Читать книгу Rooikop te koop - Ettie Bierman - Страница 3
1
Оглавление“ ’n Grasdakhuis is indrukwekkend en natuurlik koel in die somer,” sê die eiendomsagent.
“En in die winter,” voeg Jennie by. “Maar wanneer dit so koud is, is die spinnekoppe minder.”
Die voornemende koper kyk eers na haar en dan na die dak se konstruksie. “Miskien moet ek die gras met teëls vervang.”
Teëls? Jennie kan dit nie glo nie. Dit sal die hele karakter van die huis bederf. Hoekom koop hy dan nie van die begin af ’n plek met teëls as dit sy smaak is nie? Sy volg hulle deur die sitkamer en eetkamer, dan die gang af na die slaapkamers toe. Jennie vra nie om verskoning omdat sy nog nie aan die kant gemaak het nie. Die koper – Le Roux of iets – lyk self asof hy hom die oggend verslaap het; asof hy nog nooit van ’n kam of ’n strykyster gehoor het nie, of van ’n skêr in sy hare nie.
“Al vier slaapkamers kyk natuurlik noord,” sê die agent. “Dis ’n groot bate.”
“Ja,” stem Jennie saam, “want die vensters is toegerank en die hortjies keer baie van die lig af.”
Toe die man aan die luike tik en na die skarniere kyk, weet Jennie wat hy gaan sê en sy spring hom voor. “Ja, hulle kan verwyder word. Die rankplante ook. Dis nóg ’n bate, want ’n klimop lok spinnekoppe … en slange.”
Hy trek die venster toe. “Is hier ’n gesinskamer?”
Jennie stap vooruit by ’n sydeur uit oor ’n stoep en onderdeur ’n ongesnoeide apiesdoring. “My pa het die motorhuis toegebou en dit vir ’n ateljee gebruik. Dit kan seker vir ’n gesinskamer ook deug.”
“Natuurlik ook noord. Natuurlik heerlik sonnig in die winter,” prys die agent die verrinneweerde vertrek aan.
As die vrou weer een keer “natuurlik” sê, gaan sy skree en sê die huis is klaar verkoop of van die mark af, dink Jennie.
Meneer Le Roux kyk weer na die konstruksie. Hy beskou die skuifdeure en die apiesdoring asof hy nie kan wag om ’n hamer en ’n saag in die hande te kry nie.
“Hier is dus nie ’n motorhuis nie,” verduidelik Jennie. “En die dak lek in die hoek, waar die vinke die gras uitgetrek het.”
“Mossies,” korrigeer hy.
Pure dom stadsjapie wat skaars die verskil tussen mossies en duiwe ken! besluit Jennie ergerlik. “Swartkeel-geelvinke en brilwewers,” hou sy vol.
“Brilwewers?” Hy lyk skepties. “Natuurlik! Natuurlik nóg ’n bate. Is daar ’n swembad?”
Jennie bedwing haar om nie ’n dwars antwoord te gee nie.
“Ongelukkig nie, hoewel hier ’n sterk boorgat en oorgenoeg plek vir ’n swembad van Olimpiese grootte is,” antwoord mevrou Deetlefs en wys hom die ruim ingeboude kaste.
Die koper stel nie veel belang nie en draai na Jennie.
“Is hier busse en treindienste naby?” wil hy weet.
“Niks – nie eers winkels nie,” antwoord sy.
“En bure?”
Jennie vervies haar. “Hierdie is ’n kleinhoewe, meneer Le Roux. As u bure op u drumpel wil hê, moet u ’n woonstel in die middestad koop.”
“Hillbrow … Kan jy ’n kaart lees, juffie? Dit is so ongeveer dertig kilometer hiervandaan. Weet jy min of meer hoe lank ’n mens van Halfweghuis af stad toe ry?”
Dit klink asof hy dink sy is vyftien, pleks van vyf-en-twintig. Daarby onthou hy heel duidelik nie eers haar naam nie.
“Ure, meneer,” antwoord Jennie koel. “Op ’n stuk grondpad en oor ’n laagwaterbruggie wat na ’n reënbui gereeld oorstroom is.”
“Dieselfde spruit wat deur jou grond loop?”
Jennie knik. “En gereeld die tuin verspoel.”
Die agent frons en haar kliënt kyk na die strook riete en die waterbessiebome wat haar pa se trots was.
“Weet jy of hier ’n serwituut is, juffie?”
Wat wil hy doen – stootskrapers inbring, die waterbessies vermoor en die spruit toegooi?
Jennie het oor serwituutregte navraag gedoen en ken elke feit op die punte van haar vingers. “Ek weet nie. Hoekom?” vra sy aggressief.
Die agent se frons verdiep en haar stemtoon is minder vriendelik. “Juffrou Botha, ek weet u is met studie besig en ons steur u. Ons wil nie onnodig u tyd in beslag neem nie. Ek reken dis verkieslik indien elkeen met sy eie werk voortgaan.”
Jennie los hulle en loop. Sy gaan sit by haar lessenaar in die studeerkamer en trek haar stapel boeke nader. Historiese Opvoedkunde. Teoretiese Opvoedkunde. Die sielkundig opbouende taak van die opvoeder teenoor die ontwikkelende onvolwassene. Al waarin Jennie nie belangstel, is die kind self, wat aan die genade van ’n ondergekwalifiseerde kunsonderwyseres uitgelewer is. Dertig of veertig van hulle per klas, elk met sy of haar eie probleme: ouerprobleme, milieuprobleme, aanpassingsprobleme en probleme om die probleme te verwerk.
Jennie lag vir haarself. As mevrou Deetlefs haar nou kan hoor, skree sy ook. Eiendomsagente is afhanklik van hul kommissie, besef sy. As haar huis vandag verkoop word, sal Thys jubel en juig en haar vir ete uitneem om die goeie nuus te vier. Die probleem is net: Sy is nie seker of sy wíl verkoop nie. Sy het in dié kasarm van ’n ou huis grootgeword en hier is te veel herinneringe. Sy is soos die apiesdoring; haar wortels is hier in die fondasie vasgegroei. En wat van die diere?
Jennie kan nie konsentreer terwyl vreemdelinge om haar ronddrentel, aanmerkings maak en alles wil verander nie. Sy is verlig toe die agent en die stug koper groet en vertrek. Hy dra ’n verkreukelde denimlangbroek en ’n verbleikte T-hemp, maar ry met ’n splinternuwe, rooi sportmotor, die duurste model op die mark, sien sy deur die eetkamervenster. Hy het nie geld vir ’n haarsny nie, maar blykbaar wel vir ’n huis en ’n nege-hektaar-kleinhoewe waarvan die prys te hoog is.
Nogal nie lelik nie, erken sy teësinnig, mits ’n mens van stryerige ouens met ’n halfdag oue, donker baard hou. Is dit modern: dalk die huidige tendens? Sy verkies ’n ou soos Thys: kort, blonde hare; vriendelike, oop blou oë; ’n vrolike geaardheid en altyd positief. Thys studeer vir ’n honneursgraad in argitektuur. Sy wonder of Sy Edele meneer Le Roux standerd twee geslaag het. Al wat hy ken, is ’n pik en ’n hamer: afbreek – nie opbou nie; kritiseer – nie waardeer nie.
Miskien as sy daarop aandring of mooi vra, sal Thys inwillig dat hulle na die troue hier aanbly, al is dit net tydelik, vir ’n jaar of twee, totdat hy sy droomhuis gebou het. Dit gee haar tyd om afskeid te neem en ’n plan met haar diere te maak. Daarna sal sy saamstem dat Halfweghuis ongerieflik ver is en dat grasdakke ’n brandgevaar skep. Om die plek op te knap kos die wêreld se geld en klipvloere is te koud. Die tuin is onprakties en onderhoudskoste te hoog.
Wat is die alternatief: ’n brug oor die spruit, diefwering en ’n alarmstelsel, teëls en volvloermatte, dalk ’n deel van die grond verkoop?
Wat meneer Le Roux beoog indien hy sou koop, besef Jennie, is onderverdeling, anders sou hy nie oor serwituutregte uitgevra het nie. Hy wil seker van die spruit ontslae raak en ’n woonstelgebou oprig.
Haar pa en haar ma is dood en kan haar nie raad gee nie. Hoewel hulle nie erg in Thys gehad het nie, is hy nugter en prakties. Hy is reg – al het sy honde en ’n rewolwer, is dit vir ’n vrou gevaarlik om alleen op ’n hoewe te woon. Sy kan nie ’n tuinhulp bekostig nie, en die plek is besig om te verwaarloos. Die mark is op die oomblik goed. Dit is dalk beter om so gou moontlik te verkoop en die geld op vaste deposito te belê.
As Thys belanggestel het, kon sy die plek tydelik verhuur totdat hulle albei klaar gestudeer het en minder platsak is, maar hy is eerlik daaroor: Hy is ’n stadsmens; hy haat tuinmaak en sukkel; die kragonderbrekings wat kort-kort voorkom, ’n pad wat gereeld verspoel en afvoerpype wat gedurig verstop raak, sal hom rasend maak. Dit is hartseer, maar hy is reg. Sy kan nie aan die verlede vashou ten koste van haar veiligheid en finansiële gemoedsrus nie; nie ten koste van hul toekoms en geluk nie.
Sy het Thys lief genoeg om die res van haar lewe by hom te wil wees. ’n Vrou moet ook aan haar man dink, hom in ag neem, besef Jennie opnuut. Sy kan nie verwag Thys moet haar pa se plek probeer vol staan en dus met ’n agterstand begin nie. Hy het sy eie smaak en voorkeure. Dit is nie dat hy van haar verwag om die res van haar lewe in ’n woonstel opgesluit te sit nie. Hy het reeds ’n erf in Waterkloof in Pretoria gekoop en eendag gaan hy vir haar hulle droomhuis bou. Dit is ’n groot erf, bo teen die rant, met ’n paar aalwyne en proteas tussen die rotse. Sy sal daar ’n mooier tuin kan maak as hier. Halfweghuis lê in die haelgebied, met arm grond en swaar ryp.
Die logiese oplossing is om die hoewe so gou moontlik te verkoop en die afskeid verby te kry.
Maar aan die eerste beste koper? Aan ’n takhaar wat nie van grasdakke en luike hou nie? Wat die bome, die voëls en onskadelike insekte wil uitroei?
Hoewel Thys die huis aan sewe eiendomsagente gegee het, was hierdie die eerste potensiële koper in drie weke. Sy het al begin ontspan – tot vanoggend, toe mevrou Deetlefs gebel het om te sê dat sy ’n moontlike koper het.
Hy sal nie die hoewe koop nie, troos Jennie haarself. Hy wil bure en stadsliggies hê; busse en treine; ’n swembad en motorhuis vir sy nuwe sportmotor. Hy is afgeskrik deur die dak, die prys en die afstand vanaf die stad. Sy kan van hom vergeet en hoef haar nie oor die simpel vent te ontstel nie.
Tog het hy seker vooraf gehoor dit is ’n hoewe by Halfweghuis en na die prys verneem. Hoekom het hy nogtans die moeite gedoen om te kom kyk?
Hy het nie na die kombuis en spens gekyk nie, onthou sy. Maar dit is ’n skrale troos. Mans let nie op na sulke dinge nie. Hulle laat dit aan hul vrouens oor. Hy het seker ’n klomp kinders, dié dat hy ’n gesinskamer wil hê. Stap twee sal wees dat mevrou Le Roux opdaag om te vra waar die ingeboude skottelgoedwasser en die outomatiese wasmasjien is. Tien teen een is daar ’n horde bedorwe kinders wat haar katte sal jaag, die honde sal terg en op haar pronkertjies sal trap.
Jennie werk tot eenuur, maar dit is koud en die kaggel wil net so min soos sy saamwerk. Vermoedelik is die skoorsteen verstop, soos die kombuis se afvoerpyp. Sy maak vir haar koffie en trek nog ’n trui aan. Sy kyk na die spruit en die waterbessies, die apiesdoring en ’n paar tarentale wat op die grasperk skrop. Nee, besluit sy, as dit moet en as dit nie anders kan nie, sal sy verkoop, maar nie aan Le Roux nie.
Daarna het Jennie meer gemoedsrus en kan sy op haar studie konsentreer. Ook dit is ter wille van Thys en hul toekoms. Vir ’n getroude vrou is onderwys die ideale beroep, veral wanneer daar later kinders is. Maar om skool te hou met net ’n graad en sonder ’n onderwysdiploma is nie die moeite werd nie. Dit is nie billik teenoor die leerlinge nie. Dit is waarom sy haar studieverlof ten volle moet benut, haar kwalifikasies moet verbeter en haar diploma kry.
Toe die telefoon tydens aandete lui, is Jennie voorbereid. Sy sal nie onbeleef wees nie, net koel en saaklik sê sy het van plan verander en sedertdien met ’n makelaar gesels. Die prys is nou aansienlik hoër. Sy het vergeet om die verstopte afvoerpyp en kaggel te noem en intussen het die geiser en die stoof ook gebreek.
Maar dit is Thys wat bel – liefdevol, bekommerd oor haar welstand en optimisties oor ’n moontlikheid van goeie nuus.
“Het die Van Zyl-kêrel toe gekom?”
Jennie is nog half deur die wind en sukkel om ontslae te raak van die ergernis wat sy opgebou het.
“Wie?”
“Van Zyl – die man wat saam met ’n agent van Alfa-eiendomme sou kom om na die huis te kom kyk.”
“Le Roux?”
“Van Zyl – Roux van Zyl. Het hy toe opgedaag? Wat sê hy?”
“Ek dag hy is Le Roux. Is sy náám Le Roux?”
“Roux. Het hy ’n opsie uitgeoefen?”
“Nee.” Sy was onnosel, dink Jennie. Die vent het waarskynlik vir haar gelag omdat sy haarself belaglik gemaak het. Meneer Le Roux voor en agter … Hoekom het hy haar nie reggehelp nie?
“So, jy het verniet alles opgedollie en blink gevryf?”
“Ek het nie. Die plek het soos die hond se hok gelyk. Maar dit sal hom leer …”
“Hoekom?”
“Hy was ’n wysneus en onaangenaam.”
“Het hy ’n aanbod gemaak?”
“Nee, net voorstelle om die plek te verander.”
“Moet jou nie aan hom steur nie. Hy was ons eerste moontlike koper. Waar hy vandaan kom, is nog honderde. Die volgende kandidaat is dalk die regte een. Die mark is goed en Midrand is ’n groeiende nywerheidsgebied. Moet jou nie ontstel nie, jy sal jou huis verkoop kry.”
“Dankie vir die opbeur.”
“Ek bedoel dit. Wees net geduldig en voor jy weet, is jy van daardie wit olifant ontslae.”
“Dankie. Dis ’n groot troos.”
Thys aarsel, en besluit dan om die onderwerp te verander. “Hoe vorder jou werkstuk?”
“Hoe vorder jóúne?”
“So-so. Was jy eerder lus om te skets of om jou skildery klaar te maak?” vra hy.
“Nee.”
Thys is besorg. “Wat is verkeerd, lief?”
“Niks.”
“Dis nie niks nie. Jy klink onderstevoor en agterstebo. Ek gaan koop gou twee pizzas, dan kom ek inloer. Sien jou oor ’n uur.”
“Nee! Dis laat en ek het klaar geëet. Thys, dis nie nodig nie,” probeer Jennie keer, maar hy het reeds die gehoorstuk neergesit.
Dit is sommer neerslagtigheid, dink Jennie. Sy is depressief omdat sy haar ouers mis. Sy wil Thys nie met haar probleme opsaal nie, want hy het self genoeg. Hy het ’n knorrige baas wat hom rondjaag, wat sy junior status uitbuit, maar hom nie ’n vennootskap wil aanbied nie. Dit is waarom Thys ’n hoër kwalifikasie wil verwerf – sodat hy later sy eie firma kan begin. Dan kan hy beter vir haar – en eendag vir hul kinders – sorg, besef sy.
Thys is ’n wonderlike man en sy waardeer hom nie genoeg nie. Watter ander man sal laat op ’n weeksaand dertig kilometer ver ry om te kom kuier net omdat sy nooi moeg en iesegrimmig klink?
’n Rooikop is erg genoeg, en dan nog een wat altyd kaalvoet, in kakiebroeke en verfbesmeerde oorhangtruie rondloop … Thys is pynlik netjies en sy weet hy verkies blondines – vroulike meisies in rokke, sykouse en hoëhakskoene.
Om vir haar terneergedruktheid te vergoed, trek Jennie haar nuutste rok aan, een wat sy vir uiteet tydens hul wittebroodsdae bêre. Sy borsel haar hare agteroor, weg van haar voorkop af, maar dit is te lank, krul te veel en lyk steeds wild. Jennie druk haar kop onder die kraan, borsel die nat boskasie plat en bind dit met ’n serp vas. Terwyl sy besig is om slaai en koffie te maak, draai Thys se motor by die hek in.
Jennie hardloop om die katte te verwilder en die drie bulterriërs in die hoenderhok weg te bêre, anders verwoes hulle Thys en sy pak klere. Op pad terug soek sy ’n lipstiffie en die bottel parfuum wat hy Kersfees vir haar gegee het. Sy kry nie een van die twee nie en vergeet in die haas van die hanslam.
Sy druk haar hande voor haar mond toe sy Thys se duur hemp sien.
“Ek is jammer. Wat het gebeur?”
“Hans het dit gedoen! Hy het gedink my elmboog is ’n surrogaatma. Hy het aanhou suig, al het ek Afrikaans, Engels en Hollands met hom gepraat. Het jy hom nie kos gegee nie?”
“Ek het, maar dalk ’n bietjie te vroeg. Hy is seker weer honger.” Jennie neem die kastrol warm melk wat vir die koffie bedoel was en roep na die hanslam. “Dis eintlik koud hier buite. Jy moes jou baadjie aangehou het.”
“Dis ysig. Maar dan was my baadjie ook daarmee heen.”
“Nee. Dit was die wit hemp. Die vorm van die wit elmboog het vir hom soos ’n bottel melk gelyk. Of anders moes jy ’n trui of ’n blou hemp aangetrek het.”
“Rooi, pienk of pers sou nie gehelp het nie. Diere is kleurblind.”
“Nie Hans nie, en beslis ook nie Kabaal nie. Wanneer hier iemand met helder kleure aankom, moet jy hom hoor – dis egter as die gewone kabaal wat hy opskop. Hy breek omtrent die plek af met sy geblaf.”
“Dit kan ek glo,” antwoord hy droogweg.
Jennie besef Thys het nie kom kuier om oor haar dieretuin te gesels nie. Hy hou nie van honde nie, en na sy ondervindings met haar klomp diere kan sy hom seker ook nie kwalik neem nie. Op haar rekening is nou al twee hemde en ’n broek van hom, waarteen een van die bulterriërs kapsie gemaak het.
Jennie sit die pizzas in die oond, dan gaan sit sy langs hom op die bank en druk ’n soentjie op sy voorkop.
“Ek is lief vir jou, liefste. Dankie dat jy op ’n Maandag so ver gery het om vir my kos en geselskap te bring.”
Thys se arms skuif om haar rug, haar skouers en haar nek.
“En ek vir jou. Jy lyk mooi vanaand. Jy is my alles, Jen. Jy sal sien, dinge sal regkom …”
Dit is heerlik om nie alleen te wees nie, om hom naby haar te hê en in sy arms te wees. Dit is vir haar gerusstellend om haar kop én haar probleme op sy skouer te lê en te aanvaar hy is die sterker een. Hy weet wat die beste vir haar is.
Thys hou Jennie beskermend teen sy bors vas, met albei sy arms om die skraal figuurtjie langs hom op die bank. Sy mond streel oor die slanke lyn van haar nek en haar keel, oor haar wang, oë en wimpers. Dan af na haar sagte, weerlose mond …
“Drie maande is te lank om te wag,” fluister hy gesmoor. “Kom ons raak vanaand verloof en trou Saterdag.”
“Ek wens ons kon.”
“Jou pa sou nie omgegee het nie. Hy sou die eerste een gewees het om te sê jy moenie oor hom treur nie, jy moet gelukkig wees.”
“Ek weet. Maar …” Jennie soek na ander verskonings. “Alles is nog te deurmekaar – die boedel en alles.” Sy aarsel, maar besef sy kan nie aanhou uitstel nie. Die een of ander tyd moet sy die werklikheid aanvaar. Sy sluk en vryf met die agterkant van haar hand oor haar oë. “Thys, wat gaan ek met al die meubels doen?”
Hy het gewag totdat sy self die saak opper en hy het sy antwoord reg. “Soek uit wat waardevol is en wat vir jou sentimentele waarde het. Verkoop die res, waarvoor jy in elk geval nie plek het nie.”
“Hoe?”
“Aan ’n tweedehandse meubelwinkel. As jy wil, sal ek dit reël.”
“Nee. Nee, wag eers … Dis te halsoorkop.”
Jennie het tyd nodig om te dink. Sy wou nog nooit oor haar ouers se besittings praat nie en skram weg van die gedagte aan vreemdes wat dit vir ’n appel en ’n ei by ’n tweedehandswinkel sal koop. Alles was vir haar kosbaar, en elke ding het nou vir haar dubbel soveel sentimentele waarde. Jennie weet sy is ’n lafaard om aan te hou wegvlug, maar dit is nog té gou en die motorongeluk lê nog vars in haar geheue. Sy staan op, stel die oond warmer en maak die melk warm vir koffie.
“Thys, wat van die diere? Moet ek hulle ook aan ’n troeteldierwinkel verkwansel?”
Hy is versigtig om nie die verkeerde ding te sê nie, om nugter en objektief te bly.
“Julle het aanvanklik die katte gekry om die rotte en muise in toom te hou. In woonstelle het mens egter nie dié probleem nie.”
Jennie bly by die sitkamerdeur staan. “Wat probeer jy sê?”
“Wat ek al voorheen gesê het, engel. Hulle is te veel.”
“Wat moet ek doen? Hulle gif ingee? Oor die kop slaan?”
“Dis nie wat ek bedoel nie,” antwoord Thys rustig. “Kom sit, dan gesels ons daaroor.”
“Ek wil nie sit nie!” Jennie besef Thys probeer haar help en sy is ondankbaar. Sy probeer redelik wees. “Katte kan vir hulself sorg en hulle sal dalk regkom, maar wat doen ek met die honde, Thys?”
“Hulle is al drie opreg geteelde en geregistreerde bulterriërs wat heelwat werd is.”
“Bedoel jy ek kan ’n wins uit hulle maak?”
“Ek weet jy is nie materialisties nie; ek ook nie. Maar jou honde is ongedissiplineerd. Hulle sal nie in ’n woonstel kan aanpas nie.”
“Dis onbillik om dit van hulle te verwag. Enige groot hond het hardloopruimte, oefening en vryheid nodig. Hoe kan ek hulle in ’n tronk opsluit?”
“Jy kan nie,” stem hy saam. “Dit sal wreed wees. Miskien een; mits jy hom gereeld aan ’n leiband uitneem om te gaan stap.”
“Een?” Jennie vryf weer met haar hand oor haar oë, maar die trane kom vinniger as wat sy hulle kan wegvee. “Watter een? En wat van die ander twee? Die hoenders? Hans en die katte?”
Thys is ’n oomblik stil. “Jy moes in die eerste plek nie so ’n mengelmoes diere aangeskaf het nie, of toegelaat het dat hulle so buitensporig aanteel nie.”
“Het jy al ooit ’n broeis hen se eiers van haar weggeneem? Gehoor hoe sy kloek en haar kuikens soek? Die honde is vir beskerming en Hans het geen ander heenkome gehad nie.”
“Jy wou van kleins af boer word – skape en beeste aanhou. Waarvan sou jy geleef het as jy altyd te jammer vir jou diere was om hulle mark toe te stuur?”
“Ek wou boer, ja, maar met mielies of koring.” Haar stem is skril. “Verwag jy ek moet Hans slag? Dan eet ons Sondag gebraaide lam? Is dit wat jy wil hê? Sal jy lekker aan hom smul, saam met aartappels en rys en blomkool?”
Thys soek Jennie se hand. “Bedaar …! Jy is oorspanne, liefie. Word rustig en ontspan. Kom sit hier langs my, dan vertel ek jou van die belangrike kontrak vir ’n winkelsentrum wat ons moontlik kan kry.”
Jennie probeer. Sy vee haar trane af en luister na die projek wat hulle beoog, na die planne vir ’n supermark en ’n tiental boetieks. Sy kan egter nie al haar aandag aan Thys gee nie. Is dit onnatuurlik om so jammerhartig teenoor diere te wees? wonder sy. Is daar iets met haar verkeerd, of is hulle ’n plaasvervanger vir die kinders wat sy nie het nie?
“Ek behoort ’n redelike bonus te kry. As ek dit by my spaargeld reken, saam met joune, kan ons die erf klaar betaal en begin bou.”
Vyf-en-twintig is nie oud nie, redeneer Jennie. Sy het ongetroude vriendinne wat ouer as sy is, en selfs een wat op vier-en-dertig haar eerste baba gehad het.
“Ek wil die plan wysig – ’n atrium in die sitkamer aanbring – vir jou en jou plante. Besef jy, engel, oor ’n maand kan ons miskien die fondasie gooi!’
Jennie probeer entoesiasties klink. “Fondasie? Dan gaan eet ons by die duurste, beste restaurant om dit te vier!”
“Nee, ons spaar die uiteetgeld vir nuwe gordyne en skilderye.”
“Ons hoef nie nuwe gordyne te koop nie. Ek het genoeg vir drie huise.”
“Dis oud en verbleik en deur die motte gevreet. Nee, ons begin nuut, van voor af, net ek en jy …”
Jennie gaan haal die pizzas en die koffie en los die slaaisous en die broodrolle wat sy wou warm maak.
Met die laaste mondvol besef Thys dat sy stil en afgetrokke is. Hy is vol berou.
“Ek bedoel natuurlik nie jou eie sketse en skilderye nie. Dit is nuut, en natuurlik maak ons plek vir hulle. Selfs vir een of twee van jou pa se olieverfskilderye en enkele meubelstukke wat jy wil behou. Selfs vir Kabaal of een van die ander honde.”
“Natuurlik,” antwoord Jennie.
“Selfs struike en bome wat jy wil uithaal en saamneem.”
“Natuurlik.”
“Hoekom sê jy dit so snaaks?” Thys probeer Jennie nader trek.
Sy gee pad.
“Dis laat en môre het ons albei ’n besige dag wat voorlê.”
Hy staan op en kyk op sy horlosie. “Gaan jy môre weer aan jou taak werk?”
“Ek weet nie. Ek is lus en los die hele spul werkstukke.”
“Om wat te doen? Ophou skoolhou, prentjies te teken en soos jou pa bankrot te speel?”
Die oomblik toe die woorde uit is, besef Thys dit was ’n fout. Hy wou haar aanspoor, maar hy was taktloos en moes nie so ongevoelig gewees het nie.
Jennie se gesig is spierwit. “Het jy genoeg geëet? Was ek gasvry genoeg? Dankbaar genoeg omdat jy my kamma kom opbeur het?”
“Natuurlik. Maar –”
Sy gee hom nie kans om klaar te praat nie. “Gaaf, dan het ek my plig gedoen. Nogmaals dankie vir die pizza wat ek nie geëet het nie, en vir jou raad wat ek nie sal neem nie.”
Thys probeer wal gooi teen haar beskuldigings en verwyte. “Daar is niks met skilder verkeerd nie. Dis ’n interessante en self lonende stokperdjie.”
“Ek het die prentjies gelos, skoolgehou en nou studeer ek vir ’n onderwysdiploma. Die huis is in die mark en ek sal môre ’n tweedehandsmeubelwinkel bel. Is dit nie genoeg nie? Wat verwag jy meer van my, Thys?”
“Niks. Ek vra niks van jou nie, Jennie-lief. Jy is moeg en oorstuur. Dis natuurlik; dis as gevolg van alles wat die afgelope twee maande gebeur het.”
“Hou op om te sê natuurlik! Ek is nie ’n psigiatriese geval wat vanselfsprekend op die natuurlike manier sal reageer nie.”
“Jen … Liefste …” Thys probeer regmaak wat hy verbrou het. “Almal weet jy is anders as jou pa: slimmer, talentvoller. Ek bedoel …” Hy besef pleks van regmaak, verbrou hy erger. “Ek het jóú lief, Jennie, om jouself. Niks anders maak vir my saak nie, behalwe jy.”
“Mý lief? Ondanks, nieteenstaande en ten spyte van al my tekortkominge?”
Thys weet nie wat sy wil hê hy moet sê nie. “Ek wil met jou trou en my hele lewe saam met jou wees. Is dit nie genoeg bewys hoe lief ek jou het nie?”
Jennie se trane loop onkeerbaar. “Ek is jammer. Môre sal ek beter voel.”
“Ek kan jou nie in hierdie toestand alleen laat nie.”
“Jy kan. Ek sal regkom.”
“Het jy slaappilletjies of ’n kalmeermiddel?”
“Hordes.”
Thys huiwer. “Ek kan nie ry en jou so los nie.”
Jennie haal ’n paar keer diep asem. “Ek makeer niks nie. Ek is jammer ek het met jou rusie gemaak. Moet jou nie aan my steur nie. Neem jou eie raad: Bedaar en gaan slaap.”
“En jy? Sal jy kan slaap?”
“Soos ’n klip.”
“Bel my as jy nie goed voel nie. Ek sal dadelik terugkom.”
“Dankie. Dis nie nodig nie.”
“Jy is die beste ding wat nog ooit met my gebeur het, Jennie. Ek het jou lief, bo almal en alles.”
“Ek weet nie hoekom nie …”
“Omdat jy jý is. Sluit die deure en pas jouself op.”
“Ek sal, dankie.”
Op pad motor toe praat hy steeds, en deur die oop venster, voordat hy vertrek.
Jennie hoor net hier en daar ’n woord. Sy maak die hek toe en wuif totdat hy om die draai verdwyn. “Tot siens!” roep sy hom agterna. “Tot siens, Thys …!”