Читать книгу Anderkant die volmaan - Ettie Bierman - Страница 3

1

Оглавление

Ruan kom sit in die leunstoel oorkant haar, sy oë vol pyn en ’n somber trek om sy mooi mond. “Ons twee moet praat, Nikka.”

Sy is dadelik gespanne. Is dit hoekom hy gevra het of sy klaar is in die kombuis, tyd het om te gesels en ’n glasie wyn wil hê? Sy kry ’n gevoel die rooiwyn is medisinaal, bedoel om haar te kalmeer en te laat ontspan. Is dit slegte nuus, iets wat gebeur het?

Haar vingers klem die langsteel-kristalglas vas. “Waaroor praat?”

Hy neem ’n lang sluk, asof hy ook krag of inspirasie uit die dieprooi merlot wil put. “Oor ons.”

“Ons?” eggo sy, asof dit ’n vreemde woord is wat sy nie ken nie.

“Jou en my,” herhaal hy, maar kyk haar nie in die oë nie.

“Wat van jou en my?” vra sy skor.

“Dit werk nie tussen ons nie. Jy weet dit self.”

“Ons is net bietjie krapperig, dis al. Dit sal verbygaan,” skerm sy.

Ruan sit vooroor op die stoel, sy elmboë op sy knieë gestut en sy vingers ineengevleg. “Dis meer as net krapperig, Nikka. En dit sal nie verbygaan nie, ons dryf al verder uitmekaar. Daar gaan dae om dat ons mekaar skaars sien en nie ’n woord praat nie. Dis mos nie ’n huwelik nie.”

“Ons is besig, ons werk hard.”

Hy skud sy kop. “Wees realisties, Nikka. As twee mense vir mekaar omgee, máák hulle tyd. Hulle loop nie draaie om die ander een en soek verskonings nie. Dit help nie ons bluf onsself nie. Ons het nie meer ’n verhouding nie en leef by mekaar verby. Jy en ek het al hieroor gepraat, meer as een keer.”

Nikka se mond is droog en sy neem ’n slukkie wyn. “Ons het ooreengekom op ’n proeftydperk. Die drie maande is nog nie verby nie.”

“Twee derdes is verby. Nog ’n maand gaan nie ’n verskil maak nie, behalwe om die situasie onnodig uit te rek. Wat baat dit om uit te stel en tyd te mors? Ons is albei vasgevang in ’n ongelukkige situasie. Hoe gouer ons ’n einde aan die stres en spanning maak, hoe minder seerkry is daar en hoe gouer kan ons aanskuif.”

Aanskuif? Nikka vra nie wat hy daarmee bedoel nie, nie seker of sy dapper genoeg is om die antwoord te hoor nie.

“Ons het mekaar belowe om toegewings te maak, te probeer aanpas en die ander een se standpunt in te sien,” protesteer sy. “Dit was soos ’n nuwe begin. Ek het gedink dit werk, dit gaan beter en ons verhouding begin weer regkom …”

Ruan kyk anderpad en vryf met sy vingers deur sy blonde kuif wat deurmekaar oor sy voorkop hang. Hy antwoord nie.

“Die naweek daar in die Drakensberg … Dit was amper weer soos lankal, amper soos ’n … ’n tweede wittebrood,” hou sy vol.

Sy mond vertrek in ’n wrang glimlag. “Bedoel jy die seks? Dié was altyd goed tussen ons. Ek het soms gedink ons soek ’n rede om te baklei, net omdat die opmaak na die tyd so lekker is. Die bed was al plek waar ons behoorlik gekommunikeer het en waar ons kon sê ons huwelik is ’n sukses. Maar mens kan nie jou lewe in die slaapkamer, tussen die lakens slyt nie. As die son opkom, as dit tyd is om op te staan en jou klere aan te trek, moet daar steeds dinge soos samewerking wees, begrip en vertroue.”

“Daar ís samewerking tussen ons, en begrip en vertroue. Natuurlik is daar!”

Hy stry nie, kyk haar net stroef aan. “Ek voel in ’n blik gedruk en ek wil uitklim. Wegbreek. Dalk as ons afstand kry, sal dit help om mekaar te waardeer.”

“Ons het alreeds uitmekaar gedryf. Om afstand te kry, sal die situasie vererger.”

“Ek het alleentyd nodig om my kop skoon te kry en oor die toekoms te besin.”

“Ons is lief vir mekaar en gelukkig saam. Ek verstaan nie …” ’n Frons keep tussen haar wenkbroue. “Waarvan praat jy, Ruan?”

Hy probeer iets sê, bly dan stil en laat sy kop sak.

Iets is verkeerd, besef Nikka. Wat hy sê, is nie die volle waarheid nie. Sy ken haar man en sy kan aanvoel hy steek dinge vir haar weg.

“Ek weet ek het jou verwaarloos en kan verstaan as jy afgeskeep voel,” erken sy. “Maar dis hoe dit in die meeste huwelike gaan waar beide die man en vrou uitwerk, veeleisende beroepe het en druk van buite moet absorbeer. Dis die moderne samelewing, die vinnige tempo en die simptome van die tyd waarin ons leef.”

Hy skud sy kop. “Moenie buite-oorsake soek nie. Die fout lê in onsself. Ons persoonlikhede is uiteenlopend; een op Venus, een op Mars, en onversoenbaar. Ons bots oor elke ding onder die son, baklei oor alles en leef soos kat en hond. Ons kan nie so aangaan nie.”

Nikka is verstom. Is dít hoe Ruan dit ervaar? Vanuit sy perspektief klink dit of hulle elke dag in ’n oorlog gewikkel is.

“Ons albei is sielsongelukkig,” voeg hy by, “besig om mekaar stelselmatig te vernietig. Ek is moeg vir die gedurige spanning. Al wat ek wil hê, is rus en vrede.”

Dis wat hy voorheen ook gesê het: dat daar te veel druk op hom is. Dat sy nooit tyd vir hom het nie, altyd aan die gang met haar werksake wat belangriker as hý is …

Hulle het probleme, dit weet sy. Maar nie dat dit só drasties is nie. Sy het gehoop Ruan verstaan, hy weet mos dis net tydelik, net tot hul finansies uit die rooi is. Maar dalk het sy te veel van hom verwag en nie besef dat hulle so erg van mekaar vervreem geraak het nie.

Vanaand klink Ruan egter anders as vorige kere. Kalm en bereken, asof hy die argumente voor die tyd beredeneer het. Dit ontstel haar amper meer as ’n rusie wat uitloop op beskuldigings en deure wat toegeklap word. Ruan is sportredakteur by Weeknuus, wat Vrydae verskyn. Vandag is Donderdag: spertyd, saktyd, druktyd – die besigste dag by die koerant. Tog het hy vroeër van die kantoor af gekom as gewoonlik. Hul hoewe by Hartbeespoortdam is soos ’n dieretuin – hulle Ark vol hawelose diere. Ouperd het nader gegalop, Haandrik het verwelkomend gekraai en die honde het gekef en geblaf. Normaalweg sou Ruan eers aan hulle aandag gegee het, maar hy het reguit deurgestap studeerkamer toe.

Hy het lank weggebly en toe hy eindelik kombuis toe gekom het, het hy haar skaars gegroet. Haar skrams op die wang gesoen en gevra of sy tyd het – tyd vir gesels en ’n glasie wyn. Hy het ingedagte rondgestaan, twee, drie keer aan sy hempskraag getrek asof hy benoud gevoel het. Die ertappels en die wortels was nog nie sag nie, maar Nikka het dadelik die stoof afgeskakel.

Sy het tóé al ’n voorgevoel gehad.

’n Weekheid kom oor haar toe sy die donker kringe onder sy oë oplet, asof hy verlede nag min geslaap het. Hy lyk vreemd weerloos en sy wil haar hand uitsteek om die moeë lyne weg te streel, met haar vingers oor sy wang te vee. Net aan hom te ráák … Maar sy weet nou is nie ’n goeie tyd om toenadering te soek nie. Hy is al die hele week afgetrokke. Afsydig. Gespanne …

Nikka se stem is sag. “Die magic tussen ons is nie weg nie, Ruan. Dit wat eens op ’n tyd tussen ons was, is nog daar. Ek glo dit vas. Wees geduldig, gee net tyd en dit sal terugkom; ons wegvoer en op die wolke laat sweef soos toe ons agtien was.”

Hy vryf oor sy gesig en sy hoor die dag oue baard teen sy palm rasper. Hy is gewoonlik stiptelik, maar hy was vanoggend laat en het blykbaar nie geskeer nie.

“Ons het sewe jaar gehad om ons huwelik te maak werk en niks bereik nie,” sê hy. “Tyd gaan nie ’n verskil maak nie. Ons moet die feite aanvaar en aanskuif.”

Weer daardie woord wat haar maag laat omkeer. Sy kan dit nie wegwens of maak of sy nie gehoor het nie.

“Dis beter so … dat ek uit jou lewe padgee.”

“Padgee?” Sy sukkel om die woord uit te kry. “Wat probeer jy sê?”

Hy bly lank stil. “Ek wens daar was ’n makliker manier om dit vir jou te sê, Nieks …”

Nikka se hande is bewerig. Haar hart sink soos ’n klip in haar binneste en sy weet dis slegte nuus wat kom. Baie sleg. Soos ’n doodstyding … Tog, toe die woorde kom, skok dit dieper as waarop sy voorbereid was.

“Ek wil ’n egskeiding hê.”

Buite dreun ’n motorboot oor die dam en die ganse snater teen die grensdraad vir ’n verbyganger. Kattebol kom spring op haar skoot, aan die bedel vir ’n bakkie melk. Maar al waarvan Nikka bewus is, is die vyf woorde wat uit haar man se mond gekom het. Wat nog steeds in die lug tussen hulle hang en wat haar lewe aan flarde geruk het. Dit kan nie wees nie. Hy is nie ernstig nie …

Ruan is wasbleek en sy stem ’n skor fluistering. “Ek is jammer, Nikka. Dis nie jou skuld nie. Om jou seer te maak is die laaste ding wat ek wil doen. Maar dis die beste uitweg …”

Sy het gedink haar glas is leeg, maar daar was blykbaar nog wyn oor. Sy moes die glas skeef gekantel het, want sy voel die nattigheid oor haar vingers drup. ’n Oomblik lank dink sy die natrooi strepe is bloed, en sy vind dit nie vreemd nie. Haar binneste pyn so verskriklik, dis logies dat daar bloed uit haar lyf sal kom.

Het Ruan gesê hy wil haar nie séérmaak nie? Hoekom het hy dan huis toe gekom om te praat, om te sê hy wil haar nie meer hê nie? Haar hart in stukke te breek … Sy sit die glas op die koffietafel neer, soek ’n sakdoek in haar mou en vee haar vingers droog. Dan tel sy die Siamese kat op en hou hom vas. Dis asof sy gerusstelling uit die roetinebewegings put en troos uit die warm lyfie teen haar bors.

“Egskeiding?”

Sy sê die woord asof dit ’n vloekwoord is. In die koerante en tydskrifte lees mens: twee uit drie huwelike eindig in die skeihof. Haar ouers is geskei toe sy vyf jaar oud was, die bure is uitmekaar en haar tante se man het met ’n ander vrou weggeloop. Dis so algemeen, die kerke preek nie eens meer daaroor nie.

Hoekom het sy gedink sý is immuun? Omdat sy met ’n man soos Ruan van der Hoven getroud is, wat sy al van hul skooldae af ken, wat standvastig en eerbaar is, wat sy vrou op die hande dra en nooit in die steek sal laat nie? Wat sy gedink het sy kén?

“Is jy ernstig?”

Ruan vryf weer met sy vingers deur sy hare, dan laat hy sy kop sak. “Dis beter so …”

“Béter?” Nikka kan nie glo sy het reg gehoor nie. Hoe kan ’n egskeiding beter wees as om getroud te wees?

“Beter as om jou aan ’n lyntjie te hou. Ek is nie die man wat jy dink ek is nie. Jy verdien beter.” Hy klink objektief, amper soos ’n vreemdeling.

“Ek wil nie ’n ander man hê nie!”

“Jy ken my nie.”

“Natuurlik ken ek jou!” Sy probeer om sagter en minder te praat. “Ek ken jou al dertien jaar. Hoe kan jy sê ek kén jou nie?”

“Mense word ouer; hulle verander. Word voor keuses gestel …”

“Ruan, ek …” Nikka sluk en haal ’n slag diep asem. “Ek verstaan nie wat jy probeer sê nie.”

Hy maak sy oë toe en laat rus sy kop teen die stoel se leuning. “Miskien verstaan ek self nie. My kop voel wollerig, asof dit vol watte geprop is.”

Hy is lank stil. Dan sug hy, maak sy glas met een teug leeg en staan op. “Ons praat in sirkels. Ek het vanaand ’n perskonferensie met rugby se Super14-borge. Ek wil gou gaan stort, dan moet ek ry. Los dit nou vir eers … Ons sal later weer praat, wanneer ons rustiger is.”

Nikka kyk na sy mooi hande wat met die uitstap sy hemp begin losknoop. Sy kry ’n glimps van sy breë, bruingebrande bors en die reguit lyn van sy skouers. Alles aan Ruan is mooi. Sy ekspressiewe, soenbare mond, sy groenbruin oë met die digte wimpers. Die blonde hare en lenige rugbylyf.

Die eerste keer toe sy Ruan gesien het, was in graad tien. Hy was ’n nuwe seun, van ’n ander skool af, uit die Kaap. Hy was in die A-klas, met wiskunde, chemie en elektronika – al die vakke wat die meisies beïndruk het, omdat dit vakke was waarmee hulle gesukkel het.

Ruan van der Hoven is gedurende die heel eerste oefening vir die skool se eerste rugbyspan gekies. Vleuel, omdat hy sterk gebou en vinnig was. Drieë druk was nie al wat hy kon doen nie, hy was ook ’n topatleet. By interhoër was Nikka een van die trompoppies wat die toeskouers op die pawiljoen histeries opgesweep het elke keer wanneer daardie wapperende vlasblonde kuif uit die groep weggebreek het om heel voor te hardloop en die 200 m en 400 m vir hulle skool te wen. Ruan van der Hoven was almal se held, veral die meisies s’n. Nikka was swewend op die wolke, halsoorkop en koorsig verlief op die Kapenaar.

Sy het elke tienerrubriek in die tydskrifte verslind, elke brief wat raad vra oor hoe om ’n seun se aandag te trek. Sy het ’n lys strategieë opgestel, maar dit was nie nodig om skalks deur haar wimpers te loer, ’n prikkelende sms te stuur of op die trappe “per ongeluk” in hom vas te loop nie. Ruan het die inisiatief geneem. Een pouse kamma ongeërg verbygeslenter waar sy en ’n groepie maats onder ’n boom hul toebroodjies sit en eet het. Hy het nie ’n gesprek probeer aanknoop nie, maar die kyk wat hy die fyn swartkopmeisietjie met die lang poniestert gegee het, het ’n sein uitgestuur wat duidelik gesê het: Ek sien jou. Ek wéét van jou.

Die volgende middag het hy saam met haar bus toe geloop en gevra of hy dalk langs haar mag sit. Asof dit nódig was om “dalk” by te voeg, hoegenaamd toestemming te vrá …

Die Kapenaar het die hele week saamgeloop, haar rugsak gedra en die sitplek langs haar in die bus opgeëis. Eers twee weke later het sy uitgevind hy het ’n motorfiets en dat hy die busroete in die totaal teenoorgestelde rigting gery het as waar hy in Waterkloof gewoon het. Toe sy hom daarna gevra het, het hy net gelag, haar hand vasgehou en gesê dis niks, sy’s dit werd – al daardie ekstra kilometers se draf terug skool toe om sy motorfiets te kry.

Ruan was so ordentlik, hy het haar eers ’n maand later gesoen, eers nádat hulle gekys was. Hy het vir haar ’n kysring gekoop en pligsgetrou smiddae na skool haar algebrahuiswerk vir haar gedoen. Alles was in pienk sellofaan toegedraai en die wêreld was ’n wonderlike plek. Selfs haar ma, wat hiperkrities en wantrouig was oor enige seun wat in haar dogter se rigting gekyk het, het erken die Van der Hoven-kêrel lyk op die oog af nogal skaflik.

Nikka was vyftien. Nou is sy agt en twintig en nog net so verlief op haar blonde Kapenaar soos tydens hul skooljare, universiteitsjare en sewe jaar van getroude lewe. Ondanks hul rusies en stryery wat die afgelope klompie maande al hoe gereelder voorgekom het. Dis die eise by die koerant en by die skool waar sy ’n onderwyspos gehad het wat stres veroorsaak het, het sy haarself wysgemaak. Ruan doen twee mense se werk en sy drie s’n. Haar klasse was onhanteerbaar groot, die fasiliteite power en haar hoof ’n sweepklapper wat met die leerlinge en sy personeel mors. Dit alles was faktore wat tot die wrywing bygedra het, asook haar en Ruan se finansies wat boomskraap is ná die koop van die hoewe by Hartbeespoortdam.

Hulle is nie stadsmense nie. Al het hulle op Tukkies geswot, wil nie sy óf Ruan permanent in Pretoria woon nie, nie eens in die buitewyke ver uit die middestad nie. Sy het van ’n plaas in die Bosveld gedroom, en hy van die see en die Kaapse berge.

Die ses jaar wat hulle uitgehou het in ’n goedkoop huurwoonstelletjie in Sunnyside was ’n foltering. Maar dit was die uithou werd, want op die horison het die hoewe by die dam gewink. Hulle het elke sent drie maal omgedraai. Maar hulle het ryk gevoel, want hulle het ’n droom gehad, en slegs hy wat nooit droom nie, is werklik arm.

Die hoewe met aalwyne en soetdorings en ’n uitsig oor die Magaliesberge en die dam was ’n droom wat waar geword het. Ruan het sy stukkie Kaap gehad en Nikka haar stukkie plaas. Maar dit was peperduur, eintlik onbekostigbaar. Die koopprys het hul begroting oorskry en die paaiemente op die verband is hoër as wat hulle gemaklik kan bybring. Dit veral, die finansies – oftewel gebrek aan finansies – het friksie veroorsaak.

Vir die eerste keer het sy bewus geword van fundamentele verskille tussen haar en Ruan. Hulle het saam gedroom, gespaar en toekomsplanne gebou. Maar sy is haastiger, bereid om te waag, ’n bietjie te dobbel en kortpad te kies vir vinniger resultate, terwyl hy meer verantwoordelik en konserwatief is. Ruan het haar beskuldig dat sy impulsief is, eers doen en dán dink.

Miskien is hy reg. Miskien moes sy nog ’n jaar vasgebyt het in haar onderwyspos, besef Nikka. Dit het darem ’n gereelde maandelikse inkomste verseker, al was die werksomstandighede bedroewend. Hulle het die geld dringend nodig, veral met haar nuwe onderneming wat nie aan die gang kan kom nie.

Sy moes seker nie so halsoorkop bedank het nie; eers haar huiswerk gedoen het om vas te stel of die nuwe projek werklik lewensvatbaar is. Om ’n eie besigheid te begin wat buitelug-pieknieks aanbied, het oorspronklik en opwindend geklink. Sy wou wegkom van die slawedrywerhoof en sleur van onderwys en haar eie baas wees – haar kreatiwiteit en ondernemingsgees toets. En sakke vol geld maak om hul skuldlas af te los.

Ruan was skepties. “Hierdie mal idee van jou is ’n risiko. ’n Mens leer eers swem voor jy by die diep kant inspring.”

“Ek kan swem. Heel goed ook, en ek is bereid om hard te werk. My vingers deur te werk,” het sy belowe. “ ’n Mens verkoop nie jou siel vir ’n miserabele salaristjek die einde van die maand nie. Ek is nie ’n agt-tot-vyf-mens nie, vasgekeer tussen vier mure in ’n bedompige klaskamer. My gees verskrompel en ek is besig om te versmoor. Die pieknieks is iets nuuts en romanties. Daar is ’n nis in die mark vir so iets. Entrepreneurskap en kleinsakeondernemings is deesdae die in-ding.”

“Dit bly ’n waagstuk. As dit flop, is ons onderdeur. Dan verloor ons alles waarvoor ons so hard gewerk het: die Ark, die dak oor ons koppe en al ons spaargeld.”

“Dit sál werk, jy sal sien!” het sy volgehou.

Sy het Ruan en die bankbestuurder oortuig dis nie sommer net papierdrome nie – dis ’n unieke, winsgewende proposisie. Sy het huishoudkunde geswot en kosmaak is haar beroep. Die hoewe bied ’n ideale venue, met die ruie bosveldbome en asemrowende uitsig oor die dam en die berge. Die grasdaklapa by die uitkykpunt het nie veel restourasie nodig nie, net ’n bietjie nuwe dekgras. Daar is reeds ’n pad soontoe, dit moet net geskraap word, wat nie veel sal kos nie.

Ruan het iets gebrom van “onprakties” en die bankbestuurder iets van “kollateraal”. Nikka het die tegnieke wat sy dertien jaar gelede in die tienertydskrifte opgeswot het, afgestof en ingespan: haar fladderende wimpers en onskuldige blou oë, kuiltjieglimlag en halternekrok met die effens lae, verleidelike halslyn …

Dit het gewerk. Sy het haar lening gekry, met die hoewe as sekuriteit. Genoeg vir verbeterings aan die lapa, om water aan te lê, die pad te laat skraap en toerusting aan te skaf: stoele en tafels, piekniekmandjies, breekware en ’n onweerstaanbare perdekarretjie met twee rye blougeverfde sitplekke.

Ruan se vriend Thys het Ouperd vir hulle gegee, wat hy op ’n vendusie teëgekom het en van die slagpale gered het. Ouperd was so dankbaar vir die genadebrood, hy sal selfs ’n ossewa dwarsoor die Drakensberge trek. Hy’s glad nie so oud soos hy lyk nie; nog heeltemal hups genoeg om piekniekgangers die entjie van die opstal af met die slingerpad langs te vervoer tot by die lapa.

“Wie gaan die karretjie dryf?” wou Ruan weet, steeds nie opgeklits met haar idee nie.

“Andries. Die tuinwerk op die plot is nie so baie nie, hy sal dit geniet.”

“Wie sê hy sal weet hoe?”

“Ék sal hom wys.”

Sy wenkbroue het gelig. “Jý? Kan jy ’n perdekarretjie dryf?”

“Nie … eintlik nie,” het sy erken en sonnig geglimlag. “Maar ek sal hom ’n prentjie wys.”

Ruan het niks gesê nie, net sy oë boontoe gerol.

“Dis maklik: mens sit net op die bankie en hou die teuels vas.”

“Leisels,” het hy gekorrigeer.

“Teuels of leisels … dieselfde ding. Ek sal vir hom ’n kakiebroek koop en kruisbande en ’n laphoedjie, soos Van Bruggen se Ampie s’n. En daar moet hoenders wees, vir ’n plaasatmosfeer – kapokkies wat losloop en skrop en kraai. En dosyne eiers lê, wat ons kan eet en vir die pieknieks gebruik.”

“Wat gaan dit alles kos, Nikka?” het hy gevra.

“Kapokkies is goedkoop. Ek bedel sommer ’n krat vol by die buurman. Hulle teel vanself aan en sal die slakke in jou tuin eet waaroor jy altyd so mor. Dan spaar ons op duur insekdoders.”

“Jy sal elektrisiteit moet aanlê of ’n kragopwekker koop, plus ’n bakkie.”

“Krag is nie nodig nie. Ek sal ’n gasyskas kry. Vir ’n aandpiekniek gebruik ons lanterns, dis meer romanties.”

“Wat van kleedkamers vir die gaste?”

Nikka was min gepla. “Ons grawe long drops. Dis pure plaas en gee atmosfeer. Ek gaan ’n ou wastafel koop, ’n erdeskottel en ’n lampetbeker wat eenkant onder ’n boom staan, soos op die prentjies.”

Ruan is nie ’n ou vir prentjies nie. Hy was stug en afsydig. Ook toe sy haar arms om sy nek gesit het en hom probeer verlei het … Toe sy haar mond uitnodigend gelig het, het hy haar weggestoot. “Nie nou nie, Nikka. Ek is nie in die luim nie.”

“Skatlam? Liefding, wat pla?” het sy geflikflooi en tergend met die punt van haar tong oor die frons tussen sy groen-en-bruin oë gestreel. Peppermint Crisp-oë, het die bakvissies op skool Ruan se mooi oë beskryf. Groen wanneer hy vrolik was en gelag het. Bruin wanneer hy vies en befoeterd was. Soos nóú …

“Is dit die geld, die piekniekprojek of die komende rugbytoer wat jou pla?”

“Al drie,” het hy geantwoord en weggedraai.

Ruan is heerlik warmbloedig, weet sy uit eie ondervinding; kookwater, met ’n ruim dosis testosteroon wat vinnig pomp. Altyd dadelik gereed wanneer sy aan hom vat of vryf of byt of lek. Daardie was die eerste keer dat hy nie belanggestel het in haar uitnodiging nie. Sy selfoon het gelui. In die verlede sou hy dit geïgnoreer het en haar met vonkelende oë en ’n warm mond nader getrek het. Maar dit het gelyk asof hy die onderbreking verwelkom.

Dit was Weeknuus se redakteur, om die finale reëlings vir die Super14-rugby se wegwedstryde te tref. Die Bulls, die Sharks en die Stormers speel elk twee wedstryde in Australië en Nieu-Seeland en Ruan, as sportredakteur, sal die vyf weke lange toer vir die koerant dek. Dis sy werk: om soms lang tye van die huis weg te wees.

Nikka is dit gewoond, maar die toer kom op ’n slegte tyd. Ruan is moeg en depressief, oorwerk en oorspanne, en snags slaap hy sleg. Daar is sakkies onder sy oë en hy het die afgelope maande gewig verloor.

Hulle huwelik gaan deur ’n moeilike fase. Nikka erken daar is gevaarligte wat flikker. Maar Ruan oordryf. Hy gaan oorboord om van skei te praat. Só onoorkomelik is hul probleme tog nie. Tensy daar eksterne faktore is en hy nie oop kaarte met haar speel nie.

Sy argumente vanaand was sommige uit die lug gegryp en onoortuigend. Miskien doen die rugbytoer hom goed: om afstand te kry tussen hom en sy huislike probleme en om sy kop skoon te kry. Wanneer hy terugkom, het alles hopelik oorgewaai en is hy weer sy ou self.

Die dae kom en gaan. Donderdagmiddag se gesprek het nog nie weer ter sprake gekom nie te midde van die harwar van ’n gholftoernooi in die Kaap wat Weeknuus borg en ’n sokkereindstryd wat Ruan moet dek, saam met die voorbereidings vir die Super14-toer.

Hy is selde tuis. Hy versorg die diere, snoei die perskebome en betaal die rekeninge. Verder vermy hy Nikka. Hy praat net die noodsaaklikste, en wanneer sy aandete voorsit, is hy nooit honger nie. Hy kom nie naby haar nie en raak nie aan haar nie. Hy het hom in ’n kokon toegewikkel, ’n muur gebou om homself en tussen hom en sy vrou in die dubbelbed in die slaapkamer. Die meeste van die tyd kom hy laat saans by die huis en slaap dan sommer in die spaarkamer.

Nikka kry die gevoel dat hierdie reëling hom pas, dat hy verkies om alleen te wees. Sy is bang om te vra hoekom, of langs hom in die driekwart-spaarkamerbed te gaan inkruip. Met slegs die breedte van ’n baksteenmuur tussen haar en haar man, lê sy rusteloos van een sy na die ander en rondrol. Wagtend op ’n voetval in die gang en ’n deur wat oopgaan …

’n Voetval wat nie kom nie en ’n deur wat toe bly.

Anderkant die volmaan

Подняться наверх