Читать книгу Kaptein Casanova - Ettie Bierman - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 2

2

Middagete op vlug 013 is oor die see, bykans tweeduisend kilometer wes van Gaboen. Die 747 is in stasies gedeel: kleurklas voor, standaardklas in seksies van agt rye per kombuis. Die diens verloop vlot. Binne twee uur is die skinkborde ingeneem, koffie geskink en die trollie opgeruim. Daarna volg bababottels, poskaarte, vrae en hoofpynpille. Petri speel oppasser, posman, navigator en verpleegster.

Toe die rolprent begin, gaan sit sy agter in die kajuit en skop ongemerk haar skoene uit. Gister en vandag was veeleisend. Miskien moet sy haar vlerkies vir ’n trouring verruil, dink sy. Nico verdien ondersteuning en kameraadskap. Hy het van kleins af baie vir sy sport opgeoffer. Ná matriek wou hy onderwyser word, maar vier studiejare weg van die internasionale tenniswêreld sou te lank gewees het. “Ek sal ses jaar lank alles insit,” het hy belowe. “Alles prysgee, alles inboet. Maar ek wil probeer. Wie weet, ek slaan dalk die boerpot.”

Hy het: die binnenshuise titel in Milaan, die eindstryd in Florida, asook die Duitse Ope. Wunderkind, het ’n dagblad in München hom genoem in dieselfde paragraaf as die wêreld se kampioene.

Petri het lugwaardin geword sodat sy kans sou hê om van sy toernooie by te woon. In Brussel het sy hom op sy beste gesien: vlughoue, netspel, beweeglikheid op die baan, veggees – alles was daar, behalwe ervaring. Dié sal hy mettertyd kry. Veral in Parys, wat die vuurdoop vir Wimbledon is.

Nou is die Franse Ope van die baan af ... Petri sug. Sy help ’n seuntjie legkaarte bou en is besig om een van die babas op te pas toe Janine die gang afkom.

“Haai, Petronella J.C.! Sake onder beheer?”

Petri wens Mariëtte, wat goed met kinders is, was by. Sy skuif die skreeuende kleintjie na haar ander heup en voer hom sjokolade. “Afgesien van blou moord omdat sy ma gaan hare kam het, onder beheer.”

“Het julle ’n Botha in standaardklas?”

Petri probeer ’n suigstokkie. “Toe maartjies, Mamma kom nou ...” Sy onthou die deurmekaar kamersleutels gisteraand. Dieselfde van met verwarrende voorletters. “Drie Bothas. Hoekom?”

“Johan was pas weer in radioverbinding met Jan Smuts. Dieselfde vrou het kort tevore weer die polisie gebel, nou minder histeries nadat daar nie ’n bom en ’n neerstorting was nie. Nou is sy skielik nie meer seker op presies watter vlug haar man – G.J. Botha – bespreek is nie. Johan vra ons moet kontroleer. Het julle ’n G.J.?”

Petri is bly toe die kind se ma eindelik terugkom, met oogskadu en maskara en ander klere aan, wat verklaar waarom sy so lank weggebly het.

“Ek sal gaan kyk, Janine.”

Soos Petri onthou het, lewer die passasierslys drie Bothas op: P.G, G.J. en J.G.

“Lyk een van hulle asof hy in Groendakkies hoort?” vra Janine.

“Nee. Die baba se ma is toevallig die P.G... . Sy is normaal, behalwe die geel oogskadu. Die ander Bothas is ’n skoolmeisie en die outjie met die teddiebeer.”

“Niemand wat soos ’n kaper of terroris lyk nie?”

“Hoe lyk ’n kaper? Een is te jonk, een te oud. Tensy P.G. se swaar grimering ’n vermomming is.”

“En die suigstokkie ’n gekamoefleerde masjiengeweer,” spot Janine. Sy is tevrede, maar ná ’n paar minute stap hul kaptein die kombuis binne waar Petri opruim en glase wegpak.

“Dagsê, bloeisel. Jy lyk fleurig. Fris en vars. Nie of jy ’n slaaplose nag gehad het nie.”

Petri bloos. “Dankie, kaptein.”

“Ek raai ek veroorsaak vir jou onnodige ergernis, maar soek ook vir Bothma, en Botes – enige voorletters. Dit mag ’n spelfout, tikfout of van sy kant af opsetlike verbloeming wees om ons te mislei.”

Petri het aanvaar die bomwaarskuwing was ’n vals alarm. Sy sleep weer die dokumentetas uit die jaskompartement en soek met haar vinger teen die lys name af.

“Geen Bothma of Botes nie.”

“Niks verdags onder enige van die ander mense nie?”

“Nee, kaptein.”

“’n Skoolkind en ’n ma.” Hy skud sy kop. “Waar sit oupa G.J.?”

“Twee-en-veertig C.”

Haar kaptein lyk afgetrokke. “Laaste ry, langs die paadjie, met ruimer beenspasie as die ander sitplekke. Rokerseksie, geen uitsig op die doek nie.”

“Maar wel oor die volle kajuit en vliegtuig ...”

“Ruimer beenspasie vir groter beweeglikheid?” Hy kyk ondersoekend na Petri. “Hoe oud skat jy hom?”

“Dis moeilik. Dalk jonger as wat hy lyk.”

“Blommetjie, ek dink jy is straks reg.”

Almal by Jakaranda noem die waardinne bloeisels of blommetjies. Petri is daaraan gewoond. Maar komend van Johan de Villiers, is die bynaam skielik nuut – sy kan nie help om van hom te hou nie. Maar sy moet ook onthou dat hy en Janine Oberholzer verloof is, dat hy aan ’n ander meisie behoort.

Sy dwing haar gedagtes terug na meneer G.J. Botha.

“Dieselfde man wat nie by die hotel opgedaag het nie en volgens Hannes Scholtz ’n voorliefde het om lang rukke in kleedkamers deur te bring?” vra hy.

Petri is bly dat sy ’n intelligente bydrae kan maak. “Ook vreemd verwaarloos, kaptein. In die koue reën sonder ’n jas of ’n baadjie, en met ’n onnatuurlike belangstelling in die weerstoestande.”

“Die weer?”

“Altocumulus en kopwinde. Veral die vlugduur, tot op die laaste minuut.”

Johan frons. “Hoekom reken jy so?”

Petri verduidelik van die meteorologiese buro, sy obsessie oor akkurate inligting en die man se aggressie. “Maar dalk is ek bevooroordeeld,” voeg sy by.

“Ek ook.” Hy glimlag vlugtig vir Petri. “Dankie, nooi. Hou kop, ek is nou-nou terug.”

“Weer oor die bom, of wat gaan aan?” vra ’n kelner.

Petri sluk. “Wim, ek hoop nie die kaptein dink wat ek dink hy dink nie ...” Sy kyk die breë rug en donker agterkop agterna. Hy is blykbaar nie haastig nie – vertoef ’n oomblik by die laaste ry, gesels hier en daar met ’n passasier, beantwoord vrae en praat lank met Janine.

Dit is nie net die weer nie, onthou sy. Die man is ook behep met sy kajuitsak, waarin hy kort-kort vroetel of na iets soek. Dis waarskynlik onbelangrik, maar sy moes dit ook teenoor kaptein De Villiers genoem het.

“Die kaptein het kom rondkyk en is pas baie haastig die trap op stuurkajuit toe. Nie om dowe neute nie,” hou Wim vol.

Petri wil nie ’n vals alarm veroorsaak nie. “Ons moet maar wag en sien.”

’n Tweede besoek deur die bevelvoerder aan die passasierskajuit, kort op die hakke van die eerste, is abnormaal en sal agterdog wek. Ná ’n verdere radiogesprek met Jan Smuts se veiligheidsafdeling stuur Johan Janine agtertoe.

“Petri, hoe lyk dit met ’n bietjie tee?” stel hul hoofwaardin voor.

Petri maak, ook vir Hannes en Wim en ’n ou tannie wat aan hoogtevrees ly. Daarna dra sy hare en Janine s’n na ’n opklapbankie oorkant die kombuis waar hulle meer privaat is. Sy neem ’n sluk, sit dan die koppie neer. “Jy het nie slegs kom tee drink nie, nè?”

Janine is net so reguit. “Nee, maar dit lyk minder verdag as ons regtig oor ’n koppie tee kommunikeer.”

“Waaroor?”

“Die persoon wat pas voor vertrektyd ’n lewenspolis van tweemiljoen wou uitneem, is dieselfde meneer Gerhardus Jakobus Botha.”

Petri verstyf. Dit duur ’n rukkie om in te neem wat Janine gesê het. “Gerhardus Jakobus? G.J. Botha? Die man wie se vrou die polisie gebel het?”

“Einste hy. Ons het intussen ook by die reisagent vasgestel dat hy slegs die minimum deposito op sy kaartjie betaal het en die res oor ’n maksimum periode afbetaal.”

Petri raak koud toe sy die implikasies besef. Tog weier haar verstand om dit te aanvaar en soek sy uitkomkans. “Baie mense koop reiskaartjies op skuld. Dis nie te sê dat hulle nie van plan is om die balans te betaal nie.”

“In sy geval wel.”

“Hoekom sou hy tot op die laaste nippertjie gewag het om versekering uit te neem as hy iets beplan?”

“Praat sagter en drink jou tee,” maan Janine. “Ons wil nie slapende honde wakker maak nie. Moontlik het hy vooraf by ander versekeringsmaatskappye ook assuransie uitgeneem. Of dalk was hy bang sy vrou vind uit wat hy doen, kry snuf in die neus en probeer hom keer. Soos blykbaar wel die geval was, behalwe dat sy te laat was.”

“Tweemiljoen? En dan skaars genoeg geld vir die premie op honderdduisend? Dit rym nie.”

“Hy maak dalk nie resitasietjies nie.”

“Hoe het sy vrou uitgevind?”

“Ek weet nie.”

“Sy kon haar misgis het. Of hierdie is dalk ’n ander meneer G.J. Botha.”

“Jy is ’n optimis. Kan wees, maar daar is te veel toeval dat ons houtgerus kan wees. Jy sê jy het gisteraand met die man gesels?”

“Eintlik net gepraat. Hy is nie gesellig nie. Vanoggend het hy my geïgnoreer, net voor hom sit en staar met die teddiebeer op sy skoot. Hy wou ook nie eet nie.”

Janine het ook die ou oom so gesien – albei arms styf en beskermend om die beertjie, asof dit ’n baba is.

“Foei tog, ’n mens moenie oordeel nie,” merk Petri op. “Dalk het hy nie kinders nie.”

“Ek ken mense wat honde as hul kinders beskou, maar ’n stuk dooie speelgoed? Meer as getik. Koekoes as jy my vra. Jy sê hy wou niks eet nie?”

“Ek dink omdat daar nie plek was om die tafeltjie oor sy skoot af te slaan nie. Hy het ook niks gedrink nie, net kort-kort in sy sak gepeuter.”

“Baadjiesak?”

“Nee, kajuitsak.”

“Waar is die sak?”

“Dis te groot vir die hoederak. Hy het dit onder sy sitplek ingeskuif.”

“Ja, ek het dit ook netnou opgemerk. Dit steek halfpad uit tussen sy voete en dié van die vrou langs hom.”

“Moet ek die sak probeer skuif?”

“Nee! Onder geen omstandighede nie. Moenie eers daarna kyk of dit hoegenaamd aanraak nie. Ons weet nie wat binne-in is nie. ’n Bom of handgranate of wat nie. Al sê jy hy is ongesellig, is jy die enigste een wat kontak met hom gehad het. As ek of Johan instorm, gaan hy lont ruik. Jy is die aangewese een wat met hom moet gaan gesels – kalm en vriendelik en doodnormaal.”

Petri se keel is droog, die soort droog waarvoor tee nie help nie. “Wat moet ek probeer uitvind?”

“Enigiets van nut wat kan aandui wie en wat hy is.”

Petri vee haar klam handpalms aan haar romp af. “Ek is bang ek vang ’n gemors aan.”

“Jy sal nie. Gesels normaalweg oor koeitjies en kalfies. Of hy met vakansie gaan, hoe lank, of hy al voorheen op Las Palmas was. Wat hy doen, of hy getroud is, of hy kinders het, ensovoorts. Niks aardskuddends nie – soos met ’n gewone passasier. Sien jy kans?”

Petri knik. “Ek dink so. Ek hoop so.”

“Probeer sy aandag aftrek en sodoende tyd wen. Ons land oor twee uur, dan klim hy af en is die krisis verby. Met afdoende bewyse kan ons vra dat hy op Las Palmas aangehou en sy bagasie deursoek word.”

“Goed.” Petri bêre die koppies, dankbaar om te sien haar hande is nie te erg bewerig nie.

“Kuier hier en daar, werk dan stadig en geleidelik jou pad agtertoe tot jy op twee-en-veertig C kan konsentreer,” gee Janine raad.

“Het ek tyd?” Petri huiwer. “Twee uur voor landing, maar ...”

“Maar wat as hy besluit om binne twee minute die vliegtuig op te blaas?” voltooi Janine. Ook sy lyk senuagtig en minder selfversekerd. “Ons weet nie. Rapporteer onmiddellik indien jy bruikbare inligting bekom.”

Petri het na raad en vermanings geluister. Maar die teorie en die praktyk verskil. Hoe haas ’n mens jou langsaam met struikelblokke langs die pad?

35A vra lemoensap. 37B het ’n vuil koppie waarvan hy ontslae wil raak. Daarna kom Nico, wat uit liefde meer skade as goed doen.

“Hallo, engel. Ek dag jy het my vergeet?”

“Hoe kan ek, ná gisteraand?”

“Ek dag dis juis as gevolg van gisteraand ...”

“Nee.”

“Nog lief vir my?”

“Ja.”

“Sonder teëstribbeling, ruiterlik erken? Dis te maklik.” Nico frons. “Wat is verkeerd, Petri?”

“Niks nie.”

Hy ken haar te goed, merk dadelik die bekommerde trek om haar oë, die hand wat telkens na haar bloes se kraag voel – dieselfde onwillekeurige gebaar wat hy leer ken het as sy handrug ongeslaag was of as hy besig is om te veel dubbelfoute te maak.

“Wat is fout?” herhaal hy.

“Niks nie. Wil jy nog koffie of lemoensap hê?”

“Eerder vir jóú.”

“Die prys van ’n reiskaartjie koop ’n sitplek, nie die lugwaardin nie,” herinner Petri hom.

“Wat koop haar gawes? ’n Trouring?”

“Ons gesels later. Ek is ’n bietjie haastig,” skerm sy.

Nico hou op terg. “Roep as jy my nodig het of daar iets is waarmee ek kan help.”

“Dankie, Niek. Ek sal jou by jou aanbod hou.”

Petri kuier by 41F en bewonder die tjalie wat die vrou hekel en die stapel foto’s van haar kleinseun op Brighton, wat al ’n maand oud is sonder dat sy ouma hom gesien het ...

Dan is sy by 42C.

“Hallo, meneer Venter,” groet sy vrolik, hopende dat haar strategie werk. Indien dit lyk asof hulle nie weet wie hy is nie, sal dit hom meer op sy gemak stel.

Hy korrigeer haar nie en groet nie terug nie.

“Iets vir u? Tee? Koffie?” Sy kry selfs ’n ligte nooit in. “Vonkelwyn of ’n lugsiekpilletjie?”

Hy staar stom voor hom.

Petri probeer weer. “Het u die rolprent geniet?”

“Wat?”

“Die rolprent. ’n Dame vertel my sy het destyds toe hierdie rolprent gedraai het, hom misgeloop. Al rede hoekom sy op die vlug is, is sodat sy die rolprent kan sien. Nogal ’n duur fliek ...”

Steeds is daar nie antwoord nie. Net die stug gesig en die vingers wat aanhoudend teen die armleuning trommel.

“Gaan u met vakansie, meneer Venter?” verneem Petri.

Dit lok ’n reaksie uit. “Wat vra jy so baie vrae?” wil hy verdedigend weet.

“Driekwart van die mense op die Boeing gaan met vakansie. Las Palmas is pragtig, met palmbome en wit strande. Die winter- en somertemperatuur wissel nooit meer as vier grade nie. Was u al voorheen daar?”

“Nee.”

“Gaan u by u kinders of familie kuier?”

Die vingers hou op trommel, vee oor sy mond. “Hoe weet jy ek gaan nie Londen toe nie?”

Petri hou kop. “Ek raai sommer. Of gaan u in Londen of Parys by u kinders kuier?”

Sy merk dat sy gesig ’n ongesonde, bleek kleur onder die blas vel het. Hy is natgesweet, maar verbloem dit deur kort-kort sy bolip en voorkop teen die wollerige, oranje teddiebeer te druk om die sweet te absorbeer.

“Ek het nie meer kinders of ’n vrou nie.”

Dus kan dit nie sy vrou wees wat gebel het nie.

Petri sou beter gevoel het as sy stem nie onverwags gebewe en op die laaste woord gebreek het nie, as sy nie skielik besef het dit is nie net sweet nie – deel van dit wat hy kort-kort afvee, is ’n nattigheid agter die dikraambril. Sy sou ook meer gerus gevoel het as hy nie die woord “meer” bygevoeg het nie ...

Die dreuning van die vier JT9D-7 Pratt-en-Whitney-motore klink plotseling vreemd. Sagter, meer gedemp en minder skril.

Aan die hol kol op haar maag en die drukking teen haar oortrommels kom Petri agter dat hulle besig is om te daal.

Sy kyk op haar horlosie. Dié is op Greenwich-tyd plus een uur, ingestel – volgens die Kanariese Eilande wat ’n uur agter Suid-Afrika is. Tensy haar horlosie se battery pap is, weet sy nie hoe hulle nou al vir landing gereed kan maak nie.

Die man op 42C kyk ook op sy horlosie – die soveelste keer in vyf minute. Soos gisteraand, besef Petri. Sy moet dit ook onthou en noem, saam met die bleek gespannenheid, die sweet en emosionele toestand.

“Hoe laat is dit?” vra meneer Botha.

“Twintig oor twee.”

“Op die kop?”

“Negentien minute oor twee,” gee sy toe om hom gelukkig te hou.

Dié keer vroetel hy met die teddiebeer voordat hy dit weer styf met albei hande op sy knieë vashou.

Hy lyk so verlore en hartseer, Petri kry hom jammer. Sy wil hom van haar budgie vertel. Van Willempie met sy krom snawel wat vir haar ook soos ’n kind is, wat by die bure moet bly wanneer sy op ’n vlug weg is.

Maar agter haar in die kombuis hoor sy ’n klokkie lui, dringend en aanhoudend. Aan die oranje lig teen die dienspaneel sien sy dit is die stuurkajuit wat roep, nie ’n passasier wat diens verlang nie.

Om die indruk van normaliteit oor te dra en vir die wis en die onwis ’n bondgenoot te skep, praat sy met die vrou langsaan op 42B.

“Enigiets wat u verlang? Nog koffie?”

“Parakalo?”

Petri probeer Duits en Frans.

“Parakalo?” herhaal mevrou Kasakis.

Grieks, lei Petri af. Sy onthou hoe sy en Nico in Athene saam sinsnedes gepapegaai het om dankie te sê, asseblief, goeiedag en goeienag.

“Kalimera,” groet sy.

Hannes Scholtz wink na haar. Hy praat gedemp, onderlangs. “Jammer, maar Marcelle en Mariëtte is besig. Die kaptein vra dat jy so gou moontlik na die stuurkajuit kom.”

Kaptein Casanova

Подняться наверх