Читать книгу Kaptein Casanova - Ettie Bierman - Страница 4

Оглавление

Hoofstuk 1

1

Daar heers pandemonium toe ’n tweede aankondiging oor die luidsprekers in die vertreksaal weerklink.

“Dames en here, dit spyt Jakaranda Lugdiens om ’n verdere vertraging van vlug JA nul-een-drie na Las Palmas, Parys en Londen aan te kondig. Passasiers in besit van geldige reiskaartjies word versoek om by die dienstoonbank vir oornagreëlings aan te meld.”

“Ek het dringende sake in Londen!” roep ’n man uit. “Ek kan nie tot môre hier by die een of ander hotel sit nie!”

“Oornagreëlings? As ek dít vooraf geweet het, het ek met SAL gevlieg.”

Hul sentimente word deur die res van die Boeing 747 se passasiers gedeel.

“Geen redes, geen verduidelikings nie. Net verskonings. Ons moet op ons regte aandring en hulle dagvaar!”

“Ek is vanaf Heathrow op ’n New York-vlug bespreek. Wat nou?”

“Moenie kla nie, vriend,” paai sy jong buurman, “jy kan ’n ander aansluiting haal, maar ek speel môre in die Franse Ope. Daar is net een so ’n kampioenskap.”

Almal mik na die dienstoonbank.

Met drie internasionale vertrekke se laat besprekings, toergroepe, ekstra sekuriteitsbeamptes en verminderde vragruimte as gevolg van die vertraging, is Jakaranda se personeel onder druk. ’n Paar tydelike ontvangsdames help ook – nog in opleiding en privaatklere. Die enigste pers uniform wat die passasiers van vlug 013 kan sien en bykom, is dié van ’n lugwaardin: Petri Pretorius, self nog nuut en onervare genoeg om soos Daniël in die leeukuil te voel.

“Ek is jammer,” herhaal sy. “Ek weet ’n vertraging veroorsaak baie ongerief, maar dis weens onvermydelike omstandighede.”

“Het die kaptein verslaap? Gisteraand te laat partytjie gehou, of wat?”

Petri ken nie hul bevelvoerder nie, weet net wat sy naam is en hoe hy lyk: kaptein De Villiers, wat in die lugdiens se promosiebrosjures verskyn. Nogal ’n romantiese voorkoms en baie manlik. Sy is seker die vertraging is nie as gevolg van sy onbevoegdheid nie. Hy het vroeg aangemeld en netnou het sy ’n bemanningslid met vier strepe buite die vliegtuig sien staan.

Petri onthou wat aspirant-waardinne omtrent passasiershantering geleer het.

“Tegniese probleme buite ons beheer,” sê sy dus.

“Waarom is ons tasse afgelaai?”

Ander passasiers kom nader, wat dieselfde vraag vra.

Petri het ook gesien die bagasie staan op die laaiblad. Dit lyk nie goed nie en sy het nie dadelik ’n gerusstellende verduideliking nie.

“Grondbeheer het waarskynlik besef die mense het hul tasse vir oornagdoeleindes nodig.” Dit is die breedgeskouerde tennisspeler wat olie op die troebel water probeer gooi.

“Dankie, Niek.” Petri glimlag in sy rigting, maar ’n bekommerde frons trek tussen haar wenkbroue saam. “Wat nou van jou wedstryd môre?”

Nico haal sy skouers op. “Ek sou waarskynlik in skoon stelle verloor het.”

“Teen die Fransman? Nooit. Jy sou minstens die halfeindronde gehaal het. Dis my skuld. Jy moes dalk ook maar met SAL gevlieg het.”

“Hul lugwaardinne is nie so mooi soos Jakaranda s’n nie.”

“Jy is bevooroordeeld. As jy nie gewag het om saam met my te vlieg nie, was jy al gister by die bane en het jy meer oefentyd gehad.”

Hy is filosofies. “Geld is nie alles nie, engel. Tennis ook nie.”

Petri is lief vir Nico en sou graag langer met hom wou gesels, maar ’n iesegrimmige man eis om oor aandete en hotelkoste ingelig te word.

“Alles sal op die lugdiens se rekening wees,” antwoord sy.

“My skoonseun reis die hele pad na Brighton om my op Heathrow te ontmoet. Kan die lugdiens hom laat weet? Wat van sý koste?”

Petri weet nie. Sy wens Janine wil kom help. Maar hul hoofwaardin is nêrens in sig nie.

In plaas van meer senioriteit in die persoon van Jakaranda se personeelhoof of skakelbeampte, daag die pers se lughaweverteenwoordiger op.

“Ek hoor nul-een-drie is gekanselleer en passasiers onbepaald na hotelle herroeteer.”

Dit is nuuswaardig. Vir die koerante en televisie. Die joernalis en sy kameraman konsentreer op Petri – lang, koperkleurige hare wat glad agteroorgekam is, donker oë en hoë wangbene; fotogenies en modelmateriaal.

“Koos, kry ’n nabyskoot,” beveel hy. “Afgesien van ‘cheese’, wat het jy nog oor die fiasko te sê, poppie?”

“Dis net ’n vertraging, soos talle rederye gereeld het.”

“Julle vlieg ook ’n Boeing. Is dit weer die kruisbedrading wat lol? Enjin een wat brand, dan skakel julle nommer twee af?”

Petri raak senuagtig. Waar is Janine? Of ander senior waardinne?

Die fotograaf sien ook haar potensiaal en swaai sy lens in haar rigting. ’n Vooraansig, dan af na die rooikop se figuur ...

“Ek is net ’n junior,” skerm Petri.

“Het jy al aan modelwerk gedink?” vra hy.

“Nee. Ons vlug is nie gekanselleer nie, hy sal môreoggend vertrek.”

“Kry haar op beeld dat sy praat – ’n verklaring maak.”

“Ons mag nie persverklarings uitreik nie.” Petri draai weg. “Ek moet na die passasiers omsien.”

“Net ’n paar woorde. Ons sal uitsny wat jou in die moeilikheid sal bring. In die lig van vliegrampe wat deesdae voorbladnuus is, wat dink jy van sekuriteitsmaatreëls op lughawens?”

“Dit is toereikend.”

“Die standaardverklikkers is oudmodies en honde kan nie plastiekplofstof uitruik nie. Reken jy daar behoort beter voorsorg getref te word?”

“Geen kommentaar.”

“Moenie my daardie een gee nie. Kom, Delila, gee ons ’n breek ...”

Petri hou nie van die aggressiewe verslaggewer nie. “Hier is kinders en oumense. Diere en sportmanne. Gee julle om as ek aan hulle dink, eerder as aan ’n modelloopbaan?”

“Koos, skiet die krankes en hondehokke. Kry film van Nico Loodts – daardie blonde ou wat soos ’n branderplankryer lyk. Check, maar ek dink hy is nommer negentien op die ranglys en was in die Australiese kwarteind. Die ou agter hom lyk na George Garfield, die gholfspeler.”

Koos stel nie in obskure sportmanne belang nie, meer in die lugwaardin.

“Juffie, kan jy bietjie links draai vir ’n profiel? Meer ontspanne lyk, asseblief?”

Die passasiers drom om hulle saam. “Ons het duur vir ’n sitplek betaal, maar niemand weet wat aangaan nie. Hoe lank moet ons op die lughawe bly sit?”

Die man met die dringende sake in Londen is meer aggressief as die koerantman. “Wat presies beteken ‘tegniese probleme’?”

“En ‘onvermydelike omstandighede’?” eggo sy vrou.

Petri weet nie wat om te antwoord nie en Nico is ook van stryk. Sy kry hulp uit ’n onverwagte oord: kaptein De Villiers – sy donker hare deurmekaar, sonder sy baadjie en pet en met kommerlyne om sy mond. Maar steeds sjarmant, bereid om verantwoordelikheid te aanvaar en tot hulp van sy bemanning te wees.

“Tegnies: Die suikerpot het in die petroltenk geval. Onvermydelik: Dit sal ure duur om die glukose uit die tenk te pomp.”

Petri het gehoop so ’n antwoord sal die spanning breek, maar die koerantman het nie ’n sin vir humor nie. “Twak. Wanneer reken u sal u vertrek, kaptein?”

“Nou. Ons ry nóú. Almal aan boord!”

“Gaan JA nul-een-drie vertrek?”

“Enige oomblik van nou af.”

Die pers verloor belangstelling, sprei in ’n ander rigting en die kameras verdwyn.

Petri het gehoop haar bevelvoerder het na die 747 verwys. Maar dit is na die passasiersbus, nie die vliegtuig waarheen hulle moet gaan nie.

Buite begin dit reën. Nog ’n ry busse met portiers daag by die vertrekeindpunt op, met sekuriteitsbeamptes in reënjasse.

Johan de Villiers kyk om hom rond. “Wie is hier vir hotelreëlings? Net jy, juffrou Pretorius? Doen ’n aankondiging en sien asseblief toe dat passasiers oor nagstopfasiliteite ingelig word.”

Petri aarsel. Sy weet nie hoe en oor watter mikrofoon nie. ’n Aankondiging, met watter bewoording?

Op pad terug na die laaiblad let Johan de Villiers die amandelvormige oë op. Donkerbruin. Amper swart, met ’n sagtheid daarin wat ’n mens aan fluweel herinner.

Hy bly ’n oomblik staan. “Wat is fout, bloeisel?”

Petri huiwer, druk dan moedig deur. “Mag ek Burgerlike Lugvaart se geriewe gebruik, kaptein? Moet ek ’n standaard-noodaankondiging doen?”

Johan kyk ’n tweede keer, merk dan die onsekerheid en senuwees. “Is jy ’n nuwe skeepskat?”

Petri knik. “Nog in sellofaan toegedraai.”

Hy het tyd vir onderstebo glimlag. “Jammer, bloeiseltjie, dinge buite is chaoties. Waar is Jennie?”

Blykbaar Janine Oberholzer. Petri het gehoor hulle is glo verloof. “Elders besig, kaptein.”

Johan onthou hy het haar by die assuransietoonbank gesien, waar ook probleme ontstaan het. Eerder as om die sku groentjie verder te verskrik of Janine te laat roep, tel hy self die mikrofoon op.

“Dames en here, kaptein De Villiers van vlug JA nul-een-drie. My spyt weer eens oor die vertraging deur veiligheidsmaatreëls genoodsaak – maatreëls wat ook noodsaak dat u hier oornag, waartydens verblyf en bykomende uitgawes op die lugdiens se onkoste sal wees.”

Hy hou die mikrofoon vas. “Wat nog? Vervoer en moontlike vertrektyd?”

Hy is nie net aantreklik nie, maar nog vriendelik en bekwaam daarby. In teenstelling daarmee voel Petri meer junior as haar twee maande ondervinding op oorsese roetes.

“As kaptein nie omgee nie ...”

Johan wens hy het die klassieke skoonheid onder meer positiewe omstandighede ontmoet. Hy het vyftien minute, waarvan tien reeds gebruik is ... Maar die oë wat die kameraman in ekstase gehad het, bekoor hom ook. Hy druk weer die knoppie aan die mikrofoon. “Dames en here, vervoer is vanaf die vertreksaal na ’n nabygeleë hotel gereed. U word versoek om alle handbagasie met u saam te neem. Verdere aankondigings sal later gedoen word om u ten opsigte van die beoogde vertrektyd op die hoogte te hou. Namens die hotelgroep asook Jakaranda Lugdiens wens ek u ’n aangename nagrus en ’n voorspoedige reis môre toe.”

Johan kyk verskonend na Petri. “Impromptu. Reg so?”

“Perfek. Dankie, kaptein.” Sy kan nie help om op te let hoe bruingebrand hy is nie; manliker, langer en leniger as Nico, met die mees romantiese mond en glimlag wat sy nog gesien het. Sy wonder of hy en Janine binnekort gaan trou? Wat maak dit saak? wonder sy ergerlik. Hy is verloof, en sy binnekort ook. Sy is onbillik teenoor arme Nico, wat die gaafste vriend is wat enige meisie kan verlang.

’n Donderslag klink op en die reën val harder. Tussen die reënjasse en sambrele deur pyl ’n man in ’n verslete hemp en broek op haar af. “Hoe gaan die stormweer die vliegtyd beïnvloed?” eis hy.

“Die reën sal moontlik môre opklaar,” antwoord sy.

“Ek probeer die meteorologiese buro kontak, maar hulle is doof en dood.”

“Die kantoor sluit vyfuur smiddae, meneer.”

Dit lyk asof hy nie registreer wat sy sê nie. “Altocumulus op twaalfduisend-driehonderd en ’n kopwind van vier-komma-ses. Agtuur, sewe-en-veertig minute?”

Hy weet meer as Petri en sy skatting klink akkuraat.

“Omtrent nege-uur,” stem sy saam.

“Omtrent ...? Passasiers is geregtig om presies te weet!”

Nie eers die stuurkajuit se bemanning kan die vlugduur tot op ’n minuut bepaal nie. “Agtuur, vyftig minute,” gee sy toe, meer om die eksentrieke man gelukkig te hou.

“Sewe-en-veertig.” Met ’n laaste kyk na haar verdwyn hy met sy ewe gehawende kajuitsak in die naaste kleedkamer.

Janine daag op. “Haai! Petronella J.C. Pretorius? Jy lyk te lig vir so ’n swaar handvatsel. Wat noem ek jou?”

“Petri, as jy wil.”

“Ek wil. Enigiets is beter as Petronella Johanna Catharina. Jammer, Petri, dat ons jou in die front-line gelos het. Ek was by Avion Life. ’n Ou wou ’n polis vir tweemiljoen uitneem. Kan jy dit glo?”

“’n Versekeringspolis?”

“Lewenspolis. Die maksimum hier by die agentskap is honderdduisend. Selfs dié se premie kon hy skaars bybring. Die laaste rand moes hy met silwer en sente bymekaarskraap. Die man is getik as jy my vra. Hoe gaan dit hier?”

“Goed, onder omstandighede. As gevolg waarvan is die vertraging?”

“Nugter weet. Ek wou in Londen lakens en handdoeke koop; nou sal ek nie tyd hê nie.”

“Enjinprobleme?”

“Nee. Waar is die res van die mense? Selma-hulle en Ronnie?”

“Ek weet nie. Al wie ek gesien het, was die kaptein en nou jy.”

Een na die ander volgelaaide bus vertrek, elk met ’n lid van die bemanning aan boord om na die insittendes om te sien.

By die hotel is vyfsterdiens gereël. Telekse, faksmasjiene, rekenaars, skoonmaak. Luukse suites met telefone en televisie. Saunas, etes, drankies.

“Honderd-drie-en-dertig plus twee babas,” kontroleer die hotelbestuurder, dankbaar dit is die 747-Combi, wat meer vrag as sitplekke het. Die 747 Super-B met driehonderd-vyf-en-tagtig passasiers sou ’n krisis veroorsaak het.

“Honderd-twee-en-dertig,” rapporteer die onderbestuurder. “Een kort.”

Janine en die hoofkelner vergelyk die kamersleutels met die passasierslys. Hulle kom tot dieselfde slotsom: iemand het op die lughawe agtergebly.

“Daardie ou met die voorliefde vir draaie loop,” raai ’n kelner. “Ek het hom nie hier gesien nie. Maak seker of die luidsprekers in die kleedkamers werk.”

Die busbestuurder is hulpvaardig. “Ek moet in elk geval teruggaan vir ’n laaste klompie goed. Ek sal hom soek en hierheen bring.”

Janine hanteer die aansluitingskonneksies, die senior waardinne die telekse en boodskappe, en Petri en die ander juniors die minder dringende probleme – bababottels en kamerdiens.

Toe dit rustiger gaan en daar ’n verposing is, stel Nico voor: “Koffie by my? Of twee by jou?”

Petri is dors en sou graag wou, net om ’n paar oomblikke te ontspan. “Jammer, Niek, miskien later,” maak sy verskoning. “Die kaptein het gevra dat ons ’n paar minute moet vergader. Dit sal seker nie lank duur nie. Sien jou nou-nou.”

Kaptein De Villiers is nie op reëls en regulasies ingestel nie. Netnou was hy sonder sy pet, nou is sy das losgeknoop. Hy lyk moeg en gespanne. In sy kamer wag hy totdat hy almal se aandag het. Dan praat hy in ’n saaklike stemtoon: “Ek hoef dit nie uit te spel nie – julle weet teen hierdie tyd seker almal dat dit nie suiker in die brandstof was nie.”

Die eerste offisier en derde vlieënier lyk geamuseer.

Johan de Villiers glimlag ook vlugtig, genoeg om enige meisie se knieë week te maak. Maar dit strek nie verder as sy mond nie. Die blouselblou oë is nugter en berekenend.

Janine is al een wat waag om dit hardop by die naam te noem. “’n Bomwaarskuwing?”

Hy knik. “’n Naamlose oproep na ’n plaaslike polisiekantoor. Ons is nie in ’n posisie om enige dreigement te verontagsaam nie. As ons, die vliegtuig en honderd-drie-en-dertig onskuldiges die lug ingeblaas word, gaan die wêreld op ons nekke neerkom. Ons het geweet, ons is vooraf gewaarsku, ondanks en desnieteenstaande het ons gevlieg ... Nie ek, ons redery of enige ánder is bereid om so ’n risiko te loop nie.” Johan de Villiers wag op kommentaar, teëstribbeling, vrae, klagtes. Daar is niks nie, net ’n doodse, afwagtende stilte onder sy twee dosyn kollegas.

“Bagasie, wat eerste onder verdenking was, het geen ongeïdentifiseerde stuk of enige ander inligting opgelewer nie, behalwe dat een passasier blykbaar lig reis en nie ’n tas ingeweeg het nie. Dis nie ’n oortreding nie. Die vrag is ook afgelaai en deursoek. Alles in die ruim is uitgeklaar. Handbagasie en persoonlike besittings is deur sekuriteitskontrole by die deure nagegaan. Die grondingenieurs soek nou vir ’n obstruksie aan die struktuur. Dames en here, dit mag ’n siek grap wees, of nie. Ek is oop vir voorstelle.”

In die kamer het ’n kil atmosfeer ontstaan. Niemand reageer nie.

“Die vorige pseudo-grapjas wat ’n vals alarm gemaak het, het vier jaar gekry,” merk die boordtegnikus op.

Petri dink aan die man wat die buitensporige lewenspolis wou uitneem. Maar aangesien Janine dit nie as belangrik ag nie, bly sy ook stil, bang hulle lag vir die groentjie wat op hol is – pas oorsee en niks gewoond nie.

“Daar was ’n snaakse teddiebeer,” skerts ’n kelner in ’n poging om die spanning te verlig.

Petri het dit ook gesien – bo-op die gehawende, geruite kajuitsak van die meteorologiese fanatikus.

Selma van Wyk en ’n ander meisie lag. “Dis nie ’n misdaad om vir jou kleinkinders ’n teddie te koop nie, is dit?”

Almal stem saam: Nee, dit is nie. Speelgoed, soeweniers en geskenke is bo verdenking.

“Twee oproepe,” deel kaptein De Villiers hulle mee, “van dieselfde histeriese en onsamehangende persoon. Geen naam of adres is verstrek nie. Voordat die polisie die oproeper se identiteit kon vasstel, is die verbinding verbreek. Al wat die polisie weet, is dat dit ’n vrou was, deurmekaar en onbetroubaar. Laat ons hoop daar kom niks van nie. In elk geval, dankie vir jul tyd. As enigeen meer uitvind, ek is heelnag beskikbaar. Intussen, lekker slaap en sien julle môre. Sesuur roeptyd, agtuur vliegtyd.”

Die koffie wat Nico na sy kamer bestel het, is yskoud.

“Heerlik,” sê Petri en neem ’n sluk. “Het jy die kabelgram Parys toe gestuur?”

“En antwoord ontvang.” Nico sug en trek ’n suur gesig. “No show: walk-over for opponent.”

Petri is ontsteld. “Dis my skuld. Al wat die Fransman het, is ’n afslaan. Sy handrug is power en sy voorarm nie veel meer werd nie. Jy sou gewen het.”

Nico kom sit by Petri en trek haar op sy skoot. “Die groter manne op die baan het dieselfde probleem as ek gehad.”

Petri weet wat hy bedoel: vroumense. “Daarom het hul loopbane daaronder gely,” herinner sy hom.

“Ek weet. Maar ek kan nie konsentreer as ek nie weet waar jy jou bevind, wanneer jy terugkom en wanneer ek jou weer gaan sien nie.”

“Ons is nog jonk, ek en jy albei. Ek wil die wêreld sien en jy wil geld maak. Ons moet ’n kompromie aangaan. Nog twee jaar. Dan is die reislus uit my uit en jy skatryk en gevestig. Dan kan ons aan die toekoms dink.”

“Twee jaar?” Nico is ongeduldig. “Terwyl ek intussen nie weet wie waar by my nooi aanlê nie?”

Hy het voorheen oor haar kollegas gekla, meer as een keer. Selfs daaroor rusie gemaak en teenoor hulle uitgevaar, asof hy haar nie vertrou nie. Petri wil ’n argument vermy en praat ligweg: “Soos ek al hoeveel keer verduidelik het, is driekwart van die ouens wat saam met my vlieg, oud en koud en getroud.”

“Vanaand se kaptein ook?”

Petri kyk anderpad.

“De Villiers, die een met die flikkers vir die meisies. Is hy ook oud en koud?”

Petri is op veiliger terrein. “Hy is verloof.”

“Wie sê so?”

“Die skindertonge. Binnekort getroud.”

“Wanneer?”

“Hoe sal ek weet? Ek ken hom nie. Vanaand was die eerste keer dat ek hom ontmoet het.”

“Hopelik ook die laaste keer.” Hy neem Petri se hand in syne en soen haar. “Ek kan vir my vrou sorg. Ná ons troue kan jy ophou vlieg, hoef jy nie weer sente te tel nie.”

“Moenie oorhaastig wees nie. As jy Wimbledon wil wen, moet jy los wees. Vry, sonder verpligtinge teenoor ’n vrou en gesin wat jou konsentrasie verdeel.”

“Dis groter stres om ongetroud te wees.” Nico trek haar nader. “Ná ons troue, waar gaan ons woon?”

Petri speel saam. “Monaco, die Riviera. Die Outback of die Kalahari.”

“Ek wil ’n span kinders hê. Twee dogtertjies wat soos jy lyk en tien seuns wat ook soos jy lyk.” Sy arms gaan om haar en hy trek haar stywer teen hom vas. “Jy kan vir die meisiekinders hokkiestokke en vir die seuns krieketkolwe koop. Dit maak nie saak as hulle nooit tennis speel nie. Solank ons twee bymekaar is.”

Petri voel soos Janine. Oplaas Oxfordstraat, leerware in Madrid, Delft in Amsterdam, ’n koekoekhorlosie in Switserland en belastingvrye artikels in Las Palmas en Hongkong. Nog ses maande, ’n jaar – daarna sal sy bereid wees om van die kosmopolitiese lewe afskeid te neem, huis op te sit en kinders groot te maak.

“Solank ons saam is,” beaam sy met haar kop teen sy bors.

Nico se arms om haar raak dwingend, eisend. “Ek het jou lief, Petri. Die Franse of Suid-Afrikaanse Ope, selfs Wimbledon ... Jy is belangriker as geld of titels.”

Petri is van vieruur vanmiddag af aan die gang en onder druk. Sy is moeg en gespanne. Bekommerd en onrustig. Wat sy nodig het, is gerusstelling, nie bykomende eise nie.

Toe Nico se omhelsing te besitlik word, stoot sy hom weg. “Môre is ’n lang dag. Ons moet gaan slaap.”

“Ek is nie vaak nie.” Hy skuif haar agteroor op die stoel met sy mond teen hare. “Moenie altyd wil vlug sodra ek ernstig raak nie.”

Petri beur regop. “Niek, nee ...”

Hy laat haar nie gaan nie. “Ons ken mekaar al lank. Ons gaan trou.”

“Eendag.”

“Hoekom trou ons nie môre nie? Of vanaand nie?”

“Jy is laf.”

“Ek dag jy gee vir my om. Hoekom keer jy altyd, stribbel jy teë, soek uitstel?”

“Niek, jy is te haastig. Moenie ... Nee!” Petri se stem is skerp. Sy wikkel haar los en staan op. “Gáán trou verskil van ís getroud. Ons is intussen vriende, elk met sy eie lewe en keuses. Moenie ons verhouding bederf nie.”

“Jy is outyds.”

“Ja.”

“Preuts.”

“Noem dit wat jy wil, ek is soos ek is.”

Hy is verleë en ná ’n rukkie weer homself: boetvaardig en vol berou.

“Jy is reg. Hoe sal ek in die toekoms regkom sonder ’n slim, praktiese vrou wat kophou?”

“Jy is ’n wenner, jy sal altyd bo uitkom.”

“Sal ek? Sonder jou?”

“Ja.” Petri staan by die deur. Mense loop in die gang verby en sy is skielik baie formeel. “Ek hoop u voel nou beter, meneer Loodts.”

“Hoe kan ek, as jy my gaan verlaat? Hoe lyk dit met nog ’n bietjie medikasie, juffrou Pretorius?”

“Goeienag, meneer Loodts,” groet Petri.

“Nag, juffrou,” antwoord hy sedig. “Kan ek jou bel as ek ’n nagmerrie het? Sal jy by my op die bed kom sit en my hand vashou?”

Met ’n laaste vies kyk na hom klap Petri die deur toe en stap weg.

Kaptein Casanova

Подняться наверх