Читать книгу Helse manier van koebaai se - François Bloemhof - Страница 7

5

Оглавление

Helse manier

Die lem doen sy werk. Die vel is reeds glad, nou word enige haartjies kortgeknip wat dalk nog iets hier wou begin. Kirts-kirts maak die outydse skeermes se skerp snyvlak en hy kyk in die spieël hoe dit vorder, silwer flitse teen die ligbruin van sy vel.

Nie regtig ligbruin nie. Hy het ’n interessante velkleur, meen hy, soos tee met baie melk by. Hy het nooit gehoop dat sy ma vir hom sou kon sê wat sy pa – of noem hom eerder sy biologiese vader – se nasionaliteit was nie, want sy het haar deel vir wêreldgelykheid gedoen deur met verteenwoordigers van seker elke rassegroep wat jy kry tussen die lakens te vertoef.

Die lem se skraapwerk, hy hou van die geluid. Skoon en klinies. Beslissend.

Hulle is in die sitkamer, want hy hou nie van ’n badkamer se ingeperktheid nie. Hy kyk in die spieël na die meisie langs hom. So mooi. Skraps geklee, die kort wit katoenbroekie en geel toppie sonder bra. Sy is Indies; geen twyfel oor háár afkoms nie, by haar is daar geen vermenging nie. Sy trek die skeermes amper eerbiedig oor sy vel. Só is sy met alles wat sy doen: deeglik. Hy het haar goed geleer en sal dit nog beter doen, dit vat net tyd. Sy is die ideale leerling, sy wil alles weet. Onderhorig, maar gee vir haar ’n taak wat mense met skynbaar sterker persoonlikhede sou laat sidder en sy voer dit uit sonder vraag of klagte.

Sy trek die skeermes stadig oor sy kop, maak die vel nog gladder. Nog kaler.

Hy wag tot sy die silwer implement eindelik laat sak en knik: nie ’n tevrede knik nie, net ’n knik. Sy moet nooit te seker wees dat sy hom tevrede stel nie, dit kan nalatigheid aanwakker. Hy bly staan sodat die meisie sy kop met ’n handdoek ligweg, amper sensueel kan afvee – net ámper sensueel, want hy sou nie meer van haar duld nie, mooi ofte nie.

Laat niemand te na aan jou kom nie. Dit het hy vroeg genoeg besef.

Twee jaar gelede het die logistiek eindelik net te veel geraak en het hy besef hy het iemand soos sy nodig. Hy sou natuurlik verkies het om aan te hou om op sy eie te werk, slegs op homself aangewese, maar soms moet iets op ’n sekere plek gebeur terwyl hy elders besig is. Nie eens die berugste huurmoordenaar ter wêreld kan op dieselfde tyd op meer as een plek wees nie.

Hy betrap homself dat hy wonder: Is hy wel die berugste?

Daar is geen manier om seker te wees nie, want die bestes adverteer nie. Hy het aanvanklik, maar ook net omdat dit nodig was om sy dienste onder die regte persone se aandag te bring, dié wat bereid is om iemand ruimskoots daarvoor te vergoed as hy hul bestaan veraangenaam deur ongewenste elemente te neutraliseer.

Daar is waarskynlik heelwat meer van sy soort diensleweraar werksaam as wat mense graag wil glo en die meeste van hul resultate kan vir ongelukke aangesien word.

Net soms pleeg hy ’n ongeluk. Hy verkies iets meer …

Meer persoonliks.

En hy het ’n sin vir die dramatiese.

Die kaalkopman wat na hom terugstaar se voorkoms is sonder twyfel dramaties. Sy skedel het ’n fassinerende vorm, reken hy, sommige hoeke fors, party kurwes weer delikaat. Dit sou ’n sonde wees om dit met hare te bedek soos dit in sy vroeë jare was, maar hy laat skeer dit nie om estetiese redes nie, eerder sodat hy geen hare op ’n moordtoneel kan agterlaat nie. Hy laat géén teken nie. Daarby die sterk, amper skerp gelaatstrekke: die effens geboë neus en ’n mond met ’n ferm lyn en wangbene wat hy aan sy biologiese vader te danke moet hê. want sy ma s’n het ’n mens nie opgeval in haar pap gesig nie.

Lenig. Hy bestudeer sy kaal bolyf. Dit is alles natuurlike spiere; hy het nog nooit geoefen om dit te kry nie, al is dit voor die hand liggend dat hy moet fiks bly.

“Geert …”

Hy kyk na Feroza en knik: sy het toestemming om te praat.

“Are we going to be here for a long time?”

Hy skud sy perfek gevormde, perfek geskeerde kop en sy vra nie verder uit nie. Hy weet sy is verveeld; hulle is al twee dae hier in Groenpunt. Die huis is duur, want hy huur altyd net die beste. Volledig ingerig en stofvry. Privaatheid was egter die vernaamste oorweging, want bo en behalwe die feit dat nuuskierige oë ongewens is, werk die teenwoordigheid van te veel mense soos besoedeling op jou psige in en verstomp jou denkprosesse. Feroza besef dit nog nie behoorlik nie, maar sal later. Hy moet onthou sy is skaars sewentien, minder as die helfte van sy ouderdom.

Hy was jonger as dit toe hy sy eerste mens doodgemaak het.

Hy kan weer haar gesig sien, die oop mond vol tandepasta, die pupille wat groter word …

Feroza gaan sit op die leerrusbank. Sy gooi haarself nie meer so op meubels neer soos kort na hul ontmoeting nie, sy weet hy hou nie daarvan nie. In alles moet daar beheersing wees. Iemand in sy beroep – nou ook haar beroep – wat dít nie het nie, kan solank sy grafsteen gaan uitsoek. Met dissipline het hy gekom waar hy is, en met dissipline bly hy daar.

Wêreldreisiger. Dit is hoe hy homself soms beskou.

Hy beskou haar lyfie in die noupassende toppie en broekie. Daar is tog tye dat hy wens hy was soos ander mans wat sou gebruik maak van dié rykdom reg onder sy neus. Maar hy benut haar tog op ’n baie meer betekenisvolle manier: hy gee vir haar talente en slyp dit, maak van haar ’n persoon wat sy nooit andersins sou kon wees nie.

As hy die dag nie meer daar is nie, waarskynlik omdat hy in die loop van sy pligte uitgeskakel is, sal Feroza sy werk kan voortsit.

Geert Boonstra. Dit is die naam op sy paspoort, of ten minste die een waarmee hy Kaapstad toe gevlieg het. Hy het verskeie paspoorte, in elke land is hy iemand anders. Waar hy en Feroza ook al gaan, dring hy daarop aan dat sy hom aanspreek op die naam wat hy in daardie land gebruik.

Sy weet nie wat sy doopnaam is nie. Hy moet soms hard dink om te onthou. Name? Identiteite? Dit is hoede wat hy opsit. Of soos skoene wat jy moet dra voor jy ’n sekere gebou mag binnegaan. Hy hou van verandering, dit keer dat jy stagneer. Dit is wel nie meer so maklik soos in die ou dae om vals paspoorte te kry nie; nou is daar onopsigtelike kepies en digitale watermerke en word dit van ’n spesiale soort papier vervaardig. Moeiliker, maar ver van onmoontlik af, want die wonderlike ding omtrent ’n wêreld wat al te veel resessies en rampspoed geken het, is dat enige ding onder die son iewers gekoop kan word.

“Geert …”

“Yes.”

“Can I make you some tea?”

“Do you want some?”

“Not now. But can I make you some?”

Geert Boonstra glimlag. Sy lyk so ernstig. Sy wil altyd so graag die regte ding doen. Maar sy maak eintlik die aanbod omdat sy nie langer kan stilsit nie. Sy wil vier blokke hiervandaan wees, onder in Groenpunt se hoofstraat en nog ’n goeie ent verder, om by Seepunt se promenade die see te kan sien en haar lyfie son te gee.

“That would be nice.”

So grasieus as wat sy gaan sit het, kom sy orent, nie met die sprong wat hy weet sy wil gee nie. Sy loop met so ’n ligte tred dat sy nie ’n geluid op die plankvloer maak op pad kombuis toe nie.

Geert Boonstra bly voor die sitkamerspieël staan en soek foute aan sy lyf, en vind dit nie. Eendag sal ’n spieël dalk sy vyand word, wanneer hy tekens van verval daarin bespeur, maar dit is nie nou nie.

Hy kan ’n jong seun onthou wat voor ’n spieël staan en huil het. ’n Seun wat verneder was nadat klasmaats hom gespot het oor wat sy ma alles doen. Hulle was altyd in ’n groep; só werk dit mos. Dit was in die dae toe hy swakker was as ander seuns van sy portuur, toe hy homself nog nie so goed geken het nie, sy gebrek aan selfvertroue aangewakker deur sy ma se gebrek aan belangstelling. Vir mans het sy baie tyd gehad, vir hom min.

Die seun het ophou huil, en gegroei, en kort verby sy vyftiende verjaardag besef dat hy nie sy sogenaamde klasmaats almal gelyk hoef aan te durf nie. Hy het op ’n middag een van die spotters ingewag en so geslaan dat vyf tande uit was.

Tóé sien sy ma hom raak, toe die skoolhoof haar inroep. Skielik was hy ’n probleem, hierdie seun wat regop gekom het nadat hy so lank onder spot gebuk was. Hy het verby die grense begin beweeg wat ander vir hom gestel het, en in ’n wêreld met rigiede riglyne moes dit mos verkeerd wees.

Hy wou verder gaan, maar almal se aandag was op hom en hy moes homself in toom hou. Vat jou tyd, die skuldiges sal nie weghardloop nie.

Hy het homself intussen vermaak deur die skool aan die brand te steek. Dit het in puin gelê, daardie oord van soveel vernederings: hy het die drama waarin hy ’n newekarakter was herskep tot een met hom in die hoofrol. Dit was vir hom so simbolies dat hy nie van plan was om te gaan na die nabygeleë gebou waar die afgebrande skool se leerlinge ’n ruk lank onderrig sou ontvang nie. Hy was klaar met skool. Deur homself te leer ken, het hy binne ’n kort tydjie baie wyser geword as dáár.

Hy was ook nie van plan om langer te vertoef onder die dak van iemand wat hom nie kon sien soos hy nou was nie.

Sy het in die badkamer gestaan en tande borsel, deel van die ritueel van gereedmaking vir ’n man wat later die aand sou opdaag, toe hy in die oop deur verskyn. Hy het besluit om ’n mes te gebruik, want dit was dramaties. Hy het tot reg agter haar beweeg en op vyftien was hy lank genoeg om haar in die spieël in die oë te kyk. Haar blik was onbegrypend, want hulle het nooit so na aan mekaar gestaan nie. Toe rek daardie oë van haar soos ’n kind s’n op Kersoggend, toe sy die pyn in haar rug voel. Sy blik het hare nie ’n oomblik verlaat terwyl hy steek-steek-steek nie. Hy het dopgehou hoe haar pupille stadig oopmaak.

Houdoe, het hy gedink.

Die volgende oomblik was dit daar, ’n siddering deur sy lyf. Hy het dit amper nie herken nie, so onverwags was dit.

Orgasme.

Toe hy weer kyk, lê sy aan sy voete. ’n Vrou wat deur ’n blaps van die natuur sy ma was, en hy het die fout reggestel. Dit was tyd om te gaan.

So maklik, het hy gedink terwyl hy staan en duimgooi. Net ’n paar steke met die mes.

Uitgeskakel.

Meer as dit, hy het haar … skoongemaak. Gereinig. Ja, gereinig. En op ’n manier ook homself. Hy was ontslae van haar en daardeur was hy sterker, soos ’n swemmer wat ’n las afgegooi het.

Die toekoms was glashelder, soveel rigtings om in te slaan. Watter motor sou vir hom stilhou, waarheen sou die persoon hom neem? Amsterdam, het hy besluit. Dit sou Amsterdam wees. Hawestad, vertrekpunt, konneksie met soveel bestemmings wêreldwyd.

Die een wat hom oplaai, hy sou hom of haar doodmaak. Hy het dit mos nou een keer gedoen en dit was maklik – sou dit die tweede keer net so maklik wees? Makliker nog? Sonder twyfel, maar hy wou seker maak. Nee, dit was ’n verskoning. Wees eerlik met jouself. Hy wou weer voel soos hy daar in die badkamer gevoel het. Dit was ’n geskenk wat vir hom gegee is en hy was oortuig daarvan dat nie baie ander … nie baie ander moordenaars dit só ervaar nie.

Wat meer is, hy het besef hy kon daaruit geld maak. Daar moes ’n mark wees, en om boonop daarvoor betaal te word! Verkoop sy dienste, dis wat hy sou doen.

Hy sou dit op verskillende maniere doen. Moenie in ’n patroon vasval nie. Verras jouself. Die lem se steekwerk het hy nou geken. Ander wapens … Daar was so baie.

’n Wit Peugeot het stilgehou. Die man wou weet waarheen hy op pad is. Gewone man, seker so veertig, gewone gesig, gewone lyf, maar baie spesiaal omdat hy vanaand sou sterf.

“Amsterdam.”

Die man, ’n versekeringsagent, het gesê hy gaan nie so ver nie, net tot by Dordrecht, maar die seun was welkom om tot daar saam te ry.

Hý sou dalk nie die hele pad Amsterdam toe gaan nie, maar sy Peugeot wel.

En daarna het hy wat nou Geert Boonstra is een keer per jaar na sy tuisdorp teruggekeer om die spotters – toe nie meer seuns nie maar volgroeide mans met eie beroepe en verslappende maagspiere, party van hulle later al met kinders – uit te skakel. Hulle skoongemaak na hul Vader te stuur, of na watter wese hulle ook al in geglo het. Een op ’n keer, anders sou dit nie spesiaal wees nie. Teen die tyd dat hy die laaste een gereinig het, was hy lankal gevestig as “Schorpioen”. ’n Sukses, dis wat hy was – en húlle? Vrek.

Houdoe.

Hy kon nog nooit weer op ’n ander manier ’n orgasme kry nie. Hulle noem dit nie verniet die klein dood nie.

“Here it is, Geert.”

Hy neem die fyn porseleinkoppie by mooi jong Feroza, sy bloeddorstige nimf, en vat ’n slukkie. Knik net.

“We’re off to the sea tomorrow.”

“To the beach?!” vra sy met opgewondenheid wat sy nie wou wys nie, maar dis te laat.

“Not the beach; the sea. A small seaside town. For what we have to do.”

“Oh. What time will we be …” Sy voltooi nie die sin nie.

“When it’s time.”

Haar opgewondenheid sal terugkeer; hy het haar nog nie van vanaand se opwinding vertel nie.

Dit moet eers afgehandel word, dan sien hy uit na sy ontmoeting met die man van Die Fabriek: uiteindelik weer ’n waardige opponent. Daar was deur die jare te veel maklike teikens. Met dié een, is hy seker, sal die gevoel wat op die groot oomblik deur hom bruis nog sterker wees.

Hy drink sy tee een teugie op ’n slag.

Helse manier van koebaai se

Подняться наверх