Читать книгу 'n Tuin vir Tessa - Helena Hugo - Страница 6
2
ОглавлениеDie vroue-Bybelstudie begin stiptelik om tienuur. Tessa, wat vroegoggend vir Petrus gewys het presies waar hy die gesiggies tussen die papawers moet plant, het kwart oor nege eers onder die stort ingespring en toe met haar hare gesukkel. Sy het altyd voor Bybelstudie haarkapper toe gegaan, maar deesdae kom sy self reg. Vanoggend was daar weer te min tyd om rustig te blaas en te kam. Een goeie ding van lang hare is, sy kan dit agter haar kop vasknoop en hoop vir die beste.
Teen twintig voor tien gee sy die laaste instruksies vir Anna, gryp haar Bybel en haar motorsleutels en ry. Hoekom voel dit soms of die byeenkoms haar week in die middel deursny en haar dag sleg onderbreek? Sy het haar Woensdagoggende daarvoor opsy gesit, maar vanoggend wou sy eerder in die tuin werk. Buitendien het Elaine laat weet dat sy nie daar sal wees nie, en dis die een plek waar hulle mekaar gereeld kan sien. Tessa haal diep asem toe sy by die kerkterrein indraai.
Dis gewoonlik interessant en stimulerend om saam met ander vroue om die Here se Woord bymekaar te kom, die dieper betekenis te soek en te kry. Maar vandag sou sy haar potplante wou verplant en tuis bly om oor Petrus toesig te hou. Sy behoort hom te vertrou, maar sy weet hoe moedswillig hy kan wees. Plant ná al die jare wat hulle saam tuinmaak, steeds alles in reguit rye en kan nie verstaan hoekom sy van ’n deurmekaar bedding hou nie. Hy werk twee maal ’n week by die Malherbes onder in die straat, dan neem sy haar kans waar om van die plantjies uit te grawe en oor te plant waar dit vir haar beter pas. Die oop gate vul sy op met ander wat sy juis daarvoor eenkant hou. Daar was al dikwels onvrede tussen haar en Petrus oor haar blombeddings.
Vanoggend het sy so min tyd gehad vir sy nonsies dat sy hom toegesnou het. “Jy maak soos ek sê, Petrus, dis my blombedding, nie joune nie.”
“Jy is ongeduldig,” het hy gemor en dikmond gehoorsaam.
“Groente kan in reguit rye staan, blomme nie.” Sy het die gesiggies uit hul saadkassie gehaal en op die regte plekke neergesit. “Hier grawe jy vir hulle gaatjies en hier plant jy hulle. Versigtig dat jy nie die affodilbolle raaksteek nie.”
“As jy rye maak, sal ek weet waar jy die bolle geplant het.”
Toe het sy hom stip aangekyk. “Al wat ek vra, is dat jy dubbel seker maak en nou raak jy ook ongeduldig. Wat is dit vandag?”
Hy het afgekyk. “Ons het te veel moeilikheid.”
“Anna het my niks gesê nie.”
“Sy is te bang om te vra.”
Tessa het dadelik geweet wat aan die kom is en haar gevoelens met moeite in bedwang gehou.
“Jy is die man, of is jy ook bang? Praat gou, dis Woensdag en ek is haastig.”
“Ons moet ses honderd rand by julle leen.”
Sy moes haar woorde tel, sy het nie. “Julle het verlede week agt honderd geleen, die week voor verlede week was dit ses honderd.”
“End van die maand is een week ver, ons het die geld nodig. Jy kan dit van my salaris aftrek.”
“Dan kry jy hierdie maand maar drie duisend ses honderd.”
“Ek het nou geld nodig, asseblief, Tessa.”
“Het jy vir Altus gevra?”
“Hy is elke dag haastig. Ek kry hom nie.”
Petrus was reg. Altus kan dae aaneen so besig raak, hy flits byna ongesiens by die huis in en uit. Sy en die seuns is gewoond daaraan, hulle eet alleen en bêre vir hom kos wat hy gewoonlik nie eet nie. Dis weer sulke tyd, maar dié keer is dit erger. Om hom met die Matsebas se finansiële probleme te belas, is dalk die laaste strooi. Sy het geswig.
“Ek het nie ses honderd rand in my beursie nie, maar ek sal bank toe gaan en trek.”
Petrus het sy hande in gebedsgebaar bymekaargeslaan.
“Dankie, Tessa, jy is ’n goeie mens. Vandag sal jou blommetjies almal deurmekaar staan, ek belowe.”
Belowe se voet, brom Tessa in haar gedagtes. Sy klap die motor se sonskerm af, skuif die spieëltjie oop en herstel haar grimering wat sy te haastig moes aanplak. Dit gebeur te dikwels dat Petrus en Anna geld vooruit op hul salaris leen. Sy vra nie waarvoor nie, sy respekteer hul privaatheid en vis uit beginsel nie. Soms sê hulle dis om medisyne te koop, of vir ’n kind se skoolgoed, een keer om ’n familielid uit ’n verknorsing te help. Hulle leen, maar is trots en betaal altyd terug. Die lewenskoste is so hoog, sy kan haar voorstel hoe moeilik dit is om uit te kom met ’n klein salarissie. Al het jy huisvesting en eet jy van die kos wat in jou werkgewer se kombuis voorberei word, daar is onverwagte uitgawes en pryse gaan op en op.
Ag, Here, hulle het dit nie breed nie en nou skaam ek my vir myself. Vir hulle moet dit lyk of ek en Altus ’n onuitputlike bron van kontant het. Maar ek oorlaai my kredietkaarte en Altus se winkel doen nie goed nie. Hy word besteel, Here, hy wat so ruim kan uitdeel, word verkul en besteel! Hoe sê ek dit vir iemand soos Petrus? Maar ek sê dit nou vir U, Here, gryp asseblief in.
Sy laat rus haar voorkop op die stuurwiel. Konsentreer so hard, sy skrik regop toe iemand aan die motorvenster tik. Dis Cecilia Botes met ’n yslike vraagteken op haar gesig. Tessa kan voel hoe sy bloos. Sy stoot die kardeur oop, klim uit en groet oordadig hartlik. “Hallo, Cecilia! Hoe gaan dit met jou?”
“Baie goed, maar is jy oukei?”
“Ja, als reg. Ek het vanoggend so gejaag om hier te kom, ek moes eers kalmeer.”
Cecilia vleg haar arm deur Tessa s’n. “Ek dag jy huil. Maar jy het mos niks om oor te huil nie of het jy?”
Al huil ek dat die water spat, die rede verklap ek nie, nie hier waar almal my sogenaamd sal jammer kry en dan die wêreld vol skinder nie.
“Ek het vergeet om my horlosie aan te sit,” stuur sy die gesprek in hopelik ’n totaal ander rigting. “Hoe laat is dit?”
Cecilia krap in haar handsak. “Horlosies werk nie op my arm nie. Moet altyd op my selfoon kyk.”
Sy klap haar foon oop en raak so geïnteresseerd in iets wat sy daar raaksien, dat sy byna oor ’n los keisteen struikel. Tessa keer betyds.
“Dankie, Tess! Skies, dis ’n Whatsappie van my seun. Hy’s vir medies gekeur! Wens my geluk!”
Sy sit haar arms om Cecilia. “Baie geluk. Ons bid lankal daarvoor.”
Cecilia druk die foon teen haar bors. “Ek is so, só dankbaar.”
Tessa vra nie weer hoe laat dit is nie. Cecilia tik ’n lang boodskap vir haar seun, soen die selfoon en laat glip dit terug in haar handsak. ’n Groepie vroue staan op die patio voor die vergaderkamer en kla oor die lewenskoste. Met die wit brood onder die arm, sou Tessa se ma gesê het. Goed versorg en geklee, hare, naels en grimering perfek, Bybels onder die arm vertel hulle vir mekaar dat pryse die lug inskiet en dienste nie voldoen aan standaarde nie.
“Waarvoor betaal ons belasting!” gil Sunelle Kruger.
“En BTW is op.”
“My huishulp het ’n verhoging gevra. Ek kan dit nie bekostig nie.”
“Ek het vir myne gesê as sy weer kla, steek ek haar in die pad.”
“Jy moet versigtig wees, daar’s wette,” word sy gewaarsku. “Hulle vat jou CCMA toe.”
Tessa dink aan die ongeveer nege honderd rand wat sy in haar bankrekening oorhet voor Altus weer iets vir haar inbetaal en voel skielik arm en behoeftig. Sy het te veel respek vir Petrus om sy probleem in die skinderhoekie op te haal. Buitendien, Cecilia brand om haar verrassing te deel en Tessa stoot haar voor. “Almal! Iemand het vanoggend goeie nuus gekry,” sê sy hard genoeg.
Al die koppe draai in die regte rigting. Cecilia, wat ’n sin vir die dramatiese het, pluk haar selfoon uit en lees Robert se boodskap voor. Die ander vroue is saam met haar bly en wens haar geluk asof dit haar eie prestasie is. Of dit nou aangeplak is of nie, dink Tessa, hulle maak ten minste ’n bohaai.
Petro Terburgh kom soos ’n warrelwind aangedraf. “Jammer ek is laat, die foon lui vandag sonder ophou en Dieter is Pretoria toe vir ’n kursus. Kom, dames, laat ons rustig raak.” Sy trippel vooruit sonder om te verneem hoekom almal so uitbundig is.
Tessa wil namens Elaine om verskoning vra dat sy nie vandag kan bywoon nie. Sy stap agter Petro aan, maar hoor duidelik hoe die ander mor oor die predikantsvrou wat soos gewoonlik nie belang stel nie.
Tannie Ansie, wat saamloop, vra te nuuskierig: “Waar is Elaine vandag?”
“Tandarts toe.”
Sy stamp Tessa byna onderstebo in haar haas om eerste by Petro uit te kom. “Mevrou Dominee, môre! Elaine het gesê sy kan nie hier wees nie, sy’s tandarts toe! En Cecilia se seun is eindelik gekeur.”
Tessa haal haar skouers op, sy glimlag vir Petro oor die tannie se kop.
“Dankie, tannie Ansie,” sê Petro geduldig. “Ek sal haar verskoning aanteken. Ons is baie bly oor Robert, gaaf dat tannie my ingelig het.” Sy skud haar gerfie fotostate reg en gee dit vir die tannie om uit te deel. “Lyk my dit gaan beter met tannie?”
“Net die heup wat nog pla, anders het ek baie om voor dankbaar te wees.”
“Jy, Tessa?”
“Geen probleme nie,” sê sy en wonder hoe sy dit regkry om so glad te jok. “Julle?”
“Aan die hardloop, maar verder goed.”
Die orrelis kom groet en vra die lys van liedjies.
Tessa gaan sit op haar gewone plek, in die tweede ry van voor. Martie Harmse los Elaine se stoel oop, maar leun oor om te vra hoe dit gaan.
“Goed, dankie.” Tessa wys na die leë stoel. “Elaine is nie hier nie.”
“O, maar ek sit nou al. Gee jy om as ek nie naderskuif nie?” Martie is sleg oorgewig, stoele verwissel is seker nie maklik nie.
“Als reg, as jy nie omgee dat ek ook in my hoekie bly nie.”
Martie haal haar Bybel uit sy leertassie. “Het jy gehoor van Alana se dogter?”
“Nee.”
“Haar man het haar uit die huis geskop, toe kom trek sy met kindertjies en al by Alana-hulle in.”
“Ek dag Alana is siek?”
“Siek van senuwees. Al drie daai kindertjies is ontwrig en ongehoorsaam, maak en breek so ver soos hulle gaan. Sy moes haar hele glasversameling wegpak, die hondjies word aan hulle nekke rondgedra. Alana-hulle kyk nou uit vir ’n woonstel vir die dogter sodat sy en Freek en die arme hondjies ten minste weer normaal kan leef.”
Dis hartseer, wil Tessa sê, maar Martie kry nie end nie. “Sy moes hulle in die eerste plek nooit ingeneem het nie.”
“Dit is haar dogter en sy is in die nood.”
“Ek sal vir myne ’n kamer bespreek in ’n gastehuis. Moeilikheid is, hulle bring jou in die skande en dan loop jy vir die res van jou lewe met ’n reputasie. Haai, jy moenie gaan oorvertel nie. Dis net, Alana huil by my en dit raak eens te veel. Bid maar vir hulle.”
Tessa knik, hoewel sy nie by skinderstories betrokke wil raak nie.
Die orrelis speel: “God is hier teenwoordig, heilig is die Here”.
Die geroesemoes bedaar, dun vrouestemme sing al lesende die woorde op die skerm.
Hy is wel teenwoordig, so het Tessa geleer, Hy is hier en ook by Alana en haar dogter en die kindertjies. Hy is by Altus en Walter wat dalk al uitsluitsel het oor Altus se boeke. Laat dit tog ’n wettige fout wees, ’n oorsig wat reggestel kan word, bid sy in haar hart.
“Ons is swak en sondig,
maar ons lied verkondig:
U’s die bron van alle lewe,
U is Heer, U regeer.
Lei ons al ons dae
na u welbehae.”
Haar kommer versmelt saam met die laaste woorde. Dankbaar sak sy in haar sitplek neer. Dis goed om hier te wees, tussen gelowige vroue wat op hul manier vir mekaar en vir ander omgee – die meeste van hulle in elk geval.
“Ons bid saam,” sê Petro.
Sy wag en dit raak so stil jy kan ’n speld hoor val.
“Here Jesus, ons is saam om stil te raak by U, om ons gedagtes op u Woord te rig, hande te vat met mekaar, wyer te kyk as ons eie klein kring.”
Sê nou dis Drikus wat Altus besteel, sê nou die winkel is aan die vou? Altus het verantwoordelikhede, die personeel se salarisse, soveel paaiemente en rekeninge wat betaal moet word. Sy werk nie, sy kan nie bydra nie, sy kan finansieel nie help nie. Hoe gebeur dit? Kon Altus nie betyds keer nie of kan hy vandag nog?
Tessa voel skuldig toe Petro “Amen” sê. Waarom het haar gedagtes so gou al weer weggehardloop? Hoekom gaan haal sy die las wat sy pas gelos het en hou haar gedagtes daarmee besig? Sy is hier om Bybelstudie te doen, nie om haar bekommernisse te vertroetel nie!
Sedig gaan sit sy saam met die ander en maak haar Bybel oop by Matteus vyf.
“Ons kyk van vandag af vir die volgende paar weke na die saligsprekings van ons Here Jesus. Matteus vyf vers drie. Iemand wat dit vir ons wil lees, die een vers?”
Sunelle Kruger steek haar hand op. Haar welluidende stem weerklink oor die geboë hoofde van die ander vroue.
“Matteus vyf vers drie. Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
“Enigiemand wat iets wil sê?”
Tessa waag dit nie om ’n geluid te maak nie, haar hart loop oor. Sy vou haar hande, verstrengel haar vingers, kyk stip na die woorde, wonder skuldig: Het ons nie dalk te hard gewerk aan ons eie koninkryk nie? Maar Altus is op die kerkraad, hy het inspraak in die gemeentebestuur. Sy werk vir die kerk, skink tee, was koppies, besoek siekes. Hulle gee groot bydraes, die seuns is betrokke, die Here het Ewald geroep om Hom te dien. Is hulle as gesin dan nie geregtig op ’n stukkie van God se koninkryk nie?
“Wat beteken hierdie woorde? Tannie Ansie …”
“Jong mense van vandag werk te hard om aardse goed bymekaar te maak. Die moeder is nie by die huis nie en die kinders word volgestop met sakgeld. Dis nie liefde nie.”
Tannie Ansie het ’n bynes oopgesteek. Petro hou haar hand op. “Tannie Ansie is reg, geld kan nie alles koop nie. Ongelukkig maak omstandighede dit soms nodig vir moeders om voltyds te werk. Die meeste van ons is darem bevoorreg genoeg om net tuisteskeppers te kan wees. Sommige van julle werk skofte en kan ons byeenkoms inpas by julle dagprogram. Sandra, ek sien jy is vandag hier, en jy, Fransien.”
’n Geroesemoes bars weer los. “Ek het verlede jaar eers afgetree!”
“Ek sou eerder ook ’n loopbaan wou hê.”
“Die onderwys maak dit onmoontlik.”
“My man wil nie hê ek moet gaan werk nie.”
“My dogter moet.”
“Goed, ons is dit eens,” keer Petro dat dit handuit ruk. “Ons moet werk, tuis of buite die huis. Maar is ons werk genoeg om ons op ons voete te hou? Nee, God moet ons seën, in alle opsigte. Hy sorg vir gesondheid, opleiding, ’n goeie omgewing. God sorg vir alles. Al swoeg en sweet ons, ons bly van Hom afhanklik.”
Iemand steek hand op. “Kan ons dan alles aan God oorlaat en self niks verder doen nie?”
“Aan God oorlaat, ja, natuurlik, maar nie sonder om ons deel te doen nie. Die eerste stap is om elke dag God se seën op ons arbeid af te bid, die tweede wat daaraan gelykstaan, is om God te eer met ons werk, die oog op sy koninkryk te hou.”
“Ons moet mos swaar kry om eendag in die hemel te kom,” fluisterpraat Martie langs Tessa.
Petro het gehoor. “Martie, het jy vir ons ’n vraag?”
“Nee, niks, ek het niks om te vra nie.”
“Nog iemand?”
Die gesprek kry momentum. Tessa neem nie deel nie.