Читать книгу My Kubaan - Etienne van Heerden - Страница 5
Die wit aap
ОглавлениеFielies se draadkar vat skaars grond soos hy om die melkkamer se hoek kom. Met ’n windmaker es kom briek hy reg voor ons, en terwyl die nagemaakte Cadillac slaplyf wieg op sy binnebandveerstelsel, kondig hy uitasem aan: “Daa’ sit ’n yslike blouaap in die vanghok.”
Opgewonde dink ek aan die trop blouape, wat ek goed ken, maar altyd van ver sien. Saans met sononder kom hulle van die rivierwalle, waar hulle bedags hou, om in die dennelaning te slaap. Sondagmiddae, wanneer die werf stil is, baljaar hulle kwetterend deur die mielielande.
“Hau, ons hét hom!” Tattie, met wie ek sit en gesels het, gooi ’n riel oor die werfgruis.
“Kom,” kommandeer ek, gryp my punt-twee-twee waar dit teen die bloekom leun en slaan ’n draffie af dennelaning toe. Fielies val langs my in, windgat agter die stuurwiel van sy draadkar.
“So blou soos die bliksem,” kekkel hy, “en kleinbaas moet sien hoe hy sy tanne wil slyp aan die ogiesdraad.” Tattie gee bietjie vet toe hy dit hoor en ons kruip deur die werfdraad.
Terwyl Fielies nog sukkel om sy kar oor te tel, sê Tattie: “Ons kan hom aan ’n paal sit en hom maniere leer.”
“Soos uit ’n bord eet,” kraai Fielies.
Ek is beslis; dit is sommer droomdinkery dié. “Nonsens, hy’s ’n aap, en ape vreet net van die grond af. Julle weet self hulle eet nie eens van die boom af nie. Die mannetjies moet die takke skud sodat alles afval, dan tel hulle onder op. Aikôna, hy’s ’n dier nes ’n bees.”
Juis oor hierdie skudgewoonte is die trop ’n groot ergernis. Uit die vrugte wat op die grond val ná so ’n uitskud, neem die trop net hier en daar ’n hap, sodat ’n perske selde tot op die pit gevreet is.
Die vanghok is ’n nuwe ding – amper soos dié wat die boere hoër op in die kloof vir bobbejane gestel het: ’n stewige kontrapsie van draad en gesweiste pype. Diep agter in die hok lê ’n plat klip, waarom ’n tou gebind is wat teen die hok se dak langs oor ’n reeks katrolle loop en die valhekkie oophou. Sodra die aap die klip optel om die vangkossies daaronder by te kom, loop die tou oor die katrolle en die deur val agter hom toe.
’n Entjie van die hok sien ons al die volk drom. Fielies los sommer sy kar teen die pad en ons hol dat dit bars. Skuins eenkant sien ek Pa staan; hy en ou Pyp is druk in gesprek.
“Maak pad, siejy, die kleinbaas wil die aapding sien.” Fielies trap ’n pad oop tussen die klein kwediens om die hok. Hulle gee pad dat ek kan sien. Ek kyk, en skrik.
Soos ’n kind sit die aap naby die klip in die middel van die hok. Sy hande – dit lyk kompleet op mensehande met naels en alles – is om die tou geklem en sy oë vat en los aan die gesigte om hom. Ek beweeg nader en sy oë kom sit in myne.
“Jô, kwedien, hy lyk dan na Tattie,” koggel Fielies.
Ek hoor nie die koggel in sy stem nie, maar hoor net die lyk-na-mens.
“Aan ’n paal, aan ’n paal,” juig Tattie.
Nee, wil ek sê, nee, kyk sy hande en gesig: skoon mens. Ou Pyp staan nader langs my en grinnik: “Hè, kleinbaas, gesêg soos ’n ou Boesman.” Hy giggel sy hees laggie en ek staan tru, eenkant.
Hulle maak toe om die hok.
“Dis ’n mannetjie, ’n mannetjie,” gil Fiekielê, “kyk net, as hy omswaai . . .”
“Skrik hom diékant,” beveel ou Pyp, “laat ons sien.” Tattie is dadelik by en hamer met sy hande teen die hok. Aan hul juig weet ek die aap het omgeswaai.
“Dis ’n ram, my baas,” sê ou Pyp na agter.
Ek draai na Pa. “Wat gaan Pa met hom maak?”
“Tag, ek weet nie. Dit sal nie die trop afskrik as ons hom net váng nie . . . Hulle sal vorentoe net lig loop vir die vanghok en maar bly pla in die mielies en die perskes.”
“Gaan . . . Pa hom skiet?” Die aap het met sy kyk vir my méns geword. En daardie hande, soos ’n kind s’n . . .
“Nee . . . nee. Pyp sê ons moet hom skeer en wit verf. Hulle het dit glo jare gelede oorkant die rivier gedoen en dit het baie goed gewerk. Hy sal agter die trop aan hardloop, en hulle sal weer van hom af weghardloop. Só verjaag ’n mens die hele trop vir goed.”
Skielik breek daar ’n kabaal by die hok los. Die kwediens gil en ou Pyp los ’n harde knoop.
“Voe’sek! Voe’sek!” Fielies se stem is hoog en opgewonde.
“Hy’t vir Jock beet, o gattela!” Tattie kyk benoud agtertoe, want ek het hom flussies Jock hoor aanhits om vir die aap te blaf. Ons staan nader aan die konsternasie: die aap klou net binne die sifdraad en hy het Jock se bolip stewig in sy tande. Jock se boude tril soos hy vasskop, maar sodra hy sy kop draai, trek sy lip ’n tuit. Jock sien hy is vas; hy kan nie roer nie en hy kan nie deur die draad byt nie. Hy begin deur sy halfoop mond te tjank en sy stert kruip tussen sy agterbene in.
Oplaas neem Pa sy sigaretaansteker en maak vlammetjie digby die aap se kop. Die aap wikkel hom los uit Jock se lipvleis en rank met lang hale tot teen die tou, waar hy sigbaar sit en bewe. Jock nael werf se kant toe, sy kop laag, en kort-kort skud hy sy lyf.
“Hy’s ’n . . .” Ou Pyp vertel die aap waarvandaan hy kom en begin deur die draad te pomp met ’n riet.
“Nee, Pyp.” Ek keer, want dis al of die aap se wit oë pal na my kyk. En die hande om die tou soos ’n mens s’n.
“Ons sal hom verf,” besluit Pa se stem agter my. “Gaan haal ’n goiingsak, Fielies.” Fielies spring weg, terwyl die ander indaba hou hoe om die aap uit die hok binne-in die sak te kry.
“Soos weerlig is hy in die bome in,” waarsku Tattie.
“Dan haal die kleinbaas hom af met sy roertjie.” Ek kyk af na die punt-twee-twee in my hand en wonder oor die koeël wat teen dáárdie gesiggie vasklap.
Fielies kom uitasem terug, bloudraad-stuurwiel van sy Cadillac in die een hand en die sak in die ander. Hulle begin maneuvreer. Eers bietjie vir bietjie die hek oopstoot om te kyk hoe die aap reageer. Hy sit doodstil, en korrel met sy ogies, pal mý kant toe.
Ek wens dat hy die gaping wil vat en wegkom bome toe. Hulle besluit om die hok op te lig en te skud, sodat hy deur toe val.
Hande vat gretig en hulle lig. Die aap kwetter verward, die eerste geluid wat hy maak, en swaai ’n oomblik aan die tou. Dan rol hy na die oop deur en blitsig woel ou Pyp die sak om hom.
Ek kan sien hoe die aap binne die sak spartel, maar ou Pyp vat hom stewig vas en bind die bek van die sak toe. Met sy eienaardige bondel begin hy aanstap werf toe, met die kwediens in ’n opgewonde groep agter hom aan. Hulle vergeet skoon om die onderstebo hok weer staan te maak.
Ek loop langs Pa. “Dit sal die trop vir altyd wegja. Dis ’n bietjie wreed, maar met al die skade aan die mielies en die perskes kan ’n mens niks anders doen nie . . .”
“Sal sy hare . . . weer uitgroei, Pa?” vra ek versigtig.
“Gewoonlik,” – Pa huiwer, ek kan hoor – “gewoonlik, só sê hulle, treur so ’n aap hom dood, want die trop vlug vir hom omdat hy wit is, en hý weer kan nie verstaan waarom hulle vir hom weghardloop nie.” Pa bly ’n rukkie stil. “Op die ou end, nou ja, dan kwyn hy weg.”
“O.”
Ek kan my oë nie afhou van die springende goiingsak in ou Pyp se hand nie. Pal in my gedagtes staar die aap se wit oë na my.
In die werkswinkel maak hulle eers al die deure en vensters toe, en Pa haal ’n skaapskêr van die rak af. Ou Pyp staan eenkant en roer in ’n blikkie wit verf met ’n plankie. Ek voel ’n narigheid en stap eers buitentoe, by die stil bruin bondel op die werkstafel verby.
Agter my rug hoor ek ’n gewerskaf, ’n paar uitroepe en dan die geklik-klik van die skêr. Ná ’n rukkie begin die aap opgewonde kwetter.
Ek stap vinnig kombuis toe en vra Mina vir koffie.
Die kwediens se gelag lok my na buite en ek gaan uit, téén my wil. Met ’n benoudheid in my bors stap ek agter die geluid aan. Daar sit die aap in een van die kuikenhokke; sieklik kaal en wit.
“O, nee . . .”
Pa lyk ernstig, en hy kyk nie een maal na my kant toe nie. Ou Pyp staan teen die ogiesdraad en koggel die aap. Dit smaak my ek jaag ’n koeël in sy rug in.
“Wanneer los ons hom, wanneer los ons hom?” Tattie se oë blink. Hy gryp Fielies se draadkar en gooi ’n draai om die hok.
“Hy lyk soos ’n droster!” juig Fielies.
“Soos ’n tokkelos!” voeg Fiekielê by.
“Kom,” roep Pa my, “ons gaan drink eers tee. Ons sal hom vanmiddag los as die trop rivier toe kom vir water.”
Ek huiwer. “Pa . . . moet sê die volk moet hom uitlos . . .” Pa kyk na my, en praat dan met die volk. Hulle slenter teleurgesteld weg. By die voordeur, voor ons die huis binnegaan, kyk ek terug: die wit aap hang teen die hok se sy en knaag met sy fyn tandjies aan die sifdraad.
Agtermiddag staan ons om die hok. Tattie-hulle kan skaars hul opgewondenheid beteuel; Jock het sy selfvertroue teruggekry en staan hardegat teen die hok en lyk lus vir die aap se lyf.
“Maak vas die hond,” beveel Pa. Fiekielê sleep Jock weg en ou Pyp gaan die hok binne, riet in die een hand, hoed in die ander.
“Heaa, heaa,” blaas hy. Ek kan sien hy is effe skrikkerig, vernaam omdat die aap hom stilweg sit en beloer uit die hoek. “Jy, duiwelskjênd!” Hy beduie met sy riet, die kwediens giggel senuweeagtig en toe skiet die aap soos blits by ou Pyp verby, woerts by die hek uit en loop met lang hale oor die werf.
“Hol, hol, tokkelos!” Die kwediens streep agterna so vinnig hulle kan, klouter oor die werfdraad en baljaar agter die dier aan.
Pa sug en draai om huis se kant toe.
Ek voel my maag het ’n naar kol en antwoord nie op ou Pyp se hees grappie nie. Ver in die stofpad af lande toe sien ek die wit aap hardloop met sy grys sekelstert, ál deel van sy lyf wat nie geverf is nie, krom in die lug. ’n Hele ent agter hom nael die kwediens met swaaiende arms.
Alles word sommer aaklig en met die verbystap gee ek Jock, wat sy ketting byna afrem van opgewondenheid, ’n skop in die blad.
Skuins voor melktyd kan ek dit nie meer uithou nie. Ek móét gaan kyk wat van die wit aap geword het. Ek swaai my punt-twee-twee oor my skouer, vat my hoed en stap af rivier se kant toe.
Toe ek die eerste dongas vat, hoor ek die aaptrop. Hulle is opgewonde: dit raas en skel en tussenin ruis die takke soos hulle rondspring. Ek buk laag tussen die fluitjiesriet deur, vat ’n aappaadjie en sak af tot op die bedding. So besig is hulle dat hul wag, wat altyd eenkant sit en die wêreld bespied terwyl die trop suip, my nie eens gewaar nie. ’n Ent vorentoe sien ek hulle in die bosse.
Die wit aap is hier, ek weet dit.
Net toe sien ek hom. Hy sit ’n ent duskant hulle, alleen in ’n boom, en is besig om te mik in hul rigting. Maar sodra hy vorentoe beweeg, deins die trop terug; kwetterend nuuskierig, maar ook bang. Hy beweeg voetjie vir voetjie op die tak langs. Ineens laat hy los, doef op die sandbank neer en nael na hulle.
Die tropleier, ’n frisserige mannetjie, wat heel voor die wit aap sit en betrag het, vlieg om, rol ’n slag en laat vat met die res agter hom aan.
Ek strompel agterna deur die fluitjiesriet, val ’n slag en verloor my hoed, maar steeds bly die patetiese oë van die wit aap voor my. Die fluitjiesriet vreet klein snytjies oor my bene en arms, maar ek hardloop voort.
Uiteindelik bly die wit aap staan, en die trop ook, maar aan die ander kant van die stroom van waar hy op die sandbank sit. Ek kruip versigtig nader. Die trop maak hulle tuis in die doringbome en sit swyend en staar na die wit aap. Van waar ek sit, hoor ek hom fyn geluide maak; hy krap aan sy lyf en draai dan om. Stadig klim hy teen ’n doringboomstam op en gaan sit in ’n mik.
Ek haal skaars asem, want nou is dit doodstil, en die geringste geluid van my kant sal almal, die witte inkluis, laat spat. Net so stil, byna gelate, verdwyn die trop skielik in die bosse agter hulle. ’n Paar takke ruis nog en dan is hulle heeltemal weg.
Voetjie vir voetjie sluip ek in die rigting van die boom waarin die wit aap sit. Later, met my geweer ongemaklik oor my rug, kruip ek hande-viervoet sodat ek hom nie verskrik nie.
Onder die boom kom ek half orent, só dat die stam tussen my en die aap is. Ek staan op, druk ’n patroontjie in die slot, wat ’n koue geluid in die laatmiddaglug maak.
Ek tree vinnig agter die stam uit, en byna nog voor hy my gewaar, stuur ek die koeël na sy gesig, wat komieklik wit op sy kaalgeskeerde nek na my swaai.
Aan die plof op die sandbank onder my kan ek hoor hy is dood, en ek draai my nie eens om na sy opeengehoopte lyf te kyk nie.