Читать книгу Klimtol - Etienne van Heerden - Страница 5

Оглавление

TRIEK TWEE

Kom, Wagter! (“Walking the dog”)

As jy die Spinner onder die knie het, is Kom, Wagter! kinderspeletjies. Gooi die Spinner en laat die klimtol tot op die grond sak. Hy sal outomaties skuins voor jou stap, nes ’n hondjie. Walkies! Hou die halsbandjie styf vas! ’n Plukkie en goeie tydsberekening en jou klimtol is terug in jou hand ...

Snaartjie Windvogel het ’n jaar voor die kreefinspekteur se dood op Paternoster aangekom, ook in die somer. Daar is baie mites oor haar eerste oggend, maar Ludo het dit met sy eie oë sien gebeur, want dit het hier onder sy huisie op die plaat sand begin, by die omgedopte skuite, en dis onder so ’n skuit dat sy een helder oggend baie vroeg uitkruip, die sand uit haar hare klap en verbaas na die see staar.

Sy dra oorbelle wat te blink is vir die daglig en haar rokkie is goud vir die diskoligte en dit sit te knap en te kort vir hierdie plek en hierdie oggend. Sy stryk dit plat asof sy dit só langer kan maak en besluit om nooit haar rug te draai op hierdie ding, hierdie see nie.

Haar eerste indruk is dat as jy met hom wil speel, jy versigtig sal moet speel. Dit lyk of sy bodem te klein vir hom is, dink sy. Kyk hoe onrustig, hy bly uitstoot, uitstoot, en nooit raak hy stil nie. Sy kyk na hom soos na ’n man en dink: Moenie vir my kwaad wees nie. Kyk, ek draai nie weg nie.

Alhoewel sy baie lank in Kaapstad was, het sy oordag nooit naby die see gekom nie. Dis dus nou haar eerste oogopslag op die deining en onrus en die breedte van die oseaan en die instoot van branders en die vreemde manier wat die see het om terselfdertyd vriendelik en kwaad te wees.

Dis die oggend dat haar pad sal kruis met die pad van Eenslie Maree, boorling van Paternoster, maar sy weet dit nog nie terwyl sy die sand uit haar hare skud en haar rok regtrek en die see se geur inadem nie.

Eenslie Maree sien haar van ver waar hy afstap strand toe en sy tred word lig en gretig. Hy is ’n jong vlootsoldaat by SAS Saldanha. Die basis sit om die punt by Tietiesbaai ’n ent verder af Kaap toe en hy’t pas uitgeklaar as adelbors.

Alhoewel sommige mense meen dat die vlootbasis uitmekaar val, het Eenslie Maree die see in sy bloed. Hy’t besluit om sy seile na die wind te span en hy dien die vlag. Hy begin as arm kind uit Kliprug se haglikste straat in ’n tyd toe die kreef diep in gate terugtrek, die snoek nooit loop nie en die uitkykers op die duin waar hulle sit en rook nooit die flikkering deur die water en die donker swaai van ’n skool harders gewaar nie. Dis ’n tyd van ontbering toe sy pa moes weg by die visfabriek en sy ma haar werk by die gastehuis in Voorstrand verloor het.

Hy begin in die Vloot as hondehanteerder en leer om die hond te beheer en deur vuurhoepels te laat spring. Snags neem hulle hom en sy maters ver uit in die buiteposte van die basis waar hektare veld lê met, so hoor hulle, tussenin ondergrondse ammunisiemagasyne. Maar hulle sien nooit valdeure of ingange nie. Dalk is dit net ’n storie om hulle tydens hul wagdienste op en wakker te hou. Hulle hoor dat as daardie magasyne ontplof die hele Saldanha in die see sal inskuif.

Hulle moet die grensdrade patrolleer daar waar die branders teen rotsplate uitslaan en waar ’n duikboot van ’n vyandige land dalk kan ingly. Ook hier teen die kante af waar die township nie ver is nie en skollies dalk oor die draad kan kom om te kyk wat hulle kan aas.

Hier is gewere opgeberg: R1’s en baie patrone en handgranate en mortiere ook. Die Kaapse bendes praat deesdae Russies en Chinees en beweeg groot en wyd en in Afrika in. Wapens van hierdie aard, is aan Eenslie-hulle tydens opleiding verduidelik, is vir hierdie bendes poeding en dis ’n geheim maar by ’n basis verder suid, nader aan Kaapstad, is die magasyne een nag leeg gestroop.

Hulle moet altyd paraat wees. Aan die begin kan jy nooit jou rug op jou Alsatian draai nie, want al om die jaar word die hond na ’n nuwe hanteerder aangegee en die hond het lankal leer wantrou. Twee hanteerders lei een hond op. In die eerste twee weke loop elk met ’n leiriem om dieselfde hond se nek. Op en af loop hulle vir ure. Elke hanteerder hou sy leiriem styf vas en sorg dat die hond nie sy tweede hanteerder aanval nie. So hou hulle die hond van mekaar weg en bou hulle in die eerste plek kameraadskap teenoor mekaar. Ten tweede raak die hond later gerus en hul reuk gewoond en besef dis sy twee nuwe base.

Met aggressie-sessies een maal per week word die hond aan ’n paal vasgemaak. Een van die ander honde se hanteerders moet jou hond ure lank met ’n sak slaan en piets en koggel sodat hy alle liefde verloor en waansinnig raak. Só word hy ’n aanvalswapen. Dis harde werk maar die honde knak nooit nie. Dis ook kwaai op die hanteerders want dis wreed en om ’n hond so mal te sien raak van irritasie en vrees vir die val van houe, hy weet nooit van watter kant kom die hou nie. Ná so ’n sessie is jy katvoet om jou hond rond want jy weet hy kan jou aanvat, hy is nou blind vir als.

Snags, op ’n stuk teer onder geel spreiligte met die donker hompe van ammunisiemagasyne in die bosse en ’n oog op die bietou en met die veraf geur van rookvure uit die township en die sout van seebamboesplate wat oopgetrek lê in die laaggety, sit Eenslie en sy maters elk met hul hond. Hulle trek die honde se pienk piele af.

Dit is nie amptelik deel van hul opleiding nie. Maar dis ’n wenk en ou hanteerderswysheid wat aan hulle deurgegee word in die eerste dae van hul opleiding om die hond aan die hanteerder te bind en te verseker dat hy nie eendag omvlie en die hand wat hom voed byt nie. Jy moet altyd dieselfde hand gebruik om hom mee af te trek. Dis ook die hand wat jy moet gebruik om die hond uit te kam en dit doen jy nadat jy hom seks gegee het. Die hand waarmee jy ná die wagsessie die bak Epol by sy hok instoot.

Met die ander hand dra jy die leiriem en bring jy jou fluitjie na jou lippe en steek jy die vuurhoepel aan die brand. Dit is die geheim van lojaliteit. Laat die hond duidelik verstaan watter hand doen wat. Wie dra die regterhand aan sy arm en wie besluit wat wanneer sal gebeur.

By skougeleenthede is Eenslie die een wat met sy regop rug, sy mooi, besliste maniere en sy fier Alsatian die meeste applous ontlok. Die offisiere sien hoe hy sy hond sekuur deur die vuurhoepels laat gaan. Daar is nie ’n aks fout met sy oefenroetine met die dier nie. Die hond vertrou en verstaan hom. Dis altyd ’n goeie teken as ’n dier iemand aanvaar, en ná ’n landbouskou op Vredendal waar Eenslie besonder gewild was onder die skare, word hy een oggend by die vlootbasis ingeroep en ’n adelborskursus aangebied.

So word hy adelbors. En op hierdie oggend dat Snaartjie Windvogel onder die omgedopte Katvis op Voorstrand uitkruip en stomgeslaan vir die eerste keer in haar lewe die see sien, kom hy van sy ouers se huis op Kliprug fluit-fluit in sy adelbors-step-outs afgestap. Dis die eerste keer dat hy sy step-outs op verlof mag dra en hy lyk uitgeknip die jong offisier van SAS Saldanha. Die opleiding het goed met sy lyf gewerk. Die dae in die rubberduck uit op die oop see en met die R1 en volle toerusting teen die duine uit en die dissipline van vissermansknope en navigasie en noukeurige strykwerk en versorging van sy uniform was goed. Agter hom lê die opmaak van sy bed en die boun van sy stewels, asook die ingewikkelde boot- en wapentoerusting wat hy flink onder die knie moes kry. Nou stap hy fluit-fluit met ’n donkerbril en sy oog val op haar en dis liefde met die eerste oogopslag.

Die strand is verlate en voetjie vir voetjie stap sy na die water. Daar bo by sy huisie met die blou deur sit Ludo en hou die twee jongmense dop wat deur die natuur na mekaar aangetrek word en hy dink: Dis in die sterre geskryf.

Sy is ’n pragtige meisiekind met lang bene en goeie dye, kuite soos twee visse en regop borste en hy is ’n jongman in uniform met ’n reguit rug en die soort skouer wat jy weet die goue offisierstrepe sal kan dra, daar is net iets aan hom wat hom uitknip vir die Vloot.

Dis ’n jaar voordat die roblyf in Bekbaai se water rol en Ludo is eensaam en babelaas. Hy weet nie wat voorlê nie en dis goed so want geen man moet weet wat op hom wag nie want dan is hy geen man meer wat dapper gesig in die wind invaar nie, dis ’n wysheid wat hy ken.

Maar later sou hy tob oor die ontmoeting tussen Snaartjie Windvogel en Eenslie Maree en hy sou dink: Wat het hierdie twee jongmense wat van mekaar niks geweet het nie na mekaar aangetrek soos twee magnete, hoe werk dit dat iets in jou ’n ding in iemand anders herken en eers later, dikwels oor jare heen, ontrafel julle die rede vir jul aangetrokkenheid?

As jy Snaartjie Windvogel se geskiedenis ken, haar ontvoering uit Matjiesfontein deur die lang manne en wat sy oor die loop van vier jaar in die nagstrate van Kaapstad moes deurmaak, begin jy verstaan. En as jy weet van Eenslie Maree se kinderdae en hoe hy anderkant moes uitstoei, dan weet jy die oggend was vir hulle albei ’n aankoms op Voorstrand en dalk ’n nuwe begin.

*

Vir Ludo was adelbors Maree ook ’n trieker. Hy het in Eenslie se houding die aard van die entertainer herken. Eenslie was ’n keer met sy Alsatian op die sokkerveld by Hopland en Ludo het gesien hoe laat werk hy sy hond en hoe speel hy vir die skare en hoe geesdriftig hulle oor hom was.

Ludo het gesien hoe Eenslie energie trek uit die mense wat hom dophou en hoedat applous sy lyf laat gloei en Ludo het geweet toe hy hom daar sien afstap het Voorstrand toe dat Eenslie die adelborskeps met die goue wapen daarop dra met dieselfde houding.

Ludo hou die twee dop terwyl die klimtol aan sy vinger wieg: hoflik trek Eenslie sy uniformbaadjie uit en hang dit om die skouers van Snaartjie Windvogel, dis ’n erotiese gebaar en hy palm haar in. Die twee praat en dan kyk Eenslie op en neem Snaartjie aan die elmboog. Hulle kom by die ronde rotse vol graffiti verby en begin die kurktrekkerpaadjie na sy huis klim.

Hy groet die jongman vriendelik want hy weet in die geselskap van ’n meisie moet jy ’n jongman eer want hy het respek nodig: “Adelbors Maree, Eenslie.”

Op ’n manier wat hom laat besef dat sy met mans gewerk het steek sy haar hand na hom uit en sê “Snaartjie Windvogel”. Hy ruik die langpad aan haar en stel sy badkamer beskikbaar. Terwyl hulle luister hoe die krane loop en sy haarself was, sit Ludo en Eenslie voor die huisie en Eenslie sê: “Sy kom van die Kaap af en verder is sy stom.”

“Los haar, sy sal praat as sy moet.”

Eenslie kyk na Ludo en gaan na binne en sit die ketel aan. Ludo hoor hom met die blikbekers werk. Wanneer sy met nat hare uit die badkamer verskyn, drink hulle koffie en sit sonder om te praat en kyk hoe verjaag ’n hond die meeue wat krappe op die sandplaat vreet. Die voëls skrik op en fladder halfhartig eenkant en kom sit weer totdat die labrador weer braaf naderstorm en aan die stukkende krap snuif, ’n hap vat en gril.

“Jare gelede,” sê Ludo naderhand nadat hy ’n CD met sagte vioolmusiek gaan opsit het en hy opmerk dat sy sy yo-yo dophou, “het ek ook so op Paternoster opgedaag. Vir my was dit ’n dorpie aan die einde van ’n baie lang pad en toe ek hierdie baai sien en hierdie huisie leeg sien staan nadat ’n groot tragedie die inwoners getref het, het ek hier ingetrek en die eerste nag daar in die sitkamer se hoek op die vloer geslaap tussen hondedrolle en vlermuismis, want die huis het lank leeg gestaan en ek moes hom weer méns maak.”

Hy kyk na Eenslie. “Eenslie was nog ’n seuntjie hier agter in die skool wat in daardie dae die Kleurlingskool genoem is wat sy knie nerfaf geval het op die skoppelmaai en smiddaens het hy en sy maters daar onder geswem of kom kyk hoe ek my yo-yo se sake vir hom werk.”

Toe hy sien dat sy begin ontspan, neem Ludo haar leë beker by haar en sê: “Jy kan by my oorbly tot jy vaste blyplek kry. Hier agter is nog ’n kamer.”

Hulle skrik toe sy Eenslie Maree se uniformbaadjie van haar skouers afgooi. Dit beland op die grond en sy stamp haar stoel om en sy hardloop. Sy hol Blikkie se kant toe en Eenslie wil haar volg, maar Ludo pluk hom aan die arm terug en sê: “Sy is wild en sy het tyd nodig.”

*

Sy gooi die baadjie eenkant en die ou man spring ook op, vaal geskrik. Sy hol weg van die huisie en die see waar die water uitplaat oor die strand.

Sy gaan kruip weg agter bietoubosse op die rand van die dorp, die hele dag. Sy slaap en word wakker en slaap weer. Met skemerdonker gaan drink sy by ’n leë huis se tuinkraan. Sy steel klere wat aan ’n draad vergeet is af en vat wat sy dink haar lyf sal pas. Sy is lus om mansklere te steel en dit aan te trek. Want dan sal niemand haar herken nie. Maar sy was nog nooit in mansklere nie en sy vat vrouegoed. Die nag vlug sy deur leë erwe en struikel oor ’n eiendomsagent se bord. Daar is geen mens op straat nie. ’n Hond blaf na haar. Dan hoor sy ’n motor. Dit kom om ’n draai en die ligte val op haar. Daar is nog ’n lig. ’n Straal wat deur die mis boor. Die soeklig spring om haar en ’n keer vang dit haar. Sy voel soos ’n springhaas in die Karoo wanneer die boere agter hulle aan rondjaag met soekligte op die bakkies se dakke.

Sy hol skuins en koes agter ’n halfgeboude huis in. Die kar kom vinnig aan, ry om die blok om haar te probeer afkeer. Sy buk weg agter ’n sinkplaatmuur. Die hele plek, lyk dit haar, is in aanbou. Op Matjiesfontein het jy nooit nat sement geruik nie, maar hier – dit lyk of dié stuk dorp net bakstene en sandhope en gruis is.

Daar is die kar met die lig! Sy hol en koes agter ’n huis weg. Sy lê laag en wag. Op en af patrolleer die kar. Ultimate survivor is op hom geskryf. Later ry dit weg.

Daardie nag gebeur dit so dat iemand klippe gooi deur die vensters van ’n hele paar huise waarin geen mense is nie. Niks word gesteel nie. Dis ’n kwajong wat stelselmatig deur al die dorp se buurte gewerk het. Tuinkrane is oopgedraai en op Kliprug loop honde los rond wat gewoonlik nooit van hul kettings losgemaak word nie. In Bekbaai is ’n hele spul karre se wiele afgeblaas en iemand het gepis op The Dunes se voorstoepie, by die voordeur met die vyf sterre teen die muur.

Snaartjie Windvogel se hartklop bedaar. Sy stap en stap totdat sy in die veld is en iewers op ’n grondpad beland.

Dis die pad na die reservaat en na Tietiesbaai maar sy weet dit nog nie. Sy stap totdat sy die dorpsliggies ver agter haar gelaat het. Die donker veld troos haar, en daar ver sien sy ’n toring met lig wat daarvan uitstraal. Dit lyk op ’n kerk, dink Snaartjie. Daar bo sit ’n mens wat lig oor die wêreld uitgooi.

Sy moet oor ’n heining maar sy’t geleer klim daar op Matjiesfontein. Sy kom by die vuurtoring en kyk op. Sy onthou een nag in die Kaap, in ’n kar verby ’n soortgelyke toring. Die bulk van ’n mishoring. Groenpunt. Hulle’s ook daar afgelaai, sy en die ander. Ook daar moes hulle snags staan, maar hulle kon min van die see sien en die patrolliekarre van die security companies het hulle dopgehou en beheer.

Sy is binne die toring en begin klim.

Dan is sy bo en sy kyk hoe die straal lig weg van haar oor die see uit vee.

Hier gaan ek bly, dink Snaartjie.

Ek, Snaartjie Windvogel, hier gaan ek sit en uitkyk oor als. Soos ’n duif wat ’n plek vir sy voet gevind het, van my kwaad ontslae.

Hierdie lig is my lig. My lig om hulp, my uitnodiging aan iemand om my raak te sien, om my op te tel, om my vas te hou, iemand wat my gee wat my magoed my nooit kon gee nie, wat ek nie by my pa, Piet Windvogel die draadspanner, gekry het nie, iemand wat my kan gee wat ek net in die viool kon kry.

My platgetrapte viool.

En Snaartjie slaap. Om haar lê die rotse swart onder die aanslag van die branders. Die fynbos baai in die sekelmaan en ’n steenbokkie kom ligvoets wei. Tuinkrane straal en honde wat vryheid nie ken nie, vorm bendes en stroop vullisblikke en jol deur die strate. By die dorpie is daar nog enkele plasse lig in die strandhuisbuurte, daar is nog ’n paar braaivleisvure wat vlamme lek en ’n enkele motor patrolleer die strate en begin stelselmatig die alarms opvolg van die huise met die stukkende vensters.

Hulle bespiegel oor die vreemde meisiekind wat so deur hul soeklig se straal geblits het. Iets blinks aan haar, iets wat goud wip om haar lyf, nightclub-klere, en waar die voete moet wees, net ’n blink blits in die ligstraal. Maar toe’s sy weg, en hulle kon haar nie weer kry nie.

Wie is sy? Is die storie waarmee Eenslie Maree laataand op Kliprug aangekom het, dan tog waar?

Hulle praat oor die blink meisie en die skuitgeboorte en hoe sy weggehardloop het van Ludo se huis.

En sy sit daar in die toring, oë wydoop van die haelstorm wat oor haar kom. Sy haat haar lyf vir wat daar is en vir wat daar nie is nie. Sy kyk hoe die ligstraal heen en weer in die donkerte oor die baai swaai. Sy staan op en maak haar hande oop en toe. Sy sweet koue sweet.

Sy onthou hoe sy tot die oggend onder die boot gelê en wag het op die haelstorm, op die houe wat ys teen haar lyf gaan moker. Maar toe is dit nie kouevuur wat kom nie, net die regop outjie met die donkerbril en die smart uniform en toe hy op haar afkom waar sy die sand met haar vingers uit haar hare gekam het, was sy eerste woorde: “Ek weet nie wie jy is nie, maar ek is bly ek het jou gekry.”

Sy was bang vir enigiemand in ’n uniform. Tog het sy hom dadelik geantwoord: “Jy kry nie wat jy sien nie.”

Maar sy’t gewens sy kon hom regtig eerlik antwoord. Hom vertel hoe dinge wat een oomblik daar is, die volgende oomblik kan wegbreek. Hoe jy kan hoor wanneer dinge so breek, hoe jy die reuk van skaapvel en slag kry, van derms en skyt en hoe jy dan iets moet kry om jou op te lig uit die bangheid vir die noute as jy seker is iemand wurg jou en die wurg is ook ’n blindheid en jy het niks om jou nie, net die klein ruimte van ’n kamertjie sonder venster en ’n deurknop wat nie kan draai nie, want die deure in Soutrivier het aan hierdie kant geen deurknop nie, en so was die deure ook in Elsies maar in Parow het jou deur ’n knop gehad wat jy kon draai want die lang manne was nie net in charge van die woonstelblok nie maar van die klomp straatblokke tussen Voortrekkerweg en die treinspoor en hulle sou jou optel voor jy vyftig tree ver is, dag of nag. En as jy by ’n polisiekar sou inspring, sal die polisieman jou elk geval weer hier kom aflaai, so’t sy gehoor.

Dit het haar geleer dat jy bandiet kan wees selfs al sluit niemand jou toe nie.

Jy hamer teen die deur en gooi jou lyf teen die mure. Jy’s soos die jong rooikat wat jy ’n keer in ’n vanghok gesien het, bloedgesig soos hy hom keer op keer teen die hok se deur gooi.

Jy weet hoekom daardie eerste plek se naam Soutrivier is want dis die sout van jou oë en die sout van jou bloed. Toe die eerste klanke kom terwyl sy en die jongman met die naam Adelbors en die ou man met die vreemder naam Ludo koffie drink, toe die eerste klanke kom nadat Ludo die CD begin draai het, toe die eerste vioolgeluide kom, toe dit kom en deur haar kopbeen sny, toe trek dit bloed, toe spring sy op.

Sy’t in jare – of is dit maande? – geen vioolmusiek gehoor nie. Dis asof alles by haar opkom, asof ’n gordyn oopgaan en sy alles wat sy verloor het, helder sien. Dis haarself wat sy sien, op die dikwielfiets op die stofpad Hochschule toe, met haar viool agterop die hotelfiets vasgemaak.

Sy sien die Karootreine wat kom en gaan en die uitwaaier van die duifswerms bo Platdakkies, sy sien die gehawende ou Lord Milner-hotel soos ’n krismiskoek in die woestyn, met sy lang palmbome en wapperende vlaggies.

Sy het dit verloor, sy het alles verloor en dis asof die viool ’n mes is wat haar oopsny. Sy sal nooit weer kan teruggaan nie want hulle sal haar invra en almal sal weet sy’s weggeraap en as jintoe gebruik. Daar is vir haar geen holte meer vir haar voet daar by die huisies met die lae dakke en duifswerms en die vlae van die Lord Milner-hotel nie.

Sy het te veel gesien om as kelnerin te gaan werk in die hotel se eetkamer of in die geskenkwinkel agter die toonbank te gaan sit. Vir haar is daar nou net die oop pad.

“Is daar dan niemand vannag nie?”

*

Sy kom met ’n groot draai deur die veld en nader die winkel sku. Dis die winkel met die rooi petrolpomp voor nes jy die dorp inkom en sy’t hom gesien die nag toe sy hier aangekom het. Sy weet sy moet versigtig wees want sy kan sien dis ’n klein dorpie en mense het hul hande om mekaar se blase.

Sy’t oorgebly in die vuurtoring en daar is min beweging en sy’t gedink sy kon daar bly. Daar was ’n man wat onder die toring tussen geboue beweeg het. Sy kon sien hy is ’n alleenman. Wanneer karre stop, duik hy agter geboue weg. Hy het blou oë wat net een keer op haar geval het. Dit was asof hy deur haar kyk. En nie omgee dat sy daar nesskop nie. Sy sal hom vermy en dink: Hy is nie gevaarlik nie. Maar op ’n dag sal hy nie meer deur my kyk nie en my sien. Dan sal ek iewers in die veld moet gaan nes maak. Ek sal dit doen want ek kan.

Sy wag tot dit so tienuur se kant die oggend bedrywig word by die winkel en vissermanne met sleepwaens met bote op stop vir sigarette. Kinders van die klomp klein huisies op die vlakte drentel nader vir klein aankopies en staan op die stoep en bedel by toeriste.

Toe sy redelik gerus voel, vat sy haar laaste geldjie en bel haar ma van die tiekieboks voor die winkel af.

Die tiekieboks sit teen die buitemuur, daar by die groot MTN-teken.

Sy kom deur, ongedurig oor die min geld in haar hand, na die Lord Milner se ontvangs. Soos sy verwag het, is dit ’n stem wat sy nie herken nie. Sy dra die gevoel in haar dat dinge verander het, dat niks dieselfde kan wees nie.

“Dis Snaartjie Windvogel. Roep my ma.”

“Wie?”

“Snaartjie Windvogel. Van Piet Draadspanner.”

“Jou ma het ’n sel.” Sy is verras. Haar ma nou ’n selfoon? “Hier is die nommer.”

Snaartjie onthou en skakel dadelik, dis haar laaste muntstuk en dis asof dit sy is wat ingly in die gleuf en verdwyn.

Sy moet lank wag, toe, uitasem: “My kind?”

Snaartjie wag lank voor sy praat. Die draad sing.

“Hoe lank is dit al, Ma?”

Sy hoor die ouvrou veg aan die ander kant. Die woorde sluk.

“Vier lange jare, my kind.”

“Hoe oud is ek nou, Ma?”

“Jy’s agtien en ’n entjie, my kind.”

“Ma ...”

“Kom jy huis toe nou?”

“Was dit Pa, Ma?”

Dis ’n lang stilte.

“Dit was jou pa, ja, my kind. Dit was hy.”

“En wat sê hy nou, Ma?”

“Hy is dood en klaar gebegrawe, my kind, drie jaar terug al.”

“Pa is dood?”

“Ja, ek kom nie by sy graf nie, oor jou.”

En toe gaan die lyn ook dood.

*

Hy sit dikwels snags wanneer die Cape Columbine-mishoring bulk voor sy lendelam ou rekenaar en besoek die Internet se klimtolwerwe. Daar is heelwat kletskamers en blogs ook waar mense die klimtol bespreek. Meestal gaan hy na ’n werf waar gebruikers ’n klap nostalgie weg het en graag die ou dae bespreek.

Dis egter dikwels sommer bogsnuiters uit die jare tagtig en negentig wat die sentiment ophark en dan dink hy: Wat weet hulle van die vroeë geskiedenis?

“Originally Posted by werner ▶▶

i'm sure some of you remember the Coca-Cola yoyo's you used to get in the 80's and early 90's ... you even got fanta and sprite ones.

well, some of the coca cola yoyo's were black (instead of the normal red), with gold-coloured writing.

i'm looking to buy one, anyone got one going? nostalgia item for me and a nice unique toy for the kid ...

My uncle has one

He won't sell: he keeps it for the same reason you want one.

My dad used to work at Coca-Cola, so we had all the yoyos. Unfortunately I was a kid so my black one was lost quite soon

Last edited by Dolby; at 08:09 AM.

Damn I LOVED those yoyos. So many great memories involved there. I'd actually buy one if I could

“Originally Posted by Bcm ▶▶

Coke Russells are also fun to play with. Even though they are most famous for their looping abilities, a good player can use them for almost any tricks he/she wants to do. Nothing more fascinating than watching Dale Myrberg or Fast Eddy pulling off string tricks on old Coke yo-yos.

Dit moet die manier wees waarop die speurder die lyk oor die sand gesleep het wat hom die eerste keer ooit ’n boodskap laat pos. Hy tik: Ek was Coke se eerste Namakwaland-Groot-Karoo-kampioen onthou enige van julle nog ek het baie konserte gegee.

En toe tros die haai outoppie’s en my-my uncle you go way back’s uit op sy skerm en hy kyk daarna en antwoord nie. Hy skink nog ’n dop en knipper sy oë voor die skerm en dink aan die kreefinspekteur wat in die vlak branders wieg en hoe hy met sy kierie ’n sirkel in die sand getrek het om die lyk.

Wie is die mense wat hom so gou antwoord? Nie een van hulle was saam met hom deur die klowe van Seweweekspoort of oor Wapadsbergpas in die nanag of op Tweefontein se gladde pad nie. Nee, hulle weet nie en sal niks begryp van die kampioenlewe in stil hotelletjies en die langpad met die Opel in die jare sestig nie.

Hy swem deur die yo-yo-posse op die Internet en dis soos om in seebamboes te woel. Sy voete trap teen stingels en sy arms druk weg voor. Die slymerige stamme is om hom. Hy kom op vir lug tussen die nat koppe en proes soos ’n rob.

Skielik verskyn haar boodskap. Dis ’n e-pos, want om die klimtolwerf te besoek moes hy registreer:

Onthou jy nog die eerste aand – tussen strooibale en ou mowers en ploeë en ’n klomp powere ou suurstofdiewe het jy jou konsert gehou – Koekenaap of Pofadder of Garies? Wat het gebeur met die Opeltjie met die Coca-Cola-logo op die deur? Ja, goed, ek weet, ek was ’n loskopdolla met ’n kamera en ek het jou lewe deurmekaar gemaak, van daardie aand af tot die dag in die donga. Waarnatoe verdwyn jy toe?

Haar verskyning is soos wanneer jy in jou skuit op ’n plaat water sit met jou lyn wat diep hang, sonder dat jy weet dat sy van diep onder jou spoed na bo aan die opbou is. Dan skielik en onverwags breek die dolfyn blink en vollyf uit die water en tol in die lug en weerkaats die son en val weer terug en jy is, nadat die water kalm geraak het, weer alleen.

So was dit ook daardie eerste aand toe sy die foto’s van hom in die ou skuur neem terwyl hy triek. Elektrisiteit in die lug, ’n moontlikheid wat skielik voor jou oopgaan, ’n alternatiewe lewe wat opeens seker lyk. ’n Teug vars lug wat jou bors vul. Baie mense het waarskynlik sulke herinneringe, meen hy, en by hoeveel bly dit nie net by ’n herinnering nie?

Hy antwoord nie haar e-pos-boodskap nie maar was die skottelgoed versigtig en droog als af en pak dit weg. Dan maak hy seker dat elke venster op knip is en trek die luike dig. Hier onder hom is dit asof die skuinste skielik wegval. Dit vorm ’n put wat swart is en net daar ver by Voorstrand is beweging en ’n motor se ligte wat stadig beweeg. Hy huiwer op die voorstoep. Dan, beslis, sluit hy die voordeur en stap na sy Jeep.

Hy ry die dorp stadig uit. Voor die hotel hoor hy hoe dit by die kroeg rumoer en dan swaai hy regs by die stopstraat wat die vissers Die laaste kreef noem want daar kan jy jou laaste smokkelkreef koop voor jy die dorp uitry. Hy gee vet en die wind druis en die ou Jeep sidder en die pad is oop en hy dink aan die ou dae toe hy op só ’n nag sy ligte sou afskakel en die donkerte injaag meer om homself as die Noodlot te toets maar hy het nie meer die moed nie.

Hy ry deur Vredenburg. Dit is stil en hy ry verby die robot waar die Sports Bar sit. Lig stoot van binne oor die sypaadjie uit en dan hou hy eers stil in ’n verlate ent straat. Hy sit in sy Jeep en weet nie hoe laat dit is nie. Dan ry hy weer verder tot by die polisiekantoor. Sy hart skop in sy bors en sy eerste woorde sal wees: “Iewers op rekord moet dit nog wees, die seuntjie wat by Tweefontein doodgery is.” Hy parkeer oorkant die pad en sit die enjin af. Dis stil by hierdie buitepos terwyl sy hartslag bedaar en hy stadig aan alles dink en dit speel voor sy oë af asof dit nou hier gebeur. Later kom twee polisielede uitgestap, die man bakarm en die ander ’n vrou met ’n pet laag oor haar oë.

“Als o.k., oom?” vra sy en frons effens maar wag nie op sy antwoord nie. Sy sê iets aan haar makker en hy kyk vlugtig om. Die vangwaentjie jaag weg en hy is alleen. Hy dink nou aan die aand toe die vlieënde piering hom in Namakwaland opgeraap het en hy onthou die krag waarmee hy weggeswiep is en hoe alles in ’n oogwink kan verander.

Later ry hy terug en met die klimtol in sy palm kap-kap hy teen die stuurwiel. In die laagtes sien hy mis bondel en ’n ystervark staan blind teen ’n grensdraad en toe hy Paternoster binnery is die hotelkroeg toe en is dit net hy wat nog wakker is. Aan die wind kan hy voel dat dit in die môre nie sal gaan lê nie maar net sterker sal stoot. Toe hy sy voordeur oopstoot, is dit asof hy ’n nederlaag gely het en hy soek in homself maar kry nie die moed nie.

*

Sy sien die ou man se Jeep aankom. Stadig werk hy die kuslyn deur daar van Ankervoet se waghokkie af waar die reservaat begin. Hy hou stil en staan en rondkyk. Sy weet hy soek haar. Sy het geld nodig en besigheid en sorg naderhand dat hy vlugtig sien hoe sy om ’n rots digby die eilandjie by die Beach Camp kyk en toe koes sy weer.

Hy ry nader en klim uit. Hy laat die warm trommeltjie kos met ’n fles koffie teen ’n klip en ry weg en kyk nie of sy weer verskyn nie.

Sonder dat iemand dit vir haar hoef te sê weet sy dat sy elke dag op dieselfde tyd daar sal kan gaan kyk en dat daar vir haar warm kos en koffie sal wag.

Sy eet gulsig en gaan was als uit in die vlakwater en wanneer dit sondroog is, sit sy dit weer langs die klip neer.

Sy het begin om die boupersele te werk. By Abdolsbaai waar skuite die sloep ingestoot word en ook op Voorstrand staan sy reeds op haar tweede oggend op Paternoster rond om ’n oog te vang terwyl die vissers met hul nette sukkel en hulle nog vars in die onderlyf is.

Sy weet hy sit in sy huisie daar bo maar sy kyk nie op nie en gee nie om dat hy weet wat sy doen nie.

Vir eers dink sy nie aan Eenslie Maree nie want in haar kop is daar nie nou plek vir hom nie. Sy moet die einde van die somer haal en haar planne reg hê vir wanneer die koue uitsak.

Sy hou haar skoon deur in die sloepe te bad en doen dit ’n paar maal per dag as sy begin ruik na saad.

Gou kom sy agter dat hierdie plek anders is as Observatory of Wynberg of Groenpunt waar sy op ’n stuk straat afgelaai is en daar moes sy bly want die manne wat kom weet wat hulle soek en hulle soek haar soort en hulle kry haar daar en sy het dit.

Maar hier moet sy uitgaan en ronddwaal. Aanvanklik is dit messelaars en carpenters en gewone arbeiders wat van ’n bouperseel uitstap veld toe om te pis of te bandstamp en sy kry hulle daar. Of hulle vir mekaar van haar vertel, weet sy nie. Maar sy vra net ’n twintig en sy pluk hulle sommer so deur die oop gulp. Die sementstof pof uit die broek in klein wolkies soos sy hom trek.

Sy het besluit dis anders hier en full house is uit. Sy gee net handjobs en ook suig. Die prys is dieselfde in alle gevalle. Met woede wat hulle dink jagsgeid is werk sy hulle af en skop die saadspoegsels in die sandveld toe met haar kaal voet. Dit laat hulle lag en een of twee gee selfs ’n vyfrand ekstra en wanneer hy wegloop staan sy en kyk hoe die miere kom om te begin vreet aan die saad.

Sy het kontant nodig. Die somer gaan nie vir altyd aanhou nie. Sy sal die dorp moet begin deurkyk om oorwinter te kry. Dit sal straf raak hier teen die see. Sy is nou al dae lank hier en nog geen reën het uitgesak nie. Sy redeneer dat die reëns in die winter sal kom. Dan kan sy nie in die oopte slaap nie.

Stadig leer sy die dorp ken. Sy neem kennis van die dokter se klein praktyksgeboutjie en ook die munisipale kliniek langs The Lodge waar die vroue en kinders vroegoggend reeds op die stoeptrappies wag. Sy ken nou al die kafee en sy kyk hoe die toeristekarre die dorp inkom van Vredenburg se kant af. Hulle hou stil by die stopstraat wat sy later sal leer Die laaste kreef genoem word. Sy sien hoe hulle links swaai en aankruie by Oep ve Koep verby, en verby die pottebakker se lae klipstudio en The Noisy Oyster. Hulle hou by die hotel stil om eers die mense op die stoep te bekyk voordat hulle verder ry.

Sy kyk waar die bouspanne werk. Soos gewoonlik eien sy elke gesig waarmee sy besigheid doen. Dis al ding waarvan sy leer hou het in die jare in die Kaap: hoe elke man se gesig anders trek wanneer hy op fyndraai kom. Party lyk of hulle met ingehoue asem giggel en ander lyk of jy ’n doring in hulle druk, ander lyk of die saligheid oor hulle kom en ander lyk of hulle groot skrik. Maar sy onthou elke gesig op fyndraai. Sy sal dit nooit vergeet nie en in ’n hof sal sy elkeen kan uitwys en ook onthou wat hy gesê het toe hy klaar gekom het. Meeste is dan half vies vir haar of nors. Party, al is hulle min, is verlig en dankbaar.

Sy kan sien dat die manne dit swaar het met die slange in hul broeke en dat die harde lewe met vis en grawe en Eskom-lere en pype en tange en padskrapers hulle frustrasie laat opdam in hul onderlywe. Sy vat hulle agter ’n bos in en verlos hulle en kry op haar beurt ’n noot waarmee sy afsuiker kafee toe. Sy probeer daar geen oogkontak maak met die nuuskierige meisies agter die till nie, want sy sien dis vanuit hierdie kafee waar die dorp se skinder deurtregter soos ’n klomp skape deur ’n nou hek. Hier moet alles eers deur voor dit uitgaan van die till girls na die vismark, die restaurante se kombuise, die gastehuise se besemkamers en die visfabriek se nat vloer.

Haar eerste tourist client is ’n man met ’n snaakse Engels. Sy sit daar by Abdolsbaai se verste punt en sien hom aangestap kom van die gastehuis daar op die punt van Bekbaai en die gastehuis se labrador wat hom volg. Sy weet hy bly dus daar. Hy kom nader met ’n kamera en neem die skuite af wat om die klippe werk. Sy sien die vissers wat met die kreefmandjies werk hou nie van die fotonemery nie, hulle jou hom ’n keer uit. Verskrik stap hy vinnig verder met ’n simpel laphoedjie op sy kop. Hy het die wit beentjies van ’n stadsmens uit ’n ander land.

Sy sit so met haar rug teen ’n rots dat die skuite haar nie sien nie maar hy haar van ver af kan sien. Sy wys haar een tepel en speel-speel met haar een been so heen en weer. Hy kom nader en draai weg see toe en staan en dink en sy weet sy vel trek nou hoendervleis. Dan draai hy weer na haar toe en stap nader en gaan staan weer weg en draai see toe en kyk om hom asof hy toeskouers vrees. Hy kom weer nader en sy kyk hom vas in die oë.

Wanneer hy by haar kom, is hy spierwit en sy asem jaag. Wanneer sy haar hand uithou en “Money” sê, vroetel hy ’n honderdrandnoot los uit sy broeksak. Dit val en toe hy buk om dit op te tel, gryp sy dit en druk dit in die sand agter haar waar sy sit. Sy pluk hom so staan-staan nader aan sy bobene en sonder dat sy lyf ooit die sand tref en op haar hurke maak sy hom klaar. Agterna skarrel hy weg soos sy die krappe oor die plaat sand sien maak het.

Maar sy het ’n honderd rand en sy kry ’n bêreplek in ’n ou blik digby Tietiesbaai se hek. Daar steek sy haar kontant weg en begin uit verveeldheid skulpies ryg nes sy kinders daar by Die laaste kreef sien doen het. Sy kom agter wanneer sy met die skulpstringetjies smous voor die hotel of op die straathoek waar die straat afswenk vismark toe, dan kyk mense minder agterdogtig na haar. Wanneer een van Paternoster se inwoners met haar praat, kyk sy af en maak sy of sy nie hoor nie.

Hier binne is sy te opgejaag en stukkend om met mense te praat. Toe sy ’n keer vir oom Ludo aangery sien kom, draai sy haar om en staan met haar rug na hom tot hy verby is. Maar die volgende oggend is haar blikbord en die trommeltjie met kos en die fles koffie weer daar by die klip. Sy spoel agterna als af en laat dit sondroog word en sit dit netjies neer by die klip.

Dit maak haar bly en sy stap die see in. Versigtig stap sy en die eerste koue laat haar skrik. Soos suur brand die branders al hoër teen haar bene en sy buk en tel water op en gooi dit in haar gesig en oor haar kop.

Wanneer ’n brander onverwags hoog inkom en oor haar spat, deins sy terug maar lag. “Jy’s reg vir speel,” sê sy vir die see. Sy lag weer. “Vir gevaarlik speel!”

*

Die dood van die kreefinspekteur en die e-pos van die kameravrou laat Ludo opnuut besluit dat hy lank genoeg so op sy stoepie gesit het. Dit neem hom dae om die stukkie prosa te pen en dit boonop uit sy kop te leer, maar hy sit dit op sy stoepie en prewel totdat hy dit so goed ken dat hy dit in sy slaap kan opsê. Hy’t die woorde met ’n stomp potlood op ou notapapier uitgeskryf en oor dae heen daarmee gepeuter en dit toe oorgetik op die rekenaar en elke dag tot vandag ’n rukkie daarna gesit en kyk sodat hy hom daarmee kon vereenselwig.

Hy wil die resitasietjie toets in kroeë aan besoekers en as hulle goed reageer, kan hy dalk uitbrei aan die triek en die skoolhoof gaan sien en dit een Maandagoggend in die skoolsaal doen vir die kinders met nog ’n paar klimtol-moves daarby en ’n vertelling oor die vliepiering ook byvoeg en dalk kan hy so ’n konsertjie saamslaan en by Saldanha of by een van die dorpsfeeste of landbouskoue ’n vertoning gee, hy is mos nie onkapabel nie en veral as hy haar dalk weer sien en as sy selfs op besoek kom, dan is dit iets wat hy sal kan wys om te sê: “Dis wat ek deesdae doen en kan doen.”

Noudat hy seker is dat hy die rympie uit sy kop ken, oorval eensaamheid en skuldgevoelens hom en hy stap die paar honderd tree na die kroeg in die Paternoster-hotel. Party aande loop hy ’n ent verder na ’n tafel by The Noisy Oyster of as hy die aand besonder skaam voel, druk hy sy lyf daar by Voorstrandt in die hoek van die klein kroegie in en sit hy daar, byna onopsigtelik. Mettertyd voel hy dan gelawe deur die stemme in die restaurantgedeelte en die kom en gaan van kelnerinne hier by sy elmboog soos hulle die drankbestellings by die toonbank kom afhaal.

As die aand verby is laai Adriaan, die restaurantbestuurder, hom voor sy huisie met die blou deur af en soms wieg sy bed daarna soos die dek van ’n treiler en bestraf hy homself, maar slaap oorval hom soos mis wat skielik opkom. In die nanag staan hy op en maak koffie en dis net die droë rolbos wat deur ’n nagwind voor sy stoep verbygestoot word en dis ’n nagwind wat teen die eerste daglig sal gaan lê.

Hy voel skuldig want die resitasietjie is nie hy nie en die woorde is nie syne nie maar dis die verhoog. En hy moet nou terug verhoog toe, dis al wat hom kan verlos van Tweefontein en die opgefrommelde lyf van die seuntjie. Op die verhoog word hy iemand anders en hy troos homself sy triek is dáár en hy is hiér en hy moet sy triek ontwerp om te tref, anders is dit geen triek nie en as jy te na aan die eie murg kom, bieg jy en dis nie vermaaklik nie, dis beter om dit soet en mooi daar uit te sit vir iedereen, mense soek iets wat hulle verstaan.

Die stilte het hom laatmiddag oorval en hy beplan om op ’n kroegstoeltjie te gaan sit en te wag totdat iemand hom opmerk. Dan sal hy ’n geselsie begin aanknoop. Hy sal sy skaamte oorwin en sy verhaal begin met: “Die lieflike geskiedenis van die yo-yo is iets ...”

Hy weet hy sal laatnag, agterna, spyt wees en dat hy teen die môre net klein momente van die gesprek sal onthou en sal besef dat hy homself verneder het. Hy sal weet hy’t homself opgevoer as toeriste-attraksie, as deel van wat mense Weskushumor noem en hy kan dit nie verduur nie omdat dit lieg maar dis sy triek wat hy nou moet speel.

Partykeer noem Paternosteraars hom Vliepiering, en ook die naam Walking the Dog het bly vassit nadat hy ’n keer of wat in die skooltjie skuins agter sy huis ’n vertoning gaan gee het en begin het met die mees basiese triek van almal.

Meeste inwoners van Paternoster noem hom egter Ludo of oom Ludo, maar wanneer hy aangeklam is, glip die respekte en dan koggel hulle hom – nie sonder liefde nie, weet hy – met daardie naam, Walking the Dog.

Hy gee om dat hulle hom so spot, want oudword is soos om die kreef te sien yl raak in die banke om Tietiesbaai en die groot vistreilers dop te hou wat hier kom aas en jy weet hulle dun die snoek uit.

Wat sy regte naam was voordat hy destyds begin klimtol speel het, maak nie saak nie: dis daardie naam Stian wat in stof dwarrel wanneer jy in die nag oor ’n grondpad jaag en jy kyk ’n oomblik in die truspieël en ander dinge karring ook in die stof op en dwarrel weg in die nag. Dis die eerste dinge, die grootwordjare, toe hy nog gesoek het na iets vir sy jeukhande en toe hy nog nie geweet het van trieks nie maar toe hy met die klimtol begin toe is dit ’n ander saak. Toe leer hy van trieks en gehore en hoe jy kan fnuik met die storietjie wat jy in een aand op ’n verhoog opdis met net ’n paar vinnige bewegings. Gou-gou is die hele saal in die palm van jou hand.

Dis in dié tyd dat hy sy verhoognaam aangeneem het, Ludo die Klimtolkoning, en later: Ludo Loeloeraai, die Klimtolkampioen!

Met uitroepteken tesame én met ’n hele verhaaltjie oor die klimtol van Mars en die vlieding wat ingekom het met die spesiale boodskap dat hy speelman moet wees, klim hy op die verhoog en hulle het nie geweet of hulle die vliepiering moes weglag of vir soetkoek moes opvreet nie.

Dit was alles voor die ongeluk. Hy was tevrede en hy was ’n kampioen. Later, ná Tweefontein, was hy steeds kampioen maar sy verhaaltjies het dun in sy mond geraak en hy’t homself uit die verte gesien: ’n moordenaar, het hy gedink. Jy het dit nie aspris gedoen nie, maar toe jy wegjaag Kaap toe en die kind net daar los, toe het dit meer geword as ’n ongeluk. Toe raak dit moord.

Toe die klimtol soos ’n moordwapen in sy hand begin voel het, moes hy in sy gedagtes teruggaan na die eerste jare. Na hoe sy eerste yo-yo in sy hand kom sit het asof dit altyd daar was. Hy moes die klimtol opnuut inpalm en weer probeer onthou hoe sy eerste yo-yo van die begin af gepas het by die ingebore ratsheid en intelligensie van sy hande. Atletiek het hom verveel en hy het nie van rugby gehou nie – hy kon ’n bal nie vinnig genoeg sien aankom nie en kinders het hom vermy want hulle kon aanvoel dat hy nie van spanspel hou nie.

En alhoewel die klimtol ook ’n spinbal is, hoef hy nie met sy oog te kyk nie, want hy voel die tou aan sy vinger en hy’t altyd vir die kinders tydens vertonings gesê: “Jy moet met jou hande leer sien. Jou hand moet vir die yo-yo kyk en jy moet hom voel speel aan jou vinger. Die tou praat met jou hier op die eerste lit van jou middelvinger – net daar sit die geheim van die vertoning, daar en in jou pols, in die pluk en meegee.

“Die hand is ’n ingewikkelde ding; hy sit slim aan die voorarm. Dis nie ’n simpel rugbybal wat jy moet vang en soos ’n vlakhaas mee hol nie, nee, ’n ander slimgeid is hier nodig, jy moet ’n triek in jou mou kan bêre en dis ’n haas wat jy – só! – uit jou hoed pluk.”

Dan het hy hulle vertel: in sy kinderdae was daar eers die glasalbaster met die kleurkrulletjies binne-in, te wonderbaarlik. Toe kom die hula hoop, met iedereen se heupe wat rinkink. En toe, natuurlik, die groot ene. In die dae van die Zephyr Six, die plastiek-vlieëplak, Gé Korsten en Groep Twee, in die tyd van Kaiser Matanzima en Sophiatown: Toe kom die klimtol.

En dis waarna hy terugkom in sy vertellinge in Paternoster se drinkgate. Hy vertel dit aan wie ook al wil luister wanneer hy saans sy huisie te klein vind en “cabin fever” aan homself mompel en sy kierie vat en uitstap die dorp in. Daar waar die meeste karre is gaan hy in of op ander aande juis daar waar die minste karre is want dan kruip hy weg in ’n hoekie maar baai hom in die stemme en die teenwoordigheid van mense.

*

Hy kam nou sy hare en was sy gesig en trek ’n vars hemp aan, die ligbloue wat pas by sy oë. Hy sluit die deur agter hom en sak met die heen-en-weer-paadjie af deur die bierbottels en papiere wat al weer hier opdam en hy sukkel deur die los sand totdat die gelykte begin en die harde plaat sand en hy stryk aan deur die wind.

Anderkant die vismark swaai hy binneland toe want hy wil homself eers los stap sodat die spanning wat sy liggaam styftrek, kan wyk want hy moet gereed wees as iemand hom in die kroeg vra om ’n triek te speel.

Lank staan hy in die donker onder die bloekombome wat op die duin voor die hotel groei. Hy staan en kyk na die mense. Hy weet al wie na hom sal luister en wie net sal lag en wegdraai. Dan neem hy ’n diep teug en stap nader.

“Julle kry die lieflike geskiedenis van die yo-yo net op hierdie dorpie,” sê hy aan die yuppie-paartjie wat by hom in die kroeg beland, in die Paternoster-hotel se broekiekroeg met die TV-stel wat dawer oor die Stormers en die Waratahs.

Hulle is honger na Weskusmites en is prooi en hy is nie sy stugge self nie maar in sy gemoed dra hy die rooi baadjie en is hy weer op die verhoog en die wyn vuur hom aan en maak hom los. Vanaand het hy ’n plan. Hy het sy skema en hy het sy rympie en hy gaan dit uitspeel en aan hulle toets.

Hy’t op sy stoepie die begin van sy storie geproe-proe: Ons dorpie leef in die omhelsing van die see. Nee. Eerder nie; te soetlik. Die dorp teen die see. Nee, dis die maklike weg van gestrooptheid. Eerder iets meer riskant, ’n beeld, dalk, iets wat nie te purper is nie:

“So styf teen die kus sit onse dorpie soos ’n mossel teen ’n kiel.

“Die regering wat kreefvangery wil keer, wil die dorpie van die see losmaak. Maar jy kan nie. Hy klou.”

Nou het hy hulle aandag en hy bied aan om vir hulle biere te koop en dis soos sy triek gaan begin. Hulle oë is nuuskierig op sy verweerde ou hand met die lewervlekke en die stukkende duimnael wat die yo-yo bedek en hulle sien die toutjie aan sy middelvinger maar hy hou dit eers geheim.

Hulle aanvaar die biere en sê: “Ons hoor oom speel die yo-yo soos niemand anders kan nie.”

“Onse dorpie lê harde rug binneland toe, sagte binnekant see toe. ’n Dorpie van wel en wee, met mense wat buk teen die wind. Mis stoot oor die Benguela in en die luike drup. Minnaars bly in die kooi en ’n vissersboot se bemanning verdrink. Kersies ter herinnering word saans in pierings op vensterbanke aangesteek en Kliprug gloei.”

Hy hou nie van die soet koers wat sy storie nou inslaan nie, maar dag dat dit kan werk.

“Dis die golwe van die liefde wat die boot omdop.” Hy kyk na die jong vrou met die rooi lipstiffie. “Want: wat is verliefdheid?” Sy lag verleë. Hy vra hierdie vraag dikwels aan jongmense wat in die dorp se kroeë na die klimtol in sy hand gelok word.

Hy hou die klimtol effe versteek onder die hand wat op die kroegtoonbank rus en weet hulle sal eers die toutjie om die middelvinger sien, en dan die yo-yo.

Hulle het selde ’n interessante antwoord op sy vraag, en dan help hy maar, soos nou weer, al is hy agterna, die volgende oggend, altyd spyt oor die soetlikheid.

“Dis die skielike skool harders wat digby die strand in die water woel, heen en weer, asof hulle swawels in die lug is.

“Eerste verliefdheid is ’n duin wat so stadig versit, jy weet nie eens hy skuif nie. Jou spore word toegewaai. Jy’s van waaisand aanmekaar gesit.

“Wag maar, julle sal nog uitvind.”

Skielik word sy hand lewendig en in die lig van die kroeg haal hy ’n paar vinnige hale uit hier vlak voor hulle wat hulle na asem laat snak soos die yo-yo sing aan sy tou en jy kan nie glo dat hy in hierdie klein spasie tussen kroegstoele soveel regkry nie, hy weet hulle gaan nog lank daaroor praat.

Hulle gee nie om dat hy sy olienhoutkierie per ongeluk afstamp en dit op die vloer kletter nie. ’n Bewonderaar tel dit op en skuif dit versigtig voor Ludo op die toonbank in.

Dan, suinig, sit hy weer en teug aan sy whisky. Hy’t in sy pols gevoel, nou, hiér, hy kán nog tyd bereken en gevoel skat en die aandag van sy gehoor pluk in watter rigting hy wil.

Dis ’n goeie plek om te oefen hierdie, want daar is graffiti teen die mure en van die plafon drup afgestroopte vrouebroekies. Hier basuin elke wedstryd waarin die Stormers uitdraf.

“Lieflik, lieflik,” sê hy nou. “Hierdie dorp se kinders sal ophou tik as hulle die toertjies van die klimtol leer ken.”

Dis ook iets, besluit hy nou, wat hy in sy konsert kan inwerk: die maatskaplike aspek, die werkloosheid en die dwelms en tienerseks en vigs.

Sy oë raak mistig. “Veral toe Coca-Cola inskuif agter die yo-yo, het dinge groot geraak. Elke skoolkind in die Sandveld, hier teen die Weskus op tot diep in Namakwaland, deur die ganske Groot- en Klein-Karoo, elkeen moes vorder totdat hy Rockin’ the cradle kon doen, die moeilikste toertjie van daardie eerste sarsie.

“Dis die triek wat balans, tydsaamheid en vingervaardigheid verg. Tydsberekening. Timing. Dis die dinge wat Rockin’ the cradle moontlik maak.

“Só.”

Hy skuif van die kroegstoeltjie af terwyl die bewonderaar sorg dat die kierie hierdie keer nie val nie en swoep, swiep, swoosh haal hy die triek uit.

Hy hou die gehoor vas terwyl hy hul aandag het. Want netnou, weet hy, is hulle weg en hy dink: Toe ons die eerste keer saam was, helder oordag op ’n Karookoppie, het die geheue van haar lyf in my arms deel van my geword en nooit weggegaan nie. Gierig en oordadig was sy daardie eerste dag, te vinnig vir my, en haar arms was onverwags sterk en haar maagspiere hard en toe ek van haar opstaan, was ek in ’n staat van vertigo en het ek gevoel ek vlie.

Ja, dink hy nou, ek onthou haar by my asof dit gister was. Sy’t kaal gedans by swart ysterklip met die haai Karoo wat grys en dynserig agter haar strek en ver kon ek springbokke sien pronk en ek kon kyk hoe hulle die wind drink en ek kon weet dat speel op hierdie manier ’n viering is en ’n vreugde, ek het dit al vergeet.

Hy wil mense in die kroeg groet, maar almal is al weg of het hom nou die rug gekeer want hulle is besig met hul eie dinge en met sy kierie en sy klimtol stap hy uit en maak hom reg vir die entjie bult net voor jy The Lodge kry. Sulke aande is dit vir hom ’n steil bult. Hy dink aan hoe hy uitgevlug het toe die dolfyn die water breek en haar blink lyf in sy son tol. Terwyl hy stap, hou hy die horison dop vir die skynsel van ’n dun skyf of die rollende ligbolle waarvan die Namakwalanders praat. Hy staan en blaas en dink: Sy onthou my as ’n jongman in my fleur. Wat sal sy nou van my dink? Kyk wat het die drank en die jare se sit in die son aan my gesig gedoen.

Kyk hoe lyk ek, hoe verweer is ek en ek het niks nie, net my vrees vir die nag en my behoefte om reg te maak wat ek verkeerd gedoen het. Sal sy dit begryp en my liefhê?

En tog weet hy dat ’n mens in ’n ommesientjie beheer oor dinge kan neem en dat die ou avontuur nie dood is nie maar dat dit op hom wag en dat hy skielik daarop kan afkom soos op ’n rooikat siedend in ’n hoek waar twee kampdrade saamloop, of ’n plaat Namakwalandblomme wanneer jy oor die bult kom en dit slaat jou met uitbundigheid.

*

Hy stoot sy huisie se deur oop nadat hy lank gesukkel het om die sleutel in die gleuf te kry en ’n oomblik het hy gestaan en giggel want die sleutelgat kom aan na hom en kantel dan weer weg en hy dink: Ek tiep vanaand soos lanklaas tevore, dis haar e-posse wat my so senuagtig maak, sy gee my geen kans nie maar elke dag is daar die e-mails en sy dring aan om hiernatoe te ry en ek is nog nie gereed nie, hier is dinge wat op die dorp gebeur ook en ek is buite orde en die kanodokter kan nie praat nie en hier het ’n man se lyk gerol in die branders, my got, dit was nes ’n rob en daardie oë van hom oopgevreet, die blou oë verskrik en ysig in die aangesig van die Benguela.

Hy kry die deur oop en dink: Die ergste is ’n kreefinspekteur het gesterf en jou bekommernis oor haar koms is vir jou groter kwelling as die man se dood en watter soort mens is jy, Ludo? Hy haal sy klimtol af en sit dit neer op die koffietafel en gaan staan steunend by die toilet met sy kop teen die muur aangeleun. Dit neem lank en hy druppel agterna en hy kom terug voorkamer toe en sit die klimtol weer aan voordat hy wyn gaan skink.

Hy gaan sit voor sy rekenaar. Hy onthou – waarom weet hy nie – twee slange wat paar, blink en ineengestrengel en grillerig pragtig in hul koue velle en so ingedagte dat jy oor hulle kan trap, hulle sien jou nie.

Die jare het my gevreet soos die see ’n anker vreet wat onderwater lê en roes.

Kort en kragtig antwoord sy: Stuur my jou telefoonnommer. Dat ons ’n slag kan praat.

Gmail.

En vinnig daarna: pieng!

Hy herken homself nie. ’n Kleurfoto, maar met gedempte kleure, hier en daar ’n kleur (die bloue en liggeel, die pienk) wat ekstra aksent gekry het (klaarblyklik keer sy via Photoshop terug na haar ou foto’s), ’n effense blur by sy elmboog maar dit dra by tot die drama. Maar die fokus is wonderbaarlik op die rooi-en-wit spintol, die wit tou span helder en byna silwer tussen die klimtol en sy vinger. Uitgeskiet spin die tolbal met op die agtergrond die ou vragmotor met die seil oor sy relings, die perdesale en tome wat van hake hang teen die mure, die skaduwees van die gehoorlede lank gerek teen die mure. Sy rooi baadjie is ’n blerts beweging en flambojant is sy skouers en sy gesig. Blink aai die lig oor sy hare. Die hare wat nou grys is, was swart en viriel. Sy oë trek stip en is gefokus op die spintol: een heerlike kwartsekond van uitnemende beweging, balans en kleur.

Die foto is geneem, dink hy, ongeveer drie ure voordat hy die kind doodgery het.

As dit is wat sy van hom onthou, dan moet hy haar eerder ontwyk. Dit sal net vernedering bring. Hy het oor die jare die bottel te hard geslaan, hy het swaar gedra aan wat daardie nag gebeur het, dis ’n ander verhaal en dank God geen foto bestaan van die kind sonder arm in die bloedplas nie.

Dis die ongeneemde foto wat hom nou laat terugskryf: Dis lank gelede, Elsabé. ’n Leeftyd gelede. Ek sal dit nooit vergeet nie. Groete, Ludo.

Sy selfoonnommer hou hy vas onder die palm wat hy om die klimtol bal. Dis syne. Hy’t hier teen die kus kom sit. Sy telefoonnommer is niemand se besigheid nie.

Toe gaan hy bietjie skuins lê met die gedagte dat hy later weer op die Internet sal gaan om te kyk of sy gereageer het, maar hy raak aan die slaap.

Toe hy ’n uur of wat later van iets wakker word en wil opstaan om seker te maak dat hy sy voordeur gesluit het, toe sien hy die klimtol is weg.

*

Haar hand smag na die viool se strykstok. Wanneer dit donker is, kom sy met ’n wye draai die dorp binne. Sy loop katvoet en het geleer om haar kop hoog te hou en te maak of sy die fronse nie sien nie. Die mense van Kliprug en Hopland weet wat sy doen vir kos en soos met hul honde ignoreer hulle haar en buitendien loop die storie dat oom Ludo ’n oog op haar het en elke dag uitry na Tietiesbaai om haar teen die duin te naai.

Hulle weet ook van die bouers wat uitstap agter die bietou om kamma te gaan broek losmaak. Hulle’t gehoor hoe sy dit doen, dat sy hulle nie toelaat om aan haar te raak nie en dat sy verkies dat die mans bly staan. Dat sy nooit haar broek aftrek nie maar net met die hand en die mond werk, en gou maak.

Die kinders is teen haar gewaarsku en wanneer sy aankom, tel die kinders soms klippe op en gooi na haar, maar sy is nie links nie en peper hulle terug. Sy jaag hulle deur die strate en huisvroue skel op haar, maar sy vloek terug en dis ’n oproerigheid wanneer sy anderkant uit is.

Maar vanaand sorg sy dat sy stil beweeg. Sy weet presies wat sy wil doen. Sy moet net wag totdat hy soos deesdae die meeste aande uitgaan. In die steeg by die skooltjie hurk sy en dis nie lank nie of hy staan op van waar hy op sy stoepie gesit en tiep het en gaan die huis binne. Sy sien die badkamerlig aangaan en agter die dowwe glas is daar beweging.

Uiteindelik kom hy na buite. Hy het nou ’n vars hemp en ’n langbroek aan en sy kierie is met hom en stadig begin hy die paadjie afklim na Voorstrand. Hy leun op sy kierie en sy kyk hoe hy in die donker wegraak en net as vlek oor die sand beweeg. Hy gaan Voorstrandt toe, weet sy. Of dalk swenk hy later hotel se kant toe.

Sy koes laag en hol oor die straat na sy huisie. Dalk sien van die gaste by Blikkie haar, maar niemand roep na haar nie. Sy voel aan die voordeurknop. Dit is gesluit. Dan loop sy aan die seekant om die huis en toets elke venster. By sy slaapkamervenster is sy gelukkig. Sy skuif die raam op en glip in.

Sy gaan sit in die donker op sy bed en wag. Naderhand gaan sy na die tweede slaapkamer en skuif onder die divan in en lê daar en wag totdat hy kom. Dit neem lank, maar sy word rustig en ’n huis het reuke wat sy nou waardeer: lampolie en seep en stof en vuurherd-as. Hy kom steunend in en dit klink of hy giggel en sukkel met die deur. Eers dag sy daar is iemand by hom, maar toe hy hard poep, besef sy hy is alleen en sy wag dat hy deur die huis beweeg. Die yskas gaan oop en sy hoor hom steun en hoe ’n prop uit ’n bottel getrek word. Hy skink en sluk gretig.

Dan gaan staan hy by die toilet en sy luister hoe hy water afslaan en uiteindelik gaan hy na sy kamer, waar hy op die bed gaan lê sonder om uit te trek en gouer as wat sy verwag het, begin hy snork.

Stadig kruip sy onder die divan uit en sluip na sy kamer. Hy lê uitgesprei met sy regterhand op sy maag en die kronkeltoutjie van sy vinger is maklik om te volg tot waar die klimtol half weggesteek onder die laken lê en blink in die lig wat deur die venster kom.

Klimtol

Подняться наверх