Читать книгу Lelie van die laagte - Helene de Kock - Страница 5

2

Оглавление

Tom Muller kom by die agterdeur uit en strek sy lang arms bo sy kop. Gewaar sy ma waar sy rustig sit en perskes skil op die breë stoep van die plaashuis. Dis vir die groot inlê, weet hy. Die boepens bottels in die koel spens gaan binnekort vol appelkose en perskes en konfyte wees. So gaan dit elke somer hier op Grootvlei, die versengende Karoohitte ten spyt. Vandat hy kan onthou, sit sy ma Desembers op daardie riempiestoel op hierdie stoep en dink die jaar se gedagtes bymekaar.

“Hallo, Ma,” groet hy verteder, sy oë op haar vingers wat so behendig skil.

“Lekker gerus?” vra Sara Muller op haar bedaarde manier.

“Baie lekker, dankie. Die Grieks het ook bietjie gerus. Ek het netnou liefs hermeneutiek getakel.”

“Mooi. Weet jy, ek dink nou so … Ek is tog spyt dat prof Leona nie hierdie jaar vir ’n wekie of wat saamgekom het plaas toe nie. Ek gesels darem so lekker met haar.”

“Ek weet. Dis omdat julle amper ewe oud is. Dieselfde kwinte en kwale,” terg Tom ’n bietjie.

Sy klik met haar tong. “Is g’n … Ek en Leona is twee eenderse siele.”

“Regtig?” vra Tom ietwat verstom. Só het hy dit nog nooit gesien nie. Wel opgemerk dat prof Leona haar na sy ma se geite kan skik. Sy kan eindeloos saam met Sara en Fien gesels oor perskes inlê, vyekonfyt kook en les bes, borduurwerk. Hy het hom daaroor verstom dat sy streng Grieks-professor, wat ook sy gawe buurvrou op Stellenbosch is, so oulik van kleur kon verander onder die Karooson. Dat sy en sy ma saam dorp toe verkas om by Ou Doom se pastorie te gaan koffie drink. Die naam heel respekvol Ou Doom omdat daar nog ’n Doompie ook op die dorp is, het Sara verduidelik toe Leona uitvra. ’n Veel jonger man, wat ywerig huisbesoek doen.

Hy was veral bly dat Leona met sy ma kan gesels asof hulle al jare lank sakke sout saam opeet. In ’n sekere sin het hulle seker. Vandat sy ma met die tweede Desember-kuier besluit het om prof Leona te vergas op haar private smart oor haar seun se dinge, het die twee net gekliek. Nou nie dat Tom sy ma kwalik neem nie. Alles was net te veel vir haar, en sy het ’n onpartydige oor nodig gehad. En prof Leona was meer as gewillig om te luister.

Sy het hom een aand eenkant toe getrek en luiters gesê: “Nou begryp ek waarom jy soms midde-in ’n lesing wegraak … en ook waarom jy jou nie juis aan vroumense steur nie.”

Hy het soos ’n skoolseun rooi geword. “Ag, Prof … Dis nie dat ek nou teen vroumense gekant is nie, dis net …”

“Dat jy versigtig geraak het,” het sy kopknikkend sy sin voltooi. “En dis goed so.”

Tom haal onwillekeurig dieper asem, kyk uit oor die skoongeveegde werf waar ’n paar hoenders luierig in die laatson loop en pik.

Sara Muller gooi die afgeskilde perske waarmee sy besig was in die emmer. “Waarom, dink jy, het sy nie gekom nie?”

Voor hy kan antwoord, kom Fien buitentoe met ’n klap van die sifdeur agter haar. Sy dra twee bekers koffie. “Dankie, Fien,” glimlag Tom.

“Jy moet môre vir ons preek,” sê Fien. “Die koffie is nie verniet nie.”

“Waaroor moet ek preek? Julle is dan sulke goeie mense!” skoor Tom laggend met die ou vrou.

“Tjk! Nie almal van ons nie. Daai Gappie maak sy vrou baie kwaad en –”

“Toemaar, Fien, ek sal teen die sonde kom preek. Môre so teen tienuur?”

“Is reg.”

Sara skud haar kop. “Hulle is maar te bly as jy hier is. Dan hoef hulle nie in te piekel dorp toe nie.”

Tom dink ’n rukkie, proe-proe aan sy koffie. “Miskien moet ons die diens hier op die stoep hou, dis baie koeler as in die stoor. Dan gee ons tee na die tyd. Mense se gesels kom eers uit as die kerk uit is.”

“Goeie plan. Ek sal so met Fien reël. Maar jy het my nog nie van Leona vertel nie?”

“Ja, ek moet sê, ek het ook gehoop sy kom saam, want sy sou my baie kon gehelp het met die Grieks. Maar nou is daar glo familiesake in die Noorde wat sy moet gaan oplos.”

“Watse familiesake? Ek dag sy’s alleen op die aarde.”

“Ek het ook so gedink. Ek sal maar later hoor.”

“Hm … Foei tog, ek hoop nie dis groot moeilikheid nie.”

Tom glimlag wrang. Moeilikheid val vir Sara Muller net in twee kategorieë: groot en klein. Klein moeilikheidjies is soos sout of suiker wat opraak. Groot moeilikheid kom, soos sy sê, ’n uur te perd aan. Iets soos ’n vrou wat opdaag en aankondig dat sy jou enigste seun liefhet en met hom gaan trou …

’n Onverhoedse vlaag van muwwe berou en innige liefde vir sy ma oorrompel Tom, en hy moet sluk aan die branderigheid in sy keel. Hy sien hoedat sy ligweg frons omdat die perske glibberig is en sy fyn moet vat.

“Ma …”

“Ja, my kind?”

Ses en dertig jaar oud en steeds nog haar “kind”, dink hy met deernis. “Ek wonder wat dink Ma.”

“Ek dink my gewone Desember-gedagtes, my kind. Of ek goed was hierdie jaar, of sleg.” Haar vingers beweeg behendig om die perske se boonste puntjie af te skil. Dan laat sy dit in die enemmel-emmer langs haar val.

“Wat sal dit help, Moedertjie?” terg hy. “Gedane sake het geen keer, sê hulle mos. Buitendien, die sondes is gedoen. Die vraag is of die berou daar was, en of die boete gedoen is.”

Sy reageer nes hy heimlik gehoop het sy sou. Haar kop met die silwer bolla ruk op en haar blinkbruin oë blits.

“Watse soort predikant sal jy maak as jy mense voorsê om boete te doen, Tomas?” Sy beduie driftig met die hand wat die skerp messie vashou. “Netnoumaar sê die mense jy’s Katoliek. Jy met jou boetedoenery – asof dít jou in die hemel sal bring!”

Tom besluit dis nou genoeg. Hy ken sy ma en weet sy raak bitter gou ontsteld as alles nie eg Calvinisties daaraan toegaan nie. “Toe nou maar, Ma, ek terg net ’n bietjie. Al doen ’n mens wát, gaan jy net uit geloof en genade hemel toe.”

Sara Muller betrag haar seun met daardie half bekommerde, half beteuterde kyk wat hy van kindsbeen af so goed ken. Sy is nog nie heeltemal gepaai nie, besef hy. Op sekere gebiede is sy steeds erg onseker. Sý skuld, miskien tog.

Hy sug diep en staan op. Kom buk by haar en soen haar op haar kroontjie, sit sy hand sag op haar mollige skouer. Besluit om tog maar weer die onderwerp aan te raak. “Ma moet nou regtig ophou om so liggeraak te wees. Mary-Anne is nie dood omdat ’n magtige Hand haar doodgeklap het omdat sy Katoliek was nie. Sy is dood omdat dit haar tyd was om te gaan. Ons glo tog dat God in beheer is?”

Sara gryp nog ’n perske uit die emmer regs van haar en begin skil dat die sap by haar polse afloop. “Hoe … hoe weet jy dit?” vra sy baie sag, haar blik stip op die gladde glip van die skerp messie.

“Ma weet goed hoe weet ek dit. God hou die sleutels van die doderyk en net Hy sluit oop en toe, soos dit in Openbaring staan. Maar wáárom Hy dit op ’n gegewe tydstip doen, is eenvoudig nie ons saak nie. Dis Sý saak.”

Sy skil aandagtig, maar haar mond het ophou beef, sien hy. “Dink … dink jy regtig nie dat sy dood is omdat sy so verkeerd geglo het nie?”

Hy gaan sit weer op sy stoel, stut sy ken in sy twee vuiste. “Moeder … asseblief. Sy was Katoliek, nie heidens nie. Mary-Anne se persoonlike geloof het getuig van haar liefde vir Christus. Haar dood is God se saak.”

“Al was sy besig om verkeerd te doen?”

Tom sug hoorbaar. “Ons weet nie wat sy gedoen het toe sy dood is nie, Ma. Hou asseblief op. Dis al jare …”

Sara skil sulke dik velle af dat die perske net mooi die helfte kleiner word, en sy gooi dit vererg in die linkerkantste emmer. Toe gryp sy die nat vadoek op die voutafel voor haar en vee haar taai hande af.

“Jy weet,” sê sy en kyk hom eindelik reguit aan, “ek dink ek kan dit nou maar vir jou sê … Ek het nooit van haar gehou nie.”

“Ma het dit nooit gewys nie,” troef hy sag.

“Sy … was jou vrou.”

Hy glimlag ’n bietjie wrang. Hy het immers hierdie gesprek sien kom – vyf jaar lank al. Dis vyf jaar wat hy weg is van die plaas en op Stellenbosch teologie studeer. Maar hierdie is die eerste Desember dat die gesprek dieper as Mary-Anne se Katolieke geloof dring. Dit stuit altyd stomp daar waar sy ma sê dat hy tog nie die mense moet laat dink dat sy vrou hom Katoliek beïnvloed het nie. Dis asof sy net nie verder of dieper wil kyk nie.

“Moeder …” begin hy ietwat onseker. Nie oor wat om te sê nie, maar oor hóé om dit te sê. Maar sy sit roerloos na hom en kyk; die stringetjies silwerwit hare beweeg lossies langs haar steeds gladde, appelrooi wange. “Ma …” begin hy weer, “Ma het nie van Mary-Anne gehou nie omdat sy so anders was as ons. Nie net omdat sy Rooms-Katoliek was nie.”

“Dis ook anders,” sê Sara en lig haar ken verdedigend.

“Ja en nee. Sy het werklik geglo soos wat ek en Ma glo. Dat Christus Jesus die Weg, die Waarheid en die Lewe is. Maar … sy het nie hier ingepas nie. Dit was mý fout; ek moes dit eerder ingesien het. Ma weet tog … ’n Heel andersdenkende vrou wat in Europa in ’n ambassade gebore en getoë is, pas so min op ’n dor Karooplaas soos ’n vuis op ’n oog.”

Uit haar keel kom ’n ligte snakgeluid. “Nou maar waarom het jy …”

“Ma, ons hét al daaroor gepraat. Om ’n fout te verklaar, is soms baie moeilik. Ek was verlief en … miskien ’n bietjie desperaat. Naïef en impulsief ook.”

“Dit het begin met jou ronddwalery in Europa.” Sy draai met ’n diep sug terug na die emmer en neem ’n perske, begin skil dit baie versigtig sodat ’n dun spiraaltjie perskevel af kring tot byna op haar skoot.

Sy ma se woorde so flus was nie ’n verwyt nie, weet Tom. Dis bloot ’n feit. Want hy hét toentertyd, na tien eensame jare op die plaas, net eendag gesê hy gaan ses maande oorsee om te kyk hoe die wêreld lyk, en basta. Ou Piet en Fanie Mannies kan na die skape kyk. Hulle weet in elk geval nog al die jare meer van boerdery as hy. Het hulle hom dan nie help grootmaak nie? Sy ma het hom sonder enige redenasies laat gaan. Geweet hy mis jong mense, mis iéts, al het sy nie mooi geweet wat nie.

Dit raak so stil tussen hulle dat hulle die paar hoenders se lustelose geskrop onder die bloekoms langs die groot kliphuis kan hoor. En Tom se gedagtes draai onwillekeurig terug na waar alles begin het …

Die eerste maand was hy in Londen. Bokse goed in sy sterk arms trap-op en trap-af gedra, skottelgoed in hotelle gewas, selfs wag gestaan by die deur van ’n ouetehuis om te keer dat die omies met Alzheimer nie wegloop nie. Later is hy saam met twee Suid-Afrikaanse vriende weg Italië toe. In Rome het hy saam met hulle by die Suid-Afrikaanse ambassade gekuier, want een van hulle het familie daar gehad. En hy het Mary-Anne Smith ontmoet. Sy het in Europa grootgeword en kon glad nie Afrikaans praat nie. Sy was klein van figuur, met vlamrooi hare. ’n Handjie vol sproete op die fyn neus en oë so blinkbruin soos rivierklippe. Hy was smoorverlief. Sy ook. Sy kon nie ophou praat oor sy grootte nie.

“Such a marvelously big man!” het sy gelag en aan sy boarm gehang. “Stronger than Goliath …”

“I’d rather be David,” het hy geglimlag, maar baie gevlei gevoel.

“All right, you’re my David. A man of many talents.”

“As long as I’m a man of God,” het die woorde uitgekom, maar op daardie oomblik het hy self nie mooi geweet waarvandaan nie. Tog, dit was so. Hy was nog altyd diep gelowig. Het sedert sy aanneming destyds elke Sondag vir die mense op Grootvlei kerk gehou in die skuur, want die dorp is ver vir hulle.

Mary-Anne het hom aandagtig beskou, toe sag geglimlag. “A man of God,” het sy herhaal en haar kop geknik asof sy iets beaam.

Dit het gevoel asof hulle dadelik kliek. Taal was ’n kleinigheidjie, so het hy gedink. Die taal van die liefde dring die moedertaal weg, of hoe … Hulle twee het rooiwarm middae en okerpienk aande in die keisteenstrate van die eeue oue stad rondgedwaal en ure lank gesels oor alles rondom hulle. ’n Menigte kerke besoek. Van die St. Pieterskerk se oorweldigende grandiositeit tot ’n ou klein Kapusynerkerkie waar die mure en plafonne vol kopbene gepak is – van dorre oergrootjies s’n tot dié wat nog broos en fetusklein is. Vir hom was dit fassinerend maar tog aardig.

Hulle het meesal oor God gesels. Hy het besef dat hy nog nooit met enigeen só gesels het nie. Met sy ma wel, maar sy is pure outydse Calvinis en soek ’n sonde agter elke bos. Daar moet altyd iets of iemand wees om te blameer as iets verkeerd geloop het. Maar hierdie vrou het aandagtig geluister wanneer hy oor geloof en die kerk gesels, en hy het heel geredelik saam met haar die mis bygewoon, al wou hy nie saam met haar kerse aansteek nie.

“Ek is Protestants,” het hy eenkeer verweer. “En al dink ek nie dis ’n doodsonde om ’n kersie aan te steek nie, voel ek nie nou daarna nie.”

“Dis niks,” het sy gesê, “ons glo tog eenders. Jesus is die Een, nie waar nie?”

“Hy’s die Een!” het hy heelhartig beaam.

“I love talking to you,” het sy een aand in ’n klein restaurant in Trastevere, die ou deel van die stad, bely. “And Tom … I think I love you.”

Hy was ’n oomblik uit die veld geslaan. Dit was gou, het een deel van sy brein gesê, maar die res van hom het die woorde opgeslurp. Hy het verby die flikkerende kersvlam op die tafel geleun en haar gewillige mond gesoen. Hy het haar opnuut beskou. Hier sit ’n fraai en goeie vrou met ’n gawe geaardheid en ’n graad in kunsgeskiedenis en sy is mal oor hom … Waarom sou hy verder soek?

Die ouerige kelner het ’n Italiaanse aria begin neurie en die aand was vol olyf- en rosegeur. Later het hulle die hele ent tot byna by die Villa Borghese teruggestap en toe eers ’n bus gehaal na Parioli waar haar ouers woon. Hulle het styf langs mekaar gesit, en toe hy haar by haar voordeur groet, het sy teen hom aangeleun. “Do you love me too?”

“I do,” kon hy op daardie oomblik heel eerlik sê. Daar was beslis emosie. Die oortuiging om dit te rugsteun, het hy gehoop, sou nog kom. Want selfs toe al kon hy die kompleksiteit daarvan voorsien. En tog, is alle liefdes nie maar kompleks nie? Haar hart was immers op die regte plek – by God en by hom. Is dit dan nie al wat nodig is nie?

En natuurlik, daar was dinge wat bydraend was tot sy verliefdheid: sy het hom gedwing om dikwels aan God te dink. Om met Hom te praat. Hy kon maklik voor haar bid. En verder het sy hom laat goed voel oor homself, iets wat lank in sy samestelling afwesig was. Want al was hy hoofseun van die dorpskool, was hy nooit een van die klomp nie. Hy was nog altyd eerlik omtrent homself: te ernstig, te diepdenkend en net eenvoudig nie een vir groepsaktiwiteite nie. Hy kon op ’n manier streng leiding gee, maar hy kon nie altyd lekker saamdoen nie. Hy het goed geweet dat hy hoofseun was omdat hy die beste in die klas gedoen het, maar hoofsaaklik omdat daar nie eintlik vir hom kompetisie was nie.

Ná skool moes hy reguit plaas toe. Sy ma was alleen, en ou Piet en Fanie het reikhalsend daarna uitgesien dat hy in sy oorlede pa se voetspore moes kom volg. Daar was geen keuse nie. Daar was toe nie geld vir studies nie, oor en uit. Al wat hy kon doen, was om uit te spring en te probeer om die skaapplaas winsgewend te maak.

Hy was gelukkig. Daar was ’n hele klompie baie goeie jare en die wolprys was redelik. Die vleisprys ook. Hy het ontdek dat hy met geld kon werk en het heelwat opsy gesit. Waarvoor presies het hy nie geweet nie. Hy en sy ma het spaarsamig geleef soos wat dit haar aard was, en hy ontdek het syne ook is. Toe het hy ’n deeltjie van die neseier gevat en oorsee gegaan.

En met ’n bruid teruggekom … Wel, nie heeltemal nie – sy was toe sy verloofde. Hulle moes vir die troue ’n priester van ’n groter dorp af laat kom, en die man moes saam met Ou Doom Botha die diens lei. Die hele dorp was daar. Genooides en ongenooides het die ou kerk met sy lang, wit toring vol gesit. Dié wat vir die onthaaltjie plaas toe gekom het, was heelwat minder. Eintlik net twee skoolvriende van hom en dan sy ma se kerkvriendinne. Mary-Anne se ouers, wat in die groot suidelike gastekamer van die ruim plaashuis gebly het, het hulle styf en eenkant gehou. Duidelik nie een van hart met die ander gaste nie. Te begrype seker ook.

Haar pa, ’n gesofistikeerde diplomaat, het Tom eenkant op die stoep gekry. In sy geradbraakte Afrikaans probeer oordra dat hy kan sien dat Tom en Mary-Anne lief is vir mekaar, maar dat hy ook kan sien dat daar probleme kan ontstaan.

Tom het dit weggelag. “Miskien, meneer Smith, maar ek sal my bes doen om u dogter gelukkig te hou.”

Dit was die somtotaal van hulle gesprek. Later sou Tom daaraan terugdink en dit berou dat hy nie veel vroeër deegliker besin het nie.

Mary-Anne was ’n mooi maar stillerige en bleek bruid, en haar hande was feitlik heeltyd om sy boarm geklem. Ma Sara was gaaf met almal, maar haar glimlag was stram. So stram soos dit was toe hy en Mary-Anne die eerste dag op die plaas opgedaag het en sy uitgevind het dat haar aanstaande skoondogter nie Afrikaans kan praat nie en dat sy die teken van die kruis maak as sy bid.

Sy kon nie juis met Mary-Anne praat nie, want haar Engels het dit nie toegelaat nie. Sy’t selfs ’n bietjie gespot daaroor, gesê dat haar Engels vir “private use only” was – ’n ou grappie wat dikwels op die dorp aangehaal word as die Rooitaal onverwags by ’n okkasie gegooi moet word. Mettertyd het haar en Mary-Anne se gesprekke al meer fragmentaries geraak, later feitlik opgedroog, buiten die enkele, hoflike formaliteite aan tafel of teen slaaptyd.

Aanvanklik het dit tog bo verwagting goed gegaan. Tom en Mary-Anne was werklik verlief en dit het hom nie gepla dat sy elke Sondag, en soms in die week ook, na die groter dorp gery het vir die bywoning van die mis nie. Sy het botweg geweier om saam met hom kerk toe te gaan. Dit was al erg genoeg, het sy glimlaggend gesê, om in ’n Protestantse kerk te trou. Al was die priester daar teenwoordig, was dit net nie dieselfde nie. Omdat Tom by hulle aan huis in Rome was, kon hy dit tog begryp.

En natuurlik, die dorpenaars het haar dit nouliks vergeef dat sy so geheel en al ánders aanbid het. Hy het soms in gesprekke probeer verduidelik dat sy immers dieselfde God aanbid, dieselfde Jesus wat aan die kruis vir Katoliek en Protestant gesterf het, maar hulle het moeilik daaraan gebyt. Al het sommige dit later met ’n soort gelate berusting begryp, was dit vir die meeste net ’n te vreemde konsep om Mary-Anne werklik deel van hul kring te maak. En Tom, omdat hy buitendien ’n eenkantmens is, het nie veel belanggestel om hul vriendekring uit te brei nie. Om in dié geweste na nog Katolieke te soek wat hy en sy vrou kon leer ken, was net te veel gevra.

En hy was buitendien te besig. Mary-Anne en Sara het genoeg van sy tyd in beslag geneem. Mary-Anne omdat hy lief was vir haar vrolikheid, haar algehele vriendelikheid, en sy ma omdat sy sy ma is. Dat die twee vroue niks gemeen gehad het nie, het hy toenemend besef. Mary-Anne was ’n kunssinnige intellektueel; sy ma is ’n talentvolle maar heel praktiese doener. Sy wou wel aansluiting vind, ’n manier prakseer om by Mary-Anne uit te kom, maar daar was nie ’n manier nie. Mary-Anne was ’n geslypte Europeër, met geen aanvoeling vir die eise van ’n afgeleë Karooplaas nie.

Tom het iets anders ook ontdek: dat die hartstog wanneer hulle saans alleen was, die enigste passie in hul huwelik verteenwoordig het. Daar was geen passie vir enigiets anders nie. In sy lewe was Mary-Anne ’n nuweling wat ’n vreemdeling sou bly. Bedags het sy haar teruggetrek in hul kamer en gelees aan die hope boeke wat haar bekommerde ouers uit Rome aangestuur het. Toegegee, daar was nie veel vir haar om te doen nie. Sy ma was traag om die kombuis af te staan, en Mary-Anne het hoegenaamd geen belangstelling in kook en bak getoon nie. Daar was buitendien drie getroue huishulpe wat graag wou werk.

Soms het Mary-Anne ingery dorp toe om boeke by die poskantoor te gaan afhaal of by die algemene handelaar ietsie te koop. Andersins het sy na die groter dorp gery om die mis in die Katolieke kerkie by te woon. Op sulke dae het sy eers laat, en later ál later teruggekom.

“Are you terribly bored here?” het hy haar tog een nag in hul bed gevra, die antwoord wel gevrees.

“No …” het sy begin, en toe in ’n stortvloed: “Tom, I am not so much bored as I am … disappointed.”

“Why?” Die woord was ’n fluistering. “Do I disappoint you?”

“Oh, no … Not you … It’s just …”

Maar hy het geweet wat sy sou sê nog voordat sy dit hortend begin uitspel het. Die lewe op Grootvlei is nie idillies nie. Die lewe op ’n skaapplaas in die Karoo is so hard soos die klipkoppe rondom die opstal. Dit was nie ’n lewe wat sy wou gehad het nie. Daar was vir haar niks. Wel, daar was hý …

Hy het toenemend besef dat die situasie nie so kon voortgaan nie. Miskien, het hy gedink, as daar kinders kom … Maar toe hy die saak aanroer, het Mary-Anne in luide, byna histeriese snikke uitgebars.

“Oh, no! I knew it …”

“Knew what, darling?” Hy was verstom.

“That … that this day would come … God will never understand it! Never!”

Toe sy uiteindelik al snikkend bely dat sy ’n voorbehoedpil gebruik, het hy begryp. Haar probeer troos. God sál verstaan, Mary-Anne. Ek dink nie dis Hy wat daardie reël gemaak het nie …

Sy woorde het haar opsigtelik veel meer ontstel as die wete wat sy so swaar met haar saamgedra het: dat sy voorbehoeding gebruik terwyl haar kerk dit afkeur. En die eerste verwyt het oor haar lippe gekom: dat hy so argeloos daarteenoor staan.

“But I do care,” het hy opreg verstom geprotesteer. “I just don’t think it’s that wrong.”

“Well, I do! Because we can’t … we must not have a child under these circumstances. Only …” sy het hom meteens smekend vasgehou, “if it could be a Catholic child?”

Daarop kon hy haar nie ’n antwoord gee nie. Sy het die reg gehad om dit te vra, maar die idee het in sy krop vasgesteek. Waarom, het hy vir die heel eerste maal gewonder, het ons nie voorheen hieraan gedink nie? Hy moes berouvol saamstem met sy ma se woorde die eerste aand nadat hy met Mary-Anne op die plaas aangekom het: “Dink ’n agt en twintigjarige man dan glád nie, Tomas? Hoe kán jy dink dat dit sal werk?”

Hy het vol oormoed geantwoord: “Natuurlik sal dit werk, Ma! Ons het mekaar lief!”

Maar hulle liefde, daardie eerste malkop opwinding van verlief wees, wás nie genoeg nie. Dit wou eenvoudig nie standhou nie. Nie tussen hom en Mary-Anne nie, en glad nie op die plaas nie. Die klimaat, het hy met ’n tikkie melodrama gedink, was eenvoudig nie rég vir hom en haar nie.

Hy het dié feit egter met elke nuwe môre herontdek: Mary-Anne se groeiende apatie. ’n Innerlike tamheid het haar byna tasbaar omgeef en dit wou-wou hom aansteek. Slegs wanneer sy in die motor geklim het op pad na die mis op die ander dorp, het sy opgekikker. Vrolik gewaai by haar vertrek. En telkens later teruggekom.

Op sy vraag eendag waarom dan so laat, het sy stamelend en verleë geantwoord: “I … had tea with the doctor’s wife. I met her one day when she also came to see Father Brown. Her … her brother is also a Catholic.”

Dat die man meer as net ’n mede-Katoliek vir Mary-Anne was, het baie later eers by Tom geregistreer. Miskien omdat hy nie wou glo dat alles so vreeslik verkeerd kon loop nie. Ook dalk omdat Mary-Anne dit nie aan haarself wou erken nie. Daarom het sy meer en meermale die mis gaan bywoon. Om die dokter se vrou se broer te sien – en om dan te bieg, het Tom baie later magteloos besef. Hy glo nie sy was fisiek ontrou nie; daarvoor was sy te opreg. Maar emosioneel was sy in twee geskeur, en dit het hom meer as enigiets anders gekrenk.

In homself het Tom iets anders voel ontwaak: ’n onvergenoegdheid met sy omstandighede. Iets wat nooit voorheen só skerp daar was nie. Enersyds was dit ten goede, want hy het met toenemende sekerheid, en ook ’n sekere angs, presies geweet wat hy in die lewe wou doen. Hy wou God se Woord verkondig. Maar hoe? Hoe op áárde?

Hy het dit elke Sondag opnuut geweet wanneer hy die erediens bywoon en aandagtig na Ou Doom of jong Doompie, die medeleraar, se Woorduitleg luister. Dié manne is goeie eksegete, het hy in sy enigheid gedink. Sy ma het ook so gedink.

“Ons dominees weet van die Bybel,” het sy tevrede opgemerk. “ ’n Mens voel naby aan God as jy by die kerk uitstap.”

Een Sondag na kerk toe hulle terugry plaas toe, het hy dit laat uitglip: “Ma, ek sou ook graag ’n predikant wou wees.”

Sy was stomgeslaan. Met reg ook, het hy bitter gedink. ’n Protestantse predikant – met ’n Katolieke vrou. Wat ’n kombinasie. En tog, toe hy en Mary-Anne nog in Rome was, en selfs later toe sy haar in Londen by hom aangesluit het, was alles so eenvoudig – die liefde sou alles gelyk maak.

Maar die ergste was: hy het al minder soos “a man of God” begin voel. En hy het nie meer geweet wat van die passie tussen hom en Mary-Anne geword het nie. Hul liefde het finaal afgekoel toe sy eendag van die mis af terugkom en teenoor hom bely dat sy die ander man sien, met hom diep dinge gesels, maar dat ’n egskeiding onmoontlik was, want haar kerk sou dit nooit toelaat nie.

“ ’n Egskeiding?” het Tom verdwaas gevra. En toe met ’n drif wat skielik uitgebars het: “Is dit ál wat jy kan sê – dat jou kerk dit verbied? Wat van mý? Wat van ons beloftes aan mekaar? Wat van …?”

Maar sy woede was net so vinnig weg soos dit opgevlam het. Hy kon die verwesenheid op haar gesig nie uitstaan nie. Sy, het hy toe geweet, voel nes hy. Deur haarself bedrieg. En mateloos moedeloos. Hy het helder geweet dat hulle hulself om die bos gelei het. Liefde, hulle soort liefde wat in ’n dag se tyd opgespring het, maak nooit als reg nie.

Tom sug diep, en sy ma kyk speurend na hom toe sy nog ’n afgeskilde perske in die emmer laat gly. “Wat is dit?”

“Die ou kwessie,” sê hy sonder huiwering. “Waarom was ek so stiksienig?”

Sy begin aan ’n nuwe perske skil, maar laat sak haar hande meteens tot op haar skoot.

“Leona het laas jaar vir my gesê ons moet nou begin vergeet daarvan. Dis verby. Jou hele toekoms lê voor.”

“Regtig? Het sy so gesê?”

“Ja, ek en sy het daaroor gepraat.”

“Nou toe nou,” antwoord hy effens afgehaal. “Sy’t nooit weer iets vir my gesê nie.”

“Omdat sy reken ’n mens praat en dan praat jy kláár.”

Tom knik swyend. Dit klink na goeie raad. Dis net so moeilik.

Tog slaag hy die res van die vakansie daarin om Mary-Anne uit hul gesprekke te hou. Selfs uit sy gedagtes. Dis mos darem jare later en hy is al goed geskool daarin om nie aan haar te dink nie. Op Stellenbosch is dit egter makliker.

Toe hy sy ma groet om sy vyfde jaar teologie op Stellenbosch te gaan aanpak, druk hy haar styf vas.

“Ma moet versigtig wees. Ek dink nog steeds dit sal beter wees as Fien by Ma in die huis slaap.”

“Nee wat, kind, die werkershuise is net ’n klipgooi ver. En hulle is reeds almal so begaan oor my.”

Tog ry hy, soos altyd, effens onrustig daar weg. Hy hou nie daarvan om sy ma so alleen te los nie. Al ontferm hulle jare lange ou vriende hulle oor haar, lyk sy vir hom elke keer broser as hy wegry.

Toe hy by die sandsteenhoekpaal verbyry waar Mary-Anne se kar daardie skemeraand omgeslaan het, is die vretende verwyt weer in hom. Haar dood kon voorkom gewees het. As hy nie verlief geraak het nie. As hy nooit Rome toe gegaan het nie. As hy wyser was …

Waarom, ag, waarom het hy toegelaat dat hartstog hom oorweldig by die aanblik van ’n mooi vrou? Hoekom het hy tog nie sy kop gevolg nie? Want hy het destyds goed gehoor wat sy verstand sê, al het hy dit doodgesmoor.

Nooit, neem hy hom verbete voor toe hy die petrolpedaal intrap dat die Karoostof strepe agter hom aan maak, val hy weer vir ’n mooi vrou nie. O nee, hy sal sy pastoriemoeder met die hand uitsoek. Die klem sal val op pastorie en dan op moeder. In daardie volgorde.

Toe hy Stellenbosch oplaas binnery, is hy behoorlik moeg en sy keel is droog. Hy besluit om sommer dadelik by sy geliefkoosde restaurant naby De Ouwe Werf stil te hou. Wat hy nou nodig het, is ’n glas koue water en dan drie koppies koffie na mekaar.

Hy parkeer naby die Stellenbosch Hotel en stap na die restaurant toe. De Kleine Keuken staan daar in sierlike wit letters voor die ou groen voordeur. Daar is die bekende groen sambrele op die sypaadjie, en hy besluit om buite te sit waar daar darem ’n luggie so al met die straat langs trek. Hy loer net in en roep: “Hallo, tant Katja, ek’s terug!”

’n Ronde vrou met ’n spierwit voorskoot verskyn vanuit die ou huis waarvan al die kamers behalwe haar slaapkamer as ’n restaurant ingerig is. “Nou toe!” roep sy luid. “En hoe gaat dit tuis?”

“Baie gaaf, dankie. Ek’s net dors ná die lang rit.”

“Natuurlik. Sit buite. ’n Mens sterf sommer binne, so warm is dit. Die waaiers help niks.”

“Water met drie blokkies ys en drie koffies na mekaar, asseblief.”

“Gaaf. Hier’s nuwe talent; Mia is die naam. Ek stuur haar buitentoe.”

Tom grynslag en skud sy kop, draai summier om om onder een van die sambrele in die relatiewe koelte te gaan sit. Talent, nè? Hy’t al vantevore kennis gemaak met wat tant Katja as talent aan hom wou afsmeer. Poppies met vyf breinselle en die idee dat katkisasie die voorspel tot ’n klub se bedrywighede is. Wel, darem nie heeltemal so erg nie, maar die laaste enetjie wou weet of hy wraggies élke Sondag kerk toe gaan. En toe hy ja sê, het sy sjoe! gesug …

“Kan ek u help?” ’n Koel stem.

Hy kyk op. En hy bly kyk.

“Water … asseblief,” kry hy dit uit. Hy kug. “Enne … drie blokkies ys daarin.”

“Sal dit al wees?” Die seeblou oë kyk hom waterpas aan en daar is nie ’n sweempie flankering te bespeur nie. Nie eens die swaar wimpers knipper nie. Nou toe nou.

“Koffie ook, asseblief. Drie koppies na mekaar. Jy moet my maar dophou om te sien as die koppie begin leeg raak.”

Sy knik en die blonde poniestert, blinkbruin soos heuning, swaai vorentoe oor haar smal skouer. Toe draai sy om en stap weg. Hy kyk die soepel lyf in die blou denim en swart toppie agterna tot sy om die groen deurkosyn verdwyn.

Waar op aarde sou tant Katja aan háár gekom het? Sy lyk hoegenaamd nie soos die gewone poppies nie. En dis nie haar lyf wat hom laat dink dat sy anders is nie. Nee, die lyfie lyk maar soos enige oulike pop s’n. Dis iets in haar houding. Sy’t ’n houding wat skrik vir niks, dink hy ietwat ergerlik. ’n Mens sou sweer sy doen hom ’n guns om vir hom iets aan te dra. Verwag natuurlik ’n fooitjie ook.

Wel, hy sal moet sien of sy ’n fooitjie werd is. Deesdae is hy nogal streng daarop. As die diens nie na wense is nie, kan hulle maar van ’n fooitjie vergeet.

Lelie van die laagte

Подняться наверх