Читать книгу 'n Tuin vir Tessa - Helena Hugo - Страница 7
3
ОглавлениеDis byna middernag. Sy sit met haar selfoon in die een hand, die televisie se afstandbeheerder in die ander. Altus het haar vanoggend gevra om hom nie te bel nie, maar hy het belowe hulle praat vanaand en al wat uitkom, is hy. Haar vermoede dat als nie pluis is nie, het omgeslaan na sekerheid. Daar is iets aan die broei by die werk en hy het nie die durf om daarmee uit te kom nie. Sy het gehou tot tienuur voordat sy hom die eerste keer gebel het. Die foon was afgeskakel en sy het ’n boodskap gelos, gewag, ’n halfuur later weer gebel en haar boodskap herhaal. Nog geen geluid nie.
Dink hy nie aan haar nie, besef hy nie dat sy haar bekommer nie? Hoeveel keer moet sy bel voordat hy aanskakel en antwoord? Of moet sy die desperate ding doen en hierdie tyd van die nag vir Walter en Drikus bel? Selfs die polisie?
Hy weet mos hoe sy haar bekommer as die seuns instem om ’n sekere tyd huis toe te kom en hulle bly nie by die ooreenkoms nie. Altus het al laatnagvergaderings gehou, maar dan bel hy haar en stel haar gerus. Dié keer is hy so stil, sy voel seergemaak en uitgesluit en met reg besorg oor sy lewe. Dis nie dat sy God nie vertrou om sy hand oor haar man en kinders te hou nie, maar God verwag van hulle om ook hul deel te doen, soos sy vanoggend in die Bybelstudie gehoor het. Beteken dit nie dat hulle mekaar ook deur dik en dun moet bystaan nie, mekaar in ag moet neem en vertrou nie?
Tessa vou haar arms om haar, haar asemhaling is vlak. Hoe kan sy gaan slaap as haar man iewers daar buite dalk in doodsangs verkeer? Uit ervaring het sy geleer dat rowers en moordenaars enige plek en enige tyd kan toeslaan en nie God se kinders ontsien nie. Sy en Altus is van die plaas af weg om veiligheidsredes en het in die stadsomgewing te staan gekom teen misdadigers wat gemaklik by plaasmoordenaars kan kers vashou. Altus is al twee keer byna gekaap en moes sy selfoon en beursie as losprys gee. Haar handsak is kort ná hul aankoms gegryp, en haar verloofring is van haar vinger afgepluk terwyl rowers ’n pistool op Altus gerig het. Hulle was elke keer dankbaar om met hul lewe daarvan af te kom. Mettertyd het hulle hul waaksaamheid verskerp en die buurt waar hulle nou woon, is afgesper met veiligheidshekke wat deur opgeleide sekuriteitswagte bewaak word. Die inwoners betaal, want hul aardse goedere is waardevol en die karre wat hulle ry, gesogte modelle.
Dis diep in die nag, tyd vir misdadigers om die strate oor te neem. Sy kyk op haar selfoon. Tien oor twaalf! Nou raak dit dringend. Met bewende hande soek sy Walter se nommer, maar huiwer voor sy die groen telefoontjie druk. Sê nou hulle het hul besigheid al vanoggend afgehandel of selfs vanmiddag laat en hier bel die histeriese vrou van een van sy kliënte hom in die middel van die nag?
Here, wat moet ek doen?
Een genade – die seuns slaap nie in die hoofhuis nie. Hulle is ná ete kamers toe en sal nie agterkom dat Altus wegbly nie. “Ons praat vanaand,” het hy belowe, en dis al nag.
Sy gaan nog een laaste keer probeer. Steeds die boodskap!
“Altus, waar is jy? Ek wag al heelnag vir jou! Bel asseblief voor ek van my kop af raak.” Amper laat val sy die foon toe dit skielik lui en sy sy nommer sien opkom.
Laat dit hy wees, Here, laat dit hy wees.
Sy veeg oor die skerm. “Hallo …”
“Tess, dis ek.”
“Waar is jy?”
“Op pad.”
“Ek wag vir jou.”
“Gedag jy slaap al.”
“Altus, maak dat jy by die huis kom.”
“Ek’s hier, ek’s voor die hek.”
“Wat sê jy?”
Hy antwoord nie.
Sy gooi die foon neer asof dit aan die brand is. Twyfel pak haar beet en druk die asem uit haar longe. Sê nou hy word iewers aangehou en sy ontvoerders het hom gedwing om te sê wat hy so pas gesê het? Hulle druk ’n pistool in sy sy en dwing hom om sy bankrekening leeg te trek en sy selfoon lui en hulle is bang sekuriteit merk onraad, daarom moet hy antwoord sodat hulle die foon ná afloop van die gesprek finaal kan stilmaak. Dit gebeur met ander, dit kan met hom ook gebeur!
Gewoonlik skuif die hekke en deure gladweg oop, seil die kar so sag na binne dat sy dit nie hoor nie. Vannag spits sy haar ore. Verbeel sy haar of is dit die garagedeur wat toegaan, die kar wat afskakel?
Sy roer nie, sy wag vir hom.
Die kussings op die bank is deurmekaar, haar hare is deurmekaar, daar is vuil bekers op die tafel en geen vars geperkoleerde koffie om hom mee te begroet nie. Sy is uitgeput. Met haar hande in haar hare, haar elmboë op haar knieë, sit sy en luister na die gesuis in haar ore, tot sy hom hoor keel skoonmaak.
“Naand, Tessa.”
“Naand? Dis nag!”
“Ek vra om verskoning.”
“Te laat, maar jy is nou hier en ek kan eindelik gaan slaap.” Sy pak die kussings op die bank reg. Met haar rug na hom hoop sy dat hy ’n verduideliking het.
Toe sy omdraai, keer hy haar. “Tessa, asseblief, gee my kans.”
“Hoe lank, een uur, twee uur, drie? Ek wag van vroegaand af, en al wat bel, is jy. Hoekom was jou selfoon af?”
“Ek het vergeet om dit aan te skakel.”
“Jy het vergeet?”
“Van die foon – nie van jou nie.”
“Watter sin maak dit?”
“Kan ons soos grootmense praat?”
Die lamplig is laag gestel, maar vir die eerste keer vandat hy ingekom het, sien sy hom behoorlik. Is dit skaduwees wat so maak, of het sy wange ingeval, sy baard vandag vinniger as gewoonlik gegroei? Lyk of sy klere hom nie pas nie, sy baadjie sit skeef oor sy skouers. Sy das is losgetrek, van sy hempsknope makeer. Is dit moontlik dat hy sedert vanoggend gewig verloor het? Sy is seker veronderstel om hom jammer te kry, maar hoekom?
“Jou storie beter goed wees,” sê sy en gaan sit op die verste punt van die bank.
Hy kies die naaste leunstoel, haal eers sy das af, vou dit op, los dit op die armleuning, verskuif dit effens, vryf sy voorkop asof hy hoofpyn het. As sy hom vriendeliker ontvang het, het hy eers vir koffie gevra.
“En?” waag sy dit.
“Jy sal nie hou van dit wat ek nou vir jou moet sê nie.”
“Jy het ’n affair? Jy wil skei?”
Hy skud sy kop. “Nee, maar ná dese sal jy dalk van my wil skei.”
Angs druk haar keel toe, en skielik is hy vir haar ’n vreemdeling. Wat het hy aangevang?
“Hoekom?”
“Ons … Ek het alles verloor.”
“Hoe bedoel jy alles?”
“Ons het niks.”
“Altus, Equestris was in die moeilikheid, nie Heyns Voere nie, nie ons nie.”
“Maak nie saak of dit Equestris is of Heyns Voere nie. Die besigheid is ons en ons is die besigheid.”
“Nie ons nie, nie ek nie – jy en Drikus en die res van jou personeel. Wat hét vanoggend uitgekom?”
Hy sukkel met sy woorde, skuif aan die das, krap met sy vinger aan die leeroortreksel van die leunstoel. “Ek wou jou dit spaar, ek wou dit van jou af weghou.”
“Toe maar, die skrif was aan die muur. Ek kon dit net nie lees nie en jy het my vrae konstant vermy. Wie het met die boeke gepeuter?”
“Daar is gepeuter, ons weet nog nie wie nie.”
“Heyns en Smit Equestris is onder sekwestrasie. Jy laat geen geleentheid verby om my aandag daarop te vestig nie. Ons uitgawes oorskry ons inkomste. Maar iemand sien kans om die bietjie wat oorbly, te steel en jou ouditeure kan nie twee en twee bymekaartel en die antwoord kry nie? Ek dag jy werk ook daar?”
“Drikus bestuur die winkel.”
“En jy, kom jy nooit in sy kantoor nie?”
“My afdeling is invoere en uitvoere, ek was besig.”
“Waarmee tog dat jy nie eens kan agterkom wat in die winkel aangaan nie?”
“Iemand moes geld genereer om te keer dat die spul onder die hamer kom.”
“Die winkel is dan onder geregtelike bestuur. Was dit nie ons uitweg nie?”
“Wat beteken dat die prokureurs ons skuldeisers namens ons hanteer. Ek moet steeds geld uitkrap om die rekeninge te betaal en ons lewenstyl te finansier. Intussen sit ek vas met probleme by doeane.”
“Heeltyd dink ek dit gaan goed met Heyns Voere.”
“Jy wil nie weet wat vandag alles daar verkeerd gegaan het nie!”
“En jy maak asof ons oukei is!”
“Wat sou dit help om jou te ontstel? Ek kan tog nie van jou verwag om die besigheid te red nie.”
“Ek kon gaan werk soek, ten minste die kruideniersware betaal. Die stalle bring seker iets in?”
“Ek het die kleinhoewe verkoop.”
Tessa snak na asem. “Kleinplasie! Wanneer?”
“So drie maande gelede.”
“Die seuns se perde staan nog daar.”
“Ek huur vir hulle blyplek.”
“Hulle gaan aan asof Kleinplasie nog ons s’n is! Vat tot maats soontoe om te braai.”
“Ek het met die nuwe eienaars ooreengekom om hulle vir ten minste ’n jaar lank te akkommodeer.”
“Dis oneerlik.”
“Ek het beplan om die hoewe langsaan te koop, maar dis deur die mat.”
“Asof ek jou kan glo! Gaan jy Drikus konfronteer?”
“Ek wag nog vir die skriftelike verslag. Ek moet bewyse hê.”
“Ek kan nie verstaan hoekom Walter dit nie vroeër raakgesien het nie.”
“Hy was verlede jaar oorsee en sy firma het ’n jongeling gestuur wat teen sy oogvelle vasgekyk het. Die mannetjie sal dissiplinêr verhoor word. Walter reken die grootste skade is in die laaste ses maande aangerig. Drikus, ons neem aan dit is hy, het die boeke so gekook dat ons in der ewigheid nooit uit die skuld sou kom nie; winste afgesyfer, kontant weggesteek, geld vir homself gevat, nie maandeliks by die trust inbetaal nie. Die prokureurs het aanmanings gestuur wat hy glo geïgnoreer het. Ons het ’n stel aggressiewe skuldeisers en hulle soek nou hulle pond vleis. Vreemd hoe nuus trek. Nie een van hulle is meer bereid om te onderhandel nie en dit het by die voorbok begin. Ek het nie geld nie, die dam is leeg.”
“Leeg gesteel?”
“Lyk so.”
“Deur ’n skelm wat jou goedheid uitgebuit het.”
“Hy is my vriend.”
“Wat nie ’n snars vir jou omgee nie. Bloedsuier is ’n beter woord.” Tessa is so kwaad sy kan haar stem hoor styg.
“Have a heart, vrou, die ou het probleme.”
Sy kan haar ore nie glo nie. Dat Altus steeds vir Drikus wil instaan, gaan haar verstand te bowe.
“Probleme? Watse probleme? Hy ry met ’n Porsche en woon in ’n hotel in Sandton.”
“Hulle het hom uitgeskop.”
“Goed so, die tronk wag vir hom.”
“Vir my ook as ek my nie bankrot laat verklaar nie.”
“En dan?”
“Dan verkoop hulle ons huis, ons karre, al ons ander besittings, betaal ons skuld en ons begin van voor af.”
“Ons sal darem seker iets oorhou?”
“Ek twyfel.”
Nog slegte nuus. Tessa kan voel hoe die bloed uit haar kop wegvloei. Hulle het baie besittings, baie wat nog op huurkoop is, die huis se paaiemente is hoog, haar kar is nie afbetaal nie. Hoe werk dit? Niemand wat sy ken, is al deur so ’n vernederende proses nie, maar sy het stories gehoor van hoe die balju uitkom om jou goed op te skryf, dat jy niks vir hom kan wegsteek nie, dat hy alles vat en net die klere aan jou lyf en ’n matras op die grond vir jou los.
“Wanneer?” vra sy, haar mond kurkdroog.
“Ek moet nog eers ’n hofaansoek indien.”
Tessa dink nie aan die ontwerpersmeubels en kunswerke wat die binnehuisversierder namens hulle aangekoop het nie. Sy dink aan die rooshouttafel en -stoele in die ontbytkamer, die Victoriaanse lessenaar en die koperlampe wat honderde jare al in die Heynse se besit is, al die ander kosbaarhede wat sy deur die jare bymekaargemaak het; skilderye wat sy self uitgekies het, Venesiese glas, Persiese matte, haar mooi goed wat so doeltreffend op die regte plekke in die huis geplaas is. In die kluis is juwele wat sy net vir spesiale geleenthede uithaal en wat Altus ten duurste verseker het. Daardie stukke moes sy in besonderhede beskryf, van haar ouma se pêrels tot die Cartier-halssnoer wat Altus verlede jaar vir hul twintigste huweliksherdenking gekoop het. Spontaan roep sy uit: “Wat van ons erfgoed? My juwele!”
“Weet nie. Ons is swaar verseker, dit kan die balju op die spoor sit.”
“Ek steel my eie juwele voor ek dit vir hulle gee!”
“Ek sal die lys nagaan. Miskien is daar stukke wat vrygespring het. Ons kan van die meubels en so-aan betyds verwyder, nie alles is opgeskryf nie.”
“Jy was baie deeglik, soos jy soms kan wees.” Tessa kan nie keer dat die bitterheid in haar stem deurslaan nie. Altus lyk afgetakel, hy lyk siek, maar sy gee nie om nie, dis alles sy skuld.
“Ons sal plan maak,” probeer hy lamlendig walgooi, “ons erfgoed red. By vriende stoor voor die balju toeslaan. Dis nie heeltemal eerlik nie, maar almal doen dit.”
Trane wel in Tessa se oë op. “Ek skaam my dood.”
“Ek ook, ek is jammer.”
“Jammer sal ons nou niks help nie. Ek is so kwaad, ek kan Drikus verwurg.”
“Dit is nie net hy nie.”
“Maak nie saak nie, hy het gesteel.”
“Ek het verkeerde besluite geneem, ek het die mark verkeerd gelees.”
Tessa wil opstaan. Sy voel dronkerig en steier omtrent orent. “Ek gaan bad en slaap.”
“Ek gaan koffie maak.”
“Koffie!” gil sy so skielik sy skrik vir haarself. “Is dit al waaraan jy kan dink? Gaan koffie jou uit hierdie gemors help? Nee! Kry dit in jou kop, koffie is nie die antwoord nie! Wat sê jy vir die seuns, het jy aan hulle gedink toe jy die mark gelees het en jou besluite geneem het? Ek kan dit dalk nog hanteer, maar hulle is jonk.”
Altus lig sy hande in ’n moedelose gebaar. “Tess, ek het probeer.”
“Nie hard genoeg nie!”
Hy wil haar keer, maar sy loop om hom, klim die trap na hul slaapkamer met knakkende knieë, haar hande al klouende aan die trapleuning. Hoe verwens sy nie die ellendige spiraal wat die simpel argitek uitgedink het nie. Hulle moes nooit hierdie huis gekoop het nie, nooit van Kleinplasie af weggetrek het nie. Sy sou soontoe kon teruggaan, maar nou behoort die koel grasdakwoning aan iemand anders en Altus vertel haar vannag!