Читать книгу 'n Tydreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030 - Frans Cronje - Страница 5
Hoofstuk 1: Die vierde oorgang
ОглавлениеHierdie verhaal begin op 17 Desember 2010 toe ’n jong man genaamd Mohamed Bouazizi die verloop van die wêreld vir altyd verander het. Mohamed was ’n smous wat sy familie onderhou het deur in ’n klein dorpie, Sidi Bouzid, op die Tunisiese platteland groente en vrugte te verkoop. Hy het in ’n arm gesin grootgeword. Sy pa was ’n konstruksiewerker wat gesterf het toe Mohamed nog baie klein was. Hy was volgens ’n vriend ’n gewilde jong man wat, behalwe om sy susters se skool- en universiteitsgeld te betaal, ook ’n tweedehandse bakkie wou koop om sy groenteonderneming uit te brei.
Op 17 Desember 2010 om 11:30 het Mohamed buite die plaaslike goewerneur se kantoor in Sidi Bouzid ’n kannetjie petrol oor homself uitgegooi, ’n vuurhoutjie getrek en homself aan die brand gesteek. Agttien dae later het hy in ’n Tunisiese hospitaal aan sy brandwonde beswyk. Die gebeure wat tot sy dood aanleiding gegee het, was die volgende: Hy het werk gesoek, maar kon niks kry nie en daarom het hy met die smousery begin. As ’n smous is hy voortdurend deur die polisie geteister omdat hy nie die regte handelspermitte gehad het om sy vrugte en groente te verkoop nie en hulle het hom afgedreig om vir hulle geld en omkoopgeskenke te gee. Die dag toe hy homself aan die brand gesteek het, is hy gedwing om geld te leen om sy groente te koop en kon hy dus nie omkoopgeld bekostig nie. ’n Polisiebeampte het hom toe in die straat geklap, op hom gespoeg en sy groentekarretjie omgestamp. Toe hy na die plaaslike regeringskantoor gaan om ’n klag in te dien, het hulle geweier om met hom te praat. Toe koop hy sy kannetjie petrol en gaan terug na daardie selfde kantoor . . .
’n Joernalis het geskat daar was 5 000 mense in sy begrafnisstoet in die dorpie waar hy grootgeword het. Hulle het gedreunsing: “Ons huil vandag oor jou. Ons sal ook dié wat jou dood veroorsaak het, laat trane stort.” En hulle het inderdaad.
Namate die nuus oor sy desperate optrede versprei het, het die betogings begin. Binne ’n maand het dit oor die hele Tunisië versprei. Die polisie het hulle probeer beheer, maar was magteloos om die vloedgolf woede en frustrasie te beteuel. Tunisië se president, Zine el-Abidine Ben Ali, het desperaat en uit vrees vir sy lewe op 14 Januarie 2011 na Frankryk – sy land se voormalige koloniale heerser – gevlug. Die Franse owerheid het geweier om hom te ontvang en asiel is later in Saoedi-Arabië aan hom toegestaan. Die Tunisiese regering het kort ná sy vertrek in duie gestort.
Die opstand het oos en wes van die land versprei. In Egipte het pres. Muhammad Hosni el-Sayed Mubarak ná twee weke van geweld sy bedanking aangekondig. Hy het in 1981 die presidentskap van Egipte aanvaar – net agt dae ná die sluipmoord op sy voorganger, Anwar Sadat. Kort ná sy bedanking is hy saam met sy seuns gearresteer en het hulle tereggestaan weens misdade teen die mense van Egipte. Terwyl die polisie hom ondervra het, het hy ’n hartaanval gehad. Hy is skuldig bevind aan korrupsie en tronk toe gestuur. Hy is in 2015 dood.
In Libië het betogings uitgeloop op die dood van die land se leier, Muammar Gaddafi. Soos Mubarak, het Gaddafi sy sosialistiese diktatorskap 30 jaar lank volgehou, byna sonder opposisie. Menseregteaktiviste is in die tronk gestop en gemartel en opposisiepolitiek is onderdruk. Gaddafi was oppermagtig en kon maak en breek soos hy wou. Maar die illusie van stabiliteit wat deur sy onderdrukking van burgerregte geskep is, kon nie stand hou teen vele Libiërs se toenemende verbittering en onbevredigde verwagtinge nie. Teen vroeg in 2011 was selfs sy oppermagtige sekuriteitsdiens magteloos om die vloedgolf van openbare woede te temper. Gaddafi het, omring deur ’n klein afdeling lyfwagte, op die vlug geslaan en in klein dorpies skuiling gesoek namate die rebellie rondom hom toegeneem het. Hy is soos ’n wilde dier gejag en het in ’n rioolpyp weggekruip, maar is deur betogers gevang. Hulle het hom op straat aangeval, wat sy dood veroorsaak het. Een grusame beskrywing gaan oor hoe sy voormalige onderdane hom met bajonette in die agterwêreld gesteek het – ’n wreedaardige einde aan ’n wreedaardige bewind.
Minder as ’n jaar ná Mohamed Bouazizi se dood was ’n groot deel van die Midde-Ooste en Noord-Afrika in beroering. Betogings of regeringsveranderings het voorgekom vanaf Rabat aan Marokko se ooskus al die pad tot by Maskat aan die weskus van Oman – ’n afstand van meer as 4 000 myl (6 450 km). Sestien lande is geteister deur onrus, wat van burgeroorloë tot massabetogings en veelvuldige omverwerpings van regerings gewissel het.
Die wreedaardige burgeroorlog in Sirië, wat in The Economist as ’n “bloeddeurweekte warboel van oorloë binne ’n oorlog” beskryf is, kan regstreeks na die Tunisiese opstand teruggevoer word. Dit geld ook vir Isis, wat die daaropvolgende chaos misbruik het om homself in Noord-Irak en Sirië te vestig. Verhoogde spanningsvlakke tussen Soennitiese en Sjiïetiese Arabiere, wat steeds dreig om ’n pan-Midde-Oosterse burgeroorlog te veroorsaak, het grootliks uit die Arabiese Lente ontspring. Rusland het op sy beurt die Amerikaanse onversetlikheid oor die Midde-Ooste uitgebuit om ’n deel van die invloed in te palm wat die VSA vroeër as die dominante vreemde moondheid in daardie streek uitgeoefen het. Dit het die magsewewig tussen Rusland aan die een kant en die Europese Unie en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) aan die ander kant verskuif.
Dit is verstommend om te dink dat hierdie reeks gebeurtenisse in baie opsigte begin het by ’n groentesmous – ’n andersins onmerkwaardige jong man wat baie kwaad geword het omdat sy lewensverwagtinge nie vervul kon word nie en omdat niemand wou luister nie. Dié sentiment was duidelik diep gesetel en sy optrede was die vonk wat die kruitvat laat ontplof het.
Waarom is dit vir ons belangrik? As jy in Suid-Afrika woon, kan jy reeds raai: omdat die omstandighede wat daartoe gelei het dat Mohamed Bouazizi homself aan die brand gesteek het, baie ooreenstem met die daaglikse stryd van miljoene arm, jong Suid-Afrikaners. Dit is naamlik massiewe werkloosheid, ’n gevoellose, arrogante en korrupte regering en ’n stygende tendens van openbare geweld.
Ek werk vir ’n dinktenk, die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), wat onder meer organisasies en maatskappye adviseer oor maatskaplike en ekonomiese tendense en hoe die toekoms van Suid-Afrika waarskynlik sal ontvou. In die onmiddellike nasleep van die Tunisiese opstand is ons baie besig gehou met die beantwoording van vrae oor of dieselfde met Suid-Afrika kan gebeur. Ons antwoord was ’n gekwalifiseerde “nog nie”, en ’n duidelike “nee” indien die toenemende frustrasies van jong mense opgelos sou word. Maar dit was meer as vyf jaar gelede en sedertdien het die spanning toegeneem en ekonomiese prestasie het verswak, terwyl dit lyk asof die regering nog meer uit voeling is.
Wanneer ons nou gevra word of Suid-Afrika moontlik deur massiewe ekonomiese en politieke destabilisasie in die gesig gestaar word, antwoord ons versigtiger. Daarmee wil ons nie suggereer dat Suid-Afrika in die chaos van die Midde-Ooste sal versink nie. Om dit vanuit die staanspoor duidelik te stel, ons dink nie dit sal gebeur nie en nie een van die scenario’s in hierdie boek beskryf ’n wêreld wat so gewelddadig en chaoties is as wat ons vandag in die Midde-Ooste sien nie. Maar politieke verandering en ekonomiese destabilisasie kan vele vorme aanneem en ons is op pad (“vinnig op pad” sal dalk ’n beter beskrywing wees) na ons eie, unieke soort beroeringe.
Anders gestel, kan daar enige twyfel bestaan dat daar reeds ’n Suid-Afrikaanse Mohamed Bouazizi daar buite is? ’n Agtermekaar, hardwerkende jong man wat, ondanks alles, sy bes doen om na sy gesin om te sien. Hy het waarskynlik ook nie sy hoërskoolloopbaan voltooi nie en het werk gesoek, maar kon niks kry nie; dus het hy begin smous om vir sy familie ’n bestaan te maak. Hy moet waarskynlik ook teistering en belediging deur die polisie trotseer omdat hy nie die regte permit het nie. Saans, wanneer hy huis toe gaan, vertel hy vir sy tydgenote van sy teenspoed. Hulle sien die welvaart en voorspoed van Suid-Afrika se klein middelklas rondom hulle. In koerante lees hulle hoe politici die land voortdurend plunder. Op die televisie sien hulle hul verkose leiers se onwaardige gekibbel.
Jy kan geen beter prentjie van die hopelose frustrasies van die lewe in baie arm gemeenskappe vind nie as die verhaal van Daniel Mulaudzi, wie se plakkershut in Hammanskraal, noord van Pretoria, afgebreek is in opdrag van die Tshwane-metroraad, wat voorheen onder die beheer van die African National Congress (ANC) was. Die sloping is gelas omdat hy sy plakkershut sonder die raad se goedkeuring opgerig het op ’n stuk grond wat aan die raad behoort – ’n punt wat hy en lede van die gemeenskap later betwis het, met die verduideliking dat ’n raadslid hulle toestemming gegee het om daar te bou. Wat daarna gebeur het, is nietemin ’n waarskuwing oor hoe na die Suid-Afrikaanse regering daaraan is om sy eie kruitvat te laat ontplof. Volgens ’n nuusberig:
Daniel Mulaudzi, 53, het gesê die Rooi Miere-sekuriteitsmaatskappy het Maandag na hul gebied gekom en huise afgebreek.
“Hulle het blou oorpakke gedra. Ons het gedink hulle sou niks doen nie omdat ons wettig hier is. Hulle het op ons begin skiet en ons plakkershutte afgebreek. Ons het daar gestaan en niks gedoen nie,” het hy gesê.
Hy het op ’n rusbank gesit waar sy plakkershut vroeër was en vertel van sy pyn terwyl hy moes toekyk hoe mense sy huis afbreek en met party van sy besittings padgee. Mulaudzi het gesê hy is werkloos en weet nie hoe hy sy lewe gaan herbou nie.
“Dit is seer wat hulle aan my gedoen het. Ek het nie eens sinkplate om dit te herbou nie. Ek is werkloos en weet nie wat ek sal doen om weer te bou nie. Ek het buite in die koue geslaap, want ons het nêrens om heen te gaan nie. Hulle moet ons boumateriaal teruggee. Hulle het selfs goed uit ons sakke gevat. Klere, geld, selfs ons ID-boeke is gevat,” het hy gesê.
Mulaudzi het vertel hoe hy en sy gesin die nag oop en bloot buite deurgebring het. Afgesien van sy boumateriaal wat weggeneem is, is hy nou angsbevange dat hy ook sy meubels deur diefstal sal verloor.
“Ons het die hele nag voor ’n vuur gesit om warm te bly, want as ons weggaan, sal hulle ons goed vat. Ons bly al vyf maande hier. Hulle het gesê dit is wettig vir mense om hier te bly en toe het ons hierheen gekom. Ons kon nie glo hulle vat ons weg nie,” het hy gesê.1
Ek en my kollegas het hierdie verhaal noukeurig gevolg en agtergekom die tragedie van die uitsettings het baie verder gestrek as die inwoners van Hammanskraal wat hul huise verloor het. Daardie selfde nag, terwyl Daniel Mulaudzi by die vuur gesit en sy besittings opgepas het, het ’n ander man genaamd Sam Tshabalala gerou oor die dood van sy broer, Elias.
Elias en Sam Tshabalala was albei werkloos en is teen R150 per dag as tydelike arbeiders in diens geneem deur die maatskappy wat deur die Tshwane-metroraad gekontrakteer is om die Hammanskraal-plakkershutte af te breek. In ’n stadium ten tye van die uitsettings het die gemeenskap teen die tydelike werkers gedraai. Sam Tshabalala was onder diegene wat kon ontsnap, maar sy broer is gevang en lewend verbrand deur die mense wat hul plakkershutte probeer red het. Luidens ’n nuusberig later het die maatskappy wat die Tshabalala-broers in diens geneem het, aangebied om kopkool vir die begrafnis te skenk.
Die hele voorval gee ’n ontstellend alledaagse beeld van die wreedheid wat die lewe van baie Suid-Afrikaners inhou – armes wat teen armes veg om hul huise te red of om R150 te verdien vir ’n dag se arbeiderswerk. Suid-Afrikaners is verkeerd as hulle dink dié soort ding kan dag ná dag voortgaan sonder dat dit die land eendag uitmekaar gaan skeur. Minder as ’n jaar ná die Hammanskraal-gebeure het die ANC sy meerderheid in Tshwane verloor en ’n reeks vergaderings gehou om te probeer verstaan waarom dit gebeur het.
Die IRV onderneem omvattende navorsing oor sowel indiensneming- as werkloosheidsaangeleenthede en het dit nog altyd verbysterend gevind dat daar in party van die groter stedelike gebiede metropolitaanse polisiedepartemente is met afdelings wat met vragmotors rondry om smouse wat nie die regte permitte het nie, se goed te konfiskeer. Dit word gedoen in ’n land waar meer as die helfte van die jeug werkloos is. Afgesien van die wreedheid daarvan is dit ’n ysingwekkend dwase voorbeeld van hoe vonke oor kruitvate gestrooi word – desperate mense wat net probeer oorleef om vir hul gesinne kos te voorsien en dan word hul pogings deur die polisie afgeskiet. As jy die politici en die amptenare wat sulke opdragte gee, sou vra waarmee hulle besig is, sal hulle antwoord hulle skep “orde”. Moeletsi Mbeki, die broer van oudpres. Thabo Mbeki, het hierdie soort onbesonnenheid ten regte beskryf as “kinders wat met ’n handgranaat speel”. Verbeel jou watter orde ons sal hê wanneer, soos hy gewaarsku het, “hulle leer hoe om die pennetjie uit te trek”.
Wat dinge erger maak, is dat misbruik en korrupsie hoogty vier. In een voorval het die Tshwane-metropolisie die stalletjies van smouse afgebrand. In Johannesburg het die stadsowerheid die handelspermitte van honderde smouse eensydig gekanselleer. ’n Paar jaar gelede het ’n kollega probeer ingryp toe die polisie buite die IRV-kantore ’n smous kom verwyder en sy goedere gekonfiskeer het. Sy is vir haar moeite gearresteer en by die Hillbrow-polisiestasie aangehou. Ons het ’n bohaai gemaak en sy is vrygelaat. Maar as jy kla oor hoe swak die regering jou behandel – veral as jy arm is – is die kanse op ’n simpatieke oor nie baie goed nie. Toe ek onlangs om ’n rybewys aansoek gedoen het, het ek gesien hoe lisensiebeamptes ’n vrou beledigings toesnou omdat sy in die verkeerde ry staan. ’n Prominente sakeman het vir my vertel hy kon ’n geskil oor ’n werkpermit net besleg toe hy uit desperaatheid die hulp van ’n minister ingeroep het. Ek weet van mense wat – nadat hulle elke moontlike ding probeer het – ’n klagte oor ’n Johannesburgse munisipale rekening na die kantoor van die president verwys het (wat die saak verstommend genoeg verder gevoer het). In ’n verdere voorval moes die minister van binnelandse sake help om ’n geboortesertifikaat in die hande te kry. Kan jy jou voorstel dat iemand ’n rekeningklagte na Downingstraat 10 sal verwys vir die aandag van die eerste minister? Ek dink byna elke Suid-Afrikaner kan sulke stories vertel van ’n regering wat net nie omgee nie – maar min van hulle is gelukkig genoeg om die hulp van ’n minister of die kommissaris van polisie te kan inroep.
Omdat Suid-Afrikaners nie deur hul regering ernstig opgeneem word nie, neem hulle hul frustrasies na die strate. In een voorbeeld is sowat 30 skole afgebrand deur betogers wat gemeen het provinsiale amptenare neem hul verskeie griewe nie ernstig op nie. Treine en munisipale busse word gereeld aan die brand gesteek. Betogers wend hulle maklik tot klipgooiery teen die polisie. Ons word gekondisioneer om dié dinge te sien en selfs te aanvaar omdat dit so dikwels en so roetinegewys plaasvind. Maar dit is nie normale optrede in enige land nie. Die afbrand van regeringsgeboue, om van skole en universiteitsbiblioteke nie eens te praat nie, is selfvernietigend en die skuldiges behoort opgesluit te word. Maar vra jouself terselfdertyd die volgende af: Watter frustrasie skuil onder die oppervlak wat veroorsaak dat sulke dinge gebeur?
Moenie die fout maak om te dink hierdie soort geweld en wanorde sal slegs in arm gemeenskappe voortgaan nie. As Suid-Afrika die wanhoop en radeloosheid van arm mense nie ernstig opneem nie, sal ons by ’n punt kom waar ’n stormende gepeupel in Weststraat in Sandton opruk en die banke en die kantore van die regsfirmas aan die brand steek. Ons is op pad daarheen.
Voeg nou hierby die feit dat die ekonomie nie oor die afgelope vier of vyf jaar veel groei getoon het nie, terwyl inflasie en rentekoerse styg; dan kan daar geen argument daarteen wees dat ’n werklik gevaarlike konkoksie ontwikkel nie. Dit het selfs vir middelklas-huishoudings ’n uitdaging geword om deur die maand te kom omdat die pryse van elektrisiteit en brandstof deurlopend hoër word, eiendomsbelasting en diensgelde teen ’n baie hoër koers as inflasie styg en kospryse die hoogte in skiet. Jy kan jou net indink hoe moeilik dit moet wees vir mense wat in gemeenskappe woon wat baie min werkgeleenthede het, waar groot getalle mense afbetaal word namate die ekonomie verlangsaam en maatskaplike toelaes te min is om mee uit te kom. Dink aan die vrou wat om 04:00 moet opstaan en haar slapende kinders in die plakkershut agterlaat om ’n trein en dan ’n taxi te haal vir ’n ure lange reis na haar werk as ’n huiswerker wat sal beteken sy kom eers weer 20:00 tuis – om minder as R2 000 per maand daarvoor uit te kry. In haar huishouding maak die ouer kinders die jongeres groot, gee hulle kos, trek hulle aan, besorg hulle by die skool . . . en sit hulle later in die bed. Probeer ’n oomblik lank om jou gesin in dié posisie te plaas – want as jy dit nie kan doen nie, sal jy skepties bly oor sommige van die gevolgtrekkings in hierdie boek. Terwyl jy daarmee besig is, kan jy probeer bereken hoe sy dit regkry om haar gesin met daardie R2 000 per maand te versorg.
Sleutel- ekonomiese aanwysers soos groei, inkomste en indiensneming is vandag in byna elke opsig swakker in Suid-Afrika as wat dit in 2011 in Tunisië was. Ons is egter ’n meer demokratiese samelewing, wat beteken gefrustreerde mense het ander opsies as revolusie om die land te verander. Ook in die lig van die afwesigheid van godsdienstige fundamentalisme verklaar dit waarom ons waarskynlik ’n ander revolusionêre roete as dié van die Arabiese Lente sal volg. Jong mense moes in Arabiese Lente-lande die wapen opneem omdat alle ander weë na politieke verandering vir hulle gesluit was. Suid-Afrikaners kan nog stem vir verandering – wat wel gebeur. Maar baie van die instellings wat vir ons toekoms as ’n demokrasie noodsaaklik is, is ondermyn. Dit is verskriklik gevaarlik, want as die maniere waarop ’n mens jou demokraties kan uitdruk, jou ontneem word, is daar meer op die spel en sal die ontploffing, wanneer dit kom, regtig skouspelagtig wees. Daar is ook ’n paar baie gemene politici wat na maniere soek om moeilike ekonomiese tye uit te buit om Suid-Afrikaners teen mekaar te laat draai.
Dit is dus ’n omgewing wat ingestel is op verandering. Die rede waarom hierdie boek met die Tunisiese verhaal begin, is om dit duidelik te stel hoe onverwags en hoe vinnig die wêreld kan verander en hoe wyd daardie verandering kan strek. Die verhaal van wat daardie Desember-dag in Sidi Bouzid begin het, wys hoe vinnig ons ons in ’n land kan bevind wat heeltemal anders is as die een waarin ons vandag woon. Toe pres. PW Botha in Augustus 1985 sy sogenaamde Rubicon-toespraak gelewer het, het hy dit duidelik gemaak dat hy hervorming verwerp – maar ’n dekade later het baie van sy voormalige kollegas by die ANC aangesluit. Wit sakeleiers, onder wie diegene wat die apartheidstelsel staande gehou het, het byna met gemak by die ander kant aangesluit. Indien ’n mens, toe die stryd om demokrasie op sy felste was, sou voorspel dat vryheidsbeweging- en vakbondleiers soos Cyril Ramaphosa en Trevor Manuel myneienaars en uitvoerende bankbestuurders sou word – die einste kapitalistiese kruisvaarders teen wie hulle vroeër gestry het – wonder ek of selfs hulle dit sou sien kom het.
Die oorgang wat in die 1990’s in Suid-Afrika plaasgevind het, was nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Dit was die derde in ’n reeks Suid-Afrikaanse oorgange wat sedert die einde van die Anglo-Boereoorlog in ’n nou voorspelbare sikliese patroon afgeloop het. Die eerste het in die dekade tussen die einde van daardie oorlog en Mei 1910 gebeur, toe die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het. Die tweede was met die opkoms van apartheid ná die nederlaag van genl. Jan Smuts in die verkiesing van 1948. Die derde was die demokratiese oorgang van 1994. By elke geleentheid was die patroon dieselfde. ’n Tydperk van baie swak ekonomiese prestasie en verlangsamende verbeterings (selfs agteruitgang) in lewenspeil het ’n massiewe politieke herskikking veroorsaak. Elke herskikking is op sy beurt gevolg deur relatief veerkragtige ekonomiese groei wat ’n mate van politieke stabiliteit verseker het. Die 1920’s en 1930’s was ’n baie sterk groeitydperk. Hoë vlakke van ekonomiese groei is weer in die 1950’s, 1960’s en vroeë 1970’s ervaar. In die laat 1990’s tot middel-2000’s is baie goeie ekonomiese syfers aangeteken. By elke geleentheid wanneer daardie stygtendense egter weer byna ’n dekade lank afwaarts geneig het, het dit telkens tot die volgende oorgang aanleiding gegee. Indien hierdie sikliese teorie reg is, staan ons nou op die drumpel van die vierde oorgang na ’n nuwe politieke en ekonomiese status quo.
Moenie dink ’n vierde oorgang hoef noodwendig ’n agteruitgang te beteken nie – trouens, twee van die scenario’s wat in hierdie boek ontwikkel is, beskryf ’n Suid-Afrika wat veel ryker en meer stabiel is as wat die land vandag is. Verandering, wanneer dit plaasvind, is dikwels ten goede, selfs waar die korttermyntendense wat tot die punt van verandering aanleiding gegee het negatief was. As jy in die 1960’s vir leiers van die Amerikaanse burgerregtebeweging sou sê daar gaan in hul eie leeftyd ’n swart president in die Withuis wees, sou hulle dit waarskynlik nie geglo het nie. Net drie dekades gelede was China ’n arm land van landelike kleinboere onder leiding van ’n dogmatiese kommunistiese bewind met beperkte globale politieke invloed. Vandag is dit een van die aandrywers van wêreldwye ekonomiese groei, die weermag kan oor die wêreld heen mag vertoon, dit is (stellig) die wêreldsentrum van anargo-kapitalisme, en voorspellings suggereer dat hul middelklas oor die volgende drie dekades só kan groei dat dit die bevolking van die VSA verbysteek.
Daar sal selde lank voor die tyd enige duidelike waarskuwing wees oor wanneer hierdie oorgange sal plaasvind en watter rigting dit sal inslaan. Die beste manier om voorafwaarskuwing te kry, sal wees om die fynskriftendense te lees en daaruit te ekstrapoleer hoe dinge waarskynlik sal ontwikkel. Baie mense sal nie van die suggestie van diepgaande naderende verandering gebaseer op slegs embrioniese tendense hou nie en duideliker bewyse verlang. Maar sulke bewyse sal eers tydens die veranderingsproses self te voorskyn kom en in daardie stadium sal dit te laat wees om jouself te posisioneer en daarop te reageer. ’n Algemene fout is om die tempo en omvang van verandering te onderskat en vir ’n paar klein permutasies van die status quo te beplan – om dan onverhoeds betrap te word deur werklike verandering. Baie min maatskappye of individue is goed geposisioneer om verandering te voorsien en daaruit voordeel te trek; gevolglik draal hulle omdat hulle die onbekende vrees en na sekerheid hunker. Dit is soms te moeilik om voorspellings oor verandering te glo omdat die toekomstige wêreld wat beskryf word te veel verskil van die een waarin ons vandag woon. Selfs buitelandse magte met beduidende belange in die Midde-Ooste het min voorafwaarskuwing gehad oor presies hoe onbestendig daardie streek sou word. Israeliese ontleders, wat baie goed met dié soort ding is, het nie die tydsberekening en volledige omvang voorsien van wat hulle van vroeg af al – baie raak soos dit geblyk het – as die Arabiese Winter bestempel het nie. Soms is dit so dat hoe groter die organisasie is, hoe moeiliker is dit om die sekerheid van verandering te aanvaar.
Maar soos blyk uit die voorbeelde van die Arabiese Lente tot die Amerikaanse burgerregtebeweging, China en ons eie geskiedenis, vind massiewe verandering wel plaas, dikwels teen die grein van die geskiedenis in, en strydig met tendense wat vroeër dominant was. Soms is die verandering ten goede en ander kere beteken dit agteruitgang. Maar wanneer dit kom, gebeur dit baie gou en verskuif die samelewing waarin dit gebeur tot in ’n heeltemal ander paradigma. Die les is om uiters skepties te wees oor die langdurigheid van die status quo of oor die geloof dat korttermyntendense ’n aanduiding van ’n langtermyntoekoms is. Om in ’n toekomstige Suid-Afrika goed geposisioneer te wees, moet ons verstaan dat verandering gouer sal gebeur, verreikender implikasies sal hê en die omgewing waarin ons leef verder sal verskuif as wat ons tans glo moontlik sal wees.
Die wete dat ’n diepgaande vlak van politieke en ekonomiese verandering op pad is, hoef nie intimiderend te wees of ons weens onsekerheid te verlam nie. Indien ons bereid is om die onvermydelikheid van diepgaande verandering te aanvaar, is daar metodologieë deur middel waarvan dit moontlik is om ’n mate van sekerheid te ontwikkel oor wat môre, en die dag daarna en die dag dáárna, sal gebeur en om daardie horison heelwat verder as die volgende dekade te verskuif. Dit is beproefde metodes wat werk, en in hierdie boek sal ons hulle aanwend om verby al die vrees en onsekerheid te kom en te verstaan wat tussen nou en 2030 sal gebeur.
As jy die eerste boek in hierdie reeks (A Time Traveller’s Guide to Our Next 10 Years), wat in 2014 gepubliseer is, gelees het, sal jy reeds ’n idee hê van hoe die proses oor hoe om die toekoms aan te pak, werk. In dié boek het ons vier moontlike toekomsbeelde vir Suid-Afrika uiteengesit vir die oggend ná ons 2024-verkiesing. In die eerste hiervan, die Breë weg, het ons gesuggereer dat die ANC, ondanks die waarskynlikhede, ’n interne hervorming sou onderneem en massiewe populêre steun sou kry as die party wat die Suid-Afrikaanse ekonomie omgekeer het. In die tweede scenario, die Smal weg, het ons aan die hand gedoen dat om polities te oorleef, die ANC gedwing sou word om ’n reeks ongewilde prokapitalistiese hervormings te onderneem in ’n desperate poging om ’n ekonomiese herstel te bewerkstellig en dat dit dié hervormings op die land sou afdwing teen die wense van ’n opstandige en vyandige publiek in. In die derde scenario sou die ANC die nodigheid van ekonomiese hervorming verwerp en eerder daartoe neig om die Suid-Afrikaanse demokrasie te vernietig in ’n poging om aan mag vas te klou. Die vierde scenario het gesuggereer dat die ANC nie daarin sou slaag om ekonomiese hervormings in te stel nie en ook nie demokratiese instellings vernietig sou kry nie, wat beteken dat dit die verkiesing van 2024 sou verloor en Suid-Afrika ’n nuwe era van koalisiepolitiek sou binnegaan.
Dié scenario’s is aanvanklik met ’n stokkie in die sand geteken tydens ’n lang wandeling saam met Suid-Afrika se voorste scenario-ontwikkelaar, Clem Sunter, op ’n strand in Kaapstad. Hy sal dit dalk nie onthou nie, maar ek het hom gevra watter scenario waar sou word, en sy antwoord was dat een van hulle heelwat gouer sou kom as wat ek verwag het. In daardie stadium het die ANC elke groot metropolitaanse munisipaliteit behalwe Kaapstad bestuur. Net meer as twee jaar later het die ANC die politieke beheer van byna al die Gautengse metro’s aan die Demokratiese Alliansie (DA) afgestaan, wat beteken het die opposisie het in party opsigte meer as 50% van Suid-Afrika se BBP bestuur en Suid-Afrika was goed op pad na ’n nuwe era van koalisiepolitiek.
In die eerste boek het ons opgehou by die punt van die scenario’s en nie ’n mening uitgespreek oor watter een waar sou word nie. Daar was goeie, gesonde redes vir dié besluit – die belangrikste dat komplekse stelselsteorie (meer daaroor in hoofstuk 2) toon klein veranderings in die huidige omstandighede van ’n stelsel sal massiewe verskuiwings in die toekoms daarvan veroorsaak, ’n konsep wat as die “vlindereffek” bekend geraak het. Terugskouend het dit egter geblyk dit was ’n fout om nie ’n mening te gee oor watter scenario ’n werklikheid sou word nie omdat byna elke gehoor wat ons oor die afgelope drie jaar toegespreek het, juis dít wou weet. By die meeste geleenthede was dit die eerste vraag wat gevra is. Dit het so gereeld gebeur dat dit vir ons nodig was om vooraf navorsing oor mense en hul versugting na sekerheid te doen. Die resultate, wat in die inleiding tot hoofstuk 2 kortliks bespreek word, was boeiend genoeg om te verseker dat ons in hierdie boek verder sal gaan en, ondanks die aansienlike risiko’s, sal sê watter scenario dit sal wees en hoe die lewe in daardie scenario daar sal uitsien. Dit sal die antwoord op moeilike vrae insluit, soos of daardie scenario ’n voorspoedige toekoms sal beteken. Sal Suid-Afrika suksesvol en rustig wees? Sal mense met mekaar klaarkom en sal swart en wit Suid-Afrikaners die merkwaardige versoening kan laat gebeur soos dié wat in die dekades ná die Anglo-Boereoorlog tussen Engelssprekende wit mense en Afrikaners plaasgevind het? Of sal alles net verkeerd loop en, indien wel, hoe verkeerd? Indien dit wel “verkeerd loop”, sal dit beteken dat ons eenvoudig arm en ongelyk sal bly – baie soos ons vandag is? Of is dit ’n naïewe verwagting, en sal die sluimerende voorgevoel wat so baie mense nou oor ons land het ’n voorloper wees van iets wat erger is as wat enige van ons ons durf verbeel?
Om by dié antwoorde uit te kom, gaan ons ’n klompie stappe volg. Die eerste (in hoofstuk 2) sal wees om te kyk na hoe en waarom die wêreld verander. Dit is belangrik, want dit verduidelik waarom scenariobeplanning werk en dit verklaar ook die teorie van waarom ’n oënskynlik toevallige daad – soos dat Mohamed Bouazizi in ’n plek so onbeduidend soos Sidi Bouzid – inderdaad die wêreld kan verander. As jy nie die redes vir verandering en die teoretiese onderbou van scenariobeplanning verstaan nie, is dit baie moeilik om te glo dat van die gevolgtrekkings wat in hierdie boek bereik word moontlik in ’n toekomstige Suid-Afrika werklikheid kan word.
Dan, in hoofstukke 3, 4, 5 en 6, maak ons ’n wye draai by die sosio-ekonomiese omstandighede waarin Suid-Afrikaners leef, die stand van die ekonomie, die ware stand van rasseverhoudinge en hoe politieke tendense ontvou. Ons sal kyk na rigtingaanwysers of brokkies inligting wat ons ’n goeie aanduiding kan gee van waarheen ons land op pad is. Met hierdie inligting sal ons (in hoofstuk 7) ’n nuwe stel scenario’s vir Suid-Afrika daarstel, waarvan elkeen ’n geloofwaardige toekoms sal beskryf wat ons kan teëkom – een jaar ná ons nasionale verkiesing in 2029.
In hoofstukke 8, 9, 10 en 11 sal ons elk van dié scenario’s in uitvoerige besonderhede bespreek. Hierdie beskrywings sal toekomsverhale uitmaak. Dink daaraan as verslae wat in 2030 geskryf word en terugkyk na wat in Suid-Afrika verander het en waarom dit verander het. Deur dit alles, stuksgewys en bladsy vir bladsy, sal wat tussen nou en 2030 in ons land sal plaasvind, duidelik word.
1 http://m.news24.com/news24/SouthAfrica/News/its-painful-what-they-did-to-me-evicted-hammanskraal-resident-20160524.