Читать книгу Slagoffer - François Smuts - Страница 7
EEN
ОглавлениеWant die skone is niks anders nie
as die begin van die verskrikking wat ons nét kan verduur.
– Rainer Maria Rilke
Oor die eerste blik sou die media later uitbundig berig. Maar dit sou natuurlik tweedehands wees: die woord skep sy eie werklikheid, maar kan nie die beleefde werklikheid bevat nie. Dié wete was later vir hom ’n troos wanneer hy daaroor nadink en die gebeure herleef, soos ’n tong wat telkens sy pad vind na die gat waar ’n tand was. Omdat hy weer en weer die varsheid van die eerste, ligtende oomblikke wou ervaar. Maar natuurlik ook oor wat later gebeur het.
Die oggend het begin soos te veel ander, met die geluidjie van die iPad wat hy al hoeveel keer wou verander maar nie het nie. En die wete dat hy nie heeltemal genoeg geslaap het nie. Die opera in die Kunstekaap het tot laat aangehou.
Toe die regop kom, sy bene van die bed afswaai en vir die soveelste keer besef hoe eienaardig dit is om die klein besonderhede van jou lewe presies te vind soos jy dit gelos het toe jy aan die slaap geraak het. En: Hoe onmagtig ’n mens is teen die dikker wordende laag stof wat oor jou lewe neersif.
Hy het opgestaan en seker gemaak dat hy die beddegoed agter haar rug terugsit. Hy het aantrekkamer toe gegaan, die deur saggies toegemaak en die lig aangeskakel, die teëls koud onder sy voete.
Hy het saggies sy fietsryklere aangetrek, die lig afgeskakel en weer die aantrekkamer se deur oopgemaak. Met sy fietsryskoene in sy hand by die trap afgegaan. Hy het die alarm afgesit en in die garage saggies die deur toegemaak en toe sy fiets van die muur afgehaal. Hy het sy fietsryskoene aangetrek, die garage se roldeur laat oopgaan, op sy fiets geklim en weer die deur met die afstandbeheer toegemaak. Hy het ’n oomblik so in die donkerte bly staan en na die dowwe sterre gekyk, die suidooster voel opsteek. Toe die kareeboom opgemerk, wat freneties met sy blare letters teen die lug skryf. Hy’t gedink Helshoogte gaan moeilik wees vanoggend en die fiets vorentoe laat loop, af in Piekesig. Hy het die veiligheidskompleks se skuifhek laat oopgaan, eenbeentjie deurgery, dit weer toegemaak, die afstandbeheer by sy hemp se agtersak ingevroetel en die ander skoen vasgeklik in sy pedaal.
Hy het regs geswaai in Endlerstraat, toe links in Martinson en weer in Merriman. Links van hom het die steendenne soos boodskappers opgedoem, voor hom kon hy die gloed van die dorp se ligte sien. Soos gewoonlik het hy nie dadelik Helshoogte se kant toe gedraai nie, maar eers afgery tot by die kruising met Cluverstraat, om bietjie op te warm voordat hy die bult aanpak. Hy het gestop by die verkeerslig en toe die lig groen word, opgestaan in sy saal en regs by die Helshoogtepad ingedraai. Die heerlike spanning in sy bene gevoel soos hy die bult vat.
Veel meer van die fietsrit kon hy nie later onthou nie. Dit was te soortgelyk aan talle ander kere. Hy kon wel onthou dat die wind inderdaad kwaai was en dat hy op ’n afdraand een keer wild moes uitswaai vir ’n kat. Of het dit ’n ander oggend gebeur?
Toe hy die huis deur die garagedeur binnekom, het sy oor ontbyt gesit en koerant lees.
“Môre,” het hy gegroet.
“Môre.”
Sy het aanhou lees sonder om op te kyk.
Op die vraag hoe haar dag loop, het sy hom vertel dat sy die aand ’n ete met die ouditeursfirma PwC het. ’n Bekendstelling van hulle borgskap vir bergfietsry.
“Klink interessant. Wie gaan daar wees?”
“Weet nie. Seker die gewone spul, plus ’n paar sportmalles.”
“Gaan jy alleen?”
Sy het die koerant laat sak en hom aangekyk.
“Wou jy saamgaan?” Soos ’n uitdaging.
“Nee wat.”
Hy het met die trappe opgestap om te gaan stort en aan te trek.
’n Rukkie later het hy die BMW hoor grom en wegry. Hy is terug kombuis toe. Hy’t ’n pakkie van Woolies se gesnyde vrugte oopgemaak, muesli en jogurt bygesit. Die koerant opgetel.
Selfs dié gesprek sou hy net onthou omdat hy die ete daardie aand met PwC as ’n soort kapstok in sy geheue gehad het.
Dit was sy gewoonte om by Vida e Caffè ’n koffie te drink voor hy werk toe gaan. Daar was ’n warmte aan die plek; en die ligging – op die hoek van Kerkstraat by die oopmaak van Birdstraat op pad Braak toe – het hom altyd op die een of ander manier aan sy kinderdae laat dink. Daar was vroeër jare ’n klerewinkel. Was dit De Jagers? Of was dit op ’n ander hoek? En die musiek, die luide vrolikheid van die personeel en die gemeensaamheid van mense wat koffie drink, het sy gees net so goed gedoen soos die sterk, bitter koffie.
Hy het altyd vroegerig gegaan sodat hy nog parkeerplek daar naby kon kry. Maar dié oggend was Dorpstraat al besig en was daar nie meer parkeerplek nie. Hy het meteens onthou dat die studente terug is. Bliksem. Maar hy het tog plek voor Cluver Markotter se gebou gekry en vir die soveelste keer die ry figuurtjies van metaalwerk op die oorhang opgemerk.
Hy het oor die straat gestap, sy oë opgeslaan na die koffierestaurant en byna gaan staan.
Want by ’n tafeltjie agter Vida se groot vertoonvenster, met ’n koppie koffie in die hand, het ’n beeldskone meisie na hom sit en kyk. In ’n oomblik het hy die groot, bruin oë ingeneem, die perfekte wenkbroue, die fyn neus en breë, vol mond. En haar blik: daar was ’n doelgerigtheid daaromtrent. Hy het verward sy oë laat sak en die argeloosheid probeer veins van iemand wat nie daarvan bewus is dat hy dopgehou word nie.
Hy het die koffierestaurant binnegegaan en in die ry gaan staan, net vaagweg bewus van die koffiejoggies se opgeruimde groete en geselsies met die klante, die gemurmel van die mense by die tafeltjies. Wie is sy? Ken sy my? Nee, hy het haar nog nooit gesien nie, daarvan was hy seker. Sy was nie ’n pasiënt nie, nie ’n student nie, nie een van Ingrid se kollegas of leerklerke nie. Hy sou onthou het.
Sy het aan sy regterkant gesit, knap langs hom waar hy in die tou staan. Hy het probeer om nie te kyk nie, maar kon sy oë nie keer nie. Haar rug was na hom toe gedraai en sy het steeds by die venster uitgekyk en met haar teelepel gespeel. Haar hare was ’n dik bos swart krulle wat tot by haar skouers reik. Sy het smal skouers gehad onder ’n ligte truitjie. Haar vel was karamelkleurig en glad soos room. Hy kon haar parfuum ruik: ’n soeterige roosgeur met iets kruierigs by.
Hy het die koffiejoggie se “Next!” gehoor en besef hy is voor in die ry. Hy het sy bestelling selfbewus geplaas; iemand wat dopgehou wil word.
Met sy koffie in die hand het hy skuins agter haar teen ’n muur gaan sit. Na haar rug en weer na haar hare gekyk. Totdat hy sy blik verskuif en met ’n skok besef dat sy hom, of sy weerkaatsing, in die venster dophou. Maar voor hy haar oog kon vang, het sy opgestaan, ’n dagsak op haar rug geswaai en uitgestap.
Hy het haar agterna gekyk: heerlike lyf, stywe boude wat woel in haar broek, lang en lenige bene. Sy het met ’n los en vinnige tred gestap, soos iemand wat gereeld oefen en gemaklik is met haar lyf. Krulle wat wip met elke tree. Sy het verdwyn na die Braak se kant toe sonder dat hy weer haar gesig kon sien.
Effe bedroë het hy sy koffie sit en drink. Miskien het hy hom verbeel. Maar tog nie. Dalk was sy net ingedagte en het sy hom nie eens raakgesien nie. Ook nie: sý het weer na hóm gekyk. Doelbewus gekyk. En hoekom het sy dadelik geloop toe sy agterkom hy kyk na haar?
Jy sit nou en kwyl soos ’n bleddie student, het hy homself betig.
Dit was hy natuurlik lankal nie meer nie. Bepaald nie: uiters suksesvolle psigiater van al Stellenbosch se oorrykes, ja. Sekulêre versorger van hulle siele en ontvanger, deur sy goedversorgde ontvangsdame van afstandelike ouderdom, van irrelevante hoeveelhede van hulle of hulle mediese fondse se geld. Deeltydse dosent aan die universiteit, met verskeie gesaghebbende artikels oor die psigopatologie agter sy naam. Medeskrywer van ’n voorgeskrewe werk vir studente. Voltooier, met nogals skaflike tye, van verskeie bergfiets-uitdaagwedrenne. Besitter van ’n knalgeel Porsche – weliswaar op skuld, maar dit staan nie op die kar nie.
Net jammer oor die huwelik.
+ + +
Hallo, duende, my ou vriend. Ek het weer met jou kom praat.
Ek het hom gaan opsoek op sy webwerf. ’n Lelike maar interessante gesig. Dun, met die plooie van iemand wat baie oefen en min eet. Donker hare wat wil-wil grys word. Groot, vriendelike, hartseer oë onder ruie wenkbroue. Oorgroot neus. Drie dae oue baard, sout-en-peper. Mond met kleurlose lippe. Onreëlmatige tande in die glimlag.
Hy lyk nie soos ’n psigiater nie. Geen tweedbaadjie of pyp nie, net ’n linnehemp in Provensaalse blou.
Ek het met my hartseer wat sing in my hand – jou hartseer, noudat ek daaraan dink – ’n afspraak gemaak by die formele vrou wat oor die foon klink of sy Nederlands is, of dalk Duits. Vir vanoggend.
Ek sit vroegoggend in ’n koffierestaurant – en God, hier stap hy oor die straat. Oor die straat reguit na my toe. Hy kyk op en dit lyk of hy skrik. En ek kan net weerloos staar. Soos ’n danseres wat die eerste akkoorde van ’n liedjie hoor en wie se heupe begin wieg sonder dat sy dit weet.
Hy kom in en bestel sy koffie en hy gaan sit en hy kyk na my. Kyk na my met daardie oorgroot, vriendelike, hartseer oë. Of hy my bedink terwyl hy kyk.
Laf is jy. Laf. Laf. Hy het nie. Hy het nie.
O, maar hy het.
+ + +
Hy was nog ’n mediese student toe hy haar een aand by ’n braai ontmoet het. Dit was ’n huismaat se verjaarsdag, maar hy moes die volgende oggend by Ongevalle werk en kon nie regtig saamkuier nie. Hy het daarom maar met ’n Coke in die hand gestaan en luister na die manne se gesels. Sy het skuins van agter gekom.
“Wat maak ’n sappige stuk vleis soos jy hier op jou eie?” Terwyl sy haar hand op sy boarm sit en aan sy spiere voel.
“Ek … e …” het hy nog probeer, maar sy het hom onderbreek.
“Ingrid Burger.”
“Dawid Neethling.”
“Hallo, Dawid Neethling. So, wat is jou verskoning om los op die Bos te wees?”
“Ek is vyfdejaar medies.”
“En ek doen BRek-honneurs, maar my persoonlikheid is nie ’n ingeboude voorbehoedmiddel nie.”
Hy het onthuts gelag en gewonder wat die meisie met die aristokratiese, byna Middeleeuse gesig en lenige lyfie in hóm sien. Hy het nie lank moes wag om uit te vind nie. Sy het die res van die aand op dieselfde flankerende toon met hom gekuier. Hulle het albei te veel gedrink – hy ten spyte van sy verpligtinge die volgende oggend – en is later saam na haar woonstel toe. Hy het in die nag wakker geword van ’n gevroetel aan sy onderlyf, sy oë oopgemaak en vasgekyk in haar skoongeskeerde geslag en die onderkant van haar boude. Hy het haar boude in sy hande geneem en gulsig saam geëet, soos iemand wat in ’n droom aansit by ’n feesmaal waarna hy nie genooi is nie.
Hy het die volgende maand by haar ingetrek, hoewel hy om sy ouers se onthalwe sy vorige kamer bly huur het.
Hy het die volgende ses maande agtergekom dat sy baie nougeset is. Oor wat sy eet, oor hoe haar goed in die badkamer gerangskik moet wees, oor haar werk, haar uur lange gimsessie oor middagete, oor seks elke oggend en elke aand. En oor die feit dat dinge moes werk net soos sy dit beplan het. Indien nie, was die hel los. Sy het hom gevloek en geskel soos ’n viswyf, dinge gebreek en hom selfs per geleentheid fisiek bygedam.
Dan sou sy hom ná so ’n ontploffing – want dis wat dit was, onverwags en oorweldigend – vir dae aaneen totaal ignoreer, tot sy op ’n nag op hom kom sit en hom bevry met die dorstigheid van ’n hermiet wat pas sy siel aan die duiwel verkoop het.
Die kontras tussen die prettige, pittige meisie en die woedende kind het hom aanvanklik verskrik gelaat. Hy was glad nie so iets gewoond nie. In sy ouerhuis was die emosionele landskap afgebaken en bekend. Sy ouers het nooit voor hom baklei nie en sy sibbe was sy intellektuele en emosionele minderes. Maar die onvoorspelbaarheid van haar woede het hom ook geprikkel. Dit was soos oorgawe aan ’n chaotiese onbekende. En hy was heimlik seker dat as hy haar beter sou leer ken, hy die aanvalle beter sou leer hanteer, of selfs beheer. Buitendien, as hy dit nie regkry nie, kon hy altyd later sy opsies heroorweeg.
Die boom van die chaos en die opsies het een oggend uitgeval toe Ingrid by die badkamer uitkom en aankondig dat sy swanger is. Hy het gevoel hoe die bloed uit sy gesig dreineer, terwyl hy in sy gedagtes rondgryp na implikasies en uitkomkanse.
Van implikasies was daar heelwat, uitkomkanse geen. Want die waarheid was dat Dawid te veel van ’n jong, onseker Afrikaner was om ’n swanger meisie sommerso op die vlakte te laat, of selfs in ’n voorwaardelike verhouding met haar voort te gaan. Buitendien het Ingrid hom duidelik laat verstaan dat die hel los sou wees as hulle nie trou nie. Die resultaat het eenvoudig meer chaos beloof as wat Dawid sou kon hanteer.
Ingrid het die troue haastig gereël en hy moes die vrank vernedering daarvan smaak om sy ouers in die oë te gaan kyk met sy aanstaande aan die hand. Hulle was geskok, maar het saamgestem dat ’n huwelik die beste opsie is. Sy eerste kontak met sy skoonouers was ook ongemaklik, maar hulle het duidelik vooraf besluit om die beste van ’n slegte saak te maak en was nie onvriendelik nie.
In die week voor die troue het hy een oggend ’n skeermeslem in die badkamer se drommetjie gegooi en voordat die dekseltjie kon toeklap, ’n tampondosie daarin gesien. En die volgende oggend ’n tampon, toegedraai in toiletpapier.
Toe hy haar daarna vra, het haar oë effens gerek. Sy het hom lank roerloos aangekyk, asof sy ’n besluit neem. Toe het sy haar wysvinger ’n slag of wat onder haar neus gevryf en twee trane het uit haar oë geloop. Sy het meteens haar gesig teen sy bors gedruk met haar arms voor haar bors gevou, en hy het instinktief sy arms om haar gesit.
“Ek het dit verloor … verloor … verloor.” Oor en oor: “Ek het dit verloor. Ek het dit verloor. Ek het dit verloor.”
Terwyl hy staan met sy arms om haar, haar skrapse lyf teen syne, sy wang teen haar fyn, geurige hare. En die vrae wat in sy kop rondflerts soos vlermuise teen ’n skemerende lug.
Tog het hy aanvanklik gedink dat hulle gelukkig was. Hulle was albei besig, albei ambisieus, wat beteken het dat hulle mekaar in die week skaars te siene gekry het, en dikwels oor naweke ook nie. Maar hulle het lekker goed saam gedoen in die kort tydjies bymekaar, lekker vakansie gehou. En Dawid het gaandeweg geleer om onderwerpe te vermy wat as snellers sou dien vir haar woede en daaropvolgende afsydigheid. Want hy het nooit die woede leer hanteer nie. Elke uitbarsting was ’n apokalips.
Ingrid se pa was welaf, ’n randfiguur van wat deur kwaadwilliges die Stellenbosch-mafia genoem is. En Ingrid self was by ’n firma met ’n wye verskeidenheid kliënte, sodat sy huisdokterspraktyk en later sy psigiaterspraktyk gedy het as gevolg van hulle gedeelde kontakte. Hulle vriendskappe ook. Hulle is dikwels uitgenooi, het soms self onthaal, hoewel dit maar gewoonlik ’n braai was, want Ingrid was nie lief vir kook nie. Daar was laat aande, met lekker lag en goeie wyn. Dinge het goed gegaan, hoewel dit hom gepla het dat hulle gesamentlike vriende eerder as kennisse beskryf kon word: mense wat vrolik en vriendelik is, maar nie na aan hom of Ingrid nie. Sy eie vriende was kollegas en fietsrypêlle, en Ingrid was selde lus om saam met hulle te kuier.
Die ongemaklikhede is op ’n spits gedryf toe hy die onderwerp van kinders begin aanroer. Hulle was al goed in hulle dertigs, sy praktyk was stewig gevestig en hy wou begin met ’n gesin. Ingrid wou niks weet nie. “Later,” was telkens haar antwoord. As hy breedvoeriger daaroor wou praat, het sy haar loopbaan as verskoning aangevoer. Verder as dit kon hy nie die gesprek kry sonder om die voortekens van ’n dreigende uitbarsting te ontlok nie. Dit, het hy geweet, sou net die deur toeklap op die moontlikheid van verdere gesprekke. En tog het hy probeer, toenemend roekeloos probeer, ten spyte van haar dreigende woede. Om te sien wat die diepte van haar verset is; om te bepaal of sy bereid sou wees om hulle verhouding te breek om haar sin te kry.
Hulle het een aand by mense in die Kaap gekuier en by die huis ’n slaapdop gedrink. Hy kon ná die tyd nie eens onthou hoe hulle weer op die onderwerp gekom het nie. Die feit dat hy ’n dop of drie sterk was, het daartoe bygedra, maar die eintlike dryfveer was sy onderliggende gevoel dat dit die een kwessie was waaroor hy nié sou bes gee nie.
“Dit voel vir my jy gee my antwoorde, maar ek hoor nie die eintlike antwoord nie.” Dit was ’n paaiende stelling, maar ook een waarmee hy by nabetragting wou wys dat hy nie sou tou opgooi nie, dat hy sou bly aandring tot hy ’n bevredigende antwoord kry.
Sy het aan die bewe gegaan. Die glas whisky het uit haar hand geval en die stukke het oor die kombuisvloer gespat. Sy het gebuk, ’n groot skerf opgetel en haar linkerpols met kaphoue begin sny, herhaaldelik; en toe die glasskerf versit en haar regterpols gesny met dieselfde driftige kaphoue, asof sy déúr die arm wil sny. Terwyl sy skree: onaards, lank en uitgerek, en eindig in ’n geluid soos iemand wat gewurg word. Toe het sy in ’n hopie op die vloer ineengestort, oë wydgesper, haar hande in vuiste langs haar kop, geluidloos aan die huil met ’n wye, oop mond.
Hy het haar probeer vashou. Sy het hoegenaamd nie gereageer nie. Dit was asof sy katatonies geword het. Hy het ’n rukkie so by haar gesit, terwyl die bloed by haar arms afstroom.
Toe het hy tot sy sinne gekom, na sy medisynetas gehardloop en ’n spuitnaald en ’n ampule met ’n sterk kalmeermiddel uitgehaal. Hy het haar in haar skouerspier ingespuit, want dit was duidelik dat hy dit nie binneaars sou kon doen nie. Toe het hy sy selfoon gekry en Zakira, een van sy kollegas wat ’n traumachirurg was, gebel. Sy was binne ’n paar minute daar. Hulle het by Ingrid gesit en deppers op die snywonde gedruk terwyl sy algaande rustiger word en later aan die slaap raak. Die ambulans was ’n kort wyle later daar.
Ingrid het lê en slaap toe hy die volgende oggend weer by die hospitaal kom. Hy het Zakira by haar bed ontmoet, soos hulle die vorige aand afgespreek het.
“Dit lyk asof sy nie groot senuwees raakgesny het nie, maar haar handtendons is aan albei kante op ’n paar plekke morsaf. En ek het Alwyn van Zyl moes kry om haar venes te kom las. Sy het dit aan flarde gesny. Sy’t natuurlik heelwat bloed verloor. Ons sal maar moet kyk na haar senuweetoevoer as sy eers by is … Alles in ag genome, het sy waarskynlik redelik lig daarvan afgekom. Maar hier is duidelik kak wat uitgesorteer moet word, Dawid.”
Dit was Zakira se manier: woorde soos ’n skalpel.
“Jy moet laat weet as ek kan help.” Sy het aan sy voorarm geraak en haar hand ’n oomblik daar laat rus. Toe is sy by die deur uit sonder om te groet, haar gedagtes seker reeds by die volgende pasiënt.
Ingrid se pa was duidelik geskok toe Dawid hom bel en het hom hospitaal toe gehaas. Hy was ’n groot, bonkige man met grys hare en ’n Smutsbaardjie. Hard as dit by geld kom, maar gesofistikeerd en oopkop.
Dawid het hom in breë trekke vertel wat gebeur het, maar nie die oorsaak van die argument genoem nie. Herman het hom aangehoor en toe gevra wat Ingrid se toestand en prognose was. Dawid het hom vertel wat Zakira gesê het.
“Jy is my ten minste verskuldig om te sê hoekom dit gebeur het.”
Dawid wou hom eers opruk oor die half aggressiewe toon, maar het op ’n ingewing besluit om hom in sy vertroue te neem. Dalk kon hy help.
“Kom ons gaan ry ’n ent.”
Hulle het na Die Laan toe gery en langs die Eersterivier op ’n bankie onder die bome gaan sit. Dit was warm en die sonbesies het geraas.
Dawid het hom vertel van Ingrid se woede-uitbarstings, van sy toenemende frustrasie omdat sy nie wou kinders hê nie en hoe die gesprek die vorige aand verloop het totdat sy die uitbarsting gehad het.
“Ek weet nie wat om daarvan te maak nie. Ek kan om die waarheid te sê steeds nie kop of stert daarvan uitmaak nie.”
Herman het ’n metaalbuisie uit ’n binnesak gehaal, die doppie afgedraai en ’n halwe sigaar daaruit geskud. Hy het dit tydsaam aangesteek en diep rook ingetrek.
“Ek neem aan Ingrid het jou vertel dat sy aangeneem is?” het hy gevra terwyl hy na die sigaar se punt kyk.
“Nee?”
Dawid het skerp na hom toe gedraai. Herman het hom nie in die oë gekyk nie, maar na die rivier, toe weer na sy sigaar se punt.
“Sy is my broerskind. Ek en my broer was baie naby aan mekaar. Hy het naby Smithfield in die Vrystaat geboer. Een Saterdagaand is hulle aangeval. My broer is wreedaardig gemartel en sy vrou verkrag. Toe is albei vermoor. Hulle ander dogter ook. Die bure het eers ’n dag later by die plaashuis opgedaag toe daar nie antwoord op die radio was nie. Ingrid is in ’n kas gekry waar sy weggekruip het, baie in dieselfde toestand as wat jy vertel het sy gisteraand was. Sy het alles gehoor wat gebeur het.
“Ons het haar toe aangeneem. Ons het haar al die liefde gegee wat ons geweet het hoe. Sy is vir jare behandel deur die beste kindersielkundige en psigiater wat ons kon kry. Sy is uiteindelik gediagnoseer met ’n weerstandige posttraumatiese stressindroom. Wat nooit regtig opgeklaar het nie.”
Dawid het ’n ruk stomgeslaan gesit. Herman het sy sigaar laat gloei, die rook stadig by sy mond laat uitlek. Met sy linkerhand oor sy gesig gevee.
“Sy het in haar tienerjare beter geword en toe sy begin swot het, het dit gelyk of sy begin regkom. Sy het weer gelag. Dit het gelyk of sy die lewe geniet. Sy het jou ontmoet en ten spyte van die swangerskap het ons gedink dat sy gelukkig is saam met jou.”
Hy het vooroor gebuig, sy voorarms op sy knieë gestut.
“Ek is jammer, Dawid. Ek moes jou vooraf gesê het. Seker gemaak het jy weet waarvoor jy jou inlaat. Maar ons is maar almal lafaards. Ons lieg vir onsself, knyp ons oë toe en hoop. Ons het gehoop dat ’n geliefde, ’n huwelik, haar sal kan help. Haar gelukkig sal maak. Dat alles op ’n manier sou … ek weet nie, sou regkom. Natuurlik was ons met die terugkyk naïef en … en … wel, plein verkeerd.”
Dawid het lank sit en kyk na die rivier, die warboel van sy gedagtes probeer uitpluis. Herman se woorde het alles verklaar. Hy het in ’n oogwink Ingrid se hele bestaan begryp: die behoefte aan beheer, die woede-uitbarstings, die afstandelikheid teenoor mense, die gesukkel om te slaap, die spanningshoofpyne.
Terselfdertyd het dit vir hom gevoel asof sy hok se staalhek finaal toeslaan. En, op ’n manier, dat dié oomblik die naaste is wat hy aan ’n oplossing sou kom. Hy het sy regterbeen onder hom ingeskuif en na die man langs hom se geboë figuur gekyk.
“Maar Herman, wat sê jy vir my? Wat moet ek maak? Moet ek die res van my lewe saamleef met ’n vrou wat landmyne oral om haar siel geplant het? Met geen vooruitsig op ’n gelukkige gesinslewe en op kinders nie?”
Daarop het Herman na hom toe gedraai. Hom ’n rukkie betrag.
“Ek skat jy sou haar kon skei. Niemand kan jou keer om dit te doen nie. Maar jy moet besef dat Ingrid baie sleg gaan reageer as jy weer haar wêreld opbreek. En jy moet ook weet dat ek sal moet kies as dit gebeur.”
Met die instink waarmee ons die waarhede van ons bestaan raaksien, het Dawid geweet dat dié dreigement bedoel was; en dat Herman se konneksies op Stellenbosch waarskynlik ook beteken het die dreigement is een met tande. Maar hy wou nie so maklik gaan lê nie.
“Wat sou jy gedoen het as jy in my posisie was?” Sodat sy skoonpa kon voel hoe dit voel, of ten minste kon dínk.
“Ek weet nie. Ek het nog nie daaraan gedink nie.” Herman het gehuiwer en toe voortgegaan: “Maar jy het ook nie só ’n slegte lewe nie. Jy’t om die waarheid te sê ’n heeltemal goeie lewe. Dis nie asof Ingrid die lewe vir jou ondraaglik maak nie. En daar is tog baie mense wat lewens lei wat nie presies is wat hulle wil hê nie – ek sou sê die meeste mense. Daar is selfs mense wat doelbewus besluit om nie kinders te hê nie. Of nie kinders kán hê nie.” Hy het sy mondhoeke afgetrek asof hy iets oorweeg, toe sy skouers gelig.
“Op die keper, dus, dink ek … ja, ek sou maar net aangegaan het. Die hand speel wat ek gekry het.”
Terwyl hy Dawid waterpas in die oë kyk.
Ingrid was wakker toe hy die aand by haar aankom. Sy was nog wasbleek. Sy het asof verstar gelê en voor haar uitgestaar. Sy het geen reaksie getoon toe hy by die saal instap nie.
Hy het ’n stoel nader getrek en langs haar gaan sit. Haar hand gevat. Sy het steeds nie sy teenwoordigheid erken nie.
Hy het so lank so bly sit dat hy naderhand tred van die tyd verloor het. Hy het stram regop gekom en haar hand gelos. Toe het hy haar op die voorkop gesoen en geloop.
Sy het nog twee dae hoegenaamd nie gereageer op sy teenwoordigheid nie. Toe begin om hom met haar oë te volg. Later geknik wanneer hy inkom. Hom nog later toegelaat om haar te voer.
Ingrid is ’n paar weke later na ’n rehabilitasie-eenheid oorgeplaas en is ongeveer twee maande later huis toe.
Dawid het die motor in die garage getrek en haar deur oopgemaak. Sy het uitgeklim, regop gekom en hom in die oë gekyk.
“Het jy gesien wat jy wou?”
Dit was al wat sy ooit oor die voorval gesê het. Sy het herstel. Langmouklere gedra om die letsels weg te steek. Sy het geen meer gevoel in haar linkerhand se ringvinger en pinkie gehad nie. En skynbaar probeer om haar woedebuie te beteuel.
Op die oog af het hulle voortgegaan asof niks gebeur het nie. Dit was vir Dawid asof die kennis van haar gebrokenheid hom meer toegeneë tot haar maak. Dit was ook asof hy ná die gesprek met Herman ’n groter warmte teenoor homself bespeur het. Hy het oor ’n middagete saam met sy skoonpa uitgevind wie Ingrid behandel het en die sielkundiges – want daar was oor die jare twee – en die psigiater gaan sien. Hulle het haar geval met hom bespreek, hoewel hulle nie veronderstel was om dit te doen nie. Twee dinge het vir hom duidelik geword: dat haar behandeling inderdaad van die beste was, en dat Ingrid een van daardie moeilike gevalle was wat eenvoudig nie behoorlik op behandeling reageer nie. Oor hoekom dit so was, kon die sielkundiges en psigiater maar net spekuleer. Sy het ’n moeilike verhouding met haar ouer suster gehad. Dalk het sy skuldig daaroor gevoel dat dié vermoor is en sy nie. Dalk het die feit dat die trauma reg aan die begin van haar puberteit gekom het, beteken dat haar persoonlikheid so met die steurnis vervleg geraak het dat dit nie reggestel kon word nie. Hulle kon dit nooit vasstel nie. Maar hoe ook al, almal was duidelik daaroor dat die prognose ná soveel jare maar sleg was. Dawid sou dit moes aanvaar en daarmee leer saamleef, tensy …
Tensy, ja.
Daardie “tensy” het hy een Saterdagoggend oor ’n fietsrykoffie by The Hoek in Franschhoek bespreek met Ferdi Pieterse, ’n klasmaat op universiteit en nou ’n neuroloog. Van al sy vriende was Ferdi die een met wie hy oor die kwessie sou kon praat sonder dat dit uitlek of op die een of ander manier teen hom gehou word.
Ferdi het met sy voete op een van die rooi stoeltjies na Dawid se relaas geluister en elke nou en dan ’n vraag gevra. Toe het hy Dawid op sy droë manier aangeraai om sy praktyk mooi te analiseer om te sien watter persentasie van die pasiënte Herman of Ingrid se kontakte is. En om die moontlikhede om sy praktyk uit te brei, te ondersoek.
Die volgende Saterdagoggend het hulle weer kajuitraad gehou. Dit het uit Dawid se ondersoek duidelik geblyk dat sy praktyk nie sou oorleef sonder Ingrid en Herman se ondersteuning nie.
En die uitbreidingsmoontlikhede was beperk. Somerset-Wes had reeds amper te veel psigiaters. Die Paarl en Franschhoek het albei reeds gevestigde praktyke gehad en die poel was te klein om ’n verdere een lewensvatbaar te maak. Geen satellietpraktyke nie, dus.
Dit sou beteken dat hy sy praktyk van voor af sou moes begin bou, iewers in Kaapstad. En dan sou hy wat alles verbeur? Die deeltydse pos by die universiteit en die intellektuele stimulasie wat dit bied; sy vriendekring; sy lewe op die dorp. Moes hy werklik van nuuts af elders begin? Op sy leeftyd? In die huidige ekonomiese klimaat?
Dawid het agter Ferdi aan teruggery Stellenbosch toe en besef dat hy sou moes gewoond raak aan die feit dat sy bestaan steriel was en so sou bly. Dat hy hom in sy hok moes vermaak. Dit was asof hy saam met Danté kon sê dat hy hom in die middel van sy lewe in ’n woud bevind, verdwaal en sonder uitkoms.
+ + +
Hy het dié oggend met die meisie van die koffierestaurant in sy gedagtes rondgeloop. Hy het agtuur ’n dubbelperiode met die sielkundestudente gehad. Tussen die periodes het hy onder ’n plataan gaan staan en die studente dopgehou wat verbyloop – en telkens het sy gedagtes weer hulle loop na die koffierestaurant geneem.
Ná sy lesing is hy haastig na ’n vergadering in verband met ’n artikel wat hy aan die skryf was, en daarna na die Mediclinic om ’n pasiënt wat hy toegelaat het te gaan sien. Hy was kwart oor twaalf se kant by sy praktyk in Piet Retiefstraat. Die sentrum waarin sy kantoor was, was oud en taamlik verlep, maar daar was parkering vir sy pasiënte en sy kantoor het ’n pragtige uitsig oor die Eersterivier en Simonsberg gehad.
Hy het geweet hy het ’n nuwe pasiënt en die besoek aan die Mediclinic het langer geduur as beplan. Hy het die trappe opgehardloop en haastig die deur na sy suite oopgemaak. En die tweede keer die dag byna vasgesteek. Want in die ontvangsarea het die jong vrou van die koffierestaurant gesit, rustig aan die blaai deur ’n tydskrif. Sy het nie opgekyk toe hy inkom nie.
Mevrou Wilsnach het hom met ’n vinnige blik betrag.
“Hier’s jou boodskappe, dokter. Die rep van Pfizer het nou al ’n tweede keer gebel. En jou nuwe pasiënt is hier,” het sy met haar oë na die meisie beduie terwyl sy vir hom die lêer aangee.
Hy is by sy spreekkamer in en het die deur agter hom toegemaak. Hy het by die venster gaan staan en in die lêer gekyk.
Haar naam was Eva Rodriguez. Sy was 21 jaar oud, ’n musiekstudent in haar derde jaar. Wat woon in Verreweide 4. Waarskynlik in een van die klomp studentewoonstelle wat in dié omgewing opgespring het. Pappa sou die rekening vereffen, met ’n duur mediese plan. Pappa het ’n ander van as sy gehad: Le Grange. Hy was woonagtig in ’n duur buurt in Pretoria. Onderaan die vorm was ’n groot, sterk handtekening.
Die verwysing was van ’n vooraanstaande huisarts op die dorp, maar daar was geen verwysingsbrief nie.
Dawid het sy asem diep ingetrek en die deur oopgemaak.
“Juffrou Rodriguez?”
Sy het haar tydskrif neergesit, van die heup af opgestaan en na hom toe aangestap gekom terwyl sy hom in die oë kyk. Sy het verby hom geloop tot in sy kantoor, gaan staan en rondgekyk: die kuns teen die mure, die uitsig, die meubels. Toe met dieselfde ek-en-my-lyf-is-een-beweging haar sak van haar skouer afgeswaai en gaan sit op een van die besoekerstoele.
Hy het die deur toegemaak, aan sy kant van die lessenaar gaan sit, die stoel om hom voel vou. Hy het sy bene gekruis en haar aangekyk.
“My naam is Dawid Neethling en ek is ’n psigiater, soos ek aanneem jy weet. Ek sien dokter Brink het jou verwys. Het hy vir jou ’n verwysingsbrief gegee?”
“Nee. Hy’t net gesê ek moet ’n afspraak maak.”
’n Sagte, diep stem wat moegheid verraai.
“Goed. Gee jy om as ek jou ’n paar vrae vra om agtergrond te kry?”
“Nee. Nee, natuurlik nie.”
“Kom ons begin by jou mediese geskiedenis. Ek sien jy is een en twintig jaar oud. Het jy broers of susters?”
“Nee.”
“Waar is jy gebore?”
“Madrid.”
“Madrid? In Spanje?”
Amperse glimlag, asof sy al dikwels die reaksie gekry het.
Sy het verduidelik dat haar pa een van die eerste bruin diplomate was wat oorsee gestuur is. Waar hy haar ma, ’n Madrileen, ontmoet het en met haar getrou het.
Dawid het met haar deur die res van haar mediese geskiedenis gegaan: kindersiektes (die gewone), operasies (geen), ongelukke of ander redes om ’n breinbesering te vermoed (geen), allergieë (geen) en so aan. Haar ontwikkelingsgeskiedenis was nie merkwaardig nie, behalwe dat sy op ’n paar plekke op skool was omdat haar pa in die diplomatieke diens was. Haar ma is oorlede toe sy twaalf was. Sy het haar eie lewe geneem.
“Het sy lank depressie gehad?”
“Ek weet nie. Ek onthou net daar was baie spanning in die huis. Maar ek was te klein om te weet hoekom.”
“Het jy nooit met jou pa daaroor gepraat nie?”
“Ek het al probeer, maar hy sê net dat my ma nie ’n gelukkige vrou was nie. My pa praat nie baie nie. Veral nie oor homself nie.”
“Weet jy hoekom dit is?”
“Want my pa … my pa is een vir wie idees belangriker is as mense. Dit was eers die struggle en toe was dit die politiek. Hy’s gedurig aan die beweeg. Daar’s gedurig nóg ’n konferensie, nóg ’n onthaal, nóg ’n besoek van mense wat ek nie ken nie. En vandat hy DG van buitelandse sake is, gaan dinge net vinniger. Nou’s daar nog oorsese reise ook.”
Eva het self in haar tienderjare gesukkel met depressie en angstigheid. Maar sy het ses maande lank medikasie daarvoor gebruik en dit het redelik vinnig opgeklaar. Sy kon nie meer onthou watter medikasie dit was nie.
Sy het matriek geskryf by ’n privaatskool in Pretoria en toe, ná twee jaar in Spanje, Stellenbosch toe gekom om musiek te studeer – omdat dit die enigste universiteit is wat klassieke kitaar aanbied en omdat daar in Kaapstad ’n groep is wat flamencodanse doen.
“Terug na jou wortels toe?”
“Jy sou seker so kon sê.”
“Maar natuurlik heelwat meer as dit.”
“Natuurlik.”
“En doen jou studies wat dit op die blikkie gesê het?”
“Ek weet nie. Dis moeilik om te sê. Ek skat dis nog te vroeg om te weet.”
Rigtingbedonnerd. Twyfel oor die studies. Afwesige pa. Ma wat haar eie lewe geneem het. Waarskynlik depressie.
“Vertel my van die res van jou familie.”
Sy het met haar duim en wysvinger aan haar onderlip geraak, ’n rukkie gehuiwer. “Daar’s nie veel om te vertel nie. My pa se ouers is albei oorlede. My pa het twee broers wat in Kaapstad woon, maar ons het min kontak. Hulle … hulle is met dwelms en dinge deurmekaar. Ek ken nie my ma se familie nie.”
“Is jou pa weer getroud?”
“Ja, so ’n jaar of drie gelede.”
“En …?”
“Ek is nie mal oor sy nuwe vrou nie, maar ons kom oor die weg. Sy was geskei, maar het nie … kon nie kinders hê nie.”
“En het jy vriende?”
“Eben.” Sy’t geglimlag, ’n binnebeeld gesien. “Eben Benade.”
“Vertel my van hom.”
“Hy swot saam met my. Klavier. Hy’s is sag en snaaks en dierbaar.”
“Is daar iets meer as vriendskap?”
“Genade, nee.” ’n Oomblik se twyfel, ’n ligte frons. “Ek hoop nie so nie. Ek dink nie so nie. Ek wonder soms of hy gay is.”
“Vriendinne?”
“Nee. Ek verkies eintlik maar my eie geselskap.”
Iets het gepla.
“En liefdes?”
Sy het weggekyk. Weer ’n binnebeeld gesien.
Toe kyk sy reguit na hom met oë wat blink. “Dis deels hoekom ek hier is.”
Sy het hom vertel van Jacques Cilliers. Seun van ’n wynlegende, dosent in publiekreg. Vleispaleis. “Hy’s ’n mooi man. ’n Baie mooi man.” Wat sorgeloos wei onder studente, sy modelvrou en twee kindertjies ten spyt.
Jacques Cilliers het haar by ’n studentekonsert gesien en haar ná die tyd opgesoek. Haar vir koffie genooi, toe vir ete en toe na sy woonstel in Kerkstraat. Hulle het vir twee weke ’n verhouding gehad voordat sy uitgevind het dat hy getroud is.
“Toe eers?”
Sy het stilgebly, na woorde gesoek.
Toe: “Ken jy die idee van die duende?”
“Nee. Wat is dit?”
“Dis moeilik om te verduidelik. Mens kan dit eintlik nie verduidelik nie. Dis Spaans vir die donker, ondergrondse dinge wat uit die kunstenaar se binneste voortkom met ’n krag wat die gehoor aangryp en roer. Dis om te probeer om met die chaotiese goddelike in jou kontak te maak, en dit oor te dra.” Fyn hande wat saam beduie. Oë soekend na syne. “Mens sien duende in die beste flamenco en Goya se skilderye. Om duende na te jaag is om met jouself te veg tot die dood, soos ’n matador en ’n bul. Dis om die dood met ’n rooi mantel uit te daag en te kyk of jy iets moois kan maak uit sy poging om jou onderstebo te storm. Dis om jou aan die liefde oor te gee sonder om te wonder, te reageer op jou bloed. En dan kuns daaruit te maak.”
Sy het gehuiwer. “Ek verduidelik nie baie goed nie, nè?”
“Probeer jy die … duende uitleef?”
“Ek dink nie mens kan dit sommer net doen nie. Ek probeer. Kry dit vir seker nie altyd reg nie. Want die duende is nie iets wat jy met ’n metode vind nie. Dis iets wat jy soek. Iets wat jy … jy sit jouself in situasies waar die duende jóú sal vind en dan hoop jy.”
“Is dit deel van die rede hoekom jy musiek kom swot het?”
“Ja. Ek voel iets in my bloed wat anders is, iets wat ek moet gehoorsaam.”
“En dis ook hoekom jy nie gewonder het of Jacques Cilliers getroud is nie?”
“Ja. Eers leef, dan dink. Die duende duld nie die rede nie.”
“Wat het jy gedoen toe jy uitvind hy’s getroud?”
Aanvanklik niks, het sy vertel. Maar ná drie maande het hy eendag van haar afgerol en gesê: “My lyf is moeg vir joune.”
Sy voël gaan afwas, aangetrek sonder om na haar te kyk en uit haar woonstel geloop. Uit haar lewe. Sy was te geskok om dadelik te reageer.
Sy het hom herhaaldelik gebel, maar geen reaksie gekry nie. Sy het verskeie kere op haar fiets verby sy huis gery, maar hom nooit gesien nie. Sy het hom selfs een keer buite sy klas ingewag, maar hy het haar geïgnoreer asof sy geld aan die bedel was. Uit woede het sy toe sy vrou gebel. Sy was nog kort in haar storie in toe die vrou haar onderbreek met: “Hoe oud is jy?” En toe: “Welkom in my wêreld, skattebol. Tyd vir grootword.” En aflui.
Eva het gereik na die sneesdoekies op Dawid se lessenaar. ’n Ruk net so gesit, ingedoke soos ’n duif in die reën.
Hy het haar gelaat vir ’n wyle.
“En nou het jou duende jou op die vlakte gelaat.”
Sy het haar kop opgelig en hom met rooi oë aangekyk. Geknik.
Hy het haar verder uitgevra en vasgestel dat sy ook effe angstig is en sleg slaap.
“Psigiaters is nie sielkundiges nie. Ons doen normaalweg nie terapie nie. Maar ek wil jou tog ’n slag of wat sien sodat ons die ding kan deurpraat.”
Hy het sy Mac nader gesleep, ’n voorskriftemplaat opgeroep en begin tik. “Ek skryf vir jou Cipralex voor. Jy behoort oor so twee weke ’n verskil te begin voel. Kyk na die papiertjie vir die moontlike newe-effekte en bel my as jy een daarvan ervaar, of eintlik enigiets buitengewoons, maar een van die lekkertes van Cipralex is dat dit nie ernstige newe-effekte het nie. Jy mag oor die maande wat kom dalk ’n bietjie gewig optel, en jy mag vind dat jou libido afneem.
“Ek skryf ook vir jou Imovane voor. Dis ’n ligte slaapmiddel. As jy enige asemhalingsprobleme ervaar of ’n uitslag van enige aard kry, bel jy my ook. Hier’s my nommer. En dan kom sien jy my oor ’n week.”
Hy het vir haar sy kaartjie gegee. Sy het dit vlugtig bekyk en in haar handsak gesit.
“Nou toe. Maak ’n afspraak by mevrou Wilsnach. Ek sien jou volgende week.”
Hy het opgestaan. Sy ook, maar half traag, asof die gesprek onaf geëindig het. Sy het haar sak opgetel en oor haar skouer gehang.
By die deur het sy haar hand uitgesteek. “Totsiens. Dankie.” Haar hand was sag en warm en effens klam.
Met die uitloop was dit of sy haar liggaamshouding herwin, met die meer doelgerigte manier van stap. Maar meer as dit. Sy het weer die magiese kleed aangetrek wat sy vroegoggend aangehad het, van verwondering en verlokking en van ’n soeterige roosgeur met die suggestie van speserye. Eva Rodriguez. Hy het die naam in sy gedagtes geproe en later weer daaraan geknibbel. En weer.
+ + +
Hoe maklik het hy my nie baasgeraak nie. Hy het my beluister en bevoel met sy vrae, soos ’n dokter. Hy het my lewe geskandeer en toe sy vinger op die seer gesit. Presies, met selfvertroue. En jou en die seer een gemaak. “En nou het jou duende jou op die vlakte gelaat.” Nee! wou ek skree, nee! Maar ek kon nie, want ek het nie geweet nie. Weet steeds nie. In plaas van skree het die trane gekom. En daar sit ek toe en grens terwyl hy my bekyk en bedink. Maar nie sonder simpatie nie. Nie sonder deernis nie. Soos een wat regtig wil help.
Nie soos Pablo nie. Pablo het my ook bedink terwyl hy my bekyk. En noudat ek daaraan dink, het hy ook baie soos die psigiater, soos Dawid, gelyk. Maar nie met dieselfde oë nie. Hy het net takserend gekyk. Hy het my arms reggepluk as ek dit nie reg hou nie. My seergemaak as ek nie los genoeg was nie, nie presies saam met die musiek beweeg nie. My meisieheupe in sy hande geneem en op maat van die musiek beweeg as ek die ritme nie regkry nie. Hy was streng en ongenaakbaar.
En ook streng en ongenaakbaar toe hy my heupe met syne beweeg het en my onskuld onder vlaag op vlaag heerlikheid vergruis het. En ek alleen en hartseer oor Mamma en Pa, die fokker. Te besig om Spaanse tewe te jag om die dood in sy dogter se oë te sien.
Vir wat skryf ek dit, dit wat ek ken? Hoekom vertel ek myself weer die storie? Dis tog immers in die verlede, verby. Hoe het ek dan weer hier gekom?
Want in die spreekkamer het dit weer my binneste geruk. Veral toe hy vra oor liefdes. Toe wou iets in my hom vertel, maar ek het nie. Dit sou nie reg wees nie. Want hy is ’n man. En om eerlik te wees, ek was bang dat dit net nóg ’n stukkie geskiedenis sou wees, nóg ’n simptoom om te behandel. Ek voel soos ’n pasiënt. Nie soos ek nie, nie myself nie.
Buitendien het dit wat Pablo my aangedoen het, jou moontlik gemaak. En hy weet nie wat jy is nie. Het nie eens die term geken nie. Pas nie in by die diagnose nie.
En tog. Miskien moet ek hom tog sê. Want hy is vriendelik. Sag. Hoewel hy nie verstaan nie. Want hy is ’n man.
+ + +
“Weet jy wat duende is?” het hy die aand vir Barnabas die priester gevra.
“So vaagweg.” Barnabas het nog ’n slukkie van sy rooiwyn gevat. “Spaanse idee, wat Lorca bekend gemaak het maar wat in verskillende vorme voorkom, vanaf die ou Grieke al. Ek sê dis ’n idee, maar as mens die ouens lees, dan het dit ’n lewe van sy eie. Dit hou verband met die Griekse ‘daimonion’, wat later ‘daimon’ en die Engelse ‘demon’ geword het. Mens kan dit eintlik nie verstaan nie. Daarvoor moet jy óf ’n kunstenaar wees óf ’n Spaanse meisie lank genoeg vry. Vir die eerste het ek geen talent nie en die laaste … nou ja, in elk geval nie lank genoeg nie.”
“O, so daar wás ’n Spaanse meisie, was daar?”
Barnabas het so half gelag en in sy glas gekyk. Want Barnabas se liefdeslewe was legendaries.
Hy was Dawid se kamermaat in sy eerste jaar. ’n Jaar of wat ouer as hy. As Dawid destyds die woord geken het, sou hy hom as onverstoord beskryf het. Rustig. Daar is oor hom vertel dat die kombuistannie by die koshuis nie wou glo dat hy sy been gebreek het nie, want: “Barnabas stap nooit so vinnig dat hy sy been kán breek nie.” Maar hy het op sy rustige manier dinge gedoen gekry.
Barnabas het rekenaarwetenskap geswot, maar die ouens het gesê hy swot eintlik BSc Sweis-en-timmer. Hy het die mooiste meisies op kampus met ’n verbluffende toewyding en sonder inagneming van hulle verhoudingstatus deurgewerk: vlerkgesleep onder die vaandel van vriendskap – hy was ’n sjarmante gespreksgenoot, veral ná ’n glas wyn of wat – en hulle dan oortuig dat sy lewe tot ’n einde sou kom as hy nie by hulle slaap nie. Hy’t dan ’n hap of twee aan die appel gevat en aanbeweeg na die volgende verowering.
Dit skynbaar sonder om hoegenaamd daaroor sleg te voel. En wonderbaarlik sonder dat hy te veel keer gedonner is deur die ekskêrels op wie se skouers die gekneuste meisies ná die tyd gaan huil het.
Tussendeur het hy gerook en gedrink en filosofie gesels as hy nie op sy rekenaar aan ’n deurnagprojek gewerk het nie. Welke deurnagprojekte se inhoud selde met sy kursus s’n ooreengestem het. Sodat Barnabas in sy derde jaar opgeskop het met ’n lang lys onvoltooide vakke agter sy naam. Maar dit het hom skynbaar min geskeel.
Hulle het kontak verloor, totdat Dawid eendag ’n pasiëntelêer oopgemaak het met sy naam daarin. Barnabas was daar omdat sy depressie handuit geruk het. Dit het nie mooi gereageer op medikasie nie en Dawid het hom ná ’n ruk vir psigoterapie verwys. Maar dit het ook nie gewerk nie omdat Barnabas nie met die sielkundige oor die weg gekom het nie. Ook nie met die volgende een nie. Ná die derde sielkundige “’n fokken metodetjie op my probeer het”, het Dawid ingestem om self te probeer om Barnabas “bietjie te panelbeat”.
Dis hoe hy uitgevind het van Barnabas se vroueslaner-pa, van sy en sy ma se honger jare in ’n woonstelletjie in Voortrekkerweg. Hoe hy agtergekom het dat Barnabas sosiopatiese trekke het en ’n sterk obsessiewe streep, wat nie verbeter is deur sy jare by Militêre Inligting nie. En agtergekom het dat daar agter die hardnekkige depressie ’n ewe hardnekkige dwelmprobleem skuil.
Dawid het uit sy diepte begin voel en weer rondgevra na ’n sielkundige wat die kompleksiteit van Barnabas se persoonlikheid kon hanteer. Uiteindelik is hy na ’n emeritus-professor verwys wat in Tamboerskloof praktiseer en spesialiseer in dwelmprobleme. By dié oubaas het Barnabas reggekom. Hy was jare lank in terapie, het eindelik sy dwelmprobleem afgeskud en God gevind.
En met dieselfde toewyding as aan die meisies op universiteit, homself aan die Ortodoksie oorgegee: Grieks leer praat, teologie gestudeer en toe priester geword. Eindelose dienste en dinge gehou. Oplaas ’n gemeentetjie op Stellenbosch aan die gang gekry.
Hy het ook gereeld saam met Dawid ’n dop gaan drink by Lanzerac, waar hy seker was sy gemeentelede uit Stellenbosch se meer verweerde buurte nie sou wees nie.
“Hoekom wil jy ewe skielik van die duende weet?”
“Ek het ’n nuwe pasiënt wat daarvan praat.”
Dawid het hom van die eienaardige situasie in die koffierestaurant vertel, en toe van die meisie en haar probleem. Barnabas het hom bejeën soos ’n hoender wat onverwags ’n mieliepit raaksien.
“So gaan jy haar spyker?”
“Is jy simpel? Sy’s ’n pasiënt!”
“Jy lyk lus.”
Dís hoekom Dawid die vriendskap aan die gang gehou het, ten spyte van die feit dat hy geen erg gehad het aan Barnabas se beheptheid met geloof en die rare wêreldbeskouing wat daaruit voortgevloei het nie: Barnabas kon luister soos niemand anders nie en met aweregse, raakvat-perspektiewe vorendag kom.
“Hoekom sê jy so?”
Maar Barnabas het net in sy glas gelag.
En sy woorde sou profeties wees. ’n Mens sou seker lank kon spekuleer oor hoekom dinge verloop het soos dit het. Daar was inderwaarheid ’n amperse onvermydelikheid daaromtrent. Sit twee mense op ’n gereelde grondslag alleen in ’n vertrek. Maak die een ’n aantreklike vaderfiguur wat uit die aard van sy rol sensitief en versorgend moet optree. Maak die ander ’n beeldskone, eksotiese meisie in ’n kwesbare posisie. Wat reeds haar flikkers gegooi het, sy aandag geprikkel het en daardeur haar gesag in die verhouding gevestig het. Laat hulle praat oor haar lewe. Maak die ontwikkeling van enigiets meer as ’n professionele verhouding verbode. En moet dan nie verbaas wees as die kool begin gloei nie.
Haar depressie het gou opgeklaar, soos hy voorspel het. Daar was op die oog af nie herkenbare onderliggende psigose nie, hoewel daar tog ’n sluimerende woede was wat elke nou en dan na die oppervlak geborrel het. Hy het dit ligweg ondersoek, maar dit het nie ooglopend verband gehou met die depressie nie en daar was dus nie ’n terapeutiese rede om dit te verder te neem nie.
Ná drie maande, waartydens lente somer geword het op Stellenbosch, was dit duidelik dat die nodigheid vir terapie haas verby was. Buitendien was die eksamens op pad en daarna die vakansie. Om aan te hou sou eenvoudig onprakties wees.
Hy het een oggend teruggesit in sy stoel.
“Dit sal ons laaste sessie wees dié. Hier’s ’n voorskrif vir nog drie maande se Cipralex. Hier teen begin Januarie neem jy ’n pilletjie al om die ander dag. Dan, ná twee weke, neem jy elke dag net ’n halwe pilletjie, en ná nog twee weke elke tweede dag ’n halwe pilletjie. En uiteindelik neem jy vir twee weke elke derde dag ’n halwe pilletjie. Dan kan jy ophou. Jy bly natuurlik welkom om my te bel as jy wonder oor iets.”
“Jy’t nie iets vir gewigsverlies nie? Ek pas nie meer in my klere nie.”
“Jy behoort dit te verloor as jy ophou met die Cipralex. Hoewel ek moet sê dat die bietjie ekstra gewig jou nie sleg laat lyk nie.”
Hy het sy oë momenteel op haar voller borste laat rus. En die lang oomblik wat sy hom daarna in die oë gekyk het, het gewys dat sy dit raakgesien het. So ook die sweem van ’n glimlag.
“Baie dankie. Jy’t baie vir my beteken.”
“Dit was my plesier.”
Hulle het opgestaan en sy het weer haar sak opgetel.
Hy het by die deur gestaan en wag vir haar. Toe sy verbykom, het sy hom ’n drukkie gegee en hy het haar lippe vlugtig in sy nek gevoel.
Toe het sy geloop, een met haar lyf. En asof wetende dat hy haar agterna kyk.
+ + +
Daimonion, my daimonion, my daimon, my duende.
Wat my versaak het onder ’n mis van pille en oewerlose, droomlose slaap. Van “beter voel”. En van sy woorde, vertroud, vaardig, soos sy hipnotiese hande.
Was al hier, ken dit. Pille gegee daarvoor. Maar ken jou nie, erken jou nie.
Praat met kennis oor die kuns en letterkunde, maar nie uit sy hart nie. Speel met sy trouring – haal dit af, hou dit onbewustelik tussen sy vingers voor sy bleek, dunlip-mond terwyl hy luister en glip dit dan terug oor sy vinger. Dis of hy wil twyfel daaroor maar nie mag nie, asof daar tog in hemelsnaam net nie ’n kraak in die mondering mag verskyn nie.
En tog is hy gaaf. Is hy besorg agter die masker van psigiater-wees. Sien hy my raak.
Maar hy hou my met woorde en wenkbroue op ’n afstand, laat net sy oë soms toe om te opskeploer. Ek sal jou gryp, man, ek sal jou verskeur! Ek sal jou bors oopbreek en jou hart verslind! Ek sal jou die duende aan jou geslag laat voel as ek dit soos ’n feniks deur vlamme laat verswelg, om te herrys en weer te brand! En weer en weer, tot jy smeek om jou lewe en jou dood.
Maar eers aan die mis van pille ontkom.
Kom, lewe! Kom, dood! Kom gou!