Читать книгу Rooikop te koop - Ettie Bierman - Страница 4
2
ОглавлениеDie res van die week is Jennie miserabel, al het sy Thys gebel en vir die soveelste keer om verskoning gevra en al was hy simpatiek, vergewend en begrypend.
Om verder te vergoed, koop sy vir hom ’n nuwe hemp en werk toegewyd aan haar taak. Dit help nie; ook nie om die meubels te begin uitsorteer en vier vullissakke vol ou briewe en papiere weg te gooi nie.
Die laai vol kalmeermiddels wat die dokter voorgeskryf het, raak al hoe aanlokliker, maar Jennie was nog nooit iemand wat pille en medisyne vir elke kwaal gebruik het nie. Haar buurvrou glo aan vitamien B om senuwees op te bou. Maar toe Jennie by die apteek die prys van die bottel pille sien, besluit sy dat vroeg gaan slaap saans en draf soggens goedkoper en meer terapeuties is. Dan kry die honde darem ook ’n bietjie oefening.
Watter een gaan sy kies? Hoe kán sy kies, wetende sy sal die ander twee honde waarskynlik nooit weer sien nie? Selfs die langbeenspinnekop teen die plafon het opeens vir haar kosbaar geword.
“Is ek neuroties?” vra sy vir hom. “Is tannie Jennie ongebalanseerd?”
Hy hardloop na die plafon se hoek toe, waar sy web is.
“Ja, vlug, ou maat, dis veiliger,” moedig Jennie hom aan.
Die eerste teken van kranksinnigheid is wanneer ’n mens met jouself begin praat, dink sy. Miskien moet sy met Thys trou, trek en klaarkry. Dit sal soveel makliker wees.
Trens kom staan by haar: lojaal, blinkoog en vol kameraadskap. Jennie druk hom teen haar vas. “My honne …” Sy sukkel om verby die knop in haar keel te praat. “Dit maak nie saak as jy altyd vuil en vol gras is nie. Daar is iets soos borsels en besems vir die vloere. Jou ounooi sal jou nie verkoop nie.”
Hy verstaan. Trens lek haar hand, spring op die bank en krul hom op haar skoot op.
Hy hoor eerste die dreuning van ’n voertuig in die oprit en grom waarskuwend.
Jennie loer deur die eetkamervenster. Dit is seker iemand wat kom simpatiseer. Sy sluit die voordeur oop en stap uit na die bakkie wat so pas stilgehou het.
Dit is ’n man met netjiese donker hare, ’n donker bril en ’n pak klere aan. Jennie ken hom nie en raai dit is iemand van die kerk – ’n nuwe diaken of ouderling.
Sy maak Kabaal stil en hou Trens aan sy nekband vas. Dit is egter onnodig. Die grom was net om te sê hier is ’n vreemdeling op die werf. Nou swaai die dik, stomp stert soos ’n pomphandvatsel en nie een van die bulterriërs lyk asof hulle beplan om die besoeker op te vreet nie.
Jennie maak op hul instink staat. Hulle vertrou die man en weet hy sal haar nie oor die kop slaan en beroof nie.
“Goeiemiddag,” groet sy vriendelik.
Hy glimlag skeefweg. “Ek hoop dis nie ongeleë nie.”
“Geensins. U is baie welkom. Kom binne.”
Eers toe hy in die sitkamer staan en sy donker bril afhaal, besef Jennie met ’n skok wie dit is: meneer Alwetend le Roux.
Omdat ’n week verbygegaan het en hy klaarblyklik nie van die huis gehou het nie, het Jennie aanvaar sy sal nie weer van hom of mevrou Deetlefs hoor nie. Sy het al half vergeet hoe hy lyk. Glad geskeer, na ’n haarsny en sonder die verkreukelde denimlangbroek lyk hy heeltemal anders. Dan nog die donker bril en ’n bakkie in plaas van die windmaker sportmotor … Maar dit is nie genoeg verskoning dat sy haarself ’n tweede keer voor hom belaglik moes maak nie. Jennie is vies vir haarself. Sy moes nie so oorgretig voorgekom het nie. Sy moes nie uitgehardloop het om hom met ope arms te verwelkom nie.
Omdat sy verleë voel, is Jennie se stem skerper as wat sy bedoel het. “Goeiemiddag. Wat kan ek vir u doen, meneer Le Roux?”
Roux se eerste indruk Maandag was van ’n stroomop rooikop, te maer en bleek, met twee groot, groen oë wat lyk asof hulle die hele wêreld wil aandurf. Hy het gewonder hoekom. Later, toe hy en die agent op die punt gestaan het om te ry, het sy ’n oomblik lank die skanse laat sak. Haar gesig was sagter, mooier, skielik weerloos en toe eers het hy die donker kringe onder haar oë gesien. Sy is nie so hardgebak soos sy wil voorgee nie, het hy besluit. Sy is nogal aantreklik en heel interessant as sy jou sou toelaat om haar beter te leer ken. Soos netnou, toe sy hom blykbaar met ’n ander persoon verwar het, en nie verdedigend opgetree het nie. Toe was hy lus om met die astertjie te gesels, uit te vind wat dit is wat haar aan die gang hou.
Maar nou is dit weer stokke en swaarde en vonke.
“Ek wil jou nie pla nie, juffie,” probeer hy olie op die water gooi.
Jennie bly soos ’n besemstok staan en antwoord nie.
“Kan ek dalk net vinnig weer na die huis kyk?” vra hy.
“Ja, maar ek wil ook nie u tyd mors nie,” antwoord Jennie styf en begin aanstap. “Die prys is intussen aansienlik verhoog en die plek is nie meer in die mark nie.”
Roux is geamuseer oor die teenstrydigheid. ’n Nuwe prys, maar nie meer te koop nie …
“Alles reg,” antwoord hy. “Ek sal nie koop nie, net kyk.”
Jennie kyk vinnig op. Sy gesig is ernstig.
“Solank u die feite ken …” sê sy koel.
Hy haal ’n pen en ’n sigaretdosie uit. “Hoër, sê jy?” Sy verstrek ’n bedrag en hy gee voor om sommetjies te maak. “Ook goed. Steeds binne my bereik.”
Jennie is spyt sy het nie ’n nog hoër bedrag genoem nie, sommer baie hoër.
“Ek is baie ryk,” stel Roux haar gerus.
Hierdie keer is Jennie seker dat hy met haar spot. “Wanneer iets nie beskikbaar is nie, kan al die geld in die wêreld dit nie koop nie.”
“Wyse woorde,” stem hy saam. “Dan moet mens belangriker beweegredes as rand en sent gebruik.”
“Soos wat?”
“Soos rentekoerse wat gaan styg en veroorsaak dat die eiendomsmark gaan val. Beweegredes soos kopersbeskikbaarheid, inflasiekoers en hoë instandhoudingskoste.”
Jennie hou haar dom. “Om wat te bereik?”
“Die onbeskikbare.”
Hy is langer en groter as wat Jennie hom onthou. Sy hare lyk nou donkerder en sy skouers breër. Hy staan skielik die hele sitkamer vol. Soos laas, gee Jennie pad en gaan sit met haar werkstuk in die studeerkamer.
Hy stap agterna. “Sal jy die ateljee weer vir my gaan wys?”
“Ek is seker u ken die pad.”
“Skuins oor die noordpool en onderdeur die oerwoud …Woon jy alleen hier?”
Wat het dit met hom te doen? Jennie knik kortaf.
“Dis seker soms eensaam. Maar jy behoort nie wildvreemde mans sonder meer in jou huis te ontvang nie, juffie.”
Jennie se wange vlam. Dink hy sy is ’n los meisie en sy het ’n sedepreek nodig? “Jy is nie ’n vreemdeling nie.”
“Dankie. Tog het jy my tot nou toe baie koel en formeel as ‘u’ en ‘meneer’ aangespreek. Het jy my so vriendelik en gasvry ingenooi omdat jy voel ons twee ken mekaar?”
Stug? dink Jennie. Sy was verkeerd in haar eerste opsomming. Sy wonder of sy haar nie dalk met ander aspekte van hom ook misgis het nie.
Jennie voel ongemaklik. “Die skuifdeur by die stoep is nie gesluit nie. U is welkom om na die gesinskamer te gaan kyk.”
“Die gesinskamer sal ek aan die kinders oorlaat, waar hulle kan lawaai en partytjies hou en televisie kyk. Kyk jy graag televisie?”
Jennie wens hy wil loop. Sy wens hy het nie gekom nie. “Nee. Ek het nie tyd nie.”
“Ek ook nie. Ek klim liewer met ’n mooi boek in die bed. En jy?”
“Nee.” Dit klink nie reg nie. “Ja,” antwoord Jennie en neem haar toevlug tot haar studieboeke, met die hoop hy sal die skimp snap, klaar kyk en verkas.
Roux tel een van haar handleidings op. “Sokrates. Aristoteles. Nie formidabele kompetisie nie, tog lyk dit asof jy meer van hulle hou as van my.”
“Ek het werk om te doen. Ek dag u het gesê u het min tyd en is haastig. Wil u die huis besigtig, meneer Roux?” herinner Jennie hom. Of is dit sy náám? Van Zyl is sy van, onthou sy, te laat. Hoeveel keer het sy hom al verkeerd aangespreek?
Sy een mondhoek trek skeef. “Jy het nie onthou hoe ek lyk of weet nie mooi wie ek is nie. Is jy nie bang ek krap in jou goed, trap op ’n spinnekop of steel jou skilderye nie, juffrou Botha?”
Jennie probeer op Sokrates konsentreer, maar meneer Roux van Zyl het nie die soort persoonlikheid wat geïgnoreer kan word nie.
“Ek het drie kwaai waghonde.”
“Wat my stertswaaiend verwelkom het, teen my opgespring het en meer in die kou-potensiaal van my skoene belanggestel het as in die feit dat ek ’n potensiële dief of moordenaar mag wees.”
Jennie kan nie sê sy vertrou die honde se instinkte nie – naamlik dat hy nie gevaarlik is nie – want sy is self nie seker hoe onskadelik hy is nie. Sy wens Thys was hier, of haar bure of ’n vriendin of ’n familielid. Selfs tant Liesie wat drie dae lank aanmekaar kan huil en wonde oopkrap en haar haar swaar herwonne selfvertroue kan laat verloor, sou welkom gewees het.
Roux merk die skielike weerloosheid in die groen oë, wat vandag donkerder lyk.
“Wat hul nooi se veiligheid betref, is jou vuurvreters nie veel werd nie. Hulle is troeteldiere, nie waghonde nie.”
“Jy is die tweede persoon wat voorstel ek moet van hulle ontslae raak.”
“Nee.” Roux trek vir hom ’n stoel langs haar lessenaar uit. “Ek is nie ’n filosoof nie. Aristoteles sou my in die tronk laat gooi het, maar ek dink daar is ’n makliker oplossing –opvoeding.”
Jennie hou nie van skoolhou nie, en wil nie met hom gesels nie.
“Jy is ’n onderwyseres en jy werk met kinders. Honde is presies dieselfde.”
“Presies eenders, net heeltemal anders,” stem Jennie saam.
Hy lag en lyk jonger, asof hy weer seilskoene en ’n denimlangbroek aanhet en self nog op die skoolbanke sit.
“Die beginsel van opvoeding is dieselfde. Dissiplineer hulle. Leer hulle om waghonde te wees.”
“Hulle is.”
“Ja, uitstekende waghonde, want al wat hulle doen, is om heeldag vir hul kos te wag.”
Jennie wou nie, wil nie, maar kan haar lag nie keer nie.
Hy knik goedkeurend. “Jy lyk beter wanneer jy jouself is; wanneer jy minder soos ’n kwaai juffrou lyk wat almal kantoor toe wil stuur. Wie was die persoon wat voorgestel het jy moet van die bulterriërs ontslae raak?”
“Iemand wat ek ken,” antwoord Jennie vaag. Sy het met Thys baklei, hom beskuldig dat hy gevoelloos en selfsugtig is. Sy het hul troue uitgestel en wou nie aan hom verloof raak nie. Die minste wat sy kan doen, is om lojaal teenoor hom te wees.
“Jou kêrel?” vra Roux. “Hy klink na ’n nare man. Ek sal jou help om die honde af te rig.”
“Dis nie nodig nie, dankie, meneer Van Zyl.”
“Van Zyl … Dis die eerste keer dat jy my so noem. Toe ek ’n kind was, het ek komplekse daaroor gehad, maar dis dalk nie so ’n lelike van soos ek soms gedink het nie. Soms sê jy dis onnodig? Reken jy jou honde is slim genoeg of gaan jy na jou nare kêrel luister en van hulle ontslae raak?”
“Ek weet nie. Hulle weggee miskien, maar nooit verkoop nie.”
“Wanneer ’n mens baie vir ’n besitting betaal het, pas jy dit beter op as wanneer jy dit present gekry het.”
Jennie dink daaroor na. Moontlik is hy reg. ’n Persoon wat ten duurste vir ’n hond betaal het, sal die dier goed versorg en vir hom lief wees. Dieselfde geld vir ’n huis en ’n tuin …
“Miskien moet jy die prys met nog ’n hele paar duisend rand opskuif,” sê Roux. “Dan weet jy ek sal goed na die slange en die spinnekoppe omsien.”
Jennie besef sy is naïef. Sy redeneer soos hy wil hê sy moet redeneer. Sy draai haar kop weg. “Ek het mos gesê die huis is nie meer in die mark nie.”
“Ja, ek weet. Ek het dit so op my sigaretdosie aangeteken. Nie te koop nie: nie vir al die goue ponde in die wêreld nie. Dis ’n mooi plek. Moenie dat jou nare Karel jou dwing om van die huis ontslae te raak nie.”
“Hy is nie naar nie.”
“Dis mooi dat jy hom verdedig. Dit wys jy is lief vir hom. Watse werk doen hy?”
“Hy is ’n argitek.”
“Dis interessant. ’n Baie goeie beroep. Hy sal goed vir jou kan sorg. Maar hoekom hou hy nie van rus en stilte, en ’n kleinhoewe en ’n grasdak nie?”
“Hy is jonk en modern, met sy eie idees. Hy moet naby die stad wees en hy en my pa kon nie klaarkom nie; dus het hy nie aangename assosiasies met hierdie huis nie. Thys hou nie van tuinmaak en diere nie, en hy het ’n erf in Waterkloof waarop hy sy eie huis wil bou.”
Jennie besef sy het te veel gesê. Hy is – soos hy self gesê het – ’n wildvreemde. Al is hy simpatiek, al het hy Thys nie veroordeel nie en al hou die honde van hom, bly Roux van Zyl steeds wat hy is – ’n voornemende koper wat haar waarskynlik bearbei sodat sy die plek vir ’n appel en ’n ei aan hom sal verkwansel. Sy moes nie haar gevoelens teenoor ’n vreemde geopenbaar het en Thys met ’n buitestander bespreek het nie.
Jennie wag vir die kritiek: Waterkloof … Rykmansbuurt … Skuldbult … Martini-rant …
“Daar groei aalwyne en proteas in Waterkloof,” sê Roux. “Jy sal daar ’n beter tuin kan maak as hier.”
Jennie vryf met haar hand oor haar oë. “Rose en angeliere.”
“En inheemse bome. Jy sal weer waterbessies en apiesdoring kan plant. Ek het ook in Waterkloof na huise gaan kyk. Die grond is vrugbaar en die ryp is nie so straf nie.”
“Hoekom gaan bly jy dan nie in Waterkloof nie?”
“Ek sou kon. Die hoër erwe het ’n mooi uitsig. Op ’n helder dag kan jy baie ver sien, maar daar is nie brilwewers nie.”
Jennie kyk agterdogtig na hom. Soms, hier en daar, is hy anders en beter en kan sy selfs met hom kommunikeer. Maar sy wil nie. As dit nie vir die ongeluk was nie, was sy en Thys al verloof; was daar nie rusies en struweling nie; het meneer Van Zyl nie nou in haar studeerkamer gesit, haar ontstig en van koers af gebring nie.
“Mossies,” korrigeer Jennie.
“Vinke. As jy wil, kan jy dié ronde kry. Brilwewers is skaars op die Hoëveld en hierdie jaar het ek hulle nog nie gewaar nie. Is hier bontrugwewers? Rooirugvinke en hoep-hoepe?”
“ ’n Paar.”
“Die hoep-hoepe is te mak, daarom is hulle besig om uit te sterf en nie meer so volop nie. Is hier regtig spinnekoppe, of wou jy my net afskrik?”
Hy is te oplettend na Jennie se sin. “Spinnekoppe is oral,” antwoord sy ligweg. “Maar hulle is banger vir ons as ons vir hulle.”
“Ek sal hulle ook afrig en hulle leer om nie soos hulle nooi weg te vlug wanneer ek naby kom nie.”
“En die slange?”
“Mambas en kobras? Gaan jy my help, juffie, om hulle uit te roei, die klimop af te kap en die luike met blindings te vervang?”
Jennie kyk onseker na hom. Is hy ernstig of spot hy met haar, soos Maandag?
Sy mondhoek kreukel. “Dink jy pienk blindings sal goed by pienk teëls pas, juffie?”
Dalk nie heeltemal ’n gomtor nie, erken Jennie teenoor haarself. Miskien was sy te gou om kwaad te word. Dit is haar eie skuld as hy dink sy is ’n viswyf en vir haar lag. Die situasie is skielik vreemd en sy het tyd nodig om dit te verwerk. Dit is veiliger om voorlopig van die kwessie van die teëls weg te bly en die gesprek in ’n ander rigting te stuur.
“Hou op om my juffie te noem. Ek is nie tien jaar oud nie.”
“Hoe oud is jy?” verneem Roux belangstellend. “Negentien? Dis steeds ’n tiener. Ek is sewe-en-twintig – agt jaar ouer as jy. Op mevrou Deetlefs se dokumente het gestaan: Mejuffrou J. Botha, Posbus 5, Halfweghuis. Wat is jou naam? Joey? Jakkie? Janie?”
“Janine,” antwoord Jennie afsydig en trek die tikmasjien nader. Sy bekyk haar werkstuk, soek die bladsye uit en voer die eerste vel papier in die tikmasjien.
“Janine? Dit pas nie by jou nie, maar dis beter as Jacomina, Jeremina of Josefina. Beter as meneer Le Roux. Het jy nie ’n bynaam nie?”
“Nee.” Jennie begin tik.
“Japsnoet?” hou hy aan raai. “Dit sal nogal by jou pas. Japsnoete het gewoonlik rooi hare wat die hele wêreld vol staan. Ek hou van rooikoppe. Ek het dit op my sigaretdosie geskryf, gou-gou, toe jy nie gekyk het nie.”
Jennie begin tik met die hoop dat die gekletter hom sal irriteer sodat hy haar alleen sal laat.
Dit werk.
Hy kyk op sy horlosie. “Dis laat en jy het werk om te doen. Ek wil jou nie steur nie. Ek sal eerder ’n volgende keer na die gesinskamer kom kyk.’
Dit is ook nie wat Jennie wou gehad het nie. “Wil jy nie nou gou gaan kyk en dit agter die rug kry nie?”
“Huiskoop is belangriker as perdekoop of vrou vat. Mens moenie oorhaastig wees en net vinnig kyk nie. Ek sal liewer môre terugkom.”
Dit is wat Jennie wil vermy. Die man ontstig haar en sy wil hom nie weer sien nie.
“Môre is ek nie hier nie.”
Jennie het gehoop hy stel voor dat sy in daardie geval die sleutels by mevrou Deetlefs laat.
“Goed. Alles reg. Dan kom ek oormôre.”
“E … Ek weet nie.”
Roux lees die konflik op die bleek, hartvormige gesiggie. Vandag is sy beter, maar nog lank nie gesond nie. Môre is dalk te gou; selfs oormôre ook. Hy moet haar tyd gee om van die kringe onder haar mooi, groen oë ontslae te raak en aan hom gewoond te raak.
“Ja, ek weet. Oormôre trou jou oupa of slag die bure ’n vark, en dan wil jy nie lastige kuiermense hê nie. ’n Vrydag is ’n goeie dag. Kan ek Vrydagaand weer na die ateljee kom kyk?”
Jennie huiwer.
“Of kom jou nare kêrel Vrydag kuier? Ek glo nie ek wil hom ontmoet nie. Saterdag? Saterdag is ’n beter dag as Vrydag. Kan ek Saterdag kom, Janine?”
Jennie kan nie vinnig genoeg ’n verskoning uitdink nie.
“Gaaf. Ons maak dit vroeg – sewe-uur Saterdagaand, terwyl dit nog lig is. Nadat ons na die huis en die tuin gekyk het, kan ons dalk gaan eet.” Roux stap deur toe. “Ek is jammer ek het jou gepla en Maandagmiddag kwaad gemaak. Ek sal probeer om Saterdagaand daarvoor te vergoed.”
Kabaal is uitbundig en Trens kan nie genoeg teen hom opspring nie. Roux praat met hulle en met Hans, selfs met een of twee van die katte. Voordat Jennie ’n woord kan inkry, is hy weg met ’n laaste wuif en ’n flikkering van ligte toe hy oor die spruit ry. Jennie waai nie terug nie. Sy stel ’n graspol op en gooi dit so hard as wat sy kan in die rigting waarin die bakkie verdwyn het.
Dan gaan bel sy Thys.
“Meneer Conradie is ongelukkig nie vanmiddag op kantoor nie,” antwoord die ontvangsdame. “Kan ek ’n boodskap neem of hom vra of u terug te skakel?”
“Hallo, Cecile?” sê-vra Jennie.
“Ja.”
“Dis ek – Jennie. Hoe gaan dit?”
“Goed. Jy bel so selde, ek het nie jou stem herken nie.”
Thys skakel elke oggend, soms in die middag ook, voordat hy huis toe gaan. Dalk moet sy ook meer dikwels moeite doen, al is dit net om te sê: “Haai, ek’s lief vir jou,” dink Jennie. Sy skeep Thys af en verwaarloos hom. Geen wonder sy ontvangsdame loop nie oor van vriendelikheid nie. Sy het seker agtergekom haar baas se liefdeslewe is nie wat dit moet wees nie, en miskien haal Thys sy frustrasie op haar uit.
“Weet jy waar hy is, Cecile?” vra Jennie. “Het Thys ’n nommer gelaat waar ek hom kan bel?”
“Slegs in dringende gevalle. Sal ek hom vra om jou terug te skakel indien hy laat vanmiddag terugkom kantoor toe?”
“Nee wat, dankie, Cecile, dis nie dringend nie. Ek sal later weer probeer –” Jennie wil ’n boodskap laat in verband met Vrydagaand – dat Thys liewer Saterdagaand moet kom kuier in plaas van Vrydagaand. Sy ontvangsdame gee haar egter nie kans nie en val Jennie in die rede toe sy begin verduidelik.
“Jammer, hier is pos en ’n ander oproep wat wag. Tot siens.”
Wat het oor háár lewer geloop? wonder Jennie verbaas. Sy en Cecile was eenmaal nogal maats, was selfs twee of drie keer saam teater en fliek toe – saam met Thys. Hy het oor sy harem gespot en gedreig hy gaan van veelwywery aangekla word. Cecile het aangebied om sy advokaat te wees en Jennie het gesê dat sy in die tronk vir hom ’n vleispastei met ’n vyl sal bring. Hulle het almal gelag en grappe gemaak. Hoekom is sy nou skielik so eienaardig? Het Cecile te veel werk? Tandpyn? Self liefdesprobleme?
Jennie soek nog ou briewe en tydskrifte vir die vullissakke uit en tik die eerste drie bladsye van haar taak. Filosowe …dink sy. Is hulle nuttig of klippe in arme, goed bedoelende onderwysers se opdraande pad? Help hulle dat sy eendag ’n kind beter sal kan leer teken? Meer van sy agtergrond en probleme sal verstaan? Hom deur matriek sal kry?
Wat maak sy as Thys nie Saterdagaand sewe-uur hier kan wees nie? Wat maak sy as sy alleen tuis sit wanneer meneer Roux van Zyl opdaag en weer allerhande persoonlike vrae oor haar en haar kêrel vra?
Jennie probeer Kabaal leer om minder te blaf, Trens om meer higiënies te wees, en Skrikkels minder inkennig. Sy gaan bad en sluit die deure, kyk televisie, maak seker dat al die vensters toe is en dat die telefoon werk. Sy doen alles wat nodig en onnodig is. Toe Jennie uiteindelik in die bed klim, is haar gedagtes steeds ’n maalstroom sonder rigting.
Sy sien hom, toegewyd met ’n pen en gehawende sigaretdosie in die hand, besig om noukeurig somme te maak. As sy hom beter geken het, het sy die skewe glimlag om sy mond en die lagliggies in sy oë herken; geweet hy skeer die gek met haar. Hy het eienaardige oë, half blou, half bruin. Hulle was amper grys toe hy gesê het haar drie vuurvreters is nie genoeg beskerming nie, en gevra het wat haar naam is.
Maar dit is Roux van Zyl se hande wat Jennie die beste onthou – smal kunstenaarshande wat nie sal weet waar die voor- of agterkant van ’n hamer en ’n saag is nie. Hy het hande wat kan skep eerder as afbreek; hande wat geskryf het hy hou van rooikoppe …