Читать книгу Lelie van die laagte - Helene de Kock - Страница 4

1

Оглавление

“Asof dit nie erg genoeg is nie …” sê Karien Dijkstra en rol haar oë. Sy sit kruisbeen op die bed en loer oor die rand van ’n handboek.

“Wat?” vra Mia onrustig en draai nog ’n slag voor die spieël in die hoop om ’n glimp van haar kuite te kry. Maar die rok is te lank. Te groen ook – en beslis te outyds. Dis ’n moderamp.

Karien sit skielik regop. “Kyk, Mia, dis erg genoeg om ’n dominee vir ’n suster te hê, maar sowaar, as jy dan nog lyk asof jy op die wakis langs ’n man met verflenterde velklere hoort, is dit by uncool verby.”

“Só erg?” vra Mia op die oog af onverstoord. Sy ken haar kleinsus. Nie op haar mond geval nie, en op die oomblik ’n eerstejaar op Tukkies en onuitstaanbaar cool – wat presies dit ook al beteken. En sy sal haar weer die een of ander tyd moet reghelp: sy is nog nie ’n dominee nie. ’n Proponent wel. Maar dis ’n diskoers wat kan wag.

“Is dit regtig só erg?” vra sy weer teen haar beterwete.

“Erger,” sê Karien en hop van die bed af, loop kas toe. “Kyk, waarom trek jy nie dié ding aan nie? Dis ten minste in ’n skakering wat nie ’n mens se oë seermaak nie.”

“Dis te gewaagd vir die kansel. Ek gaan nie piekniek hou nie.”

“Wat dan van dié?”

Karien lig ’n songeel rok met ’n kort swart baadjie uit die kas en hou dit ’n armlengte ver asof sy dalk allergies daarvoor kan wees, haar gul mond op ’n knop.

Dis ’n plan, besluit Mia en gryp die rok haastig by haar. Dit lyk stemmig maar nogal cool, as dít nou die kwalifikasie moet wees.

Sy pluk die groen rok ergerlik van haar af en is effens verbaas toe Karien haar ewe gaaf help om die gele oor haar kop te kry. Haar lang blonde krulhare haak vas aan die ritssluiter en sy kan gil van frustrasie. Sy gaan nog laat wees vanaand, en ouderling Beukes is juis so moeilik. Hiperkrities verby.

Karien neem haar tyd om die syige hare string vir string uit die rits los te wikkel en sug teatraal. “Dit help nou nie jy maak asof jy te na gekom word nie, Mia. Dominees behoort ook darem soms cool te lyk.”

“Wat beskou jy as cool?” vra Mia bedaard, maar sy voel hoe haar pols aan die fladder gaan. Dis moeilik genoeg om ’n losieshuisdak oor hulle albei se kop te hou. Om op ses en twintig ma te moet speel vir ’n kontante eerstejaar is soms net te veel.

Karien staan die vraag hand in die sy en oordink. “Cool is … wel, dis koel. Nie uitdagend nie, stylvol en elegant … en beslis sexy. So ’n kombinasie van als wat oulik is, jy weet.”

Mia staar na haar sus. Daar het sowaar wysheid by haar mond uitgekom.

“Sê dit weer …?”

“Tjk! Jy weet wat ek bedoel. Jy moet mooi aantrek, Mia. Ek besef dat jy nie met ’n bikini op die kansel kan klim nie, maar sowaar, soos wat jy darem lyk, is ek aan die slaap nog voordat jy begin preek.”

Dis die laaste strooi. Mia snak na asem so kwaad is sy. En sy voel juis deesdae so ontsaglik broos.

“Karien, as jy ’n enkele gram ordentlikheid in jou het, sal jy nooit, óóit ’n predikant ontstel voor hy op die kansel moet klim nie!”

“Jy bedoel as sý op die kansel moet klim.”

“Wat ook al! Jy kan jou skaam!”

Karien lyk glad nie gepla nie. Haar stipte blou blik gaan speurend van Mia se gerf heuningblonde hare oor die geel en swart uitrusting en bly rus op die punte van haar blinkleer-hofskoene. “Hm, jy moet nog net hare kam en lipstiffie aansit. Maskara sal ook help. Wag, ek help jou gou.”

Mia sak op die voetenent van die bed neer, te moeg om te argumenteer. Sy weet darem Karien sal haar goed laat lyk. En sy hou immers daarvan om goed versorg te wees. Dis net, in die laaste tyd raak dit al hoe moeiliker … Sy probeer haar gedagtes liefs op hok hou terwyl Karien behendig maskara aan haar wimpers sit, blosser aan haar wange tik en eindelik haar mond met ’n kwassie bykom.

“Voilà!” roep Karien uit. Maar Mia kyk net skrams in die spieël en sug verlig.

“Goed genoeg,” sê sy hardop.

“Ek sou so dink. Jy lyk absoluut stunning! Ek het nie gesê jy’s nie mooi nie. Ek wil net hê jy moet beter klere dra.”

Mia strek haar tot haar volle lengte en kyk af op haar korter suster. Lengte is altyd ’n voordeel vir die oudste in die gesin as jy iets belangriks moet kwytraak.

“Luister, Karien …”

“O vrek, daar gaat ons! Kan jy nie wag tot ons van die kerk af –”

“Nee!” Haar stem is luid maar beheers. “Praat asseblief ordentlike Afrikaans. En tweedens: ek kan nie ander klere bekostig nie. Jy ook nie. Nie nou óf gou weer nie.”

Karien se mond sak oop soos ’n verbaasde baba s’n. “Waarvan praat jy? Ek moet na Olienhout se dinee toe gaan saam met John Joubert en …”

“Jy kan gaan. Maar nie met ’n nuwe rok nie.”

Karien verstil. Dié inligting het ingang gevind, dink Mia wrang.

“Waarvoor ís daar dan geld?”

Mia neem ’n besluit. Langer kan dit tog nie uitgestel word nie. Sy kyk Karien vas aan. “Daar is nie fondse nie. Punt.”

Karien se hand gaan uit om haar teen die kamermuur te stut.

“Jy bedoel … na … Pa se dood?”

“Ja. Ek kan nie vir jou jok nie. Soos wat dit is, het ons eintlik al klaar te min voorsiening vir die volgende twee maande … Maar daar is hoop.”

“Watse hoop?”

“Wag, nie nou nie. Ek moet eers gaan preek.”

Sy gryp haar handsak, Bybel en gesangboek en die lêer met haar preek in. “Kom, ons gaan laat wees.”

Karien loer verdwaas spieël se kant toe, en tot Mia se innige verbasing vat sy ook net haar handsak en Bybel en stap muisstil saam uit in die gang. Mevrou Geertse se poging om maaltye in die aand te verskaf het reeds gesorg dat die meeste loseerders vroegtydig uit die kool-en-uie-reuke padgegee het.

“Wanneer gaan die oumens leer niemand hou van haar Sondagbrousels nie?” mor Karien en diep ’n parfuumpie uit haar handsak op om ’n paar spuite in haar onmiddellike omgewing te gee.

“So nou!” roep Mia uit.

“Het jy parfuum aangespuit?” wil Karien weet.

“Die einste wat jy nou so kwistig vermors.”

“Wat? Dis mýne!”

“Dis óns s’n, of het jy vergeet?”

Karien wil haar nog wip, maar Mia het klaar die blou Citi Golf aan die gang gekry en trek soos blits agteruit. Sy benut ook die kans om ’n laaste vermaning in te kry: “Jy sal regtig mooi met ons goed moet werk, Karien. Anders gaan ek en jy vir ’n lang tyd sonder lekkerruikgoed moet sit. Om van ander luukses nie te praat nie.”

Mia wag gespanne vir die gewone geweeklaag by die aanhoor van sulke nuus, maar dit kom nie. Toe hulle by Loftus Versfeld se verkeerslig verbyry, kyk sy skuinsweg na haar sus. Karien sit met saamgeperste lippe en ’n ken wat dreig om te beef. Mia sug innerlik. Dit is werklik moeilik om groot te word, dit moet sy toegee.

Hulle ry in stilte tot by die kerk en parkeer waar hulle ’n gaatjie sien. Sy gee Karien se skouer eers ’n drukkie en toe klim hulle uit.

Sy mik agterom die groot kerk na die konsistorie en merk met verligting op dat ouderling Beukes nog nie gearriveer het nie. Maar daar is reeds ’n hele paar kerkraadslede.

“Naand, proponent,” groet oom Kallie, die hoofouderling, vriendelik en steek sy hand na haar uit. Sy groet hom en professor Beneke, en ’n paar ander steek ook hand uit. Sommige knik net, soos gewoonlik, effens onseker of hulle moet bladskud of nie. As sy nou ’n man was, dink Mia net effens geamuseer, sou hulle nie gewonder het nie.

Ewenwel, sy kan nie kla nie. Hierdie kerkraad is ’n taamlik verligte klomp en sy het lekker saam met hulle gewerk. Hét … Sy skud die gedagte af en bepaal haar by professor Beneke se relaas oor die gemeente se kerkbywoning. En helaas ook oor die finansies wat maar net nie wil klop as die aanstelling van nog ’n leraar oorweeg word nie …

Toe sy ’n kwartier later saam met die kerkraad uitstap en die kansel bestyg, klop haar hart tog onrustig in haar keel. Ag, Here, bid sy toe sy op die trappies van die kansel verpoos, help my tog dat ek nie te lig bevind word nie. Here, help my tog om nie in Ú hande te lig te weeg nie … Amen.

Sy gaan boontoe en knip die klein mikrofoon aan haar baadjie se lapel vas. Maar toe sy minute later die seëngroet uitspreek, voel sy nog effens ontwrig. Dit moet end kry, besluit sy. Ek is in die bediening om in die bediening te bly. Ek is ’n VDM … ’n bediener van die Goddelike Woord. Iewers in die kerk moet daar vir my plek wees.

Sy gee die eerste gesang op, hoor met blydskap hoe haar soet, suiwer stem die gemeente lei. Haar teks is uit 1 Timoteus 3:15: “Ek skryf hierdie dinge vir jou … sodat jy sal weet hoe mense hulle in God se huisgesin moet gedra. Die gemeente van die lewende God is hierdie huisgesin.”

Toe sy klaar gelees het, doen sy ’n innige gebed waarin sy God namens die gemeente smeek om hulle te help om hulle in sy huishouding te gedra.

Sy preek soos altyd met rustige handgebare en duidelike diksie wat sy weet tot in die agterste banke gehoor kan word. Oor wat God van die lede van sy huisgesin verwag … Oor God se huishouding wat nie chaoties mag wees nie … En oor God wat van ons verwag om mekaar te dien soos wat Jesus mense gedien het. Sodat ons gelukkige lede van die huisgesin kan wees, en sodat ons dié spesifieke plek waarin God ons self aangestel het, reg kan vul.

Sy is, soos altyd, effens uitasem toe die diens verby is. Dit tap haar emosies en haar gees om die Woord te verkondig. Tog is dit ’n wonderlike vermoeienis, dink sy.

Toe sy in die konsistorie kom, kom staan mevrou Henning by haar. Sy glimlag sag. “Jy lyk moeg, Mia.”

“Nie regtig nie, mevrou. Ek … voel maar altyd so. Dis ’n groot verantwoordelikheid om die Woord te verkondig.”

“Dit is, ja. Bly maar so voel.”

Die vriendelike vrou groet en toe Mia omdraai, staan dokter Manie Joubert voor haar. ’n Oogspesialis en baie verlief op haar. Dit weet sy al vandat sy laas jaar as tydelike jeugwerker in die gemeente aangestel is. Op ’n manier is sy bly dat haar kontrak met die gemeente oor ’n maand verstryk, en dokter Joubert is die hoofrede daarvoor. Hy druk haar, figuurlik gesproke, dikwels in ’n hoek. Soos nou.

“Mia … ek het jou boodskap baie geniet. Dis so waar dat ons almal maar moet kopgee en ingee in hierdie gemeente. Ek sou selfs dink dat jy meer kon uitgebrei het oor ’n Christen se gevoel vir samehorigheid, maar …”

En toe begin hy, soos altyd, haar preek vir haar feitlik woord vir woord oorvertel, met nogal paslike kommentaar hier en daar. Die man moet ’n fenomenale geheue hê, dink sy moedeloos en knik so nou en dan, maar sy dink haar eie dink. Sy loer ’n paar keer vlugtig oor sy skouer om te sien of Karien nog nie in die deur verskyn nie, maar tevergeefs. Haar sus drink seker koffie in die gemeente se koffiekroeg.

Om die oogdokter se woordevloed te stuit, hou sy oplaas haar hand op. “Manie,” sê sy, “ek het hoofpyn. Ek dink ek moet vanaand vroeg teruggaan losieshuis toe.”

“Nog nooit! Ek gee vir jou ’n pilletjie en jy kom saam met my huis toe. Moeder het spesiaal gevra dat ek jou vir tee en koek moet bring.”

“Sekerlik nie op ’n Sondagaand ná kerk nie? Dis al amper halfnege en –”

“Net die regte tyd voordat die week se gedruis ons weer beetpak. Kom, Karien kan vir haarself sorg.”

“Nee!” Sy skrik self vir die beslistheid in haar stem.

“Hoekom dan nie?” hou hy aan en begin haar stadig deur se kant toe aankeer. Die konsistorie is al leeg.

“Wag … Manie, jy begryp nie. Ek en Karien moet vanaand groot sake uitklaar. Jy sien, ek gaan weg. Kaap toe.”

Hy frons verward. “Weg?” Hy klink soos ’n verstomde seuntjie. “Maar jy kan nie … Ons leer mekaar nou net ken en …”

“En nou gaan ek weg, ek weet,” paai sy. Waag dit selfs om haar hand op sy arm te sit. Maar dit was ’n fout, besef sy toe hy dit dadelik en met mening vasvat.

“Mia … ek moet vir jou sê … ek en jy … ons …”

“Nee! Ek wil dit nie hoor nie, Manie. Ek gaan beslis Kaap toe.” Sy lig haar kop en kyk hom meteens vas in die oë. Tot haar innige verbasing blink hulle opsigtelik.

“Mia …” sê hy huiwerend, “moet asseblief nie gaan nie.”

“Hoekom nie?” vra sy omdat sy werklik nie weet hoe om haar uit hierdie hoek te wurm nie. Manie, besef sy, is ’n heel aansienlike man. En geleerd. Goed en gelowig ook. Dis net …

“Dis tog voor die hand liggend, Mia,” sê hy sag en frons liggies. “Ek stel belang in jou … ek … Dis meer as dit. Ek dink ek is –”

“Nee!” sê sy vir die soveelste keer. “Moenie … want ek voel nie so nie.”

“Is dit te skielik vir jou?”

“Dit is … te skielik, ja,” sê sy moeg en staan terug sodat hy haar hand moet laat gaan.

“Vergeet die Kaap,” pleit hy mooi.

Vir ’n oomblik wens Mia sy kon. Manie is werklik ’n vangs – Karien vertel dit byna elke dag vir haar.

“Karien!” skrik sy op. “Ek moet haar dadelik gaan roep, want sy skryf môre ’n groot toets …” Wat jók ek so? wonder sy vies en skud haar kop. “Nee, dis nie waar nie, Manie. Maar ek moet vanaand regtig dringend met my suster praat.”

Net toe kom Karien by die deur ingewaai. “Ag, ekskuus, hoor! Nie geweet hier’s ’n kerkraadsvergadering aan die gang nie,” sê sy verspot. “Ek veronderstel die agenda is lank … en lekker?”

“Moenie laf wees nie,” sê Mia skerp en sien hoe Manie weer frons. Sy tik hom lig op die lapel van sy donkerblou baadjie. “Ons praat weer later.”

Hy knik traag. “Nag, dan. Ek sal jou môre bel.”

“Goed,” sê sy en haas haar uit.

“Vir wat is jy so goor met die arme man?” pak Karien haar toe hulle in die motor is. “Hy’s charming, hy’s cool en hy’s –”

“Nie vir my nie.”

Mia ry net-net onder die spoedbeperking en Karien vra nie verder uit nie.

Toe hulle oplaas terug is in hul benouende kamer met die verbleikte roospienk bedspreie, gaan staan Karien reg voor die spieëltafel en skud haar steil blonde hare terug oor haar skouer. “Nóú vertel jy my wat aan die gang is,” sê sy kwaai.

Mia sit haar goed in die kas weg en skop haar skoene uit, gaan sit op die bed. “Kyk, Karien, ons het nie geld nie. Ons beleef ’n fundamentele eksistensiële krisis wat ’n besondere graad van volwassenheid van ons gaan verg.”

“Hou op akademikaans praat! Sê net wat is wat!”

“Sit,” sê Mia en wag tot Karien stywerig op die stoel voor die klein lessenaar plaasgeneem het. “Ek het Donderdag ’n oproep van professor Dijkstra ontvang.”

Karien se oë rek. “Jy bedoel …?”

“Tant Leona, ja. Sy het voorgestel dat ons by haar op Stellenbosch gaan woon.”

“In ’n huis? Hét sy ’n huis?” En toe Mia knik, tref die implikasie Karien. Sy snak na asem. “Maar … dit beteken ek sal nie verder op Tukkies kan swot nie! Ek … sál ek kan swot?”

Mia trek haar asem diep in. “Miskien … Tant Leona kyk nog of sy dit gereël kan kry. By die bank en die universiteit, bedoel ek. Jy sien … Pa het haar mos destyds as eksekuteur aangewys.”

Karien knik. “Ja, dis ou nuus. Waarom wil sy nou skielik …?”

“Omdat ek haar gebel het. Kort en klaar haar raad gevra het omtrent ons situasie. Die feite is, Karien: ek het nie regtig ’n werk nie. Tensy ek binne ’n week of wat iewers heen beroep word, sal ek en jy eenvoudig nie kan oorleef … sonder … sonder hulp nie. By tant Leona sal ons ten minste ’n dak oor ons koppe hê.”

“Maar nog nie werk nie!”

“Nee, maar ek sal dan haar raad volg en ’n tydelike werk soek. Dit hoef nie noodwendig my bediening negatief te beïnvloed nie. Trouens, ek land dalk in ’n werkplek wat ’n groot evangelisasieveld bied. Soos ’n bank, of ’n poskantoor, of iewers in die –”

“Wynbedryf?” glimlag Karien suur. “Nee, my sus, ek sien jou nie in kelders, agter toonbanke of in kantore nie.”

Vreemd, dink Mia, hoe skielik volwasse Karien soms kan klink. En hoe reg sy soms is. Want sy weet nie hoe op aarde sy wat Mia is in ’n kantooropset sal aard nie. Sy glo nie sy is uitgeknip vir die korporatiewe wêreld nie.

“Wel,” sug sy, “die mens is ’n aanpasbare wese, glo my.”

“Glo is sien,” antwoord Karien droog. Sy staan op en begin uittrek. “Ek gaan nou bad. As ek terugkom, wil ek graag hoor dat jy sê jy het sommer twak gepraat … Ag, hemel, Mia, moet ons régtig Stellenbosch toe gaan?”

“Regtig, ja. Ek weet ook nie of ek kans sien vir die nat winters en vir die suidoos nie, maar dis nie nou ter sake nie.”

Dinge gebeur vinniger as wat Mia haar dit enigsins kon voorstel. Professor Leona Dijkstra laat nie op haar wag nie. Sy vlieg Pretoria toe en spreek af om die meisies in Brooklyn Mall te ontmoet. “In ’n stillerige restaurant, asseblief. Ons moet diep sake praat.”

“Sê nou sy’s naar met ons?” sê Karien terwyl sy en Mia in ’n restaurant eenkant op die boonste vloer vir hul tante wag.

“Ek glo darem nie,” glimlag Mia. “Sy en Pa het wel nie aldag langs een vuur gesit nie, maar ek dink nogal dit was meer Pa se skuld.”

“Waarom sê jy so?”

“Wel, daar was ’n tyd toe mense wat aan verskillende politieke partye behoort het smoorkwaad vir mekaar geraak het. Maar gaandeweg het dié ding tussen hulle twee gaan lê … Jy onthou mos daardie jaar, ek dink jy was in graad nege, toe tant Leona by ons in Lynnwood kom kuier het?”

“Goed, ja. Sy’t my kwaai uitgekyk.”

“Ja, maar jy was toe nie juis aanvaarbaar nie, hoor. As ek net dink aan daardie wynrooi haarstyl – ék het geskrik as ek jou net sien!”

“Wel, ek het mooi herstel,” lag Karien. “Dink jy nie so nie?”

“Hm … Behalwe sommige tienernukke is jy heel gangbaar, sou ek sê.”

“Wel, dankie, nè?”

Hulle sit ’n oomblik sonder woorde, Mia se hande kneukelwit in mekaar geklamp. Karien plaas hare vlugtig oor Mia s’n. “Toe nou maar … Jy kan jouself op die skouer klop.”

“O?” vra Mia half afwesig.

Karien sug. “Wat my betref, bedoel ek. Dié ding dat ek nie ’n ma gehad het nie, vreet soms aan my, hoor. Jy het haar darem geken tot ek gekom het.”

Mia sluk aan die knop in haar keel en knik net. Inderdaad. Marie Dijkstra was ’n lieflike mens. Die bietjie wat sy kan onthou, laat haar nou nog kinderlik na haar ma verlang. Maar toe haar pa daardie dag net met die baba by die huis aankom, het die kleintjie dadelik haar hart gesteel. Al was daar ’n wolk wat lank, baie lank oor die huis gehang het. Karien het tóg ’n groot gat toegemaak.

“Jy …” begin sy huiwerig, en druk maar net Karien se hande toe sy skuins agter haar suster die skraal, lang gestalte van hul tante gewaar. Sy waai om haar aandag te kry en trek solank ’n stoel uit.

Hulle staan albei op en soengroet die vrou in haar elegante groen pakkie op haar liggies gepoeierde wang.

“So ja,” glimlag Leona. “Nou kan ons mos gesels. Julle lyk goed, moet ek sê.”

“Tante lyk sowaar mooi,” sê Karien effens verbaas.

“Baie mooi,” beaam Mia opreg.

Leona lag. “Julle bedoel … vir my ouderdom?”

Mia skud haar kop glimlaggend. “Nee, ek dink nie die verouderde konsep van ouderdom pas by tante nie. Eerder die idee van sestig wat die nuwe vyftig is, of so.”

Haar tante knik haar dank vir die kompliment. “Luister, noem my Leona. Hierdie ‘tante’-storie geval my nie.”

Mia knik en merk hoe verstom Karien na Leona staar. Sy het nog nooit soos ’n professor gelyk nie, dink Mia. Haar moderne kort kapsel vol ligstrepies omraam haar skraal gesig en beklemtoon haar mooi groenerige oë. Daarby het sy ’n mooi mond, wat jare se lagplooie net meer hartlik laat voorkom.

“Graag, Leona,” sê sy. “En laat my toe om jou voorlopig uit die hart te bedank, want –”

“Ag, Mia, los dit! Julle is my broerskinders, al het ek en Gerrit selde ’n gesprek gevoer sonder om te haak. En … ek besef darem ook dat die jare aanstap en dat ek geen kind of kraai het nie. Dit sal lekker wees om julle by my te hê. Al rede waarom ek julle nie al twee jaar gelede na my toe laat kom het nie, Mia, was omdat jy nog besig was om te studeer. En ná so ’n groot trauma, dink ek, is dit wys om nie sommer dadelik nog ’n groot verandering te maak nie. Ek het in elk geval verwag dat hierdie dag sal kom.”

Hulle bestel tee en Karien sit stil en luister terwyl Mia en Leona planne maak vir hul vertrek. Sommer gou, ja. Nog drie weke en dis eksamentyd en net daarna moet hulle maar kom. Sal alles in die karretjie pas?

Alles, ja, dink Mia wrang. Miskien onthou Leona nie presies hoe min van daardie “alles” oorgebly het nie. Die ouerige huis waarin sy en Karien saam met hul pa gewoon het, het met die verkoop daarvan nie naastenby soveel ingebring as waarvoor hulle gehoop het nie. En dit het net-net die skuld gedek – Mia se berg studieskuld, en Karien s’n ook.

Leona drink smaaklik aan haar tee. “Jy lyk vir my danig huiwerig oor die skuif Kaap toe, Karien.”

“Ek is. Ek proe nog aan die idee.”

“Wel, dit begryp ek. Die eerste maal toe ek op Stellenbosch aangekom het, was ek totaal verskrik.”

“Maar jy’s dan as professor aangestel!” sê Karien. “Ek sou dink dat die res, die studente en so aan, die mense moes wees wat geskrik het!”

“Hulle hét seker geskrik. Was destyds nie juis ’n vrou te wagte nie, en daarby een wat Grieks doseer. Maar glo my, ek was baie bang vir die nuwe plek. Bang dat mense my anders sou sien as wat ek is.”

“En toe?” vra Mia onwillekeurig.

“Toe besluit ek om net myself te wees. Die ou cliché, wat altyd werk omdat dit so waar is. Toets dit maar. En intussen, terwyl julle jul voete vind en ook daarna, het julle ’n huis.”

“Baie dankie …” fluister Mia en Karien feitlik gelyktydig.

Leona glimlag bedaard. “Ja, vanuit ’n huis kan ’n mens die lewe konfronteer.”

Hulle bespreek nog ’n paar reëlings, en toe Leona groet, om eers op uitnodiging ’n lesing by die teologiese fakulteit te gaan gee en dan terug te vlieg Kaap toe, voel Mia eensklaps verlate.

“Ek dink tog dit sal werk,” verklaar sy toe sy en Karien terugry losieshuis toe.

“Ek hoop so,” sug Karien. “Sy lyk orraait.”

“Sy lyk piekfyn,” kap Mia half ergerlik terug. “Karien, die vrou gaan ons by haar in die huis neem. Die minste wat jy kan doen, is om –”

“Reg te praat? Okay, dan.”

Mia hap na haar asem, maar toe lag sy. “Wel, dis ten minste nie vervelig saam met jou nie, sussie!”

En tot Mia se innige dank pas Karien in die dae wat volg goed aan by die wending wat hul lewe geneem het. Altans, sy leer hard vir die eksamen, kom saans op ’n beskaafde tyd tuis en gesels saam oor die Kaap.

“John sê Stellenbosch is ’n bakgat plek,” sê sy tydig en ontydig, totdat Mia haar ergerlik daarop wys dat bakgat ’n plat woord is.

“Buitendien, was John al ooit daar?” wil sy verder weet.

“Jip! Sy oom is ’n wynboer in die distrik. ’n Jóng wynboer … as jy weet wat ek bedoel.”

“Nie naastenby nie,” sê Mia luiters terwyl sy begin om hulle twee se wasgoed op te vou.

Karien stoot meteens haar boeke opsy. “Wat de joos laat jou tiek, Mia? Ek weet vir ’n feit jy was nog nooit eens verlief nie!”

“Nee, ek was nie,” erken Mia. “Is ook nie van plan om gou verlief te raak nie.”

“Dink jy jy sal dit so kan reël?” vra Karien stroopsoet en staan op om die ketel by hul wasbak vol water te maak. “Koffie?”

“Asseblief. En ja, ’n mens kan dit reël. Altans, ek sal sélf besluit of ek verlief wil wees of nie.”

“Sjoe … Dan het arme ou dokter Manie net op die verkeerde tyd opgedaag, of hoe?”

“Beslis. Dis nie sy fout nie, maar dit bly ’n feit.”

“Hm … so koel en klinies oor die liefde. ’n Mens sou nooit kon dink jy’s ’n predikant nie.”

“Hoekom nie?”

“Wel, predikante moet darem so af en toe wys dat hulle self iets kan voel, of hoe? Anders kan hulle mos nie raad gee of berading doen nie!”

“ ’n Mens hoef nie te voel om te weet wat reg is nie.”

“Nè?”

“En staak jou sarkasme. Ek moet nog voorberei vir vanaand se katkisante, want hulle gaan weer slimmer as slim wees.”

Hulle drink hul koffie in stilte. Net nou en dan sug Karien só diep en teatraal dat Mia later genoop voel om te vra wat skort.

“Nie veel nie. Net dat ek ten minste weet hoe voel die heerlike floute van verliefdheid, want John is ’n bak … ek bedoel, ’n vreeslike nice ou. Al het my verliefderigheid nou al weer ’n bietjie oorgegaan. Anyway, soos ek jou ken, sal jy eers ’n jaar ná jou ontmoeting met meneer Reg snap dat dit hy is. En dan sal jy hom eers aan katkisasie onderwerp.”

“Karien …” begin Mia, maar kry tog lag toe sy die guitigheid in haar suster se blou oë sien. “Hoe kan ons so eenders lyk en tog so ánders wees?”

“Eenders lyk? Ba! Jy is ’n volle agt jaar ouer as ek en die jare wýs, ousus! Moet ook nie dink omdat ons taamlik blond is en albei seeblou ogies het dat ons ewe dom is nie, hoor!”

Mia se lughartigheid verdamp byna dadelik. “Ek weet,” sug sy moedeloos. “Ek is die een wat dom is. En jy laat my boonop middeljarig klink. Skaam jou!”

Tot haar verbasing sit Karien haar koppie neer en kom staan by haar waar sy by die lessenaar sit en werk. Sy gee haar skouers ’n ligte drukkie. “Weet jy wat, Mia? Jy is die mees onbaatsugtige mens wat ek ken.”

“Onbaatsugtig?” proes Mia.

“Jy kan maar spot, ek dink regtig so. En my pelle dink almal jy is vreeslik mooi. Hulle swoon só oor jou lyf en jou blondheid, dis om van naar te word. Hulle sê jy’s nou die één dominee wat sowel waardig as with-it is. Dié dat John gesê het hy gaan vir sy wynboer-oom van jou vertel.”

“Spaar my dit!” reageer Mia dadelik, maar sy vat Karien se hande op haar skouers vas.

“Sy naam is Karel de la Harpe,” sing Karien ietwat onmelodieus naby haar oor. “Dis so ’n Káápse, so ’n romántiese naam …”

“Regtig, sus,” keer Mia benoud, “ek soek nie man nie. Jy en daai John bly uit my sake uit, gehoor?”

Karien lag net, loop haal haar swemkostuum uit die kas en rol dit in ’n handdoek op. “Ek gaan nou eers lyf natmaak. Hierdie hitte maak my gedaan. Nie ’n woord uit die sielkunde-handboek wou vanmiddag by my kop in nie.”

“Omdat dit so vol muisneste is,” glimlag Mia. “En dit namens ander mense. Sê my eers … Jy klink nie té verpletter om John hier agter te laat nie?”

Karien knyp die opgerolde handdoek onder haar arm vas, en haar kop sak skeef. “Weet nie … Miskien kom hy agterna. Maar hy kyk nog te veel rond, dink ek. Enne … ek dink ek moet hom kans gee om vry te voel.”

“Maar hy’s dan kwansuis verlief op jou?”

“Dit keer hom nie om te kyk nie, ousus! Word tog wakker en sién die wêreld.”

“Nee,” lag Mia opeens, “ek preek daarteen!”

“Hm, behou die goeie,” sê Karien toe sy uitgaan, “maar genade tog, beproef darem ook iets!”

“Kan nie wen nie,” sug Mia net toe sy uit is. Maar sy dink weer dat Karien soms besonder volwasse is vir so ’n jong meisie. En toe haar gedagtes eers begin karring, sukkel sy om aan die werk te kom. Die trek Stellenbosch toe lê soos ’n blou berg voor haar. Blou vir haar gemoedstemming, berg vir die moeilikheidsgraad. Want sy voel nie goed daaroor nie en sy wéét sommer dit gaan probleme meebring.

Wat, byvoorbeeld, sal Leona se houding wees as sy nie ’n werk kry nie? En dis juis nou so moeilik om iewers werk te kry. Sowaar, sy gaan hou sommer skool. En gee wát? spot haar gedagtes. Grieks of Hebreeus? Etiek, dalk?

Toe sy eindelik klaar is met haar voorbereiding vir die katkisasieklas, kom Karien uitasem binne. “Manie was hier. Ek het gesê jy’s te besig vir ’n vryery.”

“Jy het nie … Sowaar?”

“Njannies. Wou jy hom dan gesien het?”

“Nee! Ag regtig, Karien, ek wil hom nie hê nie, en ek het dit so mooi moontlik vir hom probeer sê.”

“Ek weet. Daarom het ek vir hom ’n storie vertel.”

“Watse storie?”

“Wel …” Karien strek haar lui op haar bed uit en loer van onder haar deurmekaar kuif na Mia. “Ek het vir hom gesê dis eintlik vertroulik, maar jy gaan om jou lewensmaat te ontmoet.”

“Wát?!”

“Ja. Dis ’n man oor wie jy nog altyd gedroom het, en nou is die geleentheid daar.”

Mia se wange voel koorswarm. “Jy … Maar dis mos ’n leuen!”

“Agge nee, wat,” sê Karien met ’n klein gebaartjie. “Dis dalk nog profetiese woorde. Jy droom tog seker af en toe … enne … Stellenbosch is sekerlik vol moontlikhede. Jy ontmoet hom dalk nog regtig!”

Mia gooi haar hande in die lug, gryp haar boeke en loop liewer.

Lelie van die laagte

Подняться наверх