Читать книгу Om ’n reënboog te vang - Ettie Bierman - Страница 3

1

Оглавление

Sedert Talien ses maande gelede aftreeoord toe getrek het, het Kylie gewoond geraak aan die kaal vensters, leë motoroprit en die donkerte saans by die meenthuis oorkant hare. Maar toe sy Vrydagmiddag van die skool af tuiskom, staan ’n silwerblink bakkie in die oprit. Sy het ’n sleutel om vir eiendomsagente, skoonmakers of in ’n noodgeval oop te sluit. Maar niemand het gebel of met haar gereël nie.

Sy laai die stapel boeke wat sy moet nasien op die kombuistoonbank af en stap oor die straat.

Die voordeur staan op ’n skrefie oop. Kylie klop, maar toe niemand reageer nie, stoot sy die deur versigtig oop. Nêrens is ’n mens in sig nie, net ’n leer, ’n troffel en ’n sak sement in die hoek van die sitkamer. Dan raak sy skielik bewus van stortwater wat loop.

“Hallo …?” roep sy. “Is hier iemand?”

Toe niemand antwoord nie, loop sy huiwerig deur die woonvertrek. Inbrekers sal tog seker nie die vermetelheid hê om helder oordag oop en bloot te kom stort nie, of hoe? En hier is in elk geval niks om te steel nie. Die meenthuis staan dolleeg.

Die stortwater raak stil. Waarskynlik is dit bouers wat kom verf en ’n paar krake toesmeer, en het Talien oudergewoonte vergeet om haar te sê.

Kylie bly onseker staan, maar voor sy kan omdraai, verskyn iemand onverwags in die badkamerdeur – poedelkaal, met sy of haar rug gedraai, besig om langerige blonde hare met een hand in die nek vas te vat en uit te droog. Die hare wat tot amper op die skouers hang, het haar ’n oomblik geflous en gerusgestel totdat Kylie die breë skouers en gespierde rug met ’n getatoeëerde arend raaksien. Indien sy nog enigsins getwyfel het, word dit uit die weg geruim deur twee sterk bene en bultende kuite.

Dit is nie ’n sy nie, baie beslis ’n baie manlike hý, met ’n netjiese buiteluglyf.

Terwyl Kylie nog besig is om onthuts na sy anatomie te staar, draai die man skielik om. Sy vooraansig is nog meer indrukwekkend: die harige borskas en plat blokkiesmaag, gevolg deur die res van die bewyse ’n entjie laer af …

Kylie se wange word tamatierooi. Haar asem steek in haar keel vas en sy druk albei hande teen haar mond. Hy lyk net so geskok soos sy. Sy mond gaan oop sonder dat hy ’n geluid uitkry. Maar hy het darem die teenwoordigheid van gees om van sy druppende nat hare te vergeet en die handdoek om sy onderlyf te draai. Hoewel dit nie heeltemal alles toemaak nie, bedek dit darem die allernodigste.

Kylie sien nou eers sy gelaatstrekke raak. Sjerriekleurige oë, reguit neus en ’n breë, sensuele mond wat lyk of dit maklik lag en nogal lekker sal soen …

Sy skrik vir die gedagte, knyp haar oë toe en stuit haar verraderlike verbeelding.

“Hallo. En wie’s jy?” vra hy in ’n stem wat soos louwarm heuning oor haar drup.

Sy vlieg om en vlug blindelings by die voordeur uit.

Eers oorkant die straat in die veiligheid van haar eie huis kom sy tot verhaal en verwens sy haarself. Genade, sy’s agt-en-twintig – op pad na dertig – lankal nie meer ’n verspotte tiener nie. Hoekom het sy haar soos een gedra? Sy is nie ’n naïewe, vlekkelose maagd nie. Vanselfsprekend nie. Sy was immers getroud. Vier jaar lank.

En haar man het nie inhibisies gehad nie. Rynard het nie aan pajamas geglo nie, nie eens in die middel van ’n ysige Gautengse winter nie. In plaas van ’n ekstra kombers of dikker duvet het hy nader aan haar genestel, haar stywer teen hom vasgetrek en lepel gelê. Sy was gewoond aan sy kaal manslyf agter teen haar rug. Dit was lekker. Dít het haar nie laat weghardloop nie.

Hy het voor haar uit- en aangetrek, soos alle getroude pare seker doen. Hulle het saam gestort, gebad en gesauna. Die stortstorie netnou is die minste. Niks om oor kop te verloor en die pad te vat soos netnou nie. Sy kon mos maar net weggedraai of taktvol anderpad gekyk het, gemaak het of niks gebeur het nie terwyl hy die handdoek om hom gedraai het. Nou weet sy steeds nie wie hy is en wat hy in Talien se stort gesoek het nie.

Hoekom het sy oorreageer? vra Kylie haar af. Sy ken die antwoord: Omdat sy nie meer aan ’n man gewoond is nie. Die konfrontasie was uit die bloute en het haar onkant betrap.

Dís wat haar laat uithaak het.

Sy het haar destyds voorgeneem sy’s klaar met mans. Sy is immers gelukkiger op haar eentjie en kan sonder dié spesie klaarkom. Sy’s nie ’n hulpelose jellievis wat nie ’n spyker kan inkap of ’n gloeilamp vervang nie. Sy’s ’n selfstandige metrovrou wat op haar eie voete staan – ’n voorneme wat by haar nuwe enkellopende status gepas het en waarmee sy volhard het. Al het haar vriendinne en kollegas by die skool gespot sy’s ’n feministiese mannehater, het Kylie volgehou dat oorheersende, dominerende mansmense so welkom is soos ’n wurm op haar blaarslaai.

Al is sy soms eensaam, was sy tevrede met die selibate nis waarin sy haar tuisgemaak het. Tevrede, selfgenoegsaam en vervuld. Tot netnou toe … Tot sy daar op die stort se drumpel gekonfronteer is deur ’n blinknat, nakende manslyf en opeens besef het sy is nie so immuun en selfgenoegsaam soos sy haar wysgemaak het nie. Sy mis wat sy so adamant afgesweer het. Sy het onderdrukte begeertes en oerdrange in die diepste van haar vrouwees voel roer en agtergekom daar is ’n leemte – ’n knaende verlange – in haar selfopgelegde nis.

Sy en Rynard is al meer as ’n jaar geskei. Dis lank … Te lank om vrou-alleen te wees en haar lewe te vul met ’n goudvis, ’n potplant en ander mense se kinders. Naweke wasgoed te was, TV te kyk en in die bed te klim met ’n boek – tussen die bladsye van ’n romantiese hygie te soek na die werklikheid tussen die lakens wat sy prysgegee het.

En om dan skielik uit die bloute ’n goedbedeelde, sexy man reg voor haar te sien staan! ’n Dawid-beeld in lewende lywe, so naby sy kon haar hand uitsteek en aan hom raak, met haar vingers oor sy gespierde borskas en blokkiesmaag streel. Twee treë nader beweeg in sy sterk arms in en sy naakte manlikheid teen haar vrouelyf ervaar …

Daar gaan jy al weer, raas sy met haarself. As jy dan so desperaat is vir ’n bietjie seks, bel vir Rynard. Hy is altyd in die luim en sal maar te bly wees om jou tegemoet te kom. Dis te sê as hy nie lankal ’n plaasvervanger aangeskaf het nie.

Die idee ontstel Kylie. Sy pluk kasdeure oop, plak ’n beker op die kombuistoonbank neer en brou vir haar koffie: sterk en sonder melk om haar krag te gee, bitter en sonder suiker om haar te straf oor haar onsinnige verbeeldingsvlugte.

Sy drink dit staan-staan en begin verwoed kosmaak: sy skil pampoen en aartappels en druk ’n stuk oorskiethoender in die mikrogolf. Dis beter om besig te bly, om dekselse Rynard Wiegers en daardie kaal casanova oorkant die straat in ’n kompartement agter in haar brein toe te sluit en die sleutel weg te gooi. Gelukkig wys daar na ete ’n lekker chick-fliek op die TV wat haar sal opbeur. Netnou, oor tien minute of so, wanneer sy deur die gordyne loer en dit donker is daar oorkant en die silwer bakkie weg is saam met sy baas, kan sy van die ontmoeting vergeet.

Kylie het pas water by die gebrande pampoen gegooi, toe ’n klop aan haar voordeur klink. Sy bly staan met haar hande om die kastroldeksel geklem. As dit Rynard is, wat altyd op een of ander gladde manier by die sekuriteithek verbykom, het sy nie lus vir rusies en verwyte nie. En as dit die stortman van oorkant is, gaan sy nie oopmaak nie.

Die geklop word herhaal, harder en dringend.

Sy stap traag deur toe.

Uit al die moontlikhede is dit die een waarvoor sy die bangste was: die sexy stortman wat haar kosyn vol staan.

Hierdie keer het hy klere aan. Nie dat dit veel baat nie … Kylie is intens bewus van wat onder die geruite hemp en styf passende jeans is. Sy blonde hare is droog en krul oor sy hemp se kraag in sy nek. En om die sensuele mond, wat lyk of dit maklik lag en gemaak is om te soen, speel ’n effense glimlag wat haar van vooraf ontstig. In selfverweer maak sy die deur nie wyd oop as ’n teken dat hy kan inkom nie.

“Ja?” vra sy, trots dat haar stem saaklik en onpersoonlik klink.

“Goeiemiddag.” Hy lag skeefweg, anders as wat Kylie verwag het – geen sweem van warm heuning of gesmelte sjokolade nie, eerder verleë en ongemaklik. “Ek verdien dit seker. Ek bedoel dat jy kortaf en vies sal wees, en dis my eie skuld. Ek vra om verskoning. ’n Ou stort nie sommerso onaangekondig in vreemde badkamers en sonder die bure se medewete nie.”

“Korrek,” stem Kylie saam, maar voel hoe sy teen haar sin ontdooi. Hy’t goeie maniere, en daar is seker ’n rede vir sy eiegeregtigheid.

“Justin Marais,” stel hy hom voor en steek sy hand uit.

Kylie wil nie, maar dis asof ’n magneet haar trek en sy nie anders kan as om haar hand in syne te plaas nie. “Kylie Wiegers,” antwoord sy.

Sy hand is hard en stewig soos sy verwag het. Hy hou hare ’n tikkie langer vas as wat nodig is. “Al was die volgorde verkeerdom, is dit nou darem reggestel en is ek nie meer ’n vreemdeling nie. Aangename kennis, Kylie Wiegers. Dis nou wel oorkant die straat pleks van langsaan, maar ek is jou nuwe buurman.”

Kylie is ’n tweede keer op die verkeerde voet betrap. “Buurman?” herhaal sy fronsend en maak haar hand los.

“Ek het tant Lien Grové se meenthuis gekoop.”

Sy is verdedigend. “Ek weet die huis is in die mark, maar Talien het my niks daarvan gesê dat die plek verkoop is nie.”

Hy haal sy skouers verskonend op. “Moenie haar kwalik neem nie. Sy’s ’n dierbare siel, maar nie meer jonk nie. Sy kan in die fynste detail vir my vertel van die goeie ou dae en elke kleinkind se rugby- en skoolprestasies, maar sukkel met haar korttermyngeheue. Die helfte van die tyd onthou sy nie wat die dag of datum is nie. Die koopkontrak is verlede Maandag onderteken en ons wag nou vir registrasie by die aktekantoor. Bloot ’n formaliteit. Intussen wil ek solank al die ligte vervang, die kombuis laat uitverf en nuwe kaste inbou. Ek en my span sal noodgedwonge ’n hamerboor moet gebruik, maar ons belowe om so saggies moontlik te werk.”

“Ek is meesal heeldag uit, dus sal dit my nie pla nie.”

“Wat werk jy?”

“Ek hou skool.”

’n Prim en proper skooljuffie … Waarskynlik vir die graadeentjies. Vir Justin verklaar dit alles waaroor hy gewonder het: die Victoriaanse kuisheid en die feit dat sy soos ’n vlakhaas laat spaander het toe hy net sy adamspak aangehad het.

“Laerskool?” sê-vra hy.

“Wiskunde, graad agt tot twaalf.”

Hy lyk beïndruk. “Hoërskool-wiskunde? Slim meisie. Ek’s ’n analfabeet wat syfers betref. Gee my praktiese goed: bakstene en sement en ’n troffel.”

’n Nuttige buurman om te hê, dink Kylie, vir wanneer daar eendag ingewikkelder probleme opduik as ’n spyker inkap of ’n gloeilamp vervang. Maar later eendag. Báie later … Eers nadat sy die herinnering aan daardie glimmende Apollo-lyf en die skraps stukkie handdoek agter in ’n kompartement in haar brein toegesluit het.

Op die oomblik is die prentjie nog te diep in haar geheue gegraveer en laat dit haar weerloos. ’n Feministiese mannehater is veronderstel om immuun te wees teen die aanslag van ’n plat, gespierde sitvlak, ’n harige borskas en bultende bobene. Kylie is beginselvas en wêreldwys. Afgesien van Rynard Wiegers destyds toe sy lugwaardin was, kon geen man haar tot dusver laat vermurwe en toegee nie sodat sy onvoorbereid is op die vreemde woelinge wat Justin Marais in haar wakker maak.

“Ek’s ’n boukontrakteur.”

Sy kyk na daardie voorspelerskouers en fris arms en wonder hoe dit sal voel as hy haar styf teen hom sou vashou, soen en vrypostige voorstelle maak waarvoor sy waarskynlik sal swig.

“Die meenthuis is groot met volop potensiaal, maar verwaarloos. Ek wil dit opknap: ’n ekstra badkamer, patio en dalk ’n swembad aanbou en oor ’n jaar of drie verkoop wanneer die huismark verbeter het.”

Haar gedagtes is elders en sy hoor net hier en daar ’n woord. “Ek sien …”

Kylie Wiegers sien skielik baie dinge.

Justin wens sy kon ook sien hy wil graag langer kuier. Die swartkop met die mooi bene is ’n pragtige dingetjie, die soort suikerdonsie wat ’n man wil troetel en bederf. Maar sy is lugtig. Wantrouig. Tog wel geïnteresseerd; dit kon hy agterkom uit die manier wat sy takserend na hom gekyk het. Asof sy hom weeg. Met ’n donsie soos dié moet ’n man klein treetjies gee. Hulle het sleg weggespring. Oorhaastigheid sal haar opnuut laat spore maak en dan verloor hy haar voor hulle na ’n volgende rondte kan vorder. ’n Meer ervare popsie sou die stort-episode afgelag het, en dalk selfs by hom aangesluit het. Hy sou natuurlik nie nee gesê het nie. Maar dan was dit te maklik, te gou verby en ’n antiklimaks. Hy verkies die wedloop met al die opbou en opwinding van ’n uitdaging bo iets wat blatant op ’n skinkbord vir hom aangebied word.

’n Ongemaklike stilte volg en Justin soek ’n nuwe aanknopingspunt om by fase twee uit te kom. Hy snuif waarderend in die rigting van die kombuis. “Regte egte boerekos … Ai, dit laat my na my ma en my kinderjare verlang, na die goeie ou dae. Deesdae leef ek van slaptjips en pizzas.”

“Het jou ma die pampoen ook altyd laat brand?”

Hy knik ernstig. “Gereeld, ja, en die patats ook. Dis die suiker wat mens bygooi wat maklik aanbrand. Ek’s so gewoond aan die smaak, pampoen wat nié gebrand het nie proe vir my snaaks.”

Lag borrel in haar keel. Justin probeer só hard dat ’n mens nie anders kan as om te vermurwe nie. ’n Ou wat oor sy ma se pampoen en patats gesels, kan nie bybedoelings hê nie, of hoe? En hy ís immers haar toekomstige buurman …

Kylie staan ’n tree terug. “Wil jy nie inkom nie?”

Anders as wat sy verwag het, neem hy die uitnodiging nie dadelik aan nie. “Ek wil nie pla nie. Jy’s seker besig?”

“’n Paar minute sal nie saak maak nie.”

Hy kom in, net tot in die sitkamerdeur.

“Sit gerus. Koffie of tee?”

“Enigiets, net wat die maklikste is.”

Daar’s nog van die giftige sterk koffie oor wat sy netnou in die perkoleerder gebrou het en, as sy kookmelk bygooi, genoeg vir twee bekers. Kylie haal nie koekies of beskuit uit nie.

Justin het intussen in die swart uitskopleerstoel voor die TV plaasgeneem. Rynard se stoel … ’n Oomblik lank verstar Kylie en moet sy hard sluk aan die knop in haar keel, dan verwens sy haarself. Wat bereik sy deur sentimenteel aan die verlede vas te klou? ’n Stoel is ’n dooie, siellose voorwerp. Ander mans het tog ook al in daardie stoel gesit. Dit lyk trouens of Justin Marais ’n aangename, ordentlike ou kan wees. Anders as kaptein Rynard Wiegers met sy leuens en skynheilige toesmeerdery.

Haar buurman staan hoflik op om die skinkbord by haar te neem. Hy moes haar huiwering gesien het of miskien ’n oomblik van seerkry in haar oë, maar respekteer haar privaatheid en vra nie uit nie.

“Heng! Regte egte moerkoffie ook? Baie spesiaal en baie welkom,” maak hy praatjies. “Beter as ’n blikkie louwarm Coke wat heeldag in die bakkie gelê het.”

“Wanneer trek jy in?”

“Ek en my span werk so tussendeur wanneer daar ’n tydjie vry is. Daar’s ander bouprojekte met ’n spertyd wat eers moet klaarkom. Daarna kan ek met die aanbou en verbeterings begin – hopelik oor so twee maande.”

Kylie wil nie oorvriendelik wees of haar neus in sy sake steek nie. Sy drink haar koffie in stilte. Maar Rynard en die swart uitskopstoel bly by haar spook. Prentjies van hom met sy lang bene voor hom uitgestrek aan die koerant lees of musiek luister: Steve Hofmeyr en Romanz, Pavarotti, Beethoven of Vangelis. Hy het uiteenlopende smaak en is ingelig en belese. Berése ook, en dis waar die moeilikheid begin het: tydens ’n oornagstop in Rome. ’n Vooraf beplande sameloop van omstandighede, het hy dit genoem. ’n Misverstand. Sy het dit as ’n misstáp gesien, verraad wat sy nie kon of wou vergewe nie. Hoe meer hy probeer verduidelik het, hoe minder het sy hom geglo en volgehou dis alles leuens. Sy affairs tydens oorsese vlugte gaan natuurlik al jare aan, nou probeer hy toesmeer nadat hy betrap is.

Kaptein Rynard Wiegers haal tien uit tien op die voorkomsskaal, dít moes sy toegee selfs terwyl sy lus was om hom op ’n treinspoor vas te bind. Hy is destyds as fotomodel gebruik in Jakaranda-lugdiens se promosieveldtog: Manlik en sportief, stralend asof vir ’n Nivea-advertensie, met die vier goue rangstrepe van ’n internasionale bevelvoerder op sy moue en sy donkerpers pet so effe skeef oor die een oog getrek. ’n Toonbeeld van die tradisioneel onweerstaanbare, romantiese vlieënier wat jou na veraf, eksotiese bestemmings wegvoer …

Geen wonder van die ander lugwaardinne en vrouepassasiers het vir hom flikkers gegooi nie, al was hy ’n getroude man. Kylie het dit geweet en was gevlei dat hy háár gekies het bo al die ander gesofistikeerde meisies wat gelyk het of hulle uit die glansbladsye van ’n modetydskrif gestap het. In die begin was sy geamuseerd, al het sy teen die groen monster van jaloesie gestry wat kort-kort sy kop gelig het. Sy het haar wysgemaak sy vertrou hom en is nie besitlik nie en daarom was die feit dat haar man in ’n oorsese hotelkamer met ’n ander meisie in sy bed betrap is, ’n hewige skok – te veel om te aanvaar. Boonop nogal met een van die ander waardinne en haar beste vriendin … Dít was die laaste strooi.

Rynard is van nature redelik en inskiklik. Maar nie die geduldigste man op aarde nie. Hulle het bittere rusies gehad. Maande lank. Tot hy op ’n dag haar duur Murano-glasbak in skerwe teen die muur gesmyt het en in radeloosheid uitgeroep het: “Nou gooi ek tou op. Ek het mooigepraat en jou verseker jy’s al vrou in my lewe en sal dit altyd wees. Maar as jy weier om my weergawe te glo, bly daar niks meer oor wat ek kan doen nie. Behalwe my tasse pak en padgee!”

“Ja, gee pad. Loop, jy en jou spul goedkoop Delilas voor die pad vol duwweltjies raak,” het sy kinderagtig uitgeroep, sy klere uit die kas gehaal en in ’n bondel op die bed gegooi. “Los my en vlieg in jou peetjie in.”

En hy het. Hy het sy ontoegeeflike viswyf van ’n vrou gelos. In ’n hotel ingetrek en die volgende dag op ’n vlug vertrek, steeds op die Europese roete.

Netnou toe haar nuwe buurman sê hy leef van wegneemkos en sy begin wonder het of hy dan nie ’n vrou het wat vir hom sorg nie, het dit Rynard se beeld onwillekeurig opgeroep. Sover sy weet, woon hy alleen. Sy wonder wat hy eet en drink en wie sy wasgoed versorg. Nadat sy die meenthuis gehuur het, het hy teruggetrek na die groot huis in Benoni, maar sonder Jo-Anne Ackerman, wat ná afloop van die debakel in Rome by die lugdiens bedank het en landuit is om vir ’n ander redery te werk. Woon hy alleen of saam met ’n nuwe meisie? Ook weer ’n waardin saam met wie hy by dieselfde oorsese hotel gebly het?

Die toneeltjie van Justin Marais in die swart uitskopstoel krap herinneringe oop wat sy diep weggesluit het. Haar gedagtes het ver draaie geloop en toe sy haar leë beker op die koffietafel neersit, betrap sy Justin dat hy met ’n vreemde uitdrukking na haar kyk. ’n Blik wat sy nie kan peil nie. Takserend? Geïnteresseerd? ’n Man-vrou-kyk …? Sy weet nie. Hul oë ontmoet vir ’n oomblik wat soos ’n ewigheid voel.

Dis Kylie wat eerste tot besinning kom, haar blik laat sak en anderpad kyk.

Flippen tweegesig-Rynard se skuld dat sy so onseker en sonder selfvertroue is. Sy is opnuut kwaad en die ene verwyte. Hy is al ’n jaar weg en sy’s steeds ontuis wanneer ’n man toenadering soek, veral in haar eie sitkamer. Veral een wat sy pas sonder ’n draad klere gesien het, en wat op só ’n manier na haar kyk. Sy weet nie hoe om dit te hanteer nie. Haar dom hou en voorgee sy het niks agtergekom nie? Dis neutraal en die veiligste. ’n Meisie wat eenmaal uit die bus geval het, klim nie ’n tweede keer ewe goedvertrouend in en stel haar bloot aan nuwe seerkry en ontnugtering nie.

Justin kyk met groot oë na haar. “Ek hoop nie dis ek nie?”

“Wát?”

“Die persoon wat jy wil verwurg en in ’n ou, uitgewerkte mynskag gooi.”

Dit klink moordlustig. Kylie het nie gedink haar gedagtes staan so duidelik op haar voorkop geskryf nie. Sy verduidelik nie, skud net haar kop. “Nee, nie jy nie.”

“Dankie tog, wat ’n verligting.” Justin blaas sy asem uit en vee kamma sweet van sy voorkop af. Hy sit sy leë beker styf teen hare op die koffietafel neer asof hy skimp.

“Ek het vanmiddag krake in ’n muur toegemessel en ’n stuk plafon wat uitgesak het, vervang. Ek was warm en stowwerig en lus vir ’n koue stort. Maar ek moes seker die deur toegemaak het. Askies, meisiekind, dat my adamspak jou die skrik op die lyf gejaag het.”

Dis nog te vars dat Kylie daaroor kan spot. Sy onthou te veel detail en die uitwerking daarvan op haar lendene – ’n reaksie waaroor sy haar skaam. Maar dis goed dat Justin dit tog noem, eerder as om die insident dood te swyg sodat dit altyd soos ’n berg tussen hulle sal lê.

“Toe maar, dis niks.” Sy probeer koel en nonchalant klink. Deur die sitkamervenster sien sy ’n vliegtuig wat pas van O.R.Tambo-lughawe opgestyg het. Sy hou die Airbus met aandagtige konsentrasie oor Kempton Park se buitewyke dop en gebruik dit as ’n verskoning om nie na Justin se kant toe te kyk nie. Dis ’n groot A340 aan die klim na bakboordkant – waarskynlik op ’n oorsese vlug. Die pers stert van Jakaranda-lugdiens is duidelik sigbaar en haar hart krimp inmekaar.

Dit kon sý gewees het op daardie vlug, haar vertrekaankondiging pas gedoen en besig met die bediening van drankies en southappies. As junior waardin was sy nog op binnelandse roetes, maar dit was van kleins af haar droom om oorsee te vlieg. Europa, die VSA, Asië, die Midde-Ooste en Australasië … Dis immers waarom sy lugwaardin geword het: om die wêreld te sien.

Maar Rynard het daardie droom kortgeknip. Die werkomgewing van Jakaranda-lugdiens was skielik te klein vir beide haar en hom. Sy wou hom nie by die werk raakloop en oor sy vlugte, sy doen en sy late wonder nie. Dan liewer by die lugdiens bedank, teruggaan onderwys toe en blyplek kry ver van Benoni af waar Rynard weer in hul luukse dubbelverdiepinghuis met die swembad ingetrek het.

Seker saam met een van sy minnaresse.

Dit herinner haar aan Justin wat blykbaar ook nie ’n sorgsame vrou het nie. Sy onthou die arme ou het ekskuus gevra vir die voorval in die stort asof dit sy skuld was.

“Nee, dis ek wat sonder meer op jou eiendom oortree het,” erken sy.

“Die water het geraas, ek sou nie gehoor het nie al het jy met ’n koevoet aan die deur gehamer.”

Sy skud haar kop. “Jy sou gehoor het en dan kon ons die verleentheid voorkom het.”

Sy een wenkbrou lig vraend. “Voorkom het? Hoe?”

“Jy sou beter voorbereid gewees het.”

’n Beduidenis van ’n glimlag trek aan sy mondhoek. “Deur wat te doen?”

Is hy stadig van begrip, of moedswillig?

“Deur ’n groter handdoek te gebruik,” antwoord sy kortaf.

Die skewe glimlag verbreed. “Of dalk juis ’n kleiner enetjie?”

Kylie laat haar nie uitlok nie. “Die flentertjie wat jy gebruik het, is g’n ’n handdoek nie, eerder ’n miniwaslap.”

Justin geniet haar blosende wange. Besef die meisiekind hoe onweerstaanbaar sy is? ’n Man sal sukkel om sy hande tuis te hou. Tant Lien se meenthuis was ’n winskoop selfs sonder die buurvrou. Die swartkop met die avokadogroen oë is ’n onverwagte bonus wat hy graag wil ontgin.

“Maar die lappie het darem die job gedoen. Of nie?”

Die onderwerp raak holrug gery. Hy is voorbarig, besluit sy nou, en Kylie vervies haar. Maar dan merk sy die glinstering in sy geelbruin oë. Hy terg haar. In hierdie stadium het sy egter nie ’n sin vir humor nie. Sy raak in ’n hoek gekeer en dit laat haar voel of sy besig is om dié rondte te verloor. “Ek het stapels nasienwerk, ek kan nie die hele middag hier sit en ginnegaap en nonsens praat nie.”

“As jy nie van verbrande pampoen hou nie, sal ek jou uitneem vir ete,” bied hy aan.

“Nee dankie, daar’s genoeg ander kos om te eet.”

“En ek?” vra hy afgehaal. “Moet ek maar vir die vierde agtereenvolgende aand ’n pizza eet? Hulle kom al by my ore uit.”

“Probeer slaptjips as afwisseling,” gee Kylie onsimpatiek aan die hand. “Of kyk na MasterChef op die TV sodat jy kan leer om kos te maak.”

Hy trek ’n gesig. “Dis nie regte kos wat hulle maak nie, net prentjies. Hulle praat van ingewikkelde soufflés en uitheemse disse, en ek kan skaars ’n eier kook.”

“Leer, buurman, leer … dis die beste geweer.”

“Of beter: kry ’n nooi wat kan kook?”

’n Openlike skimp wat Kylie tot haar eie verbasing nie onmiddellik afskiet nie. Gister nog sou sy haar opgeruk het … Is sy besig om te vermurwe? Sy hou nie van die idee en ook nie van die woord “nooi” nie. Ten beste wil sy op platoniese voet wees met haar buurman, dis al. Niks meer as kennisse nie, wat af en toe oor die straat vir mekaar wuif of groet.

Haar stem daal ’n paar grade. “Gelukkig kwalifiseer ek nie. Ek laat die kos gedurig aanbrand en vergeet gereeld om sout by te gooi.”

“Daar’s soutpotte.”

“Rou sout is ongesond.”

Hy gooi sy hande in die lug. “Is jy altyd so ’n turksvybos, Kylie Wiegers?”

Sy knik. “Altyd, ja, en soms selfs erger.”

“Hoekom?”

“Dis ’n lang storie …” skerm sy.

Hy sit terug in sy stoel. “Ek het baie tyd om te luister.”

“Ek nie,” antwoord sy ferm. “Soos ek gesê het, het ek vragte werk om te doen en nie tyd vir lang stories nie.”

So maklik gee Justin nie moed op nie, nie as ’n vroumens lyk soos dié enetjie nie. Sy is hardekwas en die uitdaging om haar mak te maak is aanloklik. Evatjies wat voorgee om ysprinsesse te wees, is gewoonlik kookwater wanneer jy hulle die dag behoorlik in jou arms vasvat.

Kylie leun vorentoe en voel met haar hand aan sy beker. “Dis koud.”

Justin hou hom slim. “Dis ’n wetenskaplike feit dat ’n leë houer afkoel indien die warm inhoud daaruit verwyder is.”

“En ’n sosiale feit dat ’n koue koffiebeker beteken dis tyd vir die betrokkene om hom te verwyder indien hy nie met ’n besem by die agterdeur uitgevee wil word nie,” troef sy hom, darem met ietwat van ’n glimlag. Alles deel van die stryd wat in haar woel en woed, en die rede waarom sy ter wille van haar gemoedsrus die veilige breedte van ’n straat en twee sypaadjies tussen haar en haar buurman wil handhaaf.

Is dit hensop om te erken sy geniet mansgeselskap as afwisseling? Verraad teenoor haar goeie voornemens om te erken sy vind Justin Marais smeulend sensueel? Daarom dat sy hom letterlik wegjaag: sy vertrou haarself glad nie.

“Oukei, jou rondte. Net dié een keer.” Justin staan traag op en kies koers deur toe. “Sien ek jou Maandag wanneer ek die nuwe ligte begin koppel?”

Kylie skud haar kop. “Maandagmiddae het die graadagts kooroefening en dan kom ek eers laat tuis.” Sy maak die voordeur oop.

Justin loop oor die stukkie stoep. In die tuinpaadjie steek hy vas, kyk om en blaas vir haar ’n soentjie. “Sien jou dan Dinsdag … en dankie vir die koffie.”

Kylie hoor nie. In die straat voor haar huis het ’n plat swart Porsche Cayman stilgehou. Sy ken net een mens met so ’n gevaarte van ’n ryding wat soos ’n vlieënde piering lyk. En sy gesig lyk soos ’n Hoëveldse donderstorm terwyl hy uit die motor klim. Kylie reageer instinktief: maak ’n ommeswaai van honderd-en-tagtig grade, druk die voordeur toe en draai die sleutel in die slot.

Om ’n reënboog te vang

Подняться наверх