Читать книгу Die groot gedagte - Gideon Joubert - Страница 8

Оглавление

2

Skatkis van die hemel

. . . hoe glansryk alles wat U

in die hemelruim geplaas het!

Psalm 8:2

Die antieke sterrekunde

Denkers van die vroegste beskawings het geglo dat die plat aarde solied en bewegingloos staan en dat die hemel om die aarde draai. Die hemel was ook nie baie ver nie. Net so ’n entjie bokant die bergkruine was die hemelkoepel waarin die ligte van die nag gegloei het.

Selfs vóór die koms van die Griekse beskawing is besef dat die vyf bekende planete van daardie tyd (vandag weet ons van agt, nadat Pluto weens sy geringe grootte as planeet gediskwalifiseer is), net soos die son en die maan, hul eie bane tussen die sterre volg.

Die menslike oog hou van orde. Die brein soek patrone. Daarom het vroeë beskawings orde in die sterre gesoek en beelde daarin gesien. Die Galdeërs van Mesopotamië was miskien verantwoordelik vir sommige van die konstellasies soos ons dit vandag ken. Miskien was dit die Minoërs van Antieke Griekeland.

Die antieke Egiptenare en Chinese het heelwat kennis van die sterrekunde gehad, maar hulle het dit nie probeer verklaar nie. Hulle was net waarnemers en het hul eie sterregroeperings gehad.

In die vyfde eeu het sint Augustinus nog geskryf: “Aangaande die fabel dat daar antipode is, dit wil sê mense aan die ander kant van die aarde, waar die son opkom wanneer dit by ons ondergaan, mense wat met hul voete onder ons s’n loop, dit is hoegenaamd nie geloofwaardig nie . . . Daar was net een paar oorspronklike voorouers, en dit is ondenkbaar dat sodanige afgeleë streke deur Adam se nasate bevolk kon word.”

Werklike vordering het eers met die Griekse beskawing gekom. Een van die eerste Griekse sterrekundiges was Tales van Milete, wat 600 v.C. gebore is. Die laaste groot sterrekundige van die Griekse skool was Claudius Ptolemaios van Aleksandrië (87-150 n.C.) wat moontlik ’n Egiptenaar van geboorte was. Die goue tydperk van Griekse sterrekunde het dus oor ’n tydperk van 800 jaar gestrek, net so lank soos vanaf die Kruistogte tot vandag toe.

Tales het geglo dat die aarde die middelpunt van die heelal is. Sommige van sy tydgenote het eienaardige opvattings gehad. Xenofanes het gesê sterre is vuurwolke wat elke nag aangesteek en teen dagbreek weer geblus word. Anaksimander het geglo sterre is lugwiele wat met saamgeperste vuur gevul is. Soos vuurkonkas is die lugwiele vol gaatjies waardeur die vlamme lek. Almal het geglo sterre is aan die hemelkoepel vasgeheg. Heraklitus van Efese het die son se deursnee op sowat 30 cm geskat.

Claudiuis Ptolemaios het egter ’n heel noukeurige sterrekatalogus opgestel wat eeue lank gebruik is. Hy was ’n Griek en het die Almagest geskryf, ’n reuse-werk wat dertien boekdele beslaan het, waarin die ganse hemel beskryf is soos dit indertyd verstaan is.

Ptolemaios het sy onderwerp wetenskaplik benader. Hy het geglo die hemel draai elke dag om die aarde, terwyl die son, maan en planete op verskillende afstande om die aarde beweeg. Die maan was die naaste en Saturnus die verste. Ver anderkant Saturnus, presies hoe ver was onseker, is die koepel met die vaste sterre. In sy sterrekatalogus is 48 konstellasies opgeteken. Al hierdie konstellasies is vandag nog in ster-atlasse.

Ptolemaios se model was ’n duisend jaar lank die aanvaarde planetêre model.

Die sterrekundiges van die Renaissance moes teësinnig afskeid neem van Claudius Ptolemaios se veilige en onveranderlike klokwerkheelal waarvan die aarde die middelpunt was.

Die Kerk van die Middeleeue is tot in sy fondamente geskud toe van hom verwag was om sy egosentriese siening van die Skepping te wysig. Die Kerk het geglo die groot hemelmasjien is deur God gebou vir die verwondering van sy belangrike skepsels wat die aarde bewoon. Die aarde was die middelpunt van die heelal en alles het om die aarde gedraai.

Vergesigte van ewigheid

In 1935 het die sterrekundige sir James Jeans (1877-1946) in sy boek The Mysterious Universe geskryf: “Ons staan op ’n mikroskopiese splintertjie van ’n sandkorreltjie. Ons probeer om die aard en doel te ontdek van die heelal wat in ruimte en tyd om ons is.

“Ons eerste gewaarwording is vrees. Ons heelal is skrikwekkend. Sy onbegryplike, ontsaglike en betekenislose vérgesigte van ewigheid laat die menslike geskiedenis tot ’n oogknip verdwerg. Dit is verskriklik, want ons tuiste in die heelal is volslae verlate, en ons materiële bestaan is volkome nietig.”

Die Franse natuur- en wiskundige, wysgeer en apologeet, Blaise Pascal (1623-1662), het reeds in die sewentiende eeu geskryf: “Die ewige stilte van die oneindige ruimtes oorweldig my met angs.”

Elke sterrekundige ken dié angs. Hy word oorweldig deur die besef van die ontsagwekkende grootsheid van die Skepping, die onmeetlike, skrikwekkende ruimtes en die onbegryplike tydloosheid. Oor daardie tydloosheid het Bildad die Suagiet in Job 8:9 gesê: “Want ons is maar net van gister, ons weet niks, ons dae is so vlugtig soos ’n skaduwee op die grond.”

Die mens het nog altyd die belangrikheid van sy plek in die heelal oorskat. Dit is maar onlangs dat hy begin verstaan het hoe ontsaglik, verwikkeld en stormagtig die Skepping werklik is. Keer op keer moes hy voor ontdekkings steier wat sy perspektief en selfsiening omgedop het.

Hoe ook na die wêreld en ons plek in die heelal gekyk word, ons word gedwing om te erken dat ons in die kosmiese plan onbelangrik is. Die Skepping is onbeskryflik grootser as wat die mens dit hom in sy wildste drome voorgestel het. Hy kan die grootsheid en heerlikheid daarvan nie verwerk nie. Hy het nie woorde om dit te beskryf nie. Dit is net moontlik deur middel van wiskundige simbole.

Die afstande en tydsbegrippe gaan die verstand te bowe. Die kleurryke Britse sterrekundige sir Patrick Moore (1923-2012), wat Suid-Afrika verskeie kere besoek het en hier tallose sterrekundige lesings aangebied het, het gesê sterrekundiges is verstandiger as gewone mense. Sterrekundiges probeer nie om die geweldige en onmeetlike dinge te begryp nie. Hulle skryf net die syfers neer.

Sir Patrick het meer as sewentig boeke oor die sterrekunde geskryf. Hy is ’n bekende radiokommentator en TV-aanbieder. Hy het meer as enigeen anders gedoen om die Britse publiek van die wonder van die kosmos bewus te maak.

Toe ek sir Patrick in Kaapstad ontmoet het, was hy verleë toe ek hom as sir Patrick aangespreek het. Hy het daarop aangedring dat ek hom op sy voornaam noem.

Die verlate leegtes

Staan ’n bietjie terug en kyk na die heelal. Só beskou, wat is sy belangrikste eienskap? Wat is sy aard?

Leegheid, moet ons sê, niksheid. Die heelal is só volkome leeg, so ná aan ’n vakuum, dat die bietjie materie hier en daar eintlik nie tel nie.

Die voorkoms van materie, en ons eie stoffie van klip en yster wat dof deur ’n sterretjie verlig word, is die uitsondering. In die leë heelal is sterre groot uitsonderings. Newels, sterre en galaksies is groot uitsonderings. Planete en mane is groot uitsonderings.

Carl Sagan (1934-1996), Amerikaanse astrofisikus, het dit mooi gestel: “In die kosmos is die aarde nie ’n tipiese plek nie. Geen planeet, ster of galaksie kan tipies wees nie, omdat die kosmos so leeg is.”

Die enigste tipiese plek is die ontsaglike, koue, universele vakuum, die ewigdurende nag van die tussengalaktiese ruimte; ’n plek wat só vreemd en verlate is dat die teenstelling van spiraalnewels en sterre uitsonderlik en verrassend mooi is.

Sagan sê as ons lukraak in die kosmos gegooi sou word, sou die kanse dat ons naby ’n planeet sou uitkom, minder as een uit 1033 (een gevolg deur 33 nulle) wees. ’n Mens kan maar sê dit is nul.

Die son is een van duisende miljoene sterre wat die vuurwiel van ons eie Melkweg uitmaak. ’n Melkweg of galaksie is hoofsaaklik leë ruimte, met hier en daar ’n bietjie gas, stof en sterre.

Leegheid is die heelal se opvallendste eienskap.

Verganklike verskynsels, maar ewige patrone

Die heelal besit nóg ’n ooglopende eienskap: Dit bestaan uit ’n oneindige verskeidenheid van verskynsels wat onophoudelik verander. Dit lyk of geboorte, lewe en dood een van die kenmerkendste eienskappe van die Skepping is. “Alles woelt hier om verandering” soos dit in die ou Nederlandse verwerking van Gesang 292 staan.

Maar die patrone is onveranderlik. Die eerste atome ná die Skepping was waterstof. Waterstofatome kom en gaan, maar hulle lyk vandag nog presies soos hulle ná die Oerknal gelyk het.

Dit geld vir alles. Van die uitgestrekte galaksies tot die molekule in ons liggame. In alles is vaste patrone, ’n oneindige en voortdurend veranderende hiërargie van strukture en vorme. Dit is soos die branders van die see. Elke breukdeel van ’n sekonde verander elke brander op elke oseaan van die aarde, maar branders bly branders, deur die eeue.

Ten spyte van die byna oneindige en veranderende verskeidenheid van verskynsels bly die patrone dieselfde. Dit kan oral gesien word. Dit is in eenvoudige dinge soos blare, die kringe op ’n dam, die vorm van ’n sirkel. Dit is in die golwing van hare, of wind oor graan, of die deining van die see, of die skifting van cirruswolke.

Dit geld vir die kleinste, submikroskopiese verskynsels soos die strukture van molekule. Individuele molekule verander, maar die patroonstrukture bly dieselfde. Soutkristalle kom en gaan, en so ook sneeuvlokkies, maar die patrone is steeds soos dit miljoene eeue gelede was.

So is dit ook met die heelal se gróótste verskynsels. Sterre en galaksies is ewig veranderend, maar die patrone bly konstant. Oor en oor word die skitterende sterrewiele geskep. Dit vervang voriges, wat byna net so gelyk het.

Net soos die galaksies en sterre ná die ontstaan van die heelal gelyk het, so lyk hulle vandag nog. Hulle kom en gaan, maar die opvolgers, die galaktiese nageslagte, die sterre se nasate, lyk baie soos hul voorgangers.

Nog ’n groter wonder is die manier waarop die aanvanklike heelal, woes en leeg, eers net ’n onbeheerde ontploffing en toe koud en donker, ontwikkel het tot die skitterende, léwende en geordende Skepping van vandag.

Die vroeë heelal het aanvanklik uit net drie dinge bestaan: straling, en later waterstof en helium. Uit hierdie drie dinge het dit doelgerig ontwikkel tot ’n komplekse, ordelike sintese van vele ingewikkelde dinge en organismes, soos onder meer die ryk, komplekse verskeidenheid van lewende wesens wat nou op een planeet tier, en waarskynlik ook op miljoene ander plekke in die heelal.

Skitterende spiraalwiele

Ons geel sonnetjie lê êrens naby die rand van ons galaksie. ’n Galaksie soos ons Melkweg is plat en lensvormig soos twee gebakte eiers wat rug teen rug aan mekaar geplak is. In die middel is ’n boggel. Krom spiraalspeke steek van hierdie dik naaf buitentoe uit.

Op die binneste rand van een van die spiraalarms, twee derdes na die punt toe, 33 000 ligjare van die as, is ons son.

Die hele skitterende wiel draai stadig, een keer elke 225 miljoen jaar, om sy as, en ons daarmee saam, teen ’n snelheid van 300 kilometer per sekonde. Een kosmiese jaar noem die sterrekundiges dit.

Een kosmiese jaar gelede was die gevorderdste lewe op aarde die amfibieë. Dit was voor die tyd van dinosourusse. Die eerste reptiele wat soos skilpaaie lyk, sou eers vyf miljoen jaar later oor die aarde waggel.

Midde-Afrika was toe onder ys. Dit was die eeue van broodbome en varings met tongvormige blare. In hierdie tyd was die groot kontinente nog een stuk. Brokke van Gondwanaland het begin afsplits. Dit was één kosmiese jaar gelede.

Drie kosmiese jare gelede was die aarde nog woes en leeg. Daar was geen lewe nie. Alle lewe het in die afgelope drie kosmiese jare ontstaan en ontwikkel.


Sy-aansig van die Melkweg. Dit is 100 000 ligjare lank en by die naafkop 20 000 ligjare breed. Die son is links onder, op hierdie skaal onsigbaar.

Ons sterrewiel is baie groot en baie oud. Die aarde het nagenoeg 4 600 miljoen jaar gelede ontstaan. Ons galaksie is baie, baie ouer. Baie van die sterre in ons galaksie sal planete hê. Op sommige van daardie planete sal dit sekerlik krioel van die lewe, selfs van intelligente lewe.

Die Italiaanse wysgeer Giordano Bruno (1548-1600), wat sy tyd so ver vooruit was dat hy daarvoor moes boet deur as ketter op die brandstapel te sterf omdat hy Nikolaus Kopernikus (Mikollaj Kopernigk, 1473-1543) se heliosentriese teorie gesteun het en, erger nog, omdat hy verkondig het dat elke ster ’n son met planete is, het byna 400 jaar gelede geskryf: “Net ’n volslae dwaas kan glo dat daar in die oneindige ruimte, op die ontelbare reuse-wêrelde . . . niks anders is as die lig wat ons van hulle sien nie . . .

“Daar is ’n enkele, algemene ruimte, ’n enkele uitgestrekte ontsaglikheid wat ons vryelik die leegte kan noem: Hierin is ontelbare bolle soos hierdie waarop ons lewe en gedy; hierdie ruimte, sê ek, is oneindig, aangesien nóg die verstand, nóg redelikheid, nóg sintuiglike waarneming, nóg die natuur daar grense aan kan gee.”


Nikolaus Kopernikus (1473-1543)

Dit is onprakties om die heelal met aardse mate soos kilometers te meet. Die snelheid van lig word as maatstaf gebruik. In een sekonde trek ’n ligstraal sowat 300 000 kilometer ver. Dit is sewe keer om die aarde in een sekonde.

In een jaar trek lig 9 460 563 614 000 kilometer ver. Dít is een ligjaar.

Dit trek binne agt minute van die son na die aarde. Ja, die sonlig wat nou daar buite skyn, het agt minute gelede van die son vertrek. ’n Ligjaar is ’n afstandsmaat, en ons kan dus sê dat ons son agt minute ver is. Dit is makliker as om te sê dat die son 150 000 000 kilometer ver is.

Die maan is een sekonde ver. Lig het nagenoeg tien uur nodig om oor die lengte van die sonnestelsel te trek, die deursnee van Pluto se baan om die son. Die grootste afstand op die aarde se oppervlak is net ’n twintigste van ’n ligsekonde ver.

Die sonnestelsel, wat vir ons so groot lyk, is net ’n stoffie teen die agtergrond van die afstande van selfs die naaste sterre.

As ons van ’n baie ver plek in die buitenste ruimte na ons groot spiraalnewel sou kyk, sou ons sien dat ons nie alleen is nie. Galaksies is selde alleen. Hulle vorm eilandgroepe in die groot swart ruimte, waar hulle stadig in die kosmiese duisternis dryf.

’n Galaksie bestaan uit yl gas, stof en sterre. Baie sterre het planete. In so ’n galaksie kan duisende en duisende planete wees waarop die lewe tier en intelligente wesens verwonderd in die hemelruim na die sterre om hulle kyk.

Daar is honderde miljoene galaksies, elk met honderde miljoene sterre, so ver soos die oog kan sien en so ver soos instrumente kan meet. Daar is waarskynlik net soveel planete as sterre. Die kans dat ons sterretjie die enigste met ’n planeet met lewende wesens is, is uiters gering.

Ons eie groep galaksies wat so eindeloos in die kosmiese oseaan dryf, bestaan uit omtrent dertig bekende galaksies, waarvan M31 in die konstellasie Andromeda, en ons eie, die grootstes is. Terloops, M31 is besig om op ons Melkweg af te storm teen ’n snelheid van 300 kilometer per sekonde.


Die Andromeda-galaksie M31 (NGC 224) en sy twee satelliet-galaksies. Op ’n afstand van 2,2 miljoen ligjare is M31 die naaste spiraalgalaksie aan die Melkweg en die enigste wat met die blote oog sigbaar is. Dit is die grootste van die plaaslike groep en is twee keer so groot soos die Melkweg en bevat twee keer soveel sterre. Lick-sterrewag.

M31 het, soos ons galaksie, twee satellietnewels. Ons satellietnewels, die Groot en Klein Magellaanse Wolke (ook bekend as die Kaapse Wolke), kan maklik met die blote oog gesien word. Die spiraalgalaksie M31 is sowat tweemiljoen ligjare ver. Kyk ons na hierdie galaksie, die naaste aan ons, dan sien ons hom soos hy tweemiljoen jaar gelede gelyk het. Dít is ons naaste galaksie. M31 is ook twee keer so groot soos die Melkweg en het twee keer soveel sterre.

Ons eie spiraalgalaksie, die Melkweg, sit naby die rand van ons groep, en ons groep van sowat dertig galaksies is ’n “tros” van ’n supertak. Sterrekundiges kom ál meer tot die gevolgtrekking dat hierdie supertakke op hul beurt deel is van nóg groter supergroepe, wat weer deel is van nóg groter groepe, tot dit die heelal insluit.

Galaktiese skuim

Ons weet dit is onmoontlik om van “buite” na die heelal te kyk. Daar is geen “buite” nie, net binne. Indien dit egter moontlik sou gewees het, sou die aangesig van die heelal ons geskok het.

Dit het moontlik geword om vas te stel hoe die heelal werklik lyk toe sterrekundiges in die tagtigerjare van die vorige eeu begin het om fotografiese plate met elektronverklikkers te vervang. Met verklikkers kon galaktiese rooiverskuiwings binne 30 minute gemeet word, in plaas van ’n hele nag of langer, soos dit met fotografiese tegnieke noodsaaklik was.

In plaas van die uniforme verspreiding van galaksies soos die sterrekundiges verwag het, het hulle groot groepe galaksies ontdek, en later supergroepe, en eindelik die ontsaglike supergroepe wat “aantrekkers” genoem word. Dié massiewe aantrekkers oefen só ’n geweldige swaartekrag uit dat dit alle omringende galaksies aantrek.

Ons eie groep van dertig galaksies, die Melkweg inkluis, word in die rigting van so ’n Groot Aantrekker “ingesuig”, byna of ons Melkweg saam met die ander galaksies stoffies is wat agter ’n verbyjaende bus aandwarrel.

Die heelal se grootskaalse bousel is ontdek deur die Amerikaanse astrofisici Margaret Geller (1947—) en John Huchra (1948-2010) van die Harvard-Smithsonian-sentrum vir astrofisika in Cambridge, Massachusetts, en ’n besoekende Franse sterrekundige, Valérie de Lapparent.

Hulle het galaksies ondersoek in ’n happie hemelruim met die aarde op die een punt en die verste rand op ’n afstand van 650 ligjare. Hul ontdekking is in Januarie 1986 deur Geller aangekondig toe sy die Amerikaanse Sterrekundevereniging in Houston toegespreek het. Die vorm van die heelal “lyk soos die seepskuim in my kombuiswasbak”, het sy verduidelik.

Die heelal is borrelende skuim! Die enigste verskil is dat die “vel” van die skuimblasies nie seperigheid is nie, maar galaksies – honderde en duisende galaksies wat soos wit stippeltjies op die “oppervlak” van die borrels dryf.

Die “borrels” is onbeskryflik groot – tussen 60 miljoen en 300 miljoen ligjare in deursnee. Ons eie galaksie, die Melkweg, is sowat 100 000 ligjare in deursnee.

Die heelal is geweldig groot. In die verlede kon sterrekundiges net ’n strokie op ’n keer bestudeer wat soos krommerige stringetjies galaksies in die vorm van ’n broodkorsie gelyk het. Omdat hulle met hul beperkte middele net die “korsie” bestudeer het, het hulle nooit die “brood” ontdek nie.

Die fout is ontdek toe Huchra, Geller en De Lapparent, ná tien jaar, ’n driedimensionele kaart van ’n klein gedeelte van die hemelruim voltooi het. In ’n klein happie van die hemelruim is 4 000 galaksies gekarteer. Elkeen het byna 1 000 miljoen sterre.

Duisende miljoene soortgelyke happies van die hemelruim sou die heelal vul. Deur hierdie een happie te bestudeer, is dit moontlik om ’n beeld van die ganse heelal te vorm – mits die heelal eenvormig is. En dié beeld is een van skuimende borrels, so ver soos met die kragtigste teleskope waargeneem kan word.

Geller se hemelkaart is anders as ander kaarte, want dit is driedimensioneel. Dit beslaan ook ’n groot deel van die hemel, 117 grade by ses grade tot ’n afstand van 650 miljoen ligjare van die aarde af.

Eers het Geller en haar span die afstand van elke galaksie bepaal, en toe die ligging in verhouding met ander galaksies deur hul rooiverskuiwings te meet. Die ligging van die galaksies is op ’n rekenaarkaart aangebring. Die rangskikking van die galaksies om die “oppervlakke” van ontsaglike, borrelvormige ruimtes te vorm, is duidelik sigbaar.

Volgens Geller is die ontsaglike, leë ruimtes wat deur dun galaktiese strukture omsoom is, opvallend. Wat die sterrekundiges tot nog toe waargeneem het, was net die rande van die “borrels”, ’n klein strokie van die oppervlak.

Nog ’n verrassende ontdekking is die “Groot Muur”. Dit is ’n plaat galaksies wat minstens 200 miljoen ligjare breed en 15 miljoen ligjare dik is. Dit lyk soos ’n enkele bousel wat blykbaar deur die mure van aanliggende borrels saamgestel is. Geller het gesê: “Ons weet nie werklik hoe groot die Groot Muur is nie. Dit begin aan die een kant buite die rand van die hemeldeel wat ons ondersoek het, en dit loop aan die ander kant uit.”

Margaret Geller vertel as mense in vliegtuie vir haar vra wat sy doen, “het ek altyd gesê ek is ’n fisikus, wat die bespreking beëindig het. Op ’n keer het ek gesê ek is ’n kosmoloog, toe begin hulle my uitvra oor grimering. En die titel ‘sterrekundige’ (astronomer) word verwar met astroloog. Nou sê ek ek maak kaarte.” (Marcia Bartusiak, Augustus 1990. Mapping the Universe. Discover, bl. 62, soos aangehaal deur Timothy Ferris, 1997. The Whole Shebang. Londen: Weidenfeld & Nicolson)

Die eerste aanduiding dat materie selfs op ’n baie groot skaal nie egalig versprei is nie, het in 1981 gekom toe ’n span sterrekundiges onder leiding van Robert Kirshner (1949—) van die Universiteit van Harvard ’n yslike borrel ontdek het wat 100 miljoen ligjare in deursnee is. Hulle het dit die “Groot Gat” genoem.

Die Groot Gat bevat minder as ’n vyfde van die materie in die vorm van galaksies soos dit gemiddeld in die hemelruim voorkom. By die Groot Muur is die teenoorgestelde waar. Dit bevat naastenby vyf keer méér materie in die vorm van galaksies. Ten spyte van die Groot Muur se geweldige breedte lyk dit of dit nie meer as 15 miljoen ligjare dik is nie.

Soos Geller en Huchra se opnames meer en meer galaksies insluit, word groter en groter kosmiese bousels blootgelê. Volgens hulle word die grootte van die ontdekte strukture net deur die grootte van die opnames beperk. Dit lyk of daar geen einde in sig is nie.

Geller en Huchra het een van die grootste take in die geskiedenis van die sterrekunde aangepak. Dit is vervelige werk om nag na nag galaksies te karteer. Hulle werk al langer as tien jaar aan die 4 000 galaksies wat hulle tot dusver ondersoek het. Hoewel hul opname so ’n ontsaglike ruimte dek, is dit net ’n stippeltjie in die oseaan van die groot heelal.

Kosmoloë glo dat gravitasie die belangrikste krag is wat die vorm van die heelal bepaal. Volgens Huchra lyk dit steeds of gravitasie ’n rol speel om galaktiese trosse te vorm, maar dat ander verklarings nodig is om te verduidelik waarom die galaksies op die rondings van “borrels” versprei is.

Miskien lê die antwoord by die ontstaan van die heelal, toe duisende miljoene massiewe sterre hul kernbrandstof uitgeput en in ontsettende ontploffings gesterf het. Die skokgolwe kon die gaswolke weggeskiet het en op die rande van sferiese gebiede saamgedruk het, waar dit oor duisende miljoene eeue weer geleidelik in sterre gekondenseer het.

Galaktiese trosse het ontstaan waar die borrels se rande mekaar gesny het. Die oop ruimtes in die borrels is egter baie groter as wat deur supernova-ontploffings veroorsaak kon gewees het.

Nou word gewonder of die kosmiese borrels nie maar soos seepborrels is nie. Soos die borreltjies bars, word ’n klomp klein borreltjies een groot borrel.

Duisende miljoene Melkweë

Jare gelede het die sterrekundiges Charles Shane (1943-1996), Amerikaanse sterrekundige, in lewe direkteur van die Lick-sterrewag, en Carl Wirtanen (1910-1990), ook van die Lick-sterrewag, die galaksies in ’n strokie van die noordelike hemelruim getel. Hulle het by ’n miljoen opgehou.

Daar is oneindig meer. Met kragtiger instrumente wat liggame tot ’n helderheid van 20,5 kan waarneem, het sterrekundiges van die Universiteit van Krakau in ’n vierkantjie van net ses grade ’n telling van 10 000 galaksies gevind.

Dit beteken dat die heelal oneindig meer galaksies bevat as wat tot nog toe vermoed is. Vandag weet ons dat daar duisende miljoene galaksies is, in alle rigtings, so ver soos met instrumente waargeneem kan word.

Hoeveel presies is onmoontlik om vas te stel. Dit is soos die sand van die see. Die heelal is onbeskryflik groot. Dit strek baie verder uit as wat gesien kan word. Die verste galaksies se lig het ons nog nie eens bereik nie. God se Skepping is baie groot.

Baie galaksies het miljoene en miljoene sterre. Ons eie Melkweg bevat moontlik (volgens sommige) ’n miljoen miljoen sterre, met dermiljoene planete, op baie waarvan miskien intelligente lewe is.

Spiraalgalaksies is tussen 20 000 ligjare en 130 000 ligjare breed en bevat 1 000 miljoen tot meer as 1 000 000 000 000 sterre. Sommige het klein satellietmelkweggies wat soos pierings saamwentel, aan hulle vasgestrik met die onsigbare linte van swaartekrag.

Ons eie Melkweg het twee satelliet-sterrenewels, die twee Magellaanse Wolke, wat op helder aande in die suidelike naghemel gesien kan word. Die groot wolk is 170 000 ligjare ver en die kleintjie is 205 000 ligjare ver. In werklikheid is die “kleintjie” baie groter as die “grote”, maar omdat die kleintjie soveel verder is, vertoon dit kleiner, al is dit die grootste van die twee.

Die Magellaanse Wolke is genoem na die ontdekkingsreisiger Ferdinand Magellaan (omstreeks 1480-1521), die eerste Europeër wat hulle in besonderheid beskrywe het. Albei die Wolke bevat, afgesien van sterre, groot hoeveelhede waterstofgas, die sogenaamde Magellaanse Stroom. Die stroom is waarskynlik by een of al twee “uitgesuig” toe die Wolke nagenoeg tweehonderd miljoen jaar gelede naby die Melkweg verbygeskuur het. Die stroom bevat nagenoeg ’n duisend miljoen sonmassas.

Galaksies is nie almal eenders nie. Daar is grotes en kleintjies. Twee wat deur ’n sterk verkyker na gloeiende donsies lyk, is M31 in Andromeda en M81 in Ursa Majoris (die Groot Beer). Laasgenoemde is net in die Noordelike Halfrond sigbaar.

M31 en M81 is moontlik ’n bietjie groter as ons eie Melkweg, maar hulle is piepklein in vergelyking met sommige groot galaksies wat diep in die donker ewigheid van die buitegalaktiese ruimte lê. M31, in die plaaslike groep, is ietwat meer as tweemiljoen ligjare ver. M81 is buite die plaaslike groep, meer as 11 miljoen ligjare ver.

NGC 3646 is egter ontsaglik groot en 270 miljoen ligjare ver. M81 kan maklik tussen die arms van NGC 3646 wegraak! Daar is galaksies wat nog baie groter is. Teen die einde van 1990 het sterrekundiges in die Amerikaanse tydskrif Science aangekondig dat hulle ’n galaksie ontdek het wat oor ’n afstand van sesmiljoen ligjare strek. Dit is meer as sestig keer groter as ons eie Melkweg.


Die spiraalgalaksie M81 in die konstellasie Ursa Majoris is naastenby so groot soos die Melkweg. Maar kyk hoe verdwerg dit op dieselfde skaal en afstand teen NGC 3646. M81 is 11 miljoen ligjare en NGC 3646 is 270 miljoen ligjare ver. Palomar-sterrewag.

Die cD-galaksie (vir “central Dominant”) is die middelste in ’n veraf groep galaksies naamlik Abell 2029. Die cD-galaksie bevat meer as 100 000 000 000 000 sterre. Dit is die grootste enkele galaksie wat tot nog toe onderskei is. Saam met sy stralekrans, die verspreide lig rondom die galaksie, is dit die grootste voorwerp wat in die heelal bekend is.

Abell 2029, ’n groep van sowat duisend galaksies, is ongeveer 1 000 miljoen ligjare ver en elke galaksie bevat miljarde sterre. Nogtans straal cD meer as ’n kwart van die lig van die hele groep uit.

In die hemelruim is tallose spiraalgalaksies soos die Melkweg. Daar is ook elliptiese newels soos groot, blink hoendereiers. Daar is galaksies met ’n balk sterre of stof deur die middel, bekend as balkspirale. Daar is onreëlmatige newels soos silwer spinnerakke.

Swaartekrag is die raamwerk wat alles aanmekaarhou. Dit is universeel, oral dieselfde. Dit is die heelal se grondwet, die wet van orde, dieselfde wet wat ’n boek op die tafel en ons voete op die grond hou.

Stadig en amper tydloos draai die groot wiele van die spiraalnewels, soos die skitterende ratte van ’n diamanthorlosie. Ons eie blink spiraal draai soos ’n mallemeule vol juwele om sy eie as, een keer elke 225 miljoen jaar.

Dit is ’n enorme wiel. Lig het 100 000 jaar nodig om van die een kant na die ander te trek. Sedert sy ontstaan het die son al 25 keer saam met die wiel gedraai.

Ons wiel is saamgestel uit ’n groot verskeidenheid van blink hemelliggame. Sommige sterre is reuse: rooi seepbelle, honderde miljoene kilometer in deursnee, groot genoeg om ’n sonnestelsel soos ons s’n in te sluk.

Ander sterre blink soos blouwit diamante. Daar is rooidwergies wat soos robyne gloei. Daar is geles soos ons eie son, en daar is swartes wat spookagtig in die skemerlig van ander sterre opdoem.

Sommige sterrekundiges glo selfs dat daar sterre van suiwer diamant is, koolstof wat deur ontsettende swaartekrag tot skitterende, soliede diamante saamgepers is.

Die groot, rooi seepbelle is lig soos veertjies. Dan is daar klein sterretjies wat ontsettend dig en swaar is. ’n Speldekopgrootte hiervan weeg meer as Tafelberg.

Die meeste sterre het maats. Twee-twee tol hulle om mekaar, soms drie-drie, en soms is dit ingewikkelde groepe van ’n dosyn of meer wat soos gloeiende kole om mekaar maal.

Sommige pare draai ver van mekaar. Op ander plekke raak twee hier en daar aan mekaar, en blink stof word afgeskuur. Die silwer stof lyk soos wit linte wat die sterre aan mekaar bind.

Baie sterregroepe lyk soos hopies juwele wat in al die kleure van die reënboog skitter. ’n Skitterende sterreswerm in die Suiderkruis is só aangrypend mooi dat sterrekundiges dit die “Juweledoos” noem. Daar is ook groot sterrehope, miljoene sterre wat saamtros en soos blink klonte aan die spiraalwiel se speke sit.


’n Valskleur-beeld van galaksie cD, soos vasgelê deur ’n lading-gekoppelde toestel. In die galaksieswerm Abell 2029 is cD die grootste wat bekend is (8 000 miljoen ligjare in lengte). Die Melkweg is die wit kolletjie links onder op dieselfde skaal.

Daar is ander verskynsels soos supernovas: skerp, helder ligte wat kortstondig meer lig uitstraal as al die sterre van die spiraalwiel saam. Daar is swartkolke, vreeslike bodemlose putte wat alles insluk wat naby kom, en dit vir ewig laat verdwyn.

Daar is newels wat net waargeneem kan word deur middel van instrumente wat infrarooi strale opvang. Daar is hemelverskynsels wat kragtige bronne van radiogolwe is.

Die miljoene neweleilande in oseane van niks is te groots vir die menslike begrip. Dit laat ’n mens verwonderd saam met Bildad die Suagiet uitroep, soos dit in Job 25 opgeteken staan: “As vir God selfs die maan nie helder is nie, en die sterre nie blink genoeg nie, hoeveel te minder ’n mens, ’n blote wurm, ’n mensekind, wat maar net ’n ruspe is?”

Die groot gedagte

Подняться наверх