Amerikaanse maatskappy en die klimtolkampioenskappe is ’n groot bemarkingsveldtog vir die koeldrank met die geheime resep, maar hy probeer nie te veel daaraan dink nie en in gedagte te hou dat niks bestaan sonder las en kompromie nie.

Hy probeer ’n vakman bly, ’n sportman en ’n vertoner, ’n trieker. Hy neem dit ernstig op en hou homself in toom.

Buitendien kom Jacobie se liedjies uit Amerika en lyk Harry op die verhoog nes die Wizard of Oz. Dis uitlandse verskynsels en hy glo die yo-yo het deel van die Groot-Karoo en Namakwaland geraak en is ingeburger soos Shell-petrolpompe en springbokbiltong en Joko-tee en selfs die Hallelujaboek, geen huis leef daarsonder nie.

“Is dit nou die speelding,” sê sy eerder as vra.

“Ja, tante. Dis die klimtol.”

“Dis nie die eerste klimtol wat hierdie geweste ingebring word nie, jy weet dit seker.”

“Ek het gehoor, tante, ja.”

“Ja, en jy weet waar dit ’n spul mense laat beland het.”

“Ja, tante, ek weet.”

Hy’t aan die Weskus gehoor van die kaptein wat eerste uitgeswem het terwyl sy skip nog aan die sink was en hoe die man aan wal gekom het met net ’n klimtol in die hand. Toe die strandlopers wat hier tussen die rotse seekos aan die uitkrap was na hom aankom, het hy ’n toertjie uitgehaal om sy eie lewe te red en dit terwyl sy matrose aan die verdrink was.

Hierdie Portugese kaptein het die voorsaat van baie Weskusvissers van latere eeue geword en hy sal onthou word as die lafaard met die klimtol, die eerste uitswemmer, die trieker. Die klimtol was lank in besit van die vissersgesin Malgas wat dit deur die geslagte aangegee het totdat ’n museum in Amerika dit kom koop het.

Dick Malgas se mense.

Asof hy oortree het, draai sy die registerboek uit sy hande weg, nog voordat hy behoorlik sy naam geteken het. Sy klap die boek toe. Dis ’n uitspraak.

Hy weet hoe hierdie mense se koppe werk: bewondering word as bestraffing uitgespreek. Sommige het op dié manier lief ook. Dis die kaalte en die ontbering en die niks op die horison, nie ’n wolkie in sig nie.

“Nou toe nou, Meneer Yo-Yo. Of moet ek sê Meneer Coca-Cola?” Daar is ’n ligte flankeerdery in hierdie sinnetjie. Skalks kyk sy vir ’n oomblik in sy gesig. Sy wag egter nie op ’n antwoord nie. “Vanaand eet ons springbokboud met mash. En brekfis begin halfsewe môreoggend, tot negeuur. Ons maak vroeg klaar want teen nege is dit al so warm mens kan nie aan ’n English breakfast met bacon en niertjies dink nie.”

“Maak so, tante.”

“Kamer drie, uit by daardie sifdeur, regs op die stoep, daar by die groen bank, langs die gassilinder. Moenie daar by die silinder staan en rook nie, ingeval.”

“Reg so, tante.”

“En sluit jou kamervenster. Iemand steel daardie handballetjie van jou en karring als deurmekaar. Hou hom op jou lyf.”

En toe hy al die sifdeur se handvatsel beet het: “Ek hoor hulle’t jou konsert van die kerksaal na die landbousaal verskuif.”

Hy vra nie uit nie, maar weet uit haar leedvermakerigheid: die kerkraad het seker gekla. Die logo. Die stadsinvloed. Die gespelery. Die geheime resep. Losse sedes. Amerika.

In sy kamer het die bad bruin ringe, en die sif voor die venster het ’n gat in en ’n brommer draai op die vensterbank, op sy rug, en kan nie op sy voete kom om weg te vlieg nie.

Vies sit hy sy yo-yo bo-op die Gideonsbybel wat op die spieëltafel lê. Langs die Dunlop-asbakkie.

Die almanak, met ’n mooi meisie in ’n bikini hier in Januariemaand, hang skeef en hy skuif dit reg. Dis ’n Shell Olie-almanak.

Iewers moet ek oefenplek kry, dink hy, hierdie kamer voel te klein.

Hy stap uit by die hotel se sydeur, die straat in. Die yo-yo-hand is in sy broeksak. Dit sal weldra koeler word en hy soek ’n stil plek, agter ’n gebou. Of ’n kraalmuur, hy gee nie om waar nie.

Hy moet oefen, die klimtol pyn in sy beswete palm. So kort voor ’n vertoning is hy diep oortuig dat hy sy ratsheid verloor het, hy weet vir seker dat hy geen triek sal kan uithaal nie, hy gaan vanaand op daardie verhoog sy enkel swik of die tou knoop en hy is onkapabel, vandag is die einde van sy loopbaan as trieker en hy gaan homself verneder en die dorpie se mense gaan van hom ’n hanswors maak. Hoe durf hy hier kom en voorgee dat hy iets besonders is, so spoggerig met die Opel en die smoking jacket en die rooi baadjie, en hom uitgee vir waffers?

Hy het sy oefenritueel om hom te laat bedaar, dis effe anders as sy optreeprogram. Jy moet die verrassing behou – ook vir jouself. Jy moet spontaan kan wees en die aand se energie ry soos ’n branderplankryer op ’n brander, één met die see en jou eie liggaamsgewig. Bedag op die weerstand van water en wind en swaartekrag en die uitstoot van energie soos die water vlakker raak en die diepsee van agter druk en die land jou nadersuig.

Jy moet jouself uitdaag daar op die verhoog voor al die oë, jy moet die oopte in met net die eerste drie trieks vasgestel en vooraf beplan. Dan neem die spel oor, dan is jy in die hande van die applous en die ratsheid van jou eie talent en die konsert volg sy eie diktaat.

Hy vind ’n ou skuur in die buitewyke van die dorp met daaragter geroeste plaasimplemente wat insak op hul eie asse. Brandnetels. Koeipis loop uit by die gat in die muur en in die voortjie af wat by die melkstal uitlei.

Ammoniakgeure, en hy plant sy voete wydsbeen en vee eers die yo-yo met sy sakdoek skoon. Hy moet versigtig wees dat die tou nie natsweet nie. Hy haal diep asem. Die dorp het min geluide en die skaduwees begin lank rek en hy hou sy eie silhoeët dop, afgeëts teen die wit kalkmuur.

Hy kyk hoe hy deur vertroude gebare gaan en al hoe meer begeesterd raak totdat hy nie van die wêreld om hom bewus is nie en dis net hy en die tou, die wonder van swaartekrag en spoed, die benutting van die kwartsekond, die uitspeel van sy egte self. Ja, dis soos hy dit al bedink het. Wanneer ek speel, is ek ek. Homo ludens, die spelende dier, die geliefde van die groen mannetjies, ek en die skuurgeluid van tou teen klimtol en die ratsheid van hak en kuitspier en pols en palm.

*

Die aand bad hy in koue water, bibber agterna ondanks die hitte in die kamer en trek sy smoking jacket aan. Die strikdas is maroen, en op sy pinkiering sit die logo van Coca-Cola. Hy’t ’n handvol rooi ballonne met die logo op. Hy moet hulle eers opblaas. Hy moet ekstra klimtoltou in klein plastieksakkies in sy binnebaadjiesak sit. Daar is ook die uitgesnyde kartonfoto van homself wat hy eenkant op die verhoog moet staanmaak. Dis ’n mansgrootte foto in sy Coca-Cola-baadjie met die uitskiettol wat spin en ’n groot glimlag op die gesig. Langs die gesig is groot geskryf, in dansende letters: Ludo Loeloeraai!

Met als stap hy die straat af, en vind sy weg na die landbousaal. Dis net langs die skuur waaragter hy flussies staan en oefen het. Die geur van koeipis en ou trekkerolie is sterk, en mense sit al versprei in groepies op die lusernbale toe hy binnestap.

Hy knik na hulle en hoedens word gelig. Fluistering. Agterdogtig hou hulle hom dop. Hulle is nie mense wat aan vermaak en vertonings gewoond is nie, en ’n gewyde stilte heers. Byeenkomste in die kerk is wat hulle ten beste begryp, en daar is jy op jou plek. By politieke vergaderings sal hulle stoele gooi en rumoerig raak, want dis vergaderings oor die boerdery en die swart gevaar en die Bloedsappe. Maar as dit by konserte kom, het hulle die gevoel dat als nie pluis is nie en daarom heers ’n soort gewyde agterdog.

Hy maak die ballonne aan ’n ou mower se sitplek vas en maak die kartonman eenkant op die verhoog staan en voel hoe die aanwesiges se aandag van hom na die fotobeeld skuif. Die verhoog is maar ’n voet of wat hoër as grondvlak en hy hou nie daarvan nie, want hy is te na aan die nuuskierige blikke. Hy verkies groot sale vol mense, en ’n verhoog wat hom verwyder van hulle. Dan is die blikke nie die nuuskierigheid van individue nie, maar ’n naamlose vraag.

’n Kragopwekker stotter iewers ver en drade loop uit van die ligte wat opgestel is na die masjien buite. Nou stap hy eers uit, hy het ’n optrede voor, hy moet inkom wanneer die saal vol is, wanneer daar afwagting is.

Hy weet wat voorlê. Die oomblikke nou is soos om teen ’n sterk wind fiets te trap of teen ’n seestroom in te probeer terugswem land toe.

Hy glimlag by homself: of, soos hulle in hierdie wêreld ligsinnig sê, het jy al aan jou aanstaande skoonma probeer verduidelik dat jy talente het?

Met sommige gehore hoef jy aanvanklik min te sê – hoe geesdriftiger hulle is, hoe minder hoef jy te praat. Spel is dan alles. Maar in hierdie soort saaltjies, met hierdie bot gehore, hier is dit ’n ander saak. Soos ’n ou boer van Laingsburg eenmaal na sy vertoning in ’n kroeg aan hom gesê het: “Seunie, die mense was maar taai vanaand, nie waar nie? Ek dag jy moes jou inpraat in die skaam arms van ’n weduvrou in, só moes jy vanaand hier in die Karoo die weg vir jou trieks voorberei.”

Hy het vir taai gehore ’n klein voorbereide toesprakie. Oor die aard van die triek. Oor Tiekie die hanswors, oor Max Collie en die Groot Houdini en oor Dirk Ligter. Oor die veiligheidsnet van die touloper en die vuurhoepel van die tier. Die reisende toneelgeselskap van André Huguenet. Oor die halfhartige klimtolkaptein, die Porra wat sy skip eintlik heel laaste moes verlaat. Dié verhaaltjie voeg hy ten slotte by vir die ironie, maar dit gaan by almal verby, elke aand, hy weet al uit ervaring. Selfs die neerhalende woord ontlok niks. En tog het hy nodig om homself te kasty met sy voorganger die uitswemmer.

Hy gaan haal dit partykeer ver. “Speel is die wese van die mens,” sê hy, en weet hulle dink: As jy so ligsinnig speel, gee jy jou uit vir die duiwel.

Hy is ook gevorm deur hierdie wêreld en dikwels wanneer hy die yo-yo die eerste keer laat uittol, speel hy aanvanklik ook teen homself in. Sulke oomblikke sit daar ’n knoop in sy gewete.

Maar hy stap na binne met swier en met een haal is hy op die verhoog en is hy die trieker.

Toe sien hy haar. Sy is nie die soort vrou wat jy vergeet nie.

Terwyl hy voor die karige gehoor met die eerste uitstote van sy klimtol teen die skaamte veg en na buite net fleur en flambojansie wys, kom sy binne.

Gou speel hy net vir haar waar sy laggend, aanmoedigend en uitdagend met haar kamera voor die verhogie rondkruip.

Dan hier, dan daar, oor ’n ou omie se skouer, deur die speke van ’n ou wiel, skuins verby ’n lusernbaal, tussen die stugge mense deur wat later nie weet of hulle vir hom of vir haar wil kyk nie – so mik sy na hom en klik sy hom met flitsende kamera en later is dit net hy en sy in ’n skandemaak-konsert wat die tonge op daardie dorp nog lank daarna laat klap.

“Whoop!” gil sy met elke wawiel wat hy maak, “hei-yo!” met elke hopstappie en kierang.

Toe hy klaar is en die skaretjie uitskoffel en hy die stof van sy broekspype afskud en nogals verras kyk hoe hy nes ’n hoenderhaan daardie stowwerige verhoog vol sleepmerke en briekmerke en esse en vastrapkolle gedans het, toe is sy weg.

Die singgeluid van ’n klimtol op spoed het nog vibreer tussen sy ore.

Buite was dit reeds donker. Hy’t ’n Land Rover hoor brul en terwyl die Vroueklub se voorsitter voor die skuur se deure aan hom die wit koevertjie gee, kom sy verbygejaag. Met die naderry sit sy haar kopligte aan asof sy hulle koggel, en dan is sy verby, sixties-haarstyl, rooi lipstiffie – daar gaan sy.

Die enkele oomblik dat hul oë stip ontmoet het, het dit gesmee. Hy sal haar uitdagende, opgejaagde blik nooit vergeet nie. Hy het iets van sy eie geaardheid gesien: die energie van die oomblik, die afgrond. ’n Soort roekeloosheid.

Jy sien net gruisklippers spat en rooi briekligte blits en die skynsel van rooi deur dwarrelende stof en jy ruik diesel en kug-kug moet die oues van dae die handjies mond toe lig.

Die dorpie het min straatligte, maar hy sien mense is traag om huis toe te gaan. Hy weet wat hulle dink: Wat het vandag hier voor hul oë afgespeel? As dit nie ’n spektakel van vrygeeste was nie, wat was dit dan anders?

“En die dame?” vra hy versigtig aan die Vroueklubtante.

“ ’n Mevrou uit die stad wat rondry en kiekies neem.”

*

Hulle het hom eerste kom roep om die kreefinspekteur se lyk te eien, want sulke tye soek mense na standvastigheid. Hy is mos maar altyd daar met sy grys bos hare voor sy huisie met die blou deur op hierdie dorpie met wit huise wat karig soos ’n halfmaantjie skulpiesgruis om ’n baai uitgestrooi is.

Die Benguelastroom stoot op vanuit die suide en Antarktika. Dit vloei dig teen die land aan en is koud en ongenaakbaar. Baie vissers het hul lewe in hom verloor – ’n sterfte wat jou eers laat slaap terwyl jy dryf en lomerig verkluim en dan beswyk. Sommige mense sê dis teen die einde ’n vredige sterfte, maar hy weet nie en dis dalk iets om in gedagte te hou.

Misbanke bol soggens in die somer diep die droë binneland in, en in die middae ruk ’n wind vol stof en opgejaagde sand aan Paternoster se vensters en deure en draai honde wat aan kettings vas is hul rûe na die suidooste. In die winter is die dae glansend en windloos. Gestroop van die somer se stowwerige winde wag als skrikstil en helder, asof in ’n foto.

Die rotse hier net onder die bultjie voor sy huis is vol graffiti, want die visserskinders in hul tienerjare het daar tussen die klippe hul eerste ervarings en kraai hul opstandigheid en erotiese oorwinnings in groot letters uit.

Dan maak die baai oop in lig en blou wat verskiet oor die gladde sand van Voorstrand. Die kromming van wit branders strek so ver soos die oog kan sien.

Die deining is vlak en geen groot strome trek water uit hierdie baai nie. Daarom lê die visserskuite in allerlei kleure geverf omgedop hier op die plaat onder sy voordeur en het ’n vissersgemeenskap kom sit op Kliprug, die buurt skuins agter sy huisie, dekades gelede al.

Baie van die vissersgesinne het eers laer af gewoon, teen die see, maar Apartheidswetgewing en groot geld het hulle uitgedryf, sodat hul huise nou hier teen die bultjie klou soos mossels op ’n vistreiler se kiel.

Op ’n goeie dag sit seevoëls wiegend op die blougroen water van die baai of laat val hulle seekrappe op die harde sandplaat om hulle oop te breek en dan duik die voëls agterna om raserig aan die stukkende krap te staan en pik terwyl ander om hulle fladder tot iemand wat op die strand met ’n hond stap hulle dalk verwilder; dit is wat hom aan die liefde laat dink.

Niks van sy ratsheid met die yo-yo het oor die jare getaan nie. Dit is asof sy vermoë om vinnig en sekuur met die houtballetjie en tou te werk sy laaste sintuig is wat sal gaan, lank ná sy sig en sy potensie en sy gehoor, lank ná sy slag met mense en sy hardkoppigheid en sy eensaamheid en sy begeerte na ’n lyf by hom in die bed – lank nadat al hierdie dinge weg is, sal sy hand nog behendig speel met swaartekrag en spoed. Met die kwartsekond en die knak van die pols en die sagte vangkant van die oop, slim palm.

Die dokter het hom al vertel hoeveel beentjies en spiere in die hand sit en hoe ingewikkeld beweging is en hoe die senuwees loop en hy weet dis iets om te koester, jou speelhand.

Dis ’n spesiale talent wat hy het. In sy beste jare het hy lig gedra aan sy faam, maar nou sit hy hier aandagtig en kyk hoe die vissers op mooi oggende met Land Rovers op die sandplaat uitjaag en met hul bote agterop treilers groot halfmane oor die sand trek.

Die Land Rovers tru die see in, laat die boot uitgly op die water en terwyl dit dryf, vroetel vissers met toerusting – kreefmandjies en lyne vir snoek en dalk ’n opgerolde treknet vir harders as die skole loop en die wind reg is. Geklee in ’n dik oranje lyfpak pak die kaptein die buiteboord se handvatsel en gee vet sodat die eenvoudige skuitjie sy neus lig en jy is verras oor die skuit se spoed en die opwinding waarmee geharde vissermanne wat ’n karige lewe maak op ’n mooi oggend vol belofte die see kan in.

Soos die bote die een na die ander uitgaan, elk met twee tot vier man aan boord, trek hulle skuimstrepe oorkruis die see in, sommige op pad óm die punt met die visfabriek na Bekbaai en Abdolsbaai, ander kies koers noordoos, na ’n rif wat jy net kan sien as die lig reg val en jy jou oë op skrefies trek om die hoë spat van skuim dop te hou.

Motors hou soms stil en kameras klik om die ou klimtolkampioen met die yo-yo af te neem waar hy op sy stoepie sit. Op sulke dae klik hulle die foto’s wat in Weg! en op Facebook verskyn en wat die idilliese beeld skep van ’n romantiese vissersdorpie.

Die skittering van lig en die buie van mis.

Maar hy het ’n droom en dit is om die yo-yo terug te bring na hierdie geweste, hier teen die harde kuslyn op, van Yzerfontein deur Saldanha en Hondeklipbaai, verby Paternoster en Velddrif en St. Helenabaai en op na Lambertsbaai en verder noord, na die diamantduikers en dieper die binneland in ook. Na Pella met sy dadelbome en nonne en na kopermyndorpies en dan na die harde plaat aarde wat hulle Namakwaland noem. Ook na Garies en Springbok en dalk, as hy gelukkig is, slaan geesdrif vir die klimtol uit na die digter bevolkte gebiede waar die koue invloed van die Benguela vermild en wingerde begin, verby Malmesbury Boland se kant toe, hy weet nie, hy hoop maar.

Vir hom sal dit ’n terugkeer wees na eertydse glorie en dit sal hom weer vuur gee en hom bevry van Tweefontein en snags in sy drome sien hy yo-yo’s op die dek van ’n diamantboot, onder ’n dadelpalm by Pella, voor ’n droewige vulstasie op Garies:

Foe-ap! Foe-ap!

Klimtolle wat teen handpalms vasslaan.

En wggggg! Wgggggg!

Klimtolle wat aan toutjies spin, grondlangs, grr, grr op die gruis, “Kom, Wagter!”

*

Maar hoe sou hulle weet wat daardie nag buite Tweefontein en daarna gebeur het? Die besoekers wat stilhou en ’n foto van hom voor sy huisie neem, dink hy sit daar so vredig soos die see. Maar wat onder die kalm pastel van die Benguela roer weet hulle nie.

Hy’t ná die slag stilgehou en rondgekyk vir dalk die skynsel van plaasligte, maar daar was niks. Toe kyk hy eers in sy truspieëltjie. Niks. Net donker. Hy trap op sy briek en toe die briekligte ’n rooi skynsel oor die pad gooi, sien hy.

Die stukkende fiets en opgefrommel die kind. Die voorste fietswiel wat eenkant lê en spin. Die kind – God, dit was ’n arm, los van die lyf, afgeruk.

Hy’t uitgespring en gegil, niemand sou hom hoor nie, hy’t geskree “God!” en hy’t teruggehardloop en wou die arm optel en by die gesig neersit, daar by die bloed wou hy dit neersit asof hy alles wil heelmaak. En toe dink hy, moenie in die bloedkol trap nie, hulle gaan jou spoor vat.

Toe kyk hy verder agtertoe en daar was geen kopligte wat aankom nie. Net die kind met sy gesig half onder die fiets in. Dis toe dat dit gebeur het: sy hele lewe wat omswaai en dit was in daardie een agtertoe kyk – wie het my gesien? Ek kan nog wegkom!

Dit het alles verander. Daardie oomblik.

Hy’t teruggehardloop na sy kar en sy ligte afgesit en die Opel het gesukkel om te vat en hy het in die donker weggejaag. Die pad was ’n vae lint voor hom. Skielik dag hy: As ’n kar van voor kom, gaan hulle juis jou nommerplaat kan lees. Maar ook – is die nommerplaat nog daar? Hy sal moet terug as dit by die kind agtergebly het. Hy’t stilgehou en, dank God, dit het nog gesit. En toe sien hy eers die skade, die duik en die skewe buffer en die bloedskraap.

Sit aan jou ligte en die kar sal nie kan sien wie dit is nie. Maar daar was, gode behoede, geen ander motors op die pad daardie nag nie. Eers toe hy by die N1 inswaai, was daar weer karre. En toe het hy sy storie agtermekaar. Só lyk die bloed van ’n koedoe. En só lyk jou kar wanneer jy op volspoed ’n koedoe skrams tref.

Ja-nee, die groot bul het weggehol, sleg gekwes maar homself oor die draad langs die padserwituut opgeraap en hy’s weg, die bosse in.

Ludo het hom die toneel só deeglik ingedink dat hy reg was om dit te glo. Hy’t hom ingestudeer. Soos ’n triek.

Hoe hy, nadat hy die bok getref het, eers stilgehou en ’n ruk lamgeskrik gesit het voordat hy uitgeklim en die skade bekyk het. En ’n skietgebed opgestuur het dat die liewe Vader hom uitgespaar het.

Die N1 was gelukkig ook nie bedrywig nie en tot die dag begin breek en deur die oggend het hy suid gery met die een koplig en die storie van die koedoe wat so maal in sy kop dat daar later byna geen sprake meer was in sy geheue van die kind se af arm en die spinwiel en die kind se gesig half weggesteek onder sy geskeurde hemp nie.

Dit sou later terugkeer, aanhoudend, met die ritme van ’n klimtol.

Klimtol

Подняться наверх