Читать книгу Rillers 4: Ou Langklou - François Bloemhof - Страница 7
Оглавление3
Die waarheid . . .
“Sersant!” Victor storm by die polisiekantoor in. Eintlik moes hy hospitaal toe gegaan het, maar dis te ver om al die pad soontoe te hardloop. “Sersant moet gou kom!”
Sersant Smit kyk gesteurd op van agter sy lessenaar. “O, dis al weer jy.”
Victor sien Jenny en haar ouers is by hom en hulle is besig om iets te bespreek. Wat maak hulle hier?
“Sersant, juffrou De Goede het haarself doodgeskok! In haar huis!”
“Juffrou Ia?” vra Jenny.
“Ja! Ek was nou net daar. Sy was nat van die reën, toe gaan die ligte af, toe wil sy die trip-switch aanskakel, toe skok dit haar. Sy lê daar in haar kombuis, sy’s dood!” probeer Victor vinnig verduidelik.
“Ons moet dadelik gaan kyk!” sê Jenny se pa.
Hy is Mooidraai se burgemeester.
“Wag net eers, meneer,” sê sersant Smit. “Dié mannetjie is vol streke. Altyd besig met die een of ander grap.” Hy kyk Victor skerp aan. “Hy’s die een wat verlede maand met ’n groot lawaai hier ingestorm het en vir my assistent gesê het die veldjie agter die skool brand en daar is kinders wat daar speel wat lelik kan verbrand. En toe is daar g’n so iets nie.”
“Ek maak nie nóú ’n grap nie!” skree Victor verontwaardig. “Dis waar!”
“Ek dink jy moet liewer loop. Ek het nie nou tyd vir jou nonsens nie. Ek en meneer Marais is in die middel van reëlings vir die Jong Mejuffrou Mooidraai-kompetisie.” Sersant Smit draai na meneer Marais en dit lyk vir Victor asof hy hom gaan ignoreer.
Victor gryp Jenny se arm. “Sê vir jou pa ek lieg nie. Asseblief!”
Sersant Smit swaai verwoed om. “Jy lieg altyd. Het ek nie gesê jy moet jou loop kry nie? Ons is besig.”
Maar Jenny tree tussenbeide: “Pappa, Victor het al oor goed gejok en grappe gemaak, dis waar, maar dié keer dink ek praat hy die waarheid.”