Читать книгу Om ’n reënboog te vang - Ettie Bierman - Страница 4

2

Оглавление

Dis die tweede keer in een middag dat Kylie wil wegkruip waar niemand haar sal kry nie. Gesprekke tussen haar en haar eks eindig nooit met maanskyn en vioolmusiek nie. Sy wil nie met Rynard praat nie, nie eens oor ’n foon nie. Nie per e-pos of SMS nie, wat nog te sê in lewende lywe in haar sitkamer.

Sy bly gespanne met haar rug teen die deur staan, maar deur ’n syvenster sien sy dat Justin en Rynard mekaar op die sypaadjie ontmoet. Haar buurman lyk heeltemal joviaal, maar Rynard kom omgeploeg voor. Oënskynlik antwoord hy in monolettergrepe en ignoreer hy die hand wat Justin uitsteek om homself voor te stel.

In plaas van groet, draai Rynard om en stryk met lang hale die tuinpaadjie op.

Die harde geklop reg tussen haar skouerblaaie laat Kylie skrik, en sy voel die deurknop ratel. Sy’s dankbaar vir die stewige houtdeur tussen hulle. Rynard sal ’n marmerstandbeeld kan verlei. Al die waardinne was mal oor hom. Jo-Anne inkluis. Hy het magiese aantrekkingskrag wat met jou brein en hormone toor sodat jy dink hy’s die wonderlikste man op aarde. Jy sal enigiets vir hom doen: van die huis se dak af spring of vir Idols inskryf. Maar dis net wanneer hy in ’n goeie bui is. As hy lyk soos hy nóú lyk, wil mens padgee. Hy’s op die oorlogspad en sy visier is op háár ingestel …

Kylie bly soos Lot se vrou teen die voordeur staan, te bang om asem te haal.

“Michaela …? Ek weet jy’s hier. Sluit die deur oop.”

Wanneer hy haar op haar volle doopnaam noem, weet Kylie dis ernstige sake soos toe hy haar leer motor bestuur het en sy oor ’n stopstraat gery het en hulle byna verongeluk het. Toe het hy seker goeie rede gehad. Maar hoekom wil hy vandag kom skoor soek? Sy het niks gedoen nie. Hulle het weke laas kontak gehad.

“Nee.”

“Ek loop nie voor jy die deur oopmaak nie.”

Dis dubbelsinnig. ’n Slap riem waarmee hy haar wil vang. As sy oopsluit, gaan hy mos inkom pleks van loop … “Wat bedoel jy?” vra sy.

Rynard verwerdig hom nie om te antwoord nie.

Miskien is sy onnodig op hol. Dalk het hy die boodskap gekry, ongeduldig geraak en gery. In ’n optimistiese oomblik loer sy deur die syvenster, maar die Porsche staan nog op dieselfde plek in die straat geparkeer. Hy het nie gery nie. Sy wens Justin was nog hier. Hy’s korter as Rynard, nie so lenig en atleties gebou nie, maar frisser met bultende spiere, en hy lyk fiks asof hy in die gim boer. Hy kon haar gehelp het, al was dit net as ’n buffer of weerligafleier. Maar noudat sy hom nodig het, is hy en sy bakkie skoonveld.

Kylie staan en beplan wat om te doen, toe ’n grimmige stem agter haar praat: “Ek het mos geweet jy’s hier …”

Sy ruk verskrik om. Dis Rynard, geraam in die kombuisdeur: hande in sy broeksakke en enkels gekruis, leunend teen die kosyn. Hy is in uniform. Kylie het hom weke laas gesien en hy lyk skielik groter, sy skouers breër as wat sy hom onthou.

“Hoe’t jy ingekom?” wil sy weet.

“Deur ’n venster geklim. Jy het diefwering nodig … veral in ag genome hoe ondoeltreffend jul sekuriteitstelsel hier is. ”

Aanval is beter as verdediging. “Dis inbraak, betreding van privaat eiendom,” beskuldig Kylie hom. “Ek kan polisie toe gaan en ’n klag lê.”

“Hulle sal sê jy moenie hul tyd met sulke bog mors nie.”

“Bog? As daar by jou huis ingebreek is? Dis waarvoor mens belasting betaal – sodat die polisie jou teen misdadigers en aanvalle kan beskerm. Wat help dit –”

“Kyla, hou op om jou soos ’n drama queen te gedra. Jy’s nie sestien jaar oud nie.”

“Dit het niks met ouderdom te maak nie. Ons is nie meer getroud nie, jy kan nie links en regs hier instap en –”

“Ek kan en ek het.”

“Hoe? Het jy die venster gebreek?”

“Nee, dit was oop.”

“En toe klim jy in asof dit jou huis is dié?”

“Ek het geweet jy gaan nie oopmaak nie, en ek wil met jou praat.”

“Ons het niks meer vir mekaar te sê nie.”

“Verkeerd. Ek het nog báie te sê, meer as wat jy dink. Maar ek het nie nou tyd nie. Kom sit.”

Onwillekeurig maak Kylie soos hy sê. Hy hiet en gebied, en sy gehoorsaam … asof sy ’n robot is. Uit moedswilligheid stap sy darem verby twee stoele en gaan sit op die bank in ’n hoekie so ver moontlik van hom af. Sy leun terug, vou haar arms en kruis haar bene. ’n Posisie wat die boodskap oordra dat sy ontoegeeflik en ontoeganklik is.

“Nie tyd nie? Hoekom? Omdat jy haastig op pad terug is na Suzi of Gigi of wie ook al jou huidige bedmaat is?” Kylie pers haar lippe saam en wag, maar hy reageer nie. Eers dink sy hy het nie gehoor nie of hom vir haar insinuasie vervies.

Maar dan merk sy dat hy na haar gekruiste bene kyk. Sy verwens die miniromp wat sy vanoggend aangetrek het. Dit was sommer net skool toe en sy was laat, en dus het sy die eerste kledingstuk gegryp wat sy kon bykom. Maar die denimrompie is bietjie kort en sit te styf. Dit dra wel ’n boodskap oor, maar die verkeerde een.

Miskien daarom dat Justin so voorbarig was? tref ’n skielike gedagte haar. Omdat sy vir hom na ’n “maklike” meisie gelyk het? En dit is waarom Rynard nou so staar. Sy onthou hy’t eendag vertel party ouens is ingestel op vroue se borste, ander op ’n uurglasmiddeltjie, ’n mooi sitvlak, oë of gesig. Maar hy is ’n bene-ou. Fyn enkels en lang, welgevormde bene van hier af tot by die hemel …

Hy kyk onverwags op en ’n oomblik lank hou sy donker, broeiende oë hare gevange. Kylie se hart klop onbedaarlik. Sy pluk haar romp se soom af. Sy laat haar been sak en sit oordrewe korrek met haar kniekoppe styf teen mekaar.

Rynard is onverstoord afgesien van ’n effense roering om sy mondhoeke. “Antwoord jy darem af en toe jou selfoon of teksboodskappe?” wil hy weet.

“Natuurlik. Ek antwoord altyd, selfs in klastyd,” antwoord sy. “Behalwe natuurlik wanneer ek op die skerm sien dis jy wat bel of SMS.”

“Ek sal my nommer moet verander. En my e-posadres.”

Gelukkig is ’n delete-knoppie geduldig … “Waaroor wil jy so dringend met my praat?”

Hy haal ’n lang koevert uit sy sak en plaas dit voor hom op die koffietafel. Die geamuseerde uitdrukking verdwyn en sy mond raak strak. “Wie’s daardie Gladdebek Gawie wat netnou hier uitgewals het?” wil hy weet.

“My buurman. En hy is nie ’n Gladdebek Gawie nie.”

“Wat het hy hier kom maak?”

“Kom koffie drink.”

Rynard lyk soos hy gelyk het toe hy die hand geïgnoreer het wat Justin uitgesteek het. “Kóffie gedrink? Is dit al? Die vent lyk heel danig met jou. Is daar iets tussen julle?”

“Nee.”

“Wat dan?” dring hy aan.

“Niks.”

“Hoe lank ken julle twee mekaar al?”

Is Rynard sowaar jaloers? Kylie kan dit skaars glo. Hý wat as getroude man die groot casanova was wat met al die waardinne geflankeer het, wil háár voor stok kry nadat hulle lankal geskei is? Tipies macho en arrogant.

Sy stoot haar kakebeen vorentoe en maak haar skouers waterpas. “Ek skuld jou geen verduidelikings nie. Wat traak dit jou? Ek vra nie uit na jou privaat sake nie – watter flooze by jóú kuier en hoe lank julle mekaar al ken nie.”

Rynard se bloeddruk stoot op en sy kan sien hy beteuel hom met moeite. “Niemand kuier by my nie, en jy weet dit.”

Haar mond vertrek in ’n siniese uitdrukking. “Hoe sal ek weet? Jy het my jare lank belieg en bedrieg, hoekom sal ek jou nou skielik glo?”

“Ek het jou oor en oor gesê: Ek het jou nog nooit bedrieg nie, Kyla.”

“Behalwe met Jo-Anne.”

“Veral nie met haar nie. Ek het dit destyds uitdruklik uitgespel.”

“Maar tog erken jy dat julle wel ’n verhouding gehad het?”

“Jare gelede, lank voor ek jou ontmoet het. Ek het haar twee of drie keer uitgeneem vir ete of vir koffie genooi, sommer op die lughawe. Dis nie my idee van ’n verhouding nie en dit het nooit verder ontwikkel nie.”

“Dis wat jý sê … Jo-Anne vertel ’n ander storie. Jul verhouding was ernstig – julle het vlugte geruil om saam te kan vlieg en sy het ’n voordeursleutel vir jou huis gehad.”

“Waar kom jy daaraan?”

“Jo-Anne het dit vir my gesê.”

“Snert! Ons roosters word lank vooruit opgestel en vliegpersoneel kan nie uitruil nie, behalwe in geval van siekte of ’n krisis. En ek het nog nooit vir enige meisie in enige stadium ’n sleutel gegee nie.”

“Edel, outyds of onwaar?” vra sy sinies.

Rynard mompel iets onderlangs wat sy nie hoor nie. “Jy maak of ek ’n losbol is, net daarop uit om ’n jollie tyd met vroumense te hê. En jy weet dis nie so nie. Ek’s ’n eenmeisie-ou wat verkies om saam met my vrou te kuier eerder as kroeg toe te gaan of na ’n wilde partytjie toe. Noem dit outyds as jy wil, maar dis hoe ek grootgemaak is. My ma sou my velle afgetrek het as ek gewaag het om ’n meisie oopmond te soen. En as ek enigsins saam met ’n meisie naby ’n bed of kombers sou kom sonder dat ons gekerk was, sou sy in haar graf omgedraai het.”

En ’n egskeiding?

Kylie vra nie. Dis te seer. Selfs na ’n jaar van gewoond raak daaraan is die woord “geskei” steeds pynlik wanneer sy dit hardop moet sê of op ’n vorm invul by “huwelikstatus”. Rynard se opvoeding was streng Calvinisties vergeleke met vandag se standaarde. Sy ken haar gewese man se agtergrond, tog laat dit Kylie soms wonder, veral ná die debakel in Rome … Streng nougeset en behoudend? Bestand teen versoekings en verleidelike vroue in hotelkamers wat hulself vir hom aanbied? Dit klink bietjie dik vir ’n daalder. Veral vir ’n ou wat lyk soos Rynard Wiegers lyk. Een wat kyk op die manier wat hý kyk wanneer ’n vrou in ’n mini haar bene kruis? Sy was immers vier jaar met hom getroud. Sy kén hom. Sy ma sou ’n oorval gekry het as sy haar seun se talente in die slaapkamer kon aanskou: hom stellig onterf het oor sy behendigheid, bedrewe styl en innoverende posisies tydens ’n liefdesessie.

Net ’n sekere soort stadige glimlag, ’n liefkosing met die punt van sy tong in haar nek en sy was soos klei in sy hande … Hy kon met haar hormone toor en ’n vuur in haar aansteek: vanaf ’n sluimerende warmte in die omgewing van haar naeltjie na ’n allesverterende vlam wat haar met ’n hemelse ekstase vervul het en aan die einde kortasem en gedreineer teen die kussings laat terugsak het.

Sonder dat sy beheer daaroor het, voel Kylie daardie roering in haar opstu by die blote herinnering daaraan. Die kombinasie van sy warm asem in haar mond, sy slim hande wat weet hoe om te streel en waar om te vat …

Sy skrik vir die rigting wat haar gedagtes inslaan. Rynard ken haar te goed; sê nou hy lees haar gedagtes en geheime, onderdrukte begeertes?

Sy is geskok, verwens haar vroulike instinkte en verban die onwelkome oerdrange wat in haar geheue bly vassteek. Uit selfverdediging herroep sy Rynard se ontrouheid en verraad, visualiseer sy hoe hy daardie selfde dinge wat haar tot sulke ekstatiese hoogtes gelei het, met ’n ander vrou doen; dieselfde liefdeswoorde in haar oor fluister terwyl sy hande oor haar borste en oor die res van haar kurwes en rondinge streel.

Dit het die gewenste uitwerking van ’n emmer yswater. Die tweegesig-jakkals. Kylie is lus en breek ’n blompot oor sy kop of druk ’n broodmes tussen sy ribbes in. Mans word nie vanself met daardie talente gebore nie. Dit ontwikkel deur oefening en ervaring. En dit laat haar wonder: Op wie het Rynard almal geoefen? By watter meisies het hy die fynere nuanses van die voorspel en ’n langer, uitgerekte klimaks geleer?

Nie by háár nie, sy was nog te onervare toe sy hom ontmoet het. Op skool, op universiteit en as lugwaardin het sy kêrels gehad wat haar gesoen het en soms nogal erg vatterig geraak het. Maar dit was soos louwarm, verslane sjampanje in vergelyking met die eerste keer toe Rynard haar gesoen het. Die wêreld het ontplof en die son het stilgestaan. Sy het geweet hy was Die Een, haar trouman vir wie sy drie-en-twintig jaar lank gewag het.

Alles was so perfek. En toe het hy wat hulle gehad het onder sy voete vertrap. Hy was háre, haar man. Maar sy was nie vir hom genoeg nie en hy het hul huweliksbeloftes verloën in ruil vir ’n halfuur of wat van seks saam met haar vriendin. Het Jo-Anne hom uitgelok, wetend hoe warmbloedig hy is? En toe verloor hy kop sonder om aan die gevolge te dink? Of was die keer in Rome nie die eerste keer dat hy haar verkul het nie – net die eerste keer dat hy betrap is?

Kylie kyk na haar gewese man. Sy haat hom weens die pyn en vernedering wat hy haar aangedoen het. Verwag Rynard sy moet sy toesmeerdery glo? Hom vergewe en ooit weer vertrou? Nooit. Haar liefde vir hom is dood en begrawe.

Haar stem is ysig soos ’n winterwind oor Alaska se sneeulandskap. “Jy ís ’n losbol-rokjagter en ek moes nooit met jou getrou het nie. Dit was die grootste fout van my lewe. Maar ek het ’n dure les geleer. Ek sal nie ’n tweede keer uit dieselfde bus val nie.”

Rynard was lank geduldig, maar hy vererg hom nou. “Jy was op die vervlakste verkeerde bus waar jy als geglo het wat die drywer, die kondukteur en die hele flippen boksemdais jou wysgemaak het. Jo-Anne was die voorbok, sy en haar trawante. Sy’t ’n verskuilde agenda gehad, maar jy het haar leuens soos soetkoek opgeëet – selfs die versiersuiker afgelek. Dít was die grootste fout van jou lewe, nie ons troue nie.”

“Sy was in daardie stadium my beste vriendin.”

“En ek was jou man. Maar jy het haar woord bo myne aanvaar.”

“Dit was nie net háár woord nie. Daar was getuies wat deur die oop deur kon inkyk: Jo-Anne se klere het op die vloer gelê en sy was oop en bloot, ewe tuis in jou bed in jou hotelkamer. Wat het sy in jou kamer gesoek as julle kwansuis nie ’n verhouding gehad het nie?”

“Medisyne, pille of ’n dokter omdat sy siek was.”

Kylie gee ’n sarkastiese snorklag. “O ja, nou onthou ek: sy was kamma siek … Dis ’n nuwe een; die flouste verskoning wat ek nog gehoor het. G’n wonder niemand het jou geglo nie.”

Rynard weet hy moet kalm bly, nie toegee aan sy stygende irritasie, en nóg brûe agter hom verbrand sodat die pad terug onherroeplik gesluit is nie. Hy loop ’n draai deur die sitkamer en staan ’n paar tellings by die venster en kyk onsiende uit, voor hy weer in die stoel oorkant Kylie kom sit.

“Ek het dit dertien maande gelede, voor die egskeiding, aan jou probeer verduidelik, maar jy wou niks weet nie. Jy het vooraf besluit ek is skuldig en het ’n kort geheue wanneer dit jou pas. Ek het beskryf hoe Jo-Anne vroegaand by my kamer ingestrompel het: koorsig, deurmekaar en gedisoriënteerd. Haar hele lyf het gegloei, sy het geyl en was duiselig. Sy was ’n rukkie gelede in die Krugerwildtuin, waar die muskiete ’n plaag was, en sy het vermoed dis malaria wat sy opgedoen het.”

“Ek glo nie Jo-Anne was in haar lewe al ooit in enige wildtuin nie. Sy hou nie van diere nie. Nie eens van honde en katte nie.”

“Ek het nie geweet nie, geen rede gehad om te dink dit is alles fiktief en sy speel toneel nie. Haar gesig het rooi en koorsig gelyk. Hoe moes ek weet dis grimering?”

“Jy was tog getroud. Ken jy nie die verskil tussen koors en ’n oormaat blosser nie?”

“Nee, ek ken dit nie,” ontken hy kortaf. “Ek het nou nog g’n benul wat die flippen verskil tussen ‘bloos’ en ‘blos’ is nie. Sy’t heeltyd haar hande geflap om haar gesig koud te waai. Ek kon nie behoorlik sien nie.

“As bevelvoerder is bemanningslede my verantwoordelikheid. Ek was regtig bekommerd. As ’n lid van die kajuitpersoneel siek was, sou die suidwaartse vlug volgens IATA-reëls vertraag gewees het. Ek wou dit verhoed. Ek het gedoen wat enige regdenkende mens sou doen: nat handdoeke gekry om haar af te spons en ontvangs gebel om ’n dokter te ontbied.”

“Af te spons?” herhaal Kylie skepties. “Nog ’n nuwe een. Is dit jou verskoning waarom jy haar klere uitgetrek het?”

“Nie ék nie,” keer Rynard vererg. “Sy was koorsig en benoud. Sy’t self haar klere afgestroop en op die bed neergeval.”

“En jy saam met haar?”

Geduld is nie Rynard se sterkste eienskap nie. “Nee! Ek het dit honderd keer vir jou gesê. Maar jy het watte in jou ore. Ek het al my klere aangehad, vasgeknoop en toegerits.”

“Sê jý …”

“Wat sê haar trawante, die kamtige getuies, waar was ek?”

“Hulle het nie opgelet nie.”

“Presies! Nie ‘opgelet’ nie, want ek was nie dáár nie – in die slaapkamer nie. Ek was in die badkamer besig om handdoeke onder ’n kraan in te druk. Ek het haar nie sjampanje gevoer en verlei soos sy jou wysgemaak het nie. Maar jy’s op jou eie missie, met oogklappe aan. Jy glo wat jy glo en laat jou deur ander mense mislei.”

“Ek’s nie ’n pampoen met oogklappe aan nie. Ook nie ’n donkie met ’n ring deur my neus waaraan ek gelei kan word nie.”

In die ou dae sou Rynard vir haar metafore gelag het. Maar dit was in die goeie ou dae voor die probleme soos bakstene op hom gereën het. Deesdae is min dinge in die lewe vir hom snaaks en ly hy na ’n jaar nog aan bomskok.

“In hierdie bui is jy erger as ’n klipmuur. G’n mens kan tot jou deurdring nie.”

Kylie se gesig bly ontoegeeflik. “Ek was eens op ’n tyd so blind verlief, ek het gedink jy loop op water. Ek sou enigiets vir jou gedoen het: my lewe, my hart en siel, my alles vir jou gegee het. Maar dit was nie genoeg nie. Jy wou meer hê: opwinding en adrenalien, groener weivelde, nóg harte op jou kerfstok. Ek weet nie wat presies jou behoeftes was nie, maar die stabiliteit van ’n huwelik het vir jou geen uitdagings gebied nie. Jy was verveeld, in ’n groef en het ingehok gevoel en daarom dat jy wou uitbreek.”

“’n Pot vol nonsens,” skiet hy haar ontleding af. “Jy moet jou geld gaan terugvra by daardie pseudodosent wat op varsity vir julle sielkunde gegee het.”

“Hoekom anders sou jy wou loskom uit ’n huwelik wat jou geknel en geskaaf het?”

“Niks het my geknel of geskaaf nie,” protesteer hy. “Dis jý wat wou skei, nie ek nie. Ek was gelukkig getroud.”

“In die begin, ja, tot jy gefrustreerd geraak het en oor die draad begin loer het na die geiler gras aan die oorkant. Begin rondslaap het … Dit het my hard aarde toe gebring en daarvoor sal ek jou nooit vergewe nie.”

“Jo-Anne was nooit jou vriendin nie. Glo my. Haar tranedal was toneelspel en haar weergawe van die gebeure alles ’n spul leuens.”

Kylie se wenkbroue trek saam in ’n frons. “Na watter verskuilde agenda van haar het jy verwys?”

“Ek het geen bewyse nie en het my vermoedens destyds vir jou uitgespel, maar jy het volgehou ek suig goed uit my duim om myself as ’n onskuldige slagoffer voor te doen.”

Kylie glo dit steeds. Hy was die oortreder, en sy en Jo-Anne die slagoffers. Albei van hulle moes ’n loopbaan en ’n droom prysgee. Sý het nooit op internasionale roetes gevlieg nie en arme Jo-Anne werk nou as grondwaardin. Alles deur Rynard se toedoen. Hulle twee het onreg gely, terwyl hy skotvry daarvan afgekom het.

“Jy’s nóú baie dapper,” verwyt sy hom, “want jy weet sy sit tienduisend kilometer ver in Holland en kan haar nie verdedig nie.”

“’n Maklike uitweg vir haar gewees: om die pad te vat nadat haar plan misluk en sy nie bereik het wat sy wou nie. Maar dis nie ’n probleem nie. Ek sal vir jou ’n vliegkaartjie koop Amsterdam toe. Ek sal selfs saam met jou gaan om eens en vir altyd antwoorde te kry, al moet ek dit met geweld uit haar wurg.”

“Ek het dit destyds duidelik gemaak: ek klim nooit weer saam met jou op dieselfde vliegtuig nie. En ek voel steeds so.”

“Dit help nie ek of jy gaan afsonderlik nie. Ons moet haar saam konfronteer sodat jy haar verduideliking eerstehands kan hoor oor wat haar doel en beweegrede was. Ek sal ’n dag vóór jou vlieg en op Schiphol-lughawe vir jou wag.”

Kylie ignoreer sy aanbod. “Jo-Anne het nie ’n agenda gehad nie. Sy het in ’n stortvloed trane kom bieg omdat sy my te na gekom en haar gewete haar opgevreet het, en sy my om vergifnis wou vra. Sy wou verhoed dat ek by vreemdes van my man se skandes moes hoor. En sy was reg. Die storie het vinnig uitgelek nadat die kelner en kamermeisie gesien het wat aangaan. Jo-Anne het te laat besef die kamerdeur staan oop en daar’s mense in die gang wat inkyk. Sy wou jou reputasie beskerm en het die laken oor haar probeer trek, maar dit was te laat. Sy kon nie betyds wegkruip nie.”

Rynard het nie die krag om aan te hou stry nie. Dit was deel van haar diaboliese plan. Daarom dat sy nie hard genoeg probeer het om die getuienis onder die laken te versteek nie. Hy het gehoop hy en Kylie kan die saak dalk uitpraat, maar hulle praat in sirkels, dieselfde verwyte oor en oor, en bereik niks.

Hy probeer nog vir oulaas: “Dis maklik om ’n kamermeisie om te koop om die deur oop te sluit, ‘per abuis’ oop te los en met een van haar vlugkelner-pelle te reël om ‘per toeval’ op daardie juiste tydstip in die gang verby te loop en by die deur in te kyk.”

Kylie weier om dit te erken; dit sal soos oorgawe wees.

“Wat het die kamermeisie in die eerste plek daardie tyd van die aand met ’n loper in die gang gesoek?” wil Rynard weet.

“Dit was negeuur, die tyd wat die meeste hotelgaste uit is vir aandete en sy ingaan om die beddegoed terug te vou en ’n sjokolade op die kussing te sit.”

Rynard lig sy wenkbroue. “So laat? Negeuur is baie hotelgaste al in die bed.”

“Ek was in so ’n toestand … Dalk het ek verkeerd gehoor.”

Negeuur klop nie met die tyd soos hy dit onthou nie. Soos baie ander detail ten opsigte van die destydse skandaal ook nie sin gemaak het nie. Kylie was in ’n senutoestand en het geweier om enige van die ongure besonderhede met hom te bespreek. Sy het haar tasse gepak en uitgetrek, deure toegeklap en die foon neergegooi wanneer hy probeer uitvra het. Sy het vernederd gevoel. Sy wou nou eenmaal skei en by die lugdiens bedank, en niks of niemand kon haar tot ander insigte bring nie.

Toe hy Jo-Anne konfronteer, het dit aanvanklik gelyk asof sy by hom flikkers gooi. Sy was koketterig en suggestief en het probeer om hom te verlei. Maar toe hy nie saamgespeel het nie en dit duidelik gemaak het dat hy nie belangstel nie, het dit op ’n onsmaaklike konfrontasie uitgeloop. Sy het hom as ’n lafaard en ’n leuenaar uitgekryt wat die skuld op haar wil pak om sy eie bas te red. Uit weerwraak het sy die storie versprei dat hy ’n rokjagter en vroueverneuker is en dat hy haar dronk gemaak het om haar in sy bed te kry – dat dit op ’n oornagstop glo ’n ou laai van hom is met die waardinne in sy bemanning: om hom op hulle af te dwing en agterna alles te ontken. Daar was ongure skinderstories, selfs ’n suggestie van ’n verkragting.

Pas daarna het sy by die lugdiens bedank en Kylie ook.

Dalk is Kylie deurmekaar wat die tyd betref, nogtans stem dit Rynard tot nadenke. Hy was tydens die smeerveldtog en sy daaropvolgende huweliksprobleme so onthuts dat hy ook nie behoorlik gefunksioneer het nie en miskien te maklik moed opgegee het.

Sy kop is nou helderder. Hy gaan bietjie speurwerk doen sodra hulle weer ’n oornagstop by die hotel in Rome het. Hopelik werk Maria Castello nog daar en kan hy met behulp van ’n tolk meer inligting uit haar kry. Hy wil nie nou, sonder bewyse, spoke opjaag en Kylie opnuut die harnas injaag nie.

“Ek het Sampie Botha midde-in al die gerugte en onthullings in kruisverhoor geneem. Hy was ’n totaal onbetroubare getuie – vaag en ontwykend, bang die saak draai in die hof en hy moet onder eed getuienis lewer.”

“Arme ou Sampie,” tree Kylie vir hom in die bres. “Ek het ’n paar keer saam met hom binnelands gevlieg. Bietjie lief vir skinder, maar ’n goeie kelner. Ek het ook met hom gesels. Jy het hom geïntimideer en hy was bang hy word afgedank. Maar hy het die kamermeisie se storie bevestig.”

“’n Italiaanse kamermeisie wat skaars drie woorde Engels kan praat en waarskynlik vooraf ’n fooitjie in die hand gestop is, plus ’n skinderbek-kelner? ’n Klinkklare kombinasie vir ’n sameswering.”

Rynard skud sy kop. Hy kyk deur die venster na ’n veraf Boeing 747 wat pas vanaf O.R. Tambo opgestyg het en in ’n noordwaartse rigting klim; hy wag tot die dreuning wegsterf voor hy na Kylie draai. Sy oë is onverwags sag en weemoedig. “Kylie …? Hoekom het ons toegelaat dat Jo-Anne wen en haar sin kry?”

Sy vraag vang haar onverhoeds. “Ek weet nie. Ek het baie daaroor getob: wie was reg en wat om te glo?” Sy kam haar vingers deur haar hare en vryf met die agterkant van ’n moeë hand oor haar oë. Vandag was ’n lang dag vol ontstellende gebeure. Die wiskunde-evalueerder het uit die bloute by die skool opgedaag, toe die fiasko met die buurman en nou weer Rynard met al sy drama … Sy voel suf en gedreineer. Die baklei is uit haar uit en al wat oorbly is ’n verblindende hoofpyn wat veroorsaak dat haar oë nie behoorlik kan fokus nie.

“Wat het jy hier kom maak, Rynard, behalwe om opnuut te stry en die blaam te verskuif? Hierdie gesprek is al holrug gery.”

Rynard stem saam. Hy tokkel op dieselfde deuntjie en bereik niks. Kylie vermy hom en dus is dit selde dat hy die kans kry om met haar te praat. Daar is soveel wat hy wil probeer uitklaar, maar daar is nooit tyd nie. Nou ook nie. Hy het ’n vlug vanaand en dit word laat.

Hy neem die koevert wat voor hom op die koffietafel lê. “Ek het tydens ons skeisaak alle polisse en annuïteite aan jou gesedeer en onderneem om die maandelikse paaiemente te betaal. Maar jy het nie belanggestel in enige hofdokumente of bepalings nie. Die eerste annuïteit wat ek op jou naam uitgeneem het, het verjaar en kan nou uitbetaal word. In die koevert is die nodige eisvorms. Ek het al die besonderhede klaar ingevul. Al wat jy moet doen, is om elke bladsy te parafeer en op die laaste een voluit te teken. Ek is vanaand op pad Australasië toe: Perth – Melbourne – Sydney – Wellington, retoer. Dis ’n trip van ses dae. Teen die einde van volgende week sal ek terug wees en die dokumente by jou kom haal.”

En weer ou rowe afkrap? Kylie sien nie daarvoor kans nie. Sy wil Rynard vergeet en nuut begin. Die enigste manier waarop sy dit kan regkry, is om hom uit haar lewe te sny. Nie weer te sien, geensins kontak te hê nie. Dis hoe dit moet wees ter wille van haar selfrespek en sielerus.

“Ek wil nie jou geld hê nie, Rynard,” antwoord sy ferm.

“Dis nie my geld nie, dis joune – in jou naam. Dit het goeie rente getrek en ’n ruim uitkeerbedrag opgelewer. Jy kan daarmee vir jou ’n nuwe motor koop.”

“Dankie, maar nee dankie. My oue is goed genoeg. Moenie jou oor my finansies bekommer nie. Ek het ’n permanente pos by die skool, ek verdien ’n salaris en kan vir myself sorg.”

Rynard is nie oortuig nie. Kylie het gewig verloor, sy lyk moeg en uitgewas. Dalk omdat dit Vrydag, ná ’n besige week is, of aan die einde van die kwartaal. Nogtans is hy bekommerd oor haar. Hy sal dit altyd wees en die hoop bly koester op ’n moontlike versoening iewers in die toekoms.

“Al is ons nie meer saam nie, gee ek steeds vir jou om, Kyltjie.”

Haar hart verskiet en steek in haar keel vas. Hy moenie haar Kyltjie noem nie – sy troetelnaam van lank gelede. Dan haak haar kop uit. En sy wil nie … wíl nie vir hom lief wees nie.

Rynard hou die koevert na haar uit. “Lees dit, parafeer en teken. Dis al. Dan sal ek meer gerus voel dat jy behoorlik versorg is.”

Boetedoening om sy gewete te sus? wonder sy sinies. Sy neem nie die dik manilakoevert by hom nie. “Los die dokumente by my prokureur. Ek sal dit met hom bespreek, nie met jou nie. Ek dag jy het gesê jy’s haastig? Gaan jy nie laat wees vir jou vlug nie?”

Rynard kyk na die antieke staanhorlosie in ’n hoek van die sitkamer en skrik. Hy moes al weg gewees het en sal moet voet in die hoek sit. Gelukkig het die Porsche genoeg perde onder die enjinkap om hom betyds op O.R. Tambo te besorg. Hy sal hom later oor die spoedkaartjies bekommer.

Rynard staan op en sit die koevert op die koffietafel neer. Met die omdraai buk hy onverwags oor Kylie se stoel, sy hande weerskante op die armleunings gestut sodat sy gevange gehou word en nie kan opspring nie. Sy kneukels klem wit teen die donker leer en sy oë dwaal oor haar nek, haar keel en die slanke lyn van haar kakebeen. Talm oor haar gesig en stop by haar mond met ’n takserende uitdrukking op sy gesig. Hy is so naby dat Kylie sy warm asem teen haar wang kan voel en die bekende reuk van sy naskeermiddel ruik. Suurlemoen, gemeng met die geur van kaneel. Die assosiasie maak herinneringe in haar wakker wat sy wil ontken en doodsmoor.

Haar oë is donkergroen en stormagtig. Sy sit stokstyf en staar asof gehipnotiseerd na Rynard. Hy moenie, hy mág nie, het nie die rég nie … Hulle is lankal nie meer man en vrou nie. Hy sal dit tog sekerlik nie waag om haar te soen nie? Rynard was altyd onvoorspelbaar en sy was nooit seker wat om te verwag nie: of hy haar soos ’n grotman oor sy skouer gaan gooi en die gang af dra slaapkamer toe om passievol liefde te maak nie, en of hy André Rieu se strelende walse in die videospeler sal druk, vir haar tee bring en rustig langs haar op die bank sit en luister nie. Miskien is dit deel van sy magnetisme – die onvoorspelbaarheid.

Die broeiende oë wat in hare boor, hou Kylie vasgevang, eerder as sy hande op die stoel se armleunings. Sy draai haar kop weg, maar sy hand sluit ferm om haar ken. Hy dwing haar gesig terug na hom sodat hy haar in die oë kan kyk. Kylie knyp hulle toe, bang hy lees daarin wat hy nie moet nie.

“Kyk vir my,” gebied hy.

“Nee.”

Maar hy het blykbaar iets in haar stem gehoor wat hy nie moet nie. In haar halfoop lippe gelees wat haar oë nie wou verklap nie. Want sy mond kom vol op hare neer, hard en honger. Hy beur haar lippe wyer oop.

Dis nie ’n soen nie, nie ’n liefkosing of uiting van sy gevoelens vir haar nie. Dit maak sy haarself wys. Dit is eerder ’n eksperiment om sy manlike oorheersing te bewys. Of ’n toets om uit te vind wat hy wou weet?

Sy reageer nie, bly net roerloos soos ’n houtpop sit. Voor sy tot verhaal kan kom, is hy weg en uit by die voordeur. ’n Paar tellings later hoor sy die Porsche buite in die straat brul.

“Ry versigtig, moenie jaag nie!” roep sy die verdwynende Porsche agterna. Hoekom, weet sy self nie. Hy kan die flippen vlieënde piering in ’n sloot omsmyt en sy nek breek vir al wat sy omgee.

Onwillekeurig druk sy die agterkant van haar hand teen haar lippe. Indien Rynard Wiegers sy manlike meerderwaardigheid wou bewys, het hy misluk. En as hy haar wou toets om uit te vind of sy steeds gevoelens vir hom koester, het haar reaksie getoon die antwoord is nee. Sy swig nie voor onbeskaafde Neanderdaltipes nie. Nie in die slaapkamer, in die gang of in die sitkamer nie. Sy verkies hoflike, bedagsame ouens, in voeling met hul romantiese kant, gemeng met ’n skeut sentiment. ’n Regterbreinmens.

Rynard is tipies ’n kreatuur waarin die linkerbrein oorheers: pure feite en formules. Nommerpas in ’n vliegtuig se stuurkajuit of agter die stuur van ’n vinnige sportmotor. Maar ’n mislukking wanneer dit kom by ’n vrouehart wat emosies soos teerheid en sensitiwiteit vra.

Dis goed dat sy hom nie teruggesoen het nie, goed dat hulle uit mekaar is. Selfs sonder die inmenging van ’n derde persoon in hul huwelik, sou die verhouding nie gehou het nie. Hulle is totale teenoorgesteldes en sal nooit weer bymekaar uitkom nie.

Om ’n reënboog te vang

Подняться наверх