Читать книгу Jou Romeo - Fanie Viljoen - Страница 8
6
Оглавление#Konsertjie
’n Ongemak krap aan Yvette waar sy in meneer Potgieter se kantoor sit. Om Tyler langs haar te hê help al, maar steeds wens sy sy kon eerder op ’n verhoog wees, of in haar kamer lê en woorde leer.
Haar blik dwaal deur die kantoor. Dagboeke, lêers en ’n bos sleutels lê op die lessenaar. Daar is ook ’n klein metaalaardbol op ’n houtstaander. Weerskante van die lessenaar staan twee lewensgrootte kartonfigure van krieketspelers. Yvette herken nie een van hulle nie. Krieket is nie haar ding nie. Soos fotografie duidelik nie meneer Potgieter s’n is nie. Kyk net daardie twee foto’s van hom teen die muur. Hy het ’n breërand-kriekethoed op. Gebaadjie en gedas, met die weirdste uitdrukkings op sy gesig. Die een links wys dalk: Ek-het-maagpyn-want-ek-het-’n-stok-ingesluk, en die een regs: Maar-ek-is-oukei-moenie-’n-ambulans-bel-nie. Dis seker hoekom hy so twee duime in die lug gooi. In die middel van die foto-triptiek hang Madiba. Hy draai seker in sy graf om!
“Die skool kan dit eenvoudig nie bekostig nie.” Meneer Potgieter se stem ruk Yvette uit haar dagdroom.
“En die krieket?” vra sy voordat sy behoorlik kan dink.
Meneer Potgieter trek sy oë nouer. Hy sit kiertsregop in sy stoel. Die blom in sy baadjie se lapel lyk nou nog belagliker. “In die Afrika van ons Madiba,” sê hy selftevrede en wys vinnig met twee koddige vingers na die foto agter sy kop, “word die sukses van die een gedeel met die baie. Ubuntu, hunu, noem dit wat jy wil. Maar in die Westerse kultuur, oorwegend vryemarkstelsel, word daar uit die pad gegaan om individuele prestasie te beloon.”
Hy leun effens oor die lessenaar om sy punt te maak. Sy wenkbroue lig gelyk met die punte van sy snor. Hy kon netsowel “bla-bla-bla” gesê het, want dis nie wat Yvette wou hoor nie.
“Dit is ons laaste kans, meneer,” probeer sy weer. Driftiger. Sy weet nie waar die moed vandaan kom om so met die hoof te praat nie. Dalk is dit in haar vurige bloed, soos haar prokureur-ma s’n. “Ons wil hê hierdie show moet ongelooflik wees. Julle kan eenvoudig nie net die kunsbegroting vir sport gee nie.”
“Vryemarkstelsel,” hamer meneer Potgieter op sy ou deuntjie. Sy gesig lyk skielik vir Yvette soos ’n verkleurmannetjie wat ’n vlieg gesien het. Hy knipoog. “Dit wat gewild is, sal beloon word. Dit wat nie ekonomies lewensvatbaar is nie, nié.”
Yvette en Tyler staar na die hoof terwyl hy praat. Dis weer net ’n gebla-bla-bla, maar hy lyk heel selftevrede.
“Dit is belaglik,” sê Tyler skielik hard. Hy slaan met sy vuis op die lessenaar en wil opstaan, maar Yvette keer hom.
Die hoof deins effens terug in sy stoel. Sy mond trek op ’n ontevrede plooi.
Yvette weet sy moenie moed verloor nie. Dis nou of nooit. Haar ma sou nie laat los as sy nou hier was nie. “Romeo and Juliet kan die skool se toewyding aan kultuur definieer vir jare wat kom,” probeer sy desperaat.
Meneer Potgieter se blik skuif na die venster. Ten minste dink hy nou oor die saak, juig dit binne Yvette. Uiteindelik knik die hoof. Sy vingerpunte druk op die lessenaar. “Ek kan sien julle is baie geheg aan hierdie konsertjie, nè?”
Yvette vang Tyler se oog. Dis asof vuur daaruit spring. Dis nie ’n “konsertjie” nie, dis ’n opvoering. Dis flippen Shakespeare!
“Ek sê julle wat. Hoekom verkoop julle nie kaartjies nie? Dan kan julle mos die konsert op julle terme opvoer?” sêvra meneer Potgieter.
“In die Atterbury?” vra Tyler. Sy stem is vol hoop.
“Enige plek waar julle wil,” antwoord die hoof. “Vryemarkstelsel!” beklemtoon hy weer. Die uitdaging wys op die hoof se gesig. Of dalk wil hy hulle net uit sy kantoor hê, want hy groet. “Tyler, Yvonne … uh, skies, Yvette.” Sy kop gee ’n vreemde plukkie. Hy glimlag.
Yvette draai haar kop na Tyler. Sy kan sommer aan sy sarkastiese glimlag sien waaraan hy dink. Dan staan hulle op. Yvette wil nog ’n flou dankie vir die hoof mompel, maar hy is alreeds vasgevang in ’n krieket-dagdroom waarin hy ’n koddige boul-aksie met ’n blinkrooi bal uithaal. Sy kop is steeds net by sport. Hy glo nie in hulle nie. Hy glo nie die Dramabrigade kan hierdie knoop deurhak nie. Dit maak Yvette ook effens bekommerd toe sy en Tyler by die kantoor uitstap. Wat as die hoof dalk reg is?
Later die middag skuif Marko gemaklik reg op die rusbank in hulle sitkamer, kaalvoet met jeans en ’n T-hemp aan. Die PlayStation-kontrole is in sy hand. Hy is gewikkel in ’n spannende T20-Wêreldbekerkrieketwedstryd toe sy ma in die deur kom staan. Sy kyk fronsend na die selfoon in haar hand.
Uiteindelik kom sit sy langs hom op die bank. Hy loer vinnig na haar kant toe. Dan skrik hy. Wat doen sy ma op Tinder? Sy moet dit los. Dis vol creeps en stalkers.
Marko pot nog ’n hou op die TV-skerm.
“Kyk net hoe nice lyk hierdie ou.” Sy hou die selfoon na hom toe uit.
Hy kyk. Frons. Daar is ’n foto van ’n ou op die skerm. “Nee!” Vinnig druk hy die rooi kruisie. Stel nie belang nie. Die ou lyk net weird.
“Ag komaan,” protesteer sy ma. “Dit kon my laaste kans op liefde gewees het.”
Ja, Ma, whatever, dink hy. Dit kon ook die laaste keer wees dat ek Ma lewendig sien. Sê nou die ou is ’n massamoordernaar of iets. Marko skud sy kop. Sy ma is totaal versot op die app.
Sy vee weer oor die skerm. Marko se oë is vasgenael op die TV totdat sy ma opgewonde vra: “Is dit nie jou coach nie?”
Marko laat sak die PlayStation-kontrole. Kyk na die foto. Dit is hy! Dis Wicket!
“No ways!” roep Marko uit. Hy wil weer die rooi kruisie druk, maar sy ma spring hom voor. Haar vinger land netjies op die groen hartjie. “Nee-ee-ee! Aa-aa-aa!” Dit voel of ’n berg op hom val. Hy druk een van die strooikussings oor sy kop. “Nee-ee-ee!” kerm hy steeds.
“Ag, hy’s lekker,” sê sy ma en lag. Haar oë blink toe sy opstaan.
Marko kyk fronsend na haar. “Het Ma hom nou regtig gekies?”
“Jip!”
“Dis gross.” Hy vat weer die speletjiekontrole. Druk Pause en gaan aan met die spel. Hy kan nou nog nie glo sy ma doen so iets nie. Vir ’n rukkie speel hy verder. Dan voel hy sy ma se oë op hom brand. Sy sit haar selfoon neer en maak keelskoon.
Marko se oë blits na haar toe. “Wat?” Hy brand om verder te speel. ’n Hele ruk wag hy. Dit lyk of sy ma moed bymekaarskraap om te sê wat haar pla.
“Ek het vroeër vandag met juffrou Goosen gepraat,” antwoord sy uiteindelik.
“Het sy Ma rêrig gebel?”
“Ek … ek het haar gebel.”
Marko is nie beïndruk nie. Hy draai terug TV toe en wil die speletjie hervat toe sy ma die kontrole uit sy hand neem. “Sit neer hierdie ding. Dit is ernstig,” sê sy sag, dringend. Marko sit agteroor, vat sy knie tussen sy hande vas. “Matriekvrystelling, Marko. Of jy verloor jou beurs. Ek soek meer vir jou as net ’n sportloopbaan.” Sy ma knip nie ’n oog nie. Hy het haar nog nooit so ernstig gehoor nie. “Ons het al hoeveel keer hieroor gepraat. Beserings, politiek, you name it.” Sy ma kantel haar kop. “Moenie van my ’n neulkous maak nie,” vra sy uiteindelik.
Marko weet nie wat om te antwoord nie. Dalk is sy ma reg. Hy laat die akademie slap lê. Sport is alles. Maar as hy realisties is, moet hy op ’n manier ’n balans kry.