Читать книгу Liefde is nie tjoklits nie - Helen Brain - Страница 3

Оглавление

“Is julle gereed om te bestel?” vra ek, maar die paartjie by tafel 5 giggel so ek kan myself skaars hoor. Heelwat harder herhaal ek: “Verskoon my, is julle gereed . . . !”

Die man ruk hom op. “Jy hoef nie te skree nie. Wat is jou naam?”

Hoekom wil hy weet? Wat as hy my by Nick gaan verkla?

Hy wag . . . en ek het geen keuse nie.

“Ta-Tamara,” stamel ek.

“Nou goed, Tatamara,” sê hy. Die meisie giggel en hy druk haar stywer teen hom vas. “Bring ’n Heineken vir my en ’n Coke Lite vir Maya.” Hy blaai deur die spyskaart. “Maya is lus vir die hoender piri-piri met rys. Bring vir my die special van die dag – of nee – maak dit die bobotie.”

Terwyl ek die bestelling neerskryf, kielie hy vir Maya in die nek.

“Miskien moet ek ook die bobotie vat, liefie,” giggel sy.

Ek voel naar. Wat sien sy in hom? Hy kon haar oupa gewees het. Die BMW waaruit hulle geklim het, is verreweg sy beste eienskap.

Nou knyp hulle mekaar onder die tafel. Dis net soooooo gross.

“Julle bobotie,” wil hy weet. “Is dit pikant?”

“Baie,” antwoord ek, en albei bars uit van die lag.

Ek vang nie hulle simpel grap nie, en ek wil ook nie. Ek het lankal besluit verlief wees, is sif. Beslis gaan ek my nie vir ’n sucker laat vang nie. O nee, ek weet wat ek uit die lewe wil hê en “die liefde” gaan nie sommer maklik my planne bederf nie.

“Ek vat ook die special, soos Hugo,” besluit Maya.

As die bimbo net haar mind wil opmaak.

“Ek vat nie meer die special nie, poplap.” Hugo draai ’n string van haar rooibruin hare om sy voorvinger. “Ek vat die hoender piri-piri. Jy weet mos I like it hot.”

Albei proes van die lag.

Ek moet keer om nie my oë te rol nie. Hulle is net so simpel. Erger. Hulle sal maak dat ek daardie cool donkerkop mis. Hy kom elke middag na die Bay Café vir lunch. Vandag is hy laat. As hy net wil opskud, en as die twee verliefde papaja’s net wil klaarkry, kan ek nog dalk sy bestelling neem voor my skof oor is.

Ergerlik trek ek alles dood. Hugo en Maya werk erg op my senuwees. “Dis dan een piri-piri-hoender, een bobotie, een Heineken en een Coke Lite,” lees ek.

Hugo knik en begin weer om vir Maya te kielie.

Met rollende oë draai ek weg om die bestelling kombuis toe te neem. Dan gee my hart ’n skop. Hý kom ingestap. Die geheimsinnige donkerkop wat nes Logan Lerman lyk.

Hy is net so cool. Ek hou hom al meer as ’n week dop. Hy werk as skipper by Steenkamp Toere. Toe ek gister op pad huis toe daar verbygestap het, het hy geglimlag en “Hi” gesê. My knieë het omtrent geswik.

Laat ek tog eerste by sy tafel wees, voor Meriel of Kara, smeek ek, terwyl ek die swaaideur by die kombuis oopstoot. Net toe warrel Meriel van agter verby my en gryp ’n nat lap en ’n klompie papierservette. “As daai klein hel weer sy Coke uitsmyt, draai ek sy nek om,” sis sy toe sy uitdraf.

Flip, wat as Meriel eerste daar is?

Ek rammel my bestelling af en sit haar agterna. Die donkerkop het pas by die laaste leë tafeltjie gaan sit en daar is geen kelner in sig nie. Wat ’n gelukskoot.

Sy oë flikker toe ek naderstap. “Hallo, julle is lekker besig vandag, nè?”

“J-ja.”

Hoekom moet ek altyd hakkel wanneer ek met ’n ou praat? As ek net so lekker maklik met enigeen kon gesels soos Meriel.

Ek hou die spyskaart uit, maar hy skud sy kop.

“Net koffie en toasted bacon-and-egg, dankie.”

’n Paar tafels verder is Meriel besig om ’n plas Coke voor ’n sproetgesig seuntjie op te vee. Voor sy kan keer, lig die outjie sy bord bo sy kop. “Tjips hê!” gil hy en smyt dit op die grond.

Die ma het ’n baba op die skoot. “Johannie is nie altyd so nie,” verduidelik sy met ’n harde fluisterstem, seker sodat almal in die restaurant moet hoor dat die klein monster net ’n slegte oomblik het. “Hy’s ’n bietjie oorgestimuleer. Ek sal jou ’n goeie fooitjie gee, meisie.”

Ek sou die klein pes geklap het, maar Meriel tel die skerwe geduldig op. Sy skakel selfs haar sjarme aan. “Alles reg, Johannie,” troos sy. “Ek bring vir jou lekker tjippies, hoor. Wil jy tamatiesous ook hê?”

“Tamara, ek betaal jou nie om daar te staan en ginnegaap nie!” Dis Nick, die Bay Café se bestuurder. “Tafel 1 wag vir hulle bestelling!”

Asof hy my nogal betaal.

“Jammer, Nick, ek is nou daar!”

Ek gaan laai die bestelling op my skinkbord en pak die borde met ’n vals glimlaggie voor tafel 1 se mense uit. Dan draf ek terug om my donkerkop se koffie te gaan skink.

Hy glimlag skeef toe ek dit voor hom neersit. Ongelukkig is daar nie tyd om sy tjoklitoë, aristokratiese neus of die nonchalante manier waarop sy kuif oor sy voorkop tuimel te bewonder nie. Ek voel sy oë op my toe ek kombuis toe stap en raak so selfbewus ek val amper oor ’n stoel.

“Drie calamari’s, een medium T-bone met baked potato!” roep die sjef toe ek die swaaideur oopstoot.

Ek pak die bestelling op my skinkbord. “Hoop dis reg,” mompel ek.

Meriel is besig om ’n stuk gebakte kaaskoek op ’n bord te plaas. Dit word afgerond met sjokoladestrepe en ’n perfekte roomroset. “Dis nog maar jou tweede week,” troos sy my toe ek verbystap. “Jy moet net weet hoeveel foute het ék in die begin gemaak.”

Asof, dink ek terwyl ek tussen die tafels deursukkel met die oorlaaide skinkbord. Alles kom so maklik vir Meriel en almal is mal oor haar. Sy maak net geen foute nie.

Ek plaas Logan Lerman se rekening op sy tafel. Sy oë flikker weer in my rigting en my knieë raak van voor af lam.

“Sien jou weer,” sê hy terwyl hy betaal.

“Da-dankie vir jou ondersteuning. Ko-kom gerus weer,” hakkel ek.

Die meeste klante is gaaf en gee goeie fooitjies. Maar daar is altyd goor mense soos Johannie en sy ma. ’n Tafel vol sakemanne is die pits. Hulle dink hulle is so cool en wil net flirt. Meriel en Kara flirt terug en kry vet tips, maar ek suck.

Die simpel verliefdes van tafel 5 is op pad uit, joehoe!

“Ek hoop julle het die ete geniet! Kom gerus weer!” groet ek met ’n vals stem, terwyl Hugo die note aftel – en wraggies ’n paar terugvat en in sy beursie steek. In die kombuis check ek my fooitjie. ’n Skrale R6.65 vir al my harde werk.

Meriel is die ene simpatie. “Dis disgusting! Hy behoort hom te skaam! Oeps, ek moet waai, tafel 10 is op pad.” Sy gooi haar sygladde hare oor haar skouers en trek haar mini-rompie reg. “Geniet die res van die dag,” groet sy met ’n stralende glimlag. Oomblikke later kom sy terug met drie R10-note.

Ek stut die skinkbord vol bakkies nagereg op die toonbank. “Hoe dóén jy dit? Ek werk net so hard soos jy, maar jou tips is vier maal groter as myne. Teen dié tempo kan ek Duitsland op my maag skryf.”

“Moenie worry nie, jy sal nog regkom, onthou, ek waitress al amper ’n jaar.”

As ek net soveel selfvertroue gehad het en ook so spontaan kon wees, maar ek maak nie maklik vriende nie. Ma is al wanneer Weskus toe verplaas en ek het nog amper geen vriende op ons nuwe dorp nie. In elk geval is ek net naweke hier – in die week is ek in Hoërskool Jan van Riebeeck se koshuis. Gelukkig is dit nou vakansie.

Elke naweek het ek amper vergaan – tot Meriel een oggend oor die heining hang en my nooi om te kom swem. Ek het haar vertel van ons skool se uitruilprogram met Duitsland en sy het voorgestel ek kom waitress by die Bay Café.

“Jy sal lekker tips verdien,” het sy belowe.

Dink net – drie wonderlike maande in die sneeu by ’n Duitse gesin met tieners so oud soos ek. Maar hoe gaan ek óóit die vliegkaartjie betaal met sulke tips?

“Dis die laaste van die lunch crowd,” sê Nick op sy nors manier toe ek die vuil borde afdra. “Julle twee kan gaan sodra die tafels skoon is.”

Meriel gee vir my ’n lap en ’n bottel Handy Andy aan. Ek vee die krummels en die vuil papierservette in ’n swart vuilgoedsak. Die Bay Café het Franse deure wat op ’n lang stoep uitloop. Vandaar kyk jy uit oor die houtkaaie waar tientalle seiljagte vasgemeer staan, en op Steenkamp Toere se kantoor.

Soos die duiwel dit wil hê, stap my donkerkop net toe by Steenkamp Toere se deur uit en stryk met lang treë aan oor die kaai. Met ’n bonsende hart kyk ek hom agterna. Wie sou hy wees? Met sy lenige lyf en skewe glimlag is hy loshande die aantreklikste ou wat ek nog ooit gesien het. Die regte Logan Lerman kan gaan slaap.

Meriel wikkel haar heupe en maak groot oë vir my.

Ek bloos en vryf my tafel met mening blink.

Sy giggel en begin vertel: “Dis Scott Steenkamp. My suster het verlede jaar met hom uitgegaan. Hy’s cool, nè?”

“Werk hy permanent daar?” Ek probeer my bes om ongeërg te klink, maar ek verskuif nietemin na ’n ander tafel vir ’n beter uitsig.

“Hy swot toerisme in die Kaap. Werk net vakansies by sy oom. En hy’s mal oor seil! My arme sus se romanse het nie lank gehou nie, want sy raak seesiek.”

Ek bars uit van die lag. Toe ek weer kyk, staan Scott kaalvoet op die dek van Die Meermin. Sy sonbruin maag is plat en gespierd bo sy afgesnyde jeans, en my mond begin water. Maar waar sal so ’n ou tog na mý kyk?

“Hy het nie op die oomblik ’n meisie nie,” skimp Meriel.

“Meri, jy weet hoe pateties ek is as dit by ouens kom.”

“Jy moet iewers begin! Glo my, as dit nie vir Jaco was nie, het jy kompetisie gehad . . .”

Asof. Sy is so verlief op Jaco, haar roomrosette lyk al soos trourokke. “Dit sal tog nie werk nie,” protesteer ek. “As ’n ou net na my kyk, dan begin ek al hakkel en dan dink hy ek’s ’n imbesiel.”

“Practise makes perfect, nè! Jy moet net aanhou probeer. En moenie maak of jy nie van hom hou nie – ek het oë in my kop.”

“Ja, maar . . .”

“G’n maars nie. Gaan net vir hom en klaar.”

Meriel is reg, my maag is vol skoenlappers elke keer as ek hom sien. Ek sal wat wil gee om sy gespierde arms om my te voel – om sy foto in my koshuiskas te plak – om hand aan hand met Scott Logan Lerman Steenkamp by die skool se lentedans aan te kom.

Meriel lag. “Jy het daai tafel al vyftig keer afgevee, selfs Nick sal tevrede wees. Kom ons loop en gaan sê hallo vir die Incredible Hulk.”

“Jy’s nie ernstig nie.”

“Hoekom nie? Gaan maak jou gou mooi. En moenie skelm wegglip nie, oukei!”

Ek loop hang my voorskoot op en draf badkamer toe. Jy is eintlik baie oulik, praat ek myself moed in terwyl ek die rekkie uitsukkel en die kam deur my hare trek. As jy net nie so vaal was nie. Wat van superswart hare en ’n superbleek vel? Soos Kelly Rippa en Jesse J in hulle Goth-stadium. Of Kate Berry met haar pers hare. Ek het hulle nou die dag gegoogle en gewonder hoe die look my sal pas.

Maar wat dínk ek alles?

Terwyl ek oor Goth-chic fantaseer, kom Meriel die badkamer ingewarrel. “Hier, sit aan!” Ek is te bang vir haar om nee te sê en rol die pienkpers gloss gehoorsaam oor my lippe, dis sowaar effens Goth. “Rol nou jou T-hemp ’n ent op sodat hy daai sexy lyf kan sien.”

“Wat? Jy’s lekker laf,” keer ek, maar Meriel is nie iemand wat “nee” vir ’n antwoord vat nie.

“Wie’s laf? Jy’s fantasties gebou, maar jy steek dit altyd weg. Dis beter. Nou net ’n tikkie maskara om daai super-mega-oë.” Sy beskou my krities. “Tonne beter. Kom ons gaan toor hom.”

Scott sit op ’n meerpaal in die kokende middagson en kerf ’n stukkie dryfhout. Hy kyk met ’n glimlag op toe ons aangestap kom. “Howzit, Meriel,” groet hy.

“Fine. Dis my vriendin, Tamara. Sy’s nuut op die dorp en sy dink jy’s gorgeous.”

“Meriel!” Ek stamp haar in die ribbes. Ek moes ook geweet het. Pleks ek by die Bay se agterdeur uitgeglip het toe sy nie kyk nie.

Scott speel saam. “Wel, sy’s duidelik iemand met smaak. Hoe’s dinge, Tamara?”

“E . . . oukei,” stotter ek, so verleë dat ek nie weet waar om te kyk nie.

“Geniet jy jou werk by die Bay?”

“E . . . ja, dankie.” Hoekom kan ek aan niks interessants dink om te sê nie?

“Tamara spaar vir ’n vliegkaartjie om as uitruilstudent Duitsland toe te gaan,” babbel Meriel.

“Duitsland is fantasties,” sê Scott. “Ek en ’n pel het laasjaar met rugsakke deur Europa getoer. Op plase gewerk en skottelgoed gewas in restaurante. Dít het ek gehaat. Waarheen gaan jy, Tamara?”

“M-München.”

“München is amazing! Jy sal beslis mal wees oor die Tamaen-platz en die Asamkirche. Kan jy Duits praat?”

“So ’n bietjie.”

“Bietjie?” val Meriel my in die rede. “Jy moet haar hoor – sy het laasjaar die prys vir Duits gewen en sy parlez-vous Français ook by alles.”

Ek gee haar ’n kyk, maar gelukkig is Scott se aandag by ’n groep toeriste wat foto’s neem van die baai. Hy spring op. “Jammer, julle, ek moet gaan, dis my toergroep daar oorkant. Lekker om jou te ontmoet, Tamara. Cheers, Meriel. Sien julle later.”

’n Dik vrou met ’n strooimandjie dring daarop aan dat Scott haar eerste op Die Meermin help. Haar man, wat alles afneem, volg haar met ’n flitsende kamera. Gou wemel die boot van vakansiegangers.

“Oppas daar by die kant, Johannie!” roep ’n stem.

“Ek wens die klein helsem val in en versuip,” brom Meriel.

“Jy was dan so gaaf met hom!”

“Toneelspel, of wat het jy gedink?”

Die Meermin se enjin begin tjok-tjok. Scott waai vlugtig terwyl hy die boot behendig tussen die visserskuite deur na die breekwater stuur.

“Hy hou van jou,” sê Meriel.

“Moenie mal wees nie. Ek het skaars twee woorde met hom gepraat.”

“Sewe. Ek het getel.”

Ek sug. “Dis beter om nie met ouens te sukkel nie.”

“Ja? Ek sien jou oor twintig jaar, ’n suur oujongnooi soos juffrou Smal hier op die dorp – wat altyd kla oor die kleintjies so mors in haar precious bib.”

Ek boks haar teen die arm.

“Jy was fine, Tamara! Ten minste is julle albei mal oor Duitsland. Gesels volgende keer daaroor.”

“As daar ’n volgende keer is.”

“Natuurlik sal daar, trust me.”

Ek sê niks, maar dit pla my dat Scott so vinnig padgegee het. Hy kon nie gou genoeg by Die Meermin kom nie. Die feit is, ek is vaal en vervelig, dis wat.

Op pad huis toe babbel Meriel oor haar en Jaco se naweekplanne. My gedagtes dwaal heeltyd na Scott. Eintlik, as ek eerlik moet wees, was hy nogal gaaf. En daar was regtig toeriste wat hy moes uitneem. Miskien is dit tog nie so moeilik om met ouens te gesels nie. Of dalk is hy net spesiaal? Maar dat hy net so mal is oor Duitsland, en al daar was, is net so cool.

Skielik kan ek nie wag om hom weer te sien nie. Nie weer gaan ek met ’n mond vol tande rondstaan nie, nee, ek gaan erger as Meriel babbel, gee net kans.

Liefde is nie tjoklits nie

Подняться наверх