Читать книгу Rabbedoe en rissiepit - Ettie Bierman - Страница 4

2

Оглавление

Die Afrikanerbul lyk soos ’n lokomotief. En klink ook soos een. Toe Nell nader kom, vind hy dié nuwe prooi aanlokliker as die Volkswagen. Met ’n proesgeluid swaai hy om, trippel rond om stoom op te bou en blaas deur sy neusgate. Toe laat hy sy kop sak …

Twee moordaanvalle op een aand is te erg. Nell vergeet haar trots en waardigheid, vlieg om en laat vat. Dit was ’n goeie wegspring vir ’n naelloop. Ook het sy genoeg vaart en stamina. Maar omkyk is vir enige atleet fataal. Toe sy beangs oor haar skouer loer om te sien waar haar agtervolger is, sien sy nie die poel modderwater waarop sy afpyl nie.

Een oomblik voel sy nog verlig omdat daar nie dreunende hoewe kort op haar hakke is nie. Die volgende oomblik trap haar regtervoet net lug raak. Waar die grond veronderstel was om te wees, is niks … eers niks, toe water. Sy struikel en val vooroor – hande, elmboë, gesig … in daardie volgorde. Toe die res van haar anatomie met ’n plasgeluid tot op die bodem van die modderpoel. Dis asof ’n mes in haar knie steek. Sy stik in ’n stuk taai slik. Hande-viervoet draai sy angstig haar kop om te luister. Sy kom nou eers agter die reën het opgehou. Alles is doodstil – geen druisende hoewe of blasende gevaartes wat haar wil vermorsel nie.

Sy vryf met ’n bewende hand oor haar oë, verwyder genoeg modder om die figuur op die poel se rand te kan uitmaak. Sowaar besig om vir haar te lag.

Nell stik opnuut. Sy het seergekry en hy vind dit grappig?

Dewald kry die klein rissiepit in werklikheid ’n bietjie jammer. Al is sy ’n meisiekind en skaars twee bakstene hoog, het sy nogal durf in haar. Sy lyk nie die soort meisie wat bejammer wil word nie; om te simpatiseer sal dus die situasie vererger. Liewer die ongrasieuse neerslanery ligweg hanteer en haar tyd gee om tot verhaal te kom.

“Voel jy nie wel nie, Juffie? Of oefen jy vir die Comrades?”

Nell gluur hom aan. Nog sarkasties ook … met ’n verwronge sin vir humor. As ’n kyk die aarde kon laat oopskeur, het ’n modderpoel hom ook nou ingesluk.

“Jy sal ook nie wel voel as ’n simpele ongedierte van jou motor ’n wrak maak en sy bes doen om dieselfde met jou te doen nie,” kap sy terug.

“’n Simpele ongedierte” … Die neerhalende verwysing na sy peperduur, opregte stoetbul laat Dewald se glimlag glip. ’n Troos is darem dat die bul op die oog af niks oorgekom het nie.

Om die ontstoke meisie te paai, verduidelik hy: “Jonatan is sagmoedig. Hy sal nie mens aanval nie. Jy het onnodig geskrik en op loop gesit.”

Nell lyk skepties.

“Kyk …” beduie Dewald met sy wysvinger.

Die dierasie onder bespreking is rustig aan ’t wei. Jonatan Muller kyk nie op toe die lig van die skietlamp op hom skyn nie, steur hom nie verder aan Nell nie. Nell voel ’n gek. Miskien hét sy te gou op hol geraak en kop verloor. “Hy het baie duidelik gereed gemaak om te storm,” sê sy verdedigend.

“Beeste maak meer op hul reuksintuig as hul gesig staat. Die wind waai seker van die verkeerde kant, daarom kon hy nie ruik nie en moes op sy oë vertrou. Hy het sy kop laat sak om beter te kan sien, nie noodwendig omdat hy wou storm nie.”

“En sy oë wat so rooi gegloei het, soos twee vurige kole?” vra Nell, nog onoortuig.

Dewald kyk na die Volkswagen waarvan een lig nog skeef die lug in wys. “Die weerkaatsing van jou ligte, plus jou oorvrugbare verbeelding. Het jy nog nooit ’n haas of ’n ystervark se oë in jou motorligte sien blink nie?”

“Nee,” erken Nell. Die modderbad en die verraderlike bul het veroorsaak dat sy die eerste twee rondes teen die alwetende vent verloor het. Maar van die derde een is sy seker. Dié ronde is hare …

“Jonatan?” vra sy. “Behoort die bees aan jou?”

Dewald knik. Hy is haastig om van sy nat klere en die meisiekind ontslae te raak.

“Weet jy nie dat loslopende diere op ’n openbare pad lewensgevaarlik is nie?” wil Nell weet. “Het jy nog nie van drade en omheinings gehoor nie?”

Dewald frons. “’n Watse pad?”

“’n Publieke pad. Dis teen die wet om jou beeste nie in kampe te hou nie. Ek kan ’n eis van skadevergoeding teen jou instel.”

Dewald is ergerlik. “Juffrou, as jy jou oë oopgemaak het, het jy die twee hekke gesien waardeur jy soos ’n besetene gejaag het. Jy is nie op Kyalami of ’n nasionale snelweg nie. Nie eens ’n pad nie, hetsy openbaar of publiek. Dis mý plaas. Om presies te wees, ’n beeskamp, deeglik omhein.”

“O …” Daar is niks anders om te sê nie. Nell is skaam en verleë.

Sy het een skoen verloor. Sy buk af om daarna te soek sodat sy ’n verskoning het om nie op te kyk nie.

“Jy gaan siek word in daardie nat klere en ontsteking in die wond kry,” sê Dewald ongeduldig. “Kom! My huis is hier naby.”

Toe dit lyk asof sy weer wil teëpraat, kry hy haar onseremonieel aan haar hempskraag en die naat van haar langbroek beet en sleep haar uit die modder tot op droër grond. Met sy hand stewig om haar elmboog begin hy aantap huis toe.

Nell loop mank en sukkel om by te hou, maar dit lyk nie asof hy hom daaraan steur nie. Hy het nie rede om simpatiek teenoor haar te wees nie, dink sy. Hy sou haar seker eerder vir Jonatan se aandete gelos het.

“Ek is jammer oor die bees … bul,” hakkel sy uitasem. “Is hy beseer?”

Dewald stap vinniger, verby ’n dam en met ’n laning op, onder twee rye jakarandabome deur. “Nee, nie te erg nie.”

“Ek het verdwaal,” probeer Nell verduidelik. “Iewers het ek verkeerd afgedraai en toe sien ek ’n storm is op pad. Dalk het ek ’n bietjie vinnig gery, maar ek het nie gejaag nie. Ek is ’n goeie bestuurder en gewoonlik ryk ek baie versigtig.”

Dewald sê nie wat hy wil sê nie. “Waarheen was jy op pad?”

“Na Kuilvlei.”

“Jy het heeltemal in die verkeerde rigting gery. Die dorp lê suid.”

“O …” sê Nell weer. Sy waag dit nie om te vra hoe ver suid nie. Nou eers sien sy die huis – ’n dubbelverdiepinggrasdak, omring deur digte bome en tropiese plante. In die donker lyk dit soos ’n park. In die verte blink ’n swembad en daaragter is ’n tennisbaan. Die boer is klaarblyklik welgesteld.

Waarom gaan hy dan so te kere oor een simpel bees? Hy kan seker nog baie ander koop. Maar waarmee gaan sý ’n ander motor koop? Of is die Volksie nog rybaar? Sy sal oupa Tewis se insleeptrok leen en die motor in haar vrye tyd probeer herstel. Sodra sy geleer het hóé dit gedoen word.

Dewald neem Nell oor die breë stoep, by ’n indrukwekkende tambotiehout-voordeur in en in ’n gang af tot in die kombuis.

“Sit!” beveel hy.

Nell neem op die randjie van ’n riempiestoel plaas. Terwyl hy weg is om salf, pleister en verbande te gaan haal, het sy tyd om om haar rond te kyk. Die kombuis is skoon en netjies, goed georganiseerd en elke ding op sy plek. Dit lyk nie soos ’n kombuis wat aan ’n alleenlopende man behoort nie. Het hy ’n vrou? Dit het nie so geklink nie. Hy het tog gesê hy stel nie in haar of haar geslagsgenote se bates belang nie. Lankal nie meer nie. Is hy dalk geskei? “Lankal” klink asof hy stokoud is. Hoe oud is hy? Nell raai tussen vyf-en- twintig en dertig. Dalk is hy ’n oujongkêrel. Niemand kan sê die ou is lelik nie. Inteendeel, as sy gesig nie die hele tyd soos ’n donderwolk lyk nie, hoort hy nogal aantreklik te wees. Hoewel hy breë skouers het, is die res van hom skraal. Nee, eerder lenig, besluit sy. Sy oë is … bruin? Blou? Sy kon nie sien nie. Miskien ’n groenerige bruin of …

“… of is jou nek seer?” vra Dewald.

Nell het hom nie hoor inkom nie. Sê nou hy kon agterkom waaraan sy dink? Sy voel ’n warm blos van haar hals af in haar gesig opstoot. Liewe land, dink sy, ek is mos nie meer sestien nie.

Wat het van haar voorneme geword om die manne van die Laeveld te wys sy is net so prakties en bekwaam soos hulle? Sy kan ’n beter werktuigkundige as enigeen van hulle wees? Dit lyk nie so nie. Nie as sy die eerste keer dat sy een van hulle ontmoet, in drome versink en soos ’n bakvissie bloos nie.

“Ee … Ekskuus?” stamel sy verleë.

Hy staan met ’n skottel stomende water en watte voor haar.

“Ek vra of jy jou kop kan oplig, Juffrou. Of is jou nek seer?”

“Nee. Nee, dis nie seer nie.” Nell sit penorent asof sy ’n besemstok ingesluk het en vee die hare van haar voorkop weg sodat hulle nie oor die wond hang nie. Sy hou haar oë vasgenael op sy vyfde hempsknoop wat vlak voor haar gesig sit en sit roerloos, al brand die warm water en ontsmettingsmiddel in die sny. Toe hy weg draai om die buis salf op die tafel by te kom, druk sy heup per ongeluk teen haar arm. Deur sy broek kan sy die hitte van sy lyf voel deurslaan.

Sy probeer desperaat aan iets dink om die ongemaklike stilte te verbreek, maar haar brein voel afgestomp.

“D … Dankie,” hakkel sy. Ook dit klink verspot.

Dewald plaas gaasverband op die wond, en ’n pleister bo-oor. Al het dit baie gebloei, is die sny nie diep nie. Hy glo nie steke sal nodig wees nie. Die skouer lyk ook nie te erg nie. Waarskynlik net ’n verrekte spier wat binne ’n dag of twee sal reg wees.

“Wat kom jy op Kuilvlei doen?” wil hy weet.

“Werk.”

“Wérk?”

Nell waag ’n vlugtige blik na sy gesig. Sy wenkbroue is saamgetrek asof hy haar nie glo nie. Bruin, sien sy, sy oë is donkerbruin met groen vlekkies om die iris.

“Ek is my oupa se nuwe motorwerktuigkundige.” Hoekom klink sy so op die verdediging? So asof sy vooraf verskoning maak. “Die man wat hy voorheen gehad het, het hom in die steek gelaat,” gaan sy voort. “Hy het sommer een nag sy goed gevat en verdwyn, sonder ’n verduideliking.”

“Piet Booysen, ja.” Dewald kyk haar ondersoekend op en af. “Is jy Nellie?”

“Nell,” korrigeer sy. “Net oupa Tewis noem my nog Nellie, soos toe ek klein was.”

Sy is nie nou juis groot nie, dink Dewald. Of meer volwasse nie. Motorwerktuigkundige? Dié enetjie? Dan was selfs ou skelm Piet ’n beter belegging. Oupa Tewis raak op sy oudag seniel. Hy moet sy kop laat lees of aftree. Hy kan jare al nie meer die werk behartig nie. Dewald glo nie hierdie klein snip sal hoegenaamd ’n bydrae kan lewer om Strydom Motors weer ’n winsgewende onderneming te maak nie. Oupa Tewis moet op pensioen gaan, daardie bosveldplasie koop. Daar sal hy minder probleme hê as by die motorhawe, veral as sy kleindogter teruggaan van waar sy kom.

“Ken jy my oupa?” vra Nell.

“Op Kuilvlei ken almal mekaar. Ek sal jou inneem dorp toe. Hy verwag jou seker?”

“Ja. Van vroegmiddag al.”

“Dan sal hy bekommerd wees. Terwyl ek vir jou droë klere soek, kan jy hom bel en gerusstel.”

“Asseblief.”

“Die telefoon is in die studeerkamer. Af in die gang, derde deur regs.”

Nell staan op. Eers toe sy by die kombuisdeur is, merk Dewald op dat sy mank loop. “Wat het van jou skoen geword?” vra hy. “En wat gaan met jou been aan?”

“Ek weet nie waar is dié skoen nie,” skerm Nell. Dié het in die modder agtergebly toe hy haar sonder ontsag daar uitgesleep het, sy was te bang om verder sy tyd te mors deur na die skoen te soek.

“En wat is dit met jou knie?”

“’n Skraap of iets. Niks ernstig nie.”

“Laat ek sien …”

“Of net ’n kneusing … Ek sal regkom, dankie.”

Dewald mompel ’n woord wat Nell nie ken nie. Regkom, ja, soos die afgelope paar uur, en vir almal ’n erger las word … Hy pluk Nell aan die arm terug en stoot haar weer in die rigting van die riempiestoel.

Nell het nie ’n keuse nie. Die boer, wat ook al sy naam is, mag ryk en aantreklik wees, maar hy openbaar nie juis goeie maniere nie, dink sy.

Dewald kom sit op sy hurke voor haar en fluit saggies tussen sy tande deur. “Dit lyk sleg … jou knie is erger as ’n bulsak geswel en die bloed syfer deur jou broekspyp. Het iemand al vir jou gesê koppigheid is besonder irriterend, Nellie? Dit veroorsaak dat die persoon vir almal ’n las word. Jou oupa sal nie verband en medisynes hê nie en Kuilvlei het nie ’n apteek nie, wat nog te sê ’n noodapteek wat dié tyd van die aand oop sal wees. Hy sou ’n dokter moes bel om uit te kom. Jy is mos nie stom nie. Kon jy nie jou mond oopmaak en sê die knie is erger as die sny aan jou kop nie?”

Nell wil skielik huil. Haar hoofpyn is erger, haar knie voel of dit aan die brand is en sy verlang na haar ma en pa.

“Asseblief, ek wil eers my oupa bel …” vra sy.

“Ja, bel. Ek soek intussen klere wat jou sal pas.”

Dis ’n plaaslyn en die telefoon het ’n slinger. Nell weet nie hoe om die “kontrêpsie” te hanteer nie. Toe sy die gehoorbuis optel, gebeur niks nie en wanneer sy die slinger draai, klink dit of sy op ’n satelliet in die buiteruim is.

“Kom jy reg?” verneem Dewald toe hy ’n keer in die gang verbystap.

“Ja, nou-nou …”

’n Kwartier later kom hy weer verby. “Ek moes geraai het jy is ’n bedorwe stadsjapie wat aan knoppiesdruk en alles wat outomaties is, gewoond is. Los die spreekbuis op die mik en draai die slinger. Nee, nie so nie. Draai hom! Soos mens room karring.”

Toe Nell steeds nie resultate kry nie, neem hy oor. Sy aksies verrig wondere. Binne drie tellings antwoord die sentrale.

“Oupa Tewis, asseblief, Laetitia,” versoek Dewald en oorhandig die gehoorbuis aan Nell.

“202, Strydom hier van Strydom Motors,” sê ’n krakerige oumanstemmetjie in haar oor. Sedert halfelf vanoggend is dit die eerste vriendelike stem wat sy hoor.

“Oupa? Hallo? Kan Oupa my hoor?”

“Natuurlik kan ek jou hoor, kind. Ek is oud, maar g’n doof nie. Ek kyk al van douvoor uit en al wat kom, is jy. Die vuur is al uitgebrand en die tjoppe houtskool. Wáár is jy?”

“Ek weet nie. Êrens op ’n plaas, maar waar dit is en wie die man is wat my gehelp het, weet ek nie.”

“Watse man? Vir wat moes hy jou help?”

“Ek het verdwaal en ’n ongeluk gemaak.”

“Ja, mens verdwaal maklik per ongeluk as jy nie die pad ken nie.”

“’n Ongeluk,” herhaal Nell. Oupa Tewis sukkel al jare met sy gehoor, maar weier om dit te erken of ’n gehoorapparaat te dra. “Niks ernstig nie. My motor is bietjie verniel, maar ek is ongedeerd.”

“Omgeweerd? Bedoel jy omgesukkel? Vir wat?” Hy gaan strydlustig voort: “Oor daardie man? Het hy met jou gesukkel, Nellie-kind? Jou gemolesteer? Wie is die kakiebos? Vra hom, laat ek my haelgeweer kan vat en die stuk onkruid gaan regsien.”

Oupa Tewis is erger as gewoonlik. Seker omdat hy bekommerd was oor haar. Sy stem is skril en deurdringend. Nell kan maar net hoop dis nie deur die hele huis hoorbaar nie. Om aan die veilige kant te wees, praat sy ook sagter en hou haar helfte van die gesprek neutraal en versigtig.

“Ek glo nie dit sal nodig wees nie, Oupa.”

“Vat hy aan my kleindogter, vat hy aan my. So ’n landsvuilis! Waar is hy?”

“Dis in hierdie stadium moeilik om te sê,” skerm Nell.

“Wat praat jy so snaaks? So of jy ’n dominee is?” vra haar oupa agterdogtig. “Of pap in jou mond het? Wat is verkeerd? Luister die vuilgoed jou af?”

“Ek glo nie, Oupa,” antwoord Nell en probeer die onderwerp verander. “Ek is jammer oor die vuur en die tjops. Sit solank ’n nuwe stomp hout op. Ek is nou-nou daar. Of netnou, afhangende hoe ver dit is.”

“Wat moet ek opsit?”

“Hout en koffiewater. Die aand is nog jonk en ons twee het mekaar lank laas gesien. Ek het verlang en ons het baie om oor te praat. Sit ’n groot stomp en ’n groot ketel water vir die groot gesels op.”

“Het jy gesê jou kar is verniel? Hoe gaan jy hier kom, Nellie?”

“Die man sal my bring.” Nell gee hom nie kans om weer allerhande dreigemente kwyt te raak nie. “Nou maar reg … Sien Oupa later. Tot siens.”

“Reggekom?” vra Dewald toe sy uit die studeerkamer kom.

“Ja, dankie.”

Hy glimlag vlugtig. “Gaaf. Oupa Tewie kan soms moeilik wees. Ek is bly jy voel jy het reggekom.”

Nell kyk vinnig na hom. Kon hy die gesprek volg? Of meer daaruit aflei was wat sy gedink het?

Die glimlag was vir oupa Tewis, nie vir haar nie. Dis weg toe hy ’n swemjurk of iets na Nell uithou. “Dis al wat ek kon opspoor vir jou om aan te trek.”

“My klere is so te sê droog. Ek hoef nie ander aan te trek nie, dankie.”

“Ek kan sien na wie jy aard.” Hy is opnuut ongeduldig. “Of jou klere droog of nat is, kom nie daarop aan nie. Hoe dink jy gaan jy daardie broekspyp oor jou knie opgerol kry?”

Nell ruk en pluk en rem, maar hy was reg. Haar knie is te veel geswel dat sy die broekspyp kan oprol.

“Jou oupa wag. Trek daardie ding aan terwyl ek stywe verbande en ys gaan haal,” gebied hy.

Die jurk het nie knope nie en Nell het nie haakspelde nie. Toe hy later met die verband en ’n beker ysblokkies terugkom, staan Nell steeds in die gang voor die studeerkamer.

Dewald tel stadig tot by tien. Die help nie veel nie. “Genugtig, vroumens, dink jy ek het nog nooit ’n meisie se knie gesien nie? Wat is so besonders aan joune? Óf jy trek daardie langbroek uit, óf ek help jou. Kies wat vir jou die maklikste is.”

Nell het nie ’n keuse nie. Sy retireer haastig in die studeerkamer in.

“Daar is ’n sleutel in die slot en ’n grendel aan die deur, as dit jou veiliger sal laat voel!” roep Dewald haar agterna. “Kom kombuis toe wanneer jy klaar is.”

Nell is klaar, lank voor hy terugkom. Sy sit weer op dieselfde riempiestoel, nog met haar klam hemp aan en haar nat seilbroek opgebondel en krampagtig op haar skoot vasgeklem, saam met die onderpunt van die pienk strandjurk.

Dewald hurk voor Nell om haar opgehewe knie te beskou. Dit lyk erger as wat hy verwag het en moes baie pynlik gewees het. Hy is verbaas dat die meisiekind nie gekla het nie. Hoe sy van die drif af tot by die huis gekom het, verstom hom. Die vel is afgestroop en van die ligamente kan moontlik geskeur wees. Hy verwyder die vuiligheid en ontsmet die skraapmerke aan die binnekant van haar been. Daar moes ’n skerp klip of iets gewees het.

“Waaroor die histerie?” vra hy. “Is jy nog nooit deur ’n dokter ondersoek nie?”

“Ja.” Nell byt haar onderlip vas en wag tot die ontsmetmiddel se ergste brand verby is. “Maar dis nie ’n spreekkamer dié nie. En … En jy is nie ’n dokter nie.”

“En daar is ook nie ’n ontvangsdame en ’n verpleegster naby nie …” Dewald kyk ’n oomblik op na Nell. “As dit jou sal troos: Ek het drie jaar lank vir veearts geswot voor ek kom boer het.”

Nell antwoord nie. Die salf het vir die sny aan haar kop gehelp, maar aan haar knie voel dit witwarm en asof naalde deur haar hele been steek. Al wat sy begeer, is om by die huis te kom en in ’n bed te klim en tot oormôre te slaap. Asseblief, vra sy, oupa Tewis moenie dwars wees netnou wanneer hulle op die dorp kom nie. Sy is oormoeg en haar hele lyf pyn. Die hoofpyn klop met hamerslae teen haar slape en sy het nie veel selfbeheersing oor nie …

Die yswater voel soos ’n lafenis teen die swelsel en die verband ondersteun die seerplekke. Al is die veearts aan beeste en skape gewoond, is hy nogal handig. Wat sou sy op Kuilvlei aangevang het, sonder ’n apteek en met net oupa Tewis om na haar om te sien?

“Dankie,” sê Nell ongemaklik. “Ek is jammer oor die bul en dat jy in die reën moes uitkom. En … jammer dat ek so ’n oorlas van myself gemaak het.”

Dewald se stem is meer kortaf as wat hy bedoel het. “Plesier. Hou die knie dop. As daar ontsteking is, gaan dokter toe. Ek sal jou dorp toe neem. Sien jy kans om tot by die motorhuis te loop?”

Nell meet die afstand. “Is dit nader as van die bul af huis toe?”

“Ja. Of moet ek jou dra?”

Nell sukkel regop en soek haar handsak. “Nee! Ek bedoel, nee dankie, dis nie nodig nie. Dankie dat jy my gaan wegbring. Anders sou my oupa nog érger ontsteld gewees het …”

Dewald raai wat sy bedoel, sonder dat hy die gesprek kon hoor wat uit die studeerkamer gevoer is. Hy ken oupa Mattewis Strydom goed. Hy het ook al ’n stel of wat met die stroom-op oudstryder afgetrap en dis maar onlangs dat hy en sy buurman vriende geword het.

“Is jy reg dat ons kan ry?” vra hy.

Rabbedoe en rissiepit

Подняться наверх