Читать книгу Anderkant die volmaan - Ettie Bierman - Страница 4
2
ОглавлениеRuan wil nie hê dat Nikka hom lughawe toe neem die aand van die toergroep se vertrek nie. Een van die fisioterapeute sal hom kom oplaai.
“Dis te veel moeite vir jou,” verduidelik hy kortaf. “En dan moet jy laataand alleen terugry plot toe. Dis te gevaarlik.”
“Ek kan in Pretoria by my ma oorslaap,” bied sy aan. “Sy sal geselskap waardeer.”
“Dis te veel moeite,” herhaal hy stroef. Hy aarsel, hou hom besig met ’n skouersak wat hy toerits en vra dan half onwillig: “Sal jy regkom, so op jou eie?”
“Ek gaan na jou verlang,” antwoord Nikka sag.
Hy draai sy kop weg. “Jy het in die verlede alleen reggekom.”
Omdat sy geweet het daar skort niks – hy het haar lief en hy kom terug. Nou het sy geen waarborge nie.
“Sal jy my van Perth af bel?” pleit sy. “Net sodat ek weet jy het veilig daar aangekom?”
Hy knik. “As daar kans is.”
“Jy gaan vyf weke weg wees, êrens sal daar darem seker vyf minute wees om af en toe te bel.”
“Ek sal bel,” gee hy toe. “As jy ’n probleem het, bel vir Thys. Hy sal oorkom en weet wat om te doen.”
Sy wil nie vir Thys Vorster hê nie. Sy wil haar man hê …
Nikka byt op haar onderlip om die bewing van haar mond te stil. “Gaan jy in hierdie tyd nadink? Oor … ons?”
Ruan gooi die band van die sak oor sy skouer en druk die skootrekenaar onder sy arm in. “Ek wil dit nie nou bespreek nie,” antwoord hy, sy stem grof.
Geïrriteerd, skaam of net gewoon haastig? Sy gesig is sonder uitdrukking en sy kan nie aflei wat deur sy gedagtes gaan nie.
“Ons sewe jaar van getroud wees is te kosbaar om sommer net so weg te gooi, sonder genoegsame rede,” pleit sy. “Alle getroudes stry en baklei, dis normaal. Hulle skei nie net sommer oor ’n paar griewe en meningsverskille nie. Hulle praat die ding uit, kommunikeer met mekaar. Práát met my, Ruan! Asseblief!”
“Ek kan nie, daar’s nie nou tyd nie. Ek is laat, met honderd en een ander dinge om op te konsentreer.”
“Ons huwelik is belangriker as rugby!”
“Moenie my in ’n hoek dryf nie, Nikka,” skerm hy.
“Ons kan ons probleme oplos. Ons mag nie sommerso oorhaastig skei nie, sonder ’n behoorlike, konkrete rede nie.”
’n Hartklop lank ontmoet sy blik hare. Sy broeiende oë hou haar stywer vas as wat sy arms sou kon doen. Sy hand lig om na haar uit te reik, maar die volgende oomblik blaf die honde en ’n motor toet buite.
“Onthou om saans die deure te sluit. Skakel die buiteligte aan en laat die bulterriër binne slaap,” herinner Ruan haar oplaas. Hy gee haar ’n vlugtige druk met die een arm en soen haar op die wang.
Dan neem hy sy tas, stap by die voordeur uit en klim in die wagtende motor. Hy wuif nie vir oulaas nie en kyk nie om nie, klap net die motordeur hard agter hom toe. Die laaste wat sy sien, is twee rooi agterliggies wat in die donker verdwyn.
Nikka bly alleen voor die sitkamervenster staan, haar hande teen haar mond gedruk om die hygende snikke te keer wat dreig om haar te oorweldig. Ruan is weg. En hy kom dalk nie terug nie …
Sy wil agterna hardloop, hom vasgryp en by hom pleit om haar nie alleen te los nie. Sy het hom lief en sonder hom het die toekoms geen sin nie. Sy het hom liewer as haar eie lewe en sal enigiets doen om hom terug te wen. Hy moet net sê wát, waar sy as vrou gefaal het …
Moet sy haar projek vergeet en teruggaan na die stabiliteit van ’n vaste onderwyspos? Hoed in die hand haar werk gaan terugvra en toekyk hoe die morsige ou skoolhoof dit geniet om haar te sien kruip?
Sy sal, as dit is wat Ruan wil hê. As dit die prys is wat sy moet betaal om haar huwelik te red. Maar sy weet dis nie die kern van die probleem tussen hulle nie. Het sy en Ruan mekaar ontgroei? Te jonk getrou en te min ervaring van die lewe gehad? Sou hulle nader aan mekaar gewees het as daar miskien ’n baba was?
Dis hoekom hulle die hoewe wou koop. Kinders kan nie in ’n beknopte stadswoonstelletjie grootword nie. Hulle moet ruimte hê: bome om in te klim, diere om voor lief te wees, grasperke om op bal te skop. Ruan wou ’n hele rugbyspan hê, en dan ’n laatlammetjie – ’n donker krulkopdogtertjie wat soos haar ma lyk, wat linte en valletjiesrokke dra, op sy skoot klouter en haar taai toffieappelhandjies om sy nek sit. Hy het openlik erken hy sal haar tot in die afgrond bederf. Hy sal enigiets vir sy meisiekind doen en haar alles gee wat haar hartjie begeer, as daardie roosknopmondjie net vir hom glimlag.
Nikka krimp inmekaar by die herinnering aan Ruan se woorde en die prentjie wat dit optower van hom met hulle dogtertjie op sy skoot. Maar dis nog nie te laat nie. Hulle drome kán nog waar word. Hulle gaan nie bankrot speel nie, gaan nie skei nie, gaan hulle rugbyspan hê. En sy roosknop-meisiekind.
Ruan is skepties oor haar pieknieks. Sy het vyf weke om hom verkeerd te bewys. Vyf weke om haar besigheid op die been te kry, ’n inkomste te genereer en te wys sy is nie ’n onverantwoordelike mislukking nie.
Om uitgawes te besnoei het Nikka haar eie visitekaartjies en spyskaarte ontwerp en op die rekenaar gedruk. So ook die advertensiepamflette wat sy by die skool, supermarkte en ander winkels in die omgewing versprei. Sy verf plakkate en skep haar eie webwerf om Piekepiekniek/Pick-a-Picnic op die internet bekend te stel. Sy koop vrolike blougeruite materiaal op ’n uitverkoping en maak haar eie tafeldoeke en servette. Sy kry ’n krat vol kapokkies present en help Andries om die ietwat verwaarloosde perdekarretjie skoon te skrop.
Sy is kaalvoet, sopnat en windverwaaid, besig om ’n steeks Ouperd met die soveelste appel te probeer omkoop, toe die span honde aankondig dat ’n vreemde bakkie onder die soetdoring by die agterdeur stilgehou het.
Dis Thys, in ’n uitgewaste kniebroek, ’n bont hemp en ’n paar verslete tekkies, sy vaalbruin hare borselkop gesny. ’n Windmakerige sweep hang oor sy skouer.
Hy grinnik breed toe hy haar sien. “Haai daar, mooiste!”
Dis hoe Thys haar altyd noem – “mooiste” of “meis” – al van skooldae af. Groot, rustige Thys, wat selfs nie eens ’n honger muskiet sal doodklap nie. Ruan se beste vriend wat saam met hom rugby gespeel het – vaskopstut in die voorry. Dit kon sy bynaam gewees het – stut – want dis wat Thys Vorster altyd vir almal was, op skool en op varsity.
Maar die ouens het hom “Vonkprop” gedoop, later sommer net “Vonk”. Want hy kan met ’n motor se ingewande toor. Hy praat nooit sommer van ’n kar nie, altyd van ’n motor, want so ’n stuk wonderbaarlike meganika verdien respek, het hy verduidelik. Ruan het groot agting vir sy vriend en het altyd gespot: “As jy enigiets wil weet, vra vir Vonk. Die Vonk sal weet.”
Later het dit ’n slagspreuk onder die studente geword: “Die Vonk weet” pleks van “die vet weet”. Haar ma is dol oor hom en vir Nikka is hy soos die broer wat sy nooit gehad het nie.
“Jy lyk kliphard besig, meis,” merk Thys op.
“Ek is.”
“Met wat?”
Nikka sug moedeloos. “Met ’n steeks, moedswillige perd wat vierpoot vasskop en weier om voor die vervlakste karretjie ingespan te word. Omkoop met lekkernye help nie. Ek het al als probeer: suiker oor ’n appel gestrooi, stroop opgesmeer, appelkooskonfyt en hawermout en als waaraan ek kon dink, maar ek kry Ouperd nie nader gelok nie. Hy trek net eenvoudig sy neus op en wil nie eens próé nie.”
“Dalk hou hy nie van appels nie,” merk Thys droogweg op. “Probeer ’n wortel.”
Nikka gaap hom sprakeloos aan. As ’n wortel die ding doen, gaan sy haarself skop.
Thys vryf met sy oop hand oor Ouperd se neus en gesels rustig met hom. “Wat’s jou moeilikheid, ou beesblaas? Hierdie is nie sommer ’n hierjy-meisiekind nie, ou perd. Sy’s ’n GT-model, met V12-superturbo’s. Fyn getjoen soos ’n Ferrari. Hoe kan jy vir haar nee sê?”
Ouperd draai sy kop skeef, loer eenogig na Thys en skud sy maanhare.
“Dit beteken hy’s jammer,” vertaal Thys oor sy skouer vir Nikka. “Het jy ’n wortel?”
“Ja, hordes, in die groentetuin.”
“Gaan trek drie uit.”
Nikka draf om te gehoorsaam. Drie groot sappiges, en sy spoel die grond in die sementdam af.
“Daarso, nog spiekeries skoongewas ook,” paai Thys en swaai die grootste wortel voor Ouperd se neus.
Nikka se oë rek. Ewe gretig, met gulsige lippe en klappende tande, verorber Ouperd die aas, terwyl Thys die tuigharnas oor sy skimmel rug gooi en die buikgord vasgespe.
Nikka lag, omhels Thys en gee hom ’n druk. “Dankie, dankie duisend maal!”
“Altyd ’n plesier. Sal ons ’n draai ry, om te kyk of die ou hom gedra?”
“Ja, graag!”
Nikka wil nog vastrapplek soek, maar Thys kies kortpad. Hy plaas sy twee groot hande om haar middel, ’n fris knie onder haar sitvlak en hys haar onseremonieel boontoe.
“Oppas, jy gaan my laat val!” keer sy.
“Ek sal nie, ek het al baie geoefen: sakke ertappels agterop ’n vragmotor gelaai.”
Veilig bo, met haar agterstewe op die houtbankie, kan Nikka dit bekostig om parmantig te wees. “O, en ek en ’n sak ertappels is dieselfde?”
Thys wip langs haar op, verbasend lig op sy voete vir so ’n groot ou. Hy vryf nadenkend oor sy ken. “Daar is nogal heelwat ooreenkomste, maar jy het een of twee ekstra rondings.”
“Dankie, vir niks!”
Hy lag en tel die leisels op. “Dalk so drie of vier ekstra,” erken hy. “Rondings, bedoel ek. En kurwes …”
Sy het nie gedink hy weet van sulke dinge nie, net van vergassers en verkoelers en uitlaatpype. Nikka gee hom ’n skuins kyk. ’n Knie onder haar sitvlak, tot wie weet waar … Nie eens Ruan het nog ooit so rof met haar gewerk nie. G’n wonder Thys Vorster het nog nooit ’n nooi gehad nie, as hy hulle almal soos ertappelsakke hanteer.
Thys klap die sweep. “Hié-há!” beveel hy soos ’n cowboy in ’n fliek, omring deur ’n swetterjoel opgewonde honde.
Ouperd loer vir hom en beur gewillig vorentoe.
“Hy weet van die ander wortels in my sak,” gesels Thys. “Hy kan tel, soos bobbejane tel: een, twee, baie … Dit beteken daar’s nog báie van daardie sappige soetgoed oor. Hy is gewoond aan karretjies trek, weet wat ons wil hê hy moet doen, en as hy dit doen, gaan hy weer van daardie soetgoed kry. So maklik, perdelogika.”
Nikka knik. “Die arme ou was dalk mishandel. Te swaar vragte moes trek. Dié dat hy so steeks was om ingespan te word.”
“Dit kan wees. Ek wil hom nie dryf nie, laat hy liewer teen sy eie pas stap.” Thys kyk na Nikka. “Of is jy haastig?”
Sy skud haar kop. “Nee, glad nie. Ek het baie tyd. Tyd wat verbysleep …”
Thys hoor die skielike weemoed in haar stem. Hy weet wat die oorsaak is, maar dring hom nie op nie. ’n Meisie en ’n perd is eenders – dis beter om hulle te los dat hulle self die pas aangee. Meis sal praat wanneer sy reg is …
Hy skreef sy oë teen die lig en hou ’n suikerbekkie dop wat blinkvlerk tussen die aalwyne rondflits, met sy krom snawel op soek na nektar. Die grondpad is plek-plek lelik verspoel, sien hy. Die karretjie het gelukkig rubberwiele, maar die pad sal geskraap moet word. Ruan het hom die telefoonnommer van ’n konstruksiebouer gegee, een wat ’n stootskraper het en hom ’n guns skuld. Glo ’n buurman, hier naby. Gevra hy moet die man bel en reël.
By die uitkykplek beskou Thys die lapa met ’n kennersoog. Niks met die stellasie verkeerd nie, dit kort net ’n laag carbolineum. Die vinke en ape het egter die dekgras verniel. Ruan het ’n kwotasie gekry van ’n firma wat gazebo’s oprig, gevra Thys moet daarna kyk en dit met Nikka uitklaar. Sy wil glo sitplek vir sowat dertig gaste inrig. Daar’s genoeg onderdakruimte, maar die vloer is te ongelyk vir soveel tafels en stoele. Die stootskraper sal hier ook werk hê.
Meis het ’n goeie idee beet, dink Thys. Piekepiekniek kan werk. Ruan weet dit, maar hy is te vol draadwerk om dit teenoor Nikka te erken.
Sy vriend het ’n skroef los, meen Thys. Hy besef nie wat hy aan ’n mooie vroumens soos Meis het nie. Fyntjies soos ’n ballerina … Hy kan met sy twee hande haar middel omsirkel. Hare die kleur van ebbehout en oë ’n rokerige blougrys … Klassiek-mooi, met ’n tipe broosheid wat sterk manne se knieë jellie maak.
Hy weet sy aanbid die grond waarop Ruan van der Hoven loop. Pleks dat hy haar op die hande dra en bederf soos sy verdien om bederf te word, stoot hy haar eenkant. Ruan moet sy kop laat lees. Maar albei is sy vriende en hy mag nie kant kies nie. Hulle twee moet die draadwerk self uitpluis. Hy sal maar net bystaan en agterna die stukkies optel.
Nikka sit langbeen op ’n klip oor die dam en uitstaar. Sy kyk waar Thys is voor sy vinnig met haar kaal hand die trane afvee. Dit was makliker toe sy besig was, maar noudat sy ’n rukkie tot stilstand gekom het, spoel die skok opnuut oor haar, soos ’n tsunami wat haar verswelg. Al haar entoesiasme en dryfkrag is weg. Sonder Ruan wil sy net hier op ’n mistroostige hopie bly sit, haar oorgee aan die huil en nooit weer ophou nie.
Dalk is hy sommer net dwars, soos hy soms op die rugbyveld kon raak as ’n spanmaat hom ’n swak aangee gegee het wanneer hy op pad was doellyn toe. Maar net so vinnig soos hy ontplof het, so gou het hy weer afgekoel. En aan die einde van die wedstryd was hy en die oortreder weer groot maats.
Sy moet net geduldig wag. Ruan sal weer afkoel en vir haar iets moois uit Aussieland bring om te sê hy’s jammer, hy het nie bedoel wat hy gesê het nie. Dis wat hy in die verlede altyd gedoen het: elke keer as hy oortree het haar met ’n present verras. ’n Bos geel rose – dié met die fyn rooi spikkeltjies, die Peace-roos. En die volgende dag dit opgevolg met die rooiste rooi rose wat hy kon kry, en ’n kaartjie daarby: Om te sê hoe lief ek jou het. Jy is my alles. My liefde, my lewe.
Die afgelope jaar, vandat hulle die hoewe het, het die aard van die presente verander. Daarvan getuig hulle “dieretuin”. Die ganse was eerste: ’n dosyn donsige kuikentjies in ’n boks met ’n pienk strik om, nadat Ruan laat was die aand vir haar verjaarsdagete. Daarna was dit die Siamese babakat, opgekrul in ’n snoesige bolletjie onderin ’n piekniekmandjie. So skattig, haar nuwe ma het haar Skattebol gedoop, wat weldra Kattebol geword het.
Die bulterriër het saamgekom uit Bloemfontein omdat Ruan haar drie dae alleen gelos het met die Curriebeker-eindstryd tussen die Cheetahs en die Leeus. Die eerste ding wat die bulterriër gedoen het nadat Ruan hom gekoop het, was om sy been teen die motor se wiel te lig. Vandaar sy naam: Wieldop. Daarna het gevolg nóg honde, ’n skilpad, ’n hoenderhaan, kurpers en skaars waterlelies vir die sementdam.
Die lelies was die laaste … Ruan koop nie meer geskenke vir sy vrou nie. Hy wil ’n egskeiding hê.
Nikka vee die nuwe stroom trane weg en skrik toe ’n skaduwee oor haar val. Sy het van Thys vergeet en nie opgelet toe hy langs haar kom sit het nie. Sy draai verleë haar gesig weg en probeer ’n grappie maak. “Hooikoors …”
“Ja, die stuifmeel pla hierdie tyd van die jaar,” stem hy ewe saam.
Nikka kyk voor haar, maar sien nie die boot wat met bollende seile oor die water skeer nie, of die vakansiegangers wat vrolik wuif nie. Sy is lank stil, haar keel rou van ingehoue emosie. Dan soek sy ’n sakdoek en blaas haar neus. “Dis nie die stuifmeel se skuld nie.”
Thys knik. “Ek weet.”
“Dis … dis …” Sy kry nie die res van die sin uit nie.
Hy leun oor en vee met sy duim ’n traan weg voor dit op haar skoot drup. “Ek weet, ja.”
“Van … dat Ruan …?”
“Ja.” Thys sug. “Ek is jammer, meis. As ek kon, sou ek jou so graag die hartseer wou spaar.”
“Dat hy praat van … van skei? Het hy jou vertel?”
“Hy wou eers nie, net iets gemompel van onvoorsiene omstandighede. Maar ek kon sien daar’s groot fout en het die storie so stuk-stuk uit hom getrek. Ek kon dit nie glo nie! Ek wens ek kon raad gee, maar dis julle privaat sake. ’n Derde persoon wat inmeng, trap op heilige koeie en doen gewoonlik meer skade as goed. Al wat ek kan doen, is om maar net dáár te wees, vir albei, as julle my nodig het. Al is dit net om ’n klankbord te wees of ’n droë sakdoek aan te bied.”
As Thys baklei het, ook gesê het sy is skoorsoekerig en onverantwoordelik, was dit makliker. Maar sy simpatie vang haar onkant. Nikka probeer sterk wees, maar sy het te lank opgekrop. Die damwal breek en sy bars in hygende snikke uit.
Thys vou sy arm om die smal, rukkende skouers en trek haar saggies teen hom vas. Hy praat nie, sit net swyend by haar terwyl die storm en die seerkry hulle uitwoed.
Huil is terapeuties, as ontlading en ’n uitlaatklep. Maar dis ’n luukse wat Nikka haarself nie te dikwels wil toelaat nie. Na ’n ruk sit sy regop, snuif rukkerig en druk die nat, verfrommelde sakdoek teen haar mond. “Hier sit ek jou tyd en mors … Moet jy nie gaan werk nie?”
Sy stem is warm en rustig, soos die arm om haar skouers. “Nee wat.”
“ ’n Resensie of iets oor ’n motor gaan skryf nie?”
“Nee. Gister klaar geskryf en aan Weeknuus se setters gestuur. ’n Loflied oor BMW se nuwe 760Li. ’n ‘Whoosh-wa’, noem ek hom. ‘Whoosh’ is die geluid wat hy maak wanneer al daardie perdekrag so geruisloos wegtrek, en ook die klank wat die geld maak as dit ewe stil-stil uit jou bankrekening verdwyn. ’n Luukse wa, net vir groot kanonne met vet beursies. Dus, vandag is ek af. Huil maar nog, so lank as wat jy nodig het, mooiste, ek is nie haastig nie.”
Nikka sukkel regop. “Arme jy, pleks dat jy op jou afdag kon laat slaap en ontspan … Nou sit jy met ’n tjankbalie opgeskeep.”
“Dis oukei.” Hy lyk ingenome. “Gelukkig is die tjankbalie darem nie te onaardig nie. Trouens, nogal sag op die oog, met die lyne van ’n warm Mustang.”
’n Waterige glimlag pluk aan haar mondhoeke.
“En ek het ’n rit op ’n perdekarretjie pasella gekry, wat my soos ’n klein seuntjie by Disneyland laat voel het.”
Nikka rek om by te kom en druk ’n nat soen op sy wang. “Jy is een van die gaafste mense wat ek ken, Vonk Vorster.”
Hy grinnik. “Ek weet. Noem my Gawie. Gawie Vorster.”
Nikka lag. Al was dit wankelrig, laat dit haar ophou huil, soos Thys gehoop het.
“Dit klink beter,” terg hy. “Ek het al bekommerd begin raak. My hemp is sopnat en netnou kry ek kroep op die bors.”
“Jy kan ’n droë hemp van Ruan leen.”
Haar lag verstil. Haar mond raak hartseer en haar oë weer ’n troebel wolkgrys. “Het hy jou gevra om na my om te sien? Barmhartige Samaritaan te kom speel?”
“Hy het, ja,” erken Thys. Wat ook al in Ruan se kop aangaan, hy is steeds baie lief vir Nikka en bekommerd oor haar terwyl hy weg is.
“Hoekom?” dring sy aan.
Thys is beter met woorde op ’n rekenaarskerm as hardop geuiter. Meis hier styf teen sy skouer en haar hartvormige gesiggie so goedvertrouend op hom gerig, laat sy tong knoop. Wat antwoord ’n ou? Gee haar vals hoop, of die harde waarheid? Hy weet nie. Weet nie wat sy vriend se motiewe is nie. Al wat hy uit hom kon kry, is dat hy nie anders kán nie. Daarna het hy toegeklamp, asof hy alreeds te veel gesê het.
“Omdat Ruan ’n skuldige gewete het? Of omdat hy vir my jammer is?” wil Nikka weet. “Ek wil nie sy jammerte hê nie.”
“Dis nie al wat hy vir jou voel nie. Hy gee vir jou om. Sal áltyd vir jou omgee, meis, wat ook al in die toekoms gebeur.”
Dis ’n vae antwoord wat haar nie tevrede stel nie. “As hy vir my lief is, hoekom wil hy dan van my skei?”
Dit rym nie. Thys stem saam, maar hy het ook nie antwoorde nie. Kan dit wees dat daar ’n ander vrou in Ruan se lewe is?
Nikka staan stram op en stof stukkies droë blare van haar kortbroek af. “Dit word laat. Ons moet seker teruggaan.”
Ouperd het hard gewerk en geduldig gewag. As beloning kry hy nog ’n wortel.
“En die derde een? Vir wie is dit?” wil Nikka weet.
“Vir my. Winkelgroente is nie so geurig soos ’n wortel of ’n tamatie of mielie vars gepluk uit die tuin nie.” Hy haal die laaste wortel uit sy sak en byt die punt af. Dan bied hy dit vir Nikka aan asof dit ’n smaaklike roomys is. “Wil jy ’n hap hê?”
’n Wortel is die laaste ding waarvoor sy lus is. Maar om Thys te plesier, byt sy ook ’n stuk af, al smaak dit soos saagsels. Hierdie keer wag sy nie dat Thys haar op die karretjie help nie. Sy klouter self tot bo-op die dwarsbankie, voor hy met ’n helpende knie kan nader staan.
Thys wip langs haar op. Toe hy die leisels losknoop, kyk hy tersluiks na haar. “Darem al iets van Ruan verneem sedert hy weg is?”
Sy glimlag wrang. “ ’n Halfminuut-oproep, net om te sê hulle het veilig in Perth aangekom. Omdat ek hom gevrá het om net te laat weet.”
“Is dit al?”
“Ja.”
“In meer as twee weke?”
“Amper drie weke …”
Thys is stil; bedruk omdat hy voel hy het Nikka gefaal. Hy moes haar kon gerusstel; haar beter getroos het as om net ’n sakdoek en ’n skouer aan te bied.
By die huis staan Andries reg om Ouperd uit te span en te roskam soos Ruan hom geleer het. Thys oorhandig die sweep aan hom. “Dis met die hand gevleg deur my grootoupa, wat dit vir my oupa gegee het, en my oupa het dit vir my gegee. Nou gee ek hom vir jou … Pas hom mooi op. En onthou: Dis nie om te gebruik nie, hoor! Dis net vir effek.”
Andries se gesig verhelder toe hy die sweep neem. “O, jy meen virrie show?”
“Ditsem!” bevestig Thys.
Hy deel nog raad aan Andries uit, dan haal hy ’n bossie sleutels uit sy broeksak en hou dit na Nikka uit. “En dié is vir jou.”
“Sleutels? Waarvoor?” vra sy.
Thys beduie na die wit bakkie wat onder die soetdoringboom staan. Hy wag vir die reaksie wat hy weet gaan kom.
“Nee.” Nikka staan tru, skud haar kop en druk haar hande agter haar rug in. “Jy sal my weer laat tjank … Jy het al genoeg vir my gedoen, Thys. Ek kan hom nie neem nie.”
“Ek het hom nie nodig nie.”
“Hoekom het jy hom dan gekoop?”
“Ek het nie. Dis ’n oue van my pa, wat in die garage staan en roes het en wat ek gerestoureer het. Sommer vir die plesier, as tydverdryf wanneer ek verveeld was. Hy is ’n wit olifant en staan in almal se pad. Jou motortjie is oud en gedaan en sy kattebak is te klein. Jy het ’n betroubare voertuig nodig – ’n bakkie. Dis om mee voorrade te gaan koop en al die goed mee aan te ry na die lapa toe.”
“Dink jy die pieknieks gaan ooit realiseer?” vra sy nugter en skielik vol twyfel. “Ruan reken nie so nie. Wat as ek nie ’n enkele navraag kry en niemand my ondersteun nie? As ek al die kostes puur verniet aangegaan het? Hoe gaan ek ooit die lening terugbetaal? Ek sal nie kan nie, en die bank sal op die plot beslag lê. Alles waarvoor ek en Ruan so hard gespaar het!”
“Mooiste …” Thys plaas sy hande weerskante van haar gesig en soen haar op die voorkop. “Moet jouself nooit onderskat nie. Jy lyk soos ’n skoenlapper, so fyntjies, die geringste bries kan jou vlerke breek. Maar binne-in jou is ’n krag waarvan jy nie bewus is nie. ’n Wil en deursettingsvermoë wat van enigiets wat jy aanpak ’n sukses sal maak. Jy gáán vir Piekepiekniek vlerke gee, en julle gaan vlieg. Hóóg vlieg, bokant die wolke!”
Thys klink so seker van sy saak, Nikka wil hom glo. Maar wat van Ruan se skeptisisme? Hy ken haar beter as enigiemand anders en het nie sulke vertroue in haar vermoëns nie.
Nikka se gesig is ’n spieëlbeeld van haar twyfel, maklik vir Thys om te lees.
“Jy is jou eie mens, Nikka,” sê hy ernstig, “nie ’n aanhangsel van Ruan nie. Glo in jouself en moenie van sy goedkeuring afhanklik wees nie. Hy gaan deur ’n moeilike tyd en jy weet nie wat voorlê nie. Doen jou eie ding en maak ’n sukses daarvan. Jy kán dit doen, daaraan twyfel ek geen oomblik nie.”
In plaas van haar gerusstel, mis haar hart ’n slag en ’n hol kol vorm op haar maag. “Hoe bedoel jy? Wat is dit met Ruan? Wat makeer hom?”
Thys kan sy tong afbyt. Hy het gepraat sonder om te dink en wil haar nie erger ontstel nie. “Sy gom trek los. Dis die siekte van ons tyd, waaraan die moderne metroman ly: vasgevang in die rat race. ’n Snelbaan sonder afritte.”
Nikka kyk met groot oë na hom. “Wat is die kuur? Hoe kan ek hom help?”
Thys is versigtig, praat liewer net die minimum. “Moenie nou eise aan hom stel nie. Gee hom ruimte. Tyd. Begrip. Moenie druk op hom plaas nie.”
“Dis wat ek tot dusver gedoen het.” Sy vee met die rugkant van haar hand oor haar gesig. “Maar ek sal harder probeer.”
“En die bakkie neem, in die goeie gesindheid waarmee dit aangebied is?” voeg hy by.
“Ek weet nie …”
“Dit sal ’n las van Ruan afneem, om te weet jy gaan nie in jou klein skedonk langs die pad staan nie. Wetend jy kan jou eie karweiwerk doen en hy hoef nie verantwoordelik te voel om te help nie.”
“Ek en Ruan is darem nog nie heeltemal kwaaivriende nie. In ’n krisis kan ek sy motor gebruik. Hy sal nie omgee nie.”
“Dis beter as jy nie van hom afhanklik is nie. En oor ’n paar weke is hy terug, dan het hy self sy motor nodig. Jy sal my én Ruan én my pa ’n guns bewys as jy die bakkie neem. Regtigwaar!”
Sy byt op haar onderlip en kan nie praat nie.
“Regtigwaar!” herhaal Thys met oortuiging. “Asseblief? Al is dit net ter wille van Ruan, op wie se strand dit tans laagwater is.”
Só gestel kan sy nie weier nie. Nikka hou Thys ’n oomblik styf vas, haar kop teen sy breë bors. “Dankie. Duisend dankies!”
Hy het meer teenkanting verwag en is verlig. “Gaaf, dis dan afgehandel. Noudat die bakkie uit die pad is, soek ek iets om my mee besig te hou. Gee jy om as ek die restourasie van jou Volkswagen my nuwe stokperdjie maak?”
Thys sien sy gaan weer protesteer en spring haar voor. Hy kyk op sy horlosie. “Sjoe, ek het nie besef dis al so laat nie. Ek sal moet ry! Waar’s die Volksie se sleutels?”
“Hy’s nie die moeite en onkoste werd nie,” keer sy. “Jy kan nie –”
“Ek kan. Waar’s die sleutels?”
“Dit gaan ’n klomp geld kos.”
“Ek’s ryk!”
“Ja, maar …”
Thys begin aanstap na waar die Volkswagen onder ’n afdak staan. “As jy dan nie die sleutels wil gee nie, maak ek maar ’n ander plan.”
Hy buk onder die instrumentepaneel in en vroetel ’n rukkie. Eers stoot die Vollatjie ’n rookdamp uit, dan vuur die enjin. Thys stoot tru en maak ’n draai tussen die ganse deur, tot voor ’n verstomde Nikka.
Hy draai die venster af, grinnik vroom en knipoog vir haar. “Nie net ryk nie, nog slim ook! Ek sou ’n goeie motordief gewees het.”
“Ek sal vir die onderdele betaal,” bied Nikka vir oulaas aan. “En sodra die geld vir my eerste pieknieks inkom vir die bakkie ook!”
Hy lag net, blaas vir haar ’n soentjie, en verdwyn met ’n hik en ’n proes uit by die hek.