Читать книгу Die hart se tweede lente - Ettie Bierman - Страница 3
1
ОглавлениеKara is laat. Sy draf om haar woonstel se vensters toe te maak en haar potplante oplaas nat te gooi. Haar bak goudvissies gaan by ’n vriendin bly vir die week wat sy op haar eerste internasionale vlug weg sal wees.
Sy dra die bak en die houer kosvlokkies af na haar motor toe en stut dit met opgerolde koerante op die voorste sitplek. Daarna gaan haal sy haar tas en kajuitsak.
Sy neem haar sleutels en sit die pers pet van Jakaranda-Lugdiens oor haar lang, blonde hare op haar kop. Dan trek sy die voordeur agter haar toe.
“Lekker vlieg!” roep die opsigter haar agterna toe sy in die gang verbykom. “Moenie by die venster uitval nie! Sê groete vir Windhoek en Zürich!”
“Dankie, Olga.”
“Bring vir my ’n berg vol sneeu terug!”
“Ek sal die Jungfrau bring,” belowe Kara. “As ek hom in my tas kan kry.”
Lugdiensvervoer het die oggend gebel om te sê hulle het probleme met voertuie en bemanningslede moet van hulle eie vervoer gebruik maak vir onder meer vlug JA 313. Kara hoop net haar Noagse Volkswagen vat en doen wat van hom verwag word. Volkie was die afgelope tyd vol nukke en grille; die koppelaar en die remme lol.
As sy laat opdaag, sal die roosterklerk die junior waardin van die noodbemanning in haar plek laat vlieg – en dan moet sy tuisbly. Ná al die uitsien. Ná ’n jaar van swoeg en sweet op binnelandse vlugte. Die klimtol Durban toe en terug, en weer soontoe en weer terug. Die melkskommel om die kus, en die blomkoolroete Upington toe; so genoem vanweë die laatmiddag-wolkmassas wat soos geil blomkoolkoppe lyk en veroorsaak dat die vloer plotseling onder jou voete wegsak nes jy met ’n volgelaaide skinkbord in die gang staan.
Volkie besluit om hom te gedra. Die enjin vuur onmiddellik toe Kara die sleutel draai.
“Dankie, ou vriendjie,” bedank sy hom en druk ’n soen op die stuurwiel. “Jy kan na dese sewe dae lank uitspan terwyl ek weg is. Daarná sal ek jou ’n lekker skuimbad gee.”
Die vroegaand-spitsverkeer is druk. Kara vergeet van Namibië, van die Alpe en Lugano en kaasfondue in Switserland en konsentreer op die ratte en remme, wat nie heeltemal reg voel nie. By Spartan kry sy die verkeer van fabriekswerkers wat haastig is huis toe, en op die Kemptonpark-pad honderde voertuie in die rigting van die lughawe.
Skuins voor haar ry ’n rooi sportmotor. Toe Kara sien hoe skoon die uitlaatpyp gebrand is, besluit sy die eienaar weet wat hy doen en sy versnel effens om hom te volg. Dan skuif sy agter hom in die regterbaan in, wat vinniger vloei. Dit sal haar hopelik ’n paar minute spaar.
Het sy ooit genoeg klere ingepak? In Windhoek bly hulle net een nag en sy het ’n koel rok vir die volgende dag saamgebring, maar vir die sneeuweer in Switserland het sy net drie warm langbroeke, ’n paar truie, ’n baadjie en ’n paar dik stewels ingepak. Sy het ’n sambreel. Miskien moes sy ’n reënjas ook gevat het …
Ag, nou ja, soos ’n reisgids wat sy gelees het vir voornemende reisigers sê: “As jy vir ’n oorsese rit inpak, sit alles wat jy wil saamneem op die bed. Dan pak jy die helfte daarvan in die kas terug – tensy jy genoeg geld het om oral vir portiere wat jou tasse dra, fooitjies te gee.” Sy het nie geld vir fooitjies nie en ook nie vir oorgewig bagasie by die inweegtoonbank op die lughawe nie.
Die sportmotor se remligte brand skielik rooi voor haar en haar regtervoet soek werktuiglik na die rempedaal. Dan onthou sy van die bak goudvissies en lig haar voet weer haastig, maar besef net die volgende oomblik sy moes dit liewer nie gedoen het nie.
Volkie se momentum dra hom vorentoe. Kara kan nie sy spoed betyds verlaag nie, want dis asof die remme nie dadelik wil vat nie. Sy bots met ’n geknars van metaal en die geluid van glas wat versplinter agter in die sportmotor vas. In haar haas het sy vergeet om haar sitplekgordel vas te maak en haar voorkop tref die ruit met ’n slag wat haar sterretjies laat sien.
Kara is vir ’n oomblik heeltemal verdwaas. Haar hartklop dawer in haar ore en sy voel afwisselende vlae van koue en hitte oor haar spoel terwyl sy asof versteen agter die sportmotor van die pad aftrek. Pleks dat sy uitgeswaai het of ’n groter volgafstand gehou het! Of die remme laat versien het!
Sy sien met ontsetting hoe ’n gestalte uit die motor voor haar klim en doelgerig met lang hale na haar toe aangestryk kom. Genade, hy gaan haar verbrysel en haar …
Die vissies! tref dit haar skielik. Sy kyk na die sitplek langs haar. Dit sou beter gewees het as sy hulle op die vloer neergesit het. Die opgerolde koerante het nie veel gehelp nie. Van die slag het die bak omgekantel en al die water uitgestort. Die drie goudvissies lê op die matjie na asem en hyg.
Dit was ’n geskenk van Fanie en haar eerste prioriteit nou is om hulle te red. Die vent sal net eenvoudig met sy beskuldigings en dreigemente moet wag tot sy tyd het om te luister.
Kara pluk die deur aan haar kant oop en strompelval na buite. In haar haas om by haar spartelende troeteldiere te kom, stoot sy die bestuurder van die sportmotor half uit die pad uit.
“Genugtig, vroumens!” roep hy vererg uit. “Eers probeer jy my van die aardbodem af ry, en nou stamp jy –”
“Moenie net daar staan en raas nie,” val Kara hom in die rede terwyl sy om die motor sukkel. Sy pluk die passasiersdeur oop en gaan sit dwars op die sitplek. “Kom help my met die vissies!”
“Die watse goed?” Hy sluk ’n slag, skud sy kop en knipper sy oë.
Sy kyk oor haar skouer en sê bytend: “Die vissies! As hulle doodgaan, is dit jou skuld.”
“Vissies?” eggo hy.
Die skepsel is nie net ’n swak bestuurder nie – hy is blykbaar nog doof ook!
“Moenie maak asof jy nie die eerste keer gehoor het nie,” antwoord sy koel. “Jou motor sal nie weghardloop nie – los hom en kom help my! Jy kan later om verskoning vra en verduidelik waarom jy so uit die bloute gerem het.”
Hy frons. Sý skuld? Het sy nie die hond gesien wat reg voor hom ingehardloop het nie?
“Wou jy hê ek moes hom doodry?”
Sy frons onbegrypend. “Wie?”
“Die wolfhond.”
Kara het geen benul waarvan hy praat nie. Sy druk haar palms teen haar kloppende slape om die hamerslae te laat verdwyn. Sy het net genoeg tyd om te sien hoe sy mond ’n aks of twee groter oopval voordat sy haar aandag by die drie waaiersterte bepaal.
Die glasbak het wonder bo wonder nie gebreek nie, maar daar is niks meer water in nie …
Die drie vissies lê half onder die voorste sitplek en spartel flouerig. Kara trek die voetmatjie onder hulle uit en wring dit oor die bak vir ’n bietjie nattigheid. Sy tel die visse versigtig op en dompel hulle een-een in die paar millimeter troebel klammigheid.
Toe kyk sy op … en sien hoe die aantreklike donkerkop by die oop deur oorkant haar met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig na haar staan en kyk. Hy het breë skouers en groen oë met bruin vlerkies.
Nogal glad nie onaardig nie … Onder ander omstandighede sou sy graag vir die mansmens haar flikkers gegooi het en gehoop het hy nooi haar vir koffie. Net jammer hy lyk soos ’n donderwolk wat ’n plek soek om uit te sak …
Op skool het Kara in skaak geleer aanval is die beste verweer as jy in ’n hoek gedryf is. Omdat sy skuldig voel en nog nie gedink het hoe sy haarself gaan verdedig nie, is sy aggressief.
“As jy met só ’n kar rondry, het jy seker geld vir versekering, so waaroor die bohaai?”
Hy was nie bewus daarvan dat hy ’n bohaai gemaak het nie. Trouens, al was die botsing háár skuld, het hy nog nie ’n enkele woord daaroor geuiter nie.
“Of vir bestuurslesse,” voeg sy by.
Niemand kan stry die blondinetjie met haar viooltjieblou oë en lang omkrulwimpers is mooi nie, dink hy. Dis versagtende omstandighede. Maar sy is ’n parmantige klein snip. Hy wonder waar sy háár rybewys gekry het. Seker by die supermark gekoop.
“Het jy nie gesien ek rem nie?” vra hy.
Kara is ongeduldig. “Jy kan nie hier op die hoofweg staan en redekawel en verduidelik nie,” sê sy ferm. “Draai links by die eerste afrit en wag daar vir my. Netnou kry jy nog boonop ’n verkeerskaartjie omdat jy die verkeer doelbewus ontwrig.”
“Ék?” vra hy verbaas.
“Dis jý wat skielik gerem het, is dit nie?”
“Met rede.”
Kara stel nie in verduidelikings belang nie. Sy bepaal haar aandag by die visbak, hoor hom na ’n oomblik hardop sug en sien dan uit die hoek van haar oog hoe hy wegstap.
Sy is verlig. Sy maak die glasbak versigtig op die vloer voor die passasiersitplek staan, klap die deur toe en stap weer om na die bestuurderskant toe.
’n Toeter skel skuins agter haar.
“Ou gallie, kom lawe jy drie sterwende visse, dan lê ek op die blaastrompet!” roep sy ergerlik uit.
Die bestuurder van ’n aankomende lorrie kyk waarderend na haar. ’n Bietjie maer, maar glad nie sleg nie, dink hy. Die soort girlie wat jy nou nie sal verjaag as sy haar jas in jou kas kom ophang nie.
“Hoe sê jy, poppie: is jy vanaand beskikbaar?”
Kara vervies haar en kan nie dadelik aan ’n gevatte antwoord dink nie. Volkie het niks gedoen om sy nooi se gramskap te verdien nie, maar dis sy arme deur wat haar wrewel moet ontgeld. Dekselse lorriedrywer! Het hy niks beters om te doen nie?
’n Oomblik later sien Kara met dankbaarheid hoe die rooi sportmotor voor haar wegtrek. Blykbaar kan hy darem nog ry. Dit lyk darem nie asof daar baie skade aan die kar is nie, dink sy optimisties toe sy hom volg. Sy onthou egter dat sy glas hoor breek het. Een van haar tjor se kopligte het dan waarskynlik in die slag gebly. Gelukkig is Volkie verseker, hoewel sy nou ’n bybetaling sal moet uitskud. Haar salaris sal darem verhoog word noudat sy op oorsese vlugte is, troos sy haarself. En sy kry ’n ruim etetoelaag ook, wat sy kan spaar.
’n Kombi glip tussen haar en die sportmotor in en toe die rooi blits oomblikke later die afrit neem, kan sy hom nie dadelik volg nie. Kara dink vinnig en besluit impulsief om aan te ry. Sy het nie tyd om te verspil nie. Sy is reeds laat; as sy nog tyd moet mors deur met die eienaar van die sportmotor te gaan praat, gaan sy haar vlug verpas. Buitendien het die visse dringend water nodig. En die ongeluk wás mos sy skuld, nie hare nie, maak sy haarself wys. Wie gaan staan en rem nou in die middel van die hoofweg? Hy moes van beter geweet het. Dis sy verdiende loon dat hy met die sak patats sit.
Kara ly nog in ’n mate aan skok en het ’n verblindende hoofpyn van die stamp teen haar kop, maar kan tog vaagweg onthou dat die eienaar van die sportmotor ’n donkerpers hemp en broek aangehad het. Hy is dus blykbaar ook aan Jakaranda verbonde. Seker ’n klerk of ’n ding, besluit sy.
Sy voel half skuldig, maar skud die gevoel van haar af terwyl sy haar aandag by die verkeer bepaal. Sy het die registrasienommer gesien en sal dit onthou. Sy sal die ou later, wanneer sy terug is, probeer opspoor, om verskoning vra en verduidelik van die remme, en dat sy daarna haastig was en aan vertraagde skok gely het. Op hierdie oomblik is haar eerste prioriteit om die drie visse se lewetjies te red.
Kara neem die lughaweafrit en dan dié vir internasionale vrag, waar haar vriendin en die waaiersterte se weldoener werk. Sy parkeer haastig, gryp haar handsak en die visbak en draf na binne.
“Haai, Karretjies!” groet Elsa. “Hoe lyk jy so bleek om die kiewe? Senuwees wat lol?”
“Nee. Ja. So ’n klein ongelukkie op pad …” Kara het nie tyd om te verduidelik nie. “Waar is die naaste kraan?” wil sy weet.
Elsa beduie ma die kleedkamers in die gang.
Kara maak die glasbak vol skoon water en spoel elke vissie versigtig af voor sy hulle terugsit. Dan gaan sit sy die bak op die vensterbank agter Elsa se lessenaar.
Sy tik teen die bak se glaswand en sprinkel ’n klompie vlokkies op die water. “Soet bly! Tannie Kara sien julle oor ’n week.”
“Opgewonde?” vra Elsa.
“Ja. En bietjie bang. Bang ek maak ’n gemors en word na dese terug binneland toe gedemoveer.”
“Ek sal vir jou al tien duime vashou,” belowe Elsa. “As jy moeg word vir die klimtol en die melkskommel, is hiér oorgenoeg werk om jou besig te hou.”
“Nee, dankie. Ek het genoeg daarvan gehad toe ek ontvangsdame was. Jy moet kom vlieg, Els. Dink hoe lekker sal dit wees as ons twee saam op ’n vlug is.”
“Ek sien op teen die keuring en die opleiding daarna. En ek het nie ’n derde taal nie.”
“Ek sal jou met Duits help.”
“Nee, los my maar liewer by my rekenaar, waar ek tuis is. En kom vertel my hoe dit daar oorkant die water lyk wanneer jy terugkom.”
Die telefoon lui en Kara groet met ’n laaste wuif.
Buite het sy kans om haastig haar skade te bekyk. Die regterkoplamp is flenters en die buffer is gebuig. Dit kon erger gewees het, besef sy; dit was ’n harde slag. Daarvan kan die knop teen haar voorkop getuig.
Van die vragafdeling af is dit net vyf minute met ’n systraatjie langs na die bemanningslede se parkeerterrein toe. Kara neem haar tas, kajuitsak en handsak en sluit Volkie. Sal die versekeraars betaal al het sy weggery ná die botsing en nie die ongeluk aangemeld nie? wonder sy. Sy het egter nie tyd om verder daaroor te dink nie. Dis volgende week se probleme.
“Ek is hier. Sê nie hoe nie, maar betyds,” kondig sy in die roosterkantoor aan en trek die bemanningsregister nader. Katharina J. Verster, vul sy in. JA 313. Junior waardin. Dan neem sy haar noodhulptas en maak seker dat die inhoud volledig is.
Haar arm is lam en dit voel vir haar of haar tas ’n ton weeg teen die tyd dat sy by die inweegtoonbank kom. Sy is dankbaar toe sy haar bagasie aan die vlugklerk kan oorhandig.
“Julle gaan julle hande vol hê vanaand,” lig hy haar in. “Twee BBP’s: ’n minister en ’n kabaretsangeres in die eerste klas. Dan is daar ’n ambulansgeval, ’n vegetariër wat ’n spesiale aandete bestel het, en ’n onvergeselde minderjarige, die agtjarige Josef Truter wat in jou stasie sit en jou verantwoordelikheid is.”
“Ek hoop nie Josef is ’n klein josie nie,” skerts Kara.
“Alle kinders op vlugte is moeilik.”
“Party net moeiliker as ander.”
“As hy jou pla, sê hy moet buite op die vlerk gaan speel.”
Kara lag. “Dis ’n goeie idee. Wie is die kabaretsangeres?”
“Leonora du Preez.”
“Ek het haar in verskeie verhoogproduksies gesien. Autumn Phantom en Hillbrow Blues. Hulle sê haar gesig en ongelooflike paar bene waarborg dat enige vertoning ’n sukses is. Net haar naam laat die besprekings instroom.”
Die klerk is nie beïndruk nie. “Kry haar handtekening. Kry drie. Dan kan ek hulle vir een van Hansie Cronjé s’n ruil.”
“Krieket en rugby – dis al waaraan julle mans dink … Wat makeer die ambulansgeval?”
“Hart. Hy het vir ’n ekstra silinder suurstof gevra. Dis reeds gelaai.”
Noudat sy vir die vlug aangeteken het, is daar nie meer haas nie en nog ’n kwartier oor voor Kara aan boord van die Boeing 747 moet wees. Sy besluit om te gaan kyk of Fanie in die kafeteria is. Dis die kajuitbemanning se bymekaarkomplek en sy en Fanie drink gewoonlik eers daar gou saam koffie voor hulle begin werk.
Kara ken Fanie al nege maande en is lief vir die forsgeboude, jong student. Hy is besig om deeltyds aan Unisa te studeer en intussen sien hy die wêreld gratis. Of, soos hy dit stel: “Ek word betáál om die wêreld gratis te sien.”
In die verlede het hulle dikwels saamgevlieg wanneer hy met ander vlugkelners kon uitruil, soos vandag. Hy het vanoggend gebel om te sê dat al wat dit hom gekos het om Giepie de Kock te oorreed hy het griep, was ’n kas bier.
Fanie Terblanche sit by die toonbank en wag en is verheug om haar te sien.
“Jý is op die nippertjie hier. Ek wou al die polisie bel om jou te gaan soek,” kla hy.
Sy vertel hom kortliks wat gebeur het.
“Onnosele swaap,” stem hy saam. “Sy soort hoort nie op die pad nie.”
Fanie is min gepla oor die vissies; hy is baie meer bekommerd oor háár wat harsingskudding kon opgedoen het. “Sodra ons aan boord is, sal ek ys op daardie knop pak. Dit sal die swelsel laat sak.”
“Ek is piekfyn,” keer sy. “Net ’n bietjie skok opgedoen, dis al.”
“Drink ’n kalmeerpilletjie.”
“En raak halfpad deur die vlug, tydens ’n drankbediening, aan die slaap? Nee, ek is reg. Die hoofpyn sal nou-nou bedaar.”
Dít laat haar skielik weer van die omkopery onthou. “Dis heerlik om jou saam op my eerste oorsese vlug te hê. Ek sal die helfte van die kas bier betaal.”
Hy skud sy kop. “Dis nie nodig nie. Ek is nie ’n kerkmuis nie.”
“Maar jy moet jou universiteitsgeld betaal én nog studieboeke koop.”
“Ek hét ’n beurs, en daar’s altyd iets oor vir ’n paar bottels bitterwater.”
Dis al wat haar soms van Fanie pla: dat hy te lief is vir die “bitterwater”. Hy studeer BSc, wat ’n stywe kursus is. ’n Vorige keer, op die vooraand van die semestereksamen, het hy tot laataand by vriende gekuier, waar die “water” vrylik gevloei het, pleks van by sy boeke sit. Die gevolg was dat hy nie die volgende oggend plantkunde gaan skryf het nie. Hy het ’n hele halfjaar vermors en nou ’n ekstra vak wat hy volgende jaar sal moet neem.
Kara stoot dié gedagtes opsy. Fanie is ’n oulike ou, maar soms baie koppig. Dit sal nie help om te preek of aan hom te karring nie.
“Ek hoor ons is vol vanaand,” verander sy die onderwerp.
“Soos sardientjies ingepak. Dis altyd so op ’n tussenstasievlug. Maar jy sal gewoond raak daaraan. En in Zürich het ons vyf dae vry. Ek wil jou gaan wys hoe lyk Luzern en dan kan ons met ’n sweefspoor opgaan na die Jungfrau toe.”
“Heerlik. En in Zürich self wil ek graag die museums en teaters sien. En die hoofkwartier van die VN.”
“Daar’s ’n casino ook – in Montreaux – waarheen ek jou sal neem.”
“Ek is nie eintlik ’n dobbelaar nie.”
“Dis omdat jy tot dusver altyd verloor het. Wag tot jy begin wen en die gogga jou byt, dan sal jy nie van die tafels af kan wegbly nie.”
“Soos jy? Hopende jy wen die boerpot?”
Hy lag skuldig. “Net omdat ek tot dusver niks beter gehad het om te doen nie. Maar nou is jy hier. Dis beter as ’n sak vol geld.”
Fanie steur hom nie aan regulasie 247 (iii) in die Blou Boek van Jakaranda-Lugdiens wat bepaal dat personeel wat in uniform is, geen fisieke kontak hoegenaamd met lede van die teenoorgestelde geslag mag hê in die openbaar nie, hetsy op die grond of in die lug. Hy leun vorentoe en soen Kara op die punt van haar neus. “Weet jy hoe onweerstaanbaar is jy as jou oë so groot gerek is?”
“Dis omdat ek nie wil hê jy moet jou geld mors of jou werk verloor nie.”
“As ons twee die dag getroud is, gaan ons ryk wees,” belowe hy haar. “Jy sal ’n pelsjas kan koop met die kleingeld in jou agtersak.”
“Geld is nie alles nie,” maan sy.
“Maar dit help. En daar is ’n gesegde wat sê: As armoede by die deur inkom, vlieg liefde by die venster uit.”
Kry eers jou graad, dink sy. En ’n vaste werk. En vergeet van die perde en dobbelmasjiene. Maar sy wil nie preuts klink nie en sê niks nie.
“Het ek al vir jou gesê ek is lief vir jou?” vra Fanie.
“Nog nie vandag nie,” speel sy saam.
“Ek is baie lief vir jou.”
“En ek vir jou,” eggo sy.
“Liewer as vir roomys en aarbeie, biltong en sjokolade?” terg Fanie.
“Liewer as vir dou op ’n varsgesnyde grasperk en ’n uitverkoping by ’n supermark,” beaam Kara.
Maar daar is ’n verskil tussen lief wees en liefhê, besef sy. Wat voel sy vir Fanie? Is dit net verliefdheid, wat sal oorwaai?
Sy onthou die dag toe sy hom ontmoet het. Hy was ’n passasier op ’n vlug van Kaapstad na Johannesburg. Reeds op Kaapstad se lughawe het sy die aantreklike, blonde ou in die verbleikte denimbroek en T-hemp opgemerk. Hy het ’n skouersak by hom gehad en soos ’n branderplankryer gelyk.
By die inweegtoonbank het hy haar op en af bekyk en ’n lang wolwefluit laat hoor. Eers wou Kara haar vir die voorbarige ou vervies, maar toe het sy die blink liggies in sy oë gesien en geglimlag.
“Dankie. Dit laat my sestien jaar oud voel.”
“Hoe oud ís jy?” wou hy weet.
Wat het dit met hom te doen? het sy gedink. Sy behoort die voorbarige mansmens kort te vat en op sy plek te sit en dan koelkop weg te stap sodat hy die boodskap kan kry dat sy attensies onwelkom is.
Maar Kara het nie. Sy het bly staan. En hom nie ’n dwars antwoord gegee nie. “Drie-en-twintig. En jy?”
Hy het verlig gesug. “Vier-en-twintig. Darem een jaar jou meerdere.”
“Meerderwaardigheid meet ’n mens nie in jare nie,” het sy astrant gesê. “Jy moet dit verdien.”
“Dis wat ek beplan, ja,” het hy belowe en haar tas op die skaal getel. “Sien, ek het meer spiere as jy. Punt een in my guns.”
Die ontvangsklerk het haar tas ingeweeg en die vluginligting aan haar oorhandig.
“Ek hoop nie jy gaan Timboektoe toe nie – vlieg weg uit my lewe uit en verdwyn nie?” het haar nuwe vriend gesêvra.
“Nee.” Sy het die etiket aan sy kajuitbagasie gesien: JNB, die afkorting vir Johannesburg. Vlug JA 304. “Sien jou nou-nou aan boord,” het sy belowe.
Dit was ’n direkte vlug en hulle moes middagete bedien. Fanie het toe al blykbaar ’n paar biere ingehad, want hy was vrolik. Bokant Carnarvon, toe hulle pas met die bediening van die ete begin het, het hy by een van die kelners twee servette gebedel of gesteel, een soos ’n sjef se hoed gevou en op sy kop gesit, en die ander een soos ’n voorskoot bo by sy broek ingedruk.
“Assistent nommer een is paraat om julle met die werk te help,” het hy aangekondig.
“Moenie dink jy gaan afslag op jou reisgeld kry nie,” het Kara gewaarsku.
Hy wou nie afslag hê nie. Ook nie bene rek of die twee uur vliegtyd omkry nie. Al wat Stefanus Terblanche wou hê, was om naby haar te wees.
Nadat die koffietrollie weggepak was en die kombuis opgeruim is, het hy die bemanningsbankie in die gang uitgetrek, haar daarop laat sit en toe vir haar ’n skinkbord met kos daarop gebring.
“Jy weet nou wat my naam is, hoe oud ek is en dat ek in Edenvale by my ouers bly. Maar ek weet niks van jou af nie,” het hy gesê en na haar naambordjie gekyk. “K. Verster. Waarvoor staan die K?”
’n Mens kon nie anders as om van die blonde student te hou nie, maar Kara was gewoond daaraan dat manlike passasiers hulle flikkers vir die lugwaardinne gooi en het hom nie ernstig opgeneem nie. Hy het by vriende in Houtbaai gaan kuier en sy was deel van die vakansiepret. Hy het seker hordes nooiens. Môre sal hy haar nie eens meer onthou nie.
“Karretjies,” het sy ligweg geantwoord. Dit was haar bynaam op skool en die naam wat sy gebruik het om lastige ouens mee af te skrik.
Fanie Terblanche het langs haar op die bankie gaan sit, gewag tot sy klaar geëet het en haar skinkbord gaan bêre. Toe het hy haar hand in syne geneem. “Karretjies, sal jy asseblief met my trou?” het hy gevra.
Steeds het sy gedink hy het ’n paar botteltjies te veel ingehad. Sy het gelag. “Ja, ek sal nou-nou met jou trou, Stefaans. Laat ek net gou die laaste paar glase versamel en vir die tannie op 36E tee gee.”
Maar Fanie was ernstig.
Hy het haar nommer in die telefoongids opgespoor en haar die volgende dag gebel.
“Sal jy, asseblief?” het hy daardie aand oor ’n bord seekospizza by ’n nabygeleë restaurant herhaal. Hy kon selfs die kleur van haar oë en naellak onthou.
Kara het bly skerm en verskonings bedink. “Ek het my hele lewe lank wanderlust gehad. ’n Atlas was vir my soos ’n storieboek. Ek was vir drie jaar ’n ontvangsdame op Johannesburg se lughawe, tot ek uiteindelik kon begin vlieg. Die keuring was streng en die opleiding veeleisend. Noudat ek uiteindelik vlerke het, wil ek nie die kans om Londen, Parys, Rome, Zürich, Amsterdam, Mauritius en die Seychelle te sien so gou al vir vloere skrop en skottelgoed was verruil nie.”
Dit het selfsugtig en egosentries geklink, maar Fanie het verstaan en haar hand stywer vasgehou. “’n Meisie soos jy kom net een maal in ’n leeftyd oor ’n ou se pad. As Mohammed nie na die berg toe wil gaan nie, sal die berg na Mohammed toe moet gaan.”
“Wat bedoel jy?” wou sy weet.
“Dat ek aanklank vind by jou op daardie vlak. Ek het ook jeukende voete. Ek wil ook die wêreld sien; sien hoe mense van ander kulture leef. Ek gaan my werk by die restaurant waar ek saans werk, bedank en as vlugkelner by die lugdiens aansluit. Sodoende kan ek so dikwels as moontlik saam met my aanstaande vrou vlieg en haar beter leer ken.”
Sy aanstaande vrou … Kara was nie seker of dit haar gevlei of benoud laat voel het nie. Fanie was te haastig en hulle albei nog te jonk.
Teëstribbel het nie gehelp nie. Binne twee maande was Fanie met sy opleiding besig. Geld, het sy uitgevind, is vir hom belangrik. Die salaris was goed en die fooitjies tydens drankbediening ’n verdere bonus.
Omdat Jakaranda in daardie stadium ’n tekort aan kelners gehad het, was hy voor haar op internasionale vlugte met groter fooitjies en ’n ruim etetoelaag. Dit het Fanie gepas.
Maar vir haar? Kara weet nie. Drie-en-twintig is te jonk om jou al aan ’n man te bind. Daar is nog te veel in die lewe wat sy wil doen. Sy wil nie eendag, as sy ’n oumatjie met wit hare in ’n bolla is, spyt wees oor kanse wat sy laat verbygaan het nie.
Wanneer sy die dag trou, moet sy seker wees dat sy die man liefhet en die res van haar lewe saam met hom wil deurbring.
Fanie Terblanche is pret. Hy is aantreklik, sjarmant en bedagsaam. Hy ry met ’n duur motor, wat hy nie kan bekostig nie, en oorlaai haar met rose en geskenke, waarvoor hy ook nie geld het nie.
Hy is gewild by sy kollegas. Maar is hy die man van haar drome?
Kara weet nie en het besluit om haar intussen deur die stroom te laat meesleur. Die tyd sal wel leer of hulle by mekaar sal kan aanpas, mekaar lief genoeg het om ’n lewe te deel …