Читать книгу Liefde is nie tjoklits nie - Helen Brain - Страница 4

Оглавление

Die volgende oggend, toe ek verder oor Scott wou droom, kloek Ma soos ’n hen om my. Dit laat die lekker mood wat ek nog heeltyd troetel vinnig verdamp.

“Tatta, skat.” Sy pik my op die wang. “Is jy seker jy sal self by die werk kom?”

“Ja, Ma.”

“En jy sal bel as jy iets nodig het?”

“Ja, Ma. Ek is oukei, Ma.”

“Ek is jammer ek moet op ’n Saterdag van alle dae ’n kliënt by die lughawe gaan haal. Mits die vlug betyds is, is ek op die laatste teen twee-uur terug. Is jy seker jy sal regkom?”

“Maaaa, ek is amper sestien, natuurlik sal ek regkom.”

“Onthou om sonroom aan te smeer voor jy strand toe gaan. En vra vir Meriel se ma as jy iets nodig het.”

Sy maak my nog mal. Mens sou sê ek is vyf, nie vyftien nie. Toe sy om die hoek verdwyn, maak ek vir my ’n tamaai beker koffie om te herstel van die stres veroorsaak deur die oordrewe emosionele afskeid.

Gewoonlik skakel ek die TV aan, maar vanmôre krul ek op in die leunstoel voor die venster. Herbert, my gemmerkat, wip op my skoot. Terwyl ek hom met die een hand streel, dwaal my gedagtes na Scott.

Oor sewe-en-sestig minute is ek in die Bay Café – en miskien is hý ook daar. My hart skop by die gedagte. Sou daar regtig iets wees soos liefde met die eerste oogopslag? Is dit hoekom ek so weird voel, so lig en vol dans?

Skielik kry ek lag vir myself. Ek was nog altyd die skeptiese een wanneer almal so rave oor die liefde, maar dis nogal cool wanneer dit met jou gebeur. En dit ís aan die gebeur. Hoe anders moet ek die borrelende gevoel verklaar wanneer Scott so skeef in my rigting glimlag?

Ek sit Herbert op die vloer neer en neem my beker kombuis toe. Nadat ek gestort het, staan ek lank voor my kas. Gewoonlik is enige kombinasie oukei, maar vandag is ek ewe skielik krities. Ses probeerslae later kies ek ’n diepblou T-hemp wat my oë beklemtoon. Gedagtig aan Meriel se raad, rol ek dit effens op.

Ek grawe selfs die maskara, wat my niggie my vir Kersfees gegee het, uit ’n laai. Natuurlik smudge ek dit. Ek sukkel nog om die skade te herstel toe ’n hengse getoet en ’n geskree in die straat opklink.

“Tamara! Tamaraaaa!”

Ek spring na my kamervenster. Meriel hang halflyf uit die venster aan die passasierskant van ’n vaalblou Opel Astra.

“Kom spring in! Ons het ’n lift!”

Ek loer na die tyd, gryp my sak en hardloop uit. Ek, wat altyd vroeg is, het dit op die een of ander manier reggekry om amper laat te wees. Dit het jy nou van girly wil wees, raas ek met myself.

Meriel stamp die agterdeur oop. “Hop in. Cool kar, hè? Was Jaco se oupa s’n.”

“Cool verby!”

Jaco glimlag in die truspieël vir my. “Ek dag ek spaar julle twee die ent se stap.”

“Da-dankie,” stotter ek.

Daar hakkel ek al weer soos ’n moroon.

“My oupa-hulle het ouetehuis toe getrek.” Jaco draai die radio harder. “Lekker gelukskoot, nè?”

“Net jammer die kar is ouer as sy nuwe baas,” terg Meriel.

“You donna like my car, you wanna walk?” Jaco leun oor haar, maak haar deur oop en gee haar ’n stampie, maar sy slinger haarself op hom en haak die deur giggelend met haar voet toe.

“Toe maar, skattebol,” flikflooi sy. “Ek sal nooit ooit weer met jou Porsche spot nie, hoor. Wat is hom naam?”

“Juicy Lucy, want hy’s altyd dors.”

Ek verluister my aan hulle. As ek net ook so kon lag en flirt. Meriel het dit net so maklik. Haar pa is die dokter op die dorp en hy en haar ma het hierdie wonderlike, romantiese huwelik. Hulle huis is ’n absolute nes, want die buurt se kinders hang altyd daar, maar dit pla haar ma niks. Dis so anders as ons netjiese wit huisie, met net ek en Ma en Herbert, en elke ding pynlik presies op sy plek.

My hande sweet toe ons voor die Bay Café stilhou. Sê nou Scott is al uit vir die dag? Ag nee, Die Meermin se vasmeerplek is sowaar leeg. Nou wag ’n lang, saai oggend op my tot Scott eendag kom.

“Sien jou oor vyf uur, vyf en vyftig minute en twintig sekondes,” koer Meriel.

“Kan nie wag nie, Babe!”

Toe sy en Jaco groet, draf ek in en bind my voorskoot om. Hopelik kom loer Scott later in. Hy het gesê hy sien ons vandag – tensy hy sommer net gepraat het.

Nick kom blaas-blaas aangestap. Soos gewoonlik is sy yl swart hare in ’n olierige stertjie onder sy bles vasgemaak. “Waar is Meriel? Julle is laat!” skel hy.

“Hier, Nick!” Meriel warrel in met haar mooiste glimlag. “Jammer ons is laat. Dit was my fout en dit sal nooit weer gebeur nie, ek belowe.”

Nick knik suur. “Dit beter nie. Dit gaan ’n mal dag wees.”

“Hy’s in ’n vieslike bui,” waarsku Kara, die hoofkelnerin, toe ons in die kombuis aanmeld. “Het my stink uitgeskel. Ek raas glo te veel wanneer ek die skottelgoedwasser uitpak.”

Meriel grinnik. “Het seker ’n hangover en ’n hoofpyn.”

Ek vat die houer met die messe en vurke en begin om pare eetgerei toe te draai in papierservette waarop “Bay Café. Lekker eet!” in rooi letters gedruk is. Op sy beste is ek ligvoets vir Nick en wanneer hy met my raas, verkrummel ek sommer. Natuurlik vee Meriel en Kara hulle af aan sy buie, maar ek durf nie die werk verloor nie, my trippie Duitsland toe hang hiervan af.

“Kara, waar’s die wynglase?” skree Nick. “Dis amper oopmaaktyd!”

Kara rol haar oë en tel die swaargelaaide skinkbord op net toe Nick deur die swaaideure bars. Die skinkbord seil deur die lug en die glase spat in skerwe op die vloer.

“Jou bleddie idioot!” skel hy, heeltemal buite beheer. “Tel op! Maak skoon! Jy’s gefire!”

Kara verander soos ’n verkeerslig van groen na rooi. “Tel dit self op en maak dit self skoon as ek dan gefire is!” skel sy terug.

Nick gee haar ’n vernietigende kyk, draai op sy hakke en storm uit terwyl ek oopmond na Kara staar.

“Good luck, julle.” Sy pluk haar voorskoot af en smyt dit in die hoek. “Ek is klaar met dié joint.”

“Kara is net so cool,” sê Meriel bewonderend, toe Kara met swaaiende heupe uitstap. “Ek sal nóóit die guts hê om so met Nick te praat nie.”

“Ek dink weer jy sal,” sê ek terwyl ek die skerwe optel. Ek voel down. Die dag het flippen sleg begin. Nie net is Scott weg sonder dat ek hom gesien het nie, sonder Kara sal ek en Meriel boonop moet werk dat dit hop.

Toe ons skof teen twee-uur eindig, kan ek amper nie op my voete staan nie.

“Hoe het jy gevaar?” vra Meriel terwyl sy haar fooitjies tel.

Ek wil sê “vrot, dankie”, maar die woorde steek vas, want op die stoep, luiweg teen ’n pilaar, staan Scott. Hy lyk soos iets uit Vogue in ’n los suurlemoengeel hemp, sy oë versteek agter ’n sexy Police-sonbril. Hoe kan ek hoop so ’n cool ou sal ooit in my belangstel?

“Hoe’s dinge?” roep hy.

Tien uit tien vandat ek jou gesien het, dink ek, maar soos gewoonlik kry ek net een hakkelende woord uit: “H-hi!”

Meriel maak of sy sweet van haar voorkop afvee. “Nick was weer in een van sy moods . . .”

“Dan het ek die regte medisyne. Hoe klink ’n sunset cruise as gas van die skipper?”

“Fabulous!” roep Meriel uit. “Ek bbm dadelik vir Jaco.”

“Wat van jou, Tamara, kom jy saam?”

Kom ek saam? Sneeu dit ooit in Duitsland?

“J-ja dankie.”

“Nou toe, vyf-uur dan.”

“Aai-aai, Skipper! Sien jou later,” roep Meriel oor haar skouer terwyl sy teen die trappies afdraf straat toe waar die vaalblou Astra pas stilgehou het.

Scott stuur ’n oorrompelende glimlag in my rigting. “Sien jou vanmiddag, Tamara.”

Ek waai swakkies terwyl ek agter Meriel aandraf, die soet klank van sy “Tamara” nog in my ore. Dink net, ’n cruise saam met Scott Logan Lerman, met ’n sakkende son en ’n lang glas bier. Nee, seker iets fancy soos ’n Martini. Wat ook al. Hoe gaan ek dit uithou tot vyfuur?

“Ons kry jou kwart voor,” sê Jaco toe die Astra voor my huis stop. “Moenie laat wees nie, oukei?”

“Not a chance!” Meriel knipoog veelseggend.

Ek bloos en hardloop in.

Ma sit op die rusbank en kyk TV. “Hallo, Tammy. Hoe was jou dag?”

“Great!”

“Besig by die restaurant?”

“Baie!” Ek maak die yskas oop en grawe daarin rond. “Ek gaan vanaand saam met Meriel en Jaco en so ’n ander ou uit op die rivier,” sê ek oor my skouer – baie, baie ongeërg.

Ma is dadelik agterdogtig. “Wie is die ander seun, liefie? Ken ek hom?”

“Niemand in die besonder nie, maar net Scott Steenkamp.” Ek probeer my bes om dit na niks te laat klink.

“Ek bel gou vir Meriel se ma om te hoor wat sy van hom weet.”

“Maaaa!” sê ek ergerlik en mors ’n blerts jogurt op die vloer. “Vir wat? Scott is nie ’n misdadiger nie. In elk geval, Meriel en Jaco gaan saam. En Scott se hele toergroep.”

Ek vat die bakkie jogurt en vlug kamer toe. Ek het baie om te doen en Ma is nou regtig besig om my te irriteer. Hoekom kan sy nie aanvaar ek kan my eie besluite neem en na myself kyk nie?

Liefde is nie tjoklits nie

Подняться наверх