Читать книгу Jou Romeo - Fanie Viljoen - Страница 6

4

Оглавление

#WegsteekDinge

Dit was ’n lang dag, maar Yvette slaap nog nie. Hoe kan sy, ná wat Tyler vandag gesê het oor die Romeo and Juliet-begroting wat gesny is? Vir ’n ruk dwaal sy in haar kamer rond. Dan gaan sit sy voor die spieël. Ingedagte klik sy die liggies aan. Vandat sy dag en nag teater begin droom het, wou sy al só ’n grimeertafel hê met ligte reg rondom die spieël, nes in ’n regte teaterkleedkamer.

Ingedruk in die een hoek is ’n foto van Romeo + Juliet. Die fliekweergawe met Leonardo DiCaprio en Claire Danes. In die spieël se weerkaatsing kan sy die plakkaat sien van Shakespeare in Love, die fliek wat haar verlief gemaak het op Shakespeare. Net een kyk in Joseph Fiennes, die hoofakteur, se oë en haar hart slaan bollemakiesie. Sy sou wat wou gee om Gwyneth Paltrow se rol as Viola de Lesseps te speel.

Dis egter alles drome. Soms wonder sy of dit ooit waar sal word. Sal sy ’n aktrise kan word? Nie net ’n sepiester nie, maar een wat mense se harte aangryp.

Terwyl sy hieroor wonder, haal sy ’n klam lappie uit die plastiekhouer op die tafel. Sorgvuldig begin sy haar grimering verwyder. Dan kyk sy vir haarself en glimlag. Dis soos die een kant van die drama-masker wat bo haar spieël hang. ’n Glimlag met ’n traan.

Sy skakel die liggies af. Dan weer aan. Hierdie keer is haar mondhoeke gesak en kyk sy treurig vir haarself. Hartseer met groter hartseer.

Lank sit sy so na haar spieëlbeeld en kyk. Na haar blou oë wat soms dinge wegsteek, wat kan droom en dink en wonder.

Wonder oor wat?

Romeo and Juliet?

Yvette en Tyler?

Sy glimlag stil. Binne haar maak iets ’n tuimeldraai.

Liggies aan. Liggies af – terwyl sy dink aan die ou met die bril, die ou wat haar hart en drome ken.


Die stoeplig brand toe Marko by hulle huis aankom. Sy ma se kamer lyk egter donker. Hy het haar darem laat weet hy gaan laat wees, sy hoef nie wakker te bly nie. Hy voel in sy rugsak vir die huis se sleutel. Kry dit. ’n Rukkie later knars die sleutel in die voordeurslot. Sag stoot hy die deur oop en stap binne.

Hy is lekker moeg. Hy sal sy bed vanaand goed seermaak.

’n Staanlamp gloei op ’n kas in die eetkamer. Of is dit die portaal? Die huis is so klein dat die eetkamer en die portaal eintlik maar dieselfde plek is. Gelukkig voel dit nie so beknop met die hoë plafon nie.

Uit die sitkamer flikker blou-en-rooi spatsels teen die gangmuur. Hy stap verby die eetkamertafel met sy wit papierblomme soontoe. In die loop laat gly hy sy rugsak van sy skouer af. Saggies sit hy dit neer, want sy ma lê op die bank en slaap – nie in haar kamer soos hy gedink het nie. Die TV se klank is afgedraai, maar die beelde flikker oor haar mooi gesig. Sy het nog haar grimering aan. En haar rooi hoëhakskoene. ’n Strooikussing is onder haar kop ingedruk. ’n Spiertjie spring effens by haar mondhoek, maar sy slaap steeds.

Sy het seker probeer opbly vir hom, dié dat sy nie in haar kamer is nie. Sy is altyd so bekommerd oor hom. Wat sou hy ooit sonder haar doen? Die gedagte lê swaar in sy kop.

Dan vang sy oog weer die flikkerende TV. Hy buk by die koffietafel om die afstandbeheer te kry en die TV af te skakel, sien dan die rekening onder die afstandbeheer. Nee, nie een nie. Hy blaai deur die velle papier. Drie rekeninge.

Met rooi woorde beplak.

Finale waarskuwing.

Rekening agterstallig.

Uitstaande betaling.

Dis asof iets in hom donker word van bekommernis. Sy ma sê nie vir hom van dié goed nie.

Ingedagte gaan kry hy ’n kombers in die kamer. Hy gooi dit versigtig oor sy ma. Maak seker sy is mooi toe. Dan staan hy weer terug. Skakel die TV af en wens skielik hy kan ook so maklik van die kommer in hom ontslae raak. Net klik! en dis weg.

Jou Romeo

Подняться наверх