Читать книгу Sewende somer - Helen de Kock - Страница 3

1

Оглавление

Vir die tweede maal in haar lewe laat ’n brief vir Esther Kolbe skrik dat dit vir haar voel haar liggaam sak onder haar weg. Die eerste keer was dit toe sy nog Esther Marais was, en pas klaar met die skool. Toe het ’n paar tref-en-trap-woorde op ’n stukkie blou papier haar laat dubbel vou van die seer. Blou is tog bedoel vir sagte, stemmingsvolle woorde; nie vir ’n bitter afskeidsgroet nie, het sy toe in haar ellende gedink.

Sy skud haar kop driftig, voel hoedat haar kake klem soos sy verbete aan iets anders probeer dink. Jare lank al skool sy haarself daarin om sodra dié blou brief in haar gedagtes kom, aan iets anders te dink. Byna soos wat ’n mens ’n televisiestel van kanaal laat verander. Maar vandag is dit moeilik, want hierdie brief laat haar gemoed skommel tussen gister en vandag, al het die twee briewe en die skrywers nie juis iets gemeen nie.

Esther staan op uit die leunstoel en leun met haar elmboë op die balkonreling, kyk afwesig hoe Loekie saam met die ander kinders onder in die betonbinnehof van die woonstelblok speel. Sy rooiblonde hare wip soos hy spring en sy plesierige gille weerklink in die kaal, vaal vierkant met die verweerde skoppelmaaie. En dit bring haar malende gedagtes dadelik weer terug na vandag se brief. Sy maak haar oë toe sodat die woorde ’n helder prentjie voor haar geestesoog teken. Loekie wat vry en uitbundig op die malse groen grasperk aan die noordekant van die sierlike sandsteenhuis speel … Loekie wat vanuit ’n mik in die stewige populiere die vraatsige muisvoëls in die bessiestruike met kwalik ingehoue lag dophou … En sy en tant Olga wat op die breë, blink stoep sit en tee drink terwyl die oostewind teen skemer opsteek. Die koel, syige wind van die Hoogland, wat ’n vars roering in die warmgebakte tuin bring sodat die swartoogtiptol in die appelboom opgewonde aan ’t kwetter gaan.

En onwillekeurig reik Esther in haar rompsak na die brief wat vanoggend gekom het. Haar vingers stryk die twee dun, geurige velle stadig plat, en ’n klein fronsie vorm op haar voorkop toe sy begin lees. Maar sy glimlag tog ook effentjies. Tant Olga is nie iemand wat met woorde mors nie. Sy sê haar sê en basta.

“… en omdat ek weet dat jy wonder oor my vlugtige besoekie van verlede week, sal ek jou inlig. Ek het kom kyk hoe dit met jou en Loekie gaan vandat Johannes dood is. Met dié dat jy uit die huis in daardie woonstel moes trek, het ek dinge aangetref soos wat ek gevrees het. Julle kan nie daar bly nie, Esther. Ek is dit aan jou oorlede mamma verskuldig om na jou en Loekie om te sien. En aan myself ook. Julle is immers al wat ek het. Susterskinders is ná aan ’n mens, veral as mens nooit jou eie gehad het nie. Om tot ’n punt te kom: ek hét toe vir my ’n huis gekoop soos wat ek beplan het. Wyle Zacharias Dijzel se huis. ’n Meer geskikte plek vir my én julle twee, kan ek my skaars indink. Soos wat jy goed weet, is die plek kolossaal. En nou, Esther, ek was lank genoeg Engels-departementshoof. Ek is moeg vir nasienwerk en moeg vir die onderwys. Dis eenvoudig te veeleisend vir iemand van my jare. Ek wil ’n boetiek oopmaak op die grondverdieping van die Dijzel-huis. Daar sal ons smaakvolle klere en handsakke en selfs skoene aanhou. ’n Vrou moet daar kan instap en in die huidige woonkamer ál haar onderklere kan koop, in die sitkamer ’n def­tige tweestuk en in die eetkamer skoene wat pas. Hoe klink dit vir jou? Goed, sou ek sê. Bedank jou pos in daardie muwwe ou kantoor waar jy jou dae omslyt. Kom terug na waar jy en Loekie elke dag skoon lug kan inasem, en waar die arme kind kan boomklim en ou Miss Pattie van langsaan se perskes steel sonder om toege­sluit te word! Dink net, in die somer sal ons uitry berge toe om ’n bietjie koelte te kry. Nes destyds toe julle jonges altyd Golden Gate toe gegaan het, onthou jy? En in die winter, Esther, sal ons vuur maak in die kaggel van daardie groot noordelike vertrek waar wyle mevrou Dijzel altyd haar onthale gehou het. Foei tog, my hart bloei nog as ek aan hulle dink. Om darem so in die fleur van ’n politieke loopbaan afgemaai te word, is verskriklik. Dit bly vreemd dat hulle nog nie die moord opgelos het nie. En ek weet jy sal dit aardig vind dat ek nou in daardie selfde huis gaan woon waar Zacharias en Denise Dijzel geskiet is, en waar jy en Zach so baie saam was. Maar kind, ons sal alles verander. Die verlede is verby en begrawe. Mense praat nie juis meer daaroor nie …”

Nie? wonder Esther wrang. Ook net omdat hulle nie so be­trokke was nie. Selfs tant Olga het dit die afgelope jare gereeld weggepraat as sy kom kuier het. Dalk omdat sy vrees dat Esther so half stom sal raak soos destyds toe dit gebeur het.

“Essie, my kind, práát met my en jou mamma, asseblief tog,” het sy gesmeek. “As jy ons net wil sê wat dit is wat jou so soos ’n dooie mens laat lyk.”

Maar sy kon nie praat nie. Nie tóé nie. En nie tant Olga of haar liewe, onkapabele mamma het geweet van jong Zach se blou brief nie. Sy kon hulle ook nie daarvan sê sonder om alles, álles te ver­klap nie. Dit, en die klipsware wete van haar eie ondergang, het haar mond weke lank gesnoer. Maar oplaas kon sy nie meer swyg nie, en het sy met die een mens gaan praat wat sy geweet het op haar wag … Johannes Kolbe. Haar Afrikaansonderwyser. Maar selfs vir hom het sy niks oor die Dijzel-moord te sê gehad nie. Sy het nie veel dáárvan geweet nie. Dat dit haar platgeslaan het, was waar. Dit het haar hart fyngekerf om Zach se ontwil, en ook om­dat sy sy ouers leer liefkry het. Almal was tog diep geskok. Die dood van hul gesiene parlementslid het die dorp met al sy mense soos ’n Vrystaatse donderstorm getref. ’n Ruk lank het dit gevoel asof dit nooit weer gaan ophou blits en lawaai nie. En lank, lank daarna was almal nog verskrik. Ook sy was verslae, ja. Maar dit was nogtans nie waaroor sy haar bekommer het nie. Al waaraan sy kon dink, was Zacharias se wit, geslote gesig toe hy die brief in haar hande kom druk het. Sy mond het net ’n oomblik lank op hare gebrand voordat hy omgeswaai en met lang, ferm treë uit haar lewe geloop het. Maar toe sy uiteindelik met Johannes Kolbe gaan praat het, het ook sy geweet dat sy ’n pad inslaan wat haar onherroeplik van jong Zach Dijzel af wegneem …

’n Kil, roeterige trek kom tussen die geboue deur en laat haar ril waar sy staan sodat sy intuïtief terugtree. ’n Oomblik lank wonder sy of Loekie nie liewer moet inkom nie, maar sy raak weer bewus van die heerlike harlaboerla van die spelery daar onder, hoor die bons van ’n bal onder op die beton. Sy leun weer oor die reling om te kyk wat aangaan en sien hoe Loekie triomfantlik na die bal gryp en paaie deur die ander hardloop om sy drie net agter die skoppelmaaie te gaan druk. Laat hom begaan, maan sy haarself. Liewer môre verkoue as spyt dat hy nie nóg kon speel nie.

Sy sak terug in die leunstoel en lig weer tant Olga se brief. Onwillekeurig klop haar hart hoër in haar bors. Dit voel kompleet asof sy ’n voëltjie agter haar ribbes herberg en nou wil hy uit, uit na waar dit oop en vry is … O, om terug te gaan! spring die gedagte spontaan in haar op, sodat sy vervaard ’n hand teen haar keel druk asof sy met dié gebaar kan keer dat haar hart haar verlaat. Terug na waar sy jonk was en voor haar tyd oud geword het. Terug na dié huis waar sy en Zach soms saam voor daardie kaggel in die ruim vertrek met sy antieke meubels gesit het. Esther sluk haar hart net betyds terug. Nee. Nooit nie. Dit het haar baie jare gekos om weer ’n mens te word. Iemand wat van haarself hou en wat haar hand aan die ploeg geslaan het. Want toe sy byna sewe jaar gelede met Johannes Kolbe getroud is, het sy nooit weer teruggekyk nie. Altans, korrigeer sy haarself gou, sy het nie vir elke bagatel omgekyk nie. Sy was Johannes se vrou en sy het haar só gedra. Haar gedagtes op hok gehou en haar herinneringe tot ou klasfoto’s gereduseer. Oplaas kon sy ook na haar fotoalbum kyk en sorg dat Zach mooi doodstil bly staan daar tussen Giel en Henk; want hy mag nooit weer vir haar lewe kry nie, het sy haar voorgeneem. Kyk sal sy seker altyd, maar met ’n waarskuwing aan die fotogesig. Bly waar jy is, wáár dit ook al is. Want vir my is jy net ’n afdruk op ou papier …

Esther loer weer na tant Olga se brief. Dit lê gevou tussen haar vingers, maar dis of iets kragtigs daaruit reik na haar. En voor sy mooi weet, kyk sy om na waar dinge al effens dof geword het. Die verlange na lank gelede kom stuk-stuk in haar los om soos wrakgoed bo in haar helderste gedagtes te drywe …

Dit was ’n kwaai winter. Die ergste in baie jare en die dorp was toe onder dik, wit kapok. Die mense het nie daardie jaar uitgery Maluti’s toe om in die sneeu te gaan speel nie; die kinders het mekaar sommer oor die heinings met sneeuballe gepeper. Sy het een middag van die skool af huis toe geloop, haar tone stokstyf verkluim in die skoolskoene en haar vingers bevrore om die tas se handvatsel. En toe, ’n skielike warm greep om haar hand voordat die tas by haar geneem word en sy opkyk in laggende donker­bruin oë.

“Gee my tas,” het sy dadelik gesê, meer uit reaksie as oortui­ging. Want dit was Zach, seun van Zacharias Dijzel, die plaaslike lid van die parlement en sy was bloot Essie Marais, alleenloper­kind van stil Hannah Marais wat in een van die huurhuise in die onderkloof woon …

Maar hy het net gelag en gesê: “Nee, dis nou my tas. Sodra ek dit goeddink, kan jy dit weer terugkry.”

Sy het stug langs hom bly loop. Sy het hom immers geken, want hulle was saam in die leerlingraad. Dis net dat sy goed ge­weet het wat hul klasmaats sou sê. Wat! Saam met Essie Marais? Jy speel! Dis nou sommer van watsegoedsegeid! Julle kén mos vir Zach … Sal hy nou in alle erns in die onderkloof loop kuier! Miskien moet mens maar ou Essie waarsku. Die blote gedagte het haar bitterlik ontstem.

“Géé my tas!” het sy verwoed gesê, en so skielik vasgesteek dat haar skoene onder haar uitgeglip het op die bottergladde ys. Haar arms het wild uitgeskiet, en een hand het hom hard voor die bors geslaan sodat hulle al twee met uitgestrekte ledemate die bevrore grond getref het. Pyn het deur haar linkerbeen geskiet. Skuins agter haar het sy gehoor hoe Zach gedemp hel, hel hél! sê. Deur ’n waas het sy gesien hoe hy orent kom uit die sagte hoop sneeu waar hy geland het. Sy het haar oë geknip-knip en toe eers die skrik op sy gesig gewaar. Sy oë was groot in sy nat gesig en sy blonde hare was gepleister teen sy kop.

Hy het tot by haar gekom, gehurk en versigtig met sy vingerpunte aan haar been geraak. Sy het hardop gekreun en warm trane voel kom.

“Hemel tog,” het hy verslae gesê.

“N-netnou h-het jy van die h-hel gepraat,” het sy geklappertand en gevoel hoe haar binneste begin ruk van die koue en die skok.

’n Klein glimlaggie het oor sy nat gesig gegly.

“Ja, maar toe het ek van myself gepraat. Jy hoort darem nie daar nie, Esther.”

“J-jy ook nie,” het sy uitgekry. “En o-ons hoort ook nie hier so b-bymekaar nie.”

Hul oë het vas gesluit, en sy het gesien hoe protes in hom op­kom, maar sy het teruggesak teen die grond, pootuit van die pyn wat haar nou in alle erns gepak het.

“Wag!” het hy verskrik gesê. “Bly tog nét hier! Ek gaan die ambulans bel. Moenie die been roer nie, hoor jy my, Esther?”

So asof sy van plan was om ’n wegholrekord te breek, het sy wrang gedink, en hom agternagekyk soos wat hy straataf gedraf het om vanaf die naaste woonhuis te gaan skakel. Hy was baie gou weer terug, en die pyn was so verterend dat sy nie eens om­gegee het dat hy haar hand styf in syne vashou, en sy kleurbaadjie wat kol-kol nat was, oor haar gooi nie. Gou was daar ’n klompie om­standers, en natuurlik het heelwat van hulle vir Zach her­ken. Was hy dan nie die hoofseun van die grootste hoërskool op die dorp nie? Kort-kort in die streekkoerant weens al sy pres­tasies. Wenner van die redenaarskompetisie in die Oos-Vrystaat. Speel Oos-Vrystaat skolekrieket en het ’n swart gordel in karate …

En toe, onvermydelik, was daar iemand wat laggend gesê het: “Darem lekker dat die meisies hul bene so oor jou breek, ou Zach!”

In haar verleentheid het sy gewens die grond wil onder haar oopgaan sodat sy sommer dwarsdeur die aarde kan val die ruimte in.

“Vergeet dit,” het Zach sag langs haar gesê en ’n slag bemoedigend met ’n voorvinger oor haar wang gevee.

Hy het selfs saam met haar in die ambulans gery en toe vriendelik maar outoritêr aan die ongevallepersoneel beduie dat hulle baie, báie mooi na haar moes kyk. Sy was glo langer as ’n uur in die teater, want die been was sleg onder die knie gebreek, en die eerste wat sy gewaar het toe sy wakker word, was haar ma se bleek geskrikte gesig en die senuagtige manier wat sy had om haar skraal wit vingers voor haar bors inmekaar te strengel tot jy dink sy gaan hulle nooit weer ontknoop kry nie. Langs haar was Zach. Sy voorkop op ’n bekommerde plooi, maar toe hy merk dat sy bygekom het, het ’n breë, wit glimlag sy aantreklike gesig glad gevee.

Maar sy het uit die staanspoor nie krag gehad vir sy besorgd­heid en belangstelling of wát ook al nie; en nog minder vir haar ma se ewige depressie wat immer aan die prut was onder ’n deksel van die uiterste gelatenheid. Soos wat sy daar langs die bed gestaan het, kon Esther duidelik sien dat Hannah Marais klaar handdoek ingegooi het. Die hele situasie het haar by voorbaat lamgeslaan. Haar sykant was na Zach gekeer. Nie haar rug nie. Dit sou te pertinent op afkeuring dui en daarvoor was sy weer te versigtig. Mens meng nie met Zach se soort nie, maar jy ignoreer hulle ook nie. Daarvoor het hulle te veel mag.

“Ag Mammie,” het Esther gesug, kompleet of Hannah die woorde hardop geuiter het.

“Wat is dit, kindjie?” het Hannah gou vooroor gebuig nog voordat Zach iets kon sê. “Is dit baie seer?”

Esther het haar kop geknik en haar oë toegemaak in die hoop om sommer weer weg te raak sodat nie Zach óf haar ma haar kon bereik nie. Sy het gehoor hoe Zach heserig kug en vaagweg gewonder of hy dalk koue gevat het met die vallery in die sneeu.

“Ek kom môre weer,” het sy hom hoor sê, en gevoel hoe hy haar liggies op die skouer tik. Haar ma het niks geantwoord nie, en toe Zach eers uit is, het Esther vraend na haar gekyk.

“Hoe hét dit dan gebeur, Essie?” wou Hannah verwytend weet.

“Ek weet nie,” het Esther wrang gesê, “maar dit was nie sy skuld nie, Ma.” Haar gesig het vertrek, want die been wás seer. Báie seer. En sy was nie lus om oor Zach Dijzel te praat nie. Sy wou nie eers aan haarself erken dat haar opinie van hom aan ’t verander was nie. Haar oog het op die twee ruikers langs die bed geval. Een fyn rangskikking van pienk rosies in ’n kristalvasie, en die ander ’n uitbundige bos geel en rooi tulpe in ’n heldergroen erdekruik.

“Dit moet ’n fortuin gekos het,” het Hannah bot gesê. “Maar wat, die Dijzels hét dit mos.”

Sy wou met een magtige woord haar ma se hopelose minderwaardigheid wegvee, maar sy was skielik te moeg, en die pyn se vlammende geweld het toegeneem. Buitendien, sy had ware deernis vir haar ma. Hannah Marais het haar jonk-jonk mishuwelik en Sarel se vroeë dood het haar enersyds bevry en andersyds bang en bitter gemaak. Esther was oud genoeg om dit te begryp. Daar was baie lang nagte in die jare vooraf waarin sy dit stuk-stuk lê en uitpluis het. Een ding het sy genadiglik geweet: vir Hannah wou sy nie een oomblik se leed aandoen nie. Nooit nie. Dit was genoeg dat haar ma verwronge uit haar huwelik gekom het en haar dae agter die poskantoortoonbank moes omstaan. Daarom het sy net ’n paaiende hand na haar toe uitgesteek, gevoel hoe vou haar ma dit tussen haar eie droë palms toe.

Zach het keer op keer gekom. Sommer smiddae direk ná skool en nog in sy skooluniform en ook weer saans met besoektyd. Maar dan was hy uitgevat soos net die Dijzels hulle kon uitvat. Hy het sy ma se goeie smaak geërf en Esther kon haar verkyk aan die gemaklike elegansie waarmee hy sy klere gedra het. Sy het skielik presies geweet waarom al die hoërskoolmeisies gedink het Zach Dijzel het charisma. Die afgelope maande is daar in die lewens­oriënteringklas heelwat gepraat oor ’n mens se beeld na buite, en wél, Zach s’n was ’n volmaakte samesmelting van treffende voor­koms en dinamiese persoonlikheid. Daarby, het sy nou uitgevind, oorweldig hy mens nooit. Hy kon langs haar bed bly sit en peinsend by die venster uitstaar sonder dat die swye wat insluip haar hinder. Dan het sy hom bekyk. Van sy dik blonde kuif en reguit neus met die welgevormde mond en hoekige ken tot sy breë skouers en sterk bene. Zach Dijzel is ’n trofee, het sy toe mos al geweet; en ook presies hoe erg dit haar raak. Sy het met verstomming en konsternasie besef dat sy letterlik en figuurlik beenaf is.

Maar sy was nie naïef nie. Nie toe nie en nooit daarna nie. Oplaas het sy hom in ’n hoek gekeer. Hy het weer in een van sy vrolike stemminge by die hospitaal opgedaag met nog ’n bos tulpe. Dié keer was daar wittes ook by die rooies en geles. En hy het dit met groot gebaar aan haar oorhandig.

“Dankie,” het sy sober gesê, “maar dis nie werklik nodig dat jy soveel geld spandeer nie, Zach. Ek weet dis moeilik om tulpe in die hande te kry dié tyd van die jaar. Die bloemiste moet dit ie­wers vandaan bestel het, enne …”

“’n Mooi toesprakie, Esther,” het hy luiters gesê en hom in die leunstoel langs haar bed tuisgemaak. “Maar dit sal nooit deug as jy nou al vir my vertel wat om met al my geld te maak nie. Buitendien, dit verskaf my die reinste plesier om dit vir jou te koop. Ek weet van geen ander meisie wat so oulik bloos soos jy as mens ’n bietjie aandag aan haar gee nie.”

Die woorde was speels en sy het dit geweet, maar tog was sy oombliklik smoorkwaad. ’n Gloed het terstond uit haar wange na haar vlamrooi hare gekruip. Sy was lus en gooi hom met die blomme. Maar natuurlik het sy nie. Want ten spyte van haar ontydige blosery en die legendariese kleur van haar hare, was sy koel­kop Esther Marais wat met een kyk van haar blou oë menige windmaker sy bekkigheid laat kwytraak het.

“Kyk, Zach,” het sy ewe lief gesê, “dis nou genoeg. Dit was niemand se skuld dat ek geval het nie.”

“Ek het ook geval!” het hy kamma verontwaardig tussenin laat hoor, maar sy het net toegeeflik geknik en haar relaas voortgesit.

“Ja, jy kan maar sê dit was die noodlot wat ingegryp het nadat jy my tas gegryp het! Maar Zach, jy het nou heeltemal genoeg vir my gedoen. Jy … jy hoef nie blomme te koop nie.” Sy het vinnig asemgeskep en kil gesê: “En jy hoef ook nie meer te kom nie.”

Sy mondhoeke het in ’n stadige laggie geroer.

“Nou toe nou. Eers beskuldig sy my dat ek ’n werktuig van die noodlot is, en dan jaag sy my nog weg ook! Wel, dit wys darem dat jy laas mooi geluister het in ou Kolle se klas toe hy so geesdriftig was oor die nootlot en deus ex machina, en dié soort goed. Persoonlik staan literatuurstudie my nie juis aan nie. Maar dis gaaf as een van ons twee goed is daarin. Jy kan my van nou af altyd help daarmee. Sal jy?”

Sy het hom in magtelose verstomming aangestaar, maar nie kopgegee nie.

“Zach, ek is nou seker daarvan dat jy nie doof is nie. Jy hoor wel klanke en geluide. Maar lees my lippe: Jy en ek hoort nie by­mekaar nie. Jy is Zach Dijzel en …”

“Dankie, Esther,” het hy haar knap in die rede geval, “maar ék het geen identiteitskrisis nie. Jy is die een wat probleme het met wie jy is. En tot jy jouself mooi uitgesorteer het, sal ek wegbly.”

Hy het opgestaan en voor haar oë uitgestap. Sy voetstappe het skaars gangaf weggeraak, of sy het in trane uitgebars. Dis natuurlik net wat hy gesoek het, die ellendeling! het sy gedink. ’n Gawe kans om los te kom uit ’n onmoontlike situasie wat hy sélf geskep het. Die pés! Sy het haar hart uitgesnik, en toe sy na die sneesdoekies in die laaitjie langs die bed tas, is ’n sagte, groot sakdoek in haar hand gestop.

“Mooi, ek is bly dat jy so gou by die kern van die saak uitgekom het! ’n Mens moet wéét wie jy is. En jy, my mooi ding, is Esther Marais, en ek is mál oor jou!”

Sy het verskrik oor die sakdoek na hom gekyk, en in sy steeds laggende oë gesien dat dit regtig waar is. Zach Dijzel was gek verlief op haar. Maar verstaan het sy dit nie, en sy het net haar kop geskud.

“Waarom het jy dan so lank geneem om my tas te gryp?” wou sy weet. “Ons is al jare saam op skool.”

“A, maar ek het begin besef ek is nie ál een wat ’n oog op jou het nie, Essie. Van die ander ouens het ook nou die dag gesê jy is sekerlik die mooiste meisie in graad twaalf. En toe ek sien dat ou Kolle ook leepoog na jou kyk. Wel …”

Sy het dit gerade geag om hom liewer nie tóé te sê dat ou Kolle, of mnr. Kolbe dan, juis die vorige dag vir haar kom kuier het nie. Nogal met ’n fraai toegedraaide botteltjie parfuum.

“Ek steur my nie aan onnies nie,” het sy wysneusig gesê.

En hy het skielik vooroor gebuk en haar vol op die mond ge­soen.

“Jy moet nooit nie, hoor … Want ek weet ek gaan baie lief word vir jou.” En toe het sy geweet: hulle hoort tóg bymekaar. Al sê wie ook wat.

Dit was Zach wat haar met sy pa se Mercedes kom haal en gesorg het dat al die aantekeninge in die klas vir haar afgeneem word. Hy wat vir haar wiskunde verduidelik het en net so kloe­kend soos haar ma om haar bly draai het.

Nee, dink Esther nou, dáárdie sorgsame, liefdevolle Zach het nie die blou brief geskryf nie. Die blou brief is geskryf deur dié Zach wat ná die moord op sy ouers met dooie oë in ’n wit gesig geloop het. Die een wat deur die Veiligheidspolisie opgepas is omdat hulle gevrees het hy kan ook vermoor word. En tog, daar was daardie een enkele keer dat hy weer die ou Zach was … net die een keer. Juis daarom het die brief se woorde haar soos lemme gesny. Ons het aan die einde van die pad gekom, Esther, het hy geskryf. Dis beter so.

Selfs nou nog laat die woorde haar ineenkrimp by die blote herinnering aan hoe dit was om hulle vir die eerste keer te lees. Eers die volslae onbegrip. Toe die seer. En later die doodsheid wat haar kalm en bedaard na Johannes Kolbe laat gaan het.

Sy sit meteens orent.

Waarom aanvaar jy dit nie? vra sy haarself wroegend af. Waarom laat jy toe dat Zach Dijzel jou nou nog omkrap? As hy kon vergeet, kan jy ook. En wat daarvan as jy in die Dijzel-huis saam met tant Olga gaan woon? Dis waar wat sy sê. Die verlede is klaar verby. Dis tyd dat jy dit ook begrawe. Buitendien, Zach is weg. Hy is weg soos wat hy die afgelope sewe jaar wég was. Niemand weet iets van hom nie. Dis so goed asof hy in die niet verdwyn het. Die Dijzel-huis behoort nie eens meer aan hom nie. Waarom sal sy van haar tuisdorp aan die soom van die berge wegbly net omdat sy ’n skim vrees? Want dis wat Zach Dijzel geword het. Buitendien, sy sal teruggaan as Johannes Kolbe se weduwee, nie as Zach se meisie nie. Sy en Loekie sal in die eertydse Dijzel-huis woon en hy sal op die ruim erf speel waar so baie voëls vryelik woon. Sy onthou nog goed hoe voëlryk die plek was.

“Mamma!” roep Loekie skielik vanuit die kombuis, en sy be­sef met skrik dat dit doodstil geword het onder in die vierkant. Hy moes netnou al ingekom het, en sy was só verdiep in gister dat sy dit nie gehoor het nie.

Hy roep weer en sy gaan in, kry hom waar hy in die koekblik op die yskas grawe. Dis nog van die koekies wat tant Olga ge­bring het.

“Haai, Mamma!” sê hy in sy hoë, dringende stemmetjie. “Piet­man is kwaad vir my!”

“Hoekom dan?” vra sy afwesig, en dink: Dit sal hom goed doen om tant Olga meer te sien. Hy soek na nog mense van sy eie vandat Johannes dood is. Dis skreiend om te sien hoedat hy die ander seuntjies se pappas dophou.

“Mamma … Ek práát met jou! Pietman is kwaad vir my, want ek het sy budjie laat wegvlieg.”

“Hoekom dan?” vra sy weer.

“Omdat hy in ’n hokkie is,” verduidelik hy. “Hy het die budjie afgebring ondertoe, en toe maak ek die deurtjie van die hokkie oop.”

En toe sy hom verslae aankyk, sê hy: “Ek hou nie van voëltjies wat in hokkies bly nie!”

“Luister,” sê sy op die ingewing. “Sal jy daarvan hou as ek en jy by tant Olga gaan woon? Sy het ’n mooi huis gekoop op die dorp waar Mamma eers gewoon het. Daar is ’n groot tuin vol voëltjies. En daar’s lekker, hoë bome …”

Sy sien hoe sy gesig eers botstil raak soos wat hy dink, en toe begin sy swartblink oë lewe kry soos altyd wanneer hy bly word.

“Oe! Kan ons môre al gaan, Mamma? Kan ons?”

“Volgende maand,” glimlag sy.

“As die somer begin?” wil hy doelgerig weet, en sy lag.

“As die somer begin, ja …”

Dis eers toe hy al in die bed is, dat sy kans kry om weer te sit en ’n slag deur die koerant te blaai. ’n Opskrif laat haar frons: “Bekende Sakeman en Vrou Tuis Vermoor.” Sy lees dit gedrewe deur. Dis Fouries van Vereeniging. Sy ken die mense nie. Weet nie eens van hulle nie. Maar onderaan die berig is ’n sinnetjie wat haar yskoud laat word. “Hierdie moord maak weer bespiegelinge rondom die Dijzel-moord wakker. Daar is ooreenkomste wat be­swaarlik mis gekyk kan word. Fourie en sy vrou is ook in hul sitkamer geskiet deur iemand wat hulle klaarblyklik geken het, want daar was ook geen tekens van worsteling nie. Die motief is ook duister. Sou Fourie, nes Dijzel destyds, iets te wete gekom het wat vir sekere instansies of persone gevaar inhou …?”

Sy sug diep. Daar was al heelwat sulke berigte die afgelope jare. Dis of elke tweede moord die polisie, of die media dan, laat onthou van die onopgeloste Dijzel-moord. Dan flikker daar oral belangstelling op en mense verwys vaagweg daarna. Maar dan vergeet hulle weer …

Nee wat, dink sy, en vou die koerant toe. Ek en my kind gaan terug. Dat ek nou die moed vind om in die Dijzel-huis te gaan woon, behoort ’n bewys te wees dat ék klaar vergeet het.

Sewende somer

Подняться наверх