Читать книгу Sewende somer - Helen de Kock - Страница 4

2

Оглавление

Esther word nog soms met ’n vaart wakker wat haar laat orent veer in die bed, gereed om in die ou patroon van haar woonstel- en kantoorlewe te val. En elke keer is dit onvergelyklik salig om terug te sak tussen die sagte, appelgroen kussings en te luister na die mossies se onhebbelik vroeë gesnater in die populiere langs die huis. Later kom die onverwags soete gekweel van die Heug­linse lawaaimaker by om ook die tortels aan te steek wat in ’n koor begin koer.

Dis wonderlik om te bly lê tot die lus vir die nuwe dag in haar oopvou en sy met geesdrif opstaan in haar nuwe kamer met die appelkoos en appelgroen muurpapier. Tant Olga het dié kamer van die geraamde afdrukke tot die kleinste laslappie so kunstig ingerig dat Esther self niks daarvan wou verander nie, al het die ouer vrou gesê sy moet die kamer maak soos sy dit wil hê. En sy het die heimlike genot in haar tante se oë begryp toe sy hartgrondiglik sê dat sy niks, maar niks daaraan sal verander nie, só mooi is dit vir haar. Want dis moontlik die eerste maal in haar lang alleenloperlewe dat Olga Hanekom kans kry om na hartelus nes te skop. Dit het Esther met ’n oogopslag gesien toe sy en Loekie ’n maand gelede hier aangekom het.

Die Dijzel-huis se dak was nuut geverf. Die traliewerk aan die veranda het wit geskitter, en die werkery aan die boetiek in drie van die onderste groot vertrekke was goed onderweg. Werkmense het heen en weer geskarrel en die reuk van nat verf was oral. Op die boonste verdieping was alles egter al rustig. Opgewonde soos ’n kind het tant Olga hulle rondgewys. Hier is nou ons drietjies se woonkamer. ’n Sitkamer hét ons mos daar onder en daar kan ons sommer formeel mense ontvang ook. Esther moes laggend toegee dat dit asembenemend is. Die woonkamer het haar letterlik binnegenooi. Deur die vernuftige gebruik van die minimum kleur het tant Olga daarin geslaag om ’n warm, gesellige vertrek te skep. Eers toe sy in een van die diep gemakstoele wegsak, het Esther gemerk dat alles in skakerings van roomwit en beige was met hier en daar ’n kussing of ’n behangsel in herfsoranje. Tant Olga se hand was oral merkbaar. Ook in die uitbundige geel-en-groen kombuis en in Loekie se vrolike rooi-wit-en-blou kamer.

“Ag jong, ek het só lank in skoolkoshuise gewoon dat ek nou skoon laf is oor dié plek! Ek wens eintlik daar was nóg ’n kamer iewers dat ek dit kan mooimaak!”

“Dalk is daar!” het Esther gelag. “In ’n yslike plek soos dié is daar mos baie hoekies en gaatjies.”

“Hm … Ek wonder juis waarom die huis so ’n hoë nok het. Daar is mos ’n venster ook in die solder. Maar ek het nog geen manier gevind om daar in te kom nie. Dalk is dit net daar om ’n illusie van ’n derde verdieping te skep. Hoe dink jy?”

Esther was ’n oomblik botstil.

“Seker, ja,” het sy huiwerig gesê. “Ek het wyle meneer Dijzel ook eendag daarna uitgevra toe … toe ek saam met Zach hier was. Maar hy het net gelag. Gesê sy pa het wel ’n klomp ou goed daar gestoor, maar toe hy met sy troue die huis betrek het, het hy goed skoongemaak daar en dit toegemaak. Dit lok glo net muise as dit oopstaan.

“As jy my vra, lok dit buitendien muise. Ek het die eerste aand toe ek hier ingetrek het al ’n geskarrel op die plafon gehoor.”

“Nou toe nou,” was Esther se enigste reaksie, want sy was skielik traag om verder oor die Dijzels te praat. Dit was tóg swaar om nou ná al die jare weer die plek binne te stap. Al het alles nou anders gelyk, kon sy in ’n oogknip haar dit voorstel soos dit des­tyds was. Die vertrekke vol swaar, antieke meubels, die effense geur van byewas waarmee die plankvloere blinkgevryf is, en mevrou Dijzel se sagte glimlag wat haar oral begroet. Zacharias Dijzel se joviale lag. Sy was altyd ’n bietjie verlig as hy ’n vertrek verlaat. Hy was so ’n dominante persoonlikheid dat selfs Zach stillerig was in sy teenwoordigheid. Tog het pa en seun mekaar baie goed begryp, dit kon sy sien. Hulle kon mekaar se oog vang tydens ’n gesprek en woordeloos gedagtes wissel wat net húlle begryp het … Miskien is dit juis daarom dat Zach sy pa se dood nie kon verwerk nie. Sy sagte, liewe ma s’n ook nie. Altans, dis wat die mense nou nog sê.

Esther sug diep en draai op haar sy, tuur na die venster se kant toe waar die roosgrou van die oggend al deurskemer. Vanmôre het sy lus om ’n bietjie langer te lê. Sy wil al haar ou gedagtes op hok kry voor die opening van die Hoogland Boetiek vanmiddag. Dit gaan ’n hele okkasie wees, want tant Olga het volgehou dat die opening van hulle boetiek die geleentheid van die jaar moet wees. Enersyds sien sy baie daarna uit om van haar ou vriende weer te sien, want baie van hulle het ná hul afgestudeer het, teruggekom na dié dorp aan die voet van die berge. Maar sy is tog vol hui­wering om hulle te ontmoet. Baie sal nog vrae vra oor haar en Zach. Al het die stof na sewe jaar al gaan lê, sal die geringste briesie dit weer laat dwarrel, dit weet sy tog. Die kys tussen Zach en Esther het die dorp maande lank laat praat, en die nuus van haar skielike troue met Johannes het soos ’n lopende vuurtjie versprei. Tant Olga het later aan haar gesê dat sy nog nooit ’n storie so vinnig deur ’n dorp hoor trek het nie.

En noudat sy terug is, sal die rokies weer begin trek. Sy sal maar net moet sorg dat die vuur nie begin vlam nie. Zach is weg uit haar lewe. En Johannes is dood. Dis net sy en Loekie wat oorbly en sy smag na doodgewone aanvaarding van die mense om haar. Dis net die dood van die Dijzels wat nog ou dinge sal op­rakel, want dis ’n ou tragedie wat steeds skimmig roer in hierdie wêreld. Die paar maal dat sy bekendes op straat raakgeloop het, het hulle eers na haar welstand verneem, en toe byna dadelik verwys na die feit dat die Dijzel-moord maar nog steeds onopgelos is. Vreemd, nè? Dat die polisie net nie hul vinger op die ding kan lê nie. En dis nou al sewe jaar lank wat die ding sloer. Mens word koud as jy dink die moordenaar loop nog los rond … Of dalk het hy nes Zach die pad gevat. Arme Zach, mens kan hom ook nie kwalik neem dat hy net sommer die wêreld in verdwyn het nie, nè.

Dit was goed dat ek hierheen gekom het, dink Esther, maar dit was ’n fout om te dink dat ek Zach kan afskud. Mense maak ’n punt daarvan om my aan hom te herinner in hul pogings om hul eie nuuskierigheid te bevredig. En min weet hulle dat ek niks weet nie. Heeltemal niks. En ek beter ook nou weer ophou wonder. Want dit is om op graniet te kou. Ek word niks wys nie. Niemand wéét wat van Zach geword het nie. En ek durf nie te diep delf nie, want dis nié my saak nie. Lankal nie meer nie. Ek is Esther Kolbe, wyle Johannes se vrou. Dit moet ek nou onthou.

Die aangrensende kamer se deur vlieg oop en Loekie hol binne, raap hom op en spring langs haar op die bed.

“Kan ek nog lááááánk speel voordat ek my mooi klere moet aantrek?” vra hy sonder om te groet.

Esther trek hom nader en soen hom op albei blosende wange.

“Môre, sou ek sê. Ja, jy kan nog lank speel. Die opening is eers vanmiddag, jong.”

Hy druk haar ’n slag styf vas en laat spaander net so in sy nag­klere om te gaan speel. Vandat hulle hier aangekom het, geniet hy elke dag asof dit ’n lank beloofde vakansie is. Saans is hy skoon uitgespeel en gaan slaap hy sonder protes.

“Ek het dit mos geweet!” het tant Olga triomfantlik ná die eerste week gesê. “Loekie is al klaar ’n ander kind, kyk net hoe rond word sy wange!”

Esther draai behaaglik op haar maag en druk haar kop in die kussing om ’n gaap te smoor. Dit is inderdaad so, dink sy loom. Ek word ook ’n ander mens. Ek is nie meer so lelik maer nie en ek laat myself skandelik toe om soms lui te wees. Sy voel met haar hande om haar heupe. Daar is ’n sagtheid daar wat baie lank weg was. Tant Olga se lekker kos en die rustigheid van haar nuwe lewe laat die kurwes terugkom, dink sy met ’n bietjie selfspot. Sy lê nog so toe ’n harde klapgeluid teen die venster haar orent laat wip in die bed.

“Haai!” kom Loekie se stem uitgelate van buite die venster. “Maak oop hierso!”

Esther word koud tot in haar vingerpunte. Loekie moet in die groot populier net langs die venster wees. As hy nie nog sy nek breek nie! Net gister het sy geraas omdat hy vry soos ’n vink in die takke swaai, en sy het hom verbied, absoluut verbied om hoër as die afdak van die veranda te klim. Sy pluk die gordyne oop en skrik slaan haar asem weg toe sy Loekie se gesig platgedruk teen die ruit sien. Hy staan met sy voete op ’n tak en leun oor tot op die vensterbank. As sy die venster oopmaak, val hy sweerlik af.

“Wag!” skreeu sy. “Ek sal by jou kamervenster uitklim tot op die veranda se dak en dan spring jy tot by my!”

Dis eers toe sy Loekie se kamervenster ooppluk, dat sy mooi besef hoe ’n onsinnige idee dit nou eintlik is. Buitendien, toe sy uitkyk, sien sy dat hy al weer heelwat hoër geklim het. Hy sit in die top van die boom en wys entoesiasties na die dak.

“Ek wil na doerie venster gaan kyk!” lag hy oopmond. En sy weet, sonder dat sy hoef te kyk, dat hy van die soldervenster praat. En toe sy dit oplaas regkry om iets te sê, bewe sy so, dat sy haar hande voor haar moet saamklamp.

“Kom áf daar,” sê sy stadig en afgemete, maar haar stem trek deur die tuin.

Loekie kyk onseker na haar en toe af na onder. Toe begin hy afklim sonder enige teken dat hy weet hoe hoog dit nou eintlik is. Hy ken nie vrees nie, dink Esther tam. Hy is verskriklik ondernemend van geaardheid. Kort voordat hulle uit die woonstel weg is, het sy hom betrap dat hy ’n dik tou van hul balkon na die een net langsaan gespan het met die doel om oor te klim. Miskien, dink sy wrang, moet ek bly wees dat dit net die top van ’n hoë populier is en nie die vyfde verdieping nie!

Sy wag totdat sy hom veilig op die grond gewaar en hoor hoe ou Lina, die huishulp, hom kombuis toe roep. Toe draai sy om en sak net daar op sy deurmekaar bed neer. Dis of ’n hele hoop herinneringe losgekom het en haar skoon tóésak …

Een Sondagmiddag ná ete het sy en Zach hier in die tuin gesit. Dit was warm en die grootmense het ’n bietjie gaan dut. Maar hulle twee het die son opgesoek, bly om ná daardie jaar se strawwe winter weer buite te kan kom. Sy was juis so moeg van die stram onbeweeglikheid toe haar been nog in gips was, en dit was vir hulle twee nuut om hand aan hand oor die gras te loop. Dit was pas ná die Septembereksamen en die sjampanje-somer van die Hoogland was in hul bloed.

Sy het mooi gelyk daardie dag. Tant Olga het juis die sagte turkoois rokkie vir haar present gegee en dit het haar vlamrooi hare en wit vel gekompleteer. Haar ma het ’n paar fyn wit sandale bygedra tot haar eerste besoek aan die Dijzels.

“Jy lyk baie, baie mooi,” het Zach gesê toe die populiere tus­sen hulle en die huis was. En toe direk: “Mag ek jou soen?”

Sy het dit lief gevind dat hy elke keer gevra het of hy mag, maar wou hom tog ’n bietjie terg. Sy het haar kop agteroor ge­gooi, uit die hoek van haar oog na hom geloer.

“Miskien … Maar daar is ’n voorwaarde.”

Daar was vonkies in sy bruin oë.

“En wat sou dit wees?” het hy gevra, en sy hande om haar smal middel geslaan.

“O wel, in die ou dae moes die ridders hul soene verdien! Om net te vrá, was nie genoeg nie!”

Hy het grimmig gelag, kamma gekwets na haar gekyk.

“Hm, en ek weet goed waar jy nou weer dááraan kom. Net ou Kolle kan so iets uitdink. Wat het hy nou weer nou die dag gesê? Terug na die klassieke! Meet jou aan die meesters! Of hoe?”

“Net so,” het sy geglimlag, en hy het sy hande in die lug ge­gooi.

“Waar moet ek ’n draak kry om te beveg?” het hy melodrama­ties laat hoor. “Watter kruistog moet ek nóú onderneem?”

Sy het ’n vinger gelig en bo-oor sy kop gewys na die soldervenster. Hy het omgeswaai en sy mond het oopgeval.

“Vind vir my uit wat agter daardie toe venster aangaan,” het sy beveel. “Ek wonder al daaroor vandat ek op die plek aangekom het!”

“Jy speel,” het hy geadem. “Die twee keer wat ék probeer het om daar in te klim, het my pa my velle afgetrek. Buitendien, daar’s niks, jong. Rêrig niks …”

Sy moet baie teleurgesteld gelyk het, want hy het sy hande op haar skouers gesit en mooi beduie: “Ek weet hoe graag jy wil hê daar moet iets geheimsinnigs aan daardie solderkamer wees, jong. Ek het dit ook altyd gewens. Maar net nou die dag het ons die hele huis laat uitverf en toe het my pa die luik in my kamer se plafon laat oopbreek en my gewys dat daar nie ’n enkele ding daar bo in is nie. Nie eers ’n leë karton nie. Stoorgoed lok net muise.” Hy het glimlaggend na haar toe oorgebuig. “Vergeet dit nou maar, toe …”

“Jy soek verskonings,” het sy koppig volgehou. “Wil jy my soen of wil jy nie?”

Hy het gesug, spytig gebrom dat dit nou is wat hy daarvan het omdat hy hom met ’n rooikop ophou … Maar toe skielik ’n plan gekry.

“Luister, volgens wat ek van die ridders weet, het hulle ook nie sonder ’n bietjie aansporing op hul sendings vertrek nie. Gee my iets wat my sal beskerm teen bose geeste en ongelukke, en dies meer … Hierdie hangertjie, sou ek sê!”

Hy het sonder meer die fyn silwerhangertjie wat ’n Kers­ge­skenk van haar ma was, afgehaal, aandagtig na die silwerhartjie daaraan gekyk en dit plegtig om sy eie nek vasgemaak.

“So ja, prinses, hou jy nou maar kywie terwyl ek klim. My pa is nie op sy beste as hy tydens sy Sondagmiddagslapie gesteur word nie.”

Sy het gelag en hom agternagekyk toe hy oor die grasperk draf om met soepele gemak teen een van die hoë populiere aan die oostekant van die huis op te klim. En sy het asem opgehou toe hy later oorklim op die dak en suutjies trap-trap tot bo-op die spits nok. Haar hart het amper gaan staan toe hy gevaarlik oorleun om kop onderstebo deur die soldervenster na binne te loer.

Net toe het sy pa by die hoofslaapkamer se venster uitgekyk en ergerlik boontoe geroep: “Zach …? Is dit jy daar bo?”

Esther het gesien hoe Zach sy kop stadig lig en gehoor hoe hy gedwee antwoord: “Ja, Pa, dis ek.”

“Maar my mag …” Hy het die woord kortgeknip toe sy oog op Esther onder in die tuin val, en sagter laat hoor: “Kom liewer af daar, jong. Netnou val jy!”

Val? Zach Dijzel wat al hoeveel maal Mount Aux Sources uitgeklim het, en kleintyd glo al Brandwagkop by Golden Gate met gemak uitgeseil het? Ag nee, meneer Dijzel, het Esther meteens geamuseerd gedink, vrees eerder dat iemand hom sal laat struikel. Want hy het kláár vir my geval!

Sy het ligweg geskrik vir die gedagte. Tog was dit waar. Sy het in haar hart geweet dat Zach aan haar behoort en dat hy nooit weer van haar sal kan afsien nie. Altans, so het sy geglo. Maar ’n on­rustigheid het haar gepak terwyl sy hom dopgehou het toe hy van die dak af seil tot in die boom. Sy wou tog graag ’n goeie verhouding tussen haar en die Dijzels hê. Asseblief tog, het sy ’n skiet­gebedjie opgestuur, moenie dat die klimmery op die dak moeilikheid maak nie.

Maar Zach was ewe welgemoed toe hy hom by haar voeg.

“Ek het jou mos gesê,” het hy gelag. “My pa kan so goed hoor soos iemand op wie daar voortdurend jag gemaak word. Ek het mos vantevore ook daar probeer inkom.” Hy het opeens gefrons. “Dis net snaaks, die plek ruik steeds baie skerp na verf. En dis tog saam met die res van die huis ’n hele paar weke gelede geverf.”

“Miskien omdat dit toestaan?”

“Hm, dis moontlik, maar daar is tog ook ’n paar luggate. En dit ruik kompleet asof dit gister of eergister geverf is … Ag wel, daar is seker beter dinge om oor te praat, nie waar nie?”

“Soos wat?” het sy haar gemaak onskuldig gehou.

Maar hy was klaar gepraat. Hy het haar met een haal van sy arm agter ’n digte blomstruik ingetrek en haar gesoen tot haar wange brand.

“Sjoe,” het sy laat hoor, “só hoog het jy nou ook nie geklim nie!”

“Ha!” het hy gelag, “maar die gevaar was so groot! Buiten­dien, dié hangertjie kry jy nie weer nie. Eers eendag …”

Die “eendag” het stil tussen hulle bly hang. Eendag as hulle albei klaar gestudeer het … Eendag as hulle besluit dis tyd om te trou …

Die hangertjie het hy dan ook gehou. En dit het nie terug­gekom saam met die blou brief nie. Nêrens het hy daarna verwys nie. Trouens, hy het geen blyke hoegenaamd in dié brief gegee dat hulle twee ooit ’n ernstige verhouding gehad het nie.

Wag, maan Esther haarself. Moenie begin nie. Juis hier in sy huis, in sy ou kamer, gaan dit moeiliker wees om op te hou tob. Sy staan gejaag op, bly ’n oomblik nog talm om na die vrolike rooi-wit-en-blou strepe van die muurpapier te kyk. Tant Olga het die strepe ewe slim regoor die plafon laat loop, en dit het die effek dat die kamer soos die binnekant van ’n groot geskenkdoos lyk. ’n Heerlike blyplek vir ’n klein seuntjie. Sy tuur nadenkend na die plafon. Zach het van ’n luik gepraat. Maar daar is tog niks. Niks wat mens met ’n oogopslag kan raak sien nie. Op die ingewing klim sy op Loekie se rooi studeertafeltjie. En toe merk sy dit. ’n Fyn groefie wat al langs een van die blou strepe loop en dan dwars­oor die patroon en weer terug met ’n rooi streep langs. En daar is baie klein skarniertjies wat toegeverf is. Die binneversier­ders moet dit per abuis toegeplak het en het toe maar die skarniere van die luik geverf. Dit moet in elk geval reeds geroes gewees het. Miskien, dink sy skielik, kan dit tog nog oopgemaak word. As daar dan niks op die solder is nie, kan ’n stewige leer hier geplaas en die solder as speelplek vir Loekie ingerig word. Dit behoort ook sy klouterlus tevrede te stel.

Meteens opgeruimd by die vooruitsig, klim Esther af en gaan stort in die koel groen badkamer wat uit haar slaapkamer loop. Sy trek haar sommer uit die staanspoor reg aan vir vanmiddag se funksie. Tant Olga het daarop aangedring om vir haar dié uitrus­ting te koop. ’n Songeel rok en baadjie met treffende stroke grasgroen en donkerblou om die some. Daarby dra sy die parmantigste groen skoene wat sy nóg gesien het. En pêrels …

“Dis … ’n te groot geskenk, tante,” het sy vervaard geprotesteer.

“Louter twak,” het tant Olga laat hoor. “Jy verdien dit, my kind. ’n Vrou soos jy behoort altyd só mooi te lyk én so lekker te hê, glo my.”

“Haai, tante …” het Esther verbaas laat hoor, maar haar tante met ’n klapsoen bedank vir die geskenk en die woorde. Maar tant Olga was nie klaar nie.

“Luister na my, Esther,” het sy eensklaps baie ernstig gesê. “Ek wil hê jy moet gelukkig wees hier by my in hierdie huis. Die liewe Vader weet dat jy genoeg gely het …”

Esther het muisstil bly staan met die nuwe geel rok aan, en haar vingers wat die pêrels om haar nek wou vasmaak, het gebeef. Sy wóú nie praat nie.

Dit was of die ouer vrou se stem breek toe sy sê: “Ek weet wat dit is om alleen deur die lewe te gaan, my kind. En ek gun dit nie vir jou nie. Ander kan dit met gemak doen, maar nie mense soos ek en jy nie. Ons wil meer hê. En nou is Johannes ook dood. Sê my, verlang jy nie vreeslik baie na ’n man en nog kinders nie? Ek meen, dis darem so ’n koestering om jou eie mense rondom jou te hê.”

Esther het na haar tante toe gedraai, en haar gesig was tot ’n fyn gelatenheid geskool.

“Krummels is ook brood, tante. Ek hét mos vir Loekie en vir jou. En ek het julle al twee baie lief.”

Die twee vroue het mekaar omhels daar in die boetiek tussen die baie rokke waar Esther vir haar só iets moois kon uitkies, en ook ou Lina het breed geglimlag oor die vredige blydskap wat op daardie oomblik in die deftige winkeltjie geheers het. Maar ontboeseminge was net so vreemd aan tant Olga as aan Esther, en sy het haar gou reggeruk.

“Kyk,” het sy op haar reguit manier gesê, “ons sal jou klerekas moet regkry as jy hier in die boetiek wil help.”

“Maar ek dag dan ek gaan die boekhouding waarneem?”

“O, dit ook. Maar jy gaan nooit weer soos in Johannesburg jou dae agter ’n lessenaar omsit nie. Die vervelige deel van jou lewe is ook verby, Esther. Ek en jy gaan ’n op en wakker tyd hê. Hier­die boetiek gaan nog naam maak, jy sal sien. Maar nou móét jy jou ou klere wegmaak en ons moet vir jou ’n heel nuwe beeld skep. Jy moet klere en kleure dra wat jou nog mooier laat lyk as wat jy is, as dit natuurlik moontlik is.”

Esther het verleë gelag, maar die idee was geheel en al aanloklik. Om al haar ou goedjies net so uit te gooi … Watter vrou droom nie daarvan nie? Daar was net een haakplek.

“Ek wil dit nie verniet hê nie, Tante, en ek kan dit nie nou bekostig nie. Ek sal die nuwe goed so stuk-stuk bykoop.”

“O nee, ek praat van ’n kitskentering, jong. Buitendien, ek wil dit graag vir jou doen, glo my. Kom ons speel maar jy is die dogter wat ek nooit gehad het nie, en dan vat jy maar die ou goedjies en jy mag maar krities óók wees!”

Esther moes lag. Tant Olga kon by tye onhanteerbaar wees, dit het sy tog geweet. En teëgaan sou nie help nie. Maar sy wat Esther is, het ook darem ’n klipkop, en sy het haar stilletjies voorgeneem om tog maar self vir ’n klomp goed te betaal, en ’n laaste woord het sy ook ingekry.

“Nou maar goed dan, Tante. Maar dan gaan ek definitief vir Tante help om hierdie kasarm van ’n plek af te betaal. Ons kan nie maar net so verniet hier bly nie.”

’n Skokpienk syrok het uit tant Olga se hande gegly, en sy het orent gekom uit die stoel waar sy gesit het. Esther het opgemerk dat sy effens wit om haar mond was.

“Die plek is kláár afbetaal, Esther. Hoor jy my? En ek wil nooit, ooit weer hoor dat jy voel dat jy my iets verskuldig is nie. Ek sou jou en Loekie nie genooi het om onder my dak te kom lewe as ek iets van julle in ruil wou hê nie.” Maar net so skielik het sy haar krasse woorde met ’n handgebaar weggewaai en laggend gesê: “Wees net lief vir my en kom pas solank dié pienk rok aan, toe wat!”

Esther het voorlopig stilgebly. Dié ronde was tant Olga s’n. Maar haar onafhanklike aard was effens in opstand. Op die een of ander manier sou sy nog al haar skuld aan haar tante afbetaal, het sy haar verbete voorgeneem. Maar in die gespook om die boetiek reg te kry, het die besluit vervaag. Dis net nou dat sy na haarself in die songeel baadjie en rok kyk, sien hoe haar hare kunstig ge­kap om haar kop blink en die pêrels ’n ekstra glans aan haar vel gee, dat sy weer skuldig voel. Maar hoe koel en krities sy ook al kyk, sy moet erken – Esther Kolbe lyk vandag so mooi soos enige voorbladmodel. Sy het nog altyd intuïtief geweet hoe om haar te grimeer, maar nou het die vere wat die voël maak, ook hierdie mossie met die juweelkleure van ’n jangroentjie beklee. Net voordat sy wegdraai van haar spieëlbeeld, duik die verraderlike ge­dagte in haar op – vir wié maak jy jou so mooi? Hoe lank gaan jy tevrede wees om net vir jouself mooi te lyk? In Johannesburg het dit nie juis saak gemaak nie. Maar hier in die Dijzel-huis maak dit baie saak … Esther draai blindweg om en vlug die kamer uit. Sy gaan drink ’n haastige koppie tee in die kombuis en oortuig ’n tongklikkende Lina dat sy regtig niks wil eet nie. Dis buitendien al byna nege-uur. Sy het skandelik laat gelê. Maar tant Olga be­groet haar laggend in die boetiek.

“Ek is bly jy het so lekker gerus! Dis ’n bewys dat jy die lewe hier begin geniet. Om te kan geniet is belangrik, hoor!”

“Dit kan ook dekadent wees,” maan Esther preuts, maar lag breed toe haar tante ’n gesig vir haar trek. Hulle albei is tog effens op hul senuwees. Sal almal wat uitnodigings ontvang het ooit opdaag vir die opening? Sal die mannekyne betyds wees? Dat ’n duisend kwellings haar tante beethet, is vir Esther baie duidelik. Sy vat hier en los daar, en toe die spyseniers eers gekom het, be­gin sy bedaar. Teen eenuur is alles gereed en staan die grasperk vol heldergeel sambrele en ronde tafeltjies met glasbakke vol wit margrietjies weerskante van die loopplank waarop die mannekyne gaan paradeer. Selfs Loekie is tjoepstil van verwondering en lyk alte patronerig in sy blou-en-wit matroospakkie. Ook tant Olga is ’n jonger weergawe van die Koninginmoeder in ’n pastelblou rok en hoed wat haar ronde postuur baie vlei. Lank voor die vasge­stelde tyd is die sonnige tuin van die Dijzel-huis gepak met gaste. Almal is daar. Almal wat enigsins in klere belangstel en ook dié wat min daarvan dink, want hierdie is nie net nog ’n boetiek nie. Esther beweeg tussen die mense deur en lees hulle reg. In hierdie huis, hoor sy hulle dink én sê, is ’n moord gepleeg wat nog nie opgelos is nie. Daardie ondenkbare Dijzel-moord. Juis in die ver­trek waar mense nou hul nuwe klere gaan aanpas. Makaber, maar in die kol, nè. Net Olga Hanekom sou aan só iets oorspronkliks dink. Hm … En dis haar niggie daardie. Die een in geel. Die meisie wat destyds met Johannes Kolbe, die Afrikaansonderwyser getroud is, ja … Hy’s mos so skielik dood aan sy hart. Maar dis nie die volle storie nie. Dieselfde niggietjie het ’n warm verhou­ding met die jong Zach Dijzel gehad …

Maar sy loop ook ou vriendinne raak wat opreg bly is om haar weer te sien en haar laggend verwyt dat sy hulle nog nie weer kom opsoek het nie. Sy beloof hart en mond om te gaan kuier, mits sy darem húlle gesigte ook af en toe in die Hoogland Boetiek sal sien!

Maar tant Olga wink vir haar om solank ’n CD te speel, en dis toe die polsende ritme van die byderwetse deuntjie deur die tuin trek en die eerste mannekyne met hul knik-knak stappies begin, dat haar oog vir Loekie vang waar hy klaarblyklik in ’n diepe ge­sprek met iemand staan. Aan die rand van die grasperk en weg van die geel sambrele staan hy met sy beentjies wyd geplant en sy gesig gretig opgelig na ’n man in ’n deftige grys pak. Esther leun effens na regs om beter tussen die sambrele deur te kan sien. Die man staan met sy rug na haar toe en sy hande maak wye gebare soos wat hy beduie. Loekie lag oopmond, en net toe buig die man vooroor en die son vang sy blink blonde hare. Esther skrik so dat sy byna dadelik wegkyk. Haar gedagtes verlaat haar, swenk soos voëls in vlug en kom sit weer.

Dis Zach! Kreet haar hart impulsief.

Dis sy ewebeeld, sug haar verstand.

Sewende somer

Подняться наверх