Читать книгу Rabbedoe en rissiepit - Ettie Bierman - Страница 3
1
Оглавление“Bog! Snert! Twak!” roep Nell se pa uit. “Waar het jy van ’n meisiekind gehoor wat ’n motorwerktuigkundige wil word?”
“Daar’s vrouedokters, vroueprokureurs, vroueingenieurs, selfs vroupredikante. Hoekom nie motorwerktuigkundiges nie?” hou Nell vol. “Ek kan ’n band net so goed soos enige man omruil, ’n battery vervang en ’n motor se olie aftap. Beter as wat ek kan tik en kwitansies uitskryf.”
“Jy kry volgende maand verhoging by jou werk. Jy kan nie nou wil bedank om in die gramadoelas te gaan ghriesbobbejaan speel nie,” sê haar pa beslis. “Jy is skoon mal … jy en daardie agterstevoor oupa van jou; hy om so ’n onsinnige idee voor te stel en jy om dit enigsins te oorweeg. Reg vir die groendakkies, dis wat julle albei is.”
Nell se ma is praktieser. “Kuilvlei is meer as honderd kilometer van die naaste dorp af. Waar gaan jy klere koop en alles wat jy nodig het? Waar gaan jy bly, Nell? Al wat oupa Tewis het, is daardie armsalige rondawel van hom. Op Kuilvlei is nie woonstelle, ’n hotel of selfs ’n losieshuis nie.”
“Klere was nog nooit vir my belangrik nie, Mams. Solank ek ’n paar jannas en hempies het, is ek tevrede. Maar daar is mos darem ’n winkel en Oupa sê hy het nog ’n rondawel laat bou, vir die vorige werktuigkundige wat hom in die steek gelaat het. Die plek het ’n bed, ’n wasbak, ingeboude kaste én ’n gasstoof. Wat wil ek meer hê? Buitendien, dis tyd dat iemand na oupa Tewis omsien. Hy word nie jonger nie en hy is seker baie eensaam ná Ouma se dood.”
Haar pa kyk oor sy koerant na sy stroom-op-dogter – ’n swartkop met bruin oë, soos haar ma. Mooi en fyn gebou. Maar tot hul verdriet ’n rabbedoe wat van kleins af liewer met motorkarretjies en trekkers wou speel as met poppe, liewer langbroeke as rokke dra. ’n Tyd lank het hy en haar ma gevrees sy wil eendag huursoldaat of brandweerman word. Motorwerktuigkundige is dan nog die aanvaarbaarste.
“Hoe lank beplan jy om daar tussen die kakkerlakke en vlermuise te gaan woon?” wil hy weet.
“Daar is nie kakkerlakke nie. Net jakkalse en hiënas wat in die nag tjank. Maar dis mooi, dis pure bosveld. Ek is mos nie ’n stadsmens nie. As ek nou lid van die uitverkore geslag was, het ek aansoek gedoen as veldwagter in die Krugerwildtuin. Maar Pa, ek weet nie hoe lank ek op Kuilvlei gaan wees nie. Miskien net tot ek as motorwerktuigkundige kan kwalifiseer. Dan kom ek terug Pretoria toe. Maar intussen sal arme oupa Tewis nie so alleen wees nie. Hy sal darem iemand hê wat vir hom kosmaak en na sy wasgoed omsien.”
Meneer Strydom weet nie wat Nell se geliefde oupa gisteraand oor die telefoon kwytgeraak het nie, maar hy het gewis op sy kleindogter se gevoel gespeel en haar roekeloos en onbesonne gemaak. Hy ag dit sy plig om wal te gooi, om te probeer keer dat sy jongste dogter ’n mislukking van haar lewe maak.
“Wasgoed en skottelgoed, vergassers en uitlaatpype en ’n ou man van naby tagtig as geselskap. Is dit ’n lewe vir ’n jong meisie van skaars een-en-twintig? Wat van daardie gawe assuransie-agent oor wie jy so in vervoering was? Anton, wat jou nou die aand vir ete uitgeneem het?”
“Anton?” sy frons. “Anton wie? Ek kan nie eens meer sy van onthou nie. Hy is so opwindend soos laasweek se koerant. Dit help nie Pa soek vir my ’n man nie. Ek wil nie nou al trou nie. Eers wil ek nog allerhande dinge doen. Eendag wanneer ek in ’n ouetehuis sit, wil ek my nie verwyt omdat ek kanse gehad het wat ek nie benut het nie. Ná Kuilvlei wil ek Gough-eiland toe gaan. Daarna valskermspronge doen of lugwaardin word.”
“Ek gaan slaap,” kondig Nell se pa ergerlik aan. Hopelik sal ’n vroeë nagrus jou ook goed doen en môre nugterder laat voel.”
Nell het lank wakker gelê, op hierdie en daardie sy gedraai en uiteindelik slapeloos voor haar kamervenster gaan staan om oor haar besluit na te dink. Die volgende oggend is sy vroeg op, moeg en met ’n spanningshoofpyn, maar sekerder as ooit dat sy nie die res van haar lewe tikster wil wees nie. Nie klerk, ontvangsdame of winkelassistente nie. Nie ’n nege-tot-vyf mens, in ’n kantoor tussen vier mure vasgekluister nie.
“Pa, Kuilvlei in die Laeveld is nie die uithoek van die aarde nie,” probeer sy weer die volgende môre aan ontbyttafel. “As Paps-hulle siek is of my nodig het, kan ek binne ses uur hier wees.”
Haar pa stoot sy bord graanvlokkies opsy. “Ek dink aan jóú, nie aan ons nie. Hoekom is jy nie soos jou suster nie? Sy het haar in die bank boontoe gewerk tot teller, ’n man met goeie vooruitsigte getrou en kinders gekry. Vir wat wil jy in die boendoes gaan infoeter en met enjins peuter?”
“Ek bewonder Susan,” erken Nell. “Sy het ’n ryk man, ’n spoghuis en slim kinders. Maar ek kan nie soos sy wees nie. Ek het ’n jaar in die bank uitgehou en elke oomblik gehaat. Die assuransiemaatskappy is nie veel beter nie. Pa praat van ’n verhoging. Dis dalk ’n afdanking omdat ek te veel foute maak. Ek het Hout- en Metaalwerk op skool gehad. Wat baat ’n tegniese Matriek as ek dit nie benut nie, as ek nie werk doen waarvoor ek opgelei is nie?”
“Dit was in die eerste plek verkeerd om jou tegniese skool toe te laat gaan. Dis waar jy jou dwars idees gekry het. Ek het my deur jou en jou ma laat ompraat. Nou sit ek met die gevolge …” Haar pa soek sy baadjie en motorsleutels.
Nell is die middag ’n halfuur vroeër tuis. “Oupa Tewis kan nie alleen die motorhawe behartig nie,” sit sy die gesprek voort. “Nie sonder hulp nie, al is dit ek wat nog baie te leer het. ’n Dom êppie wat darem familie en geselskap is, is beter as niks.”
Haar ouers het ook tyd gehad om te dink, besluit om maar die beste van die saak te probeer maak. Nell is nog jonk. Miskien wanneer sy terugkom, is sy meer volwasse en bereid om gevestig te raak.
Haar pa brom iets van “as sy die dag verdrink, sal hy haar stroomop gaan soek”. Maar haar ma is die eerste een om toe te gee.
“As jy gaan, wanneer wil jy vertrek?”
“Die einde van die maand,” antwoord Nell. “Ek is net tydelik by die Assuransieplek, dus hoef ek net vier-en-twintig uur kennis te gee.”
Tien dae is min tyd om haar klere reg te kry en agterstallige kantoorwerk af te handel. Nell het nooit daarop geroem dat sy ’n wafferse kok is nie, maar sy spoor ’n maklike resep op en bak twee blikke vol karringmelkbeskuit. Vir haar en oupa Tewis … Motorhawens maak soggens vroeg oop en daar sal miskien nie altyd tyd vir ontbyt wees nie. Haar ma bak kleinkoekies en koop berge kruideniersware sodat die twee die eerste maand darem nie honger sal ly nie.
Die dag voor sy ry, koop Nell se ma vir haar ’n nuwe rok en twee paar sykouse.
“Vir kerk,” sê sy. “Kyk of jy jou heidense oupa kan oorreed om saam te gaan. Wat eendag van sy siel gaan word, weet geen mens nie. Maar jy moet tog maar die reguit pad loop, my kind.”
Nell druk haar styf vas. “Ek sal. Ek gaan verlang …”
Sy wou nege-uur ry om vroegmiddag op Kuilvlei te wees, uit te pak en tuis te raak voor sy die volgende môre douvoordag met haar nuwe werk inval. Maar ’n vriendin van die kantoor het oplaas gou weer kom groet, haar suster het gebel en op die tippie is haar ma skielik in trane, opnuut vol vrese en bedenkings.
“Wat as jy ’n ongeluk maak? Verdwaal? Of ’n spoedkaartjie kry?”
“Ek sal nie, Mams. Ek sal versigtig ry. Ek belowe.”
“Het jy die lakens, die handdoeke en gordyne? Jou bankboekie? Seëls? ’n Waslap en kam?”
“Ja. Alles wat Mams op die lysie geskryf het.”
“Moet ek nie vir jou nog ’n bietjie vleis of groente insit nie?”
Ter wille van hulle albei wil Nell nie die groetery uitrek nie. Enige afskeid is hartseer, al het ’n mens opwindende vooruitsigte om na uit te sien. En netnou begin sy ook huil. Sy hou haar stem opsetlik lig.
“Moeder, al kry ek op Witbank die mooiste ou in die hele wêreld wat duimgooi, is hier nie ’n plekkie vir hom in die motor nie, ook nie eens vir ’n krieseltjie maalvleis of ’n ertjie nie. Ons sal nie honger ly nie. Die Handelshuis hou glo kruideniersware aan en leerling-motorwerktuigkundiges kry sakkevol geld. Ek gaan spekvet word. Ma sal sien, die eerste naweek wat ek kom kuier.”
“Sorg dat jou sitplekgordel vas is en onthou: stopstrate en verkeersligte is gemaak om by stil te hou.”
“Ja, Ma. Sê vir Pa as sy motor weer breek, sal ek hom vyf persent afslag gee om dit reg te maak.”
“Ry stadig, kind. As jy probleme het, bel. Laat weet sodra jy daar aangekom het. Onthou om te skryf. En kerk toe te gaan.”
“Ja, Ma.”
“Pas jouself op …”
Dis halfelf voor Nell se oorlaaide rooi Volksie uiteindelik by die motorhek uitry, en sy vir oulaas gemaak vrolik wuif na waar haar ma alleen op die stoep staan en haar voorskoot tussen haar hande verfrommel. Tussendeur vee sy met die agterkant van haar arm oor haar oë. Nell self veg ook teen die trane wat haar uitsig belemmer. Sy is meteens ook bang – bang vir die lang ent pad en dat sy te voortvarend was. Dis die eerste keer dat sy van die huis weg is. Hoewel oupa Mattewis ook familie is, kan hy nie haar eie ouers vervang nie en sy besef sy ken hom nie baie goed nie. Haar pa sê hy is eksentriek en agterstevoor. Haar ma sê hy is ’n heiden. Wat gebeur as sy en oupa Tewis nie stryk nie? As hy nie met haar werk tevrede is nie? As hy klandisie verloor omdat sy nuwe werktuigkundige ’n meisie is? Die boere op die platteland kan glo maar moeilik en bevooroordeeld wees.
Nêrens op Witbank of Middelburg is pragtige ouens wat ryloop nie, net vragmotors vol steenkool wat voor haar insny en dreig om haar van die pad af te druk.
Sy blaas ’n verontwaardigde toeter.
“Gaan stoot jou prêm, jy!” skree die bestuurder van die enorme kolos langs haar. Die bestuurder is groter as die Volkswagen.
Nell het die gebruikte Volkswagen met haar eerste drie maande se salaris by die bank gekoop; eers net genoeg geld vir ’n deposito gehad en die res by haar pa geleen. Toe die volgende agtien maande sonder sakgeld klaargekom om die paaiemente by te bring. Die rooi besie is vir haar kosbaar en sy wil nie van hom ’n konsertina laat word nie. Sy gee pad toe die steenkoollorrie haar in die linkerbaan dwing en skree nie beledigings terug nie. Maar dit doen nie veel vir haar gemoedsrus nie.
Prêm? Dink die bestuurder van die trok sy moet haar liewer met babas in stootwaentjies bemoei as om agter ’n motor se stuur te sit? Dit voorspel niks goeds vir haar nuwe beeld as robuuste, bekwame werktuigkundige nie; wel van antagonisme van manlike chauviniste teenoor ’n rokdraer wat dit op hul terrein waag.
Moet sy omdraai en weer tikster of klerk gaan word? vra Nell haarself af.
Nee, so maklik gee sy nie oor nie. Sy sal die spul mansmense wys: ’n vrou is net soveel as ’n mansmens werd. Oupa Tewis se vorige werktuigkundige was lui en onbekwaam, onbetroubaar en agtelosig. Sy sal die hele dorp wys sy kan die werk beter as Piet Booysen … of enigeen … doen.
“Ja, en jy ook!” roep sy die padvark in die trok agterna. Sy hou by ’n sementtafeltjie langs die pad stil om haar humeur en die Volksie se enjin te laat afkoel en die padkos te eet wat haar ma ingepak het.
Op die breë nasionale pad van Nelspruit af vorder sy goed tot duskant Hoedspruit, waar sy op ’n grondpad afdraai. Kuilvlei is nog negentig kilometer verder aan, volgens die kaart en haar pa se aanwysings. Nog omtrent ’n uur se ry, reken sy uit. Sy hoort voor vyfuur daar te wees.
Maar om halfses is daar nog geen teken van die dorp nie. As kind het hulle af en toe by haar oupa gaan kuier en Nell onthou Kuilvlei lê tussen twee plat koppies. Maar om haar is net vlakte, met ’n berg ver vorentoe op die horison, onder swaar, loodgrys wolke. Dit gaan reën, besef sy.
Dit word vinnig skemer en sy wil nie in die donker op ’n modderige grondpad sit nie. Sy trap die brandstofpedaal dieper weg en kyk bekommerd om haar rond. Wat het sy haar ma belowe? Dat sy nie sal verdwaal nie. Was daar ’n bordjie met Kuilvlei op, daar waar sy van die teerpad afgedraai het? Sy kan nie onthou nie. Sy hou stil, skakel die dakliggie aan en kyk weer na die kaart. Die grondpad is ongeveer tien kilometer duskant Hoedspruit. Het sy reg afgedraai of moes sy nog aangehou het? Sy weet nie.
Terugdraai teerpad toe? Dis twee uur se ry en haar brandstof is nie genoeg nie. Sy wou nie netnou op Acornhoek of Klaserie petrol ingooi nie, maar liewer haar oupa se vulstasie ondersteun en die tenk by Strydom Motors volmaak. Maar sy het nie daarmee rekening gehou dat sy kan verdwaal nie. Hier bly sit, kan sy ook nie, besef Nell en skakel die enjin aan. Dié pad moet die een of ander plek heen lei. Dalk ’n plaas of ’n ander dorp, waar sy sal kan pad vra. ’n Donderslag knal en skielik is dit asof die sluise oopgaan. Dit giet; hael en reën deurmekaar. Die veërs kan nie voorbly nie.
In die swak lig en deur die gordyn water kan sy dofweg uitmaak dat die pad vurk. Albei paaie lyk ewe hobbelrig en smal. Links of regs? Deur die gladde modder bokspring die stuurwiel onder haar hande, soos ’n jong perd wat nog nie ingebreek is nie. Sy het nie ’n hand vry om ’n muntstuk op te gooi nie. Sy draai links.
Onmiddellik wonder sy of regs nie beter sou gewees het nie. Die paadjie word al smaller; dis ’n see van water en los klippe. Sy ry deur ’n hek, sonder om dit raak te sien. Twee dowwe motorspore kronkel deur bosse en bome, ’n afdraande af en deur ’n laagte. Halfpad deur ’n driffie doem ’n swart gedaante plotseling in die motorligte op, reg in die middel van die windskerm.
Tot dusver het Nell kalm probeer bly, haarself gemaan om nie paniekbevange te raak nie. Sy is egter nie aan modder en grondpaaie gewoond nie en die donker gedaante laat haar skrik. Haar eerste gedagte is om haar voet van die brandstofpedaal af te ruk en rem te trap terwyl sy terselfdertyd die stuurwiel swaai.
Die remme slaan vas en die bande gly. Die motor swaai dwars, ploeg nog ’n paar meter ver deur ’n sproeireën van modder en tref toe die obstruksie met ’n dowwe slag.
Nell se voorkop tref die voorruit met ’n slag wat haar sterretjies laat sien. ’n Skerp pyn flits deur haar skouer en ’n oomblik lank word alles om haar donker. Haar oë kan nie fokus nie; om haar is ’n waas van watte en newels.
Toe sy weer kan registreer, is alles reeds donker. Die motor se een lig is dood en die ander een dof en skeef. Blykbaar is die glas gebreek, of die kabels gebuig. Sy weet nie watter ander skade daar nóg is nie. Sy vryf met ’n bewerige hand oor haar oë en probeer uitmaak wat sy getref het.
Dis ’n bees. Koei of bul en of sy/hy beseer is, kan sy nie sien nie. Net dat die groot, swart affêre nog steeds vierkantig in die middel van die pad staan en lyk asof hy regmaak om die kleiner rooi besie te bestorm.
“Af! Voertsek!” skree Nell.
Sy/hy verstaan blykbaar nie hondetaal nie. Áf, wat haar/hom betref, beteken kóm. Die dier mik in haar rigting en trap ’n paar sentimeter nader.
Die toeter werk nie meer nie. Nell draai die venster af en slaan met haar hand teen die motor se bakwerk.
“Loop! Gee pad!” probeer sy die dierasie verwilder. Die oë gloei rooi en aggressief. Dis ’n bul – ’n Afrikanerbul. Hy laat sy kop dreigend sak en karring met ’n voorhoef in die modder.
Nell het ’n goeie uitsig van die ontsaglike paar horings en die bergagtige skof. As die monster wil, kan hy haar en die Volksie deurboor en hulle dan met sy skouer uit die pad vee.
Dit is skynbaar presies wat hy beoog.
Wat inspuitings, tandarts en eksamenskryf betref, is Nell dapper. Selfs in donderstorms op modderpaaie en deur vol driwwe. Maar dié krisis is te veel vir haar laaste bietjie moed. Sy pluk die Volksie se deur oop, spring uit en lê rieme neer.
Hael en emmersvol water tref haar in die gesig. Dit voel asof sy besig is om te verdrink. Die wolke rammel en ’n weerligstraal knal teen die dolomietkoppie agter haar. Nell koes verskrik en skerm met die arm vir haar oë. Toe ontdek sy ’n boom waaronder sy kan skuil. Die takke is dig en die stam dik genoeg om as ’n buffer tussen haar en die oorlogsugtige bul te dien.
Of het die arme ding seergekry? wonder sy. Dié dat hy in so ’n slegte humeur is? Sy probeer uitmaak waar die bul is. Toe sy vaagweg ’n ligkolletjie deur die bosse opmerk, dink sy dis weer die ongedierte se twee gloeiende oë, maar toe besef sy dis net een ligkol en vanuit die verkeerde rigting. ’n Lamp, besluit sy. Of ’n lantern.
“Hallo?” roep ’n besorgde stem.
Nell voel om uit dankbaarheid die persoon om die nek te val. Sy het nie gedink sy kom in die verstikkende duisternis ooit weer by die beskawing uit of hoor weer ’n ander mens se stem nie.
Die lamp swaai soekend heen en weer. “Waar is julle?”
“Hier!” antwoord Nell. “En dis net ekke.”
’n Oomblik lank verbeel Nell haar dat die lig huiwer en toe vassteek. Die stem antwoord nie.
Ja, natuurlik weer ’n verdekselse vroumens, dink Dewald ergerlik waar hy met moeite deur die drif en die modder ’n sypad baan. Hy moes dit verwag het. Net ’n ellendige vroumens sal onnosel genoeg wees om dit in hierdie weer en tussen diere deur ’n vol spruit te waag. As hy dít geweet het, het hy lekker droog en warm in sy sitkamer voor die televisie bly sit, die motorligte geïgnoreer en haar aan haar genade oorgelaat. Geen vroumens is ’n natreën, modderbesmeerde klere en al die ergernis werd nie; dit het hy in die verlede uit dure ondervinding geleer.
“Ekke?” herhaal hy, nie meer heeltemal so besorg soos voorheen nie, maar hy draai nie om nie. Hy hoort darem seker na die meisiemens om te sien en haar te help … “Wie is ‘ekke’? Oom Joop van Biesiesfontein se dogter? Wat die naweek kom kuier?”
Nell hoor nie mooi nie. “Oom Joop wie?”
Dewald Muller maak ’n ongeduldige gebaar wat Nell gelukkig nie sien nie. Wat maak dit saak oom wie? Sy is heel duidelik nie sy dogter nie. Selfs Annelize wat agtien en eerstejaar op universiteit is, of Lezette in standerd nege sal meer verstand hê as om dit in so ’n storm uit plaas toe te waag.
“Waar is jy?” vra Dewald kortaf.
Nell vergeet haar gretigheid om haar weldoener uit dankbaarheid om die nek te val. Te oordeel aan die koel stemtoon sal hy haar summier in die spruit gooi as sy so iets durf waag.
“Onder die boom,” antwoord sy in ’n klein stemmetjie.
Dewald kyk om hom na die veld vol bome en struike. “Watter boom?” vra hy met ’n goeie nabootsing van geduld.
In die donker beskou Nell die stam, die takke en die blare. “Ek weet nie …” aarsel sy. “Ek kan nie mooi sien nie. Dit kan ’n maroela of dalk ’n hardekool wees. Die blare lyk baie eenders.”
Dewald onderdruk ’n antwoord wat die meisiekind nie graag sou wou hoor nie. ‘Die blare lyk eenders …’ Waar dink sy is sy? In ’n botaniese tuin of by ’n boomskou? Hy wil maar net weet hoe om haar so gou moontlik te bereik.
Dewald vertrou nie op verdere aanwysings van Nell nie. Hy loop in die rigting van waar haar stem gekom het.
’n Oomblik later skyn die straal van die skietlamp op haar waar sy bedremmeld, sopnat, modderbespat en met ’n bloedstreep oor haar voorkop aan die boomstam vasklou.
Die eienaar van die kortaf en kritiese stem is lank en breedgeskouer met donker hare. Volgens wat Nell van hom kan uitmaak, besonder manlik en aantreklik.
“Is jy beseer?” wil hy weet.
Nell roer ondersoekend haar arms en albei bene. Alles is nog heel.
“Ek makeer niks nie.”
Die lig skyn in haar gesig. “En die bloed aan jou kop? Waar kom dit vandaan?”
Toe Nell haar hand lig om dit weg te vee, voel sy weer die steekpyn deur haar arm. Sy sê egter niks nie, want sy het die man reeds te veel ergernis veroorsaak.
“Dis niks. Net ’n skraap.”
“Ek glo nie. Jou skouer het ook seergekry. Jy moet liewer saamkom huis toe sodat ek daarna kan kyk.” Hy klink teësinnig. Dis duidelik dat hy slegs uit plig hulp aanbied.
“Nee dankie,” antwoord Nell styf. “Ek wil jou nie moeite aandoen nie.”
Dewald is deurnat en nie lus om in die reën te staan en stry nie. Hy is ook haastig om te gaan kyk watter lot die jongste toevoeging tot sy stoetery getref het. Dit moes die Afrikanerbul gewees het wat hy saam met die harde slag gehoor bulk het. In hierdie kamp loop net die bul … wat die vroumens blykbaar raakgery het. Waaroor sy nie juis jammer of verskonend lyk nie.
“Dis meer moeite as ons al twee longontsteking kry of as jy jou doodbloei of omkap.” Hy neem Nell aan haar gesonde arm. “Kom!”
Sy rem weg. “Ek sal self regkom, dankie.”
Sy is doodsbleek en lyk asof die volgende donderslag haar tot bo in die boom sal laat opklouter. Sy lyk skaars agtien – die tipiese tiener met kenmerkende koppigheid wat Dewald besonder irriterend vind.
“Wat is jy?” vra hy koel. “Oordrewe preuts? Bang oor jou deugdelikheid? Jy is optimisties, Juffie. Ek stel nie in jou of jou geslagsgenote se bates belang nie.”
Dit was ’n lang dag. Nell is moeg en ly aan skok. Die hou teen haar kop was hewig. Sy is naar en bewerig en nie haarself nie.
“Optimisties?” herhaal sy skril. Wat dink die verwaande skepsel van homself? Dat hy onweerstaanbaar is? “Dink jy ek stel in jóú kastige bates belang, Meneer? Ek sal nie dat jy met handskoene aan my raak nie. Soos ek gesê het, sal ek alleen oor die weg kom.” Sy draai om en stap weg na waar haar motor tot teen sy as in die drif lê. Sy sal hom self uitgesleep en aan die gang kry. Sy het nie Apollo’s en spiermanne in haar lewe nodig nie, besluit sy.
Toe egter gewaar sy die antagonistiese bees wat snorkend aan die windskerm snuif.
Of hét sy hulle nodig?