Читать книгу Ver pad na Königsee - Ettie Bierman - Страница 4
2
Оглавление“So, dit was nou my voortreflike en briljante broer,” merk Carl sarkasties op. “Die een vir wie my ma haar spesiaal mooi gemaak het en ’n duur rok gekoop het. En vir wie jy jou wittebroodrok aangetrek het. Was hy darem al die geskarrel en moeite werd?”
Dubbel en dwars, dink Ezette. Sy is steeds op die verdediging. “As ons volgende Saterdag die liga se kwarteindronde gewen het, sou ek ook die rok aangetrek het. Dis nie my bruidsreisrok nie.”
“Watse ding? Ekskuus, ek is maar net ’n dom LO-onnie, nie ’n taalkundige soos jy of die wonderlike Derek vir wie almal oor hul voete geval het om ’n goeie indruk op te maak nie.”
“Jou ma laat buitendien gereeld elke week haar hare versorg om vir haar Vroueaksie- en VLU-vergaderings mooi te lyk,” paai Ezette. “Nuwe klere is ’n móét in elke vrou se klerekas en dit help nie om jou beste silwerware in kaste weg te pak waar niemand dit kan sien nie. Die ete was nie net ter wille van Derek vertraag nie, maar omdat ek en jy ook laat was.”
“My krieketspan speel Saterdag ’n belangrike wedstryd. Sal my ma net so entoesiasties inwillig om te kom kyk as wat sy haar ander seun se uitnodiging vir ’n vervelige ou lesing aanvaar het?”
Ezette lê haar hand op Carl se arm en gee dit ’n drukkie. “Derek en jou ma aard na mekaar. Sy stel ook in natuurbewaring belang. Onthou, sy werk nie bedags nie en om ’n bietjie uit die huis uit weg te kom, is vir haar lekker.”
“Mits die uitstappie saam met haar gunstelingseun is.”
Ezette besef opeens die rede vir Carl se onvergenoegdheid die hele aand. Derek is al jare lank uit die huis en Carl is aan sy ouers se onverdeelde aandag gewoond. Hy is jaloers oor die ophef wat hulle van hul oudste seun maak. Hy besef waarskynlik dat Derek aantrekliker as hy is, met ’n sterker persoonlikheid. Hy is afgunstig en daarom wil Carl terugslaan, daarom dat hy die hele tyd sy broer gekritiseer en probeer aftakel het.
Hoewel Ezette besef dat Carl kleinlik en onvolwasse is, het sy nogtans simpatie met hom, want sy het ook ’n ouer suster in wie se skaduwee sy grootgeword het. Katinka hou ook skool, sy is met ’n gesiene man getroud, het twee pragtige kinders en daar is ’n moontlikheid dat sy volgende jaar ’n departementshoofpos op Nylstroom kan kry. Katinka is talentvol en bekwaam, maar Ezette ding nie met haar ousus mee nie omdat sy van kleintyd af aanvaar het dat Katinka ouliker as sy is en sy het haar nie daaroor veroordeel nie, wetende die fout lê by haarself, dat sý te kort skiet. Sy het haar mooi en slim sus eerder bewonder en aangemoedig. Maar mans is blykbaar anders. Hulle wil hulself laat geld en beskou ’n suksesvolle broer of suster as ’n bedreiging en teenstander.
“Carl …” raas Ezette liggies. “Jy weet jou ma maak geen onderskeid tussen haar twee seuns nie. Jy behoort bly te wees dat Derek die moeite gedoen het om tydens die seminaar by julle oor te bly in plaas van om in ’n hotel tuis te gaan.”
Carl draai sy kop om sy wang teen Ezette se kouer te lê. “Ek weet, maar hy irriteer my. Vir wat nooi hy jou om langs hom op die bank te kom sit en maak asof dit sý huis is? Bied my glad ’n drankie in my eie huis aan …?”
“Dis sý huis ook,” merk sy redelik op.
Carl is ergerlik. “Dit is g’n sy huis nie. Derek se huis is by sy kind op Königsee, waar in die wêreld dié verlate plek ook al is.”
“Vyftig kilometer wes van Windhoek,” antwoord Ezette en besef dan dat sy nie so vinnig moes gepraat het nie.
Carl kyk tersluiks na haar. “Jy het heel aandagtig geluister.”
“Ek het dit terloops gehoor toe ek gevra het of Windhoek ook so droog is.”
“Terlóóps gehoor?” herhaal Carl. “Jy het aan Derek se lippe gehang en aan tafel kon jy nie jou oë van hom af wegskeur nie.”
Ezette se hart klop in haar keel en sy voel ’n tamheid in haar binneste, ’n begeerte om weg te vlug na waar sy alleen kan wees om te dink. Sy antwoord nie op Carl se beskuldigings nie.
“Derek pla jou nie en hou nie vir jou ’n bedreiging in nie, Carl,” sê sy en probeer kalm bly. “Gun hom die twee weke in die huis waar hy grootgeword het, want daarna is hy weer weg, sien ons hom miskien eers weer oor drie jaar.”
“Wat te gou sal wees.” Carl hou met skreeuende bande voor haar woonstelgebou stil. “Hou nie vir my ’n bedreiging in nie, sê jy? Is jy dan nie vir my belangrik nie?”
“Ek weet nie. Is ek belangrik?” skerm Ezette.
“Natuurlik is jy!” roep Carl kwaad uit. “Jy is immers my nooi en as jou aanstaande verloofde maak ek kapsie daarteen dat jy vir ’n ander man jou flikkers gooi. Genugtig, Ezette, Derek was al getroud toe jy nog doeke gedra het. Hy en Ursula het al ’n kind gehad toe jy self nog op skool was.”
“Vyftien jaar gelede? Reken jy ek het toe nog doeke gedra?”
“Spreekwoordelik bedoel,” verduidelik Carl nadat hy self sommetjies gemaak het. “Die feit bly egter staan, in vergelyking met ons twee is Derek middeljarig.”
“Middeljarig? Moenie verspot wees nie! Alma Kriel is veertig en sy keil jou op die tennisbaan op. Dink jy aan haar as middeljarig?”
“As Derek op ’n kerkraad gedien het, was hy ’n ouderling, nie ’n diaken nie,” hou Carl vol. “Dus help dit niks dat jy so naarstiglik jou flikkers vir hom gooi nie. Hy is te oud vir jou.”
Ezette trek haar asem in. “Ek gooi nie my flikkers vir hom nie. Al rede hoekom ek met jou broer gepraat het, was om gesellig te wees en hom te laat tuis voel.”
“Gesellig?” Carl se stem is so koud soos die Noordpool. “Is dít waaragter jy wegkruip? Ek kan aan meer gepaste woorde dink om jou optrede vanaand teenoor Derek te beskryf. En ek kla nie oor dit wat jy gesê het nie.”
Ezette wil liewer nie verder argumenteer nie. Soos vroeër vanaand in die motor voor sy ouerhuis, het sy min sin daarin om die argument deur te voer en by die einde uit te kom. Haar gemoed is te deurmekaar en sy wil sake eers met haarself uitmaak voordat sy dit teenoor Carl opper.
“Carl, ek is nie nou in die luim vir ’n rusie nie. Mag ek nie eers met ’n ander man praat sonder dat jy deur die dak klim nie?”
“Praat, ja,” beaam hy stroef. “Maar jy het heeltyd aan tafel so gesit dat sy arm aan jou raak. Seker sy knie en meer ook, vir al wat ek weet.”
“Is nie!” ontken Ezette heftig. “Die stoele aan tafel is so gerangskik dat mens nie wyd uitmekaar kán sit nie. Ek kon nie help dat sy arm per ongeluk teen myne geraak het toe hy die vleis aangegee het nie.”
Selfs in haar eie ore klink die verduideliking flou en onoortuigend. “Dit was nie met opset nie. Regtig nie, Carl,” voeg sy by.
“Hoekom doen jy soveel moeite om so vreeslik te verduidelik?” beskuldig Carl haar. “Het jy iets om weg te steek? Het Derek met jou ’n afspraak gemaak?”
“Natuurlik nie! Jy was by en sou mos gehoor het.”
“Daardie kamtige aanbod om na Mattewis te kom kyk, was nie so onskuldig soos Derek probeer voorgee het nie.”
Ezette staar na hom. “Jy ly aan ’n té vrugbare verbeelding, Carl.”
Wat as hy dalk reg is? dink sy. As Derek miskien ook tot haar aangetrokke voel en ’n verskoning gesoek het om te kom kuier? Haar hart mis twee slae en klop opgewonde, so hard dat sy bang is Carl hoor. Sy besluit veiligheidshalwe om liewer oor ander dinge te praat.
“Hoekom het jy gesê Astrid is wanaangepas?”
“Want sy is – sy is neuroties en vol komplekse. ’n Regte probleemkind. Ek is dankbaar sy is nie in my klas nie. Volgens wat Derek vir my ma gesê het, lyk dit asof Astrid dit moontlik nie die einde van die jaar gaan maak nie.”
“Sy is seker baie eensaam en daar is niemand om haar smiddae met haar tuiswerk te help nie.”
“Ja, as haar pa nie agter diere aan rits nie, is dit agter vroumense aan. Sy kind word vir die wind en weer groot.”
“Het hy baie nooiens?” Ezette is trots op haar selfbeheersing wat haar vraag ongeërg laat klink, asof die antwoord nie veel saak maak nie.
“Tiekie ’n bos. Aan vroumense het Derek nog nooit ’n tekort gehad nie. Arme Astrid speel seker gereeld tweede viool.”
“Sal dit nie beter wees as sy by jou ma-hulle kom bly nie?” stel Ezette voor. Terselfdertyd wonder sy of Carl haar probeer afskrik en of hy die waarheid praat oor Derek se sosiale lewe. Sy weet sowaar nie.
“My ouers hét dit voorgestel, maar Astrid weier om van Königsee af weg te gaan. Ek dink sy voel daar nader aan haar ma.”
“Was sy baie erg oor haar ma?”
“Almal was erg oor Ursula. Sy was ’n baie besonderse mens.”
Ezette probeer onthou wat Carl haar in die verlede van sy broer se oorlede vrou vertel het.
“Daarby was sy ook baie mooi, nie waar nie?”
“Beeldskoon. Klein, fyn en blond, met blou oë. En uiters begaaf. Jy het self die kruike in my ma se huis gesien wat sy gemaak het. Dan het sy ook gesing, kitaar gespeel en gekomponeer. Die liedjie ‘Sneeu in September’ wat mens nog soms oor die radio hoor, was haar skepping.”
“Ek onthou. Jy het die plaat vir my gespeel pas nadat ons ontmoet het. Dit was ’n motorongeluk, nè? Waarin sy dood is, bedoel ek.”
“Sy het ’n baie vinnige, kragtige motor gehad wat Derek vir haar gekoop het, want sy was gek oor vinnige motors. Dis in daardie selfde rooi motor wat sy die Saterdagaand verongeluk het. Sy het blykbaar gejaag asof dit ’n renmotor op Kyalami was. Niks het van haar óf van die motor oorgebly nie. Arme Derek was gebroke en ek glo nie hy sal ooit heeltemal oor haar dood kom nie, of ooit weer ’n vrou in haar plek kan stel nie, want hy en Astrid het Ursula verafgod.”
“Wat dan van al die nooiens wat jy sê wat hy het?”
“Hy sal met geeneen van hulle trou nie. Hy wil net plesier van hulle hê. Derek sal nie weer trou nie en Astrid sal in elk geval nie ’n stiefma aanvaar nie.”
Skielik bly daar vir Ezette niks meer om na uit te vra nie. Dit wat van belang was, het Carl alles gesê. Sy soek haar handsak en woonstelsleutels. “Wil jy kom koffie drink?” bied sy aan.
Charl skud sy kop. “Ek wil nie my klere vol hondehare en katspoeg hê nie. Wat gaan ons die einde van die jaar met die spul diere maak, Zet?”
“Die einde van die jaar is nog drie maande ver,” ontwyk Ezette hom. Innerlik is sy diep bekommerd. Sy sal nie van Knersus, Piet en Mattewis kan afskeid neem nie. Willempie kan sy miskien in sy glasbak êrens in ’n hoekie aanhou, maar wat gaan van die ander drie word die dag wanneer sy hulle in die steek laat? Die gedagte laat haar keel toetrek.
“Jy moet solank vir hulle base begin soek,” raai Carl haar aan. “Vra die kinders in jou klasse of laat meneer De Jongh met die opening afkondig dat juffrou Nel twee honde en ’n kat het wat sy wil weggee. Gratis. En dié wat hulle vat, kry in die eksamen vyf bonuspunte.” Carl grinnik, maar toe hy Ezette se gesig sien, is hy skielik somber. “Ek is nie wreed nie, liefste. Dis net dat daar in ’n eenslaapkamerwoonstel nie vir twee mense, vier diere plus ’n magdom plante plek is nie. Ek sal op die sypaadjie moet slaap.”
Ezette probeer dapper bly, maar haar oë is onnatuurlik blink.
“Ek sal ’n plan maak,” belowe sy.
Tot dusver het Ezette weggeskram van enige gesprek oor die toekoms van haar vier beskermlinge. Haar belofte is vir Carl ’n positiewe teken wat hy wil bevestig.
“Wat gaan jy met hulle maak?” dring hy aan.
Ezette gryp haar sleutels en pluk die motordeur oop. “Daar is ’n wye keuse. Ek kan hulle met ’n kombuismes keelaf sny, in ’n sak met bakstene in ’n swembad gooi of hulle in ’n kartondoos in die middel van ’n besige pad sit. Watter metode verkies jy?”
Carl hou haar vas toe sy wil uitklim. “Moet nie op hol raak en oorreageer nie, Diertjie.”
Ezette ruk los. “Moet my nie wéér Diertjie noem nie. Jy is die soort wat in ’n seekosrestaurant uit die tenk sal kies watter vis hulle vir jou moet vang en braai.”
“En jy is meer neuroties as Derek en Astrid saam!” roep Carl vererg uit. “Dis omdat jy nie kinders het nie dat jy so simpel oor diere is.”
“Wanneer ek die dag kinders het, sal hulle van kleins af saam met hordes troeteldiere grootword en ek sal vir die diere net so lief bly soos nou.”
“Die kinders sal kieme optel.”
“Nee, immuun raak teen kieme,” stry Ezette. “Dis die babas wat gepamperlang word, wat nie naby diere mag kom nie, wat vir siektes vatbaar is, wat nie immuniteit opbou nie.”
“Kathare veroorsaak tering. My seun gaan nie eendag saam met Mattewis en sy proesende osteo-iets grootword nie.”
“Osteomiëlitis.”
Carl ken haar van Januarie af. As dit langer was, sou hy geweet het om nie verder sout in Ezette se wonde te vryf nie. Maar sy toekomstige seun se gesondheid is op die spel en hy beskou dit as genoeg regverdiging.
“Daardie osteo-ding is gevaarlik. Derek het gesê dit kan chronies word.”
“Kan jy dalk die woord ‘beenmurgontsteking’ onthou? Of is dit ook vir jou brein ’n lang woord? Dis nie aansteeklik nie. Maar toe maar, lank voordat jou seun die lewenslig aanskou, sal Mattewis seker al verdrink of doodgery wees, as jy soos gewoonlik jou sin kry. Kan ons nie ’n groter woonstel huur nie?”
“En langer wag voordat ons eendag ’n huis kan bekostig?”
“Of ons verlowing ’n rukkie uitstel nie?”
Carl ruk hom op. “Wat van afstel? Dan is almal gelukkiger. Die spul ongediertes en dalk jy en ek ook.”
Ezette stoot die deur oop en klim uit. “Stap jy saam voordeur toe?” vra sy koel.
Toe hy nie gou genoeg reageer nie, stryk Ezette alleen aan na die ingang van Strelitziahof. Sy het verwag Carl sal agternakom. Maar hy is blykbaar nog steeds in ’n omgekrapte bui. Voordat Ezette by die trap kom, hoor sy die sportmotor se enjin brul.
“Ek hoop jy droom van daai dekselse Mattewis!” skree hy. Hy raak nog meer kwyt, maar die dreuning van die enjin doof sy verdere beledigings uit.
“En ek hoop jy droom van Magda Roux!” kap Ezette teë.
In die straat agter haar dreun die sportmotor verby. Carl kyk nie links of regs nie, wuif nie en wag ook nie totdat sy veilig binne-in die gebou is nie. Laaste wat Ezette sien, is twee agterliggies wat om die hoek verdwyn.
Ezette wag nie vir die hyser nie. Sy hardloop die trappe twee-twee op na die eerste verdieping. Toe sy haar sleutel in die slot steek, dink sy: Derek sou nie geëis het dat sy vir haar kat en honde ander base moet soek nie. Hy sou nie gekla het sy klere word vol hare nie en ook nie van die “spul ongediertes” gepraat het nie.
Maar Derek treur oor Ursula, mymer sy. Hy sal nooit oor haar dood kom of ooit ’n ander vrou in haar plek kan stel nie.
Ezette tel haar gemmerkat op en druk haar gesig teen sy wollyf.
“Carl kan op die maan gaan bly, eerder as by ons,” troos sy Mattewis. “Ek sal jou nié na ander mense laat gaan wat jou sal laat uitsit as hulle uitvind jy is siek nie.”
Mattewis antwoord met ’n tevrede prrr. Die basterbulterriër druk sy neus teen haar en flikflooi om aandag.
“Jy ook nie, Knersus,” belowe Ezette. “Ek sal jou nie vir ’n baas weggee wat jou dalk weer met doringdraad in die warm son sonder kos en water aan ’n paal sal vasmaak nie. Ek sal ’n plan bedink, my honne.”
Na hom kom die steekbaard neusskuur. Ezette kon nog nooit besluit watter soort kruising hy is nie. Sy het hom na dokter Pieter van Rooyen vernoem omdat die veearts al een was wat in die begin tot die bloedbesmeerde hond wat sy in die reënwatersloot gevind het, kon deurdring. Aanvanklik het Piet gehap en geknor vir al wat naby kom, en dit het maande se geduld geverg om hom weer ’n mate van vertroue in die menslike ras te gee.
“Maande van toewyding wat vermors sal wees as jy straks weer in ’n sloot land,” sê Ezette. “Ek sal nie so wreed wees nie, Pietman. Jy bly by my, wat ook al in die toekoms gebeur.” Sy glimlag skeefweg, soos Derek Myburgh. “Al moet Carl regtig op die sypaadjie slaap, soos hy gekla het.”
Terwyl Ezette die diere na die park oorkant die straat neem om hul laaste draai te loop, dink sy: Die maklikste en op die oomblik die aanloklikste uitweg is om nie met Carl te trou nie. Om te maak soos hy voorgestel het, naamlik om die verlowing af te stel. As hy net lief vir lees was, al was dit slegs skopskiet-en-hoogspringboeke. Of verstaan het dat sy ’n drang het om te skryf … Selfs al het hulle net van dieselfde soort musiek gehou …
Waarvan het hy haar alles beskuldig? Dat sy haar knie teen Derek s’n gedruk het. Dat Derek met haar ’n afspraak gemaak het, dat sy aan sy lippe gehang het en nie haar oë van hom kon losskeur nie. Hy is nie net onredelik jaloers op sy ouers nie, maar op háár ook.
Sy onthou die uitlatings wat Carl oor die droogte gemaak het, hoe hy ’n grap daarvan gemaak het dat Derek se pasiënte vrek. Hoe hy haar in die motor teen haar sin wou soen en hoe hy haar elke dag meer irriteer.
Terwyl sy vir die honde wag, dink Ezette aan die diamant-ring wat sy gesien en begeer het. In hierdie stadium het sy nie eers lus om weer daarna te gaan kyk óf die ring aan te pas nie. Nie net Magda nie, maar Alma én Susan kan Carl met graagte erf. Sy wonder wat hulle reaksie sou wees as hy so ongeskik was om nie laat in die aand saam te stap voordeur toe nie, maar in die motor bly sit het en beledigings deur die venster geskree het? Hulle sou nie met sulke behandeling gediend gewees het nie!
Die volgende middag is Ezette tot baie laat by die kunswedstryd besig. Drie van haar leerlinge doen mimiek, vyf dra voor en haar standerdagt-spreekkoor neem deel. Na ’n jaar se toegewyde oefening wen hulle net een silwersertifikaat en vier vir verdienslikheid. Nie veel om te wys vir ure se kosbare tyd en opoffering nie! dink Ezette en voel sommer terneergedruk. Sy weet die fout lê by haar. Sy is nie ’n gebore onderwyseres met genoeg entoesiasme en aanvoeling om die kinders af te rig nie.
Eers die volgende Vrydagmiddag is Ezette betyds tuis om haar inkopiesak uit te haal en ’n handdoek onderin die bodem te vou. Mattewis ken uit ervaring die groot geruite sak. Toe hy die reuk kry, gaan kruip hy onder die bank in. Sy nooi voel behoorlik soos ’n skurk toe sy hom met ’n happie biltong uitlok, hom gryp, op die handdoek in die sak sit en die rits toetrek. Ook uit ondervinding, weet sy dis die veiligste metode om ’n kat te vervoer. As sy hom dra, kan hy maklik uit haar arms spring en onder ’n motor beland.
“Toe maar, ons is nou-nou by die veearts,” kalmeer sy hom. “Hou net tien minute uit. Oom Piet gaan jou gou-gou gesond dokter.”
Daar is twee honde voor Mattewis, sien sy toe hulle daar kom. Een met ’n swerende oor en die ander een vir sy jaarlikse inspuiting teen parvo-virus. Ezette het pas met die volgende sieke se eienaar begin kwale uitruil, toe die ontvangdame haar inroep.
“Dokter Myburgh sal u nou spreek, juffrou Nel.”
Ezette het Derek Myburgh al twee dae op haar brein en sy is seker sy het verkeerd gehoor, gehoor wat sy graag wóú hoor, al het sy geweet dis onmoontlik.
“Dokter wie?” vra sy.
“Myburgh.”
Ezette frons onbegrypend. “Waar is dokter Van Rooyen dan, suster?”
“Dokter is in die hospitaal vir ’n mantelvliesoperasie. Hy is vanmiddag opgeneem en dokter Myburgh was so vriendelik om vir hom te kom locum. Net sekere dae, want tussenin woon dokter Myburgh ’n seminaar by Onderstepoort by.”
Ezette onthou Derek het van sy vriend gepraat wat nie gesond is nie en moontlik ’n operasie moet ondergaan. Veeartse is skaars en hierdie was natuurlik ’n goeie geleentheid terwyl Derek beskikbaar was om Pieter uit te help. Sy is oor Pieter van Rooyen bekommerd en kry hom jammer, maar terselfdertyd is sy pure vrou – ontsteld en spyt dat sy sommer ’n ou skoolhourok met sandale aanhet, en hare wat slordig oor haar voorkop hang. As sy vooraf geweet het sy gaan Derek te sien kry, het sy hare gewas en ’n beter rok aangetrek. En darem minstens vars lipstiffie en parfuum aangesit!
Moenie! keer sy haar onstuimige hart. Sy het hom maar eergister ontmoet en hulle het skaars ’n dosyn woorde met mekaar gepraat. Sy moenie oor Derek Myburgh drome droom nie, anders gaan sy seerkry. En Carl gaan daaronder ly.
Die vermanings help nie. Pleks van die spreekkamer se wit mure, sonfiltergordyne en plakkate wat teen hondsdolheid waarsku, sien Ezette ’n sensitiewe, bruingebrande gesig voor haar. Twee goudgevlekte bruin oë, ’n ferm mond en ’n sterk, vierkantige ken met ’n onverwagse kuiltjie in die middel daarvan. Half weerloos. Soos toe hy geglimlag het. Soos toe hy gevra het: “Is jy nou Diertjie?” En sagter met deernis gesê het: “Daar moet mense soos jy wees.”
“Dokter Myburgh wag,” herhaal die ontvangdame.
Ezette sluk droog. “Kom, Tewis …” Sy staan senuweeagtig op en neem die inkopiesak.